Skip to main content

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier – Kerssangdiens 2018

Die herders het die Here Jesus gesien. Die Kindjie in die krip. Die Koning van die wêreld. Die groot Vredemaker. Die een wat hulle met God sou versoen. Wat hulle sonde sou vergewe, hulle van hulle sonde sou verlos, en hulle heilig en onberispelik voor Hom sou stel. Sodat God in hulle lewe geëer kan word.

Dit is die boodskap van Kersfees. Daarvoor leef ons. Daaruit leef ons. Spring ons van vreugde … tot God se eer. Ons Verlosser is hier.

Hier volg die hele erediens. Daar is ‘n aantal foto’s aan die einde geplaas. 

Verwelkoming

39En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na ’n stad van Juda; 40en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet. 41En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring.

Aankondiging

Kinders stap in met brandende kerse.

Gemeente Lied 358 Welkom, o stille nag van vrede – sit

1. Welkom, o stille nag van vrede,

onder die suiderkruis,

wyl stemme uit die ou verlede

oor sterrevelde ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons ‘n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

2. Hoor jy hoe sag die klokke beier

in eeue-oue taal.

Kyk, selfs die nagtelike swye

vertel die ou verhaal.

Kersfees kom, Kersfees kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons ‘n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

3. Voel jy ook nou sy warm liefde

as ons die dag gedenk,

toe Hy sy Seun aan ons gegee het –

ons grootste Kersgeskenk.

Christus kom, Christus kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons ‘n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

Aankondiging

En Elisabet is vervul met die Heilige Gees 42en het met ’n groot stem uitgeroep en gesê:

Lofsang van Elisabet (Riette Müller)

Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! 43En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. 45En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word.

Blydskap oor die belofte van twee ongebore kinders

Wat wonderlik is van Elisabet se lofsang is die blydskap wat dit uitstraal oor die belofte wat twee ongebore kinders vir die wêreld inhou. Die Heilige Gees het Elisabet vervul sodat sy verder kon sien as maar net die wonder van hulle swangerskappe.

Ja, Elisabet was bly dat Maria geseënd is as vrou. Sy sou aan ‘n kind geboorte skenk. Selfs die ongebore Johannes was bly oor die gawe aan Maria. Hy het in Elisabet se skoot van vreugde opgespring. Elisabet was ook bly dat Maria gehoorsaam was, dat sy die dinge geglo het wat die Here vir haar gesê het.

Maar die diepste blydskap was dat die Here self in die ongebore kind van Maria na haar toe gekom het. Twee verwagtende Godsvroue wat twee ongebore Godsmanne dra.

Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie deur die belofte van twee ongebore kinders. Dink net wat hierdie twee kinders sou kon regkry ná hulle geboorte?

Gemeente Lied 349 Kom kinders besing nou – staan

1. Kom, kinders,

besing met ‘n vrolike stem

die wonder van God in die stad Betlehem,

want daar is die Heiland

gebore, dié nag,

die hoop van die wêreld,

deur eeue verwag.

2. Geringe klein dorpie in duister gehul,

‘n heilswoord is

deur dié geboorte vervul:

Die lig van die wêreld,

die God’like Kind,

is Jesus in wie ons die saligheid vind!

3. In need’rige krip

was sy bedjie berei –

die Kind wat die harte van almal verbly.

Omhoog, uit die hemel, sing engele eer,

die herders en wyses

kom kniel voor Hom neer.

4. Ons bring soos die herders

en engele weer

aan Hom alle hulde, ons Heiland en Heer.

Verlos van die sonde, besing ons tesaam

die roem en die eer

van sy heerlike Naam.

Aankondiging

46En Maria het gesê:

Lofsang van Maria (Lynette van Wyk)

My siel maak die Here groot, 47en my gees is verheug in God, my Saligmaker; 48omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. 49Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. 50En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. 51Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. 52Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. 53Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. 54Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink — 55soos Hy tot ons vaders gespreek het—aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.

Blydskap oor God se barmhartigheid

Maria se blydskap is dieper as Elisabet s’n. Sy sien nie net die belofte raak van twee ongebore kinders nie. Maria sien ‘n voller prentjie. Sy sien dat God in haar swangerskap sy barmhartigheid kom ten toon stel. Nie net vir haar as vrou met die geboorte van ‘n kind nie. Maar vir ‘n wêreld wat smag na verlossing.

Die God van Abraham is die God van sy nageslag tot in ewigheid. Hy is die Barmhartige. Hy is die een wat Hom ontferm. Elkeen wat God vrees, elkeen wat God soek, elkeen wat hulle verwagting op God stel, sal God se barmhartigheid ervaar, sal sy ontferming beleef.

Of dit iets groots sou wees soos om van verdrukking verlos te word, of iets kleiner soos om jou honger met goeie dinge te kan stil, God se barmhartigheid sal sy mense gelukkig maak. God is magtig. Hy is die Saligmaker. Hy doen kragtige dade vir sy mense.

Soos Hy dit eenmaal gedoen het met die geboorte van Samuel (1 Samuel 2:8; Psalm 113:7), só doen Hy dit hier met die geboorte van Jesus. In die proses verstrooi Hy mense wat hoogmoedig is. Verwar Hy hulle gedagtes. Stuur Hy rykes met leë hande weg. Maar sy mense geniet sy guns, sy omgee, sy barmhartigheid.

Koor – Lofsang van Maria (Elsje Nelson as solis)

My siel maak groot die Here

en my gees is verheug

In God my Saligmaker.

Want Hy wat magtig is,

het groot dinge aan my gedoen,

en heilig, heilig in sy Naam.

Barmhartigheid vir die wat Hom vrees

van geslag tot geslag.

Want van nou af sal die geslagte

my salig noem, omdat Hy die nederige

toestand van sy diensmaagd aangesien het.

En my siel is verheug.

My siel maak groot die Here.

Want Hy wat magtig is,

het groot dinge aan my gedoen,

en heilig, heilig in sy Naam.

My siel maak groot die Heer

en heilig is sy Naam.

Amen.

Johannes word gebore

56En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe. 57En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het ’n seun gebaar. 58En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly. 59En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader. 60Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word. 61En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. 62En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. 63Hy vra toe ’n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd. 64En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak,en hy het gepraat en God geloof. 65En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. 66En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.

Koor – loof heel die skepping

1. Loof, heel die skepping, loof die Heer,

verhef u stem en gee Hom eer!

Laat alles voor die Skepper buig

en Hom ootmoedig dank betuig.

2. Weer dink ons saam aan daardie nag;

die herders en die sterreprag,

die eng’lewoord wat blydskap bring,

die blye koor wat juigend sing.

3. Laat ons nog eens die lied herhaal,

die eng’lelied in mensetaal:

op aarde vrede, God die eer!

Die mensdom heil, Gods Seun daal neer!

4. Ons loof U dan, Immanuel!

U het oorwin én dood én hel.

U maak ons van die sonde vry,

daarom aanbid en juig ons bly!

Amen!

Aankondiging

67En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê:

Lofsang van Sagaria (Jan-Hendrik)

68Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, 69en ’n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg — 70soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af — 71redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat, 72om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink, 73aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee 74dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, 75in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe. 76En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak; 77om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, 78deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, 79om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.

Blydskap oor die verlossing van sonde

Sagaria sien nog verder. Hy sien nie net die belofte en die barmhartigheid raak van bevryding uit verdrukking en die stil van ‘n mens se honger nie. Hy sien die omvattende vergifnis en verlossing raak van sonde.

Sagaria loof God omdat Hy met die geboorte van Johannes die pad voorberei vir die Verlosser van die wêreld. Hierdie Verlosser sal nie net vir hulle van hulle vyande bevry nie. Hy sal hulle van hulle sonde verlos. Hy sal hulle heilig maak sodat hulle in geregtigheid voor God kan lewe.

Sagaria sien dus die verlossing, die heiligmaking, die lig wat God bring in ‘n duister wêreld om sy mense se voete op die pad van vrede te rig. Uiteindelik na die hiernamaals waar die vrede van God regdeur die heelal sal heers.

Dit is wat genade doen. Dit vergewe. Dit sien oor. Maar dit leer ook vir ons hoe om heilig te lewe. Dit oefen ons in die lewe wat God gee, sodat ons die sonde nie net kan aflê nie, maar uiteindelik sonder sonde vir ewig saam met God kan bestaan.

Band – Amazing grace van Chris Tomlin – staan

1. Amazing grace how sweet the sound

That saved a wretch like me

I once was lost, but now I’m found

Was blind but now I see

2. T’was grace that taught my heart to fear,

And grace my fears relieved

How precious did that grace appear,

The hour I first believed!

Koor

My chains are gone, I’ve been set free.

My God, My Saviour has ransomed me.

And like a flood his mercy reigns.

Unending love, amazing grace

3. The Lord has promised good to me,

His word my hope secures;

He will my shield and portion be,

As long as life endures.

Koor

My chains are gone, I’ve been set free.

My God, My Saviour has ransomed me.

And like a flood his mercy reigns.

Unending love, amazing grace

Koor

My chains are gone, I’ve been set free.

My God, My Saviour has ransomed me.

And like a flood his mercy reigns.

Unending love, amazing grace

4. The earth shall soon dissolve like snow,

The sun forbear to shine;

But God, who called me here below,

Will be forever mine,

Will be forever mine,

You are forever mine

Jesus word gebore

En in daardie dae het daar ’n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. 2Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. 3En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. 4En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, 5om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. 6En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; 7en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Gemeente Vonkk 39 2 strofes – Lank, lank terug in Betlehem – sit

1. Lank, lank terug in Betlehem

– die Messias soos verwag –

het Jesus Christus, Seun van God,

gekom op Kersfeesdag.

Refrein:

Hoor hoe sing die eng’lekoor,

hul bring aan God die eer.

Vir ons het God sy Seun gestuur,

niks kon sy liefde keer.

Hoor hoe sing die eng’lekoor,

ons Koning het gekom;

en ons sal leef in ewigheid,

omdat ons glo in Hom.

2. Waar herders wag hou in die nag,

sien hul ‘n nuwe ster.

Hul hoor ‘n eng’lekoor wat sing,

musiek wat kom van ver.

Refrein:

Hoor hoe sing die eng’lekoor,

hul bring aan God die eer.

Vir ons het God sy Seun gestuur,

niks kon sy liefde keer.

Hoor hoe sing die eng’lekoor,

ons Koning het gekom;

en ons sal leef in ewigheid,

omdat ons glo in Hom.

Herders het die boodskap die eerste gehoor

8En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9En meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.

Gemeente – Lied 364 3 strofes: Afr/ Eng/Afr – Herders op die ope velde– staan

1. Herders op die ope velde

het dié nag die englekoor,

met die blye evangelie

uit die hemel aangehoor:

Kom, loof die Heer,

loof die Heer,

loof die Here God

in die hoogste heem’le.

Kom, loof die Heer,

loof die Heer,

loof die Here God

in die hoogste hemele.

2. Come to Bethlehem and see

Christ Whose birth the angels sing;

Come, adore on bended knee,

Christ the Lord, the newborn King.

Gloria, in excelsis Deo!

Gloria, in excelsis Deo!

3. Met hul harte vol van vreugde

praat hul van die Jesuskind:

Herder vir die mens op aarde

wat verdwaaldes soek en vind.

Kom, loof die Heer,

loof die Heer,

loof die Here God

in die hoogste heem’le.

Kom, loof die Heer,

loof die Heer,

loof die Here God

in die hoogste hemele.

Aankondiging

10En die engel sê vir hulle:

Loflied van die engel (Paula Bothma)

Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, 11dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. 12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.

Aankondiging

13En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê

Loflied van die engele (Paula Bothma)

14Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!

Blydskap oor die eer aan God

Die lofsang van die engele sluit by al drie die ander lofsange aan – Elisabet, Maria, en Sagaria. En hulle is bly oor die belofte wat in die geboorte van Jesus vervul is. Hulle is bly oor die vrede wat die Kindjie op aarde bring. Maar die dieptepunt van hulle lofsang is dat die eer aan God bring. Dit is nie net vrede op aarde nie, al is dit vir ons só ‘n belangrike bron van blydskap.

Dit is eer aan God tot in die hoogste hemele. Dit is Soli Deo Gloria. Aan God alleen die eer. Die hart van die Sjema wat Israel drie keer ‘n dag in hulle gebede herhaal het: “4Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here. 5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deut 6:4-5)

Soos Jesus dit sou opsom in die dubbele liefdesgebod aangevul met die woorde: “en jou naaste soos jouself.” (Matt 22:39; vgl Lev 19:18). Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (Matt 22:40).

Koor – Vol vreugde sing die eng’le skaar

1. Vol vreugde sing die eng’leskaar:

Ere! Ere!

Aan Hom, die God van die hemele!

Die Seun word mens, Gods Woord is waar.

Halleluja! Halleluja!

Hy’t ons kom red, ons skuld gedra.

2. Ons loof die Raadsman, wonderbaar:

Ere! Ere!

Aan Hom, die Heer van die hemele!

Gods liefde is geopenbaar.

Halleluja! Halleluja!

Hy’t ons kom red, ons skuld gedra.

Gemeente Lied 365 – Hoor die blye eng’lelied– staan

1. Hoor die blye eng’lelied

aan die Koningseun gebied:

“Vrede op aarde – God die eer –

Hy daal tot die sondaar neer.”

Almal wat Hom liefhet, sing

om Hom lof en dank te bring!

Almal, juig met hart en stem:

God word mens in Betlehem.

Hoor die blye eng’lelied

aan die Koningseun gebied.

2. Christus, ewig God en Heer,

Christus daar omhoog vereer,

in die volheid van die tyd

word Hy mens, in needrigheid.

Sondelose Lam van God

kom aanvaar die mens se lot –

Hy, met mense saamgetel,

ware God – Immanuel!

Ook die aarde bring Hom eer –

Christus, ewig God en Heer!

Die herders het die Verlosser die eerste gesien

15En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. 16En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die Kindjie wat in die krip lê. 17En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. 18En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; 19maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. 20En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.

Spring van vreugde. Ons Verlosser is hier.

Die herders het die Here Jesus gesien. Die Kindjie in die krip. Die Koning van die wêreld. Die groot Vredemaker. Die een wat hulle met God sou versoen. Wat hulle sonde sou vergewe, hulle van hulle sonde sou verlos, en hulle heilig en onberispelik voor Hom sou stel. Sodat God in hulle lewe geëer kan word.

Dit is die boodskap van Kersfees. Daarvoor leef ons. Daaruit leef ons. Spring ons van vreugde … tot God se eer. Ons Verlosser is hier.

Karl en Lize Muller (duet) – Heilige nag

1. Heilige nag, die velde lȇ in stilte

soos wat die herders hul skape versorg.

Eeue reeds wag die wȇreld op die oomblik

dat God’s belofte gestalte sou kry.

’n Hoop wat leef in moeё menseharte,

die eerste lig wat deur die donker breek.

Kyk wat gebeur en hoor die engelstemme

Hosanna! Hosanna sy vrede breek nou deur.

Hosanna! Hosanna, die heilige nag.

2. Herders vertrek – die hoop leef in hul harte –

na Betlehem om die Kindjie te sien.

Toe hul Hom kry, in doeke by Maria,

het hul gekniel voor die klein Koningskind.

Die Koning van die hele wye wȇreld

het hul gevind in Betlehem se stal.

Hy is die Heer, Gestuurde uit die hemel!

Hosanna! Hosanna sy vrede breek nou deur.

Hosanna! Hosanna, die heilige nag.

3. Jesus, ons Heer, U leer ons leef met deernis

u wet is liefde en vrede u wil.

U breek die juk. Die kettings van die sonde

het ons as mense oor eeue gebind.

’n Lied van vryheid klink oor heel die aarde.

Ons prys sy Naam, besing die Heer se mag:

Jesus is Heer! Kom prys sy Naam, o mensdom!

Hosanna! Hosanna sy vrede breek nou deur.

Hosanna! Hosanna, die heilige nag.

Aankondiging

Die kerse word weer aangesteek terwyl ons Lied 348, Stille nag, sing.

Gemeente Lied 348 Afr/ Engels/ Afr – Stille nag– staan

1. Stille nag, heilige nag!

Jesus-kind, lank verwag,

Lig uit Lig, uit die Vader se ryk,

word uit liefde aan mense gelyk.

Loof die hemelse Kind!

Loof die hemelse Kind!

2. Stille nag, heilige nag!

Hemelvors, ons gee ag

op die lied van die engelekoor.

Herders het dit die eerste gehoor:

Juig, die Redder is daar!

Juig, die Redder is daar!

3. Stille nag, heilige nag!

Jesus, Heer, voor u mag,

voor u ryk moet die duisternis swig;

tot in ewigheid bly U die lig –

Heer, gebore vir ons!

Heer, gebore vir ons!

Seën

Dankie! (Janneke Jacobs, Albert Troskie, Kobus Esterhuizen, Lynette van Wyk, Paula Bothma, Jan-Henrik Coetsee, Marlene Cilliers, Anne-marie Barnard, Kerkkoor, Riette Müller, Karl Müller, Lize Müller, Marelize Neveling, Francois Yzelle, Conroy Bruwer, Benjamin Keller, Ronelda van Eck, Elizke Crouse)

Foto’s

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.