Skip to main content

Lukas 1:39-56 – God onthou sy beloftes van ontferming

MariaMaria, die moeder van Jesus, speel ‘n relatiewe klein rol in die Nuwe Testament, maar die rol wat sy wel speel, beide in die Nuwe Testament asook in die lewe van gelowiges oor die wêreld en oor die eeue heen, is onvervangbaar. Haar loflied is ook van groot betekenis, want dit dien as belangrike bron waardeur God Homself openbaar en Hy ervaar word. Dit bring aan ons die boodskap van ‘n God wat beloftes van ontferming gee.  God is die Barmhartige, die Een wat Hom ontferm.  Daarop kan ons staatmaak.

Soms word Maria se lied egter ook gevaarlik genoem. Hoekom?  Want, as ‘n mens dié belofte van ontferming reg hoor, besef ‘n mens dis ‘n gevaarlike lied vir mense wat tevrede en knus in hulle gemaksones leef, vir mense wat baie het en nie omgee vir hul medemens nie. God se ontferming kan juis vir dié wat sonder ontferming leef, ‘n uitdagende boodskap word.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Sondag van Liefde

RUS

Aanvangslied

Lied 526 Waar daar liefde is – sit

Lied 333 Groot is die Heer, groot is die Heer – sit (aanleer)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 329 Want so lief het God die wêreld gehad – staan

Lied 332 God se liefde, so oneindig – staan

Wet as reël van dankbaarheid

Lied 250:1,2,5 Gods wet vra al ons liefde – sit

Geloofsbelydenis terwyl vierde Adventskers aangesteek word

  1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  2. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  3. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
  4. gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
  7. van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
  8. Ek glo in die Heilige Gees.
  9. Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10. die vergewing van sondes;
  11. die opstanding van die vlees
  12. en ‘n ewige lewe.

HOOR

Gebed

Skriflesing

Lukas 1:39-56

Hoofstuk 1 vertel die verhaal van:

  • die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser (1:1-38),
  • die reaksie daarop van twee groot Godsvroue, Maria en Elisabet (1:39-56) wat gekontrasteer word met die reaksie van Elisabet se man Sagaria (1:5-25) en
  • die geboorte van Johannes die Doper waarop sy pa se tong loskom en hy uitbars in lof aan God en ‘n profesie oor beide Johannes en Jesus (1:57-80).

Ons lees vanoggend die verhaal van die twee groot Godsvroue, maar ek gaan net konsentreer op Maria se loflied.

Maria besoek Elisabet

39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ’n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:

“Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!

43Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?

44Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg.

45Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”

Die loflied van Maria

46En Maria het gesê:

“Ek besing die grootheid van die Here,

47ek juig oor God, my Verlosser,

48omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.

Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,

49omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het.

Heilig is sy Naam!

50Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer.

51Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:

hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag;

52maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;

53behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes

en rykes met leë hande weggestuur.

54Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming

55soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Preek – God onthou sy beloftes van ontferming

Maria, die moeder van Jesus, speel ‘n relatiewe klein rol in die Nuwe Testament, maar die rol wat sy wel speel, beide in die Nuwe Testament asook in die lewe van gelowiges oor die wêreld en oor die eeue heen, is onvervangbaar. Haar loflied is ook van groot betekenis, want dit dien as belangrike bron waardeur God Homself openbaar en Hy ervaar word. Dit bring aan ons die boodskap van ‘n God wat beloftes van ontferming gee.  God is die Barmhartige, die Een wat Hom ontferm.  Daarop kan ons staatmaak.

Soms word Maria se lied egter ook gevaarlik genoem. Hoekom?  Want, as ‘n mens dié belofte van ontferming reg hoor, besef ‘n mens dis ‘n gevaarlike lied vir mense wat tevrede en knus in hulle gemaksones leef, vir mense wat baie het en nie omgee vir hul medemens nie. God se ontferming kan juis vir dié wat sonder ontferming leef, ‘n uitdagende boodskap word.

Hoekom?  Want Maria se gevaarlike lied bring vier verrassende gedagtes oor hierdie God van ontferming mee.  Hierdie verrassende gedagtes oor God se ontferming is gevaarlike gedagtes. Gevaarlik, omdat Lukas God beskryf as die God wat soveel anders kyk na mense as die wêreld, soveel anders oordeel oor mense as die wêreld.  Hoekom so gevaarlik en verrassend?  Want die God van Maria se lied kyk nie net anders na mense nie, maar doen iets daaraan.  Hy tel mense uit hulle ellende op en versorg hulle, gee vir mense genoeg om van te lewe en staan dié teen wat nie saam met Hom barmhartig is nie.

Dié lied is dus ‘n lied wat op jou twee reaksies gaan hê.

  • Dit gaan jou bemoedig en jou inspireer om dié God te dien, om hoop te skep in wat Hy doen, vir jou, vir ander, en self hoop te gee in wat jy doen vir ander.
  • Óf die lied gaan vir jou ‘n struikelblok wees, jou teen die bors stuit, jou vaster laat klou aan jou eie bevoorregting en die beveiliging van wat jy het. En jy gaan dan die kans mis om God se sorg en barmhartigheid te ervaar, en saam met God ‘n verandering aan hierdie lewe te bring.

Maria se loflied staan as die Magnificat bekend, soos ons netnou met Lied 333 gesing het, “Groot is die Heer”. Die Magnificat konfronteer ons met hierdie vier gedagtes:

  1. God sien alle mense raak;
  2. God laat mense nie alleen in hulle nood nie;
  3. God bly getrou aan Homself;
  4. God durf ingryp in publieke, politieke kwessies.

Dit is dan ook die hart van my boodskap vandag.

  1. God sien alle mense raak

Elkeen van die evangelies beeld Jesus op ‘n eie, spesifieke wyse uit. Die Lukasevangelie vertel die geboorteverhaal deur die belangrike plek van vrouens in die storie te beklemtoon. Maria is ook die enigste vrou aan wie Lukas ‘n volle verkondigingstoespraak toestaan.

Lukas skets daarmee vir Jesus as die vriend van buitestanders en uitgeworpenes; die Verlosser wat gestuur is om diegene op te soek en te verlos. Die Magnificat beskryf daarom God as die een wat Hom ontferm oor diegene wat arm, eenvoudig, nietig, en verdruk is.

Maria se lofsang bely dus in die eerste plek God as die God wat alle mense raaksien. Dit is ook die goeie nuus vanoggend. God sien ook vir jou raak.  God sien ook jou mense raak.  Dié boodskap is bedoel om jou bly te maak, om vir jou hoop te verskaf, om jou met meer volharding te bly bid dat dié God julle lewens inderdaad sal verander.

Solank ons net onthou dat God nie net vir jou en jou mense raaksien nie, maar vir alle mense, ook dié wat anders is as jy, wat in net soveel nood as jy is, soms in meer nood as jy.  En ons ook hierdie boodskap hoor as ‘n aanmoediging om met deernis, soos God dit doen, dié wat nood het rondom ons raak te sien.

  1. God laat mense nie alleen nie

Tweedens hoor ons in dié lofsang van die God wat mense nie alleen laat in hulle nood nie. Die meisie, Maria, wat die Magnificat sing, is onbelangrik, arm, en as ‘n swanger, maar ongetroude jong vrou ‘n randfiguur in haar samelewing. Maria se lofsang bely, teen haar omstandighede in, dat God “Verlosser”, en “Saligmaker” is; dat die God wat heilig en magtig is, terselfdertyd besorgd is oor mense en hulle nood.

God los mense nie alleen nie – nie vir Maria in haar eie moeilike omstandighede nie, en ook nie vir Israel wanneer hulle God die nodigste sou hê nie. Bowenal is Maria se loflied ‘n geloofsbelydenis, wat getuig van God se betrokkenheid in die wêreld en in strukture en in mense se lewe. In Maria se loflied vind ons die troos van ‘n jong, arm vrou, ‘n “nobody”, wat bely God skaar Homself by die weerloses.

Die troos van Maria se geloofsbelydenis lê daarin dat God juis met ons identifiseer, by ons staan, ons bemagtig en ons bemoedig, wanneer ons niks het om te bied nie en wanneer ons verdruk, verneder en verraai word. God kies ons wanneer ons die minste is.

En jy kan dié boodskap vandag omarm, want daar is baie van ons wat ek weet, kan identifiseer met verdrukking, met vernedering, met verraad.  Sommige daarvan is persoonlik.  Ander beleef dit in werksituasies.  Ander ervaar dit in die publieke gesprekke.  Hoor dan Maria se lied as ‘n uitnodiging om God te vertrou, want Hy laat ‘n mens nie alleen in jou nood nie.

Die uitdaging van Maria se geloofsbelydenis lê daarin dat God nie net met ons identifiseer nie, by ons staan, en ons bemagtig en bemoedig het, wanneer ons niks het om te bied nie en wanneer ons verdruk, verneder en verraai word nie.  Hy is oral waar nood is, oral waar mag sy mes in het vir die magteloses en die moedeloses.  Dit is baie keer wat ek raaksien in die oë van mense wat swaarkry, dat hulle magteloos en moedeloos voel.

En waar ek dit raaksien, hoeveel te meer nie God self nie?  En as God mense nie in hulle nood alleen laat nie, kan ek myself nie van hulle afskei nie, word ek baie keer die een waardeur God mense nie alleen laat nie. En só weet ek is daar baie van ons gemeentelede.

Theo Havemann het my nou die dag vertel van die pa en sy volwasse twintigjarige dogter wat hy ‘n jaar terug onder kartondose in die reën gesien lê en bibber het.  En die uiteinde van sy barmhartigheid teenoor hulle, sy uitreik om hulle nie alleen in hulle nood te laat nie, het tot gevolg dat albei ‘n jaar later weer gerehabiliteer is, pa en dogter weer werk het, en nou selfs ‘n eie plekkie het om in te bly.

Dit bly een van die grootste kenmerke van hierdie geloofsgemeenskap van ons, ons diens.  Ons is nie bang om betrokke te raak nie.  Ons laat mense nie alleen nie.  Ons leef Maria se loflied.  Maar, dit is iets wat ons moet vertroetel en versterk, iets waarmee ons nooit mag ophou nie, iets wat ons moet uitbou, en iets waarby almal van ons betrokke moet raak.

  1. God bly aan Homself getrou

Derdens, lees ons in Maria se loflied van God wat getrou bly aan Homself, wat niks minder doen as wat Hy reeds in die geskiedenis van Israel gedoen het nie. Dirkie Smit skryf êrens dat God: “altyd, deur die eeue, in elke geslag, vir elke nuwe mens, onder elke nuwe omstandigheid … daar is as die Barmhartige, wat mense in hulle nood aansien, Hom oor hulle ontferm, sy hand uitsteek en magtige dade aan hulle doen”.

Die Christelike godsdiens is immers ‘n historiese godsdiens, d.w.s., dit is ‘n godsdiens wat gebou is op wat God in die geskiedenis van die wêreld gedoen het.  Dit is nie soos die ander Oosterse godsdienste wat van God praat as deel van die sikliese aard van die wêreld nie, en waarin jou unieke plek daarin eintlik van minder belang is nie.

Nee, vir God is elke mens belangrik.  Vir God is dit belangrik om in te gryp in ‘n spesifieke situasie om daar as Verlosser en Barmhartige op te tree.

Dit is waarom die herinnering aan Israel se bevryding uit Egipte, en die teruggryp na elke oomblik waarin God Israel uit nood sou verlos, in Maria se loflied telkens veronderstel word. Want, dit het histories gebeur, dit is verifieerbaar, en dit is ‘n belofte vir vandag en vir die toekoms.

Op hierdie vierde Adventsondag is dít voorwaar goeie nuus!  Dit is nie verniet die Sondag waarin die Liefde van God gevier word nie.  Want, jy kan staatmaak daarop, in jou eie worsteling met allerlei, in jou eie gebede vir verandering, dat God getrou bly aan Homself en dat Hy onthou van sy beloftes, en dat Hy steeds dié beloftes waarmaak. En jy kan staatmaak daarop dat Hy dit vir ander ook waarmaak.

  1. God is polities aktief

Vierdens lees ons in Maria se lofsang van God wat ingryp in publieke kwessies. In die politiek. In die ekonomie, in die geskiedenis. God se werk is nie beperk tot dit wat die kerk (kan) doen nie, hetsy persoonlik of deur ons strukture. Juis daarom is ons teks vandag ‘n gevaarlike teks.

Dit is gevaarlik omdat dit ‘n baie publieke opinie opper oor publieke kwessies, dié dinge wat vandag nog ons samelewings raak; kwessies soos die verdeling tussen ryk en arm, die verdeling tussen magtiges en weerloses, tussen belangrikes en onbelangrikes.

Maria se lied is gevaarlik omdat dit onverskonend partydig is en aan die kant van nederiges, hongeres, en armes staan. Dit is oor hulle wat God Hom ontferm.  Maris se lied is gevaarlik omdat dit weier om stil te bly oor dié knelpunte en ook binne die Lukasevangelie nie deur enige interpretasie gesnoer kan word deur die boodskap daarvan te probeer vergeestelik nie. Lukas praat van armes, werklike armes, nie net van armes van gees nie.

Die oorhoofse tema van Maria se lofsang is duidelik dié van sosiale omkeer en bevryding van die sistemiese ongeregtigheid waaronder mense gebuk gaan, die bevryding van onderdrukking deur politieke leiers en van dié wat arrogant en ryk is.

Ons moet hiervan kennis neem. Geen mens wat baie het, en die nood van sy/haar medemens miskyk, kan dieselfde bly as ons hierdie lied oordink het nie. Ons word genooi om soos God te wees.  Juis in hierdie bekende verhaal – ‘n gunsteling in Advents- en Kerstyd – lê immers ‘n openbaring van God opgesluit; dat Hy mense nie in hulle nood, in hulle weerloosheid alleen los nie. In Maria se belydenis van wie God is, kry ons die God te sien wat by weerloses en gemarginaliseerdes staan.  En word ons aangemoedig om dieselfde te doen.

Maar, dit beteken ook dat jy ‘n oordeel oor jouself voltrek as jy nie soos God optree nie.  Ons mag nie ons oë wegdraai van mense in hulle nood nie. Ons mag hulle nie alleen laat in hulle nood nie.  Ons moet ons deel doen om verlossing en bevryding vir hulle te bring.

Anders sal ons met die oordeelskant van die ontfermende God te make kry wat hoogmoediges in hulle eiewaan uitmekaarjaag, wat maghebbers van trone afruk en en rykes met leë hande wegstuur. Dit is wat Maria se lied sê.

Maar, dit is nie net vir ons persoonlik waar, óf vir ons as kerk waar nie.  Dit is ook waar vir ons land se leiers.  Geen president, of kabinet, wat mag en praal inpalm en op korrupte wyse dinge vir hulleself ten koste van ander versamel, kan hierdie lied lees en rustig slaap nie.  Veral nie as ‘n mens kyk na die afgelope tyd se dwase ekonomiese besluite nie.  Dit het ons land ontsettende skade aangedoen, en sal nog verdere skade bring, soos ons in hierdie waterskeidende week in ons land beleef het.  En dit net ter wille van die finansiële voordeel daarvan vir hulleself en vir dié wat in hulle dampkring is.  Maria se loflied sê onomwonde, God sal ook hier ingryp en ook hier verandering bring.

Maria se loflied bied daarom beide troos én uitdaging. Maria se Magnificat wys heen na wie God is en wat God doen in die lewe van mense, veral weerlose mense, magtelose mense, mense in nood. In Maria se belydenis oor wie God is – háár geloofsbelydenis – vind ons nie nét die troos van God se nabyheid nie, maar ook die uitdaging van God se regverdigheid; nie nét die radikale eis wat op ons lewe geplaas word om te staan waar God staan nie, maar ook die bemoediging dat God die Een is wat deur die eeue heen Homself ontferm oor die armes, noodlydendes, nederiges, swakkes, en weerloses.

LEEF

Gebed

Dankoffer

Jan en Frances Coetzer, Trompet en Franse Horing – Christmas isn’t Christmas

Missionaries from Egypt

Moheb and Kim Mina – Joshua and Matthew

Slotsang

Lied 334 God is liefde juig ons harte – staan

Seën

Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.

Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.

Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.

Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.

Amen.

Respons

Lied 333 Groot is die Heer, groot is die Heer – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.