Skip to main content

2 Tessalonisense 3:6-13 – Moenie moeg word om goed te doen nie

Vignesh, ‘n Indiese rekenaarspesialis, besing die voordele van luiheid op sy blog, Things I like to share. Luiheid, sê hy, het ‘n besondere bydrae om te maak:

  • Tyd: Wanneer jy lui is, spandeer jy groot hoeveelhede tyd op ‘n baie gemaklike manier. Jy hoef nie gedurig te beplan hoe om jou tyd om te kry, soos hardwerkende mense moet doen nie. Lui mense mors ook nie tyd nie, want hulle is altyd besig om tyd te spaar.
  • Uiters lae stresvlakke: Mens kry nie stres wanneer jy lui is nie, want jy is te lui om te stres. Wanneer ander verteer word deur spanning oor alles wat gedoen moet word, is die luies altyd koel, kalm en vol selfvertroue.
  • Goeie burgers: Lui mense maak altyd goeie burgers van die samelewing, want hulle is te lui om ‘n las vir ander te wees. Aangesien hulle selfs te lui is om hulleself te pla, is hulle nooit ‘n steurnis vir ander nie. Terrorisme, sê Vignesh, kan vernietig word met die wapen van luiheid. Hoe meer ons luiheid bevorder, hoe meer bekamp ons terrorisme.
  • Geduld: Lui mense is meesters van die deug van geduld. Hulle jaag nooit nie, en daarom jaag hulle ook nooit aan nie. Hulle het die vermoë om tot op die laaste oomblik te wag, en hulle kan selfs tot lank ná die laaste oomblik wag, indien die omstandighede dit noodsaak.

Verwelkoming

RUS

Toetrede

Lied 444 – Kom kyk! Kom kyk! – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 280 – Here Redder, groot en magtig – staan

Lied 466 – Aanbiddelike Skepperheer – sit

Geloofsbelydenis

Lied 601 – Dié wat die Here wil dien – sit

HOOR

Gebed

Skriflesing

2 Tessalonisense 3:6-13

6Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie.

7Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê 8of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle ’n las te wees nie. 9Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle ’n voorbeeld wees wat julle moet volg. 10Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”

11Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. 12Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.

13Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie.

Woordverkondiging

Vignesh, ‘n Indiese rekenaarspesialis, besing die voordele van luiheid op sy blog, Things I like to share. Luiheid, sê hy, het ‘n besondere bydrae om te maak:

  • Tyd: Wanneer jy lui is, spandeer jy groot hoeveelhede tyd op ‘n baie gemaklike manier. Jy hoef nie gedurig te beplan hoe om jou tyd om te kry, soos hardwerkende mense moet doen nie. Lui mense mors ook nie tyd nie, want hulle is altyd besig om tyd te spaar.
  • Uiters lae stresvlakke: Mens kry nie stres wanneer jy lui is nie, want jy is te lui om te stres. Wanneer ander verteer word deur spanning oor alles wat gedoen moet word, is die luies altyd koel, kalm en vol selfvertroue.
  • Goeie burgers: Lui mense maak altyd goeie burgers van die samelewing, want hulle is te lui om ‘n las vir ander te wees. Aangesien hulle selfs te lui is om hulleself te pla, is hulle nooit ‘n steurnis vir ander nie. Terrorisme, sê Vignesh, kan vernietig word met die wapen van luiheid. Hoe meer ons luiheid bevorder, hoe meer bekamp ons terrorisme.
  • Geduld: Lui mense is meesters van die deug van geduld. Hulle jaag nooit nie, en daarom jaag hulle ook nooit aan nie. Hulle het die vermoë om tot op die laaste oomblik te wag, en hulle kan selfs tot lank ná die laaste oomblik wag, indien die omstandighede dit noodsaak.

Leeglê en teer op ander

Natuurlik trek Vignesh net ons been. Of anders ken hy dalk nie Paulus se tweede brief aan die gemeente in Tessalonika nie.

Die Bybel heg ‘n baie hoë waarde aanwerk reeds van die boek Genesis af. Deel van die vreugde en seën van die lewe is om te kan werk, selfs al het die sondeval ook moeite en verdriet meegebring. Veral Gereformeerde mense sien werk boonop as deel van die lof- en dankoffers wat ons aan God bring. Alle werk is heilig. Alle werk word vir die Here gedoen.  Trouens, een van die heel belangrikste geloofsgewoontes is “practicing the presence of God” en dit beteken doodgewoon om alles wat jy doen vir die Here te doen.

Leeglê, luiheid en teer op ander word daarom met afkeer beskou. Daarom sê Paulus reguit: “Onttrek julle aan elkeen wat leeglê …” (6)

Die opdrag “onttrek julle” is soos ‘n militêre bevel. Leeglêers moet nie gepamperlang of verdra word nie. Gemeenskap met hulle moet verbreek word. Die duidelike motivering vir hierdie harde bevel is om die mense tot hulle sinne te bring sodat daardeur hulle skandalige gedrag verander kan word.

Natuurlik moet daar eers ‘n pad gestap word met só ‘n persoon – een-tot-een verkieslik.  Dit is wonderlik hoe mense soms reageer op ‘n sagte hand en ‘n deernisvolle hart – soos Jesus self voorstel in Matteus 18. Dit is eintlik wat van ons gevra word in enige situasie waar iemand tereg gewys moet word.

Ek onthou nog baie goed hoe ‘n skoolmaat my ‘n keer alleen geneem het, en sy pyn met my gedeel het, oor ek saamgespeel het met die res van ons klas wat hom groot verleentheid veroorsaak het.  Hy het aanspraak gemaak op my jare lange vriendskap, wat my onmiddellik tot stilstand geruk het en laat optree het in sy belang.  Want ‘n goed bedoelde spelery ruk net soms heeltemal handuit as ’n mens nie versigtig is nie.

En as iemand nie luister na só ‘n een-tot-een gesprek nie, doen dit in ‘n klein groepie waar vertroulikheid gehandhaaf kan word.  ’n Mens doen nie dié drastiese stap van onttrekking voordat jy nie ’n pad gestap het met iemand nie.

Maar daar kom ’n tyd, dat normale optredes nie meer help nie.  Dan is onttrekking een van die meganismes wat ’n mens kan beproef.  Nie om iemand seer te maak nie, maar om iemand terug te wen, om die gemeenskap te herstel en te sorg dat elkeen sy deel doen in die gemeenskap van die gelowiges.

En in hierdie gemeenskap in Tessalonika was déél wees van die gemeenskap uiters belangrik.  Om geïsoleer te word, om skaam gemaak te word deur die leiers, was iets wat só ’n drastiese stap was dat dit mense tot inkeer sou kon bring.

“Leeglê” word beter deur die Ou Vertaling (1953) weergegee wat praat van “onordelik wandel“. Dit is ’n militêre beeld wat sê dat elke persoon ’n bepaalde pos in die kerk en samelewing het. Om onordelik te wandel, beteken om nie op jou pos te wees nie. Daar kan nie op so ’n persoon gereken word nie, want hy of sy is nie betroubaar nie. Hulle tree onafhanklik, ongekoördineerd en impulsief op. Sulke mense maak dus nie erns met die feit dat hulle deel van ’n groter geheel is en dat hulle ’n bepaalde pos beklee wat ander mense rondom hulle raak nie. Hul “uit posisie wees” laat ’n gat in die groter geheel. Dit het negatiewe gevolge vir ander persone en uiteindelik vir die “onordelike” persoon self.

In sy ekstreme vorm dui “onordelik wandel” op mense wat glad nie werk nie. Vandaar die vertaling “leeglê“. Sommige gelowiges in Tessalonika het inderdaad glad nie gewerk nie, maar skaamteloos ander se brood geëet. Dit was onaanvaarbaar vir Paulus en ’n klad op die totale Christengetuienis in ’n omgewing waar die meerderheid mense nie Christene was nie.

‘n Goeie voorbeeld

Paulus motiveer sy oproep om getrou te werk uit sy eie voorbeeld. “Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg.” Paulus en sy medewerkers het hulle ordelik gedra tydens hulle verblyf in Tessalonika. Hulle het vaste verhoudinge met nuwe gelowiges gesmee en vasgestelde pligte gehad wat hulle ywerig uitgevoer het.

Die rede waarom hulle die gelowiges in Tessalonika aanmoedig om hulle voorbeeld na te volg, kan só opgesom word:

  • “When we are loyal, constant, regularly at our post, however humble it may be, we render a real service to others and grow in strength of character ourselves.” (Denney)
  • “One of the primary goals for followers of Christ is to earn the respect of others. We earn respect by working hard, leading a quiet live and minding our own business.” (Newton)

Dit was presies wat Paulus van homself en die gelowiges in Tessalonika verwag het. Paulus-hulle het nie net gepraat nie, maar geleef wat hulle gepreek het. Voorbeelde spreek gewoonlik harder as woorde alleen.

Paulus skryf: “Ons het dag en nag geswoeg en gesweet.” Paulus en sy medewerkers het op minstens twee terreine hard gewerk. Hulle het geestelik alles ingesit om die mense in Tessalonika met die evangelie te bedien. Tweedens het hulle met handearbeid in hulle fisieke behoeftes voorsien. Uit Handelinge 18:3 kan ons aflei dat Paulus ook in Tessalonika sy brood verdien het deur tente te maak.

Werk en eet

Paulus skryf daarom in vers 10: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Hy bring hier die verhouding tussen werk en die vrug van werk na vore. Mense wat werk, kry betaling daarvoor. Daarmee kan hulle in hulle daaglikse behoeftes voorsien. Mense wat nie wil werk nie, maar steeds wil eet, met die klem op die wil, oortree die wet van “werk en eet“.

Soos enige wet wat oortree word, nie geduld kan word nie, net so mag diegene wat nie wil werk nie ook nie eet nie. Natuurlik is dit nie van toepassing op mense wat nie kan werk nie.  Hulle word op ’n ander manier hanteer.

Wat gebeur met mense wat nie wil werk nie? Een gevaar is dat hulle “hulle net met ander se sake bemoei” (vers 11). Die mens is so geskep dat hy besig moet wees. As hy dus nie met sy eie sake besig is nie, sal hy sy neus in ander persone se sake begin steek. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, sê die spreekwoord.

Hierdie bemoeienis met ander se sake is daarby meestal krities en afbrekend. Paulus besef dit terdeë en vandaar sy harde woorde teen leeglêers wat dalk self nie bewus is waarheen hulle niksdoen hulle uiteindelik sal lei nie.

Daar is ‘n positiewe alternatief. Sulke leeglêers moet: “hulle aandag by hulle werk bepaal en hulle eie brood verdien” (vers 12). Een van die positiewe gevolge van werk is dat mense in hulle eie lewensbehoeftes kan voorsien. Dit gee menswaardigheid aan die werkende persoon en bied hom of haar ook die geleentheid om ’n positiewe getuienis teenoor nie-gelowiges te hê.

Waarom dié luiheid?

Ons moet versigtig wees om nie sommer die luiheid in Tessalonika van toepassing te maak op moderne mense wat nie werk nie. Eers moet ons die vraag beantwoord: Waarom was daar in Tessalonika onder die gelowige gemeentelede mense wat lui was en nie wou werk nie?

Die volgende beskouinge oor werk het in die destydse Grieks-Romeinse samelewing geheers:

  • Mense vanuit ‘n Joodse agtergrond wat deur die Hellenistiese denke beïnvloed is, het ‘n onderskeid begin tref tussen die verhewe geestelike werk van die Joodse rabbi, en die laer, minder edel en gewone, sekulêre werk van die gewone Jood. Dit het die waarde van arbeid in die oë van gelowige Jode verlaag.
  • In die Grieks-Romeinse konteks was dit gewoonlik die slawe wat gewerk het terwyl die vryburgers hulle tyd met praat, dink en beplan deurgebring het. Werk was nie vir gewone mense nie, dit was vir arbeiders en slawe.
  • Baie gelowiges het hier in Tessalonika gedink die wederkoms van Jesus is feitlik op hande. Daarom het sommige mense gevoel het dit is ’n mors van tyd of minstens verkeerde gebruik van tyd om met sekulêre werk aan te gaan.  Jesus was dan aan die terugkeer.
  • Party mense was net doodeenvoudig lui.

Waarskynlik was die brandende en geesdriftige wederkomsverwagting in die gemeente van Tessalonika een van die belangrikste redes waarom mense lui en ledig geraak het.

Paulus wil hulle help om Jesus se wederkoms reg te verstaan, en om reg te leef in die lig van die wederkoms. Daarom beklemtoon hy die belangrikheid van werk. Werk is ‘n belangrike deel van Christene se lof aan God en voorsiening vir die behoeftes van elke dag. Werk fokus mens se energie en help jou om te kan leef en te kan dien.

Werk vandag

In moderne kapitalistiese samelewings is werk beslis nie meer iets vir slegs slawe en arbeiders nie. Werk beteken lewe, geld en wins. Baie tyd en geld word spandeer om mense voor te berei om te kan werk en vooruit te gaan.

Maar baie Westerlinge werk te veel en te lang ure. Die redes hiervoor is uiteenlopend: sommige positief en ander steeds negatief. Party mense werk te hard uit ambisie om ryk te word of hoë posisies te beklee. Ander is vasgevang in die rat race wat heelwat mense teen wil en dank meesleur. Uitgawes vermeerder. Meer geld is nodig en die antwoord is meer werk. “Werkolisme” is ’n kenmerk van baie moderne mense, dikwels met negatiewe gevolge. Dit lei dikwels daartoe dat hulle verhouding met God, hulle huweliksmaats, kinders en vriende nadelig beïnvloed word.

Aan die ander kant is daar weer mense wat wil werk, maar nie werk kan kry nie. Dit is ’n hartseer maar algemene gesig dat mense desperaat na werk soek nadat die wêreldwye ekonomiese insinking tot duisende afleggings gelei het. Hierdie mense voel dikwels waardeloos omdat hulle soeke na sinvolle besig wees geen vrugte afwerp nie. Wanneer ’n gedeelte soos 1 Tessalonisense 3:6-13 verkeerd op hulle toegepas word, kan dit hulle onnodige skade berokken. Hulle verhouding met God, naaste familie en vriende word om die teenoorgestelde rede as dié van “werkoliste” dikwels nadelig geraak.

Onderwys en opleiding

Die Suid-Afrikaanse samelewing raak toenemend in ‘n massiewe krisis vasgevang weens die onderwys- en opleidingsisteem wat mense in die steek laat. Die samelewing vorm nie meer voldoende mense met die nodige gawes, afrigting, opleiding en vorming om betekenisvol te kan werk nie.

Hierdie agterstand sluit mense uit. Hulle kan nie toegang kry tot die werksomgewing nie, want hulle beskik nie oor die nodige vaardighede nie. Hulle kan nie die arbeid-speelveld betree nie.

Wanneer groeiende groepe mense werkloos bly, omdat hulle nie kan werk nie, begin ‘n tydbom tik. Hierdie mense word dan ‘n institusionele las op ander vir hulle lewensonderhoud. Hulle word formeel deel van die kategorie “ontmoedigdes” (“the discouraged“) wat nie meer werk soek nie, omdat hulle al jare gesoek het, maar nie vind nie. Weens groter oorsake in die sisteem kan mense tot leeglêery gedoem word, met dramatiese gevolge vir sosiaal-maatskaplike ondersteuning, misdaad en onstabiliteit in gemeenskappe.

Impak van Christene

Werkskepping, indiensneming, en opleiding het dus deel van Christene se getuienistaak in Suid-Afrika geword.

Gemeentes moet dus toenemend daarop fokus om so vroeg as moontlik in die lewensiklus van mense impak te maak. Kinders moet behoorlik gevoed word tussen 0-5, skole moet ondersteun word, onderwysers moet opgelei word en afgetrede onderwyskundiges kan betrek word. Binne elke gemeenskap moet dinkskrums oor grense heen gehou word om planne te maak. Ons het onlangs by die bestuursraad hieroor gesels en beplan om volgende jaar meer direk hierby betrokke te raak en wil graag saam met ons gemeente se onderwysers en ander belangstellendes betrokke raak.

Ek sluit af

Paulus roep ons op om ons plek te vind in die gemeente en in die gemeenskap.  Hy roep ons op om ons rol met oorgawe te speel, beide in die manier waarop ons in die gemeente en in die gemeenskap optree, maar ook in die manier wat ons ander help om in die gemeente en in die gemeenskap in te skakel en hulle plek te vind en hulle rol te speel.

Daarom sê Paulus, Moenie moeg word om goed te doen nie – nie in die wyse waarop jy self die Here se opdragte uitvoer nie, en ook nie in die wyse waarop jy ander mense help om die Here se opdragte uit te voer nie.

LEEF

Gebed

Genadige God, terwyl ons U dank vir die werk wat U aan ons toevertrou, en die vermoë wat U gee om dit te doen, Hoor ons ook wanneer ons bid:

  • Dat almal in ons land sal hê wat nodig is vir ’n menswaardige lewe.
  • Dat almal genoeg inkomste sal hê om waardig te lewe
  • Dat almal betekenisvolle werk sal hê.
  • Dat almal toegang tot voldoende behuising sal hê.
  • Dat almal toegang tot goeie mediese sorg sal hê.
  • Dat almal toegang tot goeie onderwys sal hê.
  • Dat U alle magte en kragte wat meewerk om mense hul waardigheid te ontneem, sal verander en bemagtig om mense te help en op te bou.

Here God, ons bid dat U ons sal help om te leef soos u Seun, wat omgegee het vir die armes en dié in nood.  Help ons:

  • om U beeld in almal raak te sien,
  • om om te gee en te sorg vir diegene wat minder het as ons
  • en om op te staan vir hul regte.

Dankoffer

Slotlied

Lied 527 – Die werk behoort aan U, ons Heer – staan

Seën

Moenie moeg word om goed te doen nie.

Amen

Lied 314 – Amen, Amen, Amen – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.