Skip to main content

Wie is jy? – Efesiërs 2:1-10

Pulse 14 Maart 2021 (vroeg 06:00)

Wie is jy?

Ek het die fliek Overcomer so ‘n jaar terug gekyk. Ek kan dit sterk aanbeveel. Die fliek begin by ‘n groot krisis wat ‘n dorpie tref. ‘n Dorpie met die naam Franklin.

John Harrison is die afrigter van die basketbal span by Brookshire Christian School. Hy is baie opgewonde oor wat vir sy span die volgende seisoen voorlê. Hulle het die eindstryd gehaal en naelskraaps verloor. Hulle behou egter die meeste van hulle spelers. Volgende jaar moet hulle jaar wees.

Dan tref ‘n tragedie die gemeenskap van Franklin. ‘n Groot fabriek maak toe. Mense verloor hulle werk en begin weg te trek. Dit laat die skool met te min spelers vir die volgende seisoen. Die skool verloor ook onderwysers.

So wat doen jy as jy skielik nie meer spelers het vir jou basketbal span nie? Wat doen jy as jy dramaklasse moet afrig omdat daar nie meer onderwysers is nie? Wat doen jy as jy net een atleet het, Hannah Scott? ‘n Probleemkind. Met asma. Wat landloop wil hardloop.

Wel, soos die fliek ons vertel, jy moet terug na die basics. Gelukkig ontmoet John vir Thomas, ‘n voormalige goeie atleet. En Thomas leer vir John om te begin met die vraag: “Wie is jy?

Thomas vra vir John reguit. As jy sê jy is ‘n Christen, ‘n kind van God, wat is God se posisie in jou lewe? Watter prioriteit het God in jou lewe? Hoe belangrik is jou Christenskap vir jou? As jy sê jy gaan bid vir iemand, en jy doen dit nie, wat sê dit van jou? Is jy nie dan maar net skynheilig nie?

En in die fliek is dit waar die verandering kom. Vir John. Vir sy gesin. Vir Hannah wat met asma en al ‘n uitstekende atleet word. Kyk die fliek. Dit is die moeite werd.

Kyk veral hierdie clip waar Hannah die vraag beantwoord: Ask me who I am.

Ek wil vir jou dieselfde vraag vra: “Wie is jy?”

Wie is ek?

Iemand het my die vraag gevra in my graad 11 jaar. Ek was deel van die kerk. Ek het die kategese bygewoon. Ek het twee keer ‘n Sondag kerk toe gegaan. Ek het Bybel gelees. Selfs Bybelstudie gedoen. Kort gebede gebid.

Ek het myself as ‘n Christen beskou. Ek gaan dan kerk toe.

Maar, diep in my was daar ‘n worsteling. Ek het maar saam met die stroom gegaan. Ek het selfs ja gesê toe van die seniors gevra het of ek ‘n kringleier vir die CSV sal word. Maar, ek het ‘n knaende onsekerheid gehad of ek regtig ‘n kind van God is.

Op die kamp vra die leier, Gawie Eksteen, vir ons die eerste aand. Julle is nou kringleiers, maar, “Wie is jy regtig?” “Julle wil vir ander van die Here vertel. Maar, ken jy Hom?” Dit het my soos ‘n voorhamer getref. Ek was nie seker nie.

Gawie het gesê ons moet daardie aand seker maak. Hy het vir ons ‘n teks uit Johannes gegee:

“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” (Joh 1:12)

Ons was in Jonkershoek in die berge by Stellenbosch. In ‘n tentekamp. Ek het gaan kniel in ‘n leë tent. En vir die Here gesê. Ek weet van Hom van kleins af. Maar, ek is nie seker dat ek sy kind is nie. Ek wil Hom nou aanneem as my persoonlike God en Here. Ek het my sonde bely en sy vergifnis aanvaar.

En van daardie oomblik af was my lewe anders. Ek het diep binne-in my ‘n sekerheid gekry dat ek ‘n kind van God is. Dat ek die Here nou kan volg. My Bybelstudie was anders. My gebede was anders. Ek het die krag van die Heilige Gees op verskillende maniere begin ervaar. Veral met antwoorde op gebede.

Dit was in 1974 en die Jeug-tot-Jeug aksie het ook by ons skool ‘n draai gemaak. Ons het begin met kleingroepe. Ons het begin met ‘n koffiekroeg. Ons het meer as ‘n 100 kinders in gebedsgroepe gehad by die skool in tweede pouse. Die Here het drie van my klasmaats geroep om predikante te word. Ook vir my.

My hele lewe het verander toe ek besef wie ek is, ‘n kind van God.

Dit is waaroor Paulus skryf in sy brief aan die Efesiërs.

Efesiërs 2:1-10

God maak ons Lewe Nuut

1–2 Julle het baie verkeerde dinge gedoen voordat julle Christene geword het. ’n Mens kan amper sê julle was dood vir God. Julle het julle mos net so min aan God gesteur soos wat ’n dooie mens doen. Julle het alles gedoen wat die duiwel vir julle sê. Daar is nou nog mense wat nie vir God wil luister nie en wat so leef.

3 Eintlik het ons almal so geleef. Ons het verskriklik baie verkeerde dinge gedoen—sommer enigiets waarvoor ons lus was. As ons aan iets leliks gedink het, het ons dit gaan doen. God sou ons moes straf omdat ons kort-kort verkeerd gedoen het.

4–7 Maar God was verskriklik jammer vir ons. Hy het ons baie lief. Daarom het Hy besluit dat Hy ons gaan help om nie meer verkeerd te doen nie. Hy het ook besluit dat Hy ons lewe weer splinternuut gaan maak. Hy het dit gedoen deur Jesus in ons plek aan die kruis te laat sterwe. Nou kan ons weer sy vriende wees. God was so goed vir ons al het ons dit eintlik nie eens verdien nie. Maar daar’s nog beter nuus. God het ook vir ons ’n plek in die hemel gegee. Nou kan ons vir altyd saam met God wees. Mense wat ná ons gebore word, sal ook kan sien hoe goed God vir ons is. As jy wil weet hoe lief God die mens gehad het, kyk dan net na wat Jesus alles vir ons gedoen het.

8–10 ’n Mens wonder soms hoekom God ons gered het. Hy het ons gered omdat Hy baie goed is vir ons en omdat Hy ons sy vriende wil maak. Geen mens kan homself van sy sondes red nie. Dit is net God wat dit kan doen. En God red ons ook nie omdat ons gaaf en oulik is nie. O nee! Ons verdien dit glad nie dat Hy ons red nie. Dit maak dat ons ook nie kan loop en spog en dink ons is beter as ander mense nie. Ons het mos nie onsself gered nie. Dit is nou vir ons baie lekker om God se hart bly te maak. Maar dit is God wat ons sy kinders gemaak het. Hy help ons nou om mooi dinge te doen. Ons weet mos dit is wat God wil hê ons moet doen. (Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan)

Ek wil graag twee goed beklemtoon in hierdie gedeelte.

1. “Julle was dood …”

“Julle was dood …” Dit is wie jy is as jy nie na God luister nie. Dit is wie jy is as jy die heerser van hierdie wêreld dien, die duiwel, die gees wat nou aan die werk is in die wêreld. Dit is wie jy is as jy net doen wat jou begeertes vir jou sê.

God laat nie met Hom speel nie. Sy straf rus op mense wat nie na Hom luister nie, wat net doen wat hulle begeertes vir hulle voorsê.

Onthou, Paulus was self baie godsdienstig. Hy het gedoen wat die wet sê. Hy was ‘n goeie Jood. Maar, hy het die Here Jesus vervolg. Daarom was ook hy dood. Verlore. Op pad na die hel toe.

Totdat Jesus vir hom op die pad na Damaskus – daar in Sirië – gekonfronteer het. Daar het skielik ‘n lig uit die hemel verskyn. Jesus het met Paulus gepraat. Hy het vir Paulus oortuig dat Paulus nie meer ‘n kind van die duiwel moet wees nie, maar vir Jesus moet volg.

En Paulus het geluister. Sy binnekant het verander. Sy sondes is vergewe.

En Paulus het hierdie boodskap gebring na die Efesiërs. En hulle het dit ook aanvaar. Kinders van God geword.

Dit is soos die ID wat jy op sestienjarige ouderdom kry. Met jou naam en van, ‘n foto, ‘n nommer. Dit sê vir enigiemand wat daarna vra wie jy is. En jy kan die ID gebruik om jouself te identifiseer. Jy kan dit as bewys gee dat jy is wie jy sê jy is.

God het nou vir jou ‘n geestelike ID gegee. Jy is nou nie meer net Chris van Wyk nie. Jy is Kind van God. Vir enigiemand wat vra, kan jy sê wie jy is.

En nou herinner Paulus hulle hieraan. Hy sê, onthou wie julle is. Onthou wat op julle geestelike ID staan. Julle is kinders van God. Julle is nie meer kinders van die duiwel nie. Julle moet sterk staan en nie weer verlief raak op julle slegte begeertes nie.

Jy sien, ‘n mens maak nie die keuse vir die Here net een keer in jou lewe nie. Jy maak die keuse elke dag. Om óf jou eie sondige begeertes te volg, soos die duiwel jou voorsê. Of om die Bybel te gehoorsaam, soos die Gees van die Here jou lei.

Dit is die eerste deel van die boodskap vir julle. Sonder dat jy lewend gemaak is in Christus gaan jou geestelike lewe nooit aan die gang kom nie. Sal jy nooit oorwinning oor sondige begeertes en gedagtes ervaar nie.

2. Jy is God se handewerk

Maar, om die Here Jesus aan te neem, om ‘n kind van God te word, is ook maar net die begin van die pad. Iets waaraan ons van tyd tot tyd herinner moet word, maar waarby ons nie kan stilstaan nie. Want, Jesus verlos ons om in ons ‘n proses te begin van vernuwing sodat ons werklik sy handewerk, sy meesterstuk, sal word.

Dit is wat ons lees in vers 10. ’n Mens kan vers 10 ook soos volg vertaal:

“Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”

Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe. Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie. Ons hoor by God in sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.

Dit het direkte persoonlike implikasies. Jy hoef nie op te maak vir wat jy verkeerd gedoen het in die verlede nie. God het jou nuut gemaak om nou vir Hom te leef.

‘n Goeie illustrasie daarvan is die wyse waarop die besonder kunstige saris gemaak word wat elke bruid in Indië op haar troudag wil dra. Veral dié in Varanasi waar nog van die handgeweefde tradisies nog oorleef.

Elke sari is ‘n kunswerk. Met skouspelagtige kleure. Die rooiste rooi. Die blouste blou. Die groenste groen. Met egte goud en silwer drade.

Al hierdie kleure word verweef in asemrowende patrone deur ‘n pa- en seunspan. Die pa sit op ‘n platform met groot spoele van die gekleurde drade binne sy bereik. Hier is ‘n video van die proses aan die pa se kant. Die seun sit op die vloer.

Die pa-en seunspan buig vooroor. Hulle vingers beweeg vinnig. Hulle oë gefokus op die patroon wat met elke skuif van die shuttle gemaak word.

Stukkie vir stukkie raak die ontwerp sigbaar. Die pa het die drade in sy hand. Hy beheer die proses. Telkens knik hy sy kop, en die seun skuif die shuttle van die een kant na die ander. Nog ‘n paar drade in sy hand. Nog ‘n knik, en elke keer reageer die seun deur die shuttle te skuif.

Die seun het ‘n baie makliker taak. Hy kan maklik verveeld raak. Hy het net een taak. Hy moet die shuttle skuif soos op bevel van sy pa.  Hy moet die pa vertrou dat die patroon gaan werk.

Die pa het die moeiliker werk. Hy moet die hele tyd die ontwerp in gedagte hou terwyl hy die drade van die verskillende spoele hanteer. Maar, sy vaardigheid blyk uit die kunswerk wat uit die hande van die seun na vore kom. Sonder die seun se gehoorsaamheid kan die sari nie geweef word nie.

Dit is hoe God ook met ons werk. Hy hou die drade in sy hand. Met elke knik van sy kop – soos ons die Woord lees, soos ons die Gees se leiding ervaar – kom sy plan met ons lewe na vore. Elke draad maak saak. Elke draad het ‘n spesifieke doel.

En Hy doen dit met elkeen van ons. Hy span ons in. Ons is besig met God se uitnemende projekte. Trouens, ons lewens raak sy meesterstukke.

God het ‘n werk vir jou om te doen

God het vir jou ‘n werk om te doen. God het ‘n werk vir my om te doen. Uitnemende projekte. Dinge wat pas by ons as God se handewerk.

Dink vir jouself. As jy voltyds werk vir iemand, kan jy nie in daardie tyd ander werk doen nie. Jy word betaal vir daardie werk. Net so in jou geestelike lewe. Jy doen wat God vir jou uitgesit het om te doen. Wat Hy lankal besluit het dat jy moet doen. Dit gaan oor jou unieke gawes.

Vind uit in sy Woord deur gebed wat dit vir jou inhou. En leef as God se handewerk.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.