Skip to main content

Lukas 8:40-56 – Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou

Oujaarsdiens 19:00

family02As jy terugdink aan 2014, wat staan vir jou uit? Wat was jou hoogtepunte, dié dinge wat jy onthou en wat jy met jou die nuwe jaar sal inneem?

Ek het paar mense die week daarna uitgevra. Ek het gehoor van die vreugde om ‘n verskil in mense se lewens te maak – werksverwante dinge. Dit is darem net besonders om iets te doen wat mense se kanse in die lewe verbeter.

Enigeen van ons wat in die onderwys is óf in een of ander beroep wat mense se lewe of lewenskwaliteit verbeter, is darem bevoorreg, nie waar nie? Of dit nou in die mediese beroep is, of in die opvoeding (skool, universiteit) óf in die besigheidswêreld waar jy ‘n verskil in jou kliënte of selfs in mense in jou direkte werksomgewing kon maak, dit bly besonders!

Die belangrikste hoogtepunte wat ek egter van gehoor het, was die rol wat familie en vriende in ons lewens dié jaar gespeel het.

  • Baie het gepraat oor hulle familie byeenkomste dié jaar – die lekker eet, die lekker gesels, die verhoudinge wat verstewig is, en in sommige gevalle geheel is, die vreugde in dinge wat uitgewerk het, nuwe moontlikhede wat oopgegaan het, prestasies wat behaal is.
  • Moet sê, vir myself staan Oupaskap loshande uit. Die kleine Lily laat my besef hoekom die OT mense in hulle kinders die ewigheid ervaar het. Hulle nageslag was die manier waarop hulle voortbestaan het. En dat ons dit binne familieverband kon ervaar, beide by die geboorte en nou onlangs weer met ‘n kuier in Johannesburg, almal van ons bymekaar, was baie besonders. En ek slaan met groot vreugde die ontwikkeling gade in my kinders se lewens. Ek is doodgewoon baie bevoorreg.
  • En die vyf kinders wat verlede Sondag hier in ons gemeente gedoop is, simboliseer dit vir ons as gemeente! Ons het skoon ‘n traffic jam hier voor die kansel gehad om almal in te pas! Familie en vriende is regtig belangrik en om iets van God se besondere seën te kan ervaar in die verbondseël van die doop, is regtig kosbaar.

Vir sommige is familie egter ook waar hulle grootste pyn lê.

Ek dink aan die Korkie gesin. Pierre, die Vrystaatse onderwyser wat in Jemen as gyselaar gevange geneem is 18 maande terug, is doodgeskiet net ‘n dag voor hy vrygelaat sou word. Dit het almal van ons geruk. Volgens berigte het die Amerikaners nie geweet van die beplande vrylating ná R1.7 miljoen vir hom ingesamel is nie. ‘n Hond het begin blaf toe die soldate die plek bestorm het waar hy en ‘n Amerikaanse joernalis gevange gehou is. Een van die Al Qaeda lede het blykbaar die twee eers koelbloedig tereggestel, voor hulle gevlug het. Gelukkig is Yolande reeds vroeër ná onderhandelinge vrygelaat, en kon sy die kinders versorg, maar die geweld van dié dood het steeds baie mense oor die wêreld heen tot stilstand geruk.

Ek dink ook aan die Groenewalds. Hannelie, die ma, moes einde November toesien hoe die liggame van haar man, Werner, en haar twee kinders, Jean-Pierre (17) en Rode (15), van hulle huis af weggeneem word nadat dié drie by hulle huis in Kabul, Afghanistan, deur lede van die Taliban vermoor is. Sy was ten tyde van die aanval by die kliniek waar sy as dokter gewerk het en het die dood vrygespring. Werner, haar man, was vroeër predikant by Moreletta Park gemeente voor hulle as gesin in Afghanistan by hulpverlening betrokke geraak het.

Ek dink aan mense in ons eie gemeente, mense wat worstel met siekte, en ander wat ook moes afskeid neem. Ek wil nie nou name noem nie, maar daar is talle van ons medegelowiges in die gemeente wat nood in hulle families en in hulle vriendekringe het. Daar is mense wat met kanker stry. Daar is mense wat deur krisisse van verhoudingsnood gaan, selfs die pyn van egskeiding ervaar. Daar is mense wat worstel met verhoudinge, en daar is mense wat die oorgang na die dood hierdie jaar in die oë moes staar.

En ons dink aan hulle as lede van een liggaam. Ons kry saam met hulle swaar. As een lid ly, ly die hele liggaam.

Ek het die Here gevra vir ‘n woord hieroor, en is gelei na Lukas 8.

Twee verhale word in Lukas 8 in mekaar geweef. Die een verhaal is van ‘n familie wat met siekte en uiteindelik die dood gekonfronteer word, die verhaal van Jaïrus se twaalfjarige dogtertjie.  Die ander verhaal is dié van ‘n vrou, dit wil lyk asof sy sónder familie was, wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely het, en al haar geld op dokters spandeer het, en net nie gesond kon raak nie.

Lukas 8:40-56

Jesus genees ‘n vrou en wek ‘n dogter op (Matt 9:18-26; Mark 5:21-43)

40 Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. 41 Daar kom toe ‘n man met die naam Jaïrus aan. Hy was ‘n leier van die sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, 42 omdat dit sy enigste dogter was. Sy was ongeveer twaalf jaar oud en het op sterwe gelê.

Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. 43 Onder hulle was daar ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. 44 Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak — en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. 45 “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het Petrus gesê: “Meneer, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” 46 Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.”  47 Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48 Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!

49 Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” 50 Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.”  51 Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se pa en ma. 52 Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.” 53 Hulle het Hom egter uitgelag omdat hulle geweet het dat sy gesterf het. 54 Maar Jesus het haar aan die hand gegryp en uitgeroep: “Meisie, word wakker!”  55 Haar gees het teruggekeer en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee. 56 Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.

Lukas beskryf vir ons twee verhale van pyn.

Daar is die alleen-vrou wat 12 jaar lank erge gesondheidsprobleme gehad het. Sy kon nie kinders hê nie, en is daagliks daaraan herinner met bloedvloeiing, om die waarheid te sê, net so lank as wat die dogtertjie gelewe het!

Daar is ook die familie-vaste man, Jaïrus, wat moes toekyk hoe sy enigste dogter se greep op die lewe al hoe swakkerder word, aan ‘n onbekende siekte, en uiteindelik sterf.

Die worsteling van hierdie anonieme vrou was uitmergelend.

Die worsteling van hierdie anonieme vrou was uitmergelend. Sy moes saamleef met eensaamheid, sowel as met haar siekte, sowel as met die feit dat mense haar siekte uitgebuit het en haar sodoende ekonomies geruïneer het.

Hoe ironies dat sy nie kinders kon hê nie, maar elke dag herinner is daaraan met erge menstruale bloeding. En sy moes die jare sien verby sleep het, een na die ander, twaalf jaar lank, sodat die hoop later al hoe flouer gebrand het, nie net aan die behoefte om kinders te hê nie, maar aan blote gesondheid, en sy al hoe verder en eensamer op moedverloor se vlakte gesit het.

Totdat sy resloos haarself op God se sorg gewerp het.

Totdat sy resloos haarself op God se sorg gewerp het en aan Jesus se kleed geraak het. Lukas vertel dus ook vir ons wat die ontmoeting met Jesus vir haar in haar krisis situasie beteken het. Let op dat sy genees word nog voordat Jesus haar raaksien. Sy hoef Hom nie te oorreed nie. Dit gebeur oombliklik.

Toe Jesus vra wie Hom aangeraak het, val sy bewend oor Hom neer en getuig van wat met haar gebeur het: “voor die hele volk”! ‘n Helder getuienis van God se genesende hand.

Geen wonder Jesus sê vir haar, “Gaan in vrede!” nie. Want dit is inderdaad wat met haar gebeur. Haar lewe word heel. Sy is nie net genees nie, maar kom in die regte verhouding met God self.

Die worsteling van Jaïrus was baie meer dringend.  

Die worsteling van Jaïrus was baie meer dringend.  Hy het nie die jare sien verbysleep nie. Hy het die minute getel, so vinnig het die dood vir sy kind nader gekom, totdat die boodskap gekom het, moenie die leermeester meer pla nie, sy is dood.  Die tyd het ons ingehaal.

Let op hoe dit Jesus is wat tot sy hulp kom: “Moenie ontsteld wees nie.  Glo net.”  Jesus sien Hom raak, sien sy weifelende geloof, en sê, vertrou My.  Ek sal sorg.

En Lukas vertel vir ons hoe Jesus uiteindelik sy dogtertjie se hand neem en haar opwek uit die dood uit. “Haar ouers was oorstelp van blydskap”, sê Lukas vir ons!

Dit is dus die eerste boodskap van dié verhaal.  Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou.

Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou.

Hoekom? Want dít is wat Hy kom doen het!

Hoofstuk 8 is eintlik ‘n wonderlike prentjie van die werk wat God vir Jesus gegee het om te doen.  Dit begin met ’n kernagtige opsomming van Jesus se bediening. Hy het oral gegaan, die land deurkruis van een stad en dorp na die ander, en oral gepreek en die koninkryk van God verkondig.

En dan word in die res van die hoofstuk vier verhale vertel van wat God deur Jesus verder gedoen het: die stilmaak van die storm, die genesing van Legio, die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die opwekking van Jaïrus se dogter.  Vier verhale van wonders – in die natuur, in die gees (duiweluitdrywing), in die liggaam, en selfs in die dood.

Daar is ‘n wonderlike progressie in dié verhale. Die wonders neem toe in intensiteit, die storm, die eksorsisme, die genesing en dan die opwekking van die dogtertjie uit die dood, die klimaks.

Daarmee suggereer Lukas natuurlik op ‘n dieper vlak dat die opwekking uit die dood ’n hoogtepunt van Jesus se bediening verteenwoordig … waarvan Sy eie opwekking die finale klimaks sal wees. Daaroor egter ‘n ander dag.

Die boodskap is, Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Hy doen dit in die natuur. Hy doen dit in die gees. Hy doen dit in die liggaam en Hy doen dit selfs in die dood.

Ons dink te min hieroor na. Ons bemoedig mekaar te min met hierdie hoop. Niks is by God onmoontlik nie. Dít is wat hierdie verhale vir ons van wil oortuig. Dít is die boodskap waaraan ons kan vasgryp en waarvoor ons die Here ook kan vra.

Jesus red ons

Maar daar is ‘n tweede boodskap in hierdie verhaal wat my ‘n nog dieper betekenis het.

Die belangrikste betekenis is nie in wat Jesus vir hierdie twee lydendes gedoen het nie, al was dit wonderlik, en al kan ‘n mens die Here daarvoor vra.  Die belangrikste betekenis van dié gedeeltes lê in wat Jesus vir hulle gesê het.

Vir die anonieme vrou sê Jesus: “Dogter, jou geloof het jou gered.  Gaan in vrede.”

Let op die woordjie gered.  Lukas kies om nie die woord genees te gebruik soos wat Markus dit bykomend doen nie. Markus haal Jesus in 5:34 aan met dié woorde: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en bly genees van jou kwaal.”).  Lukas kies egter om net die woord gered te gebruik, soos Matteus dit trouens ook doen in 9:22: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered.”

Hoekom? Want onthou, Lukas haal vir Markus hier aan in sy verwoording van hierdie verhaal. Hoekom?

Want vir Lukas – soos vir Matteus – is die genesing deel van hierdie groter werklikheid, die bevestiging van ‘n verhouding met God self.  En hy wil dit beklemtoon. Lukas en Matteus plaas dus in die verwoording van die betekenis van die genesing die fokus op die redding. Die genesing is vir hulle ‘n teken van die redding. Markus doen dit natuurlik ook, maar fokus sterker op die rol wat albei speel – die genesing en die redding.

Daarom kan die vrou in vrede gaan, want sy het in die genesende aanraking van Jesus vrede met God ontvang.  Sy is deur Jesus gered. Sy kan nou in vrede met God gaan leef, selfs al het sy steeds nie ‘n familie of enigiemand anders wat na haar omsien nie, want Jesus het haar gered.

Dit is min of meer dieselfde boodskap wat Jesus aan Jaïrus gee: “Glo net en sy sal gered word.”  Die opwekking uit die dood, ‘n werklike groot wonderwerk, illustreer steeds hierdie groter werklikheid, die bevestiging van ‘n verhouding met Jesus.

Jaïrus se lewe word daardeur vir altyd verander.  Die wonder van sy ontmoeting met Jesus, van sy eie “opstanding uit die dood”, by wyse van spreke, is eintlik van groter belang as die genesing van sy dogtertjie, Talita, soos Markus vir ons vertel.  Hy en sy word deur dié gebeurtenis gered, in ‘n lewende verhouding met Jesus bevestig. En dít is die werklikheid wat bly, selfs al sou hyself later ook die dood moes ervaar. Dit is ook dieselfde werklikheid wat sy dogtertjie ook sou ervaar, want sy sou die dood in elk geval ook weer later moes ervaar.

Die genesing is dus wonderlik, maar die redding is die ding waaroor dit ten diepste gaan.

Hoekom moes die vrou dus só lank wag? Sodat Sy in Jesus vir God kon ontmoet.

Want dit is uiteindelik al wat belangrik is. Nie haar genesing nie, maar haar redding is wat belangrik is. En dit was ‘n getuienis aan die hele volk waardeur die werklikheid van God se genesende teenwoordigheid in Jesus bevestig is. Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. En Hy red hulle.

Hoekom moes Jaïrus en sy dogter die pyn van die dood ervaar?  Sodat hulle in Jesus vir God kon ontmoet.  

Want dit is uiteindelik al wat regtig belangrik is.  Selfs nie die opstanding uit die dood is so belangrik as die feit dat hulle Jesus God kan noem. Jesus wys ook met hulle verhaal dat Hy genees en dat Hy red.

Wat sê dit vir ons?

Wat mag ons van God vra? Wat kan ons doen met ons worsteling met siekte en die dreigende dood?

  • Ons mag kom en Jesus se kleed, by wyse van spreke, aanraak.  Hy sal sorg.
  • Ons mag kom en vra dat Hy die dood sal weerhou.  Alles is moontlik by Hom.
  • God doen vandag nog wonders.  Ons mag daarvoor vra.

Maar, ons moet goed hoor, dat die evangelie van Lukas se verwoording van hierdie twee verhale, die fokus op redding laat val, op die verhouding wat tot stand kom tussen ons en Hom.  Dit is die grootste geskenk wat God ons gee.

En met daardie hoop kan ons die nuwe jaar 2015 ingaan.

Ek kan nie genesing belowe nie.  Ek kan wel sê:

  • Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Dit kan genesing en sy wonderwerke insluit.

En ek moet sê:

  • Die verhouding met God is ons grootste geskenk. Dit is waar in alle gevalle en die grootste wonderwerk van almal.

Daarmee kan ons saam die nuwe jaar met hoop en vertroue binnegaan. Voorspoedige nuwejaar!

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.