Skip to main content

Niemand weet nie – 2 Samuel 13

Aanddiens 15 April 2018

Seksualiteit is ‘n onderwerp waaroor min gepraat word. Veral in die kerk.

Seksualiteit is deel van God se goeie skepping

Die Bybel vermy die onderwerp van seksualiteit egter glad nie.  Want seksualiteit is deel van God se goeie skepping.

Die Here sê reg aan die begin: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal ‘n hulp maak wat by hom pas.”(Gen 2:18). Hy maak hulle “helpers en helftes” vir mekaar. Dit is wat daardie frase beteken. Hulle pas soos “helftes” van die geheel by mekaar wat mekaar bystaan en ondersteun,. Hulle is “helpers” vir mekaar.

Geen wonder dat die Genesis skrywer uit hulle verbintenis die gevolgtrekking maak dat die man sy ma en pa sal verlaat: “en sy vrou aankleef.” (Gen 2:24). “Helftes” en “helpers” wat mekaar nie sal kan weerstaan nie. En die skrywer voeg daarby: “Hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.” (Gen 2:25).

Die Bybel is dus nie skaam om oor seksualiteit te skryf nie. Van die begin af word daaroor in gloeiende positiewe terme geskryf. Tot in die fynste detail van die fisieke aard van ons seksualiteit.

Trouens, daar is ‘n hele boek in die Bybel afgestaan aan die passie en genot van die liefde tussen man en vrou. Die boek Hooglied besing die twee se verbintenis: “My beminde is myne, en ek is syne.” (Hoogl 2:16). “Sy vaandel oor my was die liefde.” (Hoogl 2:4).

Ook twee hoofstukke word in die boek Spreuke afgestaan aan die soeke na ‘n uitnemende vrou. Die ma van koning Lemuel vermaan hom om nie sy krag op talle vroue te verspil nie. Nee, kies een uitnemende vrou wat by jou sal pas, jou “helfte” sal wees, jou “helper” en verbind jou aan haar.

So lees ons van Jakob wat mal was oor Ragel. Die sewe jaar wat hy vir haar moes werk: “was in sy oë soos ’n paar dae, omdat hy haar liefgehad het.” (Gen 29:20).

En sy pa Isak was mal oor sy ma, Rebekka, en het met haar “gespeel”, ‘n eufemisme vir die liefdespel (Gen 26:8).

Die donker kant van seksualiteit

Die Bybel is egter daarom ook nie stil oor die donker kant van seksualiteit nie. Want dit bedreig God se goeie bedoelings met seksualiteit.

Daarom lees ons die allerverskriklike verhaal van selfdegeslag geweld in Genesis 19: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.” (Gen 19:5). Die geweld in dié stad was só erg dat die Here hulle met vuur en swael uit die hemel heeltemal verwoes het.

Dit word opgevolg deur die nog meer afskuwelike verhaal van heteroseksuele geweld in Rigters 19. Die manne van Gibea het die byvrou van die Leviet – wat die Leviet self vir hulle gegee het toe hulle met hom gemeenskap wou hê – gegryp en: “Hulle het met haar geslagsgemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer. Toe die rooidag breek, het hulle haar gelos. Teen die môre se kant het sy by die huis gekom en voor die deur van die huis waarin haar man was, neergeval en bly lê tot sonop. Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel.” (Rigt 19:25-27).

Die afgryse in Israel was só groot hieroor dat hulle byna die hele stam Benjamin uitgewis het weens hierdie afskuwelike daad. ‘n Burgeroorlog in die Beloofde land.

Die Bybel is nie stil oor die donker kant van seksualiteit nie. Seksuele geweld. Verkragting. Bestialiteit. Bloedskande. Onsedelikheid. Losbandigheid.

Hoekom? Want die Here het die finale sê oor ons lewens. Hy keur seks af buite die struktuur wat Hy daarvoor geskep het, die huwelik. Dit is dus noodsaaklik om oor dié dinge te gesels wat seksualiteit buite die grense neem wat God stel.

Seksualiteit is só ‘n integrale deel van ons menswees. Ons word tot in sy diepste wese geraak deur die beoefening van ons seksualiteit. En waar ons aan geweld blootgestel word in ons seksualiteit, laat dit wonde wat nie maklik geheel en genees word nie.

Die verhaal van Tamar

Vandag gaan ons op ‘n verhaal van seksuele geweld fokus. Dit is die verhaal van Tamar.

Net die lees hiervan sal al traumaties wees vir mense wat persoonlik deur seksuele geweld geraak is. En ek wil dit vooraf erken. Die lees van hierdie verhaal kan gevoelens by jou oproep wat wonde kan oopkrap.

Maar, ons kan dit nie vermy nie. Die hoop is dat hierdie verhaal twee dinge gaan doen:

  1. Ons ander – wat nog nie persoonlik daaraan blootgestel is nie – se bewussyn verhoog van die pyn wat baie van ons mense in onsself ronddra dat: “niemand weet nie”. Dit is ook die tema van die prediking: “Niemand weet nie.
  2. En moontlik om daarmee ‘n veilige ruimte te skep waarin die Here die wonde kan heel van mense wat sulke en soortgelyke ervarings gehad het, want God weet.

Want dit is wat die Here Jesus deur sy Gees met hierdie teks in ons lewens wil regkry.

  1. Hy wil ons konfronteer met die donker kant van ons seksualiteit, sodat ons nie in ontkenning leef nie. Julle sal sien dat die titel van die preek ironies bedoel word. Want almal het eintlik geweet in die verhaal wat ons gaan lees.
  2. Hy wil ons die versekering gee dat – selfs al weet niemand anders daarvan nie, om watter rede ook al – Hy weet. En dat sy genade genoeg is om jou wonde te genees.

2 Samuel 13

Kom ons lees 2 Samuel 13.

13Toe het daar ’n ding gebeur.

Dawid se seun Absalom het ’n mooi suster gehad met die naam Tamar. Amnon, ’n ander seun van Dawid, het op haar verlief geraak. 2Hy was siek van begeerte na sy suster Tamar, want sy was nog ’n maagd en dit was vir hom onmoontlik om by haar te kom en iets aan haar te doen. 3Amnon het ’n vriend gehad. Sy naam was Jonadab, ’n seun van Dawid se broer Samma, en hy was ’n vindingryke man. 4“Waarom lyk jy wat ’n koningskind is, dag vir dag so bedruk?” het hy vir Amnon gevra. “Vertel my!”

“Dis Tamar, my broer Absalom se suster,” was sy antwoord. “Ek is verlief op haar.”

5Jonadab het hom toe aangeraai: “Gaan lê op jou bed en maak of jy siek is. As jou pa dan kom kyk hoe dit gaan, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog vir my iets te ete bring. Laat sy die ete hier by my kom voorberei dat ek dit kan sien, want ek wil uit haar eie hande eet.”

6Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom kyk hoe dit gaan, het Amnon vir hom gevra: “Laat my suster Tamar tog asseblief vir my twee hartvormige broodjies hier voor my kom bak sodat ek dit uit haar hande kan eet.”

7Dawid het ’n boodskap na Tamar by haar woonplek gestuur: “Kom tog na jou broer Amnon se woonplek toe en berei vir hom ’n ete voor.”

8Tamar het na haar broer se huis toe gekom terwyl hy op sy bed gelê het. Sy het deeg gevat en geknie en die broodjies voorberei en gebak waar hy dit kon sien. 9Maar toe sy die pan neem en dit vir hom neersit, het Amnon geweier om te eet.

Hy het beveel: “Gaan julle ander almal weg hier van my af.”

Toe hulle weg is, 10het Amnon vir Tamar gesê: “Bring jy die kos hier na die kamer toe sodat ek dit uit jou hand kan eet.”

Tamar het die broodjies wat sy gereed gemaak het, na haar broer in die kamer gebring. 11Net toe sy naby hom kom om hom te laat eet, gryp hy haar vas en sê vir haar: “My suster, kom lê hier by my.”

12“Nee, my broer,” sê sy vir hom. “moet my nie onteer nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie. Moet nou nie ’n dwaas ding doen nie. 13Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel ’n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.”

14Amnon wou nie na haar luister nie. Hy het haar gepak en verkrag. 15Maar daarna het hy haar verag; hy het ’n groot afsku in haar gekry, en sy afsku was baie groter as sy verliefdheid.

Hy het toe vir haar gesê: “Loop!”

16Maar sy sê vir hom: “Moenie die skande wat jy my aangedoen het, vererger deur my weg te jaag nie.”

Hy wou nie na haar luister nie 17en beveel toe sy slaaf wat hom bedien: “Smyt hierdie vroumens uit en sluit die deur agter haar!”

18Volgens die gebruik van koningsdogters wat nog maagde was, het sy ’n lang mantel met moue aangehad. Nadat die slaaf haar uitgesit en die deur gesluit het, 19het Tamar stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu.

20Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was ’n wrak. 21Koning Dawid het van alles gehoor en hy was woedend. 22Absalom het nie ’n enkele woord met Amnon gepraat nie, maar hy het hom gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het.

Absalom vermoor vir Amnon

23Twee jaar later was Absalom besig om sy skape te laat skeer in Baäl-Gasor in Efraim. Hy het al die seuns van die koning uitgenooi.

24Hy het naamlik na die koning toe gegaan en gesê: “Ekskuus tog, ek gaan my skape skeer. Wil die koning en sy paleispersoneel nie miskien na my toe kom nie?”

25”Nee, my seun, beslis nie,” was die koning se antwoord. “Ons kan nie almal gaan en vir jou ’n oorlas wees nie.”

Ten spyte van sy aandrang wou die koning nie gaan nie, maar tog het hy hom voorspoed toegewens.

26Absalom vra hom toe: “Kan my broer Amnon dan nie maar saamgaan nie?”

“Waarom juis hy?” vra die koning.

27Absalom het by hom daarop aangedring, en die koning het Amnon en al die koningseuns laat gaan.

28Absalom het sy lyfwagte beveel: “Julle moet oplet: net as Amnon lekker jolig raak van die wyn, sal ek vir julle die teken gee. Slaan hom dood. Moenie bang wees nie: ek gee mos self die bevel. Pak hom. Moenie weifel nie.”

29Die lyfwagte van Absalom het met Amnon gemaak soos hulle beveel is. Toe het al die ander koningseuns elkeen op sy muil gespring en gevlug.

30Terwyl hulle nog op pad terug was, het die volgende gerug Dawid bereik: “Absalom het al die koningseuns doodgemaak. Daar het nie ’n enkele oorgebly nie.”

31Die koning het van sy troon afgeklim, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy onderdane het ook hulle klere geskeur en by hom kom staan.

32Maar Jonadab seun van Dawid se broer Samma het gesê: “U moet tog nie dink hulle het al die jongmanne, die koning se seuns, doodgemaak nie. Net Amnon is dood. Waarlik, daar was moord in Absalom se oë vandat Amnon sy suster Tamar onteer het.

33“Die koning moet nou nie die gerug dat al sy seuns dood is, ernstig opneem nie: net Amnon is dood.”

34Absalom het weggevlug.

Terwyl ’n paleiswag uitkyk, sien hy meteens ’n groot klomp mense uit die rigting van die bergskuiling aankom. 35“Kyk daar kom die koning se seuns,” het Jonadab vir die koning gesê. “Dit is net soos ek gesê het.”

36Net na hierdie woorde het die koningseuns ingekom. Hulle het hardop begin huil, en die koning en al sy dienaars het bitterlik saamgehuil.

37Absalom het na koning Talmai van Gesur, seun van Ammigur toe gevlug, maar koning Dawid het die hele tyd net oor sy seun Amnon getreur.

38Absalom het na sy vlug drie jaar in Gesur gebly. 39Omdat koning Dawid hom met die dood van Amnon versoen het, het hy nie teen Absalom gaan oorlog maak nie.

Dawid se sonde ontketen die geweld in sy familie

Hierdie tragiese verhaal moet in die konteks van die hele 2 Samuel gelees word. Meer spesifiek in terme van Dawid se sonde met Batseba (2 Sam 11). Dit is die sneller wat die geweld ontketen in die lewe van sy familie. Dit is die voorbeeld wat die verkragting van Tamar binne familieverband moontlik gemaak het.

Die probleem van hierdie sonde met Batseba is alreeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word. Batseba word onteer in owerspel. Haar man Urija word vermoor om haar swangerskap weg te steek. En Dawid se skuld word met leuens weggesteek deur Joab, die aanvoerder van sy leër.

Maar die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die wil van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word ter wille van die korttermyn voordele van seksuele bevrediging.

Die Here sien daarom regdeur die leuens van Dawid en stuur sy profeet Natan om Dawid met sy sonde en skuld te konfronteer. As straf, sê die Here, gaan Hy van nou af: “uit jou eie huis ellende oor jou bring.” (2 Sam 12:11).

Vier seuns sou sterf as straf vir Dawid se onbesonne daad. Batseba se buite-egtelike kind sterf met geboorte. Amnon word deur Absalom vermoor. Absalom word deur Joab vermoor. En Adonia word deur Salomo om die lewe gebring.

Elkeen van die volwasse seuns het self skuld gehad weens hulle eie oortredings. Amnon weens die verkragting van Tamar. Absalom weens sy gewelddadige opstand teen koning Dawid. En Adonia met sy latere opstand teen Salomo se koningskap.

Maar, hulle was ook slagoffers van hulle pa se sonde wat ‘n destruktiewe effek op hulle gehad het. Uit Dawid se eie huis het die Here ellende oor hom gebring. Inderdaad.

Verkragting binne familieverband gebeur nie in ‘n lugleegte nie. Ook nie in ‘n samelewing nie. Waar mense die seksuele norme van die Here verontagsaam en hulle eie kop volg, kom die donker kant van seksualiteit in beweging.

Tamar word deur haar broer Amnon verkrag

Absalom, die derde oudste seun van Dawid, het ’n mooi suster gehad. Haar naam was Tamar. Hulle was van ‘n gedeeltelik Aramese afkoms vanweë Dawid se huwelik met hulle ma, Maäka (2 Sam 3:3).

Absalom het ook ‘n ouer halfbroer gehad, Amnon, die oudste seun van Dawid by Aginoam, ‘n Jisreëliet (2 Sam 3:2). Hierdie oudste kind van Dawid het op Tamar verlief geraak, sy halfsuster. Die teks sê vir ons: “Hy was siek van begeerte na sy suster Tamar.

Maar, Tamar was onbereikbaar vir hom. Ten minste só het hy voorgegee. Dit was egter net ‘n halwe waarheid. As hy regtig met haar wou trou, was daar maniere om dit reg te kry, soos Tamar onder andere later vir hom voorstel.

Let ook op hoe sy verliefdheid blote wellus was, want hy wou: “iets aan haar doen.” Verskriklik. Verraderlik.

Soos Joab vir Dawid met sy onheilige konkelry gehelp het, help Jonadab nou vir Amnon, want Jonadab was ’n vindingryke man. Hy stel voor dat Amnon vir Dawid vra dat Tamar vir hom iets te ete bring. Sy moes twee hartvormige broodjies maak sodat hy dit uit haar hand kan eet.

Dit is natuurlik ‘n dead give away. Hartvormige broodjies! Inderdaad. Niemand, nie Dawid óf selfs Tamar sou deur só ‘n storie geflous word nie. Dawid faal daarmee liederlik in sy ouerlike plig om haar te beskerm. Almal het geweet. Hulle kies egter om stil te bly. En só lyk dit asof niemand weet nie.

Tamar op haar beurt weier nie haar pa se opdrag nie, miskien met die hoop dat Amnon die regte ding sou doen, en met haar trou, soos die wet toegelaat het. Maar, sy moet die leeukuil binne gaan, wel wetende dat dit miskien op niks goeds sou kon uitloop nie.

Toe Amnon almal uitstuur en haar na sy kamer toe lok, het sy geweet wat kom, maar ten spyte van haar teenstand was hy net te sterk vir haar. Sy sit haar wel beslissend teë deur die verhaal van Dina in Genesis 37 vir Amnon aan te haal: “so iets word nie in Israel gedoen nie.

Helder klink haar nee: “Moet nou nie ’n dwaas ding doen nie. Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel ’n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.” Weereens ‘n gryp na die Skrif, want só ‘n troue sou inderdaad moontlik wees, soos dit die geval was met Abraham en Sara (Gen 20:12).

Maar, Amnon wou nie na haar luister nie. Hy het haar gepak en verkrag.

Amnon jaag haar weg

Asof dit nie erg genoeg was nie, gaan Amnon egter verder en verwerp haar in haar nood.In plaas daarvan om die eerbare ding te doen, en met haar te trou, soos die wet voorgeskryf het (Eks 22:16-17, Deut 22:28-29), verander sy gevoelens vir haar in ‘n oomblik. Hy kry ’n groot afsku in haar, baie groter as sy verliefdheid.

Haar pleidooi aan Amnon om die skande wat hy haar aangedoen het nie te vererger deur haar weg te jaag nie, val op dowe ore. Amnon beveel sy slaaf om “hierdie vroumens” uit te smyt en die deur agter haar toe te sluit.

Dit is kole op die vuur. Sy vlug verward en verneder. Wat egter nog meer traumaties is om te lees, is dat sy in totale wanhoop huil op haar eensame pad terug na haar kamer, en hoop dat iemand haar sal help. Maar haar broer Absalom maak haar stil en sê: “Bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.

Dit was egter haar doodsvonnis. Niemand wou weet wat gebeur het nie. En sy, die slagoffer, word verban en uitgeskuif: “Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was ’n wrak.

Geen geregtigheid vir Tamar nie

Haar pa, Dawid, was wel woedend, maar hy het doodgewoon absoluut niks gedoen nie, ten spyte van die duidelike wetsvoorskrifte dat Amnon vir dié laakbare daad doodgemaak moet word (Lev 18:9; 20:17), omdat hy nie met haar getrou het nie. Dawid swyg egter die boosheid wat aan haar gedoen is, dood.

Absalom was ook woedend, maar in plaas daarvan om Tamar te ondersteun, besluit hy om Amnon dood te maak. Wraak eerder as regstelling. Dit baat haar ook niks nie.

En toe Absalom twee jaar later daarin slaag om Amnon te laat doodmaak, sien ‘n mens Dawid se onbetrokkenheid in nog meer grafiese detail. Dawid was meer bekommerd oor die gevaar wat Absalom vir sy ander seuns ingehou het, as wat hy oor die lot van Tamar homself bekommer het.

Wat ons dus moet raaksien, is dat Tamar geen geregtigheid gekry het nie, geen regstelling, geen deernis. Selfs al is die verkragter om die lewe gebring. Sy dood kon nie haar lot verander nie. Sy het ‘n eensame lewe in die vergetelheid gelei … asof niemand van haar bestaan geweet het of van watter onreg haar aangedoen is nie.

Wat is die evangelie van hierdie verhaal?

Wat is die evangelie van hierdie verhaal? Wat is die goeie nuus van die verhaal van Tamar?

1. In die eerste plek dat die verhaal Tamar se trauma sigbaar maak. Niemand kan ná die aanhoor van Tamar se verhaal sê hulle het nie geweet nie.Dit is die waarde van die blote feit dat hierdie verhaal in die Bybel is. Tamar se verhaal word al 3 000 jaar vertel. Elkeen wat die Bybel opneem en die boek Samuel lees, lees haar verhaal. Dink net hoeveel mense het deur die eeue saam gehuil met Tamar oor die onreg wat sy moes beleef, en troos gevind in die blote feit dat sy uiteindelik nie weggesteek gebly het in die huis van Absalom nie, maar sigbaar geraak het vir ons.

Almal weet daarom vandag nog van Tamar. Dit leer ons dat sulke verhale nie weggesteek moet word nie, maar openbaar moet word. Ons het getuies nodig van ons lewens. Ook van dié ervarings van leed en trauma. Die Bybel help ons dus om dit te verstaan. Verhale moet vertel word. Verhale moet gedeel word. Want in die deel daarvan lê alreeds ‘n stuk genesing. Al is dit jare daarna.

2. In die tweede plek die deernis wat hierdie verhaal bring vir slagoffers van seksuele geweld.Ons leef in ‘n wêreld waar ons so maklik vasgevang kan raak in ons eie behoeftes dat ons in die bevrediging van ons behoeftes die lewe uit ander kan pers. Amnon het sy posisie as die oudste misbruik. Hy het Tamar misbruik. En uiteindelik verwerp.

Tamar beleef verskillende vorme van trauma in die verhaal. Daar is die trauma van die verkragting en verwerping deur haar broer Amnon. Daar is die trauma van Absalom wat haar stilmaak en verwyder. Daar is die trauma van Dawid wat stilswyend saamspeel en later dit doodswyg.

Vandag gebeur dit ook soms dat die hantering van ’n traumatiese gebeurtenis soos seksuele geweld vir die slagoffers erger is as die gebeurtenis self.

Slagoffers moet beskerm en vertroos word, sodat hulle genesing kan vind. Daar moet teen vervolgers opgetree word en sisteme moet daargestel word om ander te beskerm.

Ons taak as gelowiges is om aan die kant van die Tamar’s van hierdie lewe te gaan staan, en hulle met deernis te hanteer. Ons doen dit deur ruimte te gee vir die vertel van hulle verhale. Deur geduld te beoefen met die herstelproses. Deur namens hulle op te tree in die mate wat ons dinge kan regstel.

3. In die derde plek help die verhaal ons die waarde besef van die Here se gebod van liefde.Ons kan maklik in dieselfde strik trap as ‘n Amnon waar ons behoeftes ander s’n troef. Dit is waarom die Here vir ons uitspel hoe verhoudings werk, sodat ons dit kan navolg.

Aan die een kant wil die Here hê dat ons Hom moet liefhê bó alles. En aan die ander kant dat ons mekaar moet liefhê soos onsself.

Die liefde vir mekaar beteken (Tweede tafel van die Tien Gebooie in Eks 20 en Deut 5; vgl Matt 5 wat daarop uitbrei):

  • dat ons respek moet betoon vir gesagsfigure (5de gebod);
  • dat ons respek moet betoon vir ander se lewens, selfs nie deur hulle dwase te noem nie (6de gebod);
  • dat ons respek moet betoon vir die huwelik deur getrou te bly aan ons lewensmaat en nie van hom of haar te skei nie (7de gebod);
  • dat ons respek moet betoon vir ander se goed, en niks sonder verlof van iemand anders vat nie (8ste gebod);
  • dat ons respek moet betoon vir die waarheid, en geen leuens mag vertel nie (9de gebod);
  • dat ons respek moet betoon vir ander se goed, selfs nie deur te begeer nie (10de gebod).

Almal weet – God weet

Ek sluit af. Ná die verhaal van Tamar kan jy nie sê dat jy nie weet nie. Seksuele geweld is ‘n realiteit. Baie keer binne ‘n familie. Almal weet dit. En ons kan iets daaraan doen.

  1. Deur die verhale te vertel.
  2. Deur deernis te hê.
  3. Deur die Here se wil vir die lewe te gehoorsaam.

En die diepste troos. God weet.

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.