Innerlik suiwer en uiterlik onberispelik – Filippense 1:3-11

Daar is iets aan ‘n selfoon wat jou laat dink dat jy belangrik is. Met ‘n paar “missed calls”, ‘n klomp onoopgemaakte e-posse en talle “notifications” op Facebook, Instagram en Twitter, kry ons die idee: “Iemand soek my. Iemand wil my aandag hê. Iemand het my nodig.

Dit is asof die geluid van ‘n nuwe boodskap ons komplimenteer. Iets is aan die gebeur, en jy moet daarvan weet. Selfs al sit jy in ‘n restaurant saam met ‘n klomp ander mense, dan is die selfoon aan. Jy kan dit nie mis nie. Jy mag daardie boodskap nie mis nie.

Dit is asof ons dink dat ons al hoe meer saak maak, hoe meer boodskappe ons kry. En die ongelooflik gesofistikeerde tegnologie versterk daardie idee. Jy is belangrik. Jy is net een klik weg van “My documents”, “My calendar”, “My Favorites”, “My music”, en “My pictures”.

Ons lewe in “Meworld”, sê die antropoloë. Die tegnologie gee ons “flattered selves” (Thomas de Zengotita). Ons word gepamperlang. Ons word gevlei. Ons word verheerlik. Ons word heuning om die mond gesmeer. Ons lewe in ons eie geskepte wêreld waarin ons nommer een is. Die media wat ons verslind – boodskappe, nuus, advertensies, series, musiek – laat ons dink dat alles om ons draai. Dat “streaming” net vir ons geskep is. Dat ons die sentrum van ons wêreld is.

Daarom dat ons só baie “selfies” neem. Want ons verewig daardie belangrike momente waarin “ons” die sentrum is. Die een wat die “selfie” neem, is onwillekeurig die sentrum van die foto. Jy kan dit nie anders neem nie!

Die probleem van hierdie “flattered self” is dat ons geleidelik ons “self” verloor in dié tegnologiese “Matrix”-wêreld, dat ons vergeet dat hierdie nie regtig “ons wêreld” is nie. Dat ons nie regtig die sentrum van alle bestaan is nie. Dat die wêreld nie om ons draai nie.

Ons lewe mos nie onafhanklik van ander nie. Trouens, ons lewe in Iemand andersse wêreld. God se wêreld.

En daar is eintlik ‘n groot stuk troos in dié wete. Dat dit God se wêreld is. Dat Hy die begin is van die proses om tuis te kom in hierdie wêreld. Om by God self tuis te kom en in sy teenwoordigheid ons self te vind.

Maar dit beteken ook dat ons rekening moet hou daarmee dat dit God se wêreld. Dat Hy van ons verantwoording kan vra. Dat ons nie kan leef in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Asof die wêreld net om ons draai nie.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Pearson Hoërskool vier vanjaar 92 jaar van uitnemendheid en die reüniegroepe wat vanjaar saamkuier is 1958, 68, 78, 88, 98 en 2008. Die orrelis Bouwer van Rooyen vier saam reünie en begelei ons vandag op die orrel. Ons sê ook welkom aan die skoolhoof, mev. Roux.

Pearson se koor tree ook vanoggend op onder leiding van koorleier Terry-Anne Julies en begelei deur Anton Steyn. Hulle sing 1) Irish Blessing, 2) Ode aan my landen 3) Bawo thixo somandla, ‘n Xhosa tradisionele lied: Father, God, Almighty.

Toetrede

Lied 159:1 God is hier teenwoordig– staan

Votumen Seëngroet

Lofsang

Lied 203:1,3 Loof die Here, al wat lewe– staan

Pearson koor

Doop

Marlé Olivier van Gert en Léta

Lied 292:1 My enigste troos in lewe en dood– sit

Kindertyd

Belydenisaflegging

Wiehahn Koen

Gebed

Skriflesing

Filippense 1:3-11

1Paulus en Timotheus, diensknegte van Christus Jesus,  aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is en ook die opsieners en diakens:  2Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.

Dankgebed

3Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. 4Telkens wanneer ek vir julle almal bid, doen ek dit met blydskap 5oor julle deelname aan die evangelie van die eerste dag af tot nou, 6oortuig daarvan dat Hy wat ‘n goeie werk onder julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. 7Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou. Wat my gevangenskap sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade. 8Want God is my getuie hoe ek met die innige toegeneentheid van Christus Jesus na julle almal verlang. 9Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en begrip (eie vertaling) 10om die dinge wat saak maak te kan onderskei. Die doel hiervan is dat julle op die dag van Christus innerlik suiwer en onberispelik sal wees, 11vervul met die vrug van geregtigheid wat ons deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God ontvang. (BDV).

Prediking

Selfone

Daar is iets aan ‘n selfoon wat jou laat dink dat jy belangrik is. Met ‘n paar “missed calls”, ‘n klomp onoopgemaakte e-posse en talle “notifications” op Facebook, Instagram en Twitter, kry ons die idee: “Iemand soek my. Iemand wil my aandag hê. Iemand het my nodig.

Dit is asof die geluid van ‘n nuwe boodskap ons komplimenteer. Iets is aan die gebeur, en jy moet daarvan weet. Selfs al sit jy in ‘n restaurant saam met ‘n klomp ander mense, dan is die selfoon aan. Jy kan dit nie mis nie. Jy mag daardie boodskap nie mis nie.

Dit is asof ons dink dat ons al hoe meer saak maak, hoe meer boodskappe ons kry. En die ongelooflik gesofistikeerde tegnologie versterk daardie idee. Jy is belangrik. Jy is net een klik weg van “My documents”, “My calendar”, “My Favorites”, “My music”, en “My pictures”.

“Meworld”

Ons lewe in “Meworld”, sê die antropoloë. Die tegnologie gee ons “flattered selves” (Thomas de Zengotita). Ons word gepamperlang. Ons word gevlei. Ons word verheerlik. Ons word heuning om die mond gesmeer. Ons lewe in ons eie geskepte wêreld waarin ons nommer een is. Die media wat ons verslind – boodskappe, nuus, advertensies, series, musiek – laat ons dink dat alles om ons draai. Dat “streaming” net vir ons geskep is. Dat ons die sentrum van ons wêreld is.

Daarom dat ons só baie “selfies” neem. Want ons verewig daardie belangrike momente waarin “ons” die sentrum is. Die een wat die “selfie” neem, is onwillekeurig die sentrum van die foto. Jy kan dit nie anders neem nie!

Die probleem van hierdie “flattered self” is dat ons geleidelik ons “self” verloor in dié tegnologiese “Matrix”-wêreld, dat ons vergeet dat hierdie nie regtig “ons wêreld” is nie. Dat ons nie regtig die sentrum van alle bestaan is nie. Dat die wêreld nie om ons draai nie.

Ons lewe mos nie onafhanklik van ander nie. Trouens, ons lewe in Iemand andersse wêreld. God se wêreld.

En daar is eintlik ‘n groot stuk troos in dié wete. Dat dit God se wêreld is. Dat Hy die begin is van die proses om tuis te kom in hierdie wêreld. Om by God self tuis te kom en in sy teenwoordigheid ons self te vind.

Maar dit beteken ook dat ons rekening moet hou daarmee dat dit God se wêreld. Dat Hy van ons verantwoording kan vra. Dat ons nie kan leef in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Asof die wêreld net om ons draai nie.

(Na aanleiding van ‘n stuk van Jill Carattini “The Flattered Selfies of MeWorld”).

Suiwer in gedagtes en gedrag

Wat verwag hierdie God van ons in sy wêreld?

Hy verwag dat ons Hom sal erken. Dat ons Hom sal eer. Dat ons sy riglyne vir die lewe sal nakom. Want, dié riglyne is vir ons beswil. Dit is vasgestel om die beste in ons na vore te bring.

Paulus sê hier dat die Here wil hê dat ons suiwer in gedagtes en gedrag sal wees. Dit is wat Hy van ons in sy wêreld vra.

So sê Paulus dit in vers 10: “Die doel hiervan is dat julle op die dag van Christus innerlik suiwer en onberispelik sal wees.”

Wanneer God aan die einde van die tyd die gordyn oor ons lewe vir almal oopmaak om te sien, dan wil hê dat ons rein en blaamloos sal wees, dat niemand na ons ‘n vinger kan wys dat ons net vir onsself geleef het nie.

God wil eerstens hê dat ons innerlik suiwer (eilikrines– eerlik, opreg) sal wees. Dit het te make met ‘n suiwer hart, ‘n hart met ‘n suiwer motivering, opreg, eerlik. God wil hê dat ons mense sal wees wat sonder bedrog is, dat ons moreel suiwer sal lewe, dat ons innerlik sonder foute sal wees, heilig, rein, sonder sonde, sonder geheime, sonder skuld.

Dit is ‘n suiwerheid van hart, soos Jesus ook daarvan praat in die Bergrede: “Geseënd is die mense wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” (Matt 5:8). En die woord wat Hy vir suiwerheid gebruik, beklemtoon nog sterker die morele reinheid wat in ons harte moet wees. Ons harte moet geen sonde bedink nie. Dit moet rein wees (katharos).

En hoekom is dit so belangrik? Want die mond loop oor van wat die hart vol is. Wat ons doen, kom uit wat ons dink. En hoe meer ons innerlike suiwer in ons denke raak, hoe meer sal ons gedrag onberispelik begin word.

Want dit is tweedens wat God wil hê, is dat ons onberispelik (aproskopos) sal wees. Dat ons lewe sal pas by hierdie innerlike suiwerheid. Dat ons gedrag sal pas by ons gedagtes. Dat ons gedagtes sal pas by ons gedrag.

God wil dus hê dat ons sonder enige blaam sal lewe. Dat niemand ‘n vinger op ons kan lê oor enigiets wat ons verkeerd doen nie.

Want dit gee ons nie net die ongelooflike voorreg dat ons in God se teenwoordigheid kan leef nie. Dat ons sal God sien, soos Jesus dit uitspel nie. Maar dit laat ander ook vir God raaksien in ons lewe.

Dit is wat God dus van ons in sy wêreld verwag. Om innerlike suiwer en uiterlik onberispelik te wees.

Hoe doen ons dit?

Julle liefde moet in kennis en begrip toeneem

Wel, in die eerste plek moet ‘n mens natuurlik die Here begin dien. Dit is wat dit beteken om tot bekering te kom. Dit is om te besluit, hierdie God is die moeite werd. Hom wil ek dien. Met hierdie God wil ek die pad in die lewe loop. Ek wil nie leef asof dit “Meworld” is nie, maar asof dit “Hisworld” is.

Jy moet God jou Vader begin noem. Jy moet Jesus aanneem as Verlosser, as dié Een wat jou sonde vergewe en jou die ewige lewe gee. Jy moet die Gees toelaat om jou binnekant te begin skoonmaak, sodat jy innerlik suiwer kan word. En jy moet Hom toelaat om jou buitekant skoon te maak, sodat jy onberispelik kan begin lewe.

Hoe doen ek dit egter prakties? Hoe laat ek die Gees toe om my binnekant te suiwer en my buitekant onberispelik te maak?

Paulus sê, jy doen dit deur die liefde (agape):

Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en begrip (eie vertaling) om die dinge wat saak maak te kan onderskei.”

Waar ons liefde vir God en vir ons naaste eksponensieel toeneem, daar sal die liefde self begin om ons binnekant van onsuiwer motiewe en ons buitekant van sondige gedrag skoon te maak.

Hierdie liefde is egter nie ‘n irrasionele waardelose sentimentele alles-kan-maar-gaan liefde nie. Dit is nie ‘n liefde wat enigiets toelaat net omdat jy of ander dit graag wil hê nie. Hierdie liefde is ‘n liefde wat die beste in ander tot eer van God na vore wil bring. Dit is ‘n liefde wat juis in kennis (epignosis) en begrip (aisthesis) sal toeneem sodat ‘n mens kan onderskei wat dié dinge is wat regtig belangrik is.

Die kennis waarvan Paulus hier praat, is beide ‘n diep blootstelling aan die waarhede van die evangelie sowel as ‘n uitleef daarvan. Blote verstandskennis is dus nie in Paulus se visier hier nie. Die feit dat jy iets kan aanhaal en verklaar uit die Bybel, is nog net ‘n halwe kennis. Dit moet aangevul word met die luister daarna en die leef daaruit. Jy moet dit beproef, jy moet dit leef, jy moet dit beoefen, vóórdat jy dit vir ander kan aanbeveel.

Die begrip waarvan Paulus hier praat, kom deur ‘n volhardende inoefening om te onderskei tussen goed en kwaad, soos die Hebreërskrywer dié woord uitlê (Hebr 5:14). Hierdie begrip beteken om jou kennis – deurleefde kennis – in te span om die wil van die Here te onderskei, dit wat goed is, en dit wat kwaad is, dit wat die beste is, en dit wat tweede beste is.

Julle moet die dinge wat regtig saak maak, onderskei

Waar ons liefde in kennis en begrip toeneem, begin ons dit regkry om die dinge wat regtig saak maak (diaphero), dié dinge wat regtig waardevol is, die dinge wat regtig goed is, te kan onderskei (dokimazo).

En waar ons goed van kwaad begin onderskei, help dit ons om al hoe meer suiwer van binne, in ons gedagtes, en onberispelik van buite, in ons gedrag, te kan word.

Maar, sal dit ons nie juis in konflik bring met mekaar nie?

Want, as ‘n mens begin om te onderskei tussen dít wat goed is, en dít wat sleg is, dan gaan die eenheid in die gemeenskap van gelowiges onder skoot kom. Sommige gaan só dink oor iets. Sommige weer anders.

Ja, dit is so, en dit is ‘n reële vrees. Maar dit kan nie vermy word nie.

Dit is waarom ons die Bybel het. En mekaar. Sodat ons saam kan lees, saam kan onderskei, saam kan leef uit die waarheid in die Bybel, in verhouding met die Here Jesus en sy Gees, sodat ons as ‘n liggaam van gelowiges al hoe nader aan God se doel met ons kan kom. Innerlike suiwer. Uiterlik onberispelik.

Dit is ook hoe ons eenheid bereik. Nie deur almal toe te laat om hulle eie dinge te doen nie. Elkeen in sy eie “Meworld” nie. Nee, ons moet saam leef in “Hisworld”.  Volgens God se riglyne. Nie volgens ons eie wysheid nie. Nie volgens ons eie insig nie. Nie volgens die wysheid van hierdie wêreld nie.

Ons vind ons eenheid altyd in die waarheid wat die Here aan ons openbaar, in die Skrif, soos Jesus self in sy laaste hoëpriesterlike gebed gebid het: “Heilig hulle in die waarheid; u woord is die waarheid … dat hulle almal een kan wees … sodat die wêreld kan glo dat U my gestuur het.” (Joh 17:17-21).

Dit is die doel van ons lewe. Dit is die doel wat God het vir ons lewe: “dat julle op die dag van Christus innerlik suiwer en onberispeliksal wees.

Waar ons hieraan gehoorsaam raak, beleef ons die troos, die hoop, dat alles ten goede sal meewerk vir ons (Rom 8:28). Dat ons eendag die Here sal sien soos Hy waarlik is. Dat dit nie nodig sal wees om in skaamte van Hom af weg te draai nie, omdat Hy ons innerlik suiwer en uiterlik onberispelik gemaak het.

Gebed

Dankoffers

Slotsang

Lied 530 Praat ek mense-, eng’letale– staan

Seën

Respons

Lied 530:3 (laaste vier reëls) Want geloof gee troos en rigting – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.