Hebreërs 4:14-16 & 5:7-9 – Goeie Vrydag – Vry 10 April 09

Skriflesing

Die brief aan die Hebreërs draai in ‘n groot mate om die belydenis dat Jesus ons Hoëpriester is.  In hoofstuk 1 word Hy as God se laaste en beste woord aan die mense geteken.  Hy is groter as die profete en engele (hfst. 1), groter as Moses met die uittog uit Egipte (hfst. 3) en groter as Josua met die intog in Israel (hfst. 4) – d.w.s. groter as enigiets wat die Ou Testament aan gelowiges gebied het.

Hoekom?  Want Hy is die een wat TUSSEN ons en God kan staan, wat barmhartig is met ons EN getrou is aan God – ‘n ware Hoëpriester.  Dit is die rede waarom gelowiges met vrymoedigheid tot God kan nader (hfst. 10) – die grootste voorreg wat ‘n mens kan hê – want Jesus staan tussen ons, soos nie een van die Ou Testament karakters dit kon wees nie, nie eers die Hemelse karakters nie.

Hebreërs 4:14-16, wat ons nou gaan lees, is ‘n oproep om vas te hou aan hierdie Hoëpriester, en met Hom die pad te stap met vrymoedigheid, met hfst. 5 ‘n verduideliking van hoe dit moontlik geraak het, deur Sy lyding, dit wat ons op Goeie Vrydag in herinnering roep.

Woordverkondiging

Vandag draai om Jesus en om Hom as die gekruisigde, Heer.

Ek wil dus op Hom fokus, en selfs as ek gaan gesels oor die toepassing in ons eie lewe, dan bly die fokus op Hom en nie op ons nie.

Ek lees dié week by die Seisoen van Luister span die volgende storie:

‘n Sewe jarige seuntjie het geld van sy pa gekry om ‘n verjaarsdag geskenk vir sy ma te koop. Hy wou dit op sy eie doen. Sy pa het hom van ‘n afstand dopgehou, terwyl hy na een van die verkoopsdames toe loop.

“Ek wil vir my ma ‘n rok koop, maar ek weet nie watter grootte sy dra nie.”

Die verkoopsdame het met ‘n glimlag gevra: “Wel, is sy lank of kort, vet of maer, groot of klein?”

Die seuntjie het vir tydjie gedink en toe met ‘n groot glimlag geantwoord:  “Sy’s net perfek!”

Pragtige storie!

Jesus is volmaak

Maar op ‘n diep vlak is dit ook waar van Jesus.

Jesus was perfek, of dan volmaak, soos ons miskien eerder sou sê – daar was nie ‘n gebrek van watter aard ook al in Hom nie.  Hy was ‘n innemende, liefdevolle, wyse, joviale, geestige mens.  Hy kon lag en Hy kon huil.  Hy het Hom, met respek gesê, “dood”-gewerk, maar tog genoeg tyd vir stilword gemaak, en vir loop langs die see en in die oeslande.  Hy het feesmaaltye geniet en was doodgewoon iemand wat jy graag as gas wou onthaal.  En Hy kon, weer met respek gesê, toor met wyn.

Maar nog dieper as dit, Hy was volmaak omdat Hy deur God vir ‘n baie spesifieke werk aangestel is, en dit is om die kosmos met Homself te versoen.

En hoe het Jesus dit gedoen?

Jesus identifiseer volledig met mense

In die eerste plek het Hy Homself volledig  geïdentifiseer met mense, sonder om daarmee in dieselfde strik van sonde te trap as ons.  Jesus is in elke opsig aan elke versoeking onderwerp wat ons maar aan kan dink, Hy ken dus ons stryd, maar met dié verskil, Hy het nie gesondig nie.  Hy het rein gebly, om daarmee aan God gehoorsaam te bly.

Terloops, dit beteken dat Jesus met sy  verhoging tot die hemel Hom ook nie verwyder van ons, soos ‘n politikus wat kontak verloor met die gepeupel nie.  Inteendeel, Sy aardse lyding bind Hom steeds aan ons, maar daaroor meer met die Hemelvaart diens.

Jesus het dus simpatie met ons, nie as een wat van buite af vir ons jammer is nie.  Nee, Hy was al daar waar ons was!

Hulle vertel dat een van die beste rehabilitasie-sentrums vir dwelms verslaafdes ter wêreld ‘n sentrum is wat beheer word deur ‘n voormalige dwelmbaas wat self verslaaf was, en nou gerehabiliteer is.  Daar word vertel dat die verslaafdes, wanneer hulle so sukkel met die proses, wanneer hulle die heeltyd wil opgee, hulle vir die verpleegsters en raadgewers sê hulle kan nie meer nie, dis onmoontlik.  Maar die oomblik as die bestuurder daar instap, het hulle geen verskoning meer nie… Dan moet hulle maar net vasbyt.

Dit is ook die waarde wat Jesus vir ons het in ons stryd.  Hy weet waardeur ons gaan.  Hy was voor ons al daardeur.  Daarom kan ons met vrymoedigheid na Hom toe gaan en weet Hy sal ons nie in die steek laat nie.  En kan ons vasbyt in ons eie stryd.

Gisteraand met die reis deur die stasies hier in die kerk, het ek selfs terug gegaan na die Getsémané uitbeelding, omdat dit vir my die boodskap gehad het – Ek het vasgebyt – en dit vir my ook moed gegee het om in my eie lewe vas te byt.

Jesus is volledig gehoorsaam aan God

Maar in die tweede plek het Jesus sy aanstelling as Versoener in die mees volledige gehoorsaamheid aan God uitgevoer.  En dis belangrik om te besef, dat dié gehoorsaamheid nie maklik gekom het nie.  Daarom skryf die evangelies so baie oor sy gebede en sy smekinge wat Hy met harde geroep en met trane  aan God geoffer het, soos ook hier in Hebreërs.

Jesus het dus gedeel in die angs wat dikwels ons lewens kenmerk … as ons gehoorsaam wil wees.  As die Hebreër skrywer hier skryf oor sy angs gebede, verwys hy heel waarskynlik na Jesus se gebed in die tuin van Getsémané (Matt 26:39).  In hierdie volmaakte gebed het Jesus vir God gevra om Hom die lydensbeker te spaar. (Mat 26:39).

As ‘n mens dié gebed van Jesus ontleed, dan is dit opvallend dat dit aan alle moontlike gebedsvereistes voldoen:

  • Jesus het God korrek aangespreek (Abba, Vader);
  • Die omstandighede was dié van afsondering (Hy was heeltemal alleen) en nie ter wille van ‘n gehoor gedoen nie;
  • Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te probeer draai);
  • Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
  • Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed – (laat hierdie beker by my verby gaan);
  • Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit (Vader, alles is vir U moontlik);
  • Dit is met onwrikbare vertroue gedoen (nogtans nie my wil nie, maar U wil);
  • Dit is met uiterste konsentrasie en inspanning gedoen (Sy sweetdruppels het in bloed verander);
  • Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid – die volmaakte getal).

Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed nie geantwoord, op die manier wat Jesus dit sou wou hê nie!

En ten spyte daarvan, bly Jesus getrou en gehoorsaam aan die opdrag wat God vir Hom gegee het.

Jesus word hiermee die volmaakte tussenganger tussen ons – Hy identifiseer volledig met ons – en God – en Hy bly gehoorsaam tot die dood toe.

Ons verstaan moeilik die radikaliteit van hierdie gehoorsaamheid.

Wanneer Jesus aan die kruis hang, nadat God die Vader sy versoek weier, staar Hy nie net die dood in die oë nie.  Hy staar die verwydering van God se teenwoordigheid, van Sy Gees, in die oë.  Dit is soos ‘n afgrond wat voor Hom oopmaak, ‘n donker bodemlose put, waar Hy God en Homself moet laat los, sy eie mag moet prysgee, moet besluit om nie op te tree nie, die onreg en die geknoeiery en die verraad moet verdra, en iets moet deurmaak waarvan Hy die hoop het dat Hy daarvan verlos sal word, maar nie self die hoop kan waarmaak nie.  Hy is volledig afhanklik van God die Vader.

Dit is die krisis van die kruis – dat die toeganklikheid van God vir Hom toegesluit word;  dat die gemeenskap wat Hulle ononderbroke van voor die begin van alles af gehad het, deurbreek word; dat die teenwoordigheid van die Gees in sy lewe tot niet gaan; dat Hy die alleenheid van die niks moet trotseer, van nie-wees, van nie-bestaan, van nie-mand wees.

En al wat Hom laat volhard aan die kruis, is sy vashou aan die hoop op verlossing, die hoop op die opstanding, die hoop op die herstel van God se teenwoordigheid.  En daarom gee Hy sy Gees terug aan die Vader, in die hoop dat die Vader dit vir Hom sal teruggee.

Ons navolging

As ons nadink oor die effek van dié boodskap op ons eie lewe, dan kan ons vier goed daaroor sê:

Eerstens: Jesus het gesterf sodat ons nooit weer op dieselfde wyse deur God verlaat sal word nie. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie.

Tweedens: Jesus het gesterf om vir ons ‘n vrye toegang na sy Vader te verwerf. Gelowiges kan op grond van Jesus se hoëpriesterskap met vrymoedigheid (parresia) na die genadetroon gaan.  Parresia het in sekulêre Grieks gedui op die vryheid van spraak wat die vryburgers van ‘n stad geniet het.  Gelowiges het egter méér as vryheid van spraak (d.m.v. gebed) in God se troonkamer.  Hulle het die sekerheid dat hulle daar oorvloedige barmhartigheid en genade sal ontvang.

Ons kan dus dag en nag met God praat en ons kan weet dat Hy ons hoor en verhoor.  Jesus is in die hemel om dit vir ons te verseker.

Derdens: Jesus kan na sy dood ons nog beter bystaan in die krisisse wat ons self moet deur.

En dan bedoel ek spesifiek die krisis van gebede wat anders beantwoord word as wat ons dit vra.  Dit is immers so dat ons nie alles kry waarvoor ons vra nie.  Ons het ook ons eie kwota ongeluk en lyding en siekte en onreg wat ons kant toe kom, wat nie deur gebede voorkom kan word nie.  Selfs wanneer ons gebede en lewenstyl in ons eie oë voldoen aan al die voorwaardes wat die Woord vra, weet ons mos dat God soms vir ons “Nee” sê, en dat daar slegte dinge oor ons pad kom.

Maar die kruis van Jesus help ons om verder te kyk as die krisis self. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die spesifieke gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing  waar wou laat word.  Hy het dus geantwoord, maar nie soos Jesus dit wou hê nie.

Al is dit vir ons moeilik,  moet ons ook ons  “onverhoorde gebede”  in die raamwerk van God se plan plaas en moet ons in ons eie krisisse ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie onmiddellik raak nie en soms sien ons dit nooit raak nie. Dit is wat ‘n krisistyd so intens kan maak.  En dan nog steeds moet ons ons hoop en ons vertroue in God plaas.

Vierdens: Jesus moedig ons aan om op dieselfde manier as Hy regtig om te gee vir mense

Jesus sit op hierdie Goeie Vrydag ons voete uit dankbaarheid in beweging na ‘n wêreld wat verlang na iemand wat regtig omgee, sodat hulle deur ons liefde kan weet daar is Iemand wat regtig omgee …  Jesus, die bron van ewige saligheid  (vers  9).

En as dít die enigste effek is wat Goeie Vrydag op ons het vandag, dan was dit ook al genoeg.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.