Psalm 94 – om van God se handhawing van die reg op die aarde bewus te word – 04

7-Psalms-A5-flyerPinkster 4 – 10 Mei 2016

‘n God wat vergeld, is voorwaar ‘n vreemde prentjie van God vir ons postmoderne oë.  Ons samelewing werk mos eintlik net met die idee dat God liefde is, en dat Hy ons in sy genade insluit, en op geen manier ons aan enige standaard hou nie.  Ons wêreld dink aan ‘n universele genade waarin niemand uitgesluit word nie, en niemand verantwoordelik gehou word nie. Trouens, daar is baie teoloë wat ook so dink.

Die Psalmis stem egter nie saam nie.  Hy skets ‘n heel ander prentjie van God as die idee wat baie vandag het van God as net goed.  Die God van die Bybel, sê die Psalmis, is nie net goed nie, maar ook heilig en ontsagwekkend.  Die Psalmis begin dus met hierdie prentjie van ‘n God wat vergeld, wat mense nie net hou aan sy standaarde nie, maar inderdaad as “regter van die aarde” optree en mense kan vergeld vir wat hulle doen.

En daar is drie redes waarom dié prentjie sin maak en ‘n noodsaaklike korreksie op ons samelewing se idee van God is.

  • Die eerste is dat dit God se reg erken om die wêreld aan te spreek en verantwoordelik te hou. Hy is immers die Skepper van alle dinge, van die son en maan en sterre.  As Hy vir ons lig in die Skepping voorsien het, het Hy die reg om van alle mense te verwag dat hulle die lig wat Hy in terme van sy Geskrewe Woord verskaf, sal gehoorsaam.  En dié Woord is onverbreekbaar, soos Jesus sê in Matt. 10.
  • Die tweede is dat dit God se reg erken om ons aan te spreek en verantwoordelik te hou. Ons kan nie maar leef soos ons wil nie.  Ons het ‘n onontwykbare verpligting om die werke van die vlees in ons eie lewe dood te maak, en die goeie werke wat God vir ons voorberei het, te begin doen (Rom. 8).  Ons leef deur die Gees.  Daarom moet die Gees ons lewe en lewenstyl bepaal (Gal. 5:25).
  • Die derde is dat die Psalm ons ingebore sin vir regverdigheid nie net bevestig nie, maar inderdaad vir ons uitnooi om vir God se optrede in te tree, te bid dat Hy wat inderdaad dinge kan regstel, dit sal doen waar onreg vermeerder en mense krepeer van ellende.

Hier volg die hele erediens

Verwelkoming

Laaste kans vir die feestelike geleentheid Vrydag – skryf in voorportaal in.

Gebed

Kom ons bring twee goed voor die Here:

  • Jou kommer en vrese;
  • Jou dankbaarheid en erkenning.

Kom ons sê in die groot groep in een sin of twee sin gebede – hard genoeg dat almal kan hoor – dankie vir die Here, vir sy goedheid, vir sy voorsiening, vir sy insig, vir sy leiding.  Enigiets wat jou hart bly maak.

Toetrede

Vonkk 40 – Kom en vul ons met vrede

Seëngroet

Lofsang

Lied 434 O Heilige Gees, o heilige God

Lied 438 Gees van God, o Gees van lewe

Psalm 94

Psalm 94 is gebid met verwysing na die vierde dag van die Skepping waarop God die son en die maan en die sterre gemaak het, orde gebring het in die groter heelal, en baie spesifiek lig verskaf het sodat mense daarin kan leef. Metafories gesproke sê dit natuurlik iets van die lig van God wat ons so nodig het in ons lewe.

Dit is waarskynlik ‘n liturgiese preek-Psalm, soos ‘n mens uit die lerende inhoud van die Psalm sowel as die vloei daarvan in vier duidelike dele kan sien.  Ek lees die Psalm in dié vier dele met my opskrifte, en gebruik die BDV (Bybel Direkte Vertaling van 2014):

BELYDENIS – oor God se Regterskap as appèl aan Hom om op te tree

1 O God wat vergeld, HERE,  God wat vergeld, laat u lig skyn.  2 Verhef U, regter van die aarde,  gee hoogmoediges hulle verdiende loon.  3 Hoe lank sal goddelose mense, o HERE,  hoe lank sal goddelose mense jubel?  4 Hulle laat woorde onbeskaamd uitborrel;  almal wat onreg pleeg, prys hulleself aan.  5 Hulle verpletter u volk, HERE,  hulle teister u erfdeel.  6 Hulle maak weduwees en vreemdelinge (dit is mense wat om politieke of ekonomiese redes hulle eie land verlaat het, en nou tydelik in Israel woon en volgens die wet beskerming geniet het [Lev. 19:34]) dood,  hulle vermoor vaderlose kinders.  7 Dan sê hulle nog:  “Die HERE sien dit nie,  die God van Jakob merk dit nie op nie.” 

APPÈL – gerig aan die onverstandiges en dwase

 8 Sien dit tog in,  julle onverstandiges onder die volk!  Dwase, wanneer sal julle dit begryp?  9 Hy wat die oor inplant, sal Hy nie kan hoor nie,  of Hy wat die oog vorm, sal Hy nie kan sien nie?  10 Hy wat nasies onderrig, sal Hy nie straf nie?  Hy is immers die Een wat kennis aan mense meedeel.  11 Die HERE ken mense se gedagtes,  dat dit nietigheid is (vgl. 1 Kor. 3:20 waar God se wysheid vergelyk word met die wysheid van die wêreld wat eintlik dwaasheid is)

BEMOEDIGING – van dié wat op God se woord bly vertrou

 12 Hoe gelukkig is die mens  vir wie U teregwys, HERE,  vir wie U leer uit u wet,  13 sodat U vir hom rus kan gee  van onheilsdae,  totdat ‘n graf gegrawe is vir goddelose mense.  14 Ja, die HERE sal sy volk  nie in die steek laat nie;  sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie.  15 Want die regspraak sal weer  regverdig wees  en almal met opregte harte sal dit steun. 

GEBED – dat God teen korrupte regters sal optree

 16 Wie sal vir my opstaan  teen kwaaddoeners?  Wie sal vir my in die bres tree  teen hulle wat onreg pleeg?  17 As die HERE nie my hulp was nie,  sou ek baie gou in die stilte gewoon het.  18 As ek dink my voet gaan swik,  dan ondersteun u troue liefde my, HERE.  19 Wanneer ontstellende gedagtes  meer word in my binneste,  dan beur u vertroosting my op.  20 Kan die setel van vernietiging (korrupte regters; vgl. vers 15)  wat die wet skade aandoen,  aan U verbonde wees?  21 Hulle span saam teen die lewe van regverdiges,  hulle veroordeel onskuldiges tot die dood.  22 Maar die HERE het vir my ‘n toevlugsoord geword,  my God het my rotsskuiling geword.  23 En Hy sal hulle onreg teen hulle keer,  met hulle kwaad sal Hy hulle vernietig;  die HERE ons God sal hulle vernietig. 

1.  BELYDENIS: O, God wat vergeld, HERE, laat u lig skyn

‘n God wat vergeld, is voorwaar ‘n vreemde prentjie van God vir ons postmoderne oë.  Ons samelewing werk mos eintlik net met die idee dat God liefde is, en dat Hy ons in sy genade insluit, en op geen manier ons aan enige standaard hou nie.  Ons wêreld dink aan ‘n universele genade waarin niemand uitgesluit word nie, en niemand verantwoordelik gehou word nie. Trouens, daar is baie teoloë wat ook so dink.

Die Psalmis stem egter nie saam nie.  Hy skets ‘n heel ander prentjie van God as die idee wat baie vandag het van God as net goed.  Die God van die Bybel, sê die Psalmis, is nie net goed nie, maar ook heilig en ontsagwekkend.  Die Psalmis begin dus met hierdie prentjie van ‘n God wat vergeld, wat mense nie net hou aan sy standaarde nie, maar inderdaad as “regter van die aarde” optree en mense kan vergeld vir wat hulle doen.

En daar is drie redes waarom dié prentjie sin maak en ‘n noodsaaklike korreksie op ons samelewing se idee van God is.

  • Die eerste is dat dit God se reg erken om die wêreld aan te spreek en verantwoordelik te hou. Hy is immers die Skepper van alle dinge, van die son en maan en sterre.  As Hy vir ons lig in die Skepping voorsien het, het Hy die reg om van alle mense te verwag dat hulle die lig wat Hy in terme van sy Geskrewe Woord verskaf, sal gehoorsaam.  En dié Woord is onverbreekbaar, soos Jesus sê in Matt. 10.
  • Die tweede is dat dit God se reg erken om ons aan te spreek en verantwoordelik te hou. Ons kan nie maar leef soos ons wil nie.  Ons het ‘n onontwykbare verpligting om die werke van die vlees in ons eie lewe dood te maak, en die goeie werke wat God vir ons voorberei het, te begin doen (Rom. 8).  Ons leef deur die Gees.  Daarom moet die Gees ons lewe en lewenstyl bepaal (Gal. 5:25).
  • Die derde is dat die Psalm ons ingebore sin vir regverdigheid nie net bevestig nie, maar inderdaad vir ons uitnooi om vir God se optrede in te tree, te bid dat Hy wat inderdaad dinge kan regstel, dit sal doen waar onreg vermeerder en mense krepeer van ellende.

Die prentjie van God as ‘n vergeldende God is dus ‘n prentjie wat die Psalmis aanvuur om op God se ingrype staat te maak.  “Verhef U, regter van die aarde, gee hoogmoediges hulle verdiende loon.”  U wat onreg straf, verskyn tog, doen wat ons van U verwag.

Want, sê die Psalm, hoe lank sal goddelose mense wegkom met hulle onreg, sal hulle woorde onbeskaamd uitborrel en almal wat onreg pleeg hulleself aanprys?

Hulle woorde, sê die Psalmis, vernietig immers die geloofsgemeenskap, laat die geloofsgemeenskap wanhoop.  En dit het konkrete boosheid tot gevolg, deurdat hulle die lewensruimte van weduwees en vreemdelinge steel, en vaderlose kinders vermoor.

Doen tog iets, Here, want hulle dink boonop U sien dit nie raak nie!

2.  APPÈL: “Sien dit tog in, julle onverstandiges onder die volk!” – vers 8–11

Die tweede groep mense wat aangespreek word, is die goddeloses en onverstandiges wat deel van die Godsvolk is.  Dié Psalm is in die tweede plek aan hulle gerig.  Dit is immers die ongelukkige waarheid dat dit nie net die samelewing is wat ‘n impak het op die geloofsgemeenskap nie.  Die geloofsgemeenskap self raak baie keer hulle eie grootste vyande, veral waar hulle God se lig nie meer in hulle lewens erken en ontvang en gehoorsaam nie.  Daarom word diesulkes onder die gelowiges as onverstandig en dwaas uitgekryt.  Hoekom?  Omdat hulle twee goed van God nie verstaan en nie erken nie.

  1. God het hulle gemaak – ore, oë, gedagtes. God weet aan die een kant daarom op intieme wyse presies hoe hulle is en wat hulle hoor, sien en dink.  In ’n sekere sin beteken dié gedagtes nie veel nie, want die Here weet “dat dit nietigheid is” (vers 11).  Maar, dit beteken aan die ander kant ook dat God die dinge kan sien, hoor en dink, asof dit nodig is om dit te onderstreep!
  2. God is die hele tyd betrokke by mense, regoor die wêreld, in elke nasie. Hoe?  Om mense op te voed, te onderrig en kennis mee te deel, sê Psalm 94.  Ons hoor hier iets van Psalm 19 se onderrig wat sê dat God se Woord vanuit die Skepping en die Skrif uitgaan.  Ons lees nog meer van die boodskap van die Skrif in Psalm 119 wat in 176 verse skryf oor die onderrig wat vanuit God se Woord na ons toe kom. God se lig is beskikbaar … as ons maar net ons ore wil oopmaak en luister, ons oë wil oopmaak en sien, ons gedagtes wil gebruik en God se gedagtes begin bedink!

Die Psalmis wys dus die goddeloses van die geloofsgemeenskap tereg.  Dit is die mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar nie meer leef volgens die etos van die geloofsgemeenskap nie, soos dit in Engels vertaal word, “the wicked.

Jesus beskryf op ‘n plek die goddeloosheid van die Fariseërs as huigelary, as ‘n voordoen van vroomheid, maar waarin hulle eintlik net strikke vir mense stel (Matt. 22:18).  Hulle het die skyn van godsaligheid, maar verloën die krag daarvan.  Sulke mense is vals, sê Jesus, hulle is goddeloos.

En ons moet die vermoë van die Here om te vergeld nie onderskat nie, selfs en veral in die geloofsgemeenskap nie, soos Paulus onder andere aanhaal uit dié Psalm.

Paulus skryf sy eerste brief aan die Tessalonisense in die vroeë vyftigerjare terwyl hy in Korinte, Griekeland, is op sy tweede sendingreis.  Dit is ook die eerste brief wat vir ons bewaar is.  Hy skryf oor die huwelik en beveel die gemeente om op geen manier ‘n heilige lewe te versaak nie.  Hy skryf in hoofstuk 4 oor hoe huweliksmaats moet optree, hoe vriende ander gelowiges se huweliksmaats moet hanteer, en hoe die liefde tussen gelowiges wat nie in ‘n huwelik is nie, moet werk.

Hy waarsku hulle om nie in onsedelikheid te verval nie, soos die “sinode” in Handelinge 15 besluit het.  Onsedelikheid (porneia) was ‘n breë term vir enige seks buite die veilige ruimte van die huwelik.  “God het ons immers nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid.

En Paulus raai elkeen van hulle aan om sy eie vrou te bekom op ‘n heilige en eerbare wyse, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, iets waarop hy later in sy brief aan die Romeine meer breedvoerig sal uitbrei.

Sy bevel is dat niemand in hierdie opsig mag oortree nie – d.w.s. hulle moet die huwelik heilig hou, dit laat beantwoord aan die doel wat God daarvoor het, en dat hulle mekaar nie hieroor moet bedrieg nie: “want, soos ons tevore vir julle gesê het, en nadruklik bevestig het, die Here vergeld al hierdie dinge.

En die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie ‘n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan hulle gegee het.  Dit is die tipe liefde wat daar tussen gelowiges moet bestaan, soos God inderdaad vir hulle geleer het om te doen.  Hulle moet dit net nog meer en beter doen, sodat hulle eerbaar kan leef in die oë van buitestanders.

So, Paulus wil in die eerste plek hê dat ons self heilig sal lewe; dat niemand ‘n vinger na die geloofsgemeenskap sal kan wys nie; dat ons sedelik rein en heilig in ons huwelike sal leef.

3.  BEMOEDIGING: “Hoe gelukkig is die mens vir wie U teregwys, Here” – vers 12–15

Die Psalmis rig hom vervolgens op diegene wat bereid is om te luister na wat hy te sê het, dié wat hulle deur God wil laat opvoed.  Dit sluit God se teregwysing in, soos die 2014 vertaling tereg vertaal.

Ek weet nie waar ons kom aan die idee dat teregwysing ‘n negatiewe ding is nie.  Ons het só verval in ‘n idee dat elkeen volgens sy eie waarheid kan leef, dat ons enigiemand wat ‘n standaard uit God se Woord wil neerlê, wil stilmaak.

Neem nou maar net die gebeure in Stanford, soos in die Rapport en op die sosiale media berig word.  Die NG Kerk en die ring, selfs die predikant wat nou die Pinkster daar probeer hou met temas uit een van ons belydenisskrifte, word verkwalik dat hulle die kerkraad, leraar en gemeente hou aan hulle eie belydenis en ooreenkomste.  Hoe hartseer.  En die persepsie wat nou geskep word, is dat dit die ring is wat verkeerd is, terwyl dit volgens die ring eintlik die leraar en kerkraad is wat wederregtelik rondom leer (doop) optree.

Die Psalmis sê egter, “Hoe gelukkig is die mens vir wie U teregwys, Here.”  Hoekom?  Want teregwysing beteken dat daar nuwe lewensmoontlikhede oopgaan; dat God dink dit is die moeite werd om aan ons lewe en die koers van ons lewe te torring dat dit in lyn kom met sy wil vir ons lewe.

Hebreërs 12 brei hierop uit in die NT:

My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, 6want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” (Hebr. 12:5-6 – ‘n aanhaling uit Spreuke 3:11-12)

Dié onderrig kom volgens Psalm 94 uit die “woord” (“wet” in die oorspronklike teks), waarin die laaste deel van Psalm 19 en die hele Psalm 119 in herinnering geroep word.  Sulke mense sal nie net gelukkig wees nie, maar ook rus kry na tye van teëspoed (“onheilsdae” – 2014 vertaling) as die Here optree teen dié wat goddeloos gelewe het.

’n Wonderlike belofte van die Here om aan vas te hou in tye van teëspoed!  Die Here sal sy volk nie in die steek laat nie, daarop kan die volk vertrou.  “Sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie.” (vers 14 – 2014 vertaling). Die regspraak sal weer regverdig wees en “almal met opregte harte sal dit steun” (vers 15 – 2014 vertaling).

Hierdie Psalm is dus bedoel as ‘n versekering en bemoediging vir die geloofsgemeenskap wat smag na reg en geregtigheid op aarde.  Teregwysing bring geluk!

4.  GEBED: Die Here ons God sal korrupte regters vernietig – vers 16–23

Ná die interne aanspreek van die onverstandiges en die bemoediging van die opregtes, wend die Psalmis hom teen dié plek waar onreg die meeste gedy, die korrupsie van dié wat verantwoordelik is vir die regspraak, die regters.  Hy noem dit “die setel van vernietiging” (2014 vertaling – vgl. vers 15 waar dit reeds aangeraak is), mense wat God se duidelike uitsprake in sy wet skade aandoen.

Hy vra dus die retoriese vraag: “Wie sal vir my opstaan teen kwaaddoeners?” (vers 16 – 2014 vertaling).  En antwoord dit met die getuienis dat dit uiteindelik net God self is wat kan en sal help.  Anders was die stilte van die graf immers lankal reeds sy tuiste.  Dit was juis toe hy gedink het dat sy voete gly (“swik” – 2014 vertaling) dat die Here se troue liefde hom ondersteun het.  Selfs wanneer hy baie onrus in sy binneste ervaar, ontstellende gedagtes  wat vermeerder en hom sy rus ontneem, is dit God se ondersteunende vertroosting wat hom tot bedaring bring.

Laat my dink aan wat Paulus veel later sou skryf in Filippense 4:6–7.  Hy beskryf daar vir God as naby en beskikbaar dat ons oor alles en in alle omstandighede na Hom toe kan gaan in gebed.

Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke bekend aan God deur gebede en versoeke/petisies met danksegging.”  

Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal: “gevolglik sal die vrede van God, wat alle begrip/denke te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.

Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!  Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein wat God sal beskerm teen angstigheid en chaos.

Terug by die Psalm – die Here duld nie korrupsie in die regspraak nie; Hy wil nie hê dat enigiemand ellende aangedoen word nie.  Daarom is Hy self ’n toevlugsoord, ’n veilige vesting, ’n rots by wie gelowiges kan skuiling soek en vind.  Hy is die een die onregverdiges sal laat boet vir hulle onregverdige dade, wat hulle sal verdelg oor hulle boosheid. Trouens: “met hulle kwaad sal Hy hulle vernietig,” (vers 23b – 2014 vertaling), d.w.s. hulle sal val deur hulle eie toedoen.

Dit is iets wat ook aandag kry in die NT.  Paulus verwys ‘n tweede keer na God se vergelding in sy latere brief aan die Romeine wat steeds in Korinte geskrywe is, maar op sy derde sendingreis in 57 n.C.

In hoofstuk 12 skryf hy oor die feit dat ons liefde vir alle mense ons moet lei daartoe om, sover dit van ons afhang, in vrede met alle mense te leef.

As ons egter in konflik met hulle kom, moet ons nie onsself wreek op hulle nie, want, sê Paulus: “Daar staan immers geskryf: ‘Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld’” (‘n aanhaling uit Deut. 32:35).

Ons moet dus nie toelaat dat die kwaad ons oorwin nie, maar die kwaad met die goeie oorwin.  En die vergelding aan die Here oorlaat.  Hy sal self toesien dat geregtigheid sal geskied.

Maar, dan is hierdie Psalm ‘n wonderlike Psalm om te bid, om te vra dat God se lig sal skyn, dat Hy mense tot inkeer sal bring, dat Hy reg en geregtigheid op die aarde sal laat geskied.

Die boodskap van die Psalm

Die Psalm bring groot rus in ‘n mens se gemoed.  Net soos God die reg in die heelal handhaaf, só doen Hy dit op aarde.  Ons mag dus die gebed in die Ons Vader bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” (Matt. 6:10b).  En ons mag God vertrou dat Hy dit in spesifieke sake sal doen, bv. in hoe regspraak uitgeoefen word.

Selfs as dinge op die korttermyn nie uitwerk nie, bly Hyself vir ons ’n toevlug – Fil. 4:6–7 bring ‘n mens tot rus! – en gee Hy rus van die ontstellende gedagtes wat in ons binneste vermenigvuldig (vers 19), en beur ons op deur sy vertroosting, NT gesproke deur die Vertrooster, die Heilige Gees.  Die vrede van God sal oor ons gevoelens en gedagtes die wag hou, belowe Paulus ons.

Neem dié vers met jou mee: “Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op.” (vers 19 – 2014 vertaling).

Gebed

Kom ons bring ‘n paar ontstellende gedagtes voor die Here, eers net alleen.  Vra vir sy optrede.  Vra vir sy vertroosting.

Kom ons doen dit in die groot groep.  Kort gebede. Hardop en duidelik.

Slotsang

Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees, hoe sal ons u heerlikheid

Seën

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!

  • Avatar

    Diederiks van Zyl

    |

    Baie dankie vir hierdie preek oor die “Solas”, veral “Sola Sriptura”.

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Hallo Marita. Ai, jammer dat jy moes sukkel! Ons het wel toilette vir gestremdes, met o.a. ‘n handvatsel teen die muur. Dankie dat jy ons daarvan bewus maak dat dié toilette nie duidelik gemerk is nie! Ons sal plan maak!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Marita. Dit is ‘n goeie idee. Ons sal aandag gee. Dankie!

  • Avatar

    Marita Kotze

    |

    Ek is bejaard, nie heeltemal rolstoel gebonde nie, maar sukkel om van ‘n lae toilet af op te staan. Ek het Dinsdagaand se pragtige musiek konsert baie geniet, maar moes hulp vra om van sie toilet af op te kom. Tuis kan ek op die bad se rand druk om op te staan. Dit het nie vir my gelyk of u maklik ‘n toilet vir gestemdes kan installer nie, maar vir mense soos ek kan ‘n handvatsel teen die muur of sels ‘n ingeboude toiletrol houer of selfs ‘n stewige houer vir gebruikte sanitere dovekies groot verleentheid bespaar. Baie dankie,
    Marita Kotze