Lukas 10:1-16 – “Hy het hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek”
22 Februarie 2015 – Laat Jesus deur jou VREEMDELINGE ontmoet
Ek verkneukel my altyd as ek oor gasvryheid nadink in die verhaal van Abraham by die tent en die drie mans wat hom kom besoek het. Ek kan my so inleef in die oorgawe waarmee hy die ontmoeting met die drie mans in Genesis 18 hanteer het.
Om jou geheue te verfris. Abraham het so gesit-slaap in die trek van sy oop tentdeur op die warmste deel van die dag. Drie figure het skielik verskyn in die dynserigheid. Sonder om te huiwer, het Abraham opgestaan, na hulle toe gedraf en voor hulle neergebuig: “Menere, doen my die guns. Moenie net verby gaan nie. Laat ek eers ‘n bietjie water gaan haal en julle voete was. Kom rus hier onder my boom. U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ‘n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.”
En die drie mans het nie gehuiwer nie.
Abraham het in die tent ingeskarrel na Sara toe en vir haar gesê:“Bak vir ons roosterkoeke, sommer 16 kg s’n.” Dis meer as 64 koppies meel, meer as ‘n honderd roosterkoeke!
Abraham het buitentoe gedraf na die beeste en ‘n mooi jong kalf gevat. Die beste en sagste vleis wat hy het – omtrent ‘n 100 kg. En hy het dit gaar gemaak. Hy neem toe botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en sit dit voor die mans neer en bedien hulle self.
En dan, op dié punt, maak die verhaal ‘n wending. Die mans vra na sy vrou en maak ‘n belofte: “oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê”. En skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat.
Sy gasvryheid het in ‘n ontmoeting met die Here verander! Hy hou ‘n braai vir die Here!
En in die ontmoeting doen die Here ‘n wonderlike ding. Hy bring vir Abraham en Sara weer bymekaar uit. 24 jaar lank al wag hulle vir die kind van die belofte. Sara het al vir Abraham haar slavin Hagar gegee om deur haar ‘n kind te hê. Maar dit het net verwydering gebring. Geen wonder dat Sara by haarself gelag het en gedink het: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?”
Maar die Here het die belofte herhaal. Oor ‘n jaar sal jou vrou ‘n seun hê.
En dit was ook só.
Gasvryheid het hulle lewe verander! Vir altyd!
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS
