Skip to main content

Matteus 2:13-23 – God werk beslissend deur Jesus, die Nasarener

Twee sentrale perspektiewe uit Matteus 2:13-23 gee my hoop vandag en vir 2014:

1. Die eerste is die insig dat “die beslissende dinge wat God doen, nie altyd duidelik is in die morsige oomblik waar die swaard uitgepluk en die bloed van kinders vloei nie, soos dit hier van die kindermoord deur Herodes vertel word” (dankie Danie Mouton!). 

Herodes slaag nie in sy bose planne nie. Die Kind wat hy wou bykom, word deur God beskerm, nogal in vervulling van die profetiese belofte in Hosea 11, om die verlossende werk wat Jesus in Israel sou doen, te verseker.

Soos daar in die tagtigerjare gebedskettings deur gelowiges regdeur ons land gevorm is om die dreigende burgeroorlog te beëindig, dink ek dit is waarskynlik op die oomblik weer nodig dat ons in gebed verenig om die Here te vra om ’n einde aan die grootskaalse korrupsie en misdaad in ons land te maak en dit moontlik te maak vir ons om regtig ’n verandering te bring regdeur ons samelewing deur onderwys en gesondheid en ander basiese dienste, terwyl ons van die werklikheid van God se teenwoordigheid getuig.

Sulke gebed sal dan ook altyd van ons vra dat ons bereid moet wees om deel van die antwoord daarop te wees. Daarvoor moet ons ons in die nuwe jaar gee – soos Jesaja 62:6-12 (RCL teks) ons op Kersdag herinner het. Ons is die wagte op die mure wat moet bid totdat die Here verlossing bring vir ons land en vir hierdie wêreld.

2. Die tweede is die interessante feit dat Matteus Jesus in dié teks die NASARENER noem. 

Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie NASARET waar hulle gaan woon het, en die Hebreeuse woord NESER wat loot of takkie beteken. In Jes 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”. In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl ook Jes 53:2).

Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.

Matteus sê vir ons deur hierdie identifikasie van Jesus as Nasarener, dat hierdie God in beheer is van die geskiedenis, selfs op en vanaf die plekke waar jy dit die minste verwag. Hy is besig om sy koningskap te vestig deur die werk van Jesus Christus op aarde – selfs al is dit verskuil en onder die radar. Dit kan julle glo. Daarop kan julle staatmaak.

God word nooit onkant gevang nie – nie deur Herodes nie, nie deur gewaande onbenulligheid nie. God is besig om die wêreld onafwendbaar te lei na die heerlike bestemming van vir die kinders van God weggelê is. Daarin kan en sal ek en jy deel, maak nie saak in watter krisisse ons of ons mense ons ook al in bevind nie.

Dit is ’n perspektief wat my baie hoop gee vir ons gemeente en vir ons kerk, veral in die lig van die idee wat sommige mense het dat ons invloed gekrimp het en daar min hoop is dat ons kerk nog ’n verskil kan maak in hierdie land van ons.

Wat beteken dat Jesus ook nou in jou lewe aan die werk is, ook in ons gemeente, ook in ons kerk. Die Nasarener is die Messias. En deur ons, deur ons gebede, deur ons getuienis, deur ons gemeenskapsbetrokkenheid, kan Hy die land verander, sál Hy trouens die land verander.

Daarvoor kan ons onsself in 2014 gee.

Hier volg nou die hele teks van my erediens vandag:

Verwelkoming

Toetrede

Ps 148:1 – Prys uit die hemele die Heer – sit

Votum en Seëngroet

Lofliedere

Lied 353:1-3 – Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel – staan

Lied 365:1-3 – Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied – sit

Gebed

Skriflesing

Matteus 2:13-23

Die vlug na Egipte toe

13Nadat hulle vertrek het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

14Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek 15en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” d

Die kindermoord

16Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. 17Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

18“’n Gekerm word op Rama gehoor,

’n gehuil en groot gejammer:

Ragel treur oor haar kinders

en wil nie getroos word nie,

omdat hulle nie meer daar is nie.” e

Die terugkoms uit Egipte

19Na die dood van Herodes verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte 20en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

21Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. 22Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in ’n droom ’n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. 23Daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

Woordverkondiging

Die wêreld is vol geweld.

Die wêreld is vol geweld.  Só is die predikant van die Victory Christian Centre in Tulsa, Oklahoma ‘n paar jaar gelede tydens die erediens met die vuis bygedam. Steven Rogers (50) het onder die preek opgestaan en die dominee in die gesig gaan slaan.

Soos dit gaan met predikers, kon niks pastoor Billy Joe Daugherty stop nie. Hy het bly preek, hoewel die vuishou ‘n sny bo sy oog veroorsaak het, wat later ‘n paar steke moes kry.

‘n Klompie gemeentelede het die wannabee bokser platgeduik en aan die polisie oorhandig. Dié het hom vir openbare geweld arresteer. Die goeie prediker het die erediens egter afgesluit met ‘n gebed vir sy aanvaller en geweier om ‘n klag te lê. (www.firstcoastnews.com)

Herodes die Grote

Ja, die wêreld is vol geweld. Baie groter geweld as ‘n relletjie in die kerk, of ‘n vuishou en ‘n klap hier of daar. Die wêreld is vol gewelddadige tiranne wat nie huiwer om af te knou, te gryp, op te eis, te moor en te laat vermoor nie.

Koning Herodes die Grote was so ‘n wrede en magsbehepte karakter. Hy was in Israel aan bewind tydens Jesus se geboorte. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“vark” en “seun” is ‘n woordspel in Grieks – die twee woorde eindig dieselfde: choiros en uios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunstelingvrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.

Ons teks vertel van sy heftige reaksie op die wyse manne se verraad. Hy kom agter hulle het met ‘n ander pad teruggekeer na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om die wyse manne te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.

Die Hoofkarakter

Naas Herodes is daar ook verskeie ander “karakters” in ons teks:

  • ‘n Engel verskyn twee keer aan Josef om hom te lei om reg op te tree – eers om na Egipte te vlug, en dan om terug te keer;
  • Josef, wat gehoorsaam op die droom reageer en dieselfde nag nog die Kindjie en sy moeder neem en na Egipte vlug;
  • Egipte, die land waaruit die Here sy volk eeue vantevore geroep het, en wat nou weer skuiling bied aan die Kindjie en sy gesin (politieke vlugtelinge) terwyl Herodes sy bloed soek;

Nie een van hierdie “karakters” moet ons egter verlei om die Hoofkarakter, God self, mis te kyk nie. Die aksent in hierdie gedeelte val op God wat deur Jesus beslissend in die harde, verskriklike, gewelddadige wêreldgeskiedenis handel om hoop en uitsig vir mense te bring.

Hoewel Jesus nog net ‘n Kindjie in ons teks is, is Jesus, en die God wat deur Jesus handel, hier in die fokus. Daar word bv. telkens eers na die Kindjie, en dan sy moeder verwys. Dit is die Kindjie wat bedreig word, en wat beskerm word. En van die Kindjie word gesê dat God sy Seun uit Egipte roep (15).

Twee reaksies op Jesus

Soos verder in die Matteus-evangelie sal blyk, reageer mense op basies twee verskillende maniere op hierdie ingrype van God deur sy Seun, Jesus.

  • Eerstens is daar diegene wat gelowig en gehoorsaam reageer op wat God in Jesus doen. Josef aanvaar die vroeëre boodskap van die engel dat die Kind gebore word uit God se handelinge, en in ons teks gehoorsaam hy die opdrag om na Egipte te vlug. Hy keer ook terug na Israel in opdrag van God.
  • Teenoor dié gelowige reaksie, is daar tweedens diegene wat teenstand bied.  Herodes is die eerste een van diegene en reageer gewelddadig om God se werk te probeer dwarsboom. Hy werp alles in die stryd om die Kindjie te vernietig. En die Skrifgeleerdes en ander mense in aansien van Jerusalem volg sy voorbeeld.

Verder in Matteus se evangelie lees ons hoedat hierdie patroon voortduur. Mense aanvaar Jesus se woorde en dade, en leef dit uit … of verwerp dit. Telkens word ons verras met wie dit aanvaar en wie dit verwerp. Veral die Joodse godsdienstige leiers herken nie die werk van God in en deur Jesus nie. Uiteindelik kry hulle reg om te doen wat Herodes nie kon nie. Hulle smee ‘n komplot en vermoor Jesus deur Hom te laat kruisig.

Die moord op Jesus druk God egter nie in ‘n blik nie. God reageer op die geweld teen Jesus deur daarmee versoening vir sonde te bewerk, en die dood en boosheid self te oorwin. God bevestig die oorwinning van die kruis deur Jesus uit die dood op te wek en Hom tot aan sy regterhand te verhef.

Die Kersgebeure is dus nie ‘n sprokie of ‘n sentimentele verhaaltjie nie. Dis harde geskiedenis in ‘n harde wêreld. Dis deel van die konflik tussen dié wat God se wil doen en dié wat dit wou dwarsboom.

God is in beheer in die geskiedenis

Reeds in hierdie vroeë episode in Jesus se lewe sien ons dat God in beheer is van die geskiedenis. Soos die profete voorspel het, word Jesus in Betlehem gebore. Wanneer koning Herodes op Betlehem toeslaan, red God sy Seun uit Bethlehem, bewaar Hom veilig in Egipte, en lei Hom later terug na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret.

Wat ons egter ook van God se werk agter kom, is dat God nie altyd die planne van die Bose onmiddellik dwarsboom nie. Herodes se bose planne word immers nie in hierdie gedeelte gekeer nie. Nogtans is God in beheer. Hy gebruik trouens Herodes se boosheid om die profetiese woord in vervulling te laat gaan dat sy Seun uit Egipte geroep is (soos dit in Hosea 11 voorspel is).

Maar die magsbehepte Herodes hou nie lank hierna nie en sterf voor ons jaartelling selfs nog begin. Die wiele van God se geregtigheid draai stadig, maar verseker.

Gebed is belangrik

Matteus gee ons dus ’n belangrike perspektief op die werkswyse van God in die geskiedenis, die patrone van God se werkswyse soos dit deur die eeue bekend geraak het.

God se planne en aksies strek soms oor eeue. Die beslissende dinge wat God doen, is nie altyd duidelik in die morsige oomblik waar die swaard uitgepluk en die bloed van kinders vloei nie.

Binne die groter raamwerk van God se beslissende handelinge, soos die profete dit uitwys, kan ons egter van oomblik tot oomblik in die vaste geloof lewe dat God in beheer is en die geskiedenis van die wêreld beslissend rig.

Die dood van Madiba het ons in die afgelope weke gedwing om weer oor ons eie land se onlangse geskiedenis na te dink. Die geweld van Umkhonto we Sizwe en die geweld van die staat het prakties tot ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika gelei. Geweld en gewelddadige reaksie het ons tot op ‘n afgrond gebring. Enorme gebedskettings is deur gelowiges gevorm. En God het beslissend ingegryp toe mense van vrede opgestaan het en die geweld in ons land beëindig is.

Dit is waarskynlik op die oomblik weer nodig dat ons in gebed verenig om die Here te vra om ’n einde aan die grootskaalse korrupsie en misdaad in ons land te maak en dit moontlik te maak vir ons om regtig ’n verandering te bring regdeur ons samelewing deur onderwys en gesondheid en ander basiese dienste, terwyl ons van die werklikheid van God se teenwoordigheid getuig.

Gebed vra dan ook altyd dat ons bereid moet wees om deel van die antwoord daarop te wees.  Daarvoor moet ons ons in die nuwe jaar gee – soos Jesaja 62 ons op Kersdag ook herinner het.  Ons is die wagte op die mure wat moet bid totdat die Here verlossing bring vir ons land en vir hierdie wêreld.

Jesus van Nasaret is die Messias!

Ek sluit af met ’n baie interessante insig wat Matteus ons in die werk van Jesus bring.  ’n Perspektief wat my baie hoop gee vir ons gemeente en vir ons kerk, veral in die lig van die idee wat sommige mense het dat ons invloed gekrimp het en daar min hoop is dat ons kerk nog ’n verskil kan maak in hierdie land van ons.

Matteus vertel ons hier dat Josef met sy gesin na Nasaret in Galilea verhuis het, ‘n gebied wat na die dood van Herodes onafhanklik van Juda deur Antipas (“Herodes” genoem in Matt 14:1-12), ’n ander seun van Herodes, regeer is.

Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete (meervoud – dui op die hele boodskap van die OT) verbind (23). Dit is daarom ook die hoogtepunt van ons teksgedeelte.  En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem.  Die lank verwagte Messias, sê Matteus, is die Nasarener.

Nou, ‘n mens moet dié woord onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson (vgl. Rigters 13:5, 7; Num 6; Jer 7:29). Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie.  Hy het sy hare geskeer, en wyn gedrink.

Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeus woord neser wat loot of takkie beteken.  In Jes 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”.  In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl ook Jes 53:2).

Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.

Nasaret was immers ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea.  Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus.

Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem. Wié sou dit nou kon verwag?!

Jesus is nou in jou lewe aan die werk

So verstaan, wil hierdie opmerking dat Jesus die Nasarener is, ons daarop wys dat God die Vader in Jesus van Nasaret aan die werk is.

En dit is baie betekenisvol. Matteus skryf immers sy evangelie vir ‘n geloofsgemeenskap wat ná die Joods-Romeinse oorlog van 66-70 nC onder baie druk van beide die Joodse gemeenskap as die Romeinse een was.  Hulle het hulleself as onbenullig beleef, as mense sonder impak of invloed, ten minste nie op ekonomiese of politiese vlak nie.

Matteus sê vir hulle deur hierdie identifikasie van Jesus as Nasarener, dat hierdie God in beheer is van die geskiedenis, selfs op en vanaf die plekke waar jy dit die minste verwag.  Hy is besig om sy koningskap te vestig deur die werk van Jesus Christus op aarde – selfs al is dit verskuil en onder die radar. Dit kan julle glo.  Daarop kan julle staatmaak.

God word nooit onkant gevang nie – nie deur Herodes nie, nie deur gewaande onbenulligheid nie.  God is besig om die wêreld onafwendbaar te lei na die heerlike bestemming van vir die kinders van God weggelê is.  Daarin kan en sal ek en jy deel, maak nie saak in watter krisisse ons of ons mense ons ook al in bevind nie.

Wat beteken dat Jesus ook nou in jou lewe aan die werk is, ook in ons gemeente, ook in ons kerk.  Die Nasarener is die Messias.  En deur ons, deur ons gebede, deur ons getuienis, deur ons gemeenskapsbetrokkenheid, kan Hy die land verander, sál Hy trouens die land verander.

Daarvoor gaan ons onsself in 2014 gee.

Amen.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 367 – Ere aan God – staan

Seën

Respons

Lied 367 – laaste 3 reëls as refrein: Vrede op aarde …



d Hos. 11:1

e Vgl. Jer. 31:15

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.