Skip to main content

Lukas 24:13-35: Erediens – Leef met kantlyne – Son 17 Oktober 2010

 

Verwelkoming

Die Here roep ons om gasvry leef.  En ons is oortuig dat dit beteken dat ons lidmate hierdie gasvryheid teenoor mense van ander generasies moet leef.

Kyk rondom jou en groet spesifiek iemand wat ouer of jonger as jy is.

Ons wil ook nie net preek hieroor nie, maar gasvryheid beoefen of in-oefen.  Ons nooi jou dus uit om op hierdie geestelike dissipline te fokus en uit te reik na mense wat ouer of jonger is as jy, en mense ook in te nooi en met gasvryheid te bederf.

Aankondigings

  • Bloemendal gemmerbier – nog 40 bottels.
  • Tiende maand dankofferfees – doelwit, families

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

  • Psalm 16:1 Heer, bewaar my dig by U (sit)

Lofsang

  • Lied 199 Loof die Here uit die hemel (staan)
  • Lied 200 U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie (staan)

Toewyding

  • Flam 108 Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn (sit)

God praat met ons en ons luister

Kindertyd

Ek wil vandag vir julle ‘n storie van Abraham vertel.

Een dag sit hy by sy tentdeur.  En dit is warm.  Dit is die warmste tyd van die dag.  Die son skyn skerp.  Selfs die kraaie gaap, so warm is dit.  Skielik sien hy drie mans in die verte.  En hulle kom staan so ‘n entjie van hom af.

Dadelik staan Abraham op en draf na hulle toe – onthou dit is baie warm – en buig voor hulle.  En hy sê, “Menere, julle sal my ‘n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie.  Laat ek vir julle ‘n bietjie water gaan haal.  En kom sit hier en rus ‘n bietjie hier onder die boom.  Dan gee ek vir julle ‘n stukkie brood dat julle weer nuwe krag vir die pad kan kry.”

En die drie mans doen dit en gaan sit by onder die boom.  Abraham gaan toe vinnig na Sara in die tent en sê sy moet vir hulle brood maak.  En hoeveel dink julle maak sy?  16 kg se roosterkoeke!  Nogal ‘n stukkie brood nê?!  As dit Nanaga se roosterkoeke was, was dit seker so 100 roosterkoeke!  Vir 3 mans nogal!

Maar dit is nie al nie.  Abraham draf na ‘n slaaf van hom en sê dié moet ‘n mooi jong kalf slag en ‘n vleisie braai.  ‘n Hele kalf vir 3 mans!

En toe dit alles klaar is, vat hy botter en melk en sit dit saam met die roosterkoeke en die vleis vir die 3 mans voor.

En daar onder die boom het hulle lekker geëet met Abraham wat hulle bedien het.

En wat dink julle gebeur toe?

Toe sê die 3 mans, Abraham, jy en jou vrou sal oor ‘n jaar ‘n seun kry.  Mense, maar dit was vir jou ‘n skok!  Abraham was al 99 en Sara 89!  En hier binne die tent lag Sara by haarself.  Sal ek nou ‘n kind kry terwyl ek al oud is en kyk hoe oud is Abraham?  Dit sal die dag wees.

Toe vra een van die mans vir Abraham hoekom Sara dan so lag daar binne die tent?  En sy het gedink niemand weet nie!  Toe weet Abraham, dit is eintlik die Here self wat hier by hom eet.  Hy het vir die Here kos en water gegee, en nou gee die Here vir hom ‘n kind, iets wat hy en Sara so graag wou gehad het.

Wat leer dit vir ons?

Wonderlike goed gebeur as ons goed is vir ander mense.  God seën nie net die mense vir wie ons goed is nie.  Dit seën ook vir ons.

Ek wil julle vra – hierdie week, vat ietsie ekstra skooltoe, ‘n broodjie of ‘n worsie of ‘n appel of wat ook al.  En gee dit vir iemand wat jy wil bederf.  Dit is hoe God wil hê ons moet leef.  Ons moet ander mense bederf, soos Abraham dit lank terug gedoen het.

Ons is mos sonstrale!

Gebed

Skriflesing

Dit is steeds die Sondag, die eerste dag van die week, die dag wat Jesus Christus opgestaan het.  En ons bly by die verhaal van die Emmaus-gangers, Kleopas en sy vrou Maria.

Ons lees weer Lukas 24:13-35.

Woordverkondiging

Gasvryheidliefde vir die vreemdeling – is ’n risiko.  Dit kan jou duur te staan kom.  Dit kan jou in konflik bring.  Jy kan misbruik word.  Daarom is daar groot wysheid nodig om gasvryheid te beoefen.

Pat Keifert skryf hieroor in Welcoming the Stranger (1992:59): “Provision of hospitality to the stranger is full of dynamic conflict.  It requires a decentering of our self-centred lives that is most disturbing.  It requires risk and wisdom, since the stranger can and does do us harm.”

Waarom lê die Bybel dan soveel klem op liefde vir die vreemdeling?

  • Dit is ’n sentrale tema in die wet (Levitikus 19:34).
  • Dit is ’n baie belangrike deel van Salomo se gebed by die inwyding van die tempel (1 Kon 8:41-42).
  • Jesus steek telkens die grens oor uit liefde vir vreemdelinge: Saggeus (Lukas 19), Siro-Feniciese vrou (Markus 7), Maria Magdalena (Lukas 8 – die vrou met die sewe bose geeste).
  • Selfs Petrus steek die grens oor na die vreemdeling Kornelius (Hand 10).
  • En Paulus se hele bediening word gewy aan die liefde vir vreemdelinge, selfs al kos dit hom tronkstraf en pyn en verwerping.

Waarom?

Want ervaring het geleer dat dit juis in die risiko van gasvryheid is wat God se teenwoordigheid ervaar word.  Dit is wanneer ’n vreemdeling vriendelik ontvang word dat ons oë vir die misterieuse teenwoordigheid van God oopgaan.

  • Wanneer Abraham naderdraf na die 3 vreemdelinge om hulle met 16 kg se roosterkoeke en ’n kalf te bedien, ontmoet hy God self, wat hom seën met ’n kind, en toelaat om sy neef Lot uit die vloek van Sodom en Gomorra te verlos (Gen 18).
  • Wanneer Saggeus Jesus ontvang in sy huis, raak hy weer deel van die Joodse gemeenskap en kan hy regmaak wat hy verbrou het (Luk 19).
  • Wanneer Petrus dit waag om Kornelius se huis binne te gaan, kom die eerste van die ander nasies tot geloof (Hand 10).

Dit is ook wat met die Emmaus-gangers gebeur. Deur die vreemdeling saam met hulle te laat loop (in die publiek) , deur met hom in gesprek te tree (oor hulle geloofsdokument), deur hom in te nooi in hulle huis (in hulle private persoonlike ruimte) en saam met hom te eet (sosiaal te assossieer), raak hulle harte warm, gaan hulle oë oop en raak hulle getuies van die grootste gebeurtenis ooit, die opstandingslewe van Jesus.

Want let op hoe hierdie gesprek met Jesus in ’n Heilige Gesprek verander.  Let op hoe die Bybel sy regmatige plek in hulle lewens inneem, beide in terme van hulle kennis daarvan en die toepassing daarvan in hulle situasie.  En so verdiep hulle verhouding met Jesus en raak hulle sy getuies.

Hoe kan ons dit regkry om hierdie risiko te neem?

Deur met kantlyne te leef.

Waaraan dink jy as jy die woord kantlyn hoor?

Ons gebruik dit veral op twee maniere: ’n kantlyn skei die skryfruimte op jou bladsy van die res; en ’n kantlyn op ’n rugby- of hokkieveld skei die speelruimte van die toeskouers se ruimte.

Maar wat beteken dit in terme van gasvryheid?

Dit beteken dat jy ruimte laat vir ander, dat jy tyd inruim vir ander.

Kathy Callahan – Howell (Finding Home) sê: “The key to true hospitality is an attitude that moves over to allow space for the other, the ability to  set self aside and welcome the other person into authenticity, to welcome them home.”

Ek wil hierdie gasvryheid, hierdie ruimte maak vir ander, hierdie tyd maak vir ander, met twee woorde uitdruk: BEPERK EN BEDERF.

Om met kantlyne te leef sluit in dat jy ophou met sekere goed, en dat jy begin met ander goed.

BEPERK JOU RUIMTE: Dit beteken dat jy ’n bewuste besluit moet neem om nie alles vir jouself op te eis nie.  Moenie die hele bladsy vol skryf nie.  Los spasie daarop vir ander.  Trek ’n kantlyn en bly weg van die spasie wat ander moet inneem.  Stel vir jouself ’n grens, doelbewus, intensioneel.  Dit was eintlik al reeds in die wet ingeskryf: ’n mens moet nie alles van die land afoes nie.  Daar moet ’n paar koringare bly lê vir die vreemdelinge en die armes op op te tel; net so ‘n paar wingerdtrosse (Lev 19:9).  Dit is vir my ’n metafoor van hoe ons ook moet lewe.

BEPERK JOU TYD EN ENERGIE: Dit beteken ook dat jy jouself nie moet opgebruik nie.  Jy moet nie al jou tyd opgebruik nie.  Jy moet nie al jou energie opgebruik vir jou werk nie.  Daar moet tyd en energie oorbly om ander te kan akkommodeer, vir ander ’n klip uit die pad te rol, vir ander jou tyd en energie te gee sodat hulle die vreugde en voordeel daarvan kan hê.

BEDERF JOUSELF: Maar dit gaan nog dieper.  ’n Mens moet nie 7 dae ’n week werk nie.  Jy moet een dag afvat dat jy ook kan ontvang.  Kantlyne beteken ook dat jy jouself toelaat om te ontvang, van God, van ander.  Dit is juis wat met die Emmaus-gangers gebeur het.  Hulle het toegelaat dat hulle die gaste in hulle eie huis word en van die vreemdeling as gasheer ontvang.

BEDERF ANDER: Dan kom die ruimte en die energie en die vermoë om die risiko van gasvryheid te neem, saam met die wysheid om te kan onderskei.  En laat ons eerlik wees – dit vat aan ’n mens om gasvry te wees, dit vra opoffering, dit vra self-ontlediging.  En dit kan jy net doen as jy genoeg oor het van jou tyd en van jouself om met oorgawe en liefde gasvry te wees.

Dus – in hierdie week,

  • Konsentreer daarop om mense wat ouer of jonger as jy is te bederf.  Dit kan wees met ‘n klein geskenkie, of met iets wat jy vir die persoon gaan doen, inkopies doen, gaan kuier, saam êrens gaan, saam gaan eet.
  • In ons kleingroepe – nooi ander mense uit – dit sal spesifiek lekker wees as julle van die Klema kleingroepe uitnooi en saam Bybelstudie hou en gesels oor wat vir julle belangrik is.
  • By jou huis – as jy studente by jou huisves, of studente ken, nooi hulle vir ‘n ete, hoor wat gaan met hulle studies aan (onthou die einde van die jaar kom nader) en stel doodgewoon belang.  As dit kan, bid saam met hulle.

Adele Calhoun sê oor gasvryheid: “to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus”.

En vertel vir ons die stories.  Jy kan sommer op die webtuiste kommentaar lewer by my artikel hieroor óf in ‘n e-pos stuur.  Ek het juis ‘n wonderlike storie die week gehoor van die gasvryheid waarmee van die koorlede ontvant is, wat nou onlangs oorsee was.  Skryf dit in ‘n paragraaf en deel dit met ons ander dat ons kan leer by mekaar en die gemeente kan wees wat God van ons wil maak, ‘n hawe vir vreemdelinge.

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotsang

  • Lied 523 Goddelike liefdebande bind in Jesus mense saam (staan)
  • Lied 311 Dit wat ons hier ontvang het, gaan deel ons verder uit – koor is voorsangers

Seën

Amen

View all posts in this series

Emmaus, gasvryheid, kantlyne

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.