Skip to main content

Psalm 119 – Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here

Oujaarsdiens 2015

Verwelkoming

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 119:18,19

Terugblik op die land in 2015

Wayde van NiekerkAs ons terugkyk op 2015 is daar waarskynlik verskillende dinge wat vir ons uitstaan.  Sommige dinge was goed.  Ander sleg.  Daar was mylpale wat ons bereik het.  Daar was slaggate waardeur ons gestruikel het.

Vir my was twee van die hoogtepunte: Wayde van Niekerk se 400 meter Wêreldbyeenkoms goue medalje in Beijing met ‘n SA rekordtyd van 43.48 sek. en Anaso Jobodwana se bronsmedalje, ná Usain Bolt en Justin Gatlin in ‘n SA rekordtyd van 19.87.  Daar was ook ‘n besonder goeie prestasie van Carina Horn in die 100 meter vroue by ‘n byeenkoms in Madrid waar sy die SA rekord van 11.06 geëwenaar het met haar derde plek.

Anaso-JobodwanaDit is interessant dat atletiek dié jaar meer opgelewer het as rugby en krieket, hoewel ek nou nie so negatief is oor die Springbokke as die meeste mense nie, maar moontlik selfs nog meer negatief is oor krieket as ander, want dit lyk my regtig ons verloor nou die plot. Sedert die Een dag Wêreldbeker boer ons net van wedstryd tot wedstryd agteruit.

Daar is darem die vooruitsig dat ons in sewesrugby ‘n kans staan om besonder goed te presteer, terwyl ek ook baie jammer voel vir die manshokkie- en vroue-sewesrugbyspanne wat nie Olimpiese Spele toe gaan nie, al het hulle gekwalifiseer.  Ons het darem in swem ook goed gevaar, maar ai, weer nie so goed in sokker nie!

Carina-HornAs ons egter van sport beweeg na landsake is daar regtig vir my min om oor opgewonde te wees. Ek weet Max du Preez sê dat ons die SA glas as halfvol moet beskou, en hy is waarskynlik reg as hy die impak van verskillende negatiewe goed meer positief beoordeel, veral gesien in die impak wat dit op gebeure in 2016 kan hê, bv. met die verkiesing volgende jaar.

Dink egter aan die droogte se uitmergelende uitwerking op ons mense, die onrus op ons kampusse regoor die land, wat vir ‘n wyle bestuur is, maar ons waarskynlik met hernude geweld gaan tref as die universiteite weer begin.  Dink aan die ekonomie en ons drie ministers van finansies binne vier dae … die gebrek aan insig in die impak van besluite bly verstommend.  Ons kan darem nie kla oor die krag nie, wat op die oomblik beter is, hoewel die kernreaktor program tog ook kommer wek.

droogteDie Burger het Maandag egter die opmerking gemaak dat die rampspoedige leierskap van pres. Jacob Zuma die grootste probleem vir ons almal bly.  Soos Bun Booyens sê: “sy duurste fout is waarskynlik nie eens die miljarde wat sy ondeurdagte afdanking van finansminister Nhlanhla Nene die land gekos het nie. Nee, die grootste skade is aan die fondamente van ons demokrasie wat sy onverskillige ingesteldheid teenoor die Grondwet aanrig.”

Bun verwys na Cyril Ramaphosa, wat op ‘n keer benadruk het dat die Grondwet ’n lewende dokument moet wees en dat dit staan of val as geheel – “ons kan nie kies watter dele van die Grondwet ons op ’n gegewe dag of jaar respekteer nie”.

cyril ramaphosa“In tye van emosie en onrus kan ons lus wees om die reëls wat ons so versigtig saamgestel het, op te skeur,” het Ramaphosa gesê. “Maar dit is daardie reëls, en ons toegewydheid om dit te beskerm, wat ons in staat stel om saam te werk om ’n regverdiger samelewing te skep.”

In 2016, sê die Burger, “sal dit juis hierdie uitdaging wees wat toenemend aan die burgerlike samelewing gestel sal word in die stryd om ons demokrasie teen Zuma te beskerm.”

Terugblik op die kerk in 2015

Ek wil hierby aansluit, want dit het my laat dink aan hoe dit met ons kerk gesteld is.  En die ding wat ek al hoe meer in artikels en gesprekke optel, is nie dat ons net verskillende menings oor allerlei het nie, maar dat daar iets dieper verskuild is in ons standpunte oor die Bybel.  Verskille in interpretasie is immers nodig, anders hoe sal ons kan groei in begrip van dit waarop dit regtig aankom.

Maar dit is nie wat ek hoor in gesprekke nie.  Ek hoor nie net verskille in interpretasie nie.  Ek hoor dat ons verskil oor die Bybel self of dit nog enigsins die Woord van God is.  Ek hoor dat ons eie Grondwet in gedrang is, die Bybel.

Een teoloog het stellig hierdie jaar verklaar dat die Bybel verkeerd is oor ‘n hele aantal sake – vroue, slawe, gays – en dat ons nie meer bang moet wees om dit te sê nie.  Paulus was verkeerd en moontlik selfs Jesus.  ‘n Ander teoloog skryf dat die NT die OT as die Woord van God vervang het en dat die kerk die NT op dieselfde wyse nou as die Woord van God vervang het.  Ons weet vandag beter wat God sê as wat die apostels en profete van die Bybel geweet het.  Dit is nie meer Sola Scriptura– alleen die Bybel – nie, maar Sola Ecclesia – alleen die kerk.

Ons grondwet is in gedrang, die Bybel

bibleOns grondwet is dus in gedrang, die Bybel as die Woord van God. Dit is immers ook só dat die Bybel, nes die Grondwet, ’n lewende dokument moet wees waaruit ons daagliks inspirasie put en God se stem vir ons lewe hoor.  En ‘n mens kan nie kies watter deel jy wil gehoorsaam en watter nie, watter van toepassing is, en watter nie. Die Bybel staan of val as ‘n geheel.  Ons kan ook nie kies watter dele van die Bybel ons op ’n gegewe dag of jaar respekteer nie.

In Ramaphosa se woorde uitgedruk: “Ons kan in tye van emosie en onrus lus wees om die riglyne wat die Here in die Bybel so versigtig vir ons saamgestel het, op te skeur.  Maar dit is daardie riglyne, en ons toegewydheid om dit te beskerm, wat ons in staat stel om saam te werk om die koninkryk van God te laat kom.”

Want, dit is waarom dit in die Bybel gaan.  Dit gaan oor God se koninkryk wat op alle terreine van die lewe moet kom. Die Bybel is God se manifes, sy grondwet, sy inspirasie om sy koninkryk te laat kom.  En ons kan nie “pick and choose” watter dele daarvan ons gaan nakom, en watter nie.  Die Bybel as die Woord van God is ‘n pakket.  Dit is ‘n eenheid.  Elke deel daarvan, ook dié dele wat ons teen die bors stuit, dié dele wat ons ongemaklik maak, dié dele wat ons eintlik wens nie daar gestaan het nie, ook dié dele is op ons van toepassing, en deel van die Woord van God.

Hoekom is dit só belangrik?

Want, Psalm 119 sê, dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.  Só het ek die 176 verse van die langste Psalm dié jaar in die Bybelskool opgesom.  En ek staan steeds daarby: “Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.”

En ek wil daarom die Woord van die Here aan julle bedien uit Psalm 119.

Psalm 119

Psalm 119 is natuurlik eenvoudig ‘n letterkundige juweel.  In ‘n verstommende akrostiese kragtoer begin elke opeenvolgende groep van agt verse elke keer met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse konsonante alfabet. Dit gee 22 kleiner eenhede, aangedui met die Hebreeuse konsonante: ALEF, BET, GIMEL ens. Elkeen van dié eenhede beskryf en besing die wonder van God se woord aan sy mense.  Neem gerus die Psalm en lees dit in ‘n drie weke stukkie vir stukkie deur om die impak van dié boodskap tot sy reg te laat kom in jou lewe.  Jy kan dit met my begeleiding doen by bybelskool.com.

Hierdie uitnemende Psalm besing die openbaring van God in sy wet soos vers 1 dit aandui.  Daarmee word egter nie net die wet as sodanig verheerlik nie, maar alles wat God van Homself aan die mensdom openbaar het.  Daarvan getuig die agt woorde wat Ps. 119 gebruik vir God se openbaring wat eintlik as sinonieme vir mekaar optree.  Ek gee dit weer met die keuse van die NAV en BDV vertaling (met die Hebreeuse woord en ‘n Engelse vertaling daarvan in hakies):

  • woord/wet (torâh – 119:1,29 – “law”),
  • verordeninge/bepalings (‘edût – 119:2,14,22,24,31 – “rules” of “testimonies”) – ek verkies eintlik die woord getuienisse as vertaling hier, soos dit in die OAV was.
  • bevele/opdragte (piqqûdîm – 119:4,15,27 – “precepts”),
  • voorskrifte (huqqîm – 119:5,12,8,16,23,26 – “statutes”),
  • gebooie/bevele (mizwôt – 119:6,10,18,21,32 – “commandments”),
  • bepalings/regverdige beslissings (mishpâtîm – 119:7,13,30 – “judgments”),
  • woord (dâbâr – 119:9,16,17,25,28 (BDV het belofte) – “word”),
  • beloftes/woord (‘imrâh – 119:11 – “utterance”).

Hiermee bevestig die Psalmis wat alreeds in Psalm 1 gesê is: God se woord is die sentrum van die lewe, dié ding wat jou nie net soos ‘n boom geplant langs watervore maak en laat gedy nie, maar sorg dat jy die pad (dêrêg – ‘n woord wat ook gereeld in Psalm 119 voorkom!) van die regverdiges kan bewandel.

Ek gaan net die veertiende deel van dié Psalm lees as ‘n lusmaker en bevestiging van die sentrale belang van die Woord van God.  En let op dat dié gedeelte van gehoorsaamheid praat ten spyte van gevaar.  Die Psalmis het geweet dat die Woord belangrik is, maar ook geweet dat gehoorsaamheid daaraan teengestaan sal word.

Psalm 119:105-112

Psalm119-noenKom ons lees dit:

105U woord is die lamp

wat my die weg wys,

die lig op my pad.

106Ek het ’n eed afgelê,

en daarby sal ek bly,

om my aan u bepalings te hou;

hulle is regverdig.

107Ek ly swaar, Here,

hou my in die lewe, soos U beloof het.

108Neem tog my dank aan, Here.

Leer my u bepalings.

109My lewe is gedurig in gevaar,

maar u wet verontagsaam ek nie.

110Die goddeloses stel vir my ’n strik,

maar van u bevele wyk ek nie af nie.

111U verordeninge maak ek altyd my eie,

want hulle is vir my ’n vreugde.

112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte

altyd uit te voer,

tot die einde toe.

Twee opmerkings

  1. GOD SE WOORD IS ‘N LAMP VIR JOU VOET EN ‘N LIG VIR JOU LEWENSPAD (119:105).

Hierdie eerste vers van die veertiende deel van hierdie Psalm is seker een van die meer bekende verse in die hele Psalm 119.  En dit is die eerste boodskap aan ons.  God se woord is ‘n lamp vir jou voet en ‘n lig vir jou lewenspad.  Hoekom?  Want God se woord bring vir jou insig en gee vir jou rigting in die lewe.  Daarom moet jy alles in die stryd werp om daaraan gehoorsaam te wees.  Soos die Psalm sy getrouheid aan die Woord met ‘n eed bevestig en daarby hou, só moet jy dit ook doen.

Daar is niks wat by die impak kom wat die Woord van God in jou lewe kan maak nie.  Daar is niks wat kom by die insig wat God se Woord vir jou gee om sy wil te doen nie.  Daar is niks wat by die rigting kom wat God se Woord vir jou kan gee om te weet waarheen jy jou lewe moet rig nie.

  1. KIES OM ONWRIKBAAR GEHOORSAAM AAN GOD SE WOORD TE WEES.

In die tweede plek is dit merkwaardig dat die Psalmis dié gehoorsaamheid vol hou, selfs al kry hy swaar in sy gehoorsaamheid aan die woord van God.  Hy kom God se Woord na, omdat hy aan God getrou wil bly.

Let ook op hoe hy hom ook verlaat op God se belofte en Hom smeek: “maak my lewend volgens u woord!” (119:107). God se Woord is immers ‘n krag wat lewe bring in ‘n mens se lewe.  Maar, in sy smeekgebed om uitkoms, bly die Psalmis egter steeds getrou daaraan om die Here te gehoorsaam en met alles in hom die Here te bly loof: “Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees.” (119:108).

Vers 109 is vir my ‘n besondere getuienis van die Psalmis se onwrikbare keuse om gehoorsaam te wees. Dit lui letterlik: “My siel/lewe (is) in my hande/handpalms voortdurend/gedurig, en/maar u wet vergeet ek nie.”  Die NAV vertaal pragtig op dinamiese wyse: “My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie.”  Die NIV vertaal dit selfs vir my nog beter: “Though I constantly take my life in my hands, I will not forget your law.”

Die vers dra dus die betekenis dat die Psalmis op berekende wyse aan God se wet getrou bly, ten spyte van die feit dat dit hom in gevaar bring.

Dié gevaar is veral van die goddelose – die mense wat deel van die geloofsgemeenskap is, maar nie die Here dien nie – wat vir hom strikke stel, maar hulle versteur nie die verbintenis aan God wat hy gemaak het nie.  Die Here se openbaring is sy “blywende erfporsie” waarop hy altyd fokus om dit sy eie te maak.  Dit is die vreugde van sy hart.  Hy sal altyd daaraan getrou bly: “vir altyd, tot die einde toe.

Onthou dus dat die Woord die lamp is vir jou voet en die lig vir jou lewenspad.  En bly daaraan getrou en gehoorsaam, kom wat wil.  “Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.”

Ek sluit met die verhaal wat hierdie jaar waarskynlik die grootste impak op my lewe gehad het. Ek het dit al in ‘n erediens vertel, maar wil dit graag weer deel as ‘n aanmoediging en inspirasie vir jou eie pad wat jy met die Here loop.

Dmitri

Die verhaal van Dimitri is ‘n roerende verhaal soos vertel deur Nik Ripken (luister na die verhaal by hierdie skakel).

Dmitri het grootgeword in die tyd toe die kommunisme dit baie moeilik gemaak het vir gelowiges en veral kerke om in Rusland te oorleef.  Sy pa het hom nog kerk toe geneem en geleer om die Bybel te lees en die liedere te sing van hulle kerk, maar dit het toenemend moeiliker geraak om kerk toe te gaan, omdat die regering die kerke toegemaak het.

Later was dit vir hom en sy gesin, vrou en twee kinders, net moontlik om een of twee keer ‘n jaar kerk toe te gaan.  Hy was ‘n fabriekswerker en die naaste kerk was later drie dagreise ver.

Hy het egter besluit om die Bybelverhale vir sy kinders te lees en só die Bybelse boodskap lewend vir hulle as gesin te hou.  Dit was groot pret en die seuns het lustig deelgeneem om ook self die verhale te vertel, en die liedere wat hulle pa hulle geleer het, te sing.

Gou het van die bure besluit om saam te kom luister, sodat hulle later ‘n groep van so 25 was wat een keer ‘n week saamgelees en gesing het.  Die owerhede het bewus geraak daarvan, hom gewaarsku, en uiteindelik het hy sy werk verloor toe die groep so 50 sterk was. Maar, hulle het voortgegaan al het ook sy vrou haar werk as onderwyser verloor en die kinders uit die skool geskop is.  Dmitri praat daarvan as “klein dingetjies” wat met hulle gebeur het.

Een aand was daar al 75 mense ingedruk in die huisie, skouer teen skouer, wang teen wang, om waar Dmitri op ‘n stoel gesit het na die Bybelverhale te luister.  Die polisie het ingebars en hom baie hardhandig beveel om op te hou, anders sal dit hom suur bekom. ‘n Klein oumatjie het nie op haar laat wag nie, en soos ‘n OT profeet van ouds haar vinger vir die polisieman geswaai en gewaarsku dat hy nou aan die gesalfde van die Here raak en dit nie sal oorleef nie.  Twee dae later is dié polisieman aan ‘n hartaanval dood.

Ontsag het die dorpie aangegryp en die volgende geleentheid was daar 150 mense wat kom luister het.  Die owerhede het egter ingegryp en hom in ‘n tronk so 1000 km verder vir 17 jaar opgesluit.  Daar het Dmitri dit swaar gehad.  Hulle het hom gespot en gemartel, om hom tot insig te bring dat daar nie ‘n God is nie, en dat geloof sinneloos is.

Twee geloofsgewoontes het hom egter standvastig gehou in die tronk.

In die eerste plek was daar ‘n Lied wat sy pa hom geleer het, ‘n Lied van die hart (HeartSong), wat hy elke oggend op aandag langs sy bed met sy twee hande na die ooste gerig, gesing het, selfs al is hy male sonder tal geslaan en gespot deur die wagte en die 1500 geharde misdadigers in die tronk.

In die tweede plek was daar die tekste uit die Bybel wat hy op stukkies papier geskryf het, as hy dit enigsins in die hande kon kry, en dan as offer aan die Here geplak het op ‘n nat pilaar in sy klein tronksel, so hoog soos hy kon bykom, en dan die Here geloof het.  Ook dié Bybeltekste is telkens afgeruk en hy is gemartel daaroor en met die dood gedreig.

Een dag het hy ‘n A4 bladsy in die hande gekry en vol geskryf met tekste uit die Bybel, geplak op die pilaar en die Here geloof.  Die bewaarders het egter ingestorm, hom ernstig aangerand en gewaarsku dat dit moet end kry.

Dit het hulle geïnspireer om die ondenkbare bose ding te doen, om klere van sy vrou te laat haal uit sy huis, ‘n vrou van die straat af in te bring, haar daarmee aan te trek, en hom onder die illusie te laat dat hulle haar nou ook in die tronk het.  Hulle het haar oor drie dae gemartel terwyl hy dit kon aanhoor, sonder dat hy geweet het dit is nie sy nie.  Na drie dae het hulle haar “lyk” uitgedra terwyl hy dit uit die verte kon sien.

Dmitri was stukkend en het verklaar dat hy sy geloof sal afsweer.  Hulle kan die volgende dag vir hom papiere bring dat hy sy geloof kan afsweer, sodat hy na sy kinders kan gaan omsien.  Hy was al 17 jaar daar, en dit het vir hom net te veel geword.

Dié aand het hy absoluut uitgemergel in sy tronksel gesit, toe daar ‘n wonder gebeur.  Sy familie het om die stoel waarop hy gesit het om die Bybelverhale te vertel, gekniel in hulle huis en vir hom gebid.  Hulle het net geweet, iets drasties is verkeerd, en Dmitri het gebedsondersteuning nodig.  Hoe weet ‘n mens nie, maar Dmitri vertel, hy het skielik in sy moedeloosheid en uitputting hulle stemme hoor bid.  Hy het onmiddellik moed geskep, geweet sy vrou is nie dood nie, dat die Here hulle nie versaak het nie, en die volgende oggend geweier om enigiets te teken.

Die bewaarders was op vir Dmitri en het hom uit sy sel gesleep om hom aan die galg buitekant die tronk te gaan ophang.  En skielik gebeur die verdere wonder.  Soos een man het die ander 1500 gevangenes in die tronk hulle hande na die ooste gelig en Dmitri se lied van die hart begin sing.

Vir Dmitri het dit geklink soos ‘n engelekoor.  Die wagte het ontsteld hom gelos en gevra: “Maar, wie is jy?” Waarop hy geantwoord het: “Ek is ‘n seun van die Lewende God, en Jesus is sy Naam!

En net ‘n tydjie later is hy vrygelaat en met sy familie herenig.

Jy kan hier na ‘n weergawe van Dmitri se hartlied in Russies luister, met ‘n Engelse en Afrikaanse vertaling daaronder (Die eerste reël van die Russies is my eie weergawe van die klankbaan en Google Translator af, so dit moet nog gekorrigeer word! – dit is ook op CD beskikbaar):

O, Bože, Bože, daj mi sily

Za blizhnikh dooshoo pologat’

Ee v serdtse vechna do mogheeli

Vrughghum obeedhee vse proshat’

Ee v serdtse vechna do mogheeli

Vrughghum obeedhee vse proshat’

Poost’ cumnee v grood’ moyu brosayoot

Ne preeznavaya choostv svyatikh

Poost’ nevaveedyat, prokleenayoot

Ya dooshoo polozhoo aza neekh

Poost’ nevaveedyat, prokleenayoot

Ya dooshoo polozhoo aza neekh

Oh God, God, give me strength
To lay my soul down for those close to me (my neighbours)
And in my pure heart to the grave
To forgive all wrong doings of my enemies

Let them throw stones at my chest
Not recognizing the feelings of saints,
Let them hate, curse –
I will lay down my soul for them

O God, God, gee my krag

Om my siel neer te lê vir die naby aan my

En in my rein hart na die graf

Te vergewe al die verkeerde dade van my vyande

Laat hulle klippe teen my bors gooi

Sonder om die gevoelens van die heiliges te erken

Laat hulle haat en vervloek –

Ek sal my siel neerlê vir hulle.

Die verhaal illustreer vir ons nie net die barmhartigheid van God wat vir Dmitri staande gehou het in die tronk nie, hom sterk gemaak het om lief te bly vir sy vyande tot die end nie, maar ook die belangrike funksie van geloofsgewoontes – liedere en Bybeltekste.  Om die waarheid te sê, soos Nik in ‘n ander konteks skryf, geloofsgewoontes is gemik daarop om jou vir swaarkry dae voor te berei.  Jy kan nie iets in swaarkry beoefen wat jy nie daarvoor ingeoefen het nie.  Jy kan nie iets in die tronk inneem, wat jy nie vóór die tronk ingeoefen het nie, by wyse van spreke.

“Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.”

Slotsang

Psalm 119:26,27

Seën

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.