Skip to main content

1 Korintiërs 3:1-9: Medewerkers van God floreer op vaste kos

Op die oppervlak is Paulus se vermaning in hoofstuk 3 baie duidelik. Daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers nie. Die hele idee dat ‘n mens kan sê: ek is vír Paulus, óf ek is vír Apollos, óf ek is vír Petrus, óf ek is vír Christus is onvanpas.

As ‘n mens egter dieper kyk, was die probleem gehoorsaamheid. Die Korintiërs se probleem was dat hulle in gebreke gebly het om die volle boodskap van Christus deel van hulle lewens te maak. Daarom kon hulle nie groei in hulle gehoorsaamheid nie. Hulle kon die “vaste kos” van die Woord nie verteer nie, want hulle het langtermyn babas in die geloof gebly. Hulle het “melk” verkies, nie vaste kos nie. Dit het net te veel gekou gekos … en hulle lewenstyl moes by die “vaste kos” aanpas …

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Flam 48 (x2) Hemelvader, ek aanbid U. Koning Jesus, ek bring lof aan U – sit

Votum

2Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

8Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe.

Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

9Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap.

Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. (Psalm 19)

Seëngroet

Lofprysing

Lied 209 (x2) Heer, met my hele hart kom sing ek ‘n lofsang – staan

Verootmoediging

Moses staan voor die beloofde land.  Dit het hulle meer as veertig jaar geneem om by dié punt uit te kom.  Hy weet hy sal nie saam met die volk die beloofde land binnetrek nie.  Hy moet sy straf vir ongehoorsaamheid dra.  En hy weet dieselfde lot kan die volk tref as hulle die Here nie dien in die beloofde land nie.  Daarom neem hy afskeid met drie preke in Deuteronomium en beklemtoon aan die einde daarvan die volgende:

15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17–18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie.” (uit Deuteronomium 30)

Skuldbelydenis

Eeue later bid die priester Esra op grond van dié lering van Moses dat die Here hulle sal vergewe.  Hulle het die skande van die ballingskap belewe, die land verloor as God se straf vir hulle ongehoorsaamheid, maar kon ná sewentig jaar weer terugkeer na die land.  Nou bid hy dat die Here regtig al hulle sonde sal uitwis en die nuwe lewe van gehoorsaamheid aan Hom sal gee:

5Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God.

6Ek het gebid: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog.” (uit Esra 9)

Kom ons verootmoedig ons voor die Here en bely ook ons eie sonde.

Vryspraak

God gee ons die vryspraak.  Elke keer as ons onsself voor Hom verootmoedig en om vergifnis vra, gee Hy vir ons vergifnis en reinig ons van alle sonde (1 Joh. 1:9).  Ek herhaal daarom die wonderlike belofte van Moses dat die Here vir ons die lewe gee saam met die vergifnis.

16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (uit Deuteronomium 30)

Lied 541:1  Ons bring aan U, Heer Jesus, ons lof en dank en eer – staan

Geloofsbelydenis

Daarom kan ons saam bely dat dié God werklik die sentrum van ons lewe is; dat ons in sy genade kan floreer; dat ons in sy Godheid alles het wat ons nodig het om Hom te dien.

Ek glo in God die Vader, die Almagtige,

die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees,

gebore is uit die maagd Maria; 

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel

en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel

dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,

die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ’n ewige lewe.

Inleiding – kindertyd

Vandag wil ek met julle gesels oor babas.  Hou julle van babas?  Hoeveel van julle het jonger boeties of sussies?  Wie van hulle is nog babas?  Waarvan dink julle hou babas?  Hulle hou van melk, ja.

Ek hou baie van my kleinkinders.  Hier is ‘n bababottel van my kleindogter, Lily.  Sy is baie lief vir haar nana’s.  Dit is soos sy dit noem.  My nuwe kleinseun, André, is twee weke terug gebore. Hy is nog baie klein.  En weet julle wat. Hy hou van twee goed.  Hy hou van slaap.  En hy hou van melk.  Hy drink melk dat hy nou na twee weke al ‘n kilogram opgetel het.

Hoekom hou babas so baie van melk?  Want hulle het mos nie tande nie.  So hulle kan nie kou nie.  Hulle kan nie van die begin af pap eet nie.  Hulle sal mettertyd begin om sagte kossies soos pap te eet, of fyngedrukte piesangs en natuurlik ‘n bietjie appelsap.  En dan so bietjie vir bietjie, soos hulle groter word, sal hulle al die ander lekker dinge kan begin eet – aartappels, hoender, skaapvleis, perskes, waatlemoen, en nog later biltong.  Noem maar op!

In die Bybel praat Paulus ook van nuwe Christene en wat hulle eet.  Hy sê vir hulle:

Ek moes met julle praat soos wat ’n mens met ’n klein, pap babatjie praat. So ’n babatjie kan mos net melkies drink. Net so kon ek ook net baie eenvoudige boodskappies vir julle gee. Ek kon nie regtig lekker met julle oor die dinge van die Here gesels nie” (Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999).

Dit beteken nie dat hy regtig vir hulle kos gegee het nie.  Hy gebruik kos as ‘n voorbeeld.  Hy sê dat sy boodskap soos kos is.  Hy leer hulle van God.  Maar, hy moet begin met eenvoudige dinge.  Later sal hy vir hulle moeiliker dinge leer.

Drink julle nog baie melk?  Sal julle hou daarvan om net melk te eet vir die res van julle lewe?  Nee, verseker nie.  Dink aan al die lekker kos wat jy gaan mis!

Maar dan moet ‘n mens leer om dit te eet.  Sal jy dit leer as jy die hele tyd met ‘n bottel melk rondloop?  Nee, verseker nie.  Jy moet begin by die sagte kossies en later vaste kos en nog later alles wat ‘n mens kan eet.

So, daarom help ons vir julle in die kerk om al hoe meer van God te leer.  Ons lees die Bybel.  Ons bid.  Ons leer om vir ander van die Here te vertel.  Ons leer om lief te wees vir alle mense.  En bo alles hoe ons meer en meer lief kan wees vir God.

As ons dít doen sal ons groot en sterk word.  Dan sal ander ook kan sien dat die Here regtig vir ons belangrik is.  En sal hulle by ons kan leer hoe om die Here te dien.

Flam 108 Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn – sit

Gebed

Skriflesing

1 Korintiërs 3:1-9 Medewerkers van God floreer op vaste kos

Om dié gedeelte te verstaan, moet ‘n mens eers in hoofstuk een lees:

10 Ek pleit by julle, broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. 11 My broers en susters, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. 12 Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê: “Ék is van Paulus”, of: “Ék van Apollos”, of: “Ék van Sefas”, of: “Ék van Christus”. 13 Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop?

Paulus brei in die res van hoofstuk twee uit oor die wonder van hierdie einste Here Jesus Christus wat die krag en die wysheid van God vir ons almal is, ook vir Apollos, Paulus en Sefas (Petrus), om die punt te maak dat hulle en ons almal in Christus gegrondves en bevestig is.  Dit is Christus wat die belangrike Een is. En in hoofstuk 2 handel hy verder oor die diep dinge wat die Gees ons leer, as ons net maar onsself oopstel daarvoor.

Maar Paulus besef dat hy die punt van hoofstuk 1 nog deegliker sal moet onderstreep, want hulle verdeeldheid, hulle afguns en onenigheid, illustreer hulle geestelike onvolwassenheid. Daarom skryf hy in hoofstuk 3 as volg teen die groepvorming rondom leiers:

1 Wat my betref, broers en susters, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met suigelinge, in Christus (Messias, Gesalfde). 2 Ek het julle melk gegee om te drink, nie vaste kos nie, omdat julle nog nie daartoe in staat was nie. Selfs nou is julle nog nie daartoe in staat nie, 3 want julle is steeds wêrelds. Waar daar onder julle afguns en onenigheid is, is julle dan nie wêrelds en gedra julle julle dan nie soos wêreldse mense nie? 4 Elke keer as een van julle sê: “Ek is van Paulus,” en ‘n ander: “Ek van Apollos,” is julle nie wêreldse mense nie? 5 Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het. 6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. 7 Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. 8 Dit is een wat plant en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. 9 Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

Integrasie

Daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers nie.

Op die oppervlak is Paulus se vermaning in hoofstuk 3 baie duidelik.  Daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers nie.  Die hele idee dat ‘n mens kan sê: ek is vír Paulus, óf ek is vír Apollos, óf ek is vír Petrus, óf ek is vír Christus, soos dit reeds in hoofstuk een uitgespel word, is onvanpas.  Só ‘n onderskeid hoort in die wêreld waar mense hulle bv. agter ‘n politieke leier skaar.  Dit hoort nooit in die Christelike geloofsgemeenskap nie.

Jy kan nie in die kerk ‘n onderskeid maak tussen leiers, omdat een van hulle ‘n welsprekende orator is, soos Apollos nie. Sy welsprekendheid is ‘n bate en iets om oor opgewonde te raak, nie om hom bó ander te verhef nie.

Jy kan Apollos ook nie teengaan, omdat jy wil wys daarop dat Apollos nog aan die groei was in sy greep op die Christelike leer nie.  Ons weet van Lukas se skrywe in Handelinge 19 dat Priscilla en Akwila hom moes touwys maak, omdat hy baie passie gehad het, maar min inhoud.

Trouens, enige leier moet hom- of haarself dieper ingrawe in die boodskap van die Bybel.  Maar jy kan nie Apollos se welsprekendheid of sy gebrek aan kennis vír of téén hom gebruik nie.  ‘n Gebrek aan kennis opsigself is nog nie ‘n diskwalifikasie nie, uiteraard solank ‘n leier ‘n leerbare gees het.  Al wat tel, is dat hy of sy as ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus optree.

Om Apollos te verhef bó ander, óf te verlaag, beteken in wese dat jy ontken dat hy en van die ander leiers ook diensknegte en medewerkers van die Here Jesus Christus was.  En dit laat afguns en onenigheid in die liggaam van Christus heers.  En al waaraan jy hom kan meet, is of hy dié roeping van die Here uitvoer óf nie.  En of hy daarin groei óf nie.

Dieselfde geld diegene wat vír Paulus was.  Dit is net so onaanvaarbaar om hom bó Apollos te verhef, omdat Paulus meer as Apollos geweet het van die evangelie.  Nie dat dit nie waar was nie, want hy was sonder weerga onder sy tydgenote.  Maar, Paulus was ook net ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus.  Jy kon ook nie sy gebrek aan welsprekendheid téén hom hou nie, want dít was van geen belang nie, net sy betroubaarheid en toewyding aan die roeping wat God hom gegee het.

Netso dié wat vír Petrus was.  Dit was net so onaanvaarbaar om hom bó Paulus te verhef, bv. omdat hy die leier van die Pinksterbeweging in Jerusalem was en van die begin af saam met Jesus was.  Want ook Petrus was net ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus.  Jy kon ook nie sy gebreke – en daar was ‘n paar, soos dat hy voortvarend was, en soms skynheilig – teen hom hou nie.  Die een gebrek moes jy hom vergewe, en oor die ander gebrek moes jy hom eerder aanspreek, soos Paulus inderdaad op ‘n tyd gedoen het, sodat hy daaroor kon verander (Gal. 2).  Maar, sy gebreke het nie sy roeping ongeldig gemaak nie.  Hy was steeds ‘n dienskneg en medewerker van die Here Jesus Christus.  Dit is al wat getel het.

En die mense wat vír Christus was?  Wel, hulle was waarskynlik hoogmoedig dat hulle nie in die leierskapstryd vasgevang was nie.  Hulle het daarom moontlik neergesien op die ander.  Daarom kon hulle ook nie aanspraak maak daarop dat hulle ‘n beter houding as die ander gehad het nie.  Hulle moes eerder die ander gehelp het om hulle solidariteit aan die Here Jesus te bewys, en dit nie te verspil met ‘n laer trek agter een van die leiers van die vroeë Christelike kerk aan nie. Hulle het dit egter nie gedoen nie.  So hulle was nie in ‘n beter situasie as die ander nie.

Die boodskap hiervan aan ons in die kerk is dus ook helder en duidelik.  Daar kan nie ‘n onderskeid gemaak word tussen die leraars van ‘n gemeente, bv. tussen my en Rethie nie.  Daar kan nie ‘n onderskeid gemaak word tussen die leraars van verskillende gemeentes of van verskillende denominasies nie, dink maar self aan voorbeelde.  Só ‘n onderskeid is altyd onaanvaarbaar.  Dit verdeel die liggaam van Christus.  Dit laat afguns oorneem in die kerk.  Dit dryf ‘n wig in tussen mense wat as leiers en leraars hulle roeping uitleef.  Dit dien nie die saak van Christus in die geloofsgemeenskap óf in die wêreld daarbuite nie.

Die enigste opdrag wat leiers het, is om ‘n dienskneg van die Here Jesus Christus te wees en as sy medewerker op te tree in die koninkryk van God.  En dit is daardie medewerkerskap van Christus wat van belang is en waarop gefokus moet word.

Natuurlik het leiers verskillende gawes en vermoëns.  Apollos kon beter preek as Paulus.  Paulus het meer geweet as Apollos.  En sommige gelowiges in die gemeente sou as gevolg daarvan beter kon luister na Apollos en ander weer beter na Paulus.  En die kwaliteit van die boodskap kon verskil afhangende van hulle gawes en vermoëns en selfs afhangende van hulle betroubaarheid en toewyding.

Maar, daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers op grond van een of ander kwaliteit wat hulle het of nie het nie.  Nooit nie.  In effek sou dit ‘n verwerping van medegelowiges en medewerkers in die geloofsgemeenskap wees, praat nie eers daarvan dat dit die roeping wat die Here gegee het vir dié leiers in twyfel sou trek.

En hoekom mag ‘n mens nie só ‘n onderskeid maak nie?

Paulus sê, ‘n onderskeid tussen leiers getuig van ‘n wêreldse en vleeslike gesindheid.  Dit getuig nie van ‘n geestelike gesindheid nie.  Dit is die dinge waaroor babatjies in die geloof praat.  Dit is dinge waaroor suigelinge praat.  Nie volwassenes in die geloof nie.

Paulus kon die “vaste kos” van die boodskap van Christus in die Woord nie met hulle deel nie

En dít bring ons by die eintlike probleem wat daar in Korinte geheers het.  Die gelowiges het self nie die pad met die Here Jesus Christus geloop nie.  Hulle het self nie die volle sekerheid gehad van hulle geloof en van die roeping wat die Here vir hulle gehad het nie.  Daarom het hulle gefokus op die leiers en hulle eie gebreke vir ander en vir hulleself weggesteek.

Meer nog.  Hulle het geweet dat die “vaste kos” meer van hulle sal verg.  Hulle sou moes kou en herkou en dit sou van hulle meer toewyding vra. En dan sou hulle hulle lewenstyl moes aanpas om in lyn te kom met wat die Woord vra.  Hulle sou mekaar moes aanspreek – waarvan daar ‘n hele paar voorbeelde in die brief was – en daarvoor het hulle nie kans gesien nie.

Paulus het dit geweet, en moes daarom aanmekaar na dieselfde basiese dinge in sy kommunikasie met hulle terugkeer.  Want, hy het – tot sy groot frustrasie – geweet dat hy nie die dieper dinge van die roeping wat die Here vir hulle het op die tafel kon sit nie, want hulle het net nie genoeg gegroei in geestelike volwassenheid om dit te kan verstaan nie.

En onvolwasse was hulle beslis, soos ‘n mens in die res van die brief agterkom.  Hulle was só onder die invloed van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte dat hulle lewenswandel net nie in lyn gekom het met die boodskap van Christus nie.  Daar was geen onderskeid tussen hulle manier van lewe en dié van die gemeenskap van Korinte nie.

Hulle moes hulleself net soos die leiers gemeet het aan hulle gehegtheid aan die boodskap van Christus soos dit in die Woord van God verkondig word.  Hulle eie lewenswandel moes getuig het van hulle roepingsbewustheid en gehegtheid en lojaliteit aan die Here Jesus Christus.

Maar, hulle was só onvolwasse dat hulle dié toets aan mekaar gedop het.  Hulle het hulleself net nie diep genoeg in die Woord van God en die boodskap van die evangelie verdiep nie.  In hulle tyd was die 39 boeke van die Hebreeuse OT – die Hebreeuse Tenak met ‘n paar apokriewe by uit die Griekse vertaling die LXX – alreeds die kanon, die maatstaf, soos dit in Christus Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees aan hulle geopenbaar is.  En hulle het hulleself net nie genoeg daarop toegelê om te kan groei in hulle geloofsvolwassenheid nie.

Hulle probleem was dat hulle in gebreke gebly het om dié boodskap deel van hulle lewens te maak.  Daarom kon hulle nie groei in hulle gehoorsaamheid aan die boodskap van Christus in die Woord nie.  Hulle kon die “vaste kos” van die Woord nie verteer nie, want hulle het langtermyn babas in die geloof gebly.

Daarom kon hulle nie staande bly in die losbandig en afgodiese kultuur rondom hulle nie

Die gevolg was dat hulle net nie kon staande bly in die losbandige en afgodiese kultuur rondom hulle nie.  En laat ons geen doekies omdraai nie.  Korinte was ‘n etiese en godsdienstige moeras wat sterk teenstand gebied het teen die evangelie van Jesus Christus.

In hierdie stad van Afrodiete – die godin van die liefde – was daar ongebreidelde losbandigheid.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.

By die tempels is daar ook vleis aan die afgode geoffer waarvan ‘n deel aan die publiek verkoop is.  En hoeveel daar met die vleis as sodanig niks verkeerd was nie, wat daar party van hulle: “wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit ’n offer aan ’n afgod is.  Daardeur”, sê Paulus, “word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar.” (1 Kor. 8:7).

Sy raad aan hulle was om liewers niks met afgodsvleis te doene te hê nie, want jy kan deur jou eie vryheid ander gelowiges aanmoedig om die vleis “as afgodsoffer” te eet (1 Kor. 8:10) en so hulle laat struikel.  Daarom sê Paulus sal hy liewer nooit afgodsvleis eet nie ter wille van sy medegelowiges (1 Kor. 8:13).  Dit was in elk geval die akkoord van die Handelinge 15 “sinode” om afgodery en losbandigheid te vermy, soos Jesus ook in Openbaring 2 aan die gemeente van Tiatira skryf.

Die probleem was dus lewensgroot vir die gemeente van Korinte.  Dit was nie net die gemeenskap van Korinte wat die tempels vir prostitusie en afgodsvleis besoek het nie.  Dit was gemeentelede en dit het hulle verhouding met die Here Jesus in gedrang gebring.  Paulus sê later, hulle het die reiniging van hulle vorige sondes vergeet en weer begin terugkeer na hulle vorige lewenswyse.  Daarom moet hy hulle skerp aanspreek daaroor dat hulle bv. bloedskande toelaat omdat hulle te bang is om die evangelie aan die skuldiges te verkondig (1 Kor. 5) en dieselfde rondom die afgodsvleis (1 Kor. 8).

Paulus spreek dus hierdie tipe etiese en godsdienstige kwessies skerp aan in die res van sy brief.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Hy konfronteer hulle reguit (5:1 – “‘n Mens hoor werklik van julle …” as hy oor bloedskande praat) en op punte is hy baie sarkasties (6:5 – “Is daar dan nie ‘n enkele verstandige onder julle nie …” as hy oor hofsake tussen gelowiges praat).

Hulle het nodig om groot te word sodat hulle “vaste kos” kan begin gebruik, anders sou hulle nooit kon staande bly in die losbandige en afgodiese kultuur rondom hulle nie.

Die gemeente is die tempel van God en moet werk aan hulle eenheid in Hom

Paulus gee hiermee dus vir ons ‘n belangrike boodskap vir vandag.  Die gemeente, ook hierdie gemeente, is ’n tempel van God waarin Hy woon, soos Paulus later in hoofstuk ses oor gaan skryf.  God se Gees is vir elkeen van ons as gelowige gegee,  Nie net vir die leiers nie.  Vir elkeen van ons in die gemeente.  Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want verdeeldheid skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Daarom moet ek as leier mooi kyk hoe ek werk.  Paulus sê in die res van die hoofstuk – waaroor Rethie volgende Sondag preek – dat ’n leier soos ’n wyse bouer te werk moet gaan volgens die bouplanne wat God in sy Woord gee.  Die gehalte van die werk tussen leiers kan verskil, sal trouens verskil, maar die maatstaf is in watter mate dit met God se wil, soos Hy dit in die Woord vir ons gegee het, ooreenstem.

En ons as gemeente moenie op ons leiers roem nie, en veral nie die een bo die ander uitsonder om aan te hang nie, al verskil hulle werk en selfs die kwaliteit van hulle werk, al vind jy meer aanklank by die een as by die ander.  Ons moet eintlik ons almal sien as dienaars van Christus en bestuurders van die geheimenisse van God.  Dit geld die leiers en dit geld die gewone gelowiges.

Paulus is ook duidelik – al is dit ’n bietjie sarkasties! – oor die uitdagings en beproewings van die bediening.  Daar is geen glamour nie – net swakheid, veragting, honger, dors, armoede, mishandeling, harde werk, uitskellery, vervolging (1 Kor. 4).  Kortom, die apostels is die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing!  Dit gaan dus werklik in die bediening oor die kruis van Christus (1 Kor. 2:2) en die deel hê aan sy lyding ter wille van die evangelie.

Vaste kos is vir grootmense wat oor insig beskik wat deur ervaring getoets is om tussen goed en kwaad te onderskei

Hierdie gedagte oor melk en vaste kos vind ook weerklank in die res van die Bybel, en help ons om verder daaroor te dink.  Die skrywer van die Hebreërbrief hak by hierdie idee van Paulus aan en voer dit verder (Hebr. 5:13).  Hy sê melk is natuurlik nodig.  Jy het dit uiters nodig aan die begin van jou geestelike lewe.  Maar as jy net daarby bly, is daar fout.  Groot fout!

Die skrywer spreek hulle dus ernstig aan en moedig hulle aan om te vorder in die geloof, want anders kan hulle nie saamgesels oor dié dinge waaroor volwassenes in die geloof behoort te gesels nie.

13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ’n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

Dit strem die gemeenskap van gelowiges as ‘n mens elke keer weer oor die bekering uit ’n leefwyse wat tot die dood lei, moet gesels, of oor geloof in God en wat dit alles behels of oor die leer van die doop en die handoplegging, en oor die opstanding van die dooies en die ewige oordeel wat vir alle mense wag wat nie in Christus Jesus is nie.

As jy nog oor dié dinge onseker is, of telkens weer herinner moet word daaraan, kan jy nie saampraat oor wat reg en verkeerd is nie, want jy is nog ‘n kind.  Die vaste kos van die Woord is vir grootmense, dié dinge waarvoor mens insig nodig het wat deur die ervaring geoefen is, sodat jy saam met ander kan onderskei tussen goed en kwaad.

En dít is ook nog maar net die begin van die vaste kos waarvan hy praat in sy preek-brief aan die gemeente in Rome.  Hierna beskryf hy in die volgende hoofstukke die wonderlike werklikheid van Jesus se versoeningswerk in die hemelse tempel, sy voorbidding vir ons vanuit die troon van die Vader, die liefde en goeie dade waartoe ons mekaar moet aanspoor, die volharding in geloof ten spyte van die beledigings en vervolgings waaraan gelowiges blootgestel word.

En die geloofshelde wat hy in hoofstuk 11 aan ons voorhou, is juis mense wat begin vaste kos eet het en hy nooi ons uit om dieselfde paaie te begin loop wat die geloofshelde geloop het in die verlede.  Hulle oog was gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van hulle geloof (Hebr. 12:1-2).  Daarom luister hulle na Hom wat van die hemel af met hulle praat deur sy Woord (Hebr. 12:25).

Medewerkers van God floreer op vaste kos

Vaste kos is noodsaaklik vir medewerkers van God.  Dit is die tipe kos waarop hulle floreer, wat hulle sterk maak, wat hulle deursettingsvermoë gee, wat hulle die diepte gee wat nodig is om in ‘n al hoe dieper wordende bewussyn van die Here en sy wil vir die lewe te leef.

Ek weet daar is mense in ons gemeente wat baie erns maak met die Woord van God.  Ek sien dit in ons selle. Ek sien dit in ons Bybelstudiegroepe.  Ek hoor daarvan in van ons huisgesinne.  En dit is wonderlik om dit raak te sien.  Ek leer daarby.  Dit is só versterkend ook vir my eie geloof.

En ek weet daar is mense in ons gemeente wat in hulle persoonlike stiltetyd erns maak met die Woord.  Met Bybelstudie en die lees van geestelike boeke.  Sommige skryf aan my oor hulle ervaringe, deel soms insigte, vra soms vrae.  En ‘n hele paar van julle leef met die Bybelskool saam, selfs al woon julle nie die byeenkoms elke Woensdag by nie.

Maar, dit is nie waar van almal van ons nie.  Daar is baie wat tevrede is met melk en gevolglik nie die vreugde van vaste kos en die voordele wat dit vir jou geestelike lewe bring, beleef nie.  Dit verg meer van ‘n mens.  Jy moet kou en herkou en werk om dit deel van jou gewone geestelike dieet te maak.  Dit is nie net ‘n vinnige slukkie in die oggend of aand aan ‘n stukkie melkkos nie.  Dit verg aandag en fokus en toewyding.

Maar, die voordele is dat jy al hoe meer ingetrek word in God se plan vir hierdie wêreld.  Dat jy al hoe meer jou eie roeping verstaan en deur God as sy medewerker gebruik word in die wêreld.  Daar is nie ‘n groter voorreg en vreugde in die lewe as om deel te word van God se beweging na hierdie wêreld toe nie, om deel van sy plan vir die koninkryk te wees nie.

En ek doen daarom ‘n ernstige beroep op julle om nie terug te deins vir vaste kos nie, maar al hoe meer jou in te oefen om die Woord onder leiding van die Gees te lees en dit te begin gehoorsaam.

En ek weet dat jy op twee maniere kan reageer as ek dié waarheid onomwonde aan jou bring.  Dit is immers presies die reaksie wat die evangelie nog altyd in die gemeenskap van geloof gebring het.  Daar kan by jou ‘n wonderlike reaksie wees waar jy jou lewe meet aan die maatstaf van “vaste kos” en besluit om iets daaraan te doen.  Of jy kan jou verset daarteen en dit afmaak as net nog ‘n boodskap soos enige vorige en niks doen aan jou geestelike behoefte aan “vaste kos” nie.

As jy besluit om iets daaraan te doen, is ons meer as bereid om jou daarmee te help.  Ek loop tans ‘n reis met ‘n Bybelstudiegroep op Sondae waar ons die Ontdek jou gawes kursus oor ses weke hanteer.  Dit is ‘n opoffering, maar oor en oor die moeite werd.

Ons het eintlik te veel materiaal en geleenthede, maar as nie een van daardie dinge jou bevredig nie, kom gesels met my en Rethie en doen iets in reaksie op die Here se woord aan jou vandag. Soos Hebreërs op ‘n paar plekke sê: “Vandag as jy sy stem hoor, verhard jou hart nie …

Mag jy genade ontvang om hierdie aanmoediging as ‘n motivering en stimulus te ontvang sodat God jou lewe kan begin inspan in sy koninkryk.

Gebed

Dankoffer

Terugvoer

Evelyn Lotz

Slotsang

Flam 21 In die hemel is die Heer, en sy glans is soos kristal – staan

Seën

Amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.