Skip to main content

Jesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Voorbereiding vir ‘n besoek

My suster bel middel Desember en sê, hulle bring my ma en pa met die trein vir ‘n kort kuier.  Ons sê ja, maar moet toe ons vakansieplanne met 2 dae uitstel, omdat ons eintlik op pad is Kaap toe.  ‘n Dag voor die tyd bel my broer en sê hulle reën uit op Nature’s Valley, het ons plek vir hulle?

En skielik is ons 17 mense wat geslaap en geëet moet kom.  In ons familie dink ons eerste aan hoe ons saam gaan eet – so 3 kg fillet en ‘n paar lekker bottels wyn en 60 eiers en hope spek en 4 brode vind hulle plek in ons kombuis.  Dit is net vir een dag en nag!

Volgende aan die beurt is slaapplek, en dis matrasse en rondskuif en regmaak.  En toe skoonmaak, badkamers, kombuis, kamers, sorg vir beddegoed, en handdoeke en parkering om te sorg dat alles reg is, sodat ons darem almal kan saamkuier, en ons mekaar se teenwoordigheid kan geniet.

Ken julle dit?

Dit is wat ‘n mens doen as jy uitsien na die koms van mense na aan jou.  En dit was ‘n fees.  Natuurlik hopeloos te veel eiers gewees, maar die fillet het heerlik gesmaak en dit was ‘n onthou-fees, een wat ons lank sal onthou, al was dit so ’n kort kuier.

En dit is uit dié hoek wat ek ons teks wil ontsluit.

Hier volg die hele erediens

Verwelkoming

Baie welkom.

Ons het geleer om gasvry te wees, veral ook met mense van ’n ander ouderdomsgroep.

Groet mekaar en kyk veral na iemand wat jonger as jy is, of ouer as jy is.

Verjaarsdae – almal wat verjaar, kan staan, dat ons geluk kan sê.

Aankondigings

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Vonkk 82 Laat ons skyn vir Jesus met ‘n helder glans – staan

Flam 108 Jesus maak my soos ’n sonstraal (x2) – staan

Vonkk 23 Jesus, U is die lig in ons lewe (x2) – sit

Vonkk 83 Kom ons wandel in die lig van God (Afr/Eng/Afr) – sit

Liedboek 488:1,2,5 Helder skyn ons lig vir die nasies – staan

Kindertyd

  • Graad Eens – opwindende jaar, haasbekkies, stralend, nuwe ervarings
  • Dinosaurus – wat is oulik aan dié een?
  • Hy gloei.
  • Hoekom?
  • Lig val op hom.
  • Kom ons kyk hoe hy werk – ek ’n box hier met ’n gat in.  Ek gaan hom nou in die lig van hierdie lampie hou, en dan insit.  Dan kan julle sien hoe hy gloei.
  • Dit is hoe ons ook is.  God se lig val op ons, dan verander ons lewens.
  • Hoe kan ons in sy lig lewe?
  • Wat dink julle?

o   Kerktoe kom

o   Saam bid by die huis

o   Bybellees

  • Ek wil hê julle moet in die banke ’n prent gaan teken.
  • Neem ’n papier  – onderaan staan die teksvers: “Kom, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.”
  • Teken vir my jou familie wat lewe in die lig wat van die Here af kom.
  • Kom wys vir my as ons dankoffers opneem.
  • Bring sommer die kryte dan terug ook.
  • Dan kan julle die prent gaan opplak in julle huis.

Gebed

Skriflesing

Jesaja 2:1-5

Die hoofstuk word in drie dele opgedeel:

1.       ’n profesie oor die toekoms wat God in Sion vir die nasies skep – vers 2-5;

2.       ’n oordeel oor die volk wat hulleself met afgode verneder – vers 6-11;

3.       ’n oordeel oor die aarde wat selfs die afgode insluit – vers 12-22

Woordverkondiging

God gee lig vir die lewe deur sy mense

Preek

Voorbereiding vir ‘n besoek

My suster bel middel Desember en sê, hulle bring my ma en pa met die trein vir ‘n kort kuier.  Ons sê ja, maar moet toe ons vakansieplanne met 2 dae uitstel, omdat ons eintlik op pad is Kaap toe.  ‘n Dag voor die tyd bel my broer en sê hulle reën uit op Nature’s Valley, het ons plek vir hulle?

En skielik is ons 17 mense wat geslaap en geëet moet kom.  In ons familie dink ons eerste aan hoe ons saam gaan eet – so 3 kg fillet en ‘n paar lekker bottels wyn en 60 eiers en hope spek en 4 brode vind hulle plek in ons kombuis.  Dit is net vir een dag en nag!

Volgende aan die beurt is slaapplek, en dis matrasse en rondskuif en regmaak.  En toe skoonmaak, badkamers, kombuis, kamers, sorg vir beddegoed, en handdoeke en parkering om te sorg dat alles reg is, sodat ons darem almal kan saamkuier, en ons mekaar se teenwoordigheid kan geniet.

Ken julle dit?

Dit is wat ‘n mens doen as jy uitsien na die koms van mense na aan jou.  En dit was ‘n fees.  Natuurlik hopeloos te veel eiers gewees, maar die fillet het heerlik gesmaak en dit was ‘n onthou-fees, een wat ons lank sal onthou, al was dit so ’n kort kuier.

En dit is uit dié hoek wat ek ons teks wil ontsluit.

God wys Jesaja ’n prentjie

Eerste ding wat my tref is dat Jesaja in vers 1 sê – die woord wat Jesaja gesien het oor Juda en Jerusalem.  Dit is iets wat God hom gewys het.  Ons weet nie hoe nie.  Jesaja vertel ons nie soos ‘n Esegiël of ‘n Johannes wat met hulle gebeur het nie.  Maar dit maak nie saak nie, want die inhoud van die prentjie wat hy sien, is ongelooflik inspirerend.

Dit is net ongelooflik hoe kragtig ’n prentjie is.  As jy dit eers gesien het, dan maak dit sin, en dan kan dit ongelooflik motiverend inwerk.

God kom kuier by ons

En dit is die tweede ding wat my tref, die visie wat God vir sy volk het, om ’n blywende ontmoetingsplek, te wees – kom ons noem dit ’n kuierplek – vir die nasies te wees, ’n plek waar hulle God kan ontmoet en met Hom kan kontak maak – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3) dat hy tot ’n seën vir die nasies sal wees.

Ons het al met baie beelde en prentjies gewerk om te sê waarvoor ons hier is.  Ons praat van die kerk as die liggaam van Christus, en die kerk as die gebou van God waarin ons soos lewende stene ingemessel word.

Maar daar is tog iets besonders om oor die kerk te dink as die kuierplek van God, die plek waar Hy tussen ons is en ons met Hom feesvier, sy wil leer ken, en daar ’n ongelooflike vryheid en gemeensaamheid tussen mense bestaan.

God is ’n kuierplek vir die nasies

Maar Jesaja bedoel nie dat dit net vir die kerk se mense so sal wees nie.  Nee, God belowe in Jesaja dat Hy ‘n kuierplek vir al die nasies gaan wees.  Al die nasies sal daarheen stroom.  Hulle sal sê, kom laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe.

En waarheen kom hulle?  Hulle kom na dié by wie God reeds sy intrek geneem het, dié by wie God reeds kuier.

God kom by ons woon

Maar daar is eintlik nog meer.  Die teks praat natuurlik nie regtig van kuier nie.  Dit praat van woon.  God maak ons sy woonplek sodat Hy deur ons ’n woonplek vir die nasies kan word.  Die kuierplek is ’n woonplek.  Dit is iets wat nie net vir ’n dag gebeur nie.  Dit is blywend.  Dit is iets wat nie tot ’n hoogtepunt lei en daarna kom die afskeid en die verlies nie.  Nee, die woonplek van God is blywend onder sy mense.  Kuier is woon.

Lewe in die lig wat van God af kom

Die derde ding wat my tref is dat die volk opgeroep word in vers 5 om in die lig van hierdie openbaring, hierdie lig wat van die Here af kom, te lewe.

Hoekom?

Wel waar God kom kuier, waar Hy kom woon, in die woorde van Jesaja, is dit nie meer nodig om oorlog te maak nie.  Nee, ons kan fokus op wat ons bestaansdoel is, om eerder te sorg dat daar kos is vir almal, as om te keer dat ander kos in die hande kry.  God maak van soldate boere, boere wat nie meer teen mekaar veg met swaarde en spiese nie, maar saam met mekaar staan, soos een verenigde mag, wat die natuur sal tem met ploegskare en snoeiskêre, sodat daar kos sal wees vir almal.

Dit is iets wat ons met passie moet omarm en ons manier van lewe, die manier waarop ons ander mense hanteer, laat beïnvloed.

Net jammer dat Israel hierdie prentjie nie kon sien nie. En daarom nie probeer het om dit waar te maak nie.

Ons weet uit die geskiedenis dat dié roeping wat God vir sy volk het, nie hulle harte en lewens in beweging gebring het nie.  Daarom dat die oordeel oor hulle in vers 6-11 aangekondig word wat hulle verwerping insluit.

Trouens die res van die boek Jesaja sal ons aandag vestig op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef wat hulle hul doel laat mis om as pelgrimsbestemming, as ontmoetingsplek, as kuierplek vir die nasies te dien.  Hulle kies om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7).  Daarom voltrek God sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Maar die droom bly. God wil die nasies ontvang.  Hy wil hulle leer wat sy wil is.  Hy wil hulle help om sy wil te doen.  En die uitnodiging is vir sy volk, sy kerk, om hierdie droom te omhels en nou al iets daarvan waar te maak.

Die droom bly – dat God se mense ’n punt van kontak tussen mense van die nasies en God sal wees.  Hoekom? Want God het gekies om deur sy mense ’n lig vir die wêreld te wees.  Hy kies dat mense sy wil sal leer ken deur die lewens van sy mense.

In ’n sekere sin is dit al wat ’n kerk ooit mag wees, ’n plek waar God se lig so helder skyn dat dit lewe gee vir ander mense.  Daarom kan die kerk bv. nooit ’n politieke party wees nie.  Hoe ’n kerk lewe sal politieke konsekwensies hê, om op te kom vir die reg en behoeftes van verdruktes en behoeftiges, maar die oomblik as die kerk ’n te onafhanklike rolspeler in die magstryd tussen politieke faksies word, begin hy sy primêre funksie verloor.  En dit is om ’n kontakpunt tussen God en mense te wees.  Eweneens geld dit die ekonomie.

God het dit in Jesus gedoen

En nou kan ons vir mekaar herinner dat hierdie boodskap alreeds vervul is met die eerste koms van Jesus.  Die verwagting van Advent word met Kersfees en Epifanie die kuier saam met God.  Hy het belowe Hy gaan kom kuier, en Hy is nou hier.  Om die waarheid te sê, Hy kuier deur sy Gees in ons harte en lewens.

Dit is een van die wonderlike boodskappe wat die Nuwe Testament vir ons kom gee.  Soos Johannes 14 dit uitspel: “Ons sal na jou toe kom,” en by jou kuier.

God kom weer

En God het belowe dat Hy weer sal kom.  Die eerste koms was om die koninkryk te vestig en dissipels te werf sodat die groot taak om die nasies te gaan uitnooi gedoen kan word.  Maar daar is ook ’n tweede koms, die Wederkoms van die Here Jesus Christus, waar Jesaja 2 finaal bewaarheid gaan word.

En watter implikasies het dit vir ons en die nasies?

In die eerste plek word ons dus gemotiveer deur die eerste koms van Jesus om die boodskap van God aan alle nasies uit te dra, en ’n kuierplek, ’n woonplek vir hulle te word.  Want ons is immers die kontakpunt met God. Mense kan in ons en in ons getuienis en in ons ervarings die lewende God sien.

Maar ons word in die tweede plek ook gemotiveer deur die tweede koms van Jesus.  Omdat Hy weereens op pad is, maak dit ons alledaagse lewe so krities belangrik.

Wat ‘n mooi prentjie.

Hoe?

Ons moet eerstens sorg dat ons mekaar lief het en tyd maak om te luister en te speel.

Ons moet tweedens sorg dat ons dit voor die Here doen sodat ons almal saam ons liefde vir Hom kan uitleef, saam kan bid, saam sy wil kan leer, sodat ons kan lewe in die lig wat van Hom af kom.

Ons moet derdens sorg dat daar nie hindernisse is wat ander mense uitsluit nie.  Ons mag lief wees vir ons taal, maar dit moet nie ander mense uitsluit wat saam met ons wil aanbid en saam met ons wil wees nie.  Ons mag lief wees vir ons kultuur, maar dit moet nie ander mense uitsluit wat ander gewoontes as ons het en saam met ons wil aanbid en saam met ons wil wees nie.

Maar ons moet in die vierde plek nie net ‘n oop plek word vir ander nie. Ons moet ook met gasvryheid uitreik en oor die grense gaan wat mense so baie keer van mekaar skei.

Hoekom?  Want God is vir ’n tweede maal op pad na die aarde toe en sal sy nuwe hemel en aarde kom vestig.  Dit sal ‘n blywende plek hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels.  Ons moet voorberei vir sy koms.  Ons moet gereedmaak, sodat dit ‘n feestelike ontmoeting sal wees, waar ons saam met baie nasies die Here sal ontmoet en Hom sal eer.

Gebed

Dankoffers

Kinders kom wys hulle prente.  Bring kryte terug.

Slotlied

Liedboek  348:3 Stille nag, heilige nag! – veral vers 3: “voor u ryk moet die duisternis swig” – staan

Seën

Halleluja

Liedboek 228

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.