Skip to main content

Verlies en Voorsiening – Rut 1:1-18

Youtube Sondag 09:00

Verwelkoming

Ons lees vandag die eerste hoofstuk van die boek Rut. Dit is ‘n pragtige kortverhaal. ‘n Verhaal wat beweeg van hongersnood na oorvloed, van hopeloosheid na ‘n huwelik, van sterftes na ‘n geboorte, van verlies na voorsiening. ‘n Verhaal wat die voorsiening van God illustreer in ons verlies.

Die prentjie wat ek gebruik is deur John August Swanson: “The Story of Ruth”. Dit is eintlik ‘n goeie opsomming van die hoofmomente van die verhaal. Jy kan later weer daarmee gaan sit en verder nadink oor die betekenis van die verhaal.

Aankondigings

Op webtuiste

Skryf ook in vir ons Mailchimp nuusbrief

Toetrede

Lied 247 en 278 – Heer, wees ons genadig | Hoor ons bid o Heer

Votum en Seëngroet

5Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop gevestig is op die Here, sy God – 6Hy wat hemel en aarde gemaak het, die see, en alles wat daarin is, Hy wat trou bly tot in ewigheid.”(Psalm 146, die Psalm vir vandag)

Ek groet jou in die Naam van die Drie-enige God: Vader, Seun, en Heilige Gees.

Aanbidding

Lied 8 – O Here God, U naam is groot almagtig

Gebed

Skriflesing en prediking

Die meeste van ons ken natuurlik die verhaal van Rut goed. Daarom kan ek ‘n bietjie meer tyd spandeer aan die betekenis van die verhaal.

Enige Bybelse verhaal het drie vlakke van betekenis.

  1. Daar is die vlak van die gebeure. Die feite van die verhaal. Die karakters. Die krisisse. Die ontknopings. En ‘n mens moet deeglik lees om elke nuanse van die verhaal in te neem.
  2. Dan is daar die vlak van bewussyn. Die bewuswording van wat aangaan. Vir die karakters sowel as die lesers. Die betekenis van hulle name. Die betekenis van die verhaal binne die Rigterstyd. Die betekenis van die verhaal in die groter Bybelse konteks.
  3. Dan is daar laastens die vlak van transendensie, van God se betrokkenheid in die verhaal. Hoe Hy voorsien in hierdie mense se lewens. As ‘n aanduiding van wat Hy ook in ons lewens kan doen.

Ek gaan die drie vlakke egter as ‘n eenheid hanteer. Kom ons begin by vers 1:

Naomi se verlies

11In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land.

Ons hoor “rigters” en “hongersnood”. Die Rigterstyd was ‘n tyd van onrus. Elkeen het gedoen wat hy of sy wou. Hulle het nie na die Here geluister nie. Die hongersnood dui op ‘n tyd van gebrek. Die hemele was toegesluit. Daar was geen reën nie. Wat ons laat besef dat God sy voorsiening terug getrek het. As ‘n manier om die volk se aandag te trek.

‘n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns.

Ons hoor “emigrasie” en “tydelik”. Die familie het hulle heil gaan soek in die vreemde. Al was dit in die gebied van Moab, die nasie wat uit bloedskande gebore is.

2Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Terwyl hulle daar was, 3is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat.

Die familie se name is van groot betekenis. Elimeleg se naam beteken “God is koning.” En soos ons deur die verhaal lees, sien ons dat God inderdaad as koning optree, selfs al moet Elimeleg voor die voorsiening van die Here inskop, doodgaan. Want daar is uiteindelik ‘n nageslag. Daar is uiteindelik voorsiening vir sy vrou en selfs vir sy skoondogter Rut. God se voorsiening in die verhaal is anderkant sy dood wat ons help om sin te maak van verlies, selfs wanneer die dood intree.

Maar, die verlies was uiteraard ook werklik. Elimeleg se twee seuns se name het albei negatiewe konnotasies. Maglon se naam beteken moontlik “sieklik”. Kiljon se naam beteken moontlik “wegkwyn”. Die betekenis van hulle name dui dus op die groot ontberinge wat hulle daar in die vreemde ervaar het. Die Bybel laat ons nie onder enige illusies dat dit maklik was nie. Dit was uitdagend.

God se voorsiening

4Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut. Hulle het sowat tien jaar daar gebly, 5toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man.

Ook die name van die twee Moabitiese vroue is van groot betekenis. Orpa se naam beteken “weerbarstig” en ons sien iets daarvan wanneer sy uiteindelik terugkeer na haar land en sy mense en veral na haar gode toe, soos Naomi dit tereg later in vers 15 verklaar. Rut se naam beteken egter “verkwikking” of vriendin”. En albei betekenisse maak sin, want sy is die een wat vir Naomi ‘n steunpilaar word, ‘n ware vriendin. Wat haar bitterheid – sy noem haar self Mara, dit is “bitter” – weer in betekenis laat verander, sodat sy weer Naomi genoem kon word wat beteken “lieflik” of “aangenaam”.

In die verlies van haar man en twee seuns was die Here dus alreeds besig om vir Naomi ‘n vriendin te gee, in Rut, en te voorsien vir ‘n uitkoms terug in Betlehem. Naomi se beoordeling van haar situasie was dus skeefgetrek deur haar gevoel van verlies.

Sy sê vir haar skoondogters om terug te gaan na Moab:

13Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek.”

Want, sy kan nog nie verby haar smart die voorsiening van die Here raaksien nie. Haar perspektief op haar lewe is in stryd met wat agter die skerms besig is om te gebeur. Sy het geoordeel dat die Here teen haar gedraai het, dat haar lewe vol was toe sy weg is uit Israel, maar dat sy leeg teruggekom het (vers 21), en dat die Almagtige (Shaddai) haar lewe vir haar bitter gemaak het (vers 20), sodat sy Mara (bitter) genoem wil word, eerder as Naomi (lieflik).

Intussen is ‘n proses aan die gang waarin dieselfde Almagtige haar lot totaal gaan verander. Sy sien ‘n deel daarvan raak, dat die Here uitkoms vir sy volk gebring het met ‘n goeie oes, maar sy is sinies oor die impak wat dit op die res van haar lewe gaan hê.

Moontlik beskerm sy met dié gedagtes haarself teen verdere teleurstelling, maar die Here sal haar gelukkig nie in daardie siniese toestand laat nie, soos ons nog gaan agterkom. Die Here laat haar nie alleen in wat sy as ‘n doodloopstraat interpreteer nie.

Rut kies vir God en sy volk

Want, haar verkeerde lees van die situasie, keer nie die voorsiening van God in haar situasie nie.

14Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou.

En as Naomi vir Rut sê om ook om te draai na haar volk en haar gode toe soos Orpa, dan antwoord Rut:

16“Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie

of om van u af weg te gaan nie,

want waar u gaan, sal ek gaan,

en waar u bly, sal ek bly.

U volk is my volk,

u God is my God.

17Waar u sterf, sal ek sterf,

en daar sal ek begrawe word.

Want, Rut het ‘n onherroeplike keuse gemaak vir God en sy volk, selfs al sou dit vir haar die verlies van haar eie mense en hulle gode beteken. Sy het meer vertrou op God en sy voorsiening en was bereid om alles op die spel te plaas.

17“Die Here kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” 18Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat.

Sy hou dus vas aan die God wat Hom laat vind, selfs al was daar ‘n verbod in Deuteronomium 23:2-3 op die toelating van Moabiete in die tempel van die Here, selfs tot in die 10de nageslag. Sy lê haar identiteit as Moabiet en afgodsdienaar af, en neem die identiteit van die God van Israel en van sy volk aan. En die Here eer dit en maak haar die grootmoeder nie net van grootste “tempel”-digter, Dawid, nie, maar uiteindelik ook van die Seun van God wat vir Maria in die NT gebore sou word.

Dat Rut hier kies om God te dien, wys dat die Abrahamitiese belofte waar is. God het belowe in Genesis 12:3 dat in Abraham alle volke van die aarde geseën sal word. Sy as ‘n vreemdeling uit ‘n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn. Verstommend!

Wat ‘n mens laat besef dat jy nie met ‘n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie. En dat jy veral nie te vinnig gevolgtrekkings moet maak oor waar die Here teenwoordig is of nie. In stil wees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes 30:15).

Wat ons help om God te vertrou met ons lewe, selfs wanneer ons verliese ervaar. Ons leer in hierdie eerste hoofstuk van Rut die volgende eienskappe van God se voorsiening.

1. God werk op die agtergrond

Die eerste ding wat opval is dat God altyd besig is. Hy is die hele tyd aan die werk. Hy is die hele tyd besig om goed in plek te laat val. God is soos die gis wat die brood laat rys. Jy sien nie die gis nie. Jy kan nie sien hoe dit werk nie. So af en toe word die deeg weer af geknie. Maar uiteindelik het jy heerlike brood wat pragtig rys. So is God die hele tyd aan die werk. Op die agtergrond. Selfs al het niemand eksplisiet gevra vir iets nie.

2. God werk deur mense

Die tweede ding wat opval is dat God werk deur mense. Die boek praat wel van twee direkte ingrype van God: Dat die Here weer vir Israel ‘n goeie oes gegee het (Rut 1:6) en dat die Here vir Rut laat swanger word het (Rut 4:13). Maar, dit is al wonderwerke in die boek. Die res van God se voorsiening kom deur die optrede van mense. ‘n Rut wat aan Naomi vasklou, aan haar God en aan haar volk. ‘n Boas – sy naam beteken “vinnig” – wat nie gras onder sy voete laat groei om haar sy vrou te maak nie.

3. God werk deur “toevallighede”

Trouens, God se werk kan baie keer gesien word in die “accidental coincidences” soos David Pawson dit genoem het.

In die res van die verhaal sien ‘n mens hoe Rut “toevallig” op Boas se veld beland. “Toevallig” kom hy daar aan terwyl sy daar is. Maar in die gewone dinge wat “toevallig” oor ons pad kom, is God besig om te werk. ‘n Mens kan dit meer korrek as “Godvallighede” tipeer. Sy voorsienigheid.

Die Heidelbergse Kategismus praat oor hierdie “Godvallighede”:

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

4. God werk met die hele werklikheid

God sien die hele werklikheid raak. Hy kyk na die groter prentjie, die geheelbeeld. Hy gebruik elkeen van ons in die groter verhaal. Soms sal ons ons rol verstaan. ‘n Boas wat besef ek moet nou optree. Soms sal ons ons rol nie verstaan nie. Soos ‘n Elimeleg wat dood is voor hy die voorsiening van die Here kon waardeer.

Daar is ook dele van ons verhaal wat ons nooit sal kán verstaan nie, omdat dit oor prosesse ná ons lewe gaan.  Want, Rut, die Moabitiese vrou, raak deel van die geslagsregister van Jesus van Nasaret, die Messias van die Jode, die Verlosser van die wêreld. Iets wat sy nooit 10 eeue daarvoor sou kon verstaan nie.

5. God werk ook in ons verlies

God werk, ook wanneer ons dit nie kan of wil sien nie, veral wanneer ons verlies ervaar. Al is ons soos Naomi so vasgekeer in ons bitterheid dat ons selfs die mense wat God stuur om ons te help, eintlik as ‘n las sien – gaan maar terug na jou mense en jou gode toe – dan is God nog stééds besig om te werk.

In ons huidige konteks van ‘n swak ekonomie, ‘n virus waarvan ons nog steeds probeer herstel, werkloosheid en ongelykheid en wat nie alles nie, is dít dié perspektief van God wat ons orent kan hou, wat vir ons ‘n anker in die lewe sal wees.

Soms neem dit jare en voel dit of ons situasie nooit gaan verander nie. Maar ons hoop bly gevestig op God wat belowe om ons nooit alleen te laat nie, wat nie sal toelaat dat ons die pad alleen stap nie. As ons gelowig aan God vashou (soos Rut aan Naomi), kan ons verseker wees dat God ook by ons is soos Hy by Rut en Naomi gebly het.

Gebed

Slotlied

Psalm 112 – God wat oorvloed het voorsien

Seën

Dankoffer

Snapscan en EFT

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.