Skip to main content

“Hoor tog” – 2 Konings 19

Ek dink die versoeking is daar vir ons as kinders van die Here om te dink dat God ons moet seën, aan mekaar, sonder ophou.  Dit is tog hoe God is.  Hy is goed.  Hy is almagtig.  Hy wil vir ons die beste hê.  Ons dink “Life is beautiful” – soos daardie onvergeetlike fliek van Roberto Benigni onderstreep het – en wil graag hê, trouens verwag dit dat ons gehoorsaamheid vir ons voorspoed sal bring.

Maar ek dink ons vergeet dat die pa in die fliek moet sterwe om sy kind en uiteindelik sy vrou die gawe van die lewe te kan gee.  Ons leef mos ons lewe tussen die twee pole van “Life is difficult” – soos Scott Peck dit gemunt het in sy boek The Road Less Travelled – en “Life is beautiful” – soos Benigni dit vir ons interpreteer.  Die twee pole van die lewe vorm eintlik die Seisoene van die Siel, soos ek onlangs in ’n nuwe ongepubliseerde boek van Riaan van der Merwe gelees het.

Verwelkoming

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Votum en Seëngroet

Lofsang

  • Liedboek 221 – Loof die Heer omdat Hy goed is; daar’s geen einde aan sy liefde (x3) – sit
  • Vonkk 85 – Here, ons Here, hoe groot is U! – sit – gemeente keervers, koor strofes.
  • Liedboek 223 – Aan Jesus, Koning, al die eer! – staan

Kindertyd

Daar was eenmaak ‘n baie slegte koning.  Sy naam was Agas.  Agas het nie na die Here geluister nie. Hy het sy kinders sleg behandel.  Hy het slegte besluite geneem.  Die slegste ding wat hy gedoen het, was dat hy die deure van die tempel toegesluit het.  Hy wou nie hê dat die mense moet bid nie.  Daarom het hy probeer keer dat hulle in die tempel met die Here praat.

Gelukkig was hy nie baie lank koning gewees nie, maar dit was genoeg dat die groot nasie van daardie tyd, die Assiriërs, moeg geraak het van hom, en teen Agas se land, Juda, begin veg het.

Toe Agas dood is, word sy seun Hiskia koning.  Hy was nou regtig ‘n goeie koning.  ‘n Man na God se hart.

Wat dink julle is die eerste ding wat Hiskia doen?  Hy het die deure van die tempel gaan oopmaak, en mense aangestel om dit silwerskoon te maak.  Hulle het hard gewerk totdat alles weer op hulle plek was en die mense weer in die huis van die Here kon kom bid.

Maar toe gebeur daar ‘n ding.  Al was Hiskia so goed en het hy alles reg gedoen, was die Assiriërs steeds baie kwaad vir sy pa, en het hulle al hoe nader en nader gekom aan Jerusalem.  Hulle wou die stad inneem en vir Hiskia doodmaak en sy mense wegvoer as slawe.

Só wat nou gedoen?  Hiskia het ‘n klomp goed reg gekry.  Hy het nog ‘n muur om die stad laat bou.  Hy het die water wat buite die stad in die fonteine was, laat toegooi, sodat die Assiriërs nie daar kon gaan water drink nie.  Slim nê?!

Maar toe het hy die belangrikste ding gedoen wat ‘n mens kan doen.  Hy het self in die tempel ingegaan, dié tempel waarvan hy nou so pas die deure oopgemaak het vir al die mense, en self daar gaan bid.  En hy het sommer plat op die grond gaan sit en gevra, Here, hoor tog, ons is in die moeilikheid, help ons.

En wat dink julle het die Here gedoen?  Hy het gehoor en toe vir Hiskia moed ingepraat.  Hy het vir hom gesê, Ek lag vir daardie Assiriërs.  Hulle is nie vir my ‘n probleem nie.  En wat dink julle doen die Here toe? Hy stuur een engel en dié maak sommer amper die hele spul Assiriërs dood.

Toe is Hiskia en sy mense veilig, en kon hulle weer normaal aangaan met hulle lewens.

Wat leer dit vir ons?  Ons kan met enigiets na die Here toe gaan.  Hy luister graag na wat ons vra.  En veral as ons regtig in die moeilikheid is, kan ons maar weet, die Here sal na ons luister. Hy het na Hiskia geluister, en Hy belowe, soos Jesus in die NT sê, “Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Luk 11:10).  Jesus sê selfs: “Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis?  Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee?  As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!  Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk 11:11-13).

Kom ons bid – julle kan nou dié prent gaan inkleur om julle te herinner daaraan: “As ek ‘n groot probleem het, bid ek en vra die Here om my te help.”

Gebed

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Skriflesing

  • 2 Konings 19

In die 14de jaar van koning Hiskia se regeringstyd het Sanherib van Assirië opgetrek teen Juda en Jerusalem om hulle in te neem en in ballingskap weg te voer.  Net 10 jaar vroeër is die noordryk deur Sanherib se pa, Salmanesar, weggevoer.  Nou was Sanherib se fokus op Juda en Jerusalem.  Hiskia was 39 jaar oud.  ‘n Groot bekgeveg het ontstaan tussen Sanherib se leiers en die Judeërs, hoewel Hiskia eintlik sy mense opdrag gegee het om niks te sê nie.  Al wat Hiskia se leiers wel gedoen het, is om te vra dat die Assiriërs nie só te kere gaan dat die manskappe hoor wat gesê word nie.  Die Assiriërs het egter nie geluister nie en baie hard en baie lasterlik teen Juda en hulle God gepraat.  Die nuus is vir Hiskia gebring:

19 1Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. 2Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. 3Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is ’n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie. 4Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.”

5Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, 6sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan ’n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”

8Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met ’n aanval op Libna besig was. 9Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap: 10“Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. 11Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? 12Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? 13Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei.

15Toe het hy tot die Here gebid:

“Here, God van Israel,

U wat oor die gerubs troon,

U alleen is God

oor al die koninkryke

van die aarde,

U het die hemel en die aarde

gemaak.

16Hoor tog, Here, luister,

kyk tog, Here, let tog op!

“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig! 17Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 18en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 19Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”

20Jesaja seun van Amos het vir Hiskia ’n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.

21“Dit is wat die Here oor Sanherib sê:

Sion verag jou en lag jou uit,

Jerusalem kyk jou

met minagting agterna.

22Vir wie het jy beledig en belaster?

Vir wie het jy geskreeu

en uitgedaag?

Die Heilige van Israel!

23Deur jou gesante het jy die Here

geminag toe jy gesê het:

‘Ek het met my wa

teen die hoogste berge op gery,

na die toppe van die Libanon toe;

ek het sy hoogste seders afgekap,

sy mooiste sipresse.

Ek het sy verste skuilhoeke

binnegedring, sy digste bosse.

24Ek het na water gegrawe

in ander lande en dit gedrink,

met my voetsole

al die opgedamde riviere

laat opdroog.’

25“So sê die Here vir jou, Sanherib:

Het jy dan nie gehoor nie,

Ék het dit bewerk, lank gelede al,

van die vroegste tye af

het Ek dit voorberei

en Ek het dit nóú laat gebeur:

jy moes vestingstede verwoes

en puinhope van hulle maak.

26Hulle inwoners was magteloos,

verskrik en sonder raad,

soos veldplante, soos groen gras,

soos gras op ’n huis se dak:

dit verskroei

voor dit behoorlik staan.

27Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit,

Ek weet hoe jy teen My te kere

gegaan het.

28Omdat jy dit gedoen het,

omdat Ek jou verwaande woorde

moes aanhoor,

sit Ek ’n haak deur jou neus

en ’n stang tussen jou tande

en lei Ek jou terug op die pad

waarmee jy gekom het.

29“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet. 30Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra. 31Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here sorg.

32“Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië: Hy sal nie in dié stad inkom nie, hy sal nie ’n pyl hier afskiet nie, nie ’n skild teen die stad optel nie, nie ’n beleëringswal daarteen opgooi nie. 33Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê. 34Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

35Daardie nag het ’n engel van die Here gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar. 36Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly. 37Terwyl hy op ’n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het Adrammelek en Sareser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

Woordverkondiging

Life is beautiful.  Life is difficult.

Ek dink die versoeking is daar vir ons as kinders van die Here om te dink dat God ons moet seën, aan mekaar, sonder ophou.  Dit is tog hoe God is.  Hy is goed.  Hy is almagtig.  Hy wil vir ons die beste hê.  Ons dink “Life is beautiful” – soos daardie onvergeetlike fliek van Roberto Benigni onderstreep het – en wil graag hê, trouens verwag dit dat ons gehoorsaamheid vir ons voorspoed sal bring.

Maar ek dink ons vergeet dat die pa in die fliek moet sterwe om sy kind en uiteindelik sy vrou die gawe van die lewe te kan gee.  Ons leef mos ons lewe tussen die twee pole van “Life is difficult” – soos Scott Peck dit gemunt het in sy boek The Road Less Travelled – en “Life is beautiful” – soos Benigni dit vir ons interpreteer.  Die twee pole van die lewe vorm eintlik die Seisoene van die Siel, soos ek onlangs in ’n nuwe ongepubliseerde boek van Riaan van der Merwe gelees het.

Gehoorsaamheid is nie ‘n vrypas tot voorspoed nie

Gehoorsaamheid is nie ’n vrypas tot voorspoed nie.  Dít moet ons goed besef.  Ons moet nooit val vir die idee dat gehoorsaamheid ons ’n vrypas gee om die probleme van die lewe te ontduik nie.  Dit is wel so dat God ons beloon, dat Hy ons gehoorsaamheid raaksien, dat Hy alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28).  “Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goeddoen” – sê Paulus in Rom. 2:10.  Let op na die woordjie ewige, want dít is in die eerste plek wat God vir ons gee, ’n heerlikheid wat vir altyd sal hou, hoewel daar natuurlik ook baie aardse seën van God af kom.

Dit is so, dat daar ’n ongelooflike stuk tevredenheid en rus is wat kom as ’n mens die getuienis in jou hart het, dat God met jou tevrede is, of dat wat jy gedoen het sy goedkeuring wegdra.  Trouens dít is een van die maniere waarop ons God se wil vir ons agterkom.  God se vrede speel skeidsregter in ons hart (Kol 3:15).

Maar, dít vrywaar ons nie van die leed van hierdie lewe nie.

Hiskia het nie ‘n aandeel in die foute van sy pa gehad nie.  Hy was uiters voorbeeldig.

Dit is wat hier met Hiskia gebeur.  Hy het nie ‘n aandeel in die foute van sy pa gehad nie.  Hy het trouens baie voorbeeldig gelewe:

  • Hy het die volk se verbintenis aan God herstel deur die tempel se deure (wat sy pa Agas gesluit het) oop te maak en binne 16 dae skoon te maak en te herstel, sodat die volk die Here daar kan aanbid, soos ons in Kronieke lees.  Hy herstel dus hulle toegang tot die Here hulle God, sodat hulle weer met Hom kon praat en Hom kon gehoorsaam.  Dit is benewens al die afgode en altare wat hy verwoes het sodat Juda die afgode nie meer kon aanbid nie.  Selfs die koperslang van Moses – Negustan het die mense dit genoem – wat mense as ’n afgod aanbid het, het hy verwoes (2 Kon. 18:4).
  • Hy het dié fees wat die volk van Israel gedefinieer het, die Paasfees, weer ingestel.  Dit is die fees waarin die uittog uit die slawerny van Egipte herdenk is en wat ’n kragtige simbool van die werklikheid van God se verkiesing van hulle as volk was, sowel as van hulle eenheid as volk.  Hardlopers is deur die hele Israel en Juda met briewe van die koning om hulle uit te nooi waarin die Paasfees as bekeringsfees geteken word: “kom terug na die Here … dan sal Hy ook terugkom na julle toe.”
  • Nog was Hiskia nie klaar nie.  Die tempel en die feesvieringe kon nie volhoubaar bestaan sonder dat die tempelpersoneel bemagtig word vir die bediening en versorg word in die proses nie.   Daarom neem Hiskia dit op hom om die pligstate van die priesters en Leviete afdelingsgewys saam te stel om vir die funksionering van die tempel verantwoordelikheid te neem.  En Hiskia sorg dat die tempelpersoneel versorg word soos die wet dit voorgeskrywe het.  Daarvoor dra die koning self uit sy persoonlike besit by, maar roep ook die hele Israel op om vrygewig die eerste opbrengste van hulle oeste en die tiendes van alles te bring.  En let op dat die onderhoud gemik was daarop om die priesters en Leviete vry te stel: “sodat dié hulle aandag kon gee aan die uitleg van die wet van die Here.”  Presies soos die twaalf apostels dit uiteindelik in die eerste Christelike gemeente van Jerusalem sou reël, met die sewe manne wat deur die gemeente aangestel is om aandag te gee aan die versorging van die weduwees sodat die apostels: “ons aandag aan gebed en die bediening van die woord,” kan bly gee (Hand. 6:4).   ’n Groot hoeveelheid goedere is oor die 5 maande van die insameling bymekaargemaak, sodat daar hope en hope oorgebly het, om vir ander doelwitte te gebruik.  Die groot hoeveelheid gawes uit die eerste opbrengste en die tiendes wat oorgebly het, selfs ná die noodsaaklikhede daarmee bedien is, was ’n getuienis van die seën van die Here: “Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so ’n massa goed oor.”  Met die groot oorblyfsel is toe kamers aan die tempel aangebou en toewysings gegee aan die ampsgenote op ’n billike manier.

Hiskia was regtig ’n groot koning wat gedoen het wat goed en reg en eerbaar was in die oë van die Here sy God.  Hy het met sy hele hart gevra na die wil van sy God en was daarom voorspoedig. En hy sou kon verwag dat die Here hom sal seën, dat hy voorspoedig sal wees, dat die Here hom van krag tot krag sal laat gaan.

Maar Agas was ’n baie slegte koning.

Maar, dit is nie hoe dit gewerk het nie.  Agas, Hiskia se pa, was ‘n baie slegte koning.  Kronieke sê van Agas dat hy: “die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee het en ontrou was teenoor die Here”.  Agas delf op liederlike wyse die onderspit teen Israel in ’n onnodige oorlog, en loop die gevaar dat Juda ’n slawevolk in sy regeringstyd sou word, onderdruk deur hulle eie bloedfamilie, en onderskat heeltemal die gevaar van Assirië wat toe téén hom draai en hom aan hulle onderdanig maak, maar die ergste was die sluiting van die tempel.  Hy wou nie self die Here dien nie, maar toe maak hy dit onmoontlik vir ander om die Here te dien.  ’n Gruwelike koning in elke opsig.

En dít impakteer op alles, en Hiskia en die volk moet die gelag betaal.

Hy sou kon redeneer, Here, hoekom doen u dit?  Hoe kan dit wees dat U nie raaksien dat ek nou só baie vir U gedoen het nie.

Maar, hy doen nie dit nie.

Hy hanteer die uitdaging op twee maniere

Wat doen Hiskia.  Hy hanteer die uitdaging op twee maniere:

1.  Hiskia het goeie voorbereidings getref vir die konflik met die Assiriërs.  Soos Kronieke die storie vertel:

  • gaan hy in oorleg met sy amptenare en offisiere en kry hulle instemming oor wat hulle te doene staan,
  • hy besluit om die vyand se watervoorraad te beperk en maak die fonteine rondom die stad toe,
  • hy herbou afgebreekte mure, bou die forte hoër, bou nog ’n verdere muur buite-om die stad en versterk die terras,
  • hy laat maak ’n groot klomp spiese en skilde en
  • hy gee ’n geestelike motiveringspraatjie van formaat waarin hy wys dat God by hulle is en die oorlog vir hulle sal veg: “By hom (Sanherib) is menslike mag, by ons is die Here ons God”.  Hulle moet net sterk wees en dapper en nie deur vrees hulle vertroue op die Here verloor nie.

Hiskia doen alles wat hy menslik moontlik kan.  Hy laat niks aan toeval oor nie.  Hy doen wat hy fisies kan.  Hy doen wat hy kan met die aansporing van sy mense.  Hy praat hulle na die hart en hy herinner hulle aan die God wat hulle dien.  En daarin is hy vir ons ook ’n voorbeeld.

2.  Die belangrikste aksie wat Hiskia egter onderneem, soos ons hier in Konings lees, is om die Here te raadpleeg.  Hy doen wat hy vir al die ander Judeërs moontlik gemaak het, om weer in die tempel te aanbid.  Hy gaan in, sonder hom af en soek die aangesig van die Here op.

’n Mens kan jou indink in die emosies wat deur hom spoel toe hy die brief van die Assiriërs ontvang het.  Die hoofadjudant van die Assiriërs het gespot met sy voorbereidings en het gespot met hulle volk se vertroue op die Here.  Geen ander volk kon die Assiriërs keer nie.  Geen ander god kon hulle keer nie.  Hoekom sal dit nou in Israel anders wees?

Toe Hiskia dit egter hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en reguit na die huis van die Here gegaan.  Hy het van sy mense gestuur na die groot profeet Jesaja en gevra dat hy ook vir hulle moes bid: “Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.” Maar hyself het die Here opgesoek om die Here self te raadpleeg.

En daar het hy die briewe van die Assiriese koning voor die Here oopgesprei en gebid dat die Here tog sal hoor: “Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op!”  En in sy gebed vra hy dat God self sal intree, en hulle sal red uit die mag van die Assiriese koning.

Die Here antwoord op twee maniere:

  1. Hy laat Hiskia weet deur Jesaja dat Hy gehoor het, en dat Hy lag vir Sanherib.  Sanherib is maar ‘n instrument in God se hand, en weens sy verwaandheid gaan God nou téén hom draai.  “Ek sal die stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”
  2. Hy stuur ‘n engel wat verwoesting saai in die Assiriese kamp en laat Sanherib in sy eie tempel doodmaak.  Dit was nie eers nodig vir Hiskia om ‘n vinger te verroer nie.  Een engel en 185 000 soldate bly in die slag.

Wat my laat besef, dié verhaal leer ons dat ‘n mens werk asof alles van jou afhang, maar jy bid asof alles van die Here afhang.

Let op dat God se heilsboodskap aan Hiskia en die volk gedoen word: “om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil” (19:34).  Dit gaan dus oor God se wil en die koms van sy koninkryk, as ‘n mens dit Nuwe Testamenties sou uitspel.

God is betrokke in die benoudheid wat oor ons kom.

Hiskia leer ons, God is nie daar net vir ons voorspoed nie.  Hy is nie ons talisman nie.  Hy is nie daar om alle swaar van ons lyf en van ons mense af te weer nie.  Nee, Hý bring soms benoudheid oor ons om ons te help om agter te kom wat regtig in ons lewens aan die gang is.

  • Sommige benoudhede kom oor ons om ons te help verstaan waar ons te kort skiet, waar ons genade nodig het in ons lewe, waar ons tot bekering moet kom (Rom 2:9).  Ons doen verkeerd, ons het gebrekkige insig, ons maak verkeerde keuses en ons betaal baie keer die prys van ons eie nalatigheid en dom-astrantheid.  En ons moet nie probeer om dít weg te steek.  Bely en laat staan is die enigste manier om sonde in jou lewe te hanteer.
  • Ander benoudhede kom oor ons pad omdat ons nodig het om tot beter selfkennis te kom.  Trouens, die Kronieke skrywer sê dit van Hiskia dat God hom verlaat het: “om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken.” (2 Kron. 32:31).  Hoe sal jy weet hoe jy onder druk sal optree, as jy nie soms onder druk kom nie?  Hoe sal jy weet of die Here se gebod dat jy jou vyande moet liefhê deel van jou manier van lewe geword het, as jy nie soms vyande moet hanteer nie?
  • Petrus sluit hierby aan en sê dat daar nog ’n dieper rede is as net selfkennis en dit is dat beproewinge nodig is “sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.” (1 Pet. 1:6). Want ons geloof is baie kosbaar en moet getoets word sodat dit vas en seker kan vasgryp aan God en in Hom ons hele saligheid te vind.
  • En dan is daar nog ’n dieper rede as maar net ons self.  Dit gaan in benoudheid nie net om ons sonde, of ons selfkennis of ons geloof nie.  Dit gaan uiteindelik en ten diepste oor God self, want, sê Petrus, ons geloof moet getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig kan wees by die wederkoms van Jesus Christus.  Dit gaan dus uiteindelik oor God en wat van Hóm in óns lewe gesien kan word.  Sodat Jesus as Here geëer kan word.

Dit moet ons aanmoedig om aan die een kant te doen wat ons kan om reg te lewe, die regte dinge te doen, alles van ons kant af te doen wat ons weet ons moet.

Maar, aan die ander kant, moet Hiskia se verhaal ons ook aanmoedig om self in die tempel te gaan sit, by wyse van spreke, met die briewe van die gevare wat ons bedreig oopgesprei voor die Here en Hom vra, Luister tog … Red ons tog.  Want Hy hoor en Hy verhoor.

Soos Gys gesê het: “Jesus is Here.  Jesus is hier.”

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

  • Koor Vonkk 107 – Heer God Almagtig

Slotsang

  • Liedboek 440 – Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid – staan

Seën

Amen

  • Liedboek 189 – Halleluja – staan
View all posts in this series

gebed

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.