Psalm 41 Kleingroepmateriaal – 28 Nov – 4 Des 2011
Ons lees die Psalm met die Lectio Divina metode:
1. Kom tot rus – (Silencio)
Gee ’n tyd van stilte. Dink aan dinge wat jou ontstel en gee dit een vir een vir die Here. Dink aan dinge wat jou inspireer en dank die Here daarvoor. Vra dat die Here deur hierdie Psalm met jou sal praat (5 min). Die leier sluit af deur Psalm 41:2 te bid: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke (arme). Die Here sal hom red op die dag van nood.”
2. Lees die Psalm – (Lectio)
Laat iemand Psalm 41 lees met die tema Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed. Gee stilte dat elkeen nadink oor wat hom of haar tref. Deel dit met mekaar – gee elkeen ’n kans; moenie nou al kommentaar lewer nie.
Lees die volgende inset, en deel met mekaar wat julle tref daarin:
Die Psalm begin met ’n saligspreking: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke (of arme).” Só ’n persoon – iemand wat omgee vir ander in hulle nood – kan met reg na God gaan in sy eie tyd van nood, en om hulp smeek. Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed.
Dawid spel vier dinge uit waarvoor hy dus met vrymoedigheid bid, wat nie net is 1) dat die Here só ’n mens sal red op die dag van nood nie (vers 2), maar ook dat God só ’n persoon 2) publieke erkenning sal laat geniet, 3) beskerming van vyande sal gee (vers 3), sowel as persoonlike genesing in siekte (vers 4).
En dit is veral met die laaste twee aspekte – die persoonlike en publieke impak van ’n omgee-lewe – waarmee die Psalmis verder in sy gebed worstel en om God se genade vra. Let op dat hierdie vrymoedigheid steeds afhanklik bly van God se genade, soos die res van sy gebed wys.
Vers 5-10
Let op hoe Dawid in hierdie deel van sy gebed belydenis van sy sonde doen, terwyl hy om genesing van sy siekte vra. Hoewel hy nie uitbrei oor sy sonde nie, bely hy dat dit – soos alle sonde – iets is wat sy verhouding met God in gedrang bring. Hy wil nie net genesing hê nie, maar veral dié verhouding herstel hê, terwyl hy ook vra vir verlossing van die venyn van sy vyande, selfs van ’n boesemvriend wat hom in die rug gesteek het.
Vers 11-14
In hierdie deel van sy gebed maak Dawid weer staat op sy onskuld, spesifiek in verhouding met sy vyande. En vra dat die Here hom in staat sal stel om wraak te neem teen sy vyande. Dawid bly getrou aan sy perspektief, dat hierdie vyande nie maar net vir hom wil bykom nie, maar in wese vyande van die Here is. Daarom wil hy teen hulle optree, iets wat natuurlik, soos ons al vroeër gesê het, met Jesus se radikale vyandsliefde verander is.
Jesus haal vers 10 aan in sy voetewas gesprek met sy dissipels met verwysing na Judas (Joh 13:18). Waar Dawid dus vir verlossing van hierdie boesemvriend gevra het, het Jesus juis die pyn van verguising en die kruis aanvaar, sodat Hy selfs vir die vyandskap van vriende verlossing kan bring. Iets om – aan die einde van hierdie studie oor die Psalms – oor na te dink!
3. Oordink die betekenis van die Psalm – (Meditatio)
Elkeen kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou. Deel dit met mekaar.
4. Antwoord die Here in gebed – (Oratio)
Fokus op wat julle gehoor het en antwoord die Here. Julle kan ook hier voorbidding doen.
5. Geniet God se teenwoordigheid – (Contemplatio)
Gee ’n tyd van stilte waar in julle sonder woorde God se teenwoordigheid geniet (3 min).
6. Wees gehoorsaam aan God – (Incarnatio)
Dink terug aan wat die Psalms vir julle beteken het.
Gee vir ons terugvoer by www.bybelskool.com of in ’n e-pos aan acv.vanwyk@gmail.com (wat ek dan sal plaas).