Skip to main content

Markus 9:14-29 – “Hoe lank gebeur dit al met hom?”

wwjdWhat would Jesus do?” (WWJD). Die vraag van Charles Sheldon in sy boek In His Steps bly steeds vir baie Christene relevant: “What would Jesus do?” Baie tieners het op ‘n tyd dié frase op ‘n armband gedra. Dit was ‘n maklike manier om jouself te herinner, in elke situasie, dat jy soos Jesus moet leef, die dinge moet doen wat Hy sou gedoen het. “What would Jesus do?” Inderdaad.

Ek dink dit is steeds ‘n geldige vraag vir vandag: “What would Jesus do?” Ek dink ons almal sal graag wil doen wat Jesus gedoen het. Anders, wat is die punt van ons Christenskap, as ons nie doen wat ons leier, Jesus, gedoen het nie? “What would Jesus do?

Maar, is dit so eenvoudig?

Laat my dink aan die tiener wat gesê het: “What would Jesus do? Dis maklik – die teenoorgestelde as wat ek sou doen!

Om te doen wat Jesus gedoen het, is nie so maklik nie

Hy het intuïtief geweet dat dit alreeds een van die probleme is wat ons het. Ons doen nie die dinge wat Jesus gedoen het so maklik soos Jesus dit self gedoen het nie!

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Verwelkoming

  • Mylpale – graad eens en graad agts is in nuwe skole. Matrieks en die graad sewes is nou die seniors. Ons wens julle ‘n wonderlike jaar toe.
  • Nuwe intrekkers – van 1 Desember af – pakkies.
  • Kleingroepe – twee reekse vir oggend- en aanddiens reekse, in aankondigings, in portaal, en op webtuiste (skryf in by webtuiste!) – ná erediens kom ons in konsistorie bymekaar. Nuwe mense is ook welkom om daar te kom inskakel.
  • Bybelskool (Twaalf Kleiner Profete – registreer by die web) begin dié week, sowel as Op pad met God.
  • Reisgenote en Dissipelskap begin later.
  • Graad 1-7’s bly in die erediens vanoggend. Glimwurms, dit is ons voorskoolse groep, gaan konsistorie toe na ons inleiding rondom die Woord.
  • Ouers en graad 1-7’s bly ook ná die erediens agter in die kerk vir die kleingroep indeling.
  • Jan Barnardo – oorlede Vrydag. Diep spore getrap in ons gemeenskap. Ons medelye met die familie, veral Anmari en Robert van den Berg en hulle familie, en die kleinkinders wat hier by ons woon. Die troosdiens sal op Woensdag 12:00 in die Hoogland gemeente plaasvind.

Toetrede

  • Psalm 139:1O Here, U ken my volkome, U sien tot in my wesensgrond – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang en aanbidding

  • Vonkk 185Kom laat ons juig en sing, aan Hom ons loflied bring – staan
  • Liedboek 258:1,2Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding – evangeliewoord – sit

DIENS VAN DIE WOORD

  • Liedboek 443:1,4,5Wind kan jy nie sien nie – niemand sien dit raak. Maar wanneer ons luister, hóór ons hoe dit maak – sit

Markus 9:14-29“Hoe lank gebeur dit al met Hom?”

Video speel

Ons is besig met ‘n reeks LAAT JESUS DEUR JOU LEEF, en die fokus vandag is op LUISTER. Dit is natuurlik een van die hoofelemente van ons visie. Met die aanddiens reeks fokus ons op wat hoe ons ‘n Hart soos Jesus kan kry. Vanaand gaan dit ook oor luister.

Ons het ‘n paar Jesusverhale gekies wat ons gaan help om Jesus deur ons te laat leef. Hy wil vandag dieselfde dinge doen deur ons as wat Hy met sy lewe op aarde gedoen het. Ons is sy hande en voete, sy ore en sy stem.

Kom ons lees die eerste verhaal van Jesus wat ‘n besete, stom en dowe seun gesond maak.

14Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ’n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. 15Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. 16Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”

17Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ’n gees besete is wat hom stom maak. 18En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”

19Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”

20Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. 21Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”

22“Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

23“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”

24“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

25Toe Jesus sien dat ’n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

26Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”

27Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.

28Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”

29Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Inleiding – WWJD – What would Jesus do?

Al die kinders kom vorentoe. Annelet gaan die inleiding in die tema hanteer met julle. Die Glimwurms gaan dan na hulle toepassing toe. Die res van die kinders bly in die kerk.

Integrasie – Laat Jesus deur jou leef: LUISTER

What would Jesus do?

What would Jesus do?” (WWJD). Die vraag van Charles Sheldon in sy boek In His Steps bly steeds vir baie Christene relevant: “What would Jesus do?” Baie tieners het op ‘n tyd dié frase op ‘n armband gedra. Dit was ‘n maklike manier om jouself te herinner, in elke situasie, dat jy soos Jesus moet leef, die dinge moet doen wat Hy sou gedoen het. “What would Jesus do?” Inderdaad.

Ek dink dit is steeds ‘n geldige vraag vir vandag: “What would Jesus do?” Ek dink ons almal sal graag wil doen wat Jesus gedoen het. Anders, wat is die punt van ons Christenskap, as ons nie doen wat ons leier, Jesus, gedoen het nie? “What would Jesus do?

Maar, is dit so eenvoudig?

Laat my dink aan die tiener wat gesê het: “What would Jesus do? Dis maklik – die teenoorgestelde as wat ek sou doen!

Om te doen wat Jesus gedoen het, is nie so maklik nie

Hy het intuïtief geweet dat dit alreeds een van die probleme is wat ons het. Ons doen nie die dinge wat Jesus gedoen het so maklik soos Jesus dit self gedoen het nie!

  • Jesus het gevat aan mense. Hy het geëet saam met sondaars en uitgeworpenes uit die samelewing. Hy het hulle in sy vriendekring ingenooi. Hy het aan melaatse mense, onrein mense, want dit is wat hulle in wese was, gevat. Ons nooi mos mense uit wat soos ons is – en ons vermy mense wat nie aanvaarbaar is in ons sosiale kring nie. Om die waarheid te sê, ons wil baie keer liewer nie gesien word saam met mense wat nie soos ons lyk nie – siekes, gestremdes, anderskleuriges, andersdenkendes. Dink maar net aan die xenofobia wat weer uitbreek in dele van ons land. En die storm oor Jan van Riebeeck en witheid en swartheid en die verlede en skuld. En dan praat ons nie eers oor die wêreldwye probleem van die vryheid van spraak en van geloof nie. Ons sukkel met andersheid. Ons vat nie aan anderse mense nie.
  • Jesus het toegelaat dat mense aan Hóm vat. Hy het ook die omgekeerde gedoen! Hy het die siekes toegelaat om aan Hom te vat – die vrou met bloedvloeiing wat aan sy kleed gevat het en genees is (Lukas 8), die sondige vrou met die albaste fles met olie wat sy voete gesalf het (Lukas 7). Jesus het selfs toegelaat dat Judas aan Hom vat, Hom met ‘n broederlike kus verraai, wat die proses in werking gestel het dat Hy onregverdiglik aan ‘n kruis gespyker word, dat hulle hom slaan met ‘n sweep, ‘n doringkroon op sy kop druk, spykers deur sy hande dryf, kaal vertoon op ‘n kruis, sy sy met ‘n spies deurboor. En ons weet dít is die genade wat Hy aan ons bewys het. Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Maar, in ons eie lewe sukkel ons soms met die kleinste onreg wat teenoor ons gepleeg word. Ons veg eerder vir ons regte. Ons laat nie toe dat mense aan ons vat nie.

Dit is nie maklik om te doen wat Jesus gedoen het nie. What would Jesus do? Nie so maklik nie.

Hy kon die onreg wat mense teen Hom gepleeg het met grasie hanteer, selfs omkeer, selfs die mense wat aan Hóm gevat het tot bekering bring. Dink aan Petrus en Paulus – die groot manne van die vroeë kerk. Hy het hulle lewens omgekeer, al het hulle Hom verraai en in Paulus se geval selfs ernstig vervolg.

Dit is nie so eenvoudig om te doen wat Jesus gedoen het nie.

Sommige dinge kán ons doodgewoon nie self doen nie

Op die koop toe, ons weet daar is ander dinge wat Jesus gedoen het, wat ons nooit self kán doen nie.

  • Ons sukkel om op water te loop. Ons trek maar ons oranje reddingsbaadjie aan as ons boot ry.
  • Ons sukkel om brood te vermeerder. Gelukkig kan ons ons vyf broodjies en twee vissies vir die Here gee, en Hy maak dit meer. Maar ons is van Hom afhanklik daarvoor. En ons moet uiteraard die keuse maak om dit te doen.
  • Ons kan met klei speel, maar ons weet nie hoe om iemand se oë met klei te smeer dat hy of sy weer kan sien nie. Weereens, ons kan bid en vra, en die Here doen wonderlike dinge in antwoord op gebed. Maar, ons kan nie volledig doen wat Jesus gedoen het nie.
  • Ons kan probeer om lyftaal te lees, maar ons weet nie regtig wat mense dink wat selfs rondom ons staan nie. Vir Jesus was dit maklik. Hy het geweet wat mense dink. Hulle was soos ‘n oop boek vir Hom. Ons is weereens afhanklik van die insig wat Hy gee, ‘n woord van kennis, ‘n woord van wysheid.

Kortom, daar is dinge wat Jesus gedoen het, wat ons nooit op ons eie sal kan doen nie. Op die meeste kan ons Hom vra in gebed dat Hy intree en optree, maar ons het doodgewoon nie die vermoëns wat Hy het nie. Sal dit nooit hê nie.

Dit is natuurlik ook eintlik heel normaal. Hy is immers God. En ons is sterflike beperkte wesens. Maar, die punt is, daar is dinge wat Jesus gedoen het wat ons nie kan doen nie. Ons moet ons eindigheid, ons beperktheid besef.

Kan ons dan enigsins doen wat Jesus gedoen het? Kan ons enigsins die vraag “What would Jesus do?” met ons lewe beantwoord?

Ja, ons kan.

Hoe?

Bring hom hier na My toe.

Die eerste antwoord daarop is dat ons die ander opdrag van Jesus in die gedeelte moet raaksien. Jesus sê vir die dissipels: “Bring hom hier na My toe.

Dit is die evangelie in hierdie teks. Die dissipels het gesukkel met hierdie situasie. Hulle was sonder die drie leier dissipels wat saam met Jesus op die berg van verheerliking was – Petrus, Jakobus en Johannes. Hulle het die wonder van die verheerliking gemis. Sonder die leiers, en sonder Jesus het hulle gesukkel met die situasie van hierdie pa met sy besete, stom en dowe seun.

Dit het gelei tot ‘n groot konflik met die skrifgeleerdes. Hulle kon nie iets aan die seun se moeilikheid doen nie. Hulle was verleë voor die godsdienstige leiers.

Dit was baie publiek. Die skare het saamgedrom om die rusie gade te slaan … tot Jesus gelukkig op die toneel verskyn het.

Die skare was natuurlik verras en het Hom verwelkom. Hier gaan nou iets gebeur, was die verwagting. En dit is presies wat hulle gekry het. Jesus het opgetree en die situasie beredder.

Let op dat Hy begin deur te sê: “Bring hom hier na My toe.

Dít is iets wat ons kan doen. Dit is iets wat die dissipels ook kon doen.

Die fokus is immers nooit op ons eie vermoëns nie. Die fokus moet altyd op God se ingrype in elke situasie geplaas word. En ons kan daarmee help deur mense aan God bloot te stel. In gebed. In besoeke. In saamwees. In uitnooi. In betrokkenheid.

Bring hom hier na My toe.

Dit is iets wat ons kan doen.

Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?

Die tweede ding wat ons moet raaksien, is die manier waarop Jesus dié situasie beredder het. Hy tree in gesprek met die pa van die seun en genees nie net voor die voet die kind nie. Nee, Jesus vra vir hom: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?

Dit is ook iets wat ons kan doen. Ons kan luister. Ons kan hoor wat gaan aan. Ons kan kontak maak. Ons kan uitreik. Ons kan intrek. Dan sal ons die pa ook kan hoor wat smeek: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.

Dit is wat Jan Johnson ook vir ons aanbeveel, as ons ernstig is oor die vraag “What would Jesus do?”, dat ons eers sal luister, sal vra na wat aan die gang is, voor ons besluit wat nodig is om in die situasie te doen (Invitation to the Jesus Life: Experiments in Christlikeness. Navpress: Colorado Springs, 2008). Sy sê selfs dat ons die vraag moontlik eerder anders moet formuleer na “How would Jesus do it?”, omdat ons dan makliker uitkom by die dinge wat ons kan doen, die styl waarbinne ons kan optree, maar dit eers daar gelaat.

Die belangrike punt van Jesus se vraag aan die pa, is dat dit luister op die tafel sit: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?” Dit is immers iets wat in die hart van ons gemeentewees lê. Ons luister na God, na mekaar, na die wêreld, en dan gaan leef ons met die visie, gawes en geleenthede wat die Here vir ons gee. Dit is ons visie: LUISTER – LEEF!

En dit is ‘n waarde wat ons eintlik help met alles wat ons doen. Deur te luister, help dit ons om almal te verwelkom. Deur te luister, help dit ons om dissipels te wees en ook te maak. Deur te luister, help dit ons om om te gee, om uit te reik, om te waag in die geloof, presies dit wat ons waardes is wat hier voor so mooi uitgebeeld word. Alles begin by luister.

As ons daarom hierdie luistervraag van Jesus vra, op verskillende maniere, “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”, sal ons die vermoë hê om op die menslikheid van die situasie te fokus, om die emosies te hanteer, om die binnekant van mense se ervarings te bereik, vóór ons iets aan die situasie doen.

Dan kan ons Jesus beter navolg, sodat Hy deur ons kan leef.

Dan kan Jesus ook self besluit “What would Jesus do?” as dat ons dit vir Hom presies voorskryf.

En dit kan elkeen van ons doen. Ons kan vra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?

Ek glo … Help my in my ongeloof.

Die derde ding wat ons kan doen, is om eerlik te wees oor ons geloof, en baie keer, juis ons gebrek aan geloof. Jesus spreek die dissipels en ook die skare en die skrifgeleerdes daaroor aan: “Ongelowige geslag, … Hoe lank moet Ek julle nog verdra?

Hy antwoord die pa op sy vraag: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” en daag hom uit om te glo: “Vir die een wat glo, kan alles.” “Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.” sê die BDV.

Inderdaad.

Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.

Wat ons moet raaksien, is dat selfs dié onvolmaakte geloof, wat die man eintlik as ongeloof beskryf, is genoeg om die Here Jesus in beweging te bring om die onrein gees uit die seun te dryf en hom van sy stom- en doofheid te genees.

Geloof lê in ongeloof opgesluitas ons dit na God toe bring. God is die bron van geloof. Hy bestaan, Hy is werklik, en Hy gee vir ons wat nodig is om aan Hom vas te gryp. Hy is immers die beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6), selfs waar ons ons ongeloof bely: ““Ek glo,Help my in my ongeloof.

Dit kan jy ook doen.

Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.

Die vierde ding wat ons vandag in hierdie teks moet raaksien, is dat Jesus die dissipels uiteindelik leer dat hierdie dinge met niks anders as met gebed kan gebeur nie.

Die belangrikste ding wat Jesus uiteindelik vir ons en met ons wil doen, is om in ‘n vriendskapsverhouding met ons te leef. Dit is wat dit beteken om die teenwoordigheid van die Here Jesus te beoefen (practicing the presence of God – broer Lawrence se nalatenskap). Dit is een van die eenvoudigste, maar ook een van die mees omvattende geloofsgewoonte wat daar is.

Gebed is ‘n primêre element in dié verhouding. Geloof lê immers ook in gebed opgesluit. Oral waar ons bereid is om die grens na God in gebed oor te steek, dáár sal ons Hom vind en die genade wat Hy vir ons en vir mense rondom ons gaan ontsluit.

My vrou het verlede jaar ‘n ses maande projek van voorbidding gevolg, met soms dramatiese gevolge. Dit was in navolging van ‘n uitdaging van John Ortberg in sy boek – “If you want to walk on water, you’ve got to get out of the boat”. Sy was nog altyd ‘n voorbidder, maar het ‘n spesifieke program gevolg, met goddelike resultate.

Dit is iets wat jy kan doen.

Die afgelope week het ek en sy elke oggend weer saam ingetree vir verskillende sake. Sommige daarvan in ons familiekring, en ander in die gemeente en ‘n bietjie wyer in die gemeenskap. Dit is só ‘n gerusstelling dat ons kan inskakel by wat God doen. “Bring hom hier na My toe.” Watter bevryding. Watter ervaring van medewerking met God self.

Verskeie gesprekke wat ek dié week gehad het met mense oor ‘n verskeidenheid van sake het op ‘n manier in my gebede beland, en nie net vir my rustigheid gebring nie, maar my geestelike lewe gefokus en die verwagting aangevuur dat die Here op besondere wyses gaan optree.

En die Here het!

Accidental obedience

Ek wil jou nou geleentheid gee om die boodskap van vanoggend vir jouself toe te eien:

Jan Johnson sê die volgende: “When we put our effort into whatever it takes to help us connect with God, we quite naturally do good things without thinking about them.” Sy noem dit: “accidental obedience”. Terwyl ons met die Here die pad stap, raak ons gehoorsaam, amper sonder dat ons ons instel daarop! En leef die Here Jesus eintlik deur ons!

  • Dink ‘n bietjie daaroor na.

Dink nou oor een situasie in jou lewe waar mense in nood verkeer – in gesinne, in werksituasies, op straat. Hoe sou “accidental obedience” kon lyk? Dit help mos as ‘n mens ‘n bietjie jou verbeelding gebruik. Dan gebeur dié goed makliker. Herken jy dit as dit gebeur.

  • Dink ‘n bietjie daaroor na.

Laat Jesus dié week toe om deur jou te leef:

  • Luister totdat jy kan hoor wat aangaan in mense se lewens.
  • Bring mense na die Here Jesus toe in gebed.
  • Wees op die uitkyk vir “accidental obediences”.

Gebed

UITSENDING

Dankoffer

Slotlied

Liedboek 524:1-3God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – staan

Seën

Liedboek 524:3 se laaste twee reëlsDeur omgee en met uitreik, Heer, gaan ons met blydskap voort – staan

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.