Matteus 13: Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk?

Dié vraag het onvermydelik by my opgekom toe ek die leesroosterteks vir vandag lees, Matteus 13:24-30; 36-40, die gelykenis van die onkruid (drabok) tussen die koring en Jesus se verklaring daarvan. Die prentjie op die PowerPoint wys hoe eenders die onkruid en die koring lyk terwyl dit nog jonk is. Dit is eers met die oes wat hulle hulle ware aard wys.

Jesus is hier besig om sy derde toespraak in Matteus af te sluit met die koninkryksrede.  Hy gebruik agt gelykenisse om te fokus op die koninkryk en veral op die wyse waarop mense op die evangelie van die koninkryk gaan reageer.

Twee van dié gelykenisse is baie prominent.  Die gelykenis van die Saaier en die gelykenis van die onkruid tussen die koring.

En laasgenoemde gelykenis handel spesifiek oor die vraag na die onderskeid tussen die ware en die valse kerk, soos dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis van Guido de Bres, artikel 29, een van ons kerk se geloofsbelydenisse, beskryf word.

Twee vooraf opmerkings oor die gelykenisse van die koninkryk:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

RUS

Toetrede

Psalm 139:1-3 Here, U sien dwarsdeur my en U ken my deur en deur – nadenke

Lied 556:1 Vervul my hart met dankbaarheid waar ek nou tot U nader – sit

Votum en Seëngroet

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? 8Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. 9Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, 10ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. 11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, 12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (Ps. 139:7-12)

Lofsang

Lied 200 U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie – wie word daardeur nie diep getref! – staan

Toewyding

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,

V: of ek sit en of ek opstaan.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,

V: en my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,

V: of ek reis en of ek oorbly.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

V: Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

V: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

V: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!

(Uit:  “Soos ’n blom na die son draai” deur Cas Wepener – (n.a.v. Ps. 139)

Genadeverkondiging

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? (Rom. 8:31-32).

Psalm 9:1,3 Ek wil, o Heer, van blydskap juig en met my hele hart getuig – staan

Geloofsbelydenis van Nicea

  1. Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge.
  2. En in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.
  3. Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.
  4. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.
  5. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan.
  6. En Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader.
  7. En Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
  8. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek.
  9. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
  10. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
  11. Ons verwag die opstanding van die dooies.
  12. En die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

HOOR

Gebed

Skriflesing

Wat is die onderskeid tussen die ware en die valse kerk?

Dié vraag het onvermydelik by my opgekom toe ek die leesroosterteks vir vandag lees, Matteus 13:24-30; 36-40, die gelykenis van die onkruid (drabok) tussen die koring en Jesus se verklaring daarvan. Die prentjie op die PowerPoint wys hoe eenders die onkruid en die koring lyk terwyl dit nog jonk is. Dit is eers met die oes wat hulle hulle ware aard wys.

Jesus is hier besig om sy derde toespraak in Matteus af te sluit met die koninkryksrede.  Hy gebruik agt gelykenisse om te fokus op die koninkryk en veral op die wyse waarop mense op die evangelie van die koninkryk gaan reageer.

Twee van dié gelykenisse is baie prominent.  Die gelykenis van die Saaier en die gelykenis van die onkruid tussen die koring.

En laasgenoemde gelykenis handel spesifiek oor die vraag na die onderskeid tussen die ware en die valse kerk, soos dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis van Guido de Bres, artikel 29, een van ons kerk se geloofsbelydenisse, beskryf word.

Twee vooraf opmerkings oor die gelykenisse van die koninkryk:

1.  Interessant is dat Jesus die twee gelykenisse vir almal vertel, maar net vir die dissipels uitlê. Van die begin af het Jesus dus gewerk met die idee dat daar ‘n onderskeid sal kom tussen dié wat na Hom luister.  Die boodskap van die koninkryk is immers iets wat almal moet hoor.  Hy roep alle mense deur die evangelie, maar net dié wat tot die ewige lewe uitgekies is, reageer in geloof.  Daarom vertel Hy vir almal die gelykenis, maar verduidelik dit net vir die dissipels.

Lukas sê later in sy beskrywing van Paulus se boodskap oor die koninkryk aan die heidene in Antiogië in Pisidië: “Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.”  (Hand. 13:48).  Dit is hoe die uitverkiesing van God werk.  Almal moet hoor.  Die boodskap is bedoel vir almal.  Maar, net dié wat vir die ewige lewe bestem is, word gelowig, omdat God dit in hulle harte bewerk.  Dat mense dus nie glo nie, is hulle eie skuld.  Dat mense wel glo, is God se werk.

Want dít is presies wat Jesus se bediening bewerk het, en steeds doen, ‘n verdeling tussen dié wat Hom sou volg, sy dissipels, en dié wat Hom sou teenstaan, die teenstanders; tussen dié wat Hy uitgekies het, gehoorsames, en dié wat nie die pad saam met Hom enduit sou loop nie, ongehoorsames.  Hy sê immers later in Matteus as opsomming van die gelykenis van die bruilof: “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” (Matt. 22:14).

Dit is waarom Jesus nét sy dissipels in die geheimenis van die gelykenisse van die koninkryk inlei.  Hy maak hulle oë oop om die boodskap van die koninkryk te kan verstaan, want dit is noodsaaklik vir hulle verhouding met Hom.  En dit is natuurlik wat ek ook met hierdie preek gaan doen.

2.  Daar is ‘n helder ja vir sy koninkryk by dié wat Hom volg, dié wat Hy uitgekies het om sy dissipels te wees. Maar, dit is egter nie die geval by dié wat Hom teenstaan nie.  Daar is nie altyd ‘n helder nee by dié wat Hom nie enduit volg nie.  Dit blyk helder uit die gelykenis van die Saaier waar mense in een van vier kategorieë val.

  • Daar sal dié wees wat Jesus ignoreer, soos die saad op die droë grond. Die ateïste en agnostici, en dié wat deur die afgode van hierdie wêreld verlei word om hulle te dien.  Hulle is die mense wat ‘n helder nee sê vir Jesus.
  • Daar sal dié wees wat Jesus verdra, maar geen diepte in hulle verhouding met Hom sou hê nie, soos die saad op die vlak grond. Dit is die mense wat selfs lidmaatskap van die kerk het, maar nie regtig meeloop nie en nie die geloofstryd saam met die gelowiges voer nie.  Die kerk is bysaak, net belangrik vir sosiale vertoon.  Hulle sê ja-nee, maar uiteindelik blyk dit meer nee as ja te wees.
  • Daar sal dié wees wat Hom met meer aandag dien, maar nie daarin volhard nie, en nie in alles navolg nie. Soos die saad verstrik is deur die onkruid, só sal hulle deur die verleiding van die wêreld en die bekommernisse en uitdagings, afvallig raak en Hom net halfhartig dien.  Dit is mense wat lidmate is, maar ‘n eie godsdiens ontwikkel, waarin hulle bepaal wat belangrik is en wat nie; die Here en sy Woord gee nie die finale deurslag nie.  Hulle ja en nee is soms amper ononderskeibaar; soms dink jy hulle sê eintlik nee soos die ateïste, en dan weer ja soos die dissipels; ‘n uiters ongemaklike situasie vir die kerk in die breë.

Hoe onderskei ‘n mens dus tussen dié geloofsgemeenskappe wat met die waarheid besig is en dié wat van die waarheid afwyk, die valse kerk?

Nie só maklik nie, wil dit voorkom uit die gelykenis van die Saaier!  Daar is die helder ja’s.  Daar is die helder nee’s.  Maar daar is ‘n hele paar ander antwoorde wat ‘n mens onseker laat.  Is dit nou ja?  Of is dit nou nee?

En dit is met die oog op hierdie ongemaklike waarheid, dat daar mense is wat lyk asof hulle ja sê, maar eintlik is dit ‘n nee, dat Jesus die volgende gelykenis vertel, dié van die onkruid tussen die koring, om ons te help om die vraag na die onderskeid tussen die ware en die valse kerk te beantwoord.

Matteus 13:24-30; 36-40

24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.”

36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.

“Wie ore het, moet luister.”

Preek

Die onkruid is sag op die sonde en sag op die wet van God

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring wys vir ons die breë onderskeid tussen die ware en die valse kerk uit. Die valse kerk is sag op sonde en sag op die wet van God. Soos Jesus in die gelykenis sê, die onkruid is: “almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree.

Soos in die gelykenis van die Saaier net daarvoor, is dit dié mense wat nie ongekwalifiseerd já sê vir die evangelie van die koninkryk nie, maar een of ander vorm van nee. Soms ‘n harde nee, soos die saad wat op die droë grond val. Soms ‘n sagte nee, soos die saad wat op die vlak grond val. Soms ‘n dubbelsinnige ja-nee, soos die saad wat verstrik word deur die onkruid.

Maar ons moet dit goed hoor.  Dit lê nie net in die persoonlike sonde wat mense pleeg nie, ook in die sonde om ander nie te waarsku as hulle in sonde val nie.  Jesus sê dat die onkruid mense is wat  “ander mense in sonde laat val”, hetsy deur verleiding óf deurdat ‘n mens doodgewoon niks doen om hulle te waarsku van die sonde nie.  Die ware kerk het die onvervreembare verpligting om enige afwyking van God se Woord uit te wys en gelowiges te help om daaraan gehoorsaam te wees.

Die ware en die valse kerk

Dit is geen wonder dat toe Guido de Bres in sy Nederlandse Geloofsbelydenis moes nadink oor die kenmerke van die ware en die valse kerk, dit juis Matteus 13 en hierdie gelykenisse oor die koninkryk is wat hom te binne geskiet het nie.  En nie maar net een teks daaruit nie.  Die hele Matteus 13.  Dit staan ook eerste in die lys van Skrifverwysings, saam met nog 26 ander gedeeltes.

Hoekom?  Want, Matteus 13, en spesifiek die gelykenis van die onkruid tussen die koring, wys vir ons onomwonde die onderskeid tussen die ware en die valse kerk uit.  Die valse kerk is sag op sonde en sag op nakoming van die wet van God.  Die ware kerk is dié wat die sonde ontvlug en kruisig in hulle lewens en wat die wet van God nakom soos wat die Woord ons leer.

Jesus trek hierdie onderskeid, sodat ons aan die een kant kan seker maak dat ons Hom navolg en in alles na Hom luister, maar aan die ander kant ook met onderskeiding die breër patrone in die geloofsgemeenskappe wêreldwyd kan raaksien en die ware kerk van die valse kerk kan onderskei.

Daardeur kan ons seker maak dat ons in die waarheid wandel, en die valsheid vermy.  En kan ons as ‘n geloofsgemeenskap ook die waarheid kies bó die valsheid.

Luister na wat Guido de Bres skryf hieroor:

Nederlandse Geloofsbelydenis 29: Die Kenmerke Van Die Ware En Die Valse Kerk

“Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien.”

Soos hy reeds in die eerste sewe artikels van die NGB geskryf het en die absolute prioriteit van die Woord in leer en lewe uitgelig het, só doen hy dit hier ook in terme van die onderskeid tussen dié kerk wat die waarheid dien, en dié wat dit nie doen nie.  Dit gaan alles oor die Woord van God.  Die ware kerk fokus volledig op die Woord.  Die valse kerk nie.

Dit is ‘n groot probleem om tussen die koring en die onkruid te onderskei

Guido de Bres gaan verder en wys dat hierdie onderskeid net oor die breër patrone kan gaan, want dit is op ‘n individuele vlak baie moeilik om ‘n ware volgeling van ‘n valse volgeling te onderskei, soos dit in hierdie gelykenis van die onkruid beskryf word.  Hy sê:

“Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is.”

Guido lê dus absoluut getrou hierdie gelykenis uit.

Ons moet rekening hou met die feit dat daar, soos in die gelykenis, nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie.  Daar is ook ‘n vyand, die een wat onkruid tussen die koring saai.

Maar Guido erken dat dit ‘n groot probleem is om die koring van die onkruid te onderskei op die vlak van die individu, want die tipe onkruid waarvan hier in die gelykenis gepraat word (In Grieks: zizanion – in Engels darnel, in Afrikaans waarskynlik drabok), het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes.

Moenie te vinnig oor individue oordeel nie

Dit is waarom die Here deur die gelykenis gewaarsku het teen voortydige pogings om die koring van die onkruid te onderskei, want ons kan moontlik foute maak in ons beoordeling op ‘n individuele vlak.  Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe.  Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word.  Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.

Met hierdie gelykenis help Jesus ons dus om die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan, te verstaan.  Hy help ons om die inherente konflik tussen die onkruid en die koring in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig op ‘n individuele vlak te verduur, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier.

Ons mag ‘n onderskeid maak op gemeente- en kerklike vlak

Maar, sê Guido de Bres in die NGB, dit beteken nie dat ons nie ‘n onderskeid op gemeente en kerklike vlak kan en moet maak nie.  Sê Guido de Bres:

“Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.”

Dit beteken dat ons nie die verantwoordelikheid kan ontduik om geloofsgemeenskappe en kerke te meet aan die kenmerke van die ware kerk nie.

Die belangrikste kenmerk van die ware kerk is, soos dit ook in die gelykenis aangeroer word, dat die ware kerk in alles volgens die leer van die Woord leef: “wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.”  Dit sluit die prediking, die sakramente en die tug in.

Die Woord van God alleen dra gesag in die ware kerk, “die wet van God”, soos dit in die gelykenis genoem word.  Alle leringe en lewenswyses wat daarmee in stryd is, moet deur ons verwerp word, anders loop ons self die gevaar om as ‘n valse kerk gebrandmerk te word.

Dit het ‘n persoonlike impak op ons eie lewe

Soos Guido de Bres sê:

“Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.”

Hiermee spel Guido die normale leer en lewe van ‘n ware gelowige uit.  Dit is iemand wat glo in die enigste Verlosser, Jesus Christus, wat Hom aangeneem het, en wat daarna alles in sy of haar vermoë doen om vyf goed te doen:

  1. Om die sonde te ontvlug soos die Woord dit vir ons leer;
  2. Om die geregtigheid na te jaag, dit wil sê om in die regte verhouding met God en ons naaste te leef;
  3. Om die ware God en ons naaste lief te hê, die dubbele liefdesgebod na te kom;
  4. Om nie na links of links af te wyk van wat die Woord ons leer nie;
  5. Om die sondige natuur met sy werke te kruisig, soos talle Skrifgedeeltes vir ons leer (Rom. 6-8; Gal. 5-6; 1 Kor. 5-7; 2 Kor. 7; 10; Ef. 2; 5-6; Kol. 2-3; 1 Pet. 4; 2 Pet. 2; 1 Joh. 2).

Daar is uiteraard meer wat ‘n mens kan sê oor die lewe saam met die Here Jesus, nadat ‘n mens Hom as jou Verlosser aangeneem het, maar dit sal altyd hierdie vyf dinge insluit – om die sonde te ontvlug, en ons sondige natuur te kruisig soos die Gees ons lei, en om in geregtigheid, liefde en gehoorsaamheid te lewe.

Dit het egter ook ‘n openbare impak op ons kerk se leer en lewe

Soos Guido de Bres sê:

“Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.  Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2; Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.”

Let op dat die valse kerk: “aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God.” Dit kan eintlik nie helderder gestel word nie.  Geen besluit van watter kerk ook al kan bó die Woord van God gehoorsaam word nie.

Die valse kerk is een wat sy eie besluite belangriker ag as die Woord van God, en wat boonop “weg neem en byvoeg na eie goeddunke,” en dié vervolg “wat volgens die Woord van God heilig lewe.”

Paulus sê hieroor in sy eerste brief aan Timoteus:

1Die Heilige Gees leer ons duidelik dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom. 2Hierdie dwaalleraars is skynheiliges en leuenaars. Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood (1 Tim. 4:1-2).

Paulus is dus duidelik daaroor dat daar mense onder ons sal wees, deel van die kerk, wat skynheiliges en leuenaars sal wees, dwaalleraars, met leerstellings wat nie van die Woord af kom nie, maar van bose geeste.

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk?

Dit is ‘n kerk wie se lidmate nie links of regs afwyk van wat in die Woord van God staan nie.  Wat die Here Jesus gehoorsaam en deur die Gees die sondige praktyke van die sondige natuur bestry en doodmaak.  Wat in liefde, geregtigheid en gehoorsaamheid lewe.

Ek sluit af met Paulus se gesagvolle woorde aan die gemeente in Efese:

17Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend; 18hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie. 19Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid.  20Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie! 21Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Hom onderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer. 22Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Ef. 4:17-24).

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 477  Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede – staan

Seën

Respons

Lied 477:2 (laaste 5 reëls) Hy oor die toekoms Heer, waak oor sy Woord en eer – staan

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.