Skip to main content

Moenie bang wees vir gehoorsaamheid nie – Jesaja 7:10-16 en Matteus 1:18-25

“Watchful eyes”

Die berugte ateïs Richard Dawkins het onlangs erken dat ‘n wêreld sonder godsdiens en God tot morele agteruitgang sou lei. Dawkins het drie weke terug op 8 November aan The Times in Brittanje gesê hy vrees dat die afskaffing van godsdiens sleg sou wees vir die samelewing, omdat: “it would ‘give people a licence to do really bad things.’”

“People may feel free to do bad things because they feel God is no longer watching them,” het hy in ‘n onderhoud met Giles Whittell by The Times en The Sunday Times Cheltenham Literature Festival gesê.

Dawkins het op sy nuwe standpunt uitgebrei en ‘n eksperiment deur een van sy voormalige leerlinge, Melissa Bateson aan die Universiteit van Newcastle, in herinnering geroep. Sy het ‘n koffiestasie vir die studente beskikbaar gestel met ‘n “honesty box”, ‘n eerlikheidskas, waar die studente vir die koffie kon betaal.

“They help themselves to coffee and they are supposed to put money in the box … and each week the honesty box takes in less than the amount of coffee taken,” het hy gesê.

Dawkins het egter gesê, toe ‘n paar “watchful eyes” op die pryslys geteken is, was die inkomste aansienlik hoër.

Dit is ‘n radikale verandering van standpunt. Net vier jaar terug het Dawkins nog gesê dat kinders beskerm moet word van die godsdiens van hulle ouers. Maar nou, slegs ‘n paar jaar later, dink Dawkins en ander ateïste anders. En die feit dat dit ateïste is wat die wekroep laat hoor, moet ‘n waarskuwing vir ons as Christene wees oor die gevolge van ons voortgesette sekularisasie.

Soos John Watts in sy kommentaar op Jesaja dit stel:

“All society is held together by invisible bonds—common concerns that have a moral base. When these disappear, the body politic disintegrates.”

Dit is waaroor Jesaja skryf in hoofstuk 3-5. Maar, Jesaja wyt die disintegrasie van die samelewing nie aan die afwesigheid van godsdiens per se nie. Dit gaan nie daaroor of daar ‘n “alsiende oog” by die eerlikheidskas is of nie. Nee, Jesaja sê die disintegrasie van die samelewing is God se oordeel.

Download the English translation: Do not be afraid of obedience

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming en seëngroet

Toetrede

Flam 87 Maak my nou stil, Heer (sit)

Lofsang

Lied 332 God se liefde, so oneindig (staan)

Lied 276 Leer ons om in eie oë klein te wees voor U (staan)

Verootmoediging

Vonkk 144 Vrede van God (sit)

Dankoffer

Orrel en klavier: Lied 371  Redder van ons lewe en Lied 340  Kom ons loof die Jesuskind

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Moenie bang wees vir gehoorsaamheid nie – Jesaja 7:10-16 en Matteus 1:18-25

 “Watchful eyes”[1]

Die berugte ateïs Richard Dawkins het onlangs erken dat ‘n wêreld sonder godsdiens en God tot morele agteruitgang sou lei. Dawkins het drie weke terug op 8 November aan The Times in Brittanje gesê hy vrees dat die afskaffing van godsdiens sleg sou wees vir die samelewing: “It would ‘give people a licence to do really bad things.’”

“People may feel free to do bad things because they feel God is no longer watching them,” het hy in ‘n onderhoud met Giles Whittell by The Times and The Sunday Times Cheltenham Literature Festival gesê.

Dawkins het op sy nuwe standpunt uitgebrei en ‘n eksperiment deur een van sy voormalige leerlinge, Melissa Bateson aan die Universiteit van Newcastle, in herinnering geroep. Sy het ‘n koffiestasie vir die studente beskikbaar gestel met ‘n “honesty box”, ‘n eerlikheidskas, waar die studente vir die koffie kon betaal.

“They help themselves to coffee and they are supposed to put money in the box … and each week the honesty box takes in less than the amount of coffee taken,” het hy gesê.

Dawkins het egter gesê, toe ‘n paar “watchful eyes” op die pryslys geteken is, was die inkomste aansienlik hoër.

Dit is ‘n radikale verandering van standpunt. Net vier jaar terug het Dawkins nog gesê dat kinders beskerm moet word van die godsdiens van hulle ouers.  Maar nou, slegs ‘n paar jaar later, dink Dawkins en ander ateïste anders. En die feit dat dit ateïste is wat die wekroep laat hoor, moet ons bemoedig in ons stryd teen die invloed van sekularisasie.

Disintegrasie

Dit is waaroor Jesaja skryf in hoofstuk 3-5. Die disintegrasie van die samelewing wat God nie meer erken nie. Soos John Watts in sy kommentaar op Jesaja dit stel:

“All society is held together by invisible bonds—common concerns that have a moral base. When these disappear, the body politic disintegrates.” [2]

Maar, Jesaja wyt die disintegrasie van die samelewing nie aan die afwesigheid van godsdiens en God per se nie. Dit gaan nie daaroor of daar ‘n “alsiende oog” by die eerlikheidskas is of nie. Nee, Jesaja sê die disintegrasie van die samelewing is God se oordeel.

Waar God nie geëer word nie, waar sy Woord nie gehoorsaam word nie, daar kom sy oordeel in werking.

Om dit te illustreer, skryf Jesaja in hoofstuk 3 oor hoe God in só ‘n samelewing optree. Ons moet dit mooi hoor, dit is God wat optree. En wat doen God? Hy vervang die leiers van die samelewing – die soldate, die regters, selfs die profete, al die raadgewers (Jes 3:1-4) – met onvolwasse wispelturige mense.

Die gevolg sal wees dat mense mekaar te lyf sal gaan, man teen man, vriend teen vriend, jongmense teen grysaards, sê Jesaja. Anargie, verwarring en wanorde sal heers. Dié wat geen mag het nie sal dié wat aan bewind is tot ‘n val bring, sê hy.

Dink jouself in die dilemma van die man wie se enigste kwalifikasie vir leierskap die feit is dat hy darem nog behoorlike klere het: ““Jy het darem nog behoorlike klere, wees ons leier en regeer oor hierdie vervalle spul!” (Jes 3:6-7) Want, dit is wat Jesaja voorspel van ‘n samelewing wat God nie erken en aanbid nie.

God se oordeel

Watts verklaar die boodskap van Jesaja se profesie soos volg: ”Judgment on a people may be passive. It does not have to come by external invasion. It may, and often does, come through internal atrophy. The passage suggests that God is responsible for this deterioration. It is his judgment on those who forget that they are all ultimately dependent on him.”[3]

Jesaja gee in hoofstuk 4 ‘n bietjie hoop deur hierdie oordeel van God te beskryf nie as ‘n totale vernietiging nie, maar as ‘n suiwering.  Daar sal altyd ‘n oorblyfsel wees wat weer sy genade en sorg sal ervaar, wat deur Hom geheilig sal word.

Dit is uiters interessant om by Jesaja te hoor dat dit hierdie oorblyfsel is: “wat vir die lewe opgeskryf is.” (Jes 4:3) Dat te midde van die begrafnislied wat hy oor Israel aanhef (Jes 5) daar tog ook die hoop is dat lewe uit die afgekapte stomp van Israel moontlik is (Jes 6).

Dit is met hierdie agtergrond – die hoop ten spyte van die disintegrasie – wat die Here vir Jesaja na koning Agas stuur in ongeveer 735 vC, vyf jaar ná Jesaja sy bediening begin het.

Ons lees in Jesaja 7:10-16:

10En die Here het verder met Agas gespreek en gesê:

11Eis vir jou ’n teken van die Here jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe.

12Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die Here nie versoek nie.

13Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie? 14Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem. 15Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. 16Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.

17Maar die Here sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom soos daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie—die koning van Assur!

Moenie vrees nie, vertrou

Dit is oorlog. Sirië en die noordryk van Israel trek op teen Juda. Agas is bekommerd oor sy watertoevoer uit die noorde, want dit is vanwaar hulle die aanval van die Siriërs en die noordryk van Israel verwag. Hy wil die watertoevoer beveilig (vers 3).

Dit is waar Jesaja vir Agas aantref. Jesaja se seun is saam met hom en is op sy beurt ook al reeds ’n boodskap aan Agas, want sy naam, Sjear-Jasjuv, beteken “’n Oorblyfsel kom terug”.

Maar Agas is bang. Hy vertrou nie die Here nie. Hy vra nie eers dat die Here hom en sy volk beskerm nie. Hy vertrou net op homself. En hy wil sorg dat hulle darem nie van die dors doodgaan nie.

Jesaja probeer hom verseker dat die Here in beheer is, dat Hy die twee konings Resin en Peka sal teenstaan. Maar dan moet Agas die Here vertrou: “As julle nie glo nie—voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!”

Letterlik staan daar: “Julle moenie vrees nie, net vertrou.”

Maar tevergeefs.

Vra van my ‘n teken

Die Here los egter nie vir Agas soos Agas die Here gelos het nie. Die Here gee aan Agas die opsie van ‘n teken om sy vertroue in die Here te versterk. Vra van my ‘n teken, Agas. Enigiets. Uit die doderyk. Of uit die hemel.

Dit is anders as die keer met Gideon (Rigt 6). Hierdie keer is dit nie Gideon wat ‘n teken soek nie. Dit is die Here wat ‘n teken aanbied. Maar Agas weier.  Sy vroom verweer is dat hy die Here nie wil versoek nie. Nogal met ‘n aanhaling uit die wet (Deut 6:16).

Maar Agas se vroomheid is eintlik net ‘n rookskerm. Hy is ongelowig. Hy vertrou die Here nie. Hy wil eerder self sy watervore beskerm. Hy wil eerder in ‘n alliansie met die groot Assiriese ryk gaan (2 Kon 16:7).

God gee ‘n teken, die maagd sal swanger word

Jesaja sien egter reg deur die vroomheid. Sien die ongeloof. Sien die opstand teen die Here. En verkondig die verlossende oordeel van die Here. Ek sê verlossend, want dit is inderdaad wat die eerste deel in vers 13-16 verkondig. Ek sê oordeel, want dit is wat vers 17 verkondig.

Die oorlog waarvoor Agas bang is, sal tot niks kom nie, sê die Here vir hom. En die teken daarvan is dat ‘n maagd sal swanger word en ‘n seun baar wat Immanuel genoem sal word. En voordat dié kind kan kies tussen goed en kwaad, sal Sirië en Israel nie meer ‘n bedreiging wees nie. Dws, binnekort.

Die maagd wat swanger sou word, was waarskynlik iemand wat Agas geken het, wat hom in lewende lywe kon herinner dat die Here sy Woord sal waarmaak, dat Hy inderdaad Immanuel, God-met-ons is.

Sommige geleerdes dink selfs dat die jong vrou op Agas se eie vrou gedui het, wat dan sou beteken dat Hiskia Immanuel sou wees (vgl Jes 36 vv), ‘n aantreklike interpretasie, hoewel dit nog nie moontlik was om dit histories te kan verifieer nie.

Wat wel seker is, is dat Agas die vrou geken het, anders sou die teken vir hom geen betekenis gehad het nie.  En soos Watts in sy kommentaar sê, wat vir ons duister is, was nie noodwendig vir Agas duister nie!

Agas se ongeloof en gebrek aan vertroue wat hom die teken laat weier, laat egter die toorn van die Here ontvlam en versterk sy voorneme om die oordeel oor die volk te voltrek. Deur die einste Assirië waarop Agas sy vertroue plaas.

Die maagd het swanger geword

Die teken het in elk geval waar geword. Die maagd het swanger geword. Sy het ‘n seun gebaar. En die geskiedenis leer ons dat van die aanval van Peka en Resin in hierdie absoluut niks gekom het nie.

Agas was verniet bang vir hulle. As hy maar net die Here geglo het. As hy maar net die teken ter harte geneem het. Want in sy alliansie met Assirië het dit die noodwendige gevolg van onderdanigheid gehad. En uiteindelik ballingskap ‘n paar dekades later.

Die teken het egter nie net ‘n betekenis gehad vir Agas en sy mense in die 8ste eeu vC nie. Dit word in die NT op ‘n nog meer besondere geboorte van toepassing gemaak, die geboorte van Jesus. Matteus praat van Jesus se geboorte as ‘n vervulling van die profesie van Jesaja 7:14.

Ons lees dit in die verhaal van Josef wat interessant genoeg voor ‘n soortgelyke keuse gestel word as Asaf. ‘n Maagd wat swanger word en wat ‘n teken van God is aan hom. ‘n Teken wat hy óf kan omarm óf kan verwerp. Met die bykomende problematiek dat dit ‘n vrou is aan wie hy verloof is, en wat nou swanger is. ‘n Teken wat waar gaan word of hy nou glo of nie. Maar, as hy nie die Here vertrou nie, sal hy ook nie bevestig word nie.

Ons lees in Matteus 1:18-25:

18Die geboorte van Jesus Christus was só: Toe Maria, sy moeder, aan Josef verloof was, voor hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy swanger is deur die Heilige Gees.

19Josef, haar man, was wetsgehoorsaam, maar wou haar nie in die openbaar verneder nie, en het besluit om in die geheim die verlowing met haar te verbreek.

20Terwyl hy dit oorweeg het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur die Heilige Gees.

21Sy sal geboorte gee aan ’n Seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”

22Dit alles het gebeur sodat vervul sou word wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is:

23“Kyk, die maagd sal swanger word

en geboorte gee aan ’n Seun,

en hulle sal Hom Immanuel noem,” (Jes 7:14)

wat vertaal word: “God is met ons.”

24Toe Josef uit sy slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het, en hy het haar by hom as vrou geneem.

25En hy het nie met haar intiem verkeer totdat sy geboorte gegee het aan ’n seun nie. En hy het Hom Jesus genoem.

Alles draai om vertroue

Josef se verhaal bevestig die boodskap agt eeue gelede aan Agas. Alles draai om vertroue in wat God sê en in die gehoorsaamheid aan Hom wat Hy vra. Maak nie saak wat gebeur nie. Hy wil hê dat ons Hom vertrou en doen wat Hy sê. Selfs al gaan dit teen die “common sense” in. Selfs al dink jy dat jy darem baie oulike planne het.

Agas het die politiek van sy dag geken. Hy het redelik opgetree. Gesorg dat hy water het. ‘n Groter vennoot gekry in sy geveg met sy bure. Maar, dit was nie die Here se opdrag aan hom nie. En hy het die wrange vrugte van sy redelikheid gedra.

Josef het ook die politiek van sy dag geken. In sy kleiner kring. Van die stories wat sou rondloop. Sy aanstaande was swanger. Was dit Josef? Was dit iemand anders? Die skande! ‘n Buite-egtelike kind!

Josef wou ook redelik optree. Eintlik ongelooflik redelik. Hy wou skei van Maria, maar in die geheim. Sodat sy nie verneder word nie. En hy sy vroomheid kon behou. Hy was immers ‘n wetsgehoorsame man. En moet vir geen oomblik dink dat dit negatief bedoel word in die teks nie. Sy wetsgehoorsaamheid het gewys watter kaliber man hy was. Hy het die Here nougeset gevolg in alles wat God in sy wet openbaar het.

Moenie bang wees om gehoorsaam te wees nie

Maar, dan verskyn ‘n engel van die Here aan Josef. Een nag in ‘n droom. En oortuig Josef dat dié Kind van God is. Dat hy nie bang moet wees om gehoorsaam te wees. Maria as sy vrou te neem nie. Want, wat in haar verwek is, is van die Heilige Gees.

Watter boodskap! Sy sal geboorte gee aan ‘n Seun, en jy moet Hom Jesus noem, die Verlosser. Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.

En dan verwys die engel na Jesaja se profesie en maak dit op Maria van toepassing: “die maagd sal swanger word en geboorte gee aan ’n Seun, en hulle sal Hom Immanuel noem”. (Jes 7:14) En die engel gee ook die betekenis van Immanuel: “God is met ons.”

En Josef, anders as Agas, luister na die engel. Hy het die Here tot hier gehoorsaam soos die Here met hom in die wet gepraat het. Hy sou voortgaan om die Here te gehoorsaam in sy opdrag deur die engel. Hy gehoorsaam die Here, omdat Hy die Here vertrou het.

En wat is die basis van sy vertroue? Die profesie van Jesaja. Dat in die verlede ‘n maagd swanger geword het. Dat dit ‘n teken was van God se verlossing. En dat dit nou weer ‘n keer sou gebeur. Net, hierdie keer, sou dit ‘n baie groter impak hê. Jesus sou die Verlosser wees van sonde. Oor die hele wêreld.

Josef is vir ons ‘n voorbeeld van volle vertroue. Van iemand wat nie bang is om gehoorsaam te wees nie, al sou dit alles van hom vra.

Wat leer ons van Josef?

  • Dat dit die moeite werd is om gehoorsaam te wees aan God se openbaring. Die wet en die profete. Josef motiveer ons om niks in ons pad te laat staan om aan God se Woord gehoorsaam te wees nie.
  • Dat dit die moeite werd is om barmhartig te wees soos God ons lei. Hy het reeds gekies om Maria nie in die openbaar te verneder nie. Maar, die engel lei hom tot ‘n huwelik met Maria op grond van God se beloftes uit die verlede oor die geboorte van die Verlosser. Dit is ‘n uiterse daad van geloof en vertroue wat in sy deernis met sy verloofde wys.
  • Dat dit die moeite werd is om selfbeheersing toe te pas as Josef kies om nie met Maria gemeenskap te hê vóór sy geboorte aan Jesus gegee het. Anders sou die storie kon loop dat sy maar eintlik net ‘n gewone seun gehad het. Hy aanvaar die prys van gehoorsaamheid, want Hy vertrou op die Een wat dit van hom vra.
  • Dat dit die moeite werd is om God te vertrou en te volg, al beteken dit jy moet jou die risiko loop van ‘n geskinder en ‘n bevraagtekening. Dit is na alles net wat vir God gedoen is in hierdie lewe wat van waarde bly in die lewe hierna.

Josef se gehoorsaamheid het ‘n proses in hierdie wêreld aan die gang gesit waarvan die impak nog steeds groei. Dit het nie net ‘n familie gegee vir die Verlosser van die wêreld nie. Dit het ‘n gemeenskap gegee waardeur die boodskap van hierdie Verlosser die hele wêreld deur verkondig kon word.

Gehoorsaam God op grond van sy beloftes

Ons is deel van daardie gemeenskap. Wat Richard Dawkins oor wonder is by ons ‘n werklikheid. Solank ons nie vrees nie, maar vertrou. Soos Josef. Soos Maria. Soos elke gelowige daarna.

Hoe sal ons dit regkry, soos hulle, om die Here só te vertrou?

Op dieselfde manier as wat hulle dit gedoen het. Deur die beloftes van die Here in sy Woord as die basis van ons gehoorsaamheid te nem. Josef kon sy optrede begrond in die beloftes van die Here. Uit Jesaja. Daarom kon hy die Here vertrou en gehoorsaam.

Dit geld vir jou ook in watter uitdaging jy ook al beleef. Elke belofte in die Woord het vir ons in Jesus waar geword. Elke belofte is ja en amen in Hom. So verseker Paulus ons (2 Kor 1:20).

Moenie ‘n dag oorslaan om te lees in die Woord van God nie. Soek sy beloftes. Koester sy beloftes. Bid sy beloftes in jou eie situasie in.

Moenie bang wees vir gehoorsaamheid nie. Dit is die moeite werd. Dit is wat hierdie wêreld nodig het. Nie ‘n paar “watchful eyes” nie. Maar mense wat God gehoorsaam op grond van sy beloftes.

Gebed

Slotlied

Lied 524 God roep ons om met woord en daad (staan)

Seën

Respons

Lied 312 Amen (staan)

[1] Foto met erkenning aan: https://www.pexels.com/@omaralnahi

[2]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 1-33. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 24), S. 66

[3]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 1-33. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 24), S. 66

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.