Johannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe


GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Lied 391:1-2 Vervul, o Heer, my hart met stille wyding – staan

Votum

Seëngroet

Lofprysing

Lied 220 Met ons harte sing ons, Here – staan

Lied 577 Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Koor: Sy lyding en sterwe: Bly by my en waak hier met my en U wil geskied

Verootmoediging

Lied 379 Wisselsang koor/gemeente – sit

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Gebed

Skriflesing

Johannes vertel vir ons hier ’n diep menslike drama, ’n paar tonele gelaai met intense emosies.  Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria en Marta, siek is, vriende vir wie Hy liefgehad het.  Jesus vertoef egter nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, die dorpie net langs Jerusalem, vertrek.  Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was dat dié siekte God se mag gaan openbaar, en dat Hy, God se Seun daardeur verheerlik sal word.

Maar as Hy uiteindelik tog die pad vat na Betanië toe, dan kom ’n mens agter dat die dissipels glad nie lus is vir die reis nie.  Hulle is intens bewus van die feit dat die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem teen hierdie tyd al breekpunt bereik het.  ’n Paar dae terug wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh 9).  Dié dat hulle oorkant die Jordaan gaan vertoef het, die plek waar Johannes die Doper gedoop het.  Tomas veral is baie moedeloos met dié terugreis – en is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie.  Betanië was net te naby aan Jerusalem vir sy gevoel.

Dan lees ons:

17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”

Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

Woordverkondiging

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit prikkel jou verbeelding, stimuleer jou gedagtes, en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self.

En hoofstuk 11 is ’n besondere kykie in dié openbaring van die wese van God.  En wat dit besonders maak, is dat dit nie vanuit die hoogtepunte van die lewe daarna kyk nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ’n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.

Want sien, dit is een ding om oor God te praat wanneer alles goed gaan, wanneer alles vlot verloop, wanneer dinge uitwerk.  Maar waar is God en hoe is God wanneer dinge skeef loop, en dinge nie uitwerk nie?  Dit is wat die verhaal van Lasarus vir ons wil vertel.

Die kern van die verhaal

Die verhaal van Lasarus se opwekking is só opgeteken, dat die ontknoping daarvan in die gesprek met Marta en Maria, verse 20 tot 33, plaasvind.

Albei die susters glo dat Jesus Lasarus van die dood sou kon red: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie” (21, 32).  Jesus kon die dood van hulle broer voorkom.  “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra” (22).  Trouens van die omstanders het Jesus verwyt dat hy dit nie gedoen het nie.  Het hy dan nie net tevore die blinde man genees nie.  Hoekom nie vir Lasarus ook nie?  Hy was dan sy vriend?

Maar, op só ’n wondergeloof sou Jesus nooit reageer nie.  Hy het dit telkens afgewys soos ons in die res van die evangelie lees (skare by die Paasfees – 2:23-25; Galileërs – 3:2-3; Jesus se broers – 7:3-7).  Jesus doen nie wonders omdat mense dit van Hom vra, soos hulle dit van ’n kunstenaar of ’n guru sou vra nie.  Daar is eintlik geen vertoon in sy optrede nie.  Hy gee net die teken van die kruis vir sulke mense, die teendeel van wat hulle vra, omdat Hy daardie spel nie speel nie.  Hy is nie daar vir die skares wat opgewonde wil raak oor die nuutste en die beste en die hoogste soos by ’n sportbyeenkoms nie.

Maar Marta en Maria se woorde getuig juis van hulle geloof en vertroue in Jesus, ook in ’n slegte situasie.  Dit kan Hy nooit net afmaak en ignoreer nie.  Dit is nie uit ongeloof nie, nie uit ’n wondergeloof nie, maar uit geloof dat hulle dié vrae vra en die geloof verwoord.

Maar hulle woorde verraai ook die konflik wat daar in hulle is.  Wat kan jy van God glo as dit hier diep binne-in jou so oorweldigend seer is?  Waarvoor kan jy vra?  Wat kan jy verwag van God in die diep slote van die lewe?

Kom ons kyk wat Jesus vir hulle doen:

Een:  Jesus bevestig en versterk hulle geloof

In Maria se diepste pyn sê Jesus dat pyn en verlies nie die laaste woord te sê het nie.  Die dood is nie die einde nie.  Trane is nie die finale werklikheid nie: “Jou broer sal uit die dood opstaan” (23).  Toe Maria hierdie woorde toepas op die opstanding op die laaste dag uit die dood, maak Jesus die betekenis wyer.  Opstanding is nie net deel van die eindtyd nie, maar ’n werklikheid wat reeds elke dag ervaar kan word.

Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe.  Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.  Glo jy dit?”

Jesus hanteer Marta se pyn deur dit aan die egte, rotsvaste basis van geloof vas te knoop.  Jesus self, en die lewe wat Hy bring, is die troos in die pyn van die doodsverlies. “Glo jy dit, Marta?”  Dan haar antwoord “Ja, Here, ek glo as dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (27)

Dis nie die intensiteit van Marta se geloof wat so belangrik is nie.  Die fokus, die anker van die geloof, Jesus self, is die bron van troos.

En onthou, dit sê Jesus voordat Hy Lasarus uit die dood opwek.  Hy bevestig hulle geloof voordat hulle enigiets kan sien wat vir hulle ’n bewys sou kon wees van die krag van hulle geloof.  Om die waarheid te sê, daarmee sê Jesus juis dat daar geen krag in die geloof as sodanig is nie, maar in die Een in wie geglo word.  Dit is Hy wat geloof sy krag gee.  Dit is uit Hom wat daar krag uitgaan wat genesing en wonderwerke bring.  Dit is wanneer jy aan Hom vashou, dat jy bevestig word, voordat jy enigiets sien, en voordat daar enigiets gebeur.

Geloof is nie verniet die hoop op die dinge wat ons nie sien nie, soos Hebreërs 11 dit so pragtig sê nie.  Dit is ’n bewys van dinge wat nog moet gebeur, of die oortuiging van dinge wat nog geopenbaar moet word, voordat jy en ander dit kan sien.

En dit is dié geloof wat Jesus bevestig en versterk.

Daar is ook ’n tweede manier waarop Jesus help:

Twee: Jesus huil

Jesus betoon egte menslike meelewing in Marta en Maria se hartseer. Eerder as om lang, teologiese verduidelikings te gee, huil Jesus saam met hulle.  Jesus probeer nie allerhande verklarings gee oor lyding in die algemeen, of oor die rede agter Lasarus se dood nie, hoewel Johannes ons reeds daaroor ingelig het aan die begin van die verhaal en aan die einde dit weer sal herhaal.  Dit gaan oor God se werke wat hier sigbaar gaan word.

Maar Jesus sê dit nie vir haar nie.  Hy leer haar nie in dié situasie nie.  Nee, hy huil omdat Marta en Maria huil, en Hy huil saam met hulle as hulle vriende.  Goeie raad vir enigeen van ons wat met die dood gekonfronteer word.  Geen wonder dat in sommige kulture mense gehuur word om te huil nie … want dit is wat jy doen wanneer jy mense bystaan.

En let op, hierdie trane van Jesus is egte trane.  Een verklaring van die Griekse woord wat hier vir Jesus se trane gebruik word, is dat Hy “innerlik gegloei het van aandoening.”  Jesus tree nie hier soos ’n Superman op wat ’n kitsoplossing vir elke probleem het nie.  Hy vee nie die egte menslike smart uit die pad met ’n goedkoop “toemaar” nie.

In sy trane word Jesus op ’n baie diep vlak vir Maria en Marta ’n medemens wat hulle pyn help dra.

Daar is natuurlik ook  ’n dieper rede waarom Jesus huil.  Hy huil nie net omdat Hy met hulle meegevoel het nie.  Jan du Rand sê Jesus se hartseer strek verder as net ’n meelewing met Lasarus se dood.  Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.

Jesus huil dus ook oor sy eie naderende dood.  Hy weet Hy kan en gaan Lasarus opwek.  Hy weet Hy self gaan opgewek word uit die dood.  Maar Hy sal eers self die pyn van die dood moet ervaar. Hy kan dit nie systap nie.

En daar is waarskynlik nog ’n rede.  Hy weet ook dat Hy Lasarus kan en gaan opwek, maar dat dit nie vir ewig kon wees nie, ten minste nie toe nie.  Die dood sou eers volledig oorwin word met sy eie dood en opstanding en finaal met die wederkoms wanneer dit ook vir alle gelowiges ’n werklikheid sal word.

Lasarus sou dus weer sterf, en eers aan die einde van die tyd die finale opwekking beleef.  Trouens, ons lees na sy opwekking, dat die Jode besluit om hom dood te maak (12:10), omdat daar so baie oor sy opwekking gesels is, en dit so baie mense in Jesus laat glo het.  Jesus weet dit, en Hy huil oor die verydeling en die verganklikheid, en weet dat Sy wonderwerk dit nie kan uitwis nie … nie toe nie.

Sy opwekking sou dus net ’n teken wees van God se mag, ’n teken wat wel wonderlik goed sou wees, maar Lasarus nie van alle smart en pyn kon bewaar nie, ook nie dié wat die Jode vir hom hierna beplan nie.

Maar, dit is tog dan die derde manier waarop Jesus help, Hy wek Lasarus juis uit die dood op.

Drie: Jesus wek Lasarus op uit die dood

En dit is belangrik om te verstaan: Jesus wek hom nie uit die dood op, 1) alleenlik ter wille van hulle en hulle smart nie, 2) nie net om aan hulle die gawe van die lewe te gee nie, maar 3) om God se krag en heerlikheid te wys.

Met hierdie opwekking van Lasarus uit die dood, herinner Jesus ons aan wie Hy is.  Hy is die Gestuurde van die Vader.  Hy het gekom om lewe te bring.  Hy is die Goeie Herder.  Daarom roep Hy kragtig na Lasarus in vers 43.  En Lasarus staan op uit die dood.  Want dit is God wat met hom praat.

Dit is belangrik om raak te sien dat Johannes die gebeure van Lasarus se opwekking omraam met die verwysings na die wonderbaarlike mag van God aan die begin en die einde van hierdie gedeelte.

  • In vers 4 hoor Jesus die nuus van Lasarus se siekte en sê dan: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
  • Hierdie woorde kom weer aan die einde, in vers 40, op ’n kragtige manier na vore: “As jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien.”

Lasarus se opwekking bevestig daarom die waarheid van Jesus se woorde.  Lasarus word opgewek, sodat ons die krag van God kan sien, en kan weet die kragtige woord van God, wat tot lewe wek, is ook op ons van toepassing.

Vier: Jesus gee die lewe

Die opwekking van Lasarus hou ook verband met ’n ander “Ek is”-uitspraak van Jesus, die een in hoofstuk 10: “Ek is die goeie herder” (10:11,14).  Van die Goeie Herder word daar gesê dat Hy die lewe gee en dit in oorvloed.

En dit is presies wat ’n mens in hoofstuk 11 sien – Die Goeie Herder kan selfs sy skape uit die dood uit opwek, selfs wanneer hulle reeds gesterf het.  Dit is die hoop waarmee ons leef, dat die dood nie meer ’n finale gordyn is vir ons nie; dat daar lewe anderkant die grens van die dood is; dat ons sal lewe al het ons ook gesterwe, soos ’n Lasarus.

Toepassing

Wat sê dit dus vir ons vandag?  Wat kan ons van God verwag?  Wat kan ons van Hom vra in ons nood?  En waarop kan ons staatmaak in sy antwoord aan ons?

  1. Dat Hy ons in ons geloof sal bevestig en versterk. Daar is ’n tipe geloof wat nodig is vir ons waar ’n mens vashou sonder dat jy sien.  Hebreërs 11 praat van mense wat gekry het waarop hulle hul geloof gerig het – en dit is fantasties.  EN hy praat van mense wat nie gekry het waarop hulle hul geloof gerig het nie – en dit is ook fantasties.

Albei dié groepe gelowiges word geprys en as helde van die geloof vereer. Hoekom?  Nogtans sal ek jubel … sê Habakuk.  Dit is hoe God lief het, nogtans sal Ek jubel oor jou, al is jy van klei aan mekaar gesit.  Dit is hoe ons God lief het, al is ons wie ons is, en al gebeur wat ook al.  Dit is ’n keuse wat gemaak word, al gaan alles verkeerd.  Dit is die tipe geloof van ’n Daniël in die oond van vuur – my God kan my uit hierdie oond red, selfs al sou Hy nie, sal ek steeds aan Hom bly vasklou.  Hoekom?  Want Hy is die moeite werd om te vertrou.

  1. Dat Hy saam met ons huil. Ek weet nie hoe dit jou raak nie, maar dit is vir my miskien die grootste troos, dat Jesus nie onaangeraak is deur die dinge wat my seermaak of my hartseer maak nie.  Wanneer ek op my tande wil kners oor dinge wat verkeerd is, as ek uiters gefrustreerd raak met dinge wat nie reg uitwerk nie, as ek moedeloos raak oor my beste bedoelings en pogings nie goed genoeg is nie, as ek my hare uit my kop wil trek, as ek self nie regkry wat ek so hard probeer doen nie, wanneer ek wil veg met ander of wanneer ek wil vlug van myself – dan is Hy daar en wéét Hy wat ek voel en wat ek dink en hóé dit voel en hóé dit ’n mens raak.  En dit is eintlik al genoeg – dit is asof my binneste tot rus kom as ek weet dat Hy weet.
  2. Dat Hy vir ons wonders kan doen. God dank!  Hy doen vandag nog wonders!  Maar onthou, dit is nie voor die voet nie.  Dit is sodat sy mag en sy heerlikheid in hierdie wêreld onderstreep kan word. Daarom dat ons nie kan voorskryf nie, en nie kan verwyt nie.  Maar kan vra … en kan weet sy vrede sal ons harte en sinne bewaar in Christus Jesus soos Filippense 4 vir ons sê.  Dit moet ons nie angstig maak nie – ons mag vra … maar ook nie arrogant maak nie – God antwoord soos Hy wil.
  3. Dat Hy vir ons lewe gee. Dit is die hele idee van ’n Goeie Herder, Een wat weet wat sy skape nodig het EN daarin voorsien.  Ek het gekom dat julle die lewe sal hê en dit in oorvloed (10:10).  En dit is so wonderlik, as ek Filippense 4 weer kan intrek hier: dink aan alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – bring dit voor die Here en vra vir die oorvloed van lewe wat Hy belowe.  En Hy sal dit gee op maniere wat jou verstand te bowe sal gaan.

Daarom, kan ek net soos Jesus voor die graf gaan staan en vir Lasarus uitgeroep het, ook voor jou vandag kom staan, en net só vir jou roep: Lasarus kom uit.  En Hy het dit met ’n harde stem gedoen, sodat Lasarus kon hoor!  Hy roep jou tot lewe, ook nou.

En elkeen van ons wat glo, sal nou hierdie kragtige roep tot lewe hoor en daarop reageer.  Ons deel in Sy  geskenk van die lewe.  Die lewe breek reeds hier en nou vir ons aan, selfs al moet ons ook sterwe.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Koor: Lied 402:1,3,4 Die Heer het waarlik opgestaan

Slotsang

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde – staan

Seën

Amen

Lied 533 Stuur ons, Here (Koor is voorsangers)

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment