Spring van Vreugde – die Verlosser is hier – Elisabet

Maleagi sluit die OT af met ‘n opdrag – onthou die wet van my dienaar Moses, die voorskrifte en die bepalings – en ‘n belofte – dat Hy die profeet Elia sal stuur voordat die Verlosser, die son van geregtigheid, sal kom (Mal 4:4-6).

Wanneer Lukas sy verhaal begin in die eerste hoofstuk, is dit alreeds amper 430 jaar ná die profesie van Maleagi.

En dit is interessant dat Lukas sy verhaal begin by ‘n priesterlike vrou en haar man, Elisabet en Sagaria.

‘n Mens se verwagting is dus geprikkel dat hier iets besonders gaan gebeur. Want, let op wat van Elisabet en Sagaria gesê word. Elisabet en Sagaria, sê Lukas, “was albei regverdig voor God, en het onberispelik geleef volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here.” (Luk 1:6).

Kan jy nou meer!

  • Maleagi sê: “Onthou die wet, die voorskrifte en bepalings”. Dit is die reëls en die regulasies van die wet, soos dit ook vertaal kan word.
  • Lukas sê: hier is twee mense wat onberispelik geleef het volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here. Dit is die reëls en die regulasies van die wet, soos dit ook vertaal kan word.

‘n Mens se opgewondenheid groei dus, want hier is iemand wat leef soos Maleagi beveel en voorsien het.

Kan dit wees dat die belofte van die Here ná 430 jaar in vervulling kan gaan? Kan dit wees dat die Here vir Elia sal stuur, sodat die harte van die gelowiges weer met mekaar en God versoen kan word?

Luister verder na die verhaal van Elisabet … en spring van vreugde saam met haar ongebore kind, Johannes die Doper: Die Verlosser is hier!



Julle kan die Bybels oopmaak by Lukas 1. Ek gaan plek-plek stilstaan by die teks vanaf vers 5 af. Ons gaan die volgende paar weke op drie karakters fokus: Elisabet, Maria en Sagaria. Vandag fokus ek op die verhaal van Elisabet soos ons dit hier aantref.

God gebruik mense om groot dinge te doen

Regdeur die geskiedenis was daar groot manne en vroue wat deur God gebruik is om groot dinge te doen. Ek het ‘n tyd gelede klem gelê op Mordegai en Ester wat die Joodse volk van etniese suiwering gered het. Ook op die werk van Esra en Nehemia.

Laasgenoemde twee, Esra en Nehemia, het die volk bevestig in hulle gemeenskapslewe, met die herstel van die mure en veral die godsdienstige aard van die huwelik. Sowel as in hulle geloofslewe, met die lees van die Bybel wat hulle weer in ere herstel het. Klein en groot het die Woord weer as die standaard, die maatstaf, vir die lewe erken en gebruik.

Wat ons egter ook moet erken, is dat sulke werk per definisie beperk is. Telkens wanneer só ‘n groot figuur weer van die toneel verdwyn het, het die gemeenskapslewe verval en het mense in hulle geloofslewe ongehoorsaam geword. Esra en Nehemia se invloed kon nie hulle dood oorleef nie.

Die wêreld het egter ‘n Verlosser nodig

Dit is waarom daar regdeur die OT hierdie sug is na beter, na meer, na Iemand wat beter kan doen, wie se invloed nie sal vervaag nie, ‘n Messias, ‘n Verlosser. Want, dit is wat die wêreld nodig het, ‘n Verlosser.

In Esra en Nehemia se tyd tree die profeet Maleagi dus op en onderstreep hierdie perspektief vir almal om te lees. Hy was deeglik bewus daarvan dat die vrug van Esra en Nehemia se hervormings nie vir altyd sou bly nie, selfs al kon hy persoonlik die invloed daarvan ervaar in Jerusalem en Juda. Trouens, Maleagi het waarskynlik meegewerk met dié twee geloofshelde.

Maar, meer was nodig. ‘n Nuwe bedeling. ‘n Nuwe begin. ‘n Ingryp van Bo. ‘n Verlosser.

Daarom is die laaste profesie wat Maleagi maak – 430 jaar vóór Christus – een wat baie verder kyk as die hervormings wat weliswaar in sy tyd ‘n effek gehad het. Hy besef onder leiding van die Heilige Gees dat daar meer nodig is as maar net die herstel van die mure van Jerusalem en van die huwelik, die lees van die Bybel en gehoorsaamheid aan sy wet.

Die volk, die wêreld het ‘n Verlosser nodig. Maleagi spoor die volk daarom aan om die “dag van die Here” te verwag, wanneer die langverwagte Messias te voorskyn sal kom met die volkome verlossing wat Hy bring.

En Maleagi is baie opgewonde daaroor, want dan sal: “die son van redding (geregtigheid) deurbreek met genesing in sy strale.” (Mal 4:2), ‘n profesie wat weerklink in die beskrywing van die verheerlikte Here Jesus, wie se “aangesig was soos die son wat skyn in sy krag”, soos Johannes Hom in Openbaring teken (Openb 1:16).

En dan sluit Maleagi sy profesie af met die volgende drie sinne, die laaste woorde wat weerklink in die OT:

4Onthou die wet van my dienaar Moses, die voorskrifte en die bepalings wat Ek aan hom by Horeb gegee het vir die hele Israel.

5Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag.

6Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.” (Mal 4:4-6)

Onthou die wet, die voorskrifte en bepalings… en Ek sal vir julle die profeet Elia stuur. Hy sal die nuwe bedeling, die bedeling van die Messias, die Verlosser inlui.

Daar was ‘n vrou, Elisabet

Wanneer Lukas sy verhaal begin in die eerste hoofstuk, is dit alreeds amper 430 jaar ná die profesie van Maleagi. Ongeveer die jaar 6 vC, as ‘n mens in ag neem dat Herodes die Grote tot 4 vC geregeer het.

En dit is interessant dat Lukas sy verhaal begin by ‘n vrou en haar man, Elisabet en Sagaria. Sagaria was deel van die priesterorde van Abia, die agste van die 24 priesterlike ordes, soos Dawid dit ingedeel het (1 Kron 24:10). Elisabet was ook uit ‘n priesterlike familie, een van die “dogters van Aäron”. Trouens, sy dra die naam van Aäron se vrou, Elisaba (Eks 6:22), wat beteken: “my God het gesweer”.

‘n Mens se verwagting is dus geprikkel dat hier iets besonders gaan gebeur.

Sy het onberispelik geleef volgens die wet

Want, let op wat van Elisabet en Sagaria gesê word. Elisabet en Sagaria, sê Lukas, “was albei regverdig voor God, en het onberispelik geleef volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here.” (Luk 1:6).

Kan jy nou meer.

  • Maleagi sê: “Onthou die wet, die voorskrifte en bepalings”. Dit is die reëls en die regulasies van die wet, soos dit ook vertaal kan word.[1]
  • Lukas sê: hier is twee mense wat onberispelik geleef het volgens al die gebooie en voorskriftevan die Here. Dit is die reëls en die regulasies van die wet, soos dit ook vertaal kan word.[2]

‘n Mens se opgewondenheid groei dus, want hier is iemand wat leef soos Maleagi beveel en voorsien het.

Kan dit wees dat die belofte van die Here ná 430 jaar in vervulling kan gaan? Kan dit wees dat die Here vir Elia sal stuur, sodat die harte van die gelowiges weer met mekaar en God versoen kan word?

Elisabet was kinderloos

‘n Mens se moed sak so effe in jou skoene as jy lees in vers 7 dat Elisabet en Sagaria egter nie kinders gehad het nie, omdat Elisabet onvrugbaar was, een boonop op ‘n gevorderde leeftyd was.

Maar, dié opmerking oor kinderloosheid, herinner ‘n mens ook aan vorige verhale van kinderloosheid wat merkwaardige uitkomste gehad het. ‘n Mens dink aan Sara met Isak (Gen 16), en Hanna met Samuel (1 Sam 1). Albei was kinderloos, met Sara wat ook op ‘n gevorderde leeftyd was.

Maar, die Here het aan hulle gedink, en vir hulle kinders gegee wat ‘n besondere rol gespeel het in sy plan met hierdie wêreld.

  • Isak, die kind van die belofte, die tweede aartsvader in die geslagsregister van die Messias ná Abraham.
  • Samuel, die priester, rigter en profeet vir die volk, wat Dawid as koning gesalf het waaruit die Messias uiteindelik gebore sou word.

Immers, sou iets vir die Here te wonderlik wees?

Gabriël verskyn aan Sagaria

Dan verskyn die engel Gabriël aan Sagaria. En hy kondig aan dat hulle tyd van kinderloosheid verby is. Dat Sagaria se gebed vir ‘n kind verhoor is, vers 13-17:

“Moenie vrees nie, Sagaria, omdat jou gebed verhoor is, en jou vrou, Elisabet, sal geboorte gee aan ’n seun vir jou en jy moet hom die naam Johannes gee. 14En daar sal vreugde en blydskap vir jou wees en baie sal verheug wees oor sy geboorte. 15Want hy sal groot wees voor die Here en wyn en bier sal hy beslis nie drink nie, en hy sal vervul wees met die Heilige Gees reeds van sy moederskoot af, 16en hy sal baie van die seuns van Israel laat terugkeer na die Here hulle God. 17En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en krag van Elia, om die harte van die vaders te laat terugkeer na hulle kinders en ongehoorsames na die denkwyse van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk voor te berei.”

Elisabet vier God se genade

En ná die week van Sagaria se dienstyd verby is (ons fokus later in die reeks op sy storie), en Sagaria huis toe vertrek het na sy dorp in Judea, in die heuwelland, lees ons in vers 24-25:

24En na hierdie dae het Elisabet, sy vrou, swanger geraak, en sy het haarself vyf maande lank verberg, en gesê: 25“So het die Here aan my gedoen in die dae waarin Hy op my ag geslaan het om my skande onder die mense weg te neem.”

Miskien wou sy nie hê mense moes haar sien vóór dit duidelik sou wees dat sy inderdaad swanger is nie. Ons weet nie regtig nie. Wat wel duidelik is, is dat sy die genade van die Here in dié tyd van afsondering gevier het, want sê sy, Hy het op my ag geslaan; Hy het my skande onder die mense weggeneem; Hy het my begenadig met ‘n kind.

Sy word daarmee ‘n getuie van die feit dat niks onmoontlik is vir God nie. Soos die engel Gabriël vir Maria sê in vers 36-37:

36En kyk: Elisabet, jou familielid, is self ook in haar ouderdom swanger met ’n seun en hierdie is haar sesde maand, sy wat onvrugbaar genoem is; 37omdat geen ding by God onmoontlik is nie.”

Elisabet word vervul met die Heilige Gees

Daar is egter nog meer. Ons lees dat Maria vir Elisabet gaan kuier in die sesde maand van Elisabet se swangerskap, vers 39-41:

39Maria het in daardie dae gereedgemaak en haastig na die heuwelland toe gegaan, na ’n dorp in Judea, 40en sy het ingegaan in die huis van Sagaria en Elisabet gegroet. 41En dit het gebeur toe Elisabet die groet van Maria hoor, dat die baba in haar skoot beweeg het van vreugde, en Elisabet is vervul met die Heilige Gees.

Die eerste mens in die NT wat met die Heilige Gees vervul word, ‘n vrou, die kinderlose Elisabet, die een wat regverdig voor God geleef het, wat onberispelik was in die wet, die gebooie en voorskrifte van die Here.

Wat ‘n voorreg!

Blydskap oor die belofte van twee ongebore kinders

En Elisabet kan nie stilbly nie, en hef ‘n lofsang aan, vers 42-45:

42en sy het met ’n groot kreet uitgeroep en gesê: “Geseënd is jy onder vroue en geseënd is die vrug van jou skoot. 43En hoekom gebeur dit met my dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Want kyk, toe die klank van jou groet my ore bereik, het die baba van vreugde in my skoot beweeg.45En gelukkig is sy wat geglo het dat daar vervulling sal wees van die dinge wat vir haar deur die Here gesê is.”

Wat wonderlik is van Elisabet se lofsang is die blydskap wat dit uitstraal oor die belofte wat twee ongebore kinders vir die wêreld inhou. Die Heilige Gees het Elisabet vervul sodat sy verder kon sien, soos ‘n Maleagi van ouds, as maar net die wonder van hulle onderskeie swangerskappe.

Ja, Elisabet was bly dat Maria geseënd is as vrou. Sy sou aan ‘n kind geboorte skenk. Selfs die ongebore Johannes was bly oor die gawe aan Maria. Hy het in Elisabet se skoot van vreugde opgespring. Elisabet was ook bly dat Maria gehoorsaam was, dat sy die dinge geglo het wat die Here vir haar gesê het.

Maar die diepste blydskap was dat die Here self in die ongebore kind van Maria na haar toe gekom het. Twee verwagtende Godsvroue wat twee ongebore Godsmanne dra.

Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie deur die belofte van twee ongebore kinders. Dink net wat hierdie twee kinders sou kon regkry ná hulle geboorte?

Johannes die Doper word gebore

Lukas sluit haar verhaal af met die verwagte vervulling van die belofte, die geboorte van Johannes, die Doper, die Elia wat Maleagi voorspel het. In vers 57-58 lees ons:

57Vir Elisabet het die tyd gekom om geboorte te gee, en sy het geboorte gegee aan ’n seun. 58En haar bure en familielede het gehoor dat die Here aan haar sy groot barmhartigheid bewys het, en hulle was saam met haar bly.

God se barmhartigheid was egter baie groter as maar net die gawe van ‘n kind aan ‘n kinderlose. Hy het ‘n gawe gegee vir die mensdom, ‘n kind wat die voorloper, die wegbereider vir die Messias, die Verlosser van die wêreld sou wees. Johannes die Doper.

Lukas vertel vir ons wat die impak van hierdie verhaal was op almal, vers 65-66:

65En ontsag het oor almal gekom wat rondom hulle gewoon het, en in die hele heuwelland van Judea is al hierdie gebeure bespreek, 66en almal wat dit gehoor het, het dit in hulle hart gebêre en gesê: “Wat sal hierdie kind dan wees?” Want die hand van die Here was inderdaad met hom.

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier

Ons vier binnekort Kersfees, die geboorte van die Verlosser van die wêreld. Dit is ‘n boodskap waaroor ons ook kan spring van vreugde, soos Johannes dit in die maag van sy ma, Elisabet gedoen het, en sy in haar lofsang uitgejubel het. Ook haar Verlosser was aan die kom. Inderdaad, in Maria was Hy alreeds daar, as ongebore kind.

Dit het Elisabet vervul met ‘n vreugde wat selfs haar vreugde oor haar eie kind oortref het, want Hy sou ook haar Verlosser wees.

En die Verlosser sou haar Here wees, soos sy dit in haar lofsang uitjubel. Trouens, Hy sou die Here nie net van die Jode wees nie, maar van die hele wêreld, soos die engele dit in hulle loflied sou aankondig, asook Simeon en Anna by Jesus se besnydenis in die tempel (Lukas 2).

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier.

[1]Voorskrifte = ḥǔqqîm in die Hebreeus en met prostagmata vertaal in die Griekse LXX. Bepalings = mišpāṭîm in die Hebreeus en met dikaiōmata vertaal in die Griekse LXX.

[2]Gebooie = dikaiōmasin in die Grieks (vgl Rom 1:32 waar dieselfde woord gebruik word vir die verordeninge van God wat verontagsaam word). Voorskrifte = entolais in die Grieks (vgl Joh 13:34 waar Jesus dieselfde woord gebruik vir die nuwe gebod van die liefde).

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment