Skip to main content

Reën – 1 Konings 17-18

God bring reën

Daar is ‘n ryk tradisie in die Bybel dat God die aarde seën. Dat Hy vrugbaarheid gee. Dat Hy dit laat reën: “Sing ’n danklied tot eer van die Here,” sê Psalm 147:7-8. “Psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit.

God bring droogte

Dit is egter onteenseglik óók so dat hierdie seën nie outomaties was nie. Dit was afhanklik van ‘n gesonde verhouding met die Here. Só het Moses die volk geleer: “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.” (Deut 11:13-14).

Die Here het hulle gewaarsku dat hulle nie van Hom moet afwyk en ander gode dien nie, want dan sou sy toorn oor hulle ontvlam. Hy sou die hemel toesluit: “sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie.” (Deut 11:17).

Die verhaal van Elia illustreer hierdie twee tradisies op geen onseker manier nie. God bring die reën. God bring die droogte. Alles om die volk nie net van sy bestaan te oortuig nie, maar om hulle op te roep om in Hom te glo.

Verwelkoming

Toetrede

Lied 163 Soos ‘n wildsbok wat smag na water – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 444 (x2) Kom kyk!  Kom kyk! Kyk, alles word nuut!  Die Gees werk in my; die Gees werk in jou – staan

Vonkk 107 Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde – staan

Kindertyd

Lied 303 Eet die brood, drink die wyn – sit

Geloofsbelydenis

Nagmaal

Gebed

Skriflesing en Prediking

Ek gaan veral 1 Konings 17:1, 18:1, en 21-46 gebruik sowel as Jakobus 5:16-18. Aan die einde gaan ek ook kortliks verwys na Handelinge 14:15-17 en Openbaring 11:6. Ek sal die Skrifgedeeltes lees soos ek dit uitlê en die Here se boodskap vandag verkondig.

God bring reën

Daar is ‘n ryk tradisie in die Bybel dat God die aarde seën. Dat Hy vrugbaarheid gee. Dat Hy dit laat reën: “Sing ’n danklied tot eer van die Here,” sê Psalm 147:7-8. “Psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit.

God bring droogte

Dit is egter onteenseglik óók so dat hierdie seën nie outomaties was nie. Dit was afhanklik van ‘n gesonde verhouding met die Here. Só het Moses die volk geleer: “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.” (Deut 11:13-14).

Die Here het hulle gewaarsku dat hulle nie van Hom moet afwyk en ander gode dien nie, want dan sou sy toorn oor hulle ontvlam. Hy sou die hemel toesluit: “sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie.” (Deut 11:17).

Die verhaal van Elia illustreer hierdie twee tradisies op geen onseker manier nie. God bring die reën. God bring die droogte. Alles om die volk nie net van sy bestaan te oortuig nie, maar om hulle op te roep om in Hom te glo.

Die Here is God

Daar is min oor Elia bekend.  Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn.  Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe.  Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Dit lyk asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes. Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”.

Maar in sy naam is ‘n groot boodskap opgesluit. Elia beteken “Jahwe is God”. Dit is dan ook die boodskap wat hy met groot oortuiging aan Agab en die volk bring. Die Here is God.

Die versoeking van sinkretisme

Elia kom sterk in opstand teen enige vorm van sinkretisme. ‘n Godsdiens waarin die Here gedien word saam met ander gode. Waar sy wil nagekom word, maar ook die wil van die ander gode. Waar Hy gedien word, maar sonder dat die ander gode ontstel word daardeur.

Hierdie sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk. Reeds in die woestyn  het hulle die Here gedien, maar ook in die goue kalf, dié een wat Aäron vir hulle gemaak het.

Die konings van Israel, veral in die noordelike ryk in Samaria, het egter toenemend die volk verlei om nie net die Here te aanbid nie, maar ook vir Baäl. Met die koningskap van Agab het dit tot die wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou kon versaak.

Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl saam met Jahwe aanbid. Veral onder die invloed van Isébel, daardie aartsmanupileerder.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl. En hy doen dit op drie maniere.

God beveel die droogte

Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom. Ons lees in hoofstuk 17:1:

So waar as die Here, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!

En vir drie jaar was daar geen reën nie. Die Here het sy profeet by die spruit Krit van water voorsien. Kraaie het vir hom brood en vleis gebring.

Toe die spruit opdroog, want daar was geen reën in die land nie, het die weduwee van Sarfat vir hom gesorg. Die meel in haar pot en die olie in haar kruik het nie opgeraak nie tot dit uiteindelik weer gereën het in die land.

Benewens dié wonderwerk het die Here ook haar seun uit die dood opgewek sodat dit vir almal duidelik kon word dat die woord van die Here in Elia se mond die waarheid is (vgl Hebr 11:35).

God beveel die reën

Dan lees ons in 1 Konings 18:1:

En geruime tyd daarna het die woord van die Here in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.

Elia tree met groot gesag op en beveel Agab om al die noordelike stamme te laat bymekaar kom op die berg Karmel saam met die 450 profete van Baäl en die 400 van Asjera. Wat hy ewe gedwee gedoen het. Die droogte as só uitmergelend dat hy nie bra anders kon nie.

Hoe lank hink julle op twee gedagtes?

En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” (1 Kon 18:21).

Dit was die hart van die probleem. Die Israeliete kon nie besluit of hulle by Jahwe of by Baäl en sy godin Asjera wou bly nie. Daarom het hulle albei tevrede probeer stel. Die onsedelikheid wat met die Baälgodsdiens saamgegaan het, was net te aanloklik. Daarom het hulle op albei stoele probeer sit.

Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die Here, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed. Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie.” (1 Kon 18:22-25).

Vuur is ‘n teken van God

Elia het hiermee gesorg dat dit duidelik sou wees dat die Here God is. Want net God kon vuur uit die hemel gee, soos Hy soveel kere in die verlede al gewys het. Sodom en Gomorra (Gen 19), Moses en die doringbos (Eks 3), die sewende plaag in Egipte waar vuur met die hael gemeng was (Eks 9:23).

Trouens, vuur is baie keer die teken van God se teenwoordigheid, soos met die vuurkolom in die woestyn (Eks 14:24; 40:38; Num 9:16; Deut 1:33), en die Here wat in vuur op Sinai neergedaal het (Eks 19:18; 24:17; Deut 4:11-15).

Hy verteer met vuur die offers met die inwyding van die tabernakel (Lev 9:24), asook Nadab en Abiru wat oortree het met “vreemde vuur” (Lev 10:2; Num 3:4). Die volk ontgeld dit ook ‘n keer met vuur vir hulle opstandigheid (Num 11:1), sowel as Korag en sy bende van 250 vir hulle opstandigheid (Num 16:25; 26:10).

Later in die Rigtertyd word die Here ook met vuur uit die hemel geassosieer as daar vuur uit die hemel kom om die offers van Gideon te verbrand (Rigt 6:21) en moontlik selfs ook die offers van Manoag, Simson se pa (Rigt 13:20).

Die Here gee vuur

Die profete van Baäl en Asjera het egter misluk al het hulle baie moeite gedoen. Hulle het gebid en rondgespring by die bul op die altaar. Elia het later met hulle begin spot:

Roep hard; hy is mos ’n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.” (1 Kon 18:27).

Maar verniet. Selfs nie toe hulle volgens hulle gebruik hulleself met swaarde en spiese stukkend gekerwe het tot die bloed uitgespuit het nie.

Teen laatmiddag, toe dit duidelik word dat daar geen stem en geen antwoord is nie: “geen opmerksaamheid nie”, sê die skrywer, roep Elia die volk:

Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die Here herstel wat afgebreek was. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders—tot wie die woord van die Here gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees — en hy bou met die klippe ’n altaar in die Naam van die Here. Daarna het hy ’n sloot gemaak rondom die altaar, ’n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer.” (1 Kon 18:30-37).

En die wonder gebeur, die tweede direkte teken ook aan Agab, dat die vuur van die Here neergeval het en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer het. Selfs die water wat in die sloot was, is opgelek deur die vuur.

Toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: “Die Here, Hy is God, die Here, Hy is God!” Wat in Hebreeus baie na Elia se naam klink.

En saam het hulle die valse profete uitgewis by die spruit Kison.

Die Here gee reën

Met die inkeer van die volk tot die Here, word die rede vir die droogte uitgewis, en kan die Here sy besluit uitvoer om die droogte te breek, die derde teken aan Agab (vgl Samuel wat iets soortgelyks gedoen het vroeër – 1 Sam 12:17-18). Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie:

Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer—sewe maal. En die sewende maal roep hy: Daar gaan ’n wolkie soos ’n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. En in ’n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ’n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël; maar die hand van die Here was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.”(1 Kon 18:41-46).

Die gebed van ‘n regverdige het groot krag

Die verhaal van Elia leer ons die volgende baie belangrike les:

Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag. Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.”(Jak 5:16b-18).

Wat is die boodskap aan ons?

Ek dink daar is drie dinge wat ons hieruit leer:

1. God praat met ons deur reën.

As Paulus in Listre op sy eerste sendingreis ‘n verlamde man genees, dan raak die skare mal en wil vir Paulus en Barnabas as gode vereer. Dan verkondig Paulus en Barnabas vir hulle die evangelie en leer hulle dat God praat in die skepping en in sy onderhouding daarvan.

Sy bekeringsboodskap is: “dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” (Hand 14:15-17).

God het dus nie net alles gemaak nie. Hy hou alles in stand. Hy doen goed deur vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.

2. God praat met ons deur droogte.

En soms, dan hou Hy daardie reën en vrugbare tye terug sodat daar ‘n behoefte aan Homself kan kom, sodat mense tot bekering kan kom.

Dit is ‘n mag waarby Elia ingeskakel het. Hy het gebid en dit was droog. Hy het die boodskap van bekering aan die volk gebring, en hulle het geluister. Hy het weer gebid, in opdrag van die Here, en dit het gereën.

3. Die gebed van die regverdige het groot krag.

Jakobus moedig ons aan om op dieselfde wyse te bid as Elia, want die gebed van die regverdige het groot krag. Maar, Jakobus spel ook uit dat die regte voorbereiding vir dié tipe gebede is om sondes te bely, om deur ‘n reinigingsproses te gaan, as geloofsgemeenskap, om reg te kan onderskei hoe ‘n mens dié gebede bid.

Maar dat dit deel is van die mag wat God aan die kerk gegee het, staan vas. Só lees ons in die Openbaring van Johannes dat God die mag om die hemel te sluit ook aan sy twee getuies gegee het (Openb 11). Die twee getuies staan vir die getuienis van die kerk in die wêreld, deur leierskap en die verkondiging van die Woord.

Ek wil jou dus uitnooi om saam met my vas te staan in ons verootmoediging voor die Here, om ons van alle sondes wat teen God se Woord indruis te bekeer, en te bid dat God die droogte sal breek.

Wanneer kom die reën?

Wanneer God se doel met hierdie droogte bereik het in ons lewe.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Vonkk 174:1-2 Strome van seën uit die hemel gee God aan ons deur sy Gees – staan

Seën

Respons

Vonk 174:3-4 Strome van seën uit die hemel kom van die Heilige Gees – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.