Skip to main content

‘n Koningin met skoonheid en moed – Ester 4

Dit is die 5de eeu voor Christus (486-465 v.C.).  Xerxes (Ahasveros) is koning in Susan en heers oor die Persiese ryk.  127 provinsies is aan hom onderdanig, van Indië tot by Egipte.  Hy is ’n magtige, wrede, en wispelturige koning.  ’n Mens glimlag as jy lees dat die koning dink ’n wêreldwye bevel “dat elke man baas moet wees in sy eie huis” (1:22) sommer outomaties sal werk – die skrywer gee hiermee ’n klein stekie na die bravade van die patriargie.  Maar dit is dié koning, wat waarskynlik nie eers kan lees nie, wat met een bevel jou doppie kan laat klink, sommer ’n hele volk kan uitwis.  Iemand om deeglik mee rekening te hou.

Hier volg nou die hele erediens …

Verwelkoming

RUS

Toetrede

Lied 154:1 – Kom nou tesaam, laat ons vergader, één as sy Kerk, één in sy Naam – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 46:1 – God is ons toevlug en ons skut, al gee die aarde onder mee – staan

Vonkk 92 – Als so mooi en wonderlik het God, die Heer, gemaak – sit

Koor: Ons gee ons hande vir U (Uit Botswana)

HOOR

Kindertyd

Gerrit en Sonja Brink vertel hulle storie

Skriflesing

Ester 4

Woordverkondiging

Die Joodse volk se voortbestaan in die gedrang

Dit is die 5de eeu voor Christus (486-465 v.C.).  Xerxes (Ahasveros) is koning in Susan en heers oor die Persiese ryk.  127 provinsies is aan hom onderdanig, van Indië tot by Egipte.  Hy is ’n magtige, wrede, en wispelturige koning.  ’n Mens glimlag as jy lees dat die koning dink ’n wêreldwye bevel “dat elke man baas moet wees in sy eie huis” (1:22) sommer outomaties sal werk – die skrywer gee hiermee ’n klein stekie na die bravade van die patriargie.  Maar dit is dié koning, wat waarskynlik nie eers kan lees nie, wat met een bevel jou doppie kan laat klink, sommer ’n hele volk kan uitwis.  Iemand om deeglik mee rekening te hou.

Daniël se invloed in dié stad, soos ons bv. lees in sy verhouding met Xerxes se oupagrootjie Kores, is besig om te vervaag. 20 jaar later sal Xerxes se seun Artaxerxes (Artasasta) vir Nehemia ondersteun om die stad Jerusalem se mure te gaan herstel.

Maar dit is nog in die toekoms. Alles hang op hierdie stadium af van hoe Xerxes die bose planne van die Agagiet Haman gaan hanteer.  Want Haman haat vir Moredegai met ’n passie, omdat dié nie voor hom wil buig en hom wil vereer, soos dit by sy hoë posisie in die ryk pas nie.

Op die spel is die voortbestaan van die Jode in Susan.  Maar dit is nie al nie.  Haman het dit reggekry om Xerxes te oortuig om nie net vir Moredegai nie, maar alle Jode in al 127 provinsies regoor die Persiese ryk uit te roei.  Die Joodse volk loop dus gevaar om heeltemal uitgewis te word.

Dit is ’n groter gevaar as die Assiriese ballingskap in die 8ste eeu.  Dit is ’n groter gevaar as die Babiloniese ballingskap van die 6de eeu v.C.  Etniese suiwering is hulle voorland – ’n mooi woord om totale uitwissing te beskryf.  Die volk van Dawid se voorbestaan is op die spel.  Die Messias se geboorte kan net hier tot ’n mooi maar onhaalbare droom verdoem word.

Haman se vyandskap

Haman se vyandskap kom ’n lang pad.  Hy was ’n Agagiet.  Sy voorsaat Agag (3:1), was ’n koning van Amalek.  Mordegai was weer ’n Benjaminiet.  Een van sy voorsate was koning Saul uit die stam van Benjamin (Est. 2:5; 1 Sam 9:1-2).  Uit die geskiedenis weet ons dat Saul en Samuel teen Agag en die Amalekiete geveg het, hulle oorwin het en Agag in stukke gekap het voor die Here (1 Sam 15).  Dit is iets wat Haman nie kon vergeet nie.  Hy het die Benjaminiete met ’n passie gehaat.

Nou wil die Benjaminiet nie voor hom buig nie.  Daarom wou hy nie net vir Mordegai uit die wegruim nie, ook nie net die Benjaminiete nie, maar sommer die hele volk van die Jode regoor die wêreld.

Die vete tussen die Jode (Benjaminiete) en die Amalekiete (Agagiete) was dus baie diep en verbete.

God werk agter die skerms

Agter die skerms is God egter aan die werk.  Een van sy rolspelers is die pragtige meisie Ester.

Ester se Persiese naam kom van die Persiese woord vir ster af.  Haar Hebreeuse naam was Hadassa.  Dié naam kom van die mirteboom af wat ’n vyfpunt stervormige blaar het.  Ons almal kan waarskynlik die ooreenkoms sien met ’n ander ster, die embleem van die Jode, die sespuntige ster van Dawid wat steeds pryk op die Joodse vlag.

Ester was ‘n weeskind, die dogter van Abigajil wat vroeër al oorlede is en deur haar oom Mordegai aangeneem is. Ester was beeldskoon.  Soos die boek sê: “Dié meisie was mooi, sy was baie mooi.”

’n Baie belangrike stukkie inligting word vir ons in die eerste hoofstuk gegee dat Ester nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak het nie.  Mordegai het haar belet om dit te doen waarskynlik om haar te beskerm. Hy het ook gesorg dat hy ’n ogie oor haar hou, al was dit van buite af.

Mordegai tree visioenêr op

Mordegai, die tweede rolspeler wat God gebruik, sien kort hierna twee poortwagte, Bigtan en Teres, wat verbitterd was teenoor die koning en hom wou uitwis.  Hy waarsku die koning en voorkom só sy dood.  Dié weldaad word in die annale van die koning ingeskryf wat ons voorberei vir die verrassing van die koning se beloning later wat die begin van die einde van Haman se planne sou wees.  Dit is immers hoe God te werk gaan, ongemerk, onopsigtelik, maar onkeerbaar.  Hy deursuur alles met sy teenwoordigheid.

Ons kan baie leer by Mordegai se manier van werk.  Hy het nie tonnelvisie nie, maar hou die breër prentjie die hele tyd in gedagte.  Sy fokus val dus nie net op Ester se lot in die paleis nie, maar ook op Ahasveros s’n, omdat hulle lot onlosmaaklik verweef is.  Net so dink hy nog breër ook deurentyd aan die lot van die volk.  Dit help hom om die regte ding op die regte tyd te doen om die grootste moontlike invloed uit te oefen.  Hy is ’n ware visioenêre leier.

Haman wil Mordegai en die Jode uitroei

Haman se woede teen die Jode ken egter geen perke nie en hy trek die koning in by sy planne om hulle uit te wis.  Die datum vir dié uitwissing word met die Pur – dit is met die lot – beslis, nogal op die dertiende van die laaste maand Adar.  Geen wonder die dertiende is nie ’n gewilde datum in die wêreld nie!

Haman beplan letterlik ’n etniese suiwering wat alle Jode sal insluit: “klein en groot, kind en vrou, “ asook hulle besittings.  Die wreedheid en ondeurdagtheid hiervan word in ’n eenvoudige sin weergegee: “Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering.” Haman se wreedheid ken geen perke nie, maar die koning se ondeurdagtheid ook nie.

Mordegai tree met groot wysheid op
Mordegai se reaksie is egter “spot-on”.

Kom ons lees dit met stukkies verduideliking tussen-in.

4 Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hard en bitterlik gekerm. 2So het hy tot by die poort van die paleis gegaan. Niemand kon met rouklere aan by die poort ingaan nie.

Hy gaan eerstens in ’n tydperk van rou en vas waarin ’n mens kan aanvaar dat geestelik van aard was – gegewe die skeur van sy klere, die aantrek van rouklere en die as op sy kop – en doen dit tweedens baie publiek deur deur die stad te loop en hard en bitterlik te kerm. Hy speel dus in op die beroering wat daar in die stad is, waarin daar waarskynlik baie was wat simpatie met die Jode gehad het.  Ten minste bereik dit die ander Jode wat steeds in die stad Susan gevestig was.

3In al die provinsies waar die besluit en die proklamasie van die koning bekend geword het, was daar groot smart onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gekerm, en baie het rouklere aangetrek en in die as gaan lê.

Dié proses word daarom in al die provinsies van die Persiese ryk deur die Jode gevolg.

4Toe koningin Ester se kamerpersoneel en haar paleisbeamptes haar van Mordegai kom vertel, was sy baie ontsteld. Sy het vir hom klere gestuur om aan te trek in die plek van sy rouklere, maar hy wou dit nie vat nie. 5Ester roep toe vir Hatak, een van die koning se paleisbeamptes wat in haar diens was, en beveel hom om na Mordegai toe te gaan en uit te vind wat aangaan en waarom hy so maak.

6Hatak het na Mordegai toe gegaan op die stadsplein voor die poort van die paleis. 7Mordegai het hom alles vertel wat gebeur het, selfs van die presiese hoeveelheid silwer wat Haman onderneem het om aan die skatkis van die koning te lewer as hy die Jode mag doodmaak. 8Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is en waarvolgens die Jode doodgemaak moes word. Hatak moes dit aan Ester wys, haar alles vertel en haar versoek om na die koning toe te gaan. Sy moes hom om genade smeek en vir haar volk intree.

9Hatak is toe terug na Ester toe en het Mordegai se woorde aan haar oorgedra.

Uiteraard kon Ester dus nie help om te hoor van alles wat gebeur nie en dit lei die volgende fase van Mordegai se reaksie in.  Hy vra haar derdens dat sy Ahasveros om genade moet smeek en só vir haar volk moet intree.

10Sy het toe vir Hatak beveel om vir Mordegai te sê: 11“Al die amptenare van die koning en die mense in die provinsies van die koning weet dat daar net een wet is vir enigeen, man of vrou, wat na die koning toe in die binneste voorhof gaan as hy nie ontbied is nie: hy word sonder meer doodgemaak. Die enigste uitsondering is dat die koning sy goue septer na so ’n persoon toe uitsteek; dan bly hy lewe. En dit is nou al dertig dae dat ek nie na die koning toe ontbied is nie.”

Haar huiwering om die koning om genade te gaan smeek, kom waarskynlik in die eerste plek omdat sy tot dusvêr aangeraai is om haar Joodse afkoms geheim te hou en dit nou die aap uit die mou sal laat.  Iemand soos Haman sal dit dan ook weet.  Maar in die tweede plek is haar huiwering te wyte aan haar wete dat sy haar lewe in gevaar sal stel deur onaangekondig by die koning aan te kom.

12Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra, 13en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. 14As jy nóú swyg en daar kom van ’n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”

Mordegai se woorde aan haar weerklink tot vandag toe nog by elkeen wat voor só ’n groot keuse gestel word: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!

15Ester het toe vir Mordegai laat weet: 16“Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”

17Mordegai is toe weg en het alles gedoen wat Ester hom beveel het.

Mordegai se woord motiveer Ester dus om op te tree en die impak van haar invloed te toets ten bate van haar volk.  Sy tree met groot oorleg. Sy was nie net baie mooi nie.  Sy was baie slim.

Ester tree met groot oorleg op

Sy soek eerstens ’n inkoop en intrede by al die Jode wat in die stad Susan is.  Hulle moet ’n streng drie dae lange vas hou waarin hulle niks mag eet of drink nie.

Sy doen natuurlik ook self wat sy van die ander Jode vra, en sluit selfs haar kamerpersoneel in by die vas.   Met haar inkoms by die koning is daar weer die onsigbare hand van God merkbaar in die goue septer van Ahasveros wat na haar toe uitgesteek het omdat sy hom so bekoor.

Sy val ook nie sommer só met die deur in die huis nie, maar skep ’n atmosfeer waarin Ahasveros gemoedelik sal wees en Haman se manipulasie die minste effek kan hê en nooi hulle vir ’n ete.  Selfs by dié ete stel sy steeds die mededeling van haar versoek uit, deur hulle eers vir nog ’n ete die volgende dag uit te nooi.  Dit was waarskynlik om doodseker te maak dat sy regtig die aandag van beide Ahasveros en Haman sal hê, sodat die bom wat sy sal laat bars oor die impak wat hulle gesamentlike besluit op haar en haar volk sal hê, die maksimum effek op hulle kan hê.

Dit is kostelik hoe bly en opgeruimd Haman reageer, min wetende wat op hom wag.  Hy berei ook ironies genoeg die instrument vir sy eie ondergang voor met die bou van die galg vir Mordegai, soos sy vrou Seres by hom aanbeveel.

God keer Haman se planne

In hoofstuk 6-9 lees ons dan die verstommende uitkoms wat orals in die wêreld redding vir die Jode sou bring.  Interessant genoeg is dit die koning se slaaploosheid wat die draaipunt in die verhaal verteenwoordig.

Omdat die koning nie die nag kon slaap nie vra hy dat uit sy annale aan hom voorgelees word. Toe hy hoor van Mordegai se ontmaskering van ’n sameswering teen hom, besluit hy om Mordegai erkenning te gee daarvoor.  “Net toe” kom Haman daar aan met ’n bose plan teen Mordegai om hom te laat ophang op die galg wat vir hom opgerig is. Die koning spring Haman egter voor en reël dat Haman vir Mordegai eer bewys, presies op die wyse wat Haman self voorgestel het.

Soos Dawid Pawson dit beskryf: “It was an extraordinary coincidence – clearly the hand of God.”

Dit het ’n groot impak op Haman en beskaam hom selfs in die oë van sy raadgewers en sy vrou.  Hulle maak hierdie geweldige uitspraak oor Haman maak, dat: “jy  nie (sal) kan standhou voor hom (Mordegai) nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”!

Dit is egter nog maar die begin van die probleme wat Haman ervaar.  Terwyl hulle by die tweede geleentheid besig is om wyn te drink, kom Ester met die hele mandjie patats na vore: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

Let op hoe sy nie net oor haarself en haar lot praat nie, maar dit veral motiveer in die lig van wat met haar volk gaan gebeur.  Maar die beste argument is eintlik dat sy vir Ahasveros duidelik maak dat sy eie belange daardeur geskaad sal word.  Sy kies die beste moontlike geleentheid vir haar versoek en sy doen dit op die beste en deurdagte manier moontlik!

Toe Ahasveros agterkom dat Haman hiervoor verantwoordelik is – in Ester se woorde: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman” – was sy doppie geklink.  Sy smeking om genade lyk boonop vir die koning na aanranding en Haman word opgehang op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou het.

Haman se vernedering duur selfs ná sy dood voort.  Sy eiendom word aan Ester gegee wat dit aan Mordegai toevertrou om te bestuur, nadat sy haar verwantskap met hom aan die koning verklaar het.  Die posisie wat Haman gehad het, word boonop aan sy vyand, Mordegai, gegee, verseël met die seëlring van die koning.

God gee uitkoms vir die Jode

Met Haman so verneder en uit die weggeruim, was die probleme van die Jode egter nie op ’n einde nie.  Die bevel van die koning was steeds dat hulle op die dertiende van die maand Adar uitgewis sou moes word.  Dié bevel kon nie as sodanig verander word nie, al het Ester voor Ahasveros gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek.

Daarom stel Ester voor dat daar ander briewe geskrywe word, aan elke volk in hulle eie taal, dat die Jode die reg het om hulle te verdedig en die ramp wat hulle kon tref, só te kan afweer.  So 20 dae voor die voltrekking van die vorige gebod van Ahasveros rondom die uitwissing van die Jode, het boodskappers op resiesperde dié nuus versprei deur die hele ryk dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Trouens, die bevel was dat hulle enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet kon uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. ’n Radikale ommekeer in die koning se voorskrifte en een wat vandag nog weerklink in die manier waarop die Jode hulle teen die wêreld beveilig.

Die nuwe opdrag was dus net soos die vorige een, wreed, aggressief en ongenaakbaar, maar waarskynlik die enigste manier om só ’n groot gevaar, dié van etniese suiwering, te vermy.

Die bevel van die koning het tot groot vreugde in die stad Susan gelei en vir die Jode was daar weer “lig en vreugde en blydskap en ‘n gevoel van eiewaarde”. Hulle het maaltye gehou en feesgevier, iets wat uiteindelik oor sou gaan in die jaarlikse instelling van die Purimfees.

Die dertiende dag van Adar breek toe aan met die tafel gedek vir grootskaalse oorlog.  Omdat die Jode egter voorbereid was, kon hulle weerstand bied en het hulle hul vyande oorweldig. Niemand kon voor hulle standhou nie.

Een van die redes vir die omkeer van die situasie was natuurlik dat Mordegai nou ‘n hoë posisie aan die hof van die koning beklee het en hy mag oor die goewerneurs van die provinsies gehad het. Trouens dit het bekend geword dat hy al hoe meer mag kry.  Niemand wou dus van hom ’n vyand maak nie en al die leiers, verteenwoordigers, goewerneurs en ander in diens van die koning het die Jode daarom uitgelos oral in die 127 provinsies waar hulle in beheer was.

Die 14de dag (15de dag in Susan, omdat hulle oorlog langer geduur het) is daarom ’n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ’n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.

Die Purimfees

Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf (hy is daarom ook waarskynlik die skrywer van die boek Ester) en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het.  Dit is ook bevestig deur ’n brief van Ester.  Die Jode moes hierdie twee dae, dae van feesviering en vreugde maak, en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.  Dit het toe só ‘n vaste gebruik geword, iets wat vandag nog só gevier word.

Daar was ook ’n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Eintlik staan daar in die gebruikte grondteks nie die woord God nie, maar wel die volgende sin: “soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.”  Die weeklag het natuurlik met God te make, maar dit word nie eksplisiet só gestel nie.

Een van die voorskrifte vir die fees is dat die boek Ester telkens voorgelees moet word om die geskiedenis in hulle geheue te verfris.  Daarby is een van die tradisies dat die Jode geleer word om elke keer dat Haman se naam genoem word, uit te roep: “Vervloek is Haman!” Elke keer wat Mordegai se naam gelees is, moet hulle uitroep: “Geseënd is Mordegai!” Die voorskrif lui verder, dat daar op dié fees baie wyn gedrink mag word, om die waarheid te sê, soveel wyn, het die rabbi’s gesê, totdat niemand meer die verskil sou ken tussen “vervloek is Haman” en “geseënd is Mordegai” nie.  Kan jy nou meer!

Die boodskap van die boek

  1. Die diepste indruk wat die boek op my laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur.  Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you.  So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” (Responsible Self).  Dit is ’n baie raak beskrywing van wat ons in dié boek Ester aantref, al word God se naam nie een keer eksplisiet genoem nie.
  2. God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend.  Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede  laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28).  Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses.  Ons noem dit God se voorsiening.  Hy IS die voorsienigheid!  Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede, soos Mariette Rossouw altyd sê!
  3. Die boek leer ons ook hoe EEN persoon ’n verskil kan maak.  Dit is ten diepste wat leierskap is, die besluit om ’n verskil te maak en dit uit te voer al bars die bottel.  God gebruik ons waar ons is, al is ons alleen.  Dit help natuurlik om ’n ondersteuningsnetwerk te hê soos Mordegai dit vir Ester is.  En daar is dinge wat Ester kon doen, wat Mordegai nie kon nie en omgekeerd. Maar een mens wat doen wat God vra, wat met oorleg en wysheid optree en nie terugdeins van die verantwoordelikheid om dit te doen nie, maak ’n groot verskil, veral waar dit gedoen word in vertroue op die Here.  Sela!

LEEF

Gebed

Dankoffers

Koor: Twee Taizé-liedere

In die Heer vind ek al my sterkte

Jesus, U is die lig

Gerrit en Sonja vertel wat die Here tans deur en met hulle doen

Slotsang

Lied 440 – Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid – staan

Seën

Respons

Wegsending Koor: Shalom, my vriend (Uit Israel)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.