Ons het gekom om Hom te aanbid – Matteus 2:1-12

Daar is een woord wat my tref in die verhaal van die wyse manne in Matteus 2. Dit is die woord aanbid. Dit word twee keer gebruik.

Die wyse manne, sterrekykers of sterrekenners, vra:

“Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”

Dit is duidelik dat hulle die Messias wou aanbid. Hom hulde wou bring. Met Hom hulle lewensreis wou aanpak.

Wat my egter ontstel, is dat dieselfde van Herodes gesê word. Wanneer hy hoor dat die Skrif aandui dat hierdie koning in Betlehem gebore sal word, roep hy die wyse manne in die geheim en beveel hulle:

“Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”

Ja. Jy het reg gelees. Aanbid.

Dit is egter duidelik dat hy eerder die Messias wou uitwis. Dat sy aanbidding antipatie was. Wat hy wys met die kindermoord net hierna.

Die mees ontstellende in die gedeelte, wat my aan die hart ruk, is egter dat ons die woord aanbid glad nie hoor in verband met die priesterhoofde en skrifkenners nie.

Hulle is tevrede om Herodes te help om die Bybel te lees, om die regte antwoord daarin te vind, en dan terug te sit en niks te doen daaraan nie.

Verstommend, die priesterhoofde en skrifkenners gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie! Net 8 km suid van Jerusalem. ‘n Paar uur se reis. So ver soos The Camponile van ons kerkgebou af. 12 minute se ry.

Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis, heeltemal. Weens hulle onverskilligheid, hulle apatie.

Hoe het die wyse manne dit reggekry? Hoekom het hulle geslaag waar Herodes, die priesterhoofde en skrifkenners gefaal het?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Rethie en Henry se woonstel het heeltemal afgebrand. Elektriese fout in woonstel langsaan. Alles verloor. Hulle is oorweldig deur hulp uit die gemeente. Julle is welkom om hulle op enige manier te ondersteun. Die kerkraad sal ook oorbrugging verskaf as dit nodig raak. Maar, dink aan stoorplek, blyplek, die herbou van ‘n lewe. Enige direkte hulp is welkom.

Toetrede

Lied 354:1-2 O Christus, ons verlange, U het ons heil gebring – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 355:1-2 Al was ek nie daar nie – ek weet dit is waar – staan

Lied 349:1-4 Kom, kinders, besing met ‘n vrolike stem – staan

Gebed

Skriflesing en prediking

Matteus 2:1-12

Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem

1Toe Jesus gebore is in Betlehem in Judea in die dae van koning Herodes, het daar sterrekundiges van die ooste

in Jerusalem aangekom

2en gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”

3Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom.

4En hy het al die priesterhoofde en skrifkenners van die volk byeengebring en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.

5En hulle het vir hom gesê: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur die profeet geskryf:

6‘En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die geringste

onder die leiers van Juda nie,

want uit jou sal ’n leier voortkom,

wat ’n herder vir my volk Israel sal wees.’ (Miga 5:1; 2 Sam 5:2)”

7Herodes het toe in die geheim die sterrekundiges geroep en noukeurig by hulle uitgevind wanneer die ster verskyn het.

8En hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek, en kyk, die ster wat hulle in die ooste gesien het, het voor hulle uitgegaan totdat dit reg bo waar die Kind was, gaan staan het.

10Toe hulle die ster sien, was hulle geweldig bly.

11Hulle het in die huis ingegaan en die Kind saam met Maria, sy moeder, gesien, en het neergeval en Hom aanbid

en hulle het hulle houers met kosbaarhede oopgemaak en geskenke vir Hom aangebied,

goud 

en wierook

en mirre.

12Omdat hulle in ’n droom gewaarsku is om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land teruggekeer.

Ons het gekom om Hom te aanbid

Daar is een woord wat my tref in hierdie verhaal van die wyse manne. Dit is die woord aanbid. Dit word twee keer gebruik.

Die wyse manne, sterrekykers of sterrekenners, vra:

2Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”

Ons weet min van hierdie sterrekundiges of sterrekykers af. In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior en Balthasar. Maar dit staan nie in die teks nie. Selfs die feit dat hulle drie mans is, is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het: goud, wierook en mirre.

Wat ons weet uit die teks is dat hulle een doel voor oë gehad het. Hulle wou hierdie koning opspoor, die koning van die Jode wat in Israel gebore is. En hulle wou Hom aanbid. Hulle het sy ster gesien, hulle het berekeninge gemaak, en besef by dié koning moet hulle uitkom.

Daar is ’n moontlikheid dat die wyse manne (magi) priesters was, volgelinge van Zoroaster, ‘n monoteïstiese godsdiensin Persië, Iran. Dit sou hulle goeie kennis van die sterrekunde verklaar, omdat Zoroasters bekend was daarvoor.  Die Grieke het hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer. Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel.

Sommige noem hulle konings op voetspoor van Jesaja 60:3:

3Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

Ons weet ook nie baie van die ster af nie. Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete (Jupiter en Saturnus het in 7 vC in die Pisces sterrebeeld oorvleuel) of doodgewoon ‘n natuurwonder gewees het.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie.

Hoe dit ook al sy, hierdie sterrekundiges het die ster gesien, hulle berekeninge gemaak, en doelgerig op ‘n reis gegaan om die koning van die Jode op te spoor en aan Hom eer te bewys, om Hom te aanbid. En hulle het dit reggekry, ten spyte van Herodes se skelmstreke, en ten spyte van die skrifkenners se onverskilligheid.

Wyse manne uit die nasies van die wêreld kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die wyse manne van Jerusalem nie. Soos die herders wat net hiervoor die Here Jesus aanbid het in die krip in Betlehem, en sy getuies geraak het, aanbid hierdie wyse manne Hom en raak hulle die volgende getuies van die wonder van die geboorte van die Koning van die wêreld.

Ek wil ook gaan en Hom aanbid

Wat my egter ontstel, is dat dieselfde van Herodes gesê word. Wanneer hy hoor dat die Skrif aandui dat hierdie koning in Betlehem gebore sal word, roep hy die wyse manne in die geheim en beveel hulle:

8Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”

Ja. Jy het reg gehoor. Aanbid.

En op die oog af klink dit reg. Herodes bestry nie die vraag van die sterrekundiges nie. Hy wys hulle nie daarop dat hy self ‘n koning is nie, en dat dié nuus nie eintlik welkom is in sy koninkryk nie. Trouens, dit is Herodes wat die priesterhoofde en skrifkenners inroep en vra waar die koning dan nou volgens die Skrifte gebore sou word nie. Ironies genoeg praat Herodes van die geboorte van “die Christus”, die Messias, een van die eerste persone wat die konneksie maak in die evangelies.

Herodes klink dus heeltemal beskaafd en betrokke. Daarom dat die wyse aanvanklik nie onraad vermoed nie.

Maar, die feite was doodgewoon dat hierdie Herodes, die Grote, ‘n wrede koning was. Hy was nie eers regtig ’n ware Jood nie. Hy was van Edomitiese en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as koning aangestel, nie deur die Jode nie.  Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.

En soos ons uit die verdere verloop van die verhaal weet, het Herodes ‘n heeltemal ander motief vir sy opdrag aan die wyse manne. Hy wil die Kind nie seën nie, maar seermaak. Hy wil Hom nie aanbid nie, maar aanval. Hy wil nie voor Hom kniel nie, eerder bo-op Hom klim. Hom uit die weg ruim. Met geweld.

Maar, sy geweld is onder die oppervlak. Sy motiewe is geheim. Sy voornemens is weggesteek vir die publiek. Sy planne is weggesteek vir die wyse manne.

Dit kom eers ‘n tyd hierna na die oppervlak. Toe alle kinders onder twee jaar dit nie lank hierna nie moes ontgeld. Herodes se antipatie, sy afkeer, sy weersin in hierdie Christus dryf hom tot die uiterste vorm van teenstand. ‘n Kindermoord.

Ons hoor niks van die priesterhoofde en skrifkenners nie

Die mees ontstellende in die gedeelte, wat my aan die hart ruk, is egter dat ons die woord aanbid glad nie hoor in verband met die priesterhoofde en skrifkenners nie. Hulle is tevrede om Herodes te help om die Bybel te lees, om die regte antwoord daarin te vind, en dan terug te sit en niks te doen daaraan nie.

Hulle het vir Herodes geantwoord oor die geboorte van die Christus, Hy sal gebore word:

5In Betlehem in Judea, want so is dit deur die profeet geskryf: 6‘En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die geringste onder die leiers van Juda nie, want uit jou sal ’n leier voortkom, wat ’n herder vir my volk Israel sal wees.’ (Miga 5:1)”

Die priesterhoofde en skrifkenners identifiseer heel tereg Betlehem as die geboorteplek van die leier van Israel, die herder vir die volk, soos Miga dit in die 8ste eeu vC al voorspel het.

Eksplisiet is in dié profesie ‘n keuse vir die huis van Dawid bó dié van Saul (vgl 2 Sam 5:2), vir Juda bó Benjamin, trouens vir hulle stamboom bo enige ander stamboom. Ook bó dié van Herodes, die Edomiet en Arabier. God het besluit op ‘n herderleier uit die huis van Dawid, uit Juda. En Betlehem was Dawid se geboorteplek. Die Christus moes dus uit Betlehem kom.

Maar, verstommend, die priesterhoofde en skrifkenners gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie. Net 8 km suid van Jerusalem. ‘n Paar uur se reis. Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis, heeltemal.

Herodes reageer darem nog, al is dit brutaal en vyandig. Die priesterhoofde en skrifkenners reageer egter glad nie. Geen antipatie nie. Net apatie. Onverskillig. Lusteloos. Belangeloos.

Soos Johannes later sou skryf aan die gemeente van Laodisea:

15Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!16Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”

Watter tragedie. Watter ramp.

Ons word geroep tot aanbidding

Dit is daarom só ‘n troos om te lees dat die sterrekundiges uiteindelik by die huis in Betlehem die Here Jesus self ontmoet.

Matteus sê:

10Toe hulle die ster sien, was hulle geweldig bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kind saam met Maria, sy moeder, gesien, en het neergeval en Hom aanbid.”

Die sterrekundiges ervaar ‘n onbeskryflike groot vreugde. Die teks sê: “hulle was bly met ‘n baie groot blydskap”. Hulle het voor Jesus neer gekniel, aan Hom eer bewys, Hom aanbid.

En meer nog:

11en hulle het hulle houers met kosbaarhede oopgemaak en geskenke vir Hom aangebied: goud, wierook en mirre.”

Hulle word daarmee getuies van die wonder van Betlehem, van die Verlosser van die wêreld, die Een wat sy koninkryk kom vestig, en die poorte van die hel sal dit nie kan uitwis nie.

Hoe het die wyse manne dit reggekry? Hoekom kon hulle slaag waar Herodes, die priesterhoofde en skrifkenners so liederlik gefaal het?

Dit gebeur duidelik aan die een kant, as ‘n mens die teks goed lees, omdat God self hulle begelei het daarheen:

  • God is betrokke in die bekendstelling van die geboorte van die Koning deur die ster – in die natuur. Hulle sou nooit van die Kind geweet het as dit nie vir die ster was nie.
  • God is betrokke by die profesie 8 eeue terug – in die Skrif. Hulle sou nooit die kloutjie by die oor kon kry as hulle nie die Skrif gelees het nie.
  • God is betrokke deur drome – in die lewe. Hulle sou nooit die fyner nuanses van hulle besluite kon maak as hulle nie deur God self gelei is nie.

Maar, dit is ook duidelik aan die ander kant dat sonder die wyse manne se besluit om nougeset te luister na wat hulle in die natuur, in die Skrif en in die lewe waargeneem het, niks daarvan sou gekom het nie. Die wyse manne kom tot aanbidding omdat hulle sonder huiwering besluit om op te tree volgens die lig wat hulle het. Hulle sien die ster, hulle oorweeg die betekenis, hulle bereken hulle optrede, en hulle voer hulle planne nougeset uit. Jesus word vir hulle ‘n werklikheid deur te luister en te gehoorsaam.

Anders as die skrifkenners en ander ingeligtes in Jerusalem. Die priesterhoofde en skrifkenners mis die betekenis van die gebeure, al het hulle min of meer dieselfde inligting as die sterrekundiges gehad. 8 km skei hulle van lewensverandering. So ver soos The Campenile van hierdie kerkgebou af. Twee uur se stap. 12 minute se ry.

Hoe is dit moontlik dat die ingeligtes nie tot aanbidding kom nie? Hoekom het hulle – deel van die binnekring – gefaal waar vreemdelinge – buitestaanders – geslaag het?

Want die priesterhoofde en skrifkenners hoor sonder om iets daaraan te doen. Trouens, Herodes besluit om Jesus dood te maak, omdat hy in die jong kind ‘n bedreiging vir sy koningskap sien.

Apatie – die onverskilligheid en lusteloosheid van die kenners – en antipatie – Herodes se afkeer en weersin in die Kind – kos jou die belewenis van God se werklikheid.

Trouens, apatie lei uiteindelik ook tot antipatie, want toe die volwasse Jesus se bediening die priesterhoofde en skrifkenners bedreig, het hulle Hom aan ‘n kruis laat vasspyker. Onverskilligheid lei tot afkeer en weersin en teenstand. Wanneer jy niks doen nie, kan jy later niks anders doen as teenstaan nie.

Dit is nie anders vandag nie.

Jy kan deel wees van die binnekring en nooit tot aanbidding kom nie, weens jou onverskilligheid en lusteloosheid. Apatie is ‘n siekte van ons tyd. Geen openlike weerstand nie, maar ook geen aktiewe aanbidding nie.

Jy kan deel van die binnekring wees, maar eintlik daarop uit wees om die boodskap van Jesus te verander of te verwerp, sodat jy dit nie hoef te gehoorsaam nie. En die Skrif waarsku jou met hierdie verhaal, as jy nie volhard in jou aanbidding nie, sal jy uiteindelik die boodskap van die evangelie weerstaan.

Maar, ek is van beter oortuig van julle, soos die skrywer van die Hebreërbrief op ‘n punt skryf aan sy gemeente, as hy hulle waarsku om nie afvallig te raak nie (Hebr 6:9).

Ek nooi jou uit om hierdie week na te dink oor hoe God jou al begelei het in die verlede om sy werklikheid te beleef. Deur die natuur. Deur alledaagse gebeure. Deur die Skrif. Deur ander se invloed.

Dit is hoe God nog altyd met sy mense gewerk het. Hy werk deur die natuur, maar dit is altyd onvolledig. Hy werk deur die Skrif. Dit laat alles sin maak. Dit is die helderste Woord van God. Maar, Hy werk ook deur gebed en insigte en ingewings, deur die vrede in die hart (Kol 3:15), soos Hy deur die Heilige Gees ons begelei.

Ek nooi jou uit hierdie week. Dink na oor jou eie ervarings van God en hoe Hy jou tot hier gelei het. Dink ook na oor die rol wat jou gehoorsaamheid al dan nie daarin gespeel het. Ek dink jy sal saamstem dat dit was wanneer jy gekies het om te reageer, besluit het om God se leiding ter harte te neem, inderdaad daarvolgens opgetree het, dat Hy ‘n al hoe groter werklikheid geword het. In alles wat met jou gebeur.

Laat die verhaal van die wyse manne jou dan motiveer om met meer aandag te luister na wat die Here tans vir jou sê en begin tree vir tree, volgens die lig wat jy het, stap op die pad wat die Here aandui. Hy wil jou intrek in die werklikheid van ‘n lewe saam met Jesus, om Hom bó alles en met jou hele lewe, te aanbid.

Gebed

Dankoffers

Ek begin die 14de Januarie weer met Bybelskool. Die bydraes oor Wie is God? gaan voort. Beskikbaar by bybelskool.com. Ons sit die leeswerk voort by vraag 14. Ek gaan in my prediking steeds by dié temas aansluit. Die res van die jaar. Bemarking op Facebook en volgende week op ‘n brosjure by die kerk.

Ek begin ook met ‘n nuwe reeks oor Jesus. Prontuit die Waarheid. Ek gee ‘n boek uit met die Bybelteks volgens my opeenvolgende sinopsis. Daarin is ook ‘n inleiding oor die vier skrywers en die vier evangelies. Beskikbaar by die kerkkantoor. Jy betaal net vir die drukkoste.

Belangrik, skryf daarvoor ook in by Bybelskool.com. Ek stuur dan een bydrae per week oor 5 van die perikope uit die evangelies. Woensdagaande 18:00-19:00 gesels ons saam daaroor. Eerste bydrae 14 Januarie oor die skrywers: Lukas, Markus, Matteus en Johannes. Eerste byeenkoms 16 Januarie oor hierdie inleiding. Die volgende week fokus ons op ‘n inleiding op die evangelies self. Daarna begin die leeswerk in die evangelies. Die beplanning is om al vier evangelies die volgende twee jaar só deur te werk.

Slotlied

Lied 586:1-3 Hef op jul hoofde, vromes; verlostes, wees verbly! – staan

(vers 2 het die reëls: Die wyses volg die lig en bring aan Hom die hulde. Sy bloed betaal ons skulde voor God se aangesig.)

Seën

Amen

Lied 314

     

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Avatar

    Tilla

    |

    Baie dankie Chris!
    Het ervaring van hoe God mens roep tot aanbidding. En hoe nodig ek dit het.
    Vir my werk stilte, in die natuur en met die Bybel en joernaal saam die beste.

    Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.

  • Avatar

    Hansie

    |

    Dankie Chris. Lanklaas so ‘n geestelik verrykende erediens bygewoon. Ek is skoon opgewonde. Alle seen vorentoe.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Boeta!

  • Avatar

    AntonvanWyk

    |

    Baie duidelik. Pragtige versterkende boodskap

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!