Skip to main content

Johannes 14:15-31 – AS JULLE MY LIEFHET, SAL JULLE MY OPDRAGTE UITVOER

Jesus begin Johannes 14:15-31 met hierdie oorhoofse beskrywing van die Christelike lewe. Dit is diegene wat Hom liefhet wat sy opdragte uitvoer. ‘n Mens sou dit ook kan omdraai. Dit is diegene wat sy opdragte uitvoer wat Hom liefhet. Liefde is gehoorsaamheid aan sy woorde.

Gehoorsaamheid is liefde vir Jesus. Jou liefde word gewys deurdat jy sy opdragte uitvoer.
Hiermee, sê Jesus: liefde is nie ‘n gevoel nie. Liefde is gehoorsaamheid. Jy bewys jou liefde deur jou bereidheid om te doen wat Jesus van jou vra. Jou gehoorsaamheid lê nie in die gevoelens van liefde wat jy uitspreek in gebed of in ‘n lied teenoor Hom of in ‘n gesprek met ander nie, maar in hoe jy die woorde van die Here uitvoer.

Dit is vir hierdie mense, sê Jesus, dié wat Hom liefhet en sy opdragte uitvoer dat Hy sy Gees gee.

* Maar wat is die verband tussen Jesus se woorde en die woorde van sy Vader in die Eerste Testament?
* En wat is verband tussen Jesus se woorde en die woord van die Heilige Gees in die Tweede Testament wie se taak dit is om ons te herinner aan alles wat Jesus gesê het?

Dit is lewensbelangrik om antwoorde hierop te kry, want dit is slegs dán wat jy die boodskap van hierdie gedeelte sal kan omarm:

“As jy meer van God in jou lewe soek, groei in jou liefde vir Hom. As jy meer van God se inwoning in jou lewe soek, sorg dat jy sy woorde ter harte neem.”

Lees verder na Jesus se boodskap aan ons uit Johannes 14:19-31 by hierdie erediens:

Verwelkoming en aankondigings

Kinderklere nodig vir ‘n babatjie.  Hy weeg 4 kg.  Babagrows, ensomeer.  Tweedehandse stootwaentjie sal ook goed wees, en ‘n baba drasak, hierdie kangeroes wat ma’s en pa’s dra.  Gee in by kerkkantoor.

RUS

Toetrede

Ons gaan vandag lees van Jesus as die “Voorspraak” by die Vader in die hemel sowel as van die Heilige Gees as die “Ander Voorspraak” in ons hart en lewe.  Die wonder is dat Jesus as mens ons anker by God in die hemel is.  En dat die Heilige Gees as God ons skakel met God in ons hart is.  Raak stil en eer God vir hierdie wonderlike werklikheid.

Lied 166 (koor x1, gemeente x2) Kom, Heil’ge Gees, wees U self teenwoordig hier by ons – sit

Votum

Prys ons God, alle volke, laat sy lof weerklink!

Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel nie! 

Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys en sy trou nie van my weerhou het nie.

(Psalm 66 vers 8-9, 20)

Seëngroet

Lofsang

Lied 284 Laat, Heer, u vrede deur my vloei – staan

Wet

As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.

(Joh. 14:15-17)

Vonkk 57 Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod – sit

Genadeverkondiging

As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie.

(Joh. 14:23-24)

Geloofsbelydenis

Lied 431 O Gees van Vader en van Seun – sit

HOOR

Gebed

Skriflesing

Johannes 10:15-31

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Inleiding (kindertyd)

Storietyd!

Jesus sê ons moet Hom liefhê en sy opdragte uit voer.  Hoekom?  Want, ons is kinders van God vir wie God lief is. Wanneer ons God se liefde ken, loop ons oor daarvan.  Die Gees help ons om hierdie liefde te deel.  Ek gaan vir julle ‘n storie vertel.  En ek wil vooraf sê, die posbus in hierdie storie laat ‘n mens dink aan die Heilige Gees en hierdie idee van liefde.

Vertel dit aan die hand van die prente.

Ons het gelees van Liam wat oorweldig is deur die gawes wat die posbus vir hom stuur.  Wat het hy daarmee gedoen?  Hy het dit met ander gedeel.  Hy het die posbus se hulp gesoek om dit ook met ander te deel.

Hierdie storie herinner ons daaraan dat ons nie God se liefde vir onsself kan hou nie, maar geroep is om dit met mense naby en ver te deel. (Kry vir jou Ben Clanton se “It came in the mail” op Kindle [ongeveer R60] as jy dit wil lees en gebruik).

Lied 553 Ek is bly ek ken vir Jesus – sit

Preek

Hierdie toespraak van Jesus is ‘n verstommende ryk en diepsinnige beskrywing van die Christelike lewe.  Elke sin en elke woord het betekenis.  En dit is net in die nougesette “close reading” daarvan wat die evangelie hiervan vir jou begin oopgaan.  Ek gaan dus bly by die teks en die teks stukkie vir stukkie uitlê.  Ek het dit in tien eenhede opgedeel soos julle op die PowerPoint sal sien.

1.  “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Joh. 14:15).

Jesus begin met hierdie oorhoofse beskrywing van die Christelike lewe.  Dit is diegene wat Hom liefhet wat sy opdragte uitvoer.  ‘n Mens sou dit ook kan omdraai.  Dit is diegene wat sy opdragte uitvoer wat Hom liefhet.  Liefde is gehoorsaamheid aan sy woorde.  Gehoorsaamheid is liefde vir Jesus.  Jou liefde word gewys deurdat jy sy opdragte uitvoer.

Hiermee, sê Jesus:  liefde is nie ‘n gevoel nie.  Liefde is gehoorsaamheid.  Jy bewys jou liefde deur jou bereidheid om te doen wat Jesus van jou vra.  Jou gehoorsaamheid lê nie in die gevoelens van liefde wat jy uitspreek in gebed of in ‘n lied teenoor Hom of in ‘n gesprek met ander nie, maar in hoe jy die woorde van die Here uitvoer.

Dit is vir hierdie mense, sê Jesus, dié wat Hom liefhet en sy opdragte uitvoer dat Hy sy Gees gee.

2.  “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.” (Joh. 14:16-17).

Hoekom?  Want Hy wil hulle help om in dié liefde en gehoorsaamheid te groei.  Hy wil hê dat hulle vir Hom lief sal bly, en dat hulle sal bly doen wat Jesus van hulle vra.  Dit is waarom Jesus vir hulle die “Ander Voorspraak” sal stuur (onthou Jesus is die eerste Voorspraak – 1 Joh. 2:1).  Die Heilige Gees sal die Een wees wat ewig by hulle sal bly, en hulle in die waarheid sal begelei om al hoe meer gehoorsaam te raak aan die woorde van Jesus.  Hulle sal almal in die werklikheid daarvan deel.

Dit is waarom die Heilige Gees ook beskryf word met die woord Parakletos wat met hierdie hulp van die Heilige Gees te make het om ons te help om vir Jesus lief te wees en sy opdragte uit te voer.  ‘n Mens kan hierdie woord op verskillende maniere vertaal: Trooster, Helper, Pleitbesorger, Voorspraak of Advokaat. Soos ’n advokaat iemand in ’n hofsaak bystaan, bemoedig, troos en daarby sy saak bepleit en vir al sy belange sorg, so doen die Gees dit ook vir ons (vgl. Rom. 8:26-28).  Hy help ons om ons liefde vir Jesus in ons gehoorsaamheid te bewys.

Maar, die dissipels het meer nodig gehad op hierdie stadium van hulle lewe, omdat hulle binnekort deur die grootste krisis van hulle geloof sou moes gaan. Daarom gee die Here Jesus vir hulle ook ‘n belofte van sy eie teenwoordigheid.

3.  “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.” (Joh. 14:18-20).

‘n Mens moet hierdie belofte van Jesus goed  verstaan.  Hy belowe nie net die Heilige Gees as die “Ander Trooster” nie.  Hy belowe dat Hyself weer na hulle toe sal kom.  Daarmee bedoel Hy dat Hy ná sy kruisdood aan hulle sal verskyn.  Iets wat hulle vier dae ná hierdie gesprek beleef het.

Maar, dit is nie al nie.  Hy belowe dat Hy selfs ná sy hemelvaart, wanneer die wêreld Hom nie meer kan sien nie, by hulle sal wees.

Meer nog, “Omdat Ek lewe, sal julle lewe”, sê Jesus, soos ‘n mens daardie sin ook kan vertaal.

Trouens, nog dieper, hulle sal dan agterkom dat Jesus regtig in die Vader is, en hulle in Hom, en Hy in hulle.

Dit is diep.  Jesus belowe hiermee iets waaroor Paulus liries raak in Kolossense 3:1.  Dit is, dat ons lewe in God verborge is saam met Jesus. Dat ons ‘n plek in die hemel het saam met Jesus.  En dat Hy ‘n plek in ons sal hê, so naby, dat dit ons van binne af sal verander.

En as Judas (Taddeus, nie Judas Iskariot nie – vgl. Mark. 3:16-19; Matt. 10:2-4) nie mooi verstaan waarom hierdie werklikheid van God se inwoning nie vir die hele wêreld sigbaar sal wees nie, omdat hy waarskynlik nog dink dat Jesus ’n Joodse Messias sal wees wat die Joodse volk van die Romeinse oorheersing sal verlos, dan antwoord Jesus hom:

4.   “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Joh. 14:23).

Daar is waarskynlik nie ‘n intiemer beskrywing van die inwoning van God in ons as hierdie verse nie. Jesus beskryf hier ‘n besondere proses wat juis deur sy woorde in ons harte en lewens plaasvind.  Hoe meer ons aandag gee aan sy woorde, hoe groter raak die ruimte binne in ons om die teenwoordigheid van God te akkommodeer.

Soos ons Jesus liefhet, het die Vader ons lief, soos Hy Jesus liefgehad het.  Soos ons Jesus se woorde ter harte neem, kom die Vader, en natuurlik sy Seun, en natuurlik die Heilige Gees, by ons woon.  Hoe meer ons liefhet, hoe meer ons sy woorde ter harte neem, hoe groter is die ruimte in ons om God se volheid te ontvang en te ervaar.

Dit is waarom jou liefde vir en leef in die woorde van die Bybel so belangrik is.  As jy meer van God in jou lewe soek, groei in jou liefde vir Hom.  As jy meer van God se inwoning in jou lewe soek, sorg dat jy sy woorde ter harte neem.  Die liefde word gewys in die ruimte wat jy vir sy Woord in jou lewe toelaat en die uitvoering daarvan in praktiese dade teenoor ander.

En hoekom is dit só belangrik?  Want dit is op tragiese wyse ook so:

5.  “Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie.” (Joh. 14:24).

Ons moet goed hoor dat Jesus hiermee sê dat dit net dié sal wees, wat enersyds Jesus liefhet, en andersyds doen wat Hy vra, wat die Goddelike inwoning van die Gees sal ervaar.  Dit is nie beskikbaar vir dié wat Hom nie liefhet nie en nie sy woorde ter harte neem nie.

Jy kan baie sê oor jou liefde vir God en jou liefde vir mense, maar as jy nie God se woorde in sy Woord ter harte neem nie, as dit nie vir jou die hoogste plek inneem in jou lewe nie, dan is jou liefde waardeloos, dan wys jy dat jou liefde vir God niks om die lyf het nie.  Dan is jou eie woorde of die woorde van ander of jou eie gedagtes oor wat belangrik is in die lewe en wat nie, vir jou belangriker as dít wat God in sy Woord vir ons gee.

Ek kan baie hieroor sê, maar, ek wil eerder konsentreer op die volgende deel van die vers, omdat dit ook ‘n motivering gee hoekom dit so belangriks is om nie jou gedagtes te verhef tot God se gedagtes nie.

Jesus se woorde is so belangrik, want Jesus se woorde kom van die Vader af, dieselfde God wat vir ons die woorde van die Eerste Testament, die wet, die profete, die geskrifte, die psalms en die wysheid, gegee het.

Dit is wat ons verder hoor in vers 24.

6.  “En die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.” (Joh. 14:24).

Dink mooi hieroor na.  Wat jy van Jesus lees in die NT, elke woord wat van Hom opgeteken word, kom van God die Vader af.  En dink dan mooi wie die Vader is.

  • God, die Vader, is die een wat alles gemaak het en steeds in stand hou, die Skepper en Onderhouer van alles wat bestaan, soos Genesis vir ons vertel.
  • Die Vader is die een wat die Tien Gebooie gegee het vir ons en die res van die wet en daarmee sy wil aan ons geopenbaar het, in die fynste detail, soos Eksodus en Levitikus ons vertel. Ek was verras in my lees van Levitikus dat dit die boek is met die meeste direkte woorde van God in die hele Bybel.  En ek verras my vir die blywende betekenis van daardie woorde soos ek uitvoerig in my Bybelskool aantoon.
  • Die Vader is ook die een wat sy wil in die lewe van die volk uitgevoer het, soos wat die historiese geskrifte in die Eerste Testament dit vir ons uitspel, die boeke van Josua, Rigters, Samuel, Konings, Esra, Nehemia en Kronieke.
  • Die Vader is die een wat in verhouding getree het met dié digters en wysheidsleraars waaruit die Psalms, Job, Spreuke, Hooglied, en Prediker tot stand gekom het.
  • Die Vader is die een wat deur die profete sy liefde vir die volk telkens verklaar het, maar ook telkens teleurgestel is, en daarom in die volheid van die tyd sy Seun gestuur het om die volk van hulle sondes te verlos. Só kan ons dit gaan lees in die drie groot profete en die twaalf kleiner profete, saam met Daniël wat nog meer as hulle met die toekoms besig is.

Wat Jesus dus in die NT vir ons leer, is dinge wat van die Vader af kom, waarvan die Eerste Testament getuig, en in ooreenstemming is daarmee.

Dieselfde geld die Heilige Gees soos Jesus verder uitspel.

7.  “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14:25-26).

Op dié punt moet ons verstaan dat die Gees nie ander woorde vir ons gaan gee as dié wat Jesus reeds op aarde aan die kerk gegee het nie.  Die funksie van die Gees is om ons aan die woorde wat reeds gegee is – in die Eerste en die Tweede Testament, wat ons as die Bybel ken – te herinner en tot dieper en dieper insig te lei.  Trouens, Hy is immers die een wat die heilige mense van God beweeg het om in die eerste plek alles te skryf wat ons in die Bybel het.  Die hele Bybel is deur die Heilige Gees vir ons gegee.

Hierdie teksgedeelte het immers ook begin deur te sê dat as ons Jesus liefhet sal ons sy woorde ter harte neem.  Daar is immers geen ander evangelie as dié wat deur Jesus aan ons verkondig is nie.

Maar, soos Jesus niks anders gesê het as wat God die Vader reeds geopenbaar het in die Eerste Testament nie – behalwe natuurlik om dit tot sy volheid te bring in die lewe en bediening van Jesus – só sal die Heilige Gees niks anders sê as wat Hy van Jesus ontvang om aan ons te gee nie.

Soos die Vader gepraat het, só praat Jesus.  Soos Jesus gepraat het, só praat die Heilige Gees.  En mag ek byvoeg, soos Vader, Seun en Heilige Gees gepraat het, só praat elke enkele een van die tien skrywers van die NT.  Hulle sê niks anders as wat God reeds in die Eerste Testament en in die evangelie van Jesus Christus geopenbaar is. Daarom kan ons die Tweede Testament die Bybel noem, die gesagvolle Woord van God.

  • Ja, die offers van die Eerste Testament het verbygegaan, want Jesus het ‘n volmaakte eens en vir altyd offer gebring.
  • Ja, die tabernakel en die tempel van die Eerste Testament het verbygegaan, want Jesus se liggaam, ons as kinders van die Here, is nou die tabernakel, die tempel van God.

Maar die essensie van God se wil soos dit in die Tien Gebooie en die res van die Eerste Testament geopenbaar is, sal nooit in der ewigheid verbygaan nie.

Daarvoor het Jesus gesorg.  Daarvoor sal die Heilige Gees sorg.  En dit is dié van ons wat daardie woorde ter harte neem – vanuit ons liefde vir hierdie ongelooflike God wat dieselfde bly gister, vandag en tot in ewigheid – wat ons sy teenwoordigheid al hoe meer en meer in ons lewe sal ervaar.

En die Gees sal sorg dat ons niks van God se wil sal vergeet nie.  Hy sal ons herinner aan alles wat God vir ons bedoel het.  Maar dan moet ons bly wat Hy vir ons in die Woord leer.

Vir dié wat Jesus liefhet en sy woorde ter harte neem, sal daar dus ‘n dieper wandel met die Here wees.  God sal dié gelowiges leer deur sy Heilige Gees (iets wat Jesaja 54:13 voorspel het) en hulle al hoe dieper inlei in die gemeenskap met Hom deur hulle te herinner aan die woorde van Jesus.

Maar dit kan net gebeur as jy ‘n vaste voorneme het om in die eerste plek sy woorde ter harte te neem.  As jy dit nie doen nie, as jy laks raak met jou lees van die Bybel, as jy begin onderskei watter woorde op jou van toepassing is en watter nie, dan beperk jy die ruimte van God in jou lewe.

Dit is dán eers wat ons die volgende woord van Jesus ook ter harte kan neem en ons harte tot rus kan bring voor Hom.

8.  “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle.” (Joh. 14:27).

Die Heilige Gees is die bron van die vrede wat Jesus vir ons gee wat ons ontsteltenis wegneem en gehoorsaam aan Hom laat bly, as skynende ligte van God se teenwoordigheid in hierdie wêreld.

Dit is iets wat ek die afgelope tyd op ‘n nuwe manier leer ken het.  Vrede kom wanneer ‘n mens gehoorsaam is aan die woorde van Jesus.  Die onvrede raak meer wanneer ‘n mens die woorde van Jesus nie ter harte neem nie en nie gehoorsaam nie.

Ons is baie vernuftig om die woorde van die Here Jesus te systap met allerlei rasionaliserings en ons eie vrede te skep.  Ek het in my jonger dae nie altyd ‘n verbond met my oë gesluit om die verleiding van TV en flieks te ontvlug nie.  In plaas daarvan om my hart rein te hou, het ek my blootgestel aan onreinheid en onsedelikheid soos dit aan ons opgedis word met die verskoning van vermaak.

Ek het baie keer toegelaat dat wraakgedagtes my binnekant volmaak weens onregte wat ek beleef het, ook onregte wat ons as land van ander, ook van ons leiers, beleef.  En van dié onregte was en is inderdaad onregte, maar my reaksie daarop was nie Bybels nie.  Soos die Here my net dié week weer uit Levitikus oortuig het, wraak kom God toe.  Hy vergeld.  My taak is om lief te hê en te vergewe.

Die ergste is wat ‘n mens in jou gebede doen.  Ek het soms in my gebede myself oortuig dat ek reg is met wat ek dink en doen, dat dit die Here se goedkeuring móét wegdra. Net om mettertyd agter te kom, veral soos ek die Bybel dieper bestudeer het, dat ek heeltemal van die wa af geval het, en my sonde voor die Here moes bely en sy vergifnis en reiniging moes ontvang.

En dit is interessant, dit is slegs wanneer ‘n mens op daardie punt is – as jy jou skuld bely en God se woorde nog dieper in jou lewe ter harte neem – dat jy jou vrees verloor.   Soos Jesus sê:

9.  “Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” (Joh. 14:27-28).

Jou vrees vir hierdie lewe kan net verdwyn as jy die teenwoordigheid van die Here ervaar.  Dit is die essensie van Vreesloosheid, soos Rethie dit met Pinkster op die tafel gaan sit.  En dit gebeur, soos Jesus dit so helder hier stel, as jy Hom liefhet en sy woorde ter harte neem.

Die feit dat die Here Jesus nou na sy vlees by die Vader is, en dat ons Hom nie kan sien nie, is daarom nie ‘n verskrikking nie, dit wat ons hierdie week met Hemelvaart gaan vier. Ons het vrede. Ons het geen vrees nie.

Ons kan trouens bly wees Jesus is daar, soos Jesus vir ons hier in vers 28 sê.

Dit is ook goed om hier te lees dat die Here Jesus ook nie bang was vir wat kom nie, want sê Hy, Hy weet die owerste van die wêreld – wat aan die kom is en Hom aan ‘n kruis gaan laat spyker – dat hy geen mag oor Jesus het nie.  Jesus gaan die dood vrywillig uit eie keuse tegemoet, omdat Hy self doen wat Hy ons beveel.  Jesus het die Vader lief en daarom doen Hy wat die Vader Hom beveel, al kos dit Hom die dood.

Daarom sluit Jesus af met die laaste woorde in vers 31:

10.  “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.” (Joh. 14:31).

Jesus staan van die tafel af op en loop sy dood tegemoet, want Hy het die Vader lief en sal sy woorde nie net ter harte neem nie, maar tot die dood toe uitvoer.

Dit is wat Hy ook van ons verwag met die woorde reg aan die begin van hierdie teksgedeelte: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Joh. 14:15).

Dit is sy opdrag. Dit is sy voorbeeld.  Dit is die beginsel van die Christelike lewe.  Om God lief te hê en sy opdragte uit te voer.  “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Joh. 14:15).  Sela.

LEEF

Gebed

Dankoffer

Vonkk 107 (koor) Heer, God, Almagtig (Teks uit Ps. 98; Jes. 43, 44, 55)

Voorstelling as kerkraadslid

Juáne Venter

Slotsang

Lied 496 Jesus, U die lewe – staan

Seën

Respons

Vonkk 144 Vrede van God, die vrede van God – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.