Skip to main content

Psalm 48 – om van God se leiding bewus te word – 02

7-Psalms-A5-flyerPinkster 2 – 6 Mei 2016

Verwelkoming

Verhaal van die sewe Psalms

Die eerste tyd tussen hemelvaart en Pinkster was ‘n baie besondere tyd.  Die dissipels moes die afskeid van die Here Jesus verwerk.  Hulle moes fokus op die leierskap en het iemand in die plek van Judas gekies as dissipel.  En hulle het gedoen wat die Here Jesus hulle gevra het.  Hulle het gebid, omdat die Here gesê het dat hulle binne dae met die Heilige Gees vervul sou word.  En dít is wat hulle gedoen het.  Hulle het eendragtig bymekaar gekom en gebid.

Wat sou hulle as gebede gebruik het?  Uiteraard sou hulle waarskynlik gebede gebid het wat die Here Jesus hulle geleer het, bv. die Ons Vader gebed wat Matteus (hfst. 6) en Lukas (hfst. 11) later in hulle evangelies sou opneem en waarskynlik ook spontane gebede, soos Jesus die Samaritaanse vrou geleer het (Joh. 4).

Die moontlikheid is egter sterk dat hulle in dié week tussen Hemelvaart en Pinkster sou aangesluit het by die gebruik van die Fees van die weke of “sabbatsweek” wat in dié tyd gehou is.  Ons lees daarvan op ‘n paar plekke in die OT (Eks. 34:22, Deut. 16:10,16; Num. 28:26; Lev. 23:15).  Uit  Numeri is dit duidelik dat hierdie week sewe weke na paasfees gehou is, en dat dit die fees van die weke genoem is.  Dit is ‘n fees wat tot eer van die Here gevier moes word aan die einde van die oes as ‘n gewyde tyd waarin hulle geen gewone werk moes doen nie.

Omdat dit gehou is sewe weke ná die Paasfees, het dit gelei daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is.

Mettertyd is daar Psalms vir dié tyd ontwikkel en een van die voorskrifte vir dié tyd was die lees en bid van die sewe “sabbatsweek” Psalms, een vir elke dag van die “Fees van die weke”, deur baie genoem: Shir Shel Yom (“lied vir die dag”).  In die Griekse vertaling van die Psalms in die LXX, die OT Bybel wat die vroeë kerk gebruik het, is daar hierdie sewe Psalms wat in die opskrifte só aangedui word, en in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke” voorgeskryf is.

Dit is die volgende Psalms:

  • Psalm 24 – vir Sondag;
  • Psalm 48 – vir Maandag;
  • Psalm 82 – vir Dinsdag;
  • Psalm 94 – vir Woensdag;
  • Psalm 81 – vir Donderdag;
  • Psalm 93 – vir Vrydag;
  • Psalm 92 – vir Saterdag, die Sabbatdag.

Dit is ook aan die sewe skeppingsdae gekoppel, soos ek in die boekie skryf, en waaroor julle daar meer kan lees.

Die kanse is dus goed dat die dissipelkring dié sewe Psalms in dié tyd tussen Hemelvaart en Pinkster gebruik het in hulle gebede.  Die kruisiging van Jesus was in die Paasfees, so die hemelvaart het sewe weke ná die Paasfees gebeur.  En in hierdie laaste week voor Pinkster, het hulle dus hierdie Psalms gelees.

Ek neem dus dié Pinkster dié “Sabbatsweek” Psalms as uitgangspunt vir ons om voor die Here stil te raak en te bid vir vernuwing en vir ’n groter ervaring van die krag van die Heilige Gees, sodat ons meer en meer aan ons roeping om sy getuies te wees, kan beantwoord.

Toetrede

My gebreekte woorde – band

Gebed

Psalm 48

Bring my die ou-ou tyding – Vonkk 77 – orrel

My gees, my siel, my liggaam – Vonkk 146 – orrel

In die hemel is die Heer – band

Inleiding

Ek lees die week die interessante verhaal oor die geweldige problematiek om die tonnel onder deur die Britse kanaal van Brittanje tot by Frankryk te bou.

“Van die begin af ‘n tweekoppige monster!” Só beskryf Robert Lewis die tonnel wat Brittanje en Frankryk onderdeur die Engelse kanaal met mekaar verbind. Twee massiewe maatskappye het die projek gelei, die een verantwoordelik vir finansies en bedryfsbestuur, en die ander een vir die bou van die tonnel. Op sy beurt het elkeen van die maatskappye ook twee koppe gehad, die helfte Britse bestuur en die ander helfte Franse bestuur.

Hierdie verdeling het leierskap onmoontlik gemaak. Besluitneming was gewoonlik krisisbestuur om te keer dat die pot van konflik oorkook. Van langtermynbeplanning en saamwerk was daar min sprake. Een van die bestuurslui het gesê: “Die projek het geweldige spanning veroorsaak, omdat die bestuur nie saamgestel was om op een doel te fokus en probleme op te los nie. Die klem het op verwyte en blameer van mekaar geval.” ‘n Ander uitvoerende beampte: “Ons het elke dag ‘n korporatiewe senuwee-ineenstorting beleef.”

Een van die vernaamste leemtes was ‘n stel gelykluidende standaarde. Die twee lande het ‘n uiteenlopende term en woord vir elke saak gehad. Die Franse het hul eie rekenkundige stelsel gehad, en so ook die Engelse. Die Franse elektriese sisteem het op 380 volts gewerk, die Britte s’n op 420. Al die handleidings was tweetalig. Daar was selfs twee uiteenlopende maniere om die vlak van die see te meet.

“As jy mense uit twee verskillende nasies het wat aan een projek saamwerk, moet jy die standaarde baie duidelik stel,” het een van die senior ingenieurs gesê, “anders glo elkeen hulle is reg.”

Ek dink ons sal ook moet erken dat ons nie met mekaar kan saamtrek as ons nie ’n standaard het waaraan ons ons kan meet nie.

Daar is geen groter standaard as God self nie, soos Hy Hom aan ons deur sy Geskrewe Woord en deur sy Heilige Gees openbaar.  Hy is die een wat ons moet lei.  Hy is die een wat aan ons sy wil moet openbaar om te gehoorsaam.

Ons lees dus die Psalm wat verband hou met die tweede dag van die Skepping, die dag waarop God die hemel en die aarde geskei het, waar Hy sy wil van hoe die wêreld moet lyk, in amperse binêre kodes, hemel en aarde, later see en land, later man en vrou, ensovoorts, uitgeoefen het.

Psalm 48

1 ‘n Lied. ‘n Psalm. Van die Koragiete.  2 Groot is die HERE en besonder lofwaardig,  in die stad van ons God, op sy heilige berg.  3 Indrukwekkend hoog, ‘n vreugde vir die hele land  is die Sionsberg, gesetel in die noorde,  in die stad van die groot Koning.  4 God in sy vesting is bekend as ‘n toevlugsoord!  5 Want kyk, die konings het byeengekom,  hulle het saam opgetrek.  6 Wat hulle gesien het, het hulle stomgeslaan;  verskrik het hulle op die vlug geslaan.  7 Vrees en bewing het hulle daar beetgepak,  angs, soos ‘n vrou wat geboorte gee,  8 soos wanneer U met ‘n oostewind  skepe uit Tarsis verpletter.  9 Wat ons gehoor het, het ons ook ervaar  in die stad van die HERE, Heerser oor alle magte,  in die stad van ons God:  God het haar gevestig vir altyd.

Sela 

10 In u tempel, o God, dink ons na oor u troue liefde.  11 Soos u Naam, o God, so strek u lof  tot aan die einders van die aarde,  u regterhand is vol geregtigheid.  12 Sionsberg is verheug,  die dogters van Juda juig  oor u beslissings.  13 Loop rondom Sion, gaan reg rondom haar;  tel haar torings,  14 let op haar verdedigingswal,  bekyk haar vesting,  sodat julle dit vir die toekomstige geslag kan vertel:  15 Hierdie God is ons God vir altyd en ewig;  Hý sal ons lei vir altyd.

God sal ons altyd lei

Hierdie Psalm besing met passie die berg van die Here in Jerusalem, Sion, soos ook in ‘n hele paar ander Psalms gedoen word (Ps. 76, 84, 87, 122). Op ’n dieper vlak gaan dit egter natuurlik oor God self wat lofwaardig oor die hele aarde is.  Dit is Sy teenwoordigheid wat met Sion geassosieer word waardeur Sion ’n simbool van God self geword het.

Die Psalm het 4 dele:

  1. God se grootheid word besing soos dit gesimboliseer word deur Sion – vers 2-3. Let op dat die grootsheid daarvan nie net bedoel is vir die volk van God nie, maar as vreugde vir die hele aarde.  Jesus het in die Bergrede ’n frase uit vers 2 gebruik om God se verbintenis aan Jerusalem te beskrywe: ”die stad van die groot Koning” (Matt. 5:35).
  2. God se beskerming vanaf Sion word geloof aan die hand van konkrete ervarings daarvan, beide in die verlede as in die hede – vers 4-9. Die effek van God se beskerming op die nasies word met twee metafore geteken, dié van ’n vrou in barensnood en dié van die skepe van Tarsis wat met die oostewind vergaan.  Die wonder van persoonlike ervarings wat die stories uit die verlede rugsteun val ’n mens op.  Let ook op hoe verskillend gelowiges se ervaring is as hulle Sion sien.  Hulle is bly as hulle Sion sien, terwyl die nasies bang word by dieselfde ervaring.
  3. God se trou word oordink in die tempel op Sion as ’n getuienis vir die nasies van die aarde en almal aangemoedig om daaroor bly te wees – vers 10-12.
  4. God se leiding word bewonder as getuienis vir die volgende geslag van God se mense – vers 13-15. “Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei.”

Daarmee word vier van God se belangrikste eienskappe geteken wat ook vir ons in ons gebede en lewe voor God kan inspireer: God is groot, God beskerm, God is betroubaar, God lei sy mense.

Boodskap van die Psalm

Die Psalm besing God se grootheid, beskerming, trou en leiding.  Dít is wie God is.  Dít is wat God vir jou wil wees.  Hy wil hê dat jy in sy grootheid vreugde sal vind.  Hy wil hê dat jy in sy beskerming veiligheid sal vind.  Hy wil hê dat jy in sy trou moed sal skep.  Hy wil hê dat jy op sy leiding sal vertrou vir jou lewe. Dít is die dinge wat jou gebed en jou lewe moet inspireer: God is groot, God beskerm, God is betroubaar, God lei sy mense.

Persoonlike gebed

Neem vanaand genoeg tyd om God vir sy grootheid te loof, Hom te dank vir sy beskerming, na te dink oor sy betroubaarheid en leiding in verskillende situasies waardeur jy al gekom het.

  • Loof Hom vir sy grootheid.
  • Loof Hom vir sy beskerming.
  • Dink na oor sy betroubaarheid.
  • Dank Hom vir sy leiding.
  • Dink nou ook na aan jou verbintenis aan Hom en bevestig dit met die woorde van vers 15: “Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei.”

Grootgroep gebed

Kom ons gee nou geleentheid in die groot groep vir dié wat vir ons wil voorgaan in gebed vir God se grootheid, beskerming, trou en leiding.

Slotgebed

Slotlied

More than conquerors – band

Seën

Amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.