Lukas 19:28-40 – Jesus se reisgenote – Son 28 Maart 2010

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.

Dink na oor wat die Here die afgelope week vir jou beteken het.  Dank Hom vir die goeie en dra die bekommernisse aan Hom op.

Toetrede

Lied 577 Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Votum en seëngroet
Aanbidding

Lied 390 Ons kniel hier aan u voete neer – sit

Lied 379 Jesus Christus, Lam van God, wat die las van sonde dra – sit

Gebed

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Skriflesing

Lukas 19:28-40

Woordverkondiging

Die héle Suid-Afrika vier fees

Mens is soms deel van iets wat jou opgewonde maak, maar waarvan jy die wonderlike gevolge nie kon voorsien nie.  Die uiteinde is soveel groter as die vreugde om deel te neem aan die aksie self.

Die Rugby-Wêreldbeker van 1995 was so ‘n ervaring vir baie Suid-Afrikaners.  Elke onderdeel was ‘n wonderlike ervaring vir Springbok-ondersteuners.  Dink aan die oorwinning teen Australië in die onvergeetlike openingswedstryd.  Al die hoogtepunte langs die pad.  Uiteindelik hou Francois Pienaar die beker hoog … en ‘n hele nasie juig!  Wie sou ook kon dink, soos die onlangse film Invictus dit uitbeeld, dat die héle Suid-Afrika sou feesvier?

Jesus se missie

Jesus is op ‘n missie, Sy passie is om in Jerusalem te kom.  Hierdie dringende reis na Jerusalem loop soos ‘n goue draad deur die Lukasevangelie.  Jesus moet in Jerusalem kom om die roeping uit te voer waarvoor die Vader Hom gestuur en die Heilige Gees Hom bekragtig het – die aflê van sy lewe aan die kruis ter wille van ‘n gevalle wêreld.

Sy volgelinge juig

As Hy by die stad aankom, bars daar spontane lofprysing onder Jesus se volgelinge uit.  Die reis kom tot ‘n einde, die bestemming is bereik.

Die “hele skare juigende volgelinge” doen wat by die aanskoue van so ‘n Koning pas: hulle “begin God uit volle bors prys” (19:37):

“Loof die koning,
Hy wat in die Naam van die Here kom!
Vrede in die hemel,
en eer aan God in die hoogste hemel!” (19:38).

Daarmee bring hulle die koninklike hulde aan Jesus waarvan Sagaria 9:9 reeds praat: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom.  Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

En tog sou die skare eers later die volle betekenis van hierdie feestelikheid verstaan.  Hierdie was maar die openingstoneel van ‘n besondere week met diep en donker laagtepunte.  Die laagtepunte sou hoogtepunte blyk te wees.  Uit hierdie week sou daar vreugde en blydskap regoor die wêreld versprei.

Jesus op reis na Jerusalem

Hierdie fokus op Jerusalem is natuurlik iets wat van die begin van die Lukasevangelie af kom. Reg aan die begin, in die tempel in Jerusalem, herken die bejaarde Anna en Simeon in Jesus God se verlossing vir Israel (2:23-38). Op 12-jarige ouderdom is dit juis in die tempel in Jerusalem wat Jesus met die dinge van sy Vader besig is, tot verbasing van die skrifgeleerdes, en tot ontsteltenis van sy ouers.  En dit is opmerklik dat wanneer Jesus begin agterkom dat sy bediening in Galilea (die noordelike provinsie van Israel) voltooiing nader, stel Hy Homself in om na Jerusalem te gaan (9:51): “Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin.”

Hierdie reis na Jerusalem word as ‘n goddelike noodwendigheid uitgebeeld: Hy móét gaan.

Op pad gebeur daar natuurlik nog ‘n hele aantal wonderlike dinge, gesprekke, die uitsending van die 70 dissipels, ‘n hele aantal gelykenisse en leringe, genesings.  Maar dit word die hele tyd in ‘n konteks van hierdie reis na Jerusalem geplaas.  Telkens word daar gesê dat Jesus “op weg, “op reis” is.

Hierdie reismotief beteken dat ‘n mens toenemend begin wonder: Wat gaan gebeur?  En te vra: wat beteken dit vir my om hierdie Jesus-op-reis te volg?

En dan ry Jesus Jerusale binne, in die groot lydensweek, en word die volle betekenis van Jesus se roeping duidelik.  En kom ‘n mens agter, dat dit in die Lukas evangelie nie oor Jerusalem as sodanig gaan nie, maar oor Jesus en oor wat met Hom in Jerusalem sal gebeur.

Aan die een kant word Sy karakter, identiteit en roeping hier beskryf as die nederige, dienende Koning, as die lydende Messias. Hy is die Een wat in die Naam van die Here kom en hemelse vrede na die aarde bring.  Selfs die hemel beleef die vrede, soos die volgelinge dit uitroep.  Daarom swaai ons ook palmtakke en sing lofsange op Palmsondag.  Die uitkoms van die reis is ons hoop en ons vrede.

Aan die ander kant doen Hy dit deur die Paaslam vir sy volk te word; om in ons plek die straf van God te dra; om deur sy dood en opstanding vergifnis en nuwe lewe moontlik te maak.  Gee Hy Homself vir die diepste laagtepunt van ‘n menslike lewe, die dood, die dood aan die kruis.  En weet ons vandag dat die vreugde van die uitkoms Hom ‘n groot prys, die hoogste prys gekos het.

Jesus vorm reisgenote

Maar Lukas vestig nie net ons aandag op Jesus by sy intog in Jerusalem nie.  Hy fokus ook op die mense, die dissipels, wat saam met Jesus Jerusalem binnegaan.  In sy vertelling is dit die dissipels wat Jesus se lof besing op Palmsondag. In die ander evangelies word na mense verwys wat oppervlakkig Jesus se lof besing, maar binne dae teen Hom sou draai en sy kruisiging eis.  In Lukas gaan dit oor die dissipels, “die hele skare juigende volgelinge” (19:37) wat saam met Hom die stad binnegaan.

Vanaf die begin van die Lukasevangelie is Jesus immers doelgerig besig om dissipels rondom hom te versamel en so ‘n reisgeselskap te vorm.  Jesus roep sondaars as dissipels: Simon, wat eers vir Jesus sê, “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.”, en die twee seuns van die donder, Johannes en Jakobus (5:1-11).  En Jesus roep tollenaars, Levi Matteus (5:27).

En wonder bo wonder, hulle laat alles agter om Hom te volg.  Uiteindelik kies Jesus ‘n binnekring van twaalf, wat apostels genoem word (6:13).  ‘n Kern van volgelinge word dus gevorm, terwyl daar ook ‘n groep ondersteunende vroue saam met hulle is (8:1-3).  Hierdie klein groepie volgelinge is alreeds die kern van die herstelde Israel wat Jesus op aarde kom skep het.  Maar dit word elke keer weer uitgebrei, soos met die uitstuur van die 72 dissipels, in hoofstuk 10, om, op Jesus se reis na Jerusalem, die evangelie oral, in elke dorp, en in elke laag van die samelewing te bring, sodat die vrede van God mense se lewens kan verander.

Op reis na Jerusalem word ‘n wyer dissipelkring dus gevorm wat Jesus se werk sou voortsit nadat die gebeure van Groot Lydensweek, nadat die sending van Jesus op aarde, voltooi is, ‘n groep mense wat Hom as Koning erken, Hom verheerlik, sy lof en heerlikheid oral waar hulle kom, uitdra, en as getuies leef van sy lyding, sterwe en opstanding.

En hulle kan nie stil gemaak word nie!  Anders sal die klippe dit uitroep.

Ons is Jesus se reisgenote

En dít is die evangelie vir vandag, die goeie nuus.  Want, Jesus gaan tot vandag toe voort om deur sy Woord en Gees dissipels te vorm.  Óns is deel van sy reisgeselskap.  Óns is deel van die skare volgelinge wat Hom as die dienende, lydende en verheerlikte Koning herken, en lof en eer aan Hom toebring.

Waar Jesus se sending hulle na Jerusalem geneem het, neem Sy reis saam met ons ons sedertdien weg van Jerusalem af, die wêreld in.  Dit is die hele punt van die Handelinge van die apostels, dat ons sy getuies moet wees “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).

Op Palmsondag ontmoet ons dus vir Jesus by die poorte van Jerusalem, en ons besing sy lof.  Ons weet hoe daardie week geëindig het, en watter impak dit op ons wêreld gehad het.  Ons ken die seën wat Jesus gebring het. En ons verheug ons daarin.

Maar dit roep ons ook op om die reis met Jesus van Jerusalem af verder te onderneem en sy vrede na elke duimbreedte van hierdie wêreld uit te dra.

Gevorm tot ‘n gemeenskap van navolgers

Hoe doen ons dit?

Lesslie Newbigin het ‘n wonderlike waar ding gesê: “Jesus het nie ‘n boek nagelaat nie, maar ‘n gemeenskap van navolgers”, mense wat in die voetspore van Jesus volg.  Presies die tema wat ons in die laaste helfte van die kwartaal hanteer het: in die voetspore van Jesus.

Hy verduidelik dan dat ‘n gemeente die evangelie deur haar lewenswyse en haar getuienis oor Jesus se groot dade uitlê.  Ons interpreteer dit vir mense.  Ons wys vir hulle hoe dit werk.

En dit is hoe ons Jesus se boodskap uitdra.  In mense wat leef soos Jesus hulle geleer het,  herken en leer mense die betekenis van die evangelie.  Daarom is ons die manier waarop ons lewe en die wyse waarop ons teenwoordig is in hierdie wêreld so belangrik.

U ken daardie uitdrukking:  “Jou dade praat so hard, ek kan jou woorde nie hoor nie”. As ek myself ‘n dissipel noem, ‘n navolger van Jesus, moet my lewe wys dat ek inderdaad ‘n dissipel is.

Dawn Husnick, ‘n verpleegsuster, vertel van haar werk in die noodgevalle afdeling van ‘n groot Amerikaanse hospitaal.

“In my diensjare by Noodgevalle het ek Jesus daagliks sy koninkrykswerk sien doen deur ‘n groep van sy volgelinge.  Een dag staan egter bo al die ander uit … daardie dag het ek Jesus self gesien.”

Sy vertel dan hoe ‘n pasiënt opgeneem is wat walglik gestink het.  Kom ons noem hom Sakkie. Hy is vasgebind opgeneem, wat beteken het hy was gewelddadig of ‘n psigiatries onstabiele persoon. Nadat die dokter hom vlugtig ondersoek is, is bevind dat hy behoorlik gebad en met anti-bakteriële middels skoongemaak moet word.  Die opdrag was dat Dawn dit moet doen.

“Toe ek na Sakkie kyk, is ek oorweldig deur hartseer.  Hy was rusteloos en het omsamehangend gebrabbel deur sy dik baard en snor.  Sy oë was versluier agter sy lang, woeste hare.  Hierdie arme man het niemand gehad wat hom kon liefhê nie.  Wat sou in die verlede gebeur het om hom in hierdie toestand te laat eindig?  Niemand in Noodgevalle wou regtig na hom kyk, of hom aanraak nie.  Hulle wou hom, en sy gebroke lewe, ignoreer.  Eintlik wou ek ook, maar ek kon nie – ek het aangetrokke tot sy nood gevoel.”

Dawn besluit dat Sakkie in die wasproses vir tien minute lank die liefde van die Here sou ervaar.  Die wagte neem hom na die stort, wat sy, gevul met die Here se liefde, voorberei asof dit ‘n hotel is.  Hierdie vergete man sou soos ‘n koning behandel word.  Terwyl sy hare en liggaam gewas word, sy septiese voete geskrop word en sy naels geknip word, begin die skeptiese twee wagte verstaan wat gebeur, en begin heelhartig saamwerk.  Hulle gee handdoeke aan, en help Dawn met die proses.

“Terwyl ek sy voete doogvee, kyk ek op in Sakkie se oë.  Vir die eerste keer kyk Sakkie se oë in myne.  Vir daardie oomblik was hy by, sy oë wakker en sy gees helder.  Terwyl trane uit sy oë stroom, mompel hy ‘dankie’.  Op daardie oomblik het ek Jesus gesien.  Hy was daar, die hele tyd, daar waar Hy altyd gesê het Hy sal wees”:

“Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg … Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.'” (Matteus 25:35-40)

As reisgenote van Jesus is ons nie bedoel om noodwendig suksesvol te wees nie, in elk geval nie in wêreldse terme nie.  En die evangelie word nie uitgedra deur menslike prestasies, of ‘n kragtige vertoon of behoede ons, geweld nie.  Soos Jesus, is dit deur ons dienende teenwoordigheid in die wêreld dat ons draers van sy goedheid, liefde en herstel kan wees.  Dit is in ons diens aan die minstes wat die grootse boodskap van die evangelie versprei.

Ek sluit af

Dit is ons missie in die wêreld.  Ons is van Jerusalem af en vandag van Somerstrand af gestuur om draers van God se goedheid, sy liefde en die herstel wat Hy kan bring na elke huis, plek en werkplek te wees.

Ons neem so deel aan dinge wat groter eindig as wat ons ooit kan dink of droom.

Rugby-Wêreldbeker 1995 was ‘n wonderlike gebeurtenis.  Maar, in die duisende kleiner en groter dade van toewyding en eerbetoon aan die lydende Dienskneg, wat die vrede van God bring vir gewone mense, neem ons aan iets baie groters deel.  Ons neem deel aan die wedergeboorte van die wêreld.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer
Slotlied

Lied 519 Wees stil en weet: Ek is die Heer – staan

Seën

Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee (Num 6:24-26).

Amen

Lied 313 Amen – staan

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.

  • Avatar

    Annelize

    |

    Helo ek trek end November PE toe v Grahamstad.
    Hoe werk kerkdienste by julle. Weens Covid. Is daar dienste of is Alles online.
    Baie dankie
    Annelize Brisley