Skip to main content

Geesvervulling en gehoorsaamheid – Efesiërs 5:15-20

Ek fokus vandag op die werk van die Gees soos Paulus dit vir ons in Efesiërs uitlê, meer spesifiek in hoofstuk 5:15-20 waar hy oor die vervulling deur die Gees praat.

Gewoonlik fokus ek op ‘n perikoop en lê dit uit sodat ‘n mens die boodskap van die gedeelte kan toepas in jou lewe. En ek gaan dit ook vandag doen.

Maar, ek gaan begin deur eers ‘n dwarssnit deur Efesiërs te gee en te fokus op die werk van die Gees wat ons regdeur die brief lees. Ek gaan dan Efesiërs 5:15-20 gebruik om die praktyk van hierdie lewe saam met die Gees uit te spel. Ons moet leer dat Geesvervulling lei tot gehoorsaamheid; en dat gehoorsaamheid lei tot Geesvervulling.

English Translation: Ephesians 5

Verwelkoming

Aankondigings

Corné du Plooy – PowerPoint wys voor die begin van die diens

Geestelike vorming in die gemeente

Huidige aanbiedinge

In beplanning

  • Wie is God? – YouVersion – dit is gister goedgekeur; min of meer 27 Maart word dit vrygestel
  • Veritas – 4 modules: Paulus se briewe; Narratiewe in die OT; Wysheidsliteratuur en Psalms; Evangelies en Openbaring – behoeftes: vlg week vraelys
  • Gemeente – persoonlike stiltetyd en kleingroepe – lys julle behoeftes: vlg week

Kommunikasie

Onthou om in te teken by een van ons kommunikasie instrumente:

  • Nuwe Whatsapp groep vervang voriges – skakel hier in (en verlaat vorige groepe).

Heilige Week

Stasies van die kruis! Ons benodig nog twee vrywilligers om in die week stasies te maak.

Toetrede

Flam 112 Ek roem u Naam – sit

Flam 318 Ek nader tot u Here – sit

Votum en seëngroet

Lofprysing

Psalm 148:1, 6, 7, 9  Prys uit die hemele die Heer – staan

Verootmoediging

Lied 391:1, 2, 5  Vervul, o Heer, my hart, met stille wyding – sit

Gebed

Skriflesing en Prediking

Inleiding

Ek fokus vandag op die werk van die Gees soos Paulus dit vir ons in Efesiërs uitlê, meer spesifiek in hoofstuk 5:15-20 waar hy oor die vervulling deur die Gees praat.

Gewoonlik fokus ek op ‘n perikoop en lê dit uit sodat ‘n mens die boodskap van die gedeelte kan toepas in jou lewe. En ek gaan dit ook vandag doen.

Maar, ek gaan begin deur eers ‘n dwarssnit deur Efesiërs te gee en te fokus op die werk van die Gees wat ons regdeur die brief lees. Ek gaan dan Efesiërs 5:15-20 gebruik om die praktyk van hierdie lewe saam met die Gees uit te spel. Ons moet leer dat Geesvervulling lei tot gehoorsaamheid; en dat gehoorsaamheid lei tot Geesvervulling.

Dwarssnit

1. In Efesiërs 1 het Paulus die gelowiges herinner aan die werk van die Gees met hulle redding. Hulle is as God se eiendom verseël met die Heilige Gees (Ef 1:13-14).

113In Hom is julle… verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. 14Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom…

Die Gees het sy intrek in hulle lewe geneem as die waarborg dat hulle nie net aan God behoort nie, maar dat hulle ook alles wat God in die Skrifte beloof, sal ontvang. Let op dat ons “in Hom” – dws in Jesus Christus – verseël is. Dit is die Gees wat jou in Jesus Christus hou. Wat aan jou die volharding skenk wat nodig is om in Christus te bly.

In die tussentyd gee God ons ook deur sy Gees al die wysheid en kennis wat ons nodig het om vir Hom te kan leef (Ef 1:17-23). Jy is “in Hom”, en jy ontvang alles wat jy nodig het, en jou toekoms is verseker!

Ons moet nooit die wonder van hierdie verlossing onderskat nie. God se krag is aan die werk in ons. Ons moet ons elke oomblik van elke dag daaroor verheug.

2. In Efesiërs 2 het Paulus die gelowiges egter herinner aan die werk van die gees wat in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, die bose heerser van hierdie bedeling, wat in stryd is met dié verlostes (Ef 2:1-6).

21Julle was dood deur die oortredings en sondes 2waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid… Maar God… het ons, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!

Hulle is juis verlos van sy mag, sodat hulle in ‘n nuwe lewe kan vasstaan.

Ons moet nooit die uitdaging van hierdie wêreld onderskat nie.

3. Maar, in dieselfde hoofstuk herinner Paulus ons aan die vrye toegang wat ons deur die Gees het tot die Vader (Ef 2:18), die Een wat oor alles heers.

28Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees.

God is ook besig om deur die Gees vir ons saam met al die ander gelowiges tot ‘n huis vir God op te bou, ‘n plek waar Hy met alles wat Hy is en bring, woon.

Ons moet hierdie toegang elke dag benut. Ons sal net oorwin in die stryd van hierdie lewe as ons op God se krag staatmaak. En ons kan enige tyd van enige dag by Hom aanklop.

4. In Efesiërs 3 praat Paulus oor die bron van hulle sekerheid en herinner die gelowiges daaraan dat die Gees praat deur die apostels en profete, die Woord van God (Ef 3:5-6).

35Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, 6naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is.

In Efesiërs 6 sal Paulus die Woord van God die swaard van die Gees noem (Ef 6:17). Hy het ons almal deel van dieselfde liggaam gemaak.

Dit is waaroor Vian verlede week gepreek het. En ek gaan verder daarby aanhaak.

5. Paulus brei ook in dieselfde verse uit Efesiërs 3 uit oor die funksie van die Gees om gelowiges uit verskillende agtergronde tot ‘n eenheid saam te snoer, iets wat hy in Efesiërs 4 weer sal herhaal (Ef 4:4).

Dit is ‘n eenheid wat gestalte kry soos ons in liefde aan die waarheid vasklou, soos Paulus in Efesiërs 4 sal uitlê.

6. Paulus gaan in Efesiërs 3 ook terstond oor tot ‘n gebed waarin hy die Here vra die krag van die Gees in ons binnekant losgelaat sal word (Ef 3:16-19).

316Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word,

Met die effek dat ons tot die volheid van God self vervul kan word.

7. In Efesiërs 4 moedig Paulus die gemeente van Efese aan om die Gees van God nie te bedroef nie (Ef 4:30).

430En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie.

Dié Gees is gegee vir ons met die oog op ons bevryding.  Hy wil ons heilig maak net soos Hyself heilig is.

Hy nooi hulle dus uit om saam te werk met die Gees wat hulle bevry het, wat hulle God se eiendom gemaak het, en wat kragtig in hulle werk.

8. En in Efesiërs 5 spel Hy uit hoe ons met die Gees kan saamwerk. Hy sal in Efesiërs 6 ook nog uitbrei oor hoe ons in die Gees kan bid, maar ons fokus vandag op Efesiërs 5. Hoe ons met die Gees kan saamwerk.

Skriflesing Efesiërs 5:15-20

515Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef – nie as onverstandiges nie, maar as wyses. 16Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. 17Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is. 18En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, 19terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, 20en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus dank.

Paulus roep ons hier op om twee goed te doen.

  1. Om te luister na wat God deur sy Woord en Gees vir ons leer in verband met sy wil.
  2. Om te leef in ooreenstemming met sy wil soos wat die Gees ons lei.

In albei aksies is die werk van die Gees onontbeerlik.

Luister

Dít is hoe die Gees werk in ons lewe. Dit is hoe ons deur die Gees vervul word. Die Gees gebruik die Woord as die leidende stem van God in ons lewe. Daardeur bemoedig Hy ons. Daardeur gee Hy vir ons beloftes wat ons kan aangryp en tot Hom kan bid. Daardeur word ons soms tereggewys. Soms getroos. Maar, altyd help die Gees ons deur sy Woord om sin te maak van wat met ons gebeur.

Daarom moet ons vol word van die Woord sodat die Heilige Gees sy werk in ons lewe kan doen. Want, die Gees is nie net diep verbind aan die Woord van God nie. Dit is sy Boek! En dit is presies hierdie Woord wat die Gees gebruik om ons met Hom en sy wil vir ons lewe vol te maak.

Die Woord is die swaard van die Gees (Ef 6:17) wat indring in ons hart en ons voornemens en gedagtes beoordeel (Hebr 4:12). En ons deur die Woord op die regte pad begelei.

Dit is waarom dit so belangrik is om daagliks alles wat jy doen, alles waaroor jy dink, te toets aan die Woord. Om jou voornemens en gedagtes met die Here deur te praat en Hom geleentheid te gee om dit óf deur jou sistematiese lees van die Woord óf deur die woorde van die Skrif wat die Gees in jou gedagtes laat inkom, te beoordeel. Hy is immers die Een wat ons in die waarheid lei (Joh 14:26), én ons herinner aan wat die waarheid is (Joh 16:13).

Die Gees lei ons ook IN ons gedagtes. Paulus vra later in die brief aan die Efesiërs die gemeente om saam met hom te bid dat as hy sy mond oopmaak ‘n “gepaste woord” aan hom gegee sal word, sodat hy met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie kan bekend maak (Ef 6:19).

19Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak.

Dieselfde geld ons. Ons praat nie net ons bestaande voornemens en gedagtes met die Gees deur nie. Ons vra ook dat Hy vir ons sy gedagtes gee vir die situasies waarin ons gevra word om ‘n getuienis te lewer.

Dit alles doen die Gees! Hy praat deur die geskrewe Woord. Hy praat deur die “gepaste woorde” – soos Paulus dit noem – in ons harte. Jakobus praat van die “ingeplante woord” (Jak 1:21).

Dit is die eerste ding wat Paulus ons hier leer. Om te luister. Na die Woord. Na die Gees. Hy lei ons deur sy Woord. Hy lei ons in ons harte.

Watter voorreg! Watter verwagting!

Maar, dit is net een kant van die geestelike pad wat ons met die Gees loop. Om te luister. Om met sy gedagtes volgemaak te word.

Die ander kant is om gehoorsaam te raak aan dít wat die Gees in die Woord en in ons harte vir ons leer.

Want Geesvervulling moet lei tot gehoorsaamheid. Anders is daar ‘n blokkasie. En bedroef ons die Gees.

Hoe werk dit?

Leef

Dit werk ook op twee maniere.

Aan die een kant het ek al ervaar dat waar die Gees my oortuig van iets – as ek vol word van die Gees – ek ‘n stuk vrede en vreugde ervaar wat verstommend is. En dat ek dan die krag kry om gehoorsaam te word en uit te voer wat die Here my oplê.

Paulus praat op ‘n ander plek in Kolossense dat hy werk met die krag wat God gee (Kol 1:29).

Dit is dus inderdaad só dat ons Geesvervulling lei tot gehoorsaamheid. Geesvervulling is trouens noodsaaklik vir gehoorsaamheid. Dit keer dat jy roekeloos lewe, sonder grense.

Aan die ander kant het ek ook ‘n ander tipe Geesvervulling ervaar. Dit is waar ek die vervulling eers ervaar nadat ek gehoorsaam geraak het aan iets wat die Here my oplê. Dit is eintlik net so verstommend. Gehoorsaamheid lei tot Geesvervulling.

Sing van harte met mekaar

Nou, die interessante is dat ons spesifiek in die geloofsgemeenskap gehelp word met die Geesvervulling. Daarom koppel Paulus Geesvervulling hier aan die sing van Woord gebaseerde liedere:

Word vervul deur die Gees, 19terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing,

en aan gebed:

20en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus dank.

Elke keer wat ek iets goeds doen vir iemand, dan is ek besig om te doen wat die Gees wil hê.  Dan maak dit iemand se hart bly.  Dan ervaar ek in my hart iets van God wat my volmaak met Homself.  En dit druk die sonde uit my lewe uit.

Elke keer wat ek reg doen, as ek kies om nie te kyk na ‘n fliek wat immoraliteit aanwakker nie, maar dit afsit, dan doen ek wat die Gees wil hê. Dan maak ek God se hart bly.  En dan maak ek my eie hart vol van die lewe van God in my hart.  Dit is hoe die Gees werk.  Dan kry ek dit reg om die sonde te vermy.

Elke keer as ek die waarheid praat, as ek nie skinder nie, as ek nie ‘n leuen vertel nie, dan doen ek wat die Gees wil hê.  Dan maak ek God se hart bly.  En dan maak ek my eie hart vol van die krag van God in my hart.  Dit is hoe die Gees werk.

Dit is waarom die gemeenskap van gelowiges so belangrik is. Want, dit speel ‘n rol in ons Geesvervulling. Ons word deur hierdie byeenkoms van gelowiges versterk om hierdie week gehoorsaam te leef. En soos ons gehoorsaam was hierdie week, dra ons weer daardie stuk Geesvervulling terug in die erediens volgende week.

Dit is waarom die Hebreërskrywer ons ook aanmoedig om die eredienste nie te verwaarloos nie, want dit is tot ons eie voordeel!

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 481:1-3 Ontwaak, jy wat slaap – staan

Seën

Respons

Vonkk 144:1-3 Vrede van God – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.