Skip to main content

Wees bly dat die Gees op jou rus – Jesaja 11:1-10 en 1 Pet 4:12-19

Mosaïek is ‘n kunsvorm wat minstens 4000 jaar oud is. Dit het sy oorsprong in Mesopotamië, die bakermat van die Bybelse beskawing. Hulle het stukkies gekleurde klippe, glas en ander materiale gebruik. Die Grieke en Romeine het die kunsvorm uitgebrei met ingewikkelde geometriese vorme en verskillende materiale.

Die kunsvorm is ook in kerke nagevolg. Pragtige mosaïek mure is deur die eeue geskep met nuwe soort teëls van glas gemaak. Dit is “smalti” genoem. Lugborrels is toegelaat om in die glasteëls te vorm sodat die teëls diepte en skoonheid aan die kunswerk kon verleen. Baie van hierdie werke gloei soos dit die lig reflekteer wat daarop skyn. En omdat hulle meesal nie pleisterkalk of bry (grout) gebruik het nie, is van die werke asemrowend mooi (Artisticportland).

Elke stukkie is belangrik om die geheel te kan sien

Maar nou, drie dinge van ‘n mosaïek:

  1. Elke stukkie van die mosaïek is belangrik. Elke stukkie moet op sy besondere plek wees. Anders maak die volle prentjie nie sin nie. Dit neem baie beplanning en sorgvuldige plasing van elke stukkie op sy plek, sodat die geheel uiteindelik sin maak, en die eindproduk sy funksie kan vervul, om ons te betower met sy skoonheid.
  2. Maar, net so belangrik, jy kan nie die geheel sien as jy net na een stukkie kyk nie. Jy kan ook nie die geheel produk beoordeel as al die stukkies nog nie in plek is nie. Jy moet wag dat alles eers in plek is, voordat jy ‘n oordeel fel.
  3. Om die eindproduk regtig te waardeer, moet jy van naby kyk, en van ver, sodat jy waardering kan kry vir die rol wat elke stukkie daarin speel, en jy uiteindelik die volle prentjie kan sien wat uit die voltooide mosaïek na vore kom in die geheelbeeld.

Download the English translation: Rejoice that the Spirit rests on you

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Basie Theron van Waltonpark 316 is dié week oorlede. Diens Dinsdag by Waltonpark om 11:00.

Adventskalender

Die stomp van Isai (Jes 11:1-2) was die mees gewilde beeld uit die OT wat in die vroeë kerk gebruik is om die Bybelverhale rondom Advent te illustreer. Die stomp van Isai is dan ook die antieke basis vir baie van die Adventskalenders wat gebruik word as ‘n voorbereiding vir Kersfees.

Hier is ‘n prentjie van só ‘n Adventskalender wat doodgewoon die dae van 1 Desember tot 24 Desember lys op ‘n verrassingspakkie wat kinders kan oopmaak. Daarin is gewoonlik ‘n teks wat verband met die boodskap van Christus en ‘n verrassing. Dit skep ‘n afwagting vir die wonder van die geboorte van Jesus en ‘n feestelike atmosfeer. (Hier is meer inligting oor Adventskranse.)

Toetrede

Lied 371 vers 1 Redder van ons lewe, Jesus, troue Heer (sit)

Votum en seëngroet

Lofsang

Lied 334:1-4 “God is Liefde!” juig ons harte (staan)

Lied 440:1-4 Die Here salf ons met sy Gees (staan)

Dankoffers

Voorbidding

Epiklese

Lied 323:1-2 Uit droë hout spruit lewe (sit) – begrond op Jesaja 11

Skriflesing en prediking

Wees bly dat die Gees op jou rus – Jesaja 11:1-10 en 1 Pet 4:12-19

Mosaïek

Mosaïek is ‘n kunsvorm wat minstens 4000 jaar oud is. Dit het sy oorsprong in Mesopotamië, die bakermat van die Bybelse beskawing. Hulle het stukkies gekleurde klippe, glas en ander materiale gebruik. Die Grieke en Romeine het die kunsvorm uitgebrei met ingewikkelde geometriese vorme en verskillende materiale.

Die kunsvorm is ook in kerke nagevolg. Pragtige mosaïek mure is deur die eeue geskep met nuwe soort teëls van glas gemaak. Dit is “smalti” genoem. Lugborrels is toegelaat om in die glasteëls te vorm sodat die teëls diepte en skoonheid aan die kunswerk kon verleen. Baie van hierdie werke gloei soos dit die lig reflekteer wat daarop skyn. En omdat hulle meesal nie pleisterkalk of bry (grout) gebruik het nie, is van die werke asemrowend mooi (Artisticportland).

Elke stukkie is belangrik om die geheel te kan sien

Maar nou, drie dinge van ‘n mosaïek:

  1. Elke stukkie van die mosaïek is belangrik. Elke stukkie moet op sy besondere plek wees. Anders maak die volle prentjie nie sin nie. Dit neem baie beplanning en sorgvuldige plasing van elke stukkie op sy plek, sodat die geheel uiteindelik sin maak, en die eindproduk sy funksie kan vervul, om ons te betower met sy skoonheid.
  2. Maar, net so belangrik, jy kan nie die geheel sien as jy net na een stukkie kyk nie. Jy kan ook nie die geheel produk beoordeel as al die stukkies nog nie in plek is nie. Jy moet wag dat alles eers in plek is, voordat jy ‘n oordeel fel.
  3. Om die eindproduk regtig te waardeer, moet jy van naby kyk, en van ver, sodat jy waardering kan kry vir die rol wat elke stukkie daarin speel, en jy uiteindelik die volle prentjie kan sien wat uit die voltooide mosaïek na vore kom in die geheelbeeld.

Jesse Tree

Daar is ‘n besondere mosaïek in Saint Thomas Moore Catholic Chapel & Centre at Yale University, die sogenaamde Jesse Tree, die werk van Elsa Schmid (1897-1970), ‘n Duits-Amerikaanse mosaïek, beeldhouer en skilder.

Dit is ‘n merkwaardige werk wat ‘n imposante voorstelling van die stamboom van Jesus Christus is. En die werk illustreer ook uitnemend hoe ‘n mens ‘n mosaïek moet waardeer.

Die storielyn van die mosaïek begin aan die regterkant waar Isai, die pa van koning Dawid, gesien kan word met die stamboom wat spruit uit sy regtersy. Dit is op sy eie interessant, maar beperk in sy betekenis.

Die een stukkie is dus nie die geheel nie. Dit is net een deel van die prentjie. Sonder die res van die mosaïek sal jy ‘n bietjie waarde uit die tegniese vaardigheid van die kunstenaar put. Maar, jy sal die boodskap van die geheelprentjie mis.

‘n Mens moet wyer kyk. Dan begin jy sien dat die groen middelstuk die stomp van Isai, soos  hy in Afrikaans vir ons bekend is, verteenwoordig (Radix Jesse in die kunswerk wat eintlik “wortel” beteken, die ander metafoor in Jesaja 11).

En as jy van nog verder af kyk, sien jy dat in sy volledige gestalte die hele groen middelstuk  en aan die kante van die kunswerk drie-en-veertig persone tussen Isai en Jesus. Elke stukkie op sy plek om die geheelprentjie te vorm.

Die profete aan die linkerkant wys na die stamboom aan die regterkant.

In hierdie prentjie sien julle net ‘n deel van die werk, ingekort ter wille van spasie.

‘n Mens sien regs vir Isai, dan vir koning Dawid (met sy harp), en bó hom Maria en Jesus. Aan die linkerkant is daar die profete Jesaja, wat natuurlik oor Isai geprofeteer het, dan Esegiël wat oor Dawid en die Messias wat uit sy nageslag sou kom, geprofeteer het, en dan Johannes die Doper wat met sy vinger na regs wys waar Maria en Jesus geplaas is.

Bokant die boom sien ons sewe duiwe, wat die gawe van die Heilige Gees voorstel, wat strale op die kind Jesus neerwerp. ‘n Stukkie detail wat baie belangrik in die profesie van Jesaja 11 is en in die verwysings daarna in die NT, waarop ek later in die preek sal terugkom.

Lees die Bybel soos ‘n mosaïek

Dit is hoe ons die Bybel moet lees. Ons moet dit lees soos ‘n mosaïek. Stukkie vir stukkie tot ons die geheel kan waardeer. Elke stukkie op sy plek. Maar ook elke stukkie in terme van die bydrae wat dit tot die geheel maak.

Trouens, soos ek later gaan sê, dit is hoe ons ook ons eie lewe moet bekyk, soos Petrus daaroor skryf.

Die mosaïek van die Stomp van Isai van naby gekyk

Kom ons begin met die nabyskoot van die mosaïek van die betekenis van die stomp van Isai.

Jesaja 11:1-10

1Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra;

2en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here.

3En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die Here; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;

4maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.

5En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.

6Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja.

7Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;

8en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk.

9Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.

10En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.

‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai

Jesaja verkondig ‘n nuwe toekoms vir die vasgevalde volk: “’n Takkie sal uitspruit …” , “Die Gees van die Here sal op hom rus …” (vers 1).

Dit spel ‘n kernkwaliteit van God uit. Hy gee nooit moed op nie. Alles is nie verlore waar Hy ingryp nie.

En wat doen hierdie God? Hy verkondig dat die hoop vir die toekoms gefokus is op ‘n tweede Dawid, die takkie uit die stomp van Isai (vers 1), wat ook die vaandeldraer uit die geslag van Isai genoem word. Hy is die banier van die volke (vers 10).

Die Gees sal op Hom rus

Op hierdie weergalose leier sal die Gees rus net soos op Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam 23:2). Die Gees sal hierdie Messias met die nodige eienskappe toerus om ‘n deurslaggewende verandering nie net vir die volk van Juda en Israel te weeg te bring nie, maar vir al die nasies van die wêreld (vers 10).

Die koninkryk van die Messias uit die stomp van Isai sal gekenmerk word deur harmonie en vrede, soos dit in die res van die gedeelte uitgespel word. Dit sal ‘n utopie van reg en omgee, van billikheid en sorg wees wat selfs die verhoudinge tussen mens en dier, en dier en dier, sal herstel. Wolwe kuier as gaste by skape! Dit is die prentjie wat die oorspronklike Hebreeus skets in vers 6. ‘n Nuwe paradys. Die hemelse Eden weer terug op die aarde.

Die sentrale spilpunt waarom dié utopie sal draai, is die kennis van die Here waarvan die aarde so vol sal wees soos die see vol water is. Almal sal Hom ken. Waarlik ken (vers 9).

‘n Bietjie wyer

Maar let ook op hoe hierdie beeld van Jesaja 11 oor die stomp van Isai teruggryp na die oorblyfsel idee wat verskeie kere al in hoofstuk 6-10 gebruik word. Ons het verlede week van Jesaja se seun, Sjear-Jasjuv, gepraat. Sy naam beteken: “’n Oorblyfsel sal terugkeer”.

Die seun van Jesaja was al as sodanig ‘n boodskap aan koning Asaf dat hy God kan vertrou. God se oordeel is wel radikaal, maar dit is om te suiwer. Daar sal ‘n oorblyfsel bly. Die Here sal daarvoor sorg.

Nog ‘n bietjie wyer

Jesaja sluit dus by die idee van ‘n “oorblyfsel” aan wat reg deur die Bybel voorkom. Reg van die begin van die Bybel af, sedert die sondeval, word genade vir die oorblyfsel wat God vir die lewe opskryf, verkondig.

  • Uit die geslag van Adam en Eva is Kain en sy nageslag geoordeel en het Set en sy nageslag oorgebly, en hulle het die Here begin aanbid (Gen 4-5).
  • Uit die geslag van Set is die hele wêreld geoordeel en het Noag en sy nageslag oorgebly met wie God ‘n nuwe begin gemaak het (Gen 6-9).
  • Uit die nageslag van Noag is die mense oor die hele wêreld verstrooi en het God vir Abram en sy nageslag gekies om sy volk te wees op die hele aarde as ‘n seën vir die nasies (Gen 10-12).

En só kan ‘n mens die lyn van die oorblyfsel regdeur die Bybel volg.

  • Isak word gekies bó Ismael as die seun van die belofte (Gen 21).
  • Jakob bó Esau as die vader van die volk (Gen 25).
  • Die suidryk bó die noordryk (2 Kon 17) al word ook Juda uiteindelik in ballingskap weggevoer (2 Kon 24-25).
  • Dit is uiteindelik net ‘n oorblyfsel van die ballinge wat terugkeer (Esra 1).

Nog wyer

Die NT skrywers het natuurlik sonder uitsondering die vervulling van hierdie profesie oor die stomp van Isai in Jesus Christus gevind.

Jesus is die takkie uit die stomp van Isai

Dit is waarom die getuienis van Johannes die Doper so belangrik was. Want die Here het vir hom openbaar dat die Gees die Seun van God sou aanwys:

32En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. 33En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. 34En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is. (Joh 1:32-34)

Johannes verwys hier na die Gees wat op die stomp van Isai, op die Messias sou rus.

Dit is hoe Johannes die Doper geweet het dat Jesus regtig die Messias was. Want hy het die profesie in Jesaja 11 geken, oor die Gees wat op die takkie uit die stomp van Isai sou rus.

Toe Johannes die Gees soos ‘n duif sien neerdaal op Jesus, toe weet hy, Jesus is die Messias. Vroeër het hy hom as sy nefie geken. Nou het hy geweet, dit is die Messias.

Jesus stort sy Gees op die oorblyfsel uit

Dit is waarom die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge so belangrik was. Nie net met die eerste uitstorting op Pinksterdag op die Jode nie (Hand 2). En ook later op dissipels van Johannes die Doper in Efese (Hand 19). Maar ook op die gemengde bevolking in Samaria (Hand 8), en dan baie spesifiek ook op die eerste heidene uit die nasies, op die Italianer Kornelius in Sesarea (Hand 10).

Want, soos die uitstorting van die Heilige Gees uitgekring het van Jode, na die gemengde Samaritane, uiteindelik na heidene toe, het dit het vir die eerste gelowiges gesê, dié mense is deel van die “oorblyfsel” van die mense wat God vir Homself uit die menslike ras gekies het.

Dit is wat Petrus in sy toespraak by die eerste sinodesitting in Jerusalem beklemtoon:

16Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, 17sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. (Hand 15:16-17)

En hoe weet Petrus wie hierdie oorblyfsel is? Hy antwoord dit in dieselfde toespraak:

8En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. 9En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. (Hand 15:8-9)

Die Gees is dié merkteken van die kinders van God

Die uitstorting en vervulling van die Gees is dié merkteken van die kinders van God.

Soos Paulus in sy brief aan die Romeine sê en dan haal hy direk uit Jesaja 11 aan:

“Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik … Jesaja sê: Isai sal ‘n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” (Rom 15:7-13).

En soos Paulus later in die brief sal sê:

14Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. (Rom 8:14)

Die Gees lei ons in die volle waarheid van God

Dit gaan natuurlik in ons geestelike lewe oor die sentrale werk van die Here Jesus wat ons van ons sonde verlos en ons die bewussyn van die ewige lewe gee. Maar, die seël van hierdie verlossende werk is dat Hy ons sy Gees gee sodat dié ons kan lei in die volle waarheid.

Op sy wydste

Daar is baie wat ‘n mens kan sê oor die werk van die Gees in die nuwe bedeling wat Jesus as die Messias kom vestig het. Ons kan gesels oor sy werk om die Bybel vir ons te gee as die Woord van God. Ons kan gesels oor die gawes en die vrug en die vervulling. Dit is alles deel van die prentjie wat ons kry van die mosaïek van die Gees se werk in al die verwysings na Hom in die Bybel.

Maar ek wil op ‘n aspek van die Gees se werk fokus wat ons nie baie oor praat nie. ‘n Aspek wat ook baie spesifiek aan die boodskap van Jesaja 11 oor die stomp van Isai gekoppel word in die NT.

Dit is die prentjie wat Petrus vir ons skets as hy oor die werk van die Gees in ons lewe praat. Die volle prentjie van die Gees se werk kom na vore waar ons aan vervolging blootgestel word. Waar ons getuienis vasgehou moet word in beproewing en belediging, waar ons vas moet staan in lyding, die lyding wat kom as ons getrou wil bly aan die boodskap van die Here Jesus in hierdie wêreld.

1 Petrus 4:12-19

12Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;

13maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.

14As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.

15Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ’n ander bemoei nie.

16Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.

17Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

18En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?

19So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.

Die Gees rus op ons

Die interessante van hierdie boodskap is dat dit steeds met die stomp van Isai te make het. Want Petrus haal Jesaja 11 in vers 14 aan as hy praat oor die Gees van die heerlikheid en van God wat op ons rus.

Die wonder van die Gees se werking kom op sy beste na vore as ons nie net dink aan die wonderwerke wat Hy deur ons doen, of die oortuigingswerk wat Hy deur ons gawes doen, en die vrug wat Hy dra in ons diens in hierdie wêreld nie.

Die volle prentjie van die mosaïek van die werk van die Gees in ons lewe, is die wyse waarop Hy in lyding tot sy reg kom in ons lewe.

Lyding vang ons baie keer onkant

Wat ons nodig het, is om ‘n waardering te ontwikkel vir die mosaïek van God se werk met ons. Vir elkeen van die teëltjies wat Hy neerplak in en deur ons lewe.

Ons moet uiteraard deeglik kennis neem van elke klein dingetjie wat in ons lewe gebeur. Dit van naderby beskou. Maar, ons moet ook terugstaan en die prentjie wat uit die verskillende dele na vore kom, raaksien.

Wees bly dat die Gees op jou rus

Dan sal ons vier perspektiewe op lyding raaksien, verbind aan die werk van die Gees in jou lewe. Petrus wil ons met hierdie visie op die Gees bemoedig in die vuurgloed van vervolging sodat ons nie sal dink dat dit iets vreemds is nie.

Sodat ons bly sal wees dat lyding ‘n bewys is daarvan dat die Gees op ons rus.

1. Aan die een kant is lyding ter wille van Christus natuurlik “abnormaal”, want dit is nie hoe dinge moet wees nie. Dit is nie hoe God hierdie wêreld geskape het nie. Daar is in ons ‘n dralende eggo van die lewe in die tuin van Eden soos God dit voor die sondeval geskep het. Daar is ook ‘n reikhalsende verlange na ‘n tyd wat trane, lyding, pyn en die dood sal verdwyn (Openb 21:4).

2. Aan die ander kant is lyding ter wille van Christus “normaal”, want dit is wat gebeur as ‘n mens as Christen leef. Elkeen wat godvrugtig wil lewe, sal vervolg word, sê Paulus aan Timoteus (2 Tim 3:12). Dit bewys dat jy deel van die “oorblyfsel” is, die stomp van Isai, die nageslag van Dawid, iemand op wie die Gees van God rus.

Daar is dus ‘n dubbelsinnigheid aan lyding. Aan die een kant lyk ons lyding asof die Here gelaster word deur sy teenstanders. En asof ons daartoe bydra. Dat ons optrede tot gevolg het dat daar sleg gepraat word van die Here self.

Maar aan die ander kant is dit juis die manier waarop God verheerlik word, sê Petrus. Ons moet dit mooi hoor. Petrus sê: “Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik” (vers 14).

Dit hang net af hoe jy na die stukkie mosaïek in jou lewe kyk. Ons getuienis word misbruik deur die wêreld om Jesus te laster. Maar, dit bewys ironies genoeg presies die teendeel. Ons getuienis verheerlik Hom.

Trouens, sê Petrus, jy moet self gelukkig ag as jy beledig word oor die Naam van Christus! Hoekom? Want dit is die bewys dat die Gees van die heerlikheid en van God op jou rus. Dat die belofte uit Jesaja 11 waar geword het vir jou!

3. Daarom, as jy as ’n Christen ly, moet jy jou nie skaam nie, maar God verheerlik daarin (vers 16).

Hoekom? Want, dit gaan nie net oor die geestelike vormende krag van die lyding ter wille van Christus nie. Dit ook. Maar, eintlik gaan dit nog dieper oor die teenwoordigheid van God self wat in die lyding ter wille van Christus jou deel raak. En wat ‘n nog groter getuienis aan hierdie wêreld is.

Oor hierdie kans om ‘n getuienis te lewer, moet jy bly wees. Jy mag jou nie daarvoor skaam nie, want die lyding verheerlik die Here self. Die uiteinde van die lyding sal ‘n bruisende vreugde in die volle openbaring van die Here Jesus self wees.

4. Die tyd is daar, so sê Petrus dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? Niemand van ons kan daardie oordeel vermy nie.

As die regverdige – die een wat sy lewe skik na die boodskap van God – nouliks gered sal word, wat sal gebeur met die goddelose – die mense wat God se bestaan ontken – en die sondaar – die wat in hulle sonde voortleef asof God nie ‘n oordeel daaroor sal vel nie?

Ek sluit af

Onthou die drie dinge van die mosaïek van jou lewe

1. Elke stukkie van die mosaïek is belangrik.

Elke stukkie moet op sy besondere plek wees. Anders maak die volle prentjie nie sin nie. Moenie te vinnig oordeel oor dié dinge wat vir jou juis uit plek uit lyk nie. Vir ander kan dit na “lastering” lyk. Uiteindelik blyk dit God “verheerlikend” te wees.

Maar, net so belangrik:

2. Jy kan nie die geheel sien as jy net na een stukkie kyk nie.

Jy kan ook nie die geheel produk beoordeel as al die stukkies nog nie in plek is nie. Jy moet wag dat alles eers in plek is, voordat jy ‘n oordeel fel. Dit is waar vir hoe jy na jou eie lewe kyk. Dit is waar vir hoe jy na ander se lewens kyk.

Wag dus op die Here se tyd, op die Here se wysheid, op die Here se insette. Dit is na alles Hy wat die stukkies van die mosaïek van jou lewe op hulle plek sit.

3. Om die eindproduk regtig te waardeer, moet jy van naby kyk, en van ver.

Dit is die enigste manier om waardering te kan kry vir die rol wat elke stukkie daarin speel, en jy uiteindelik die volle prentjie kan sien wat uit die voltooide mosaïek na vore kom in die geheelbeeld.

Dieselfde geld jou lewe. Dit is waarom ‘n joernaal so belangrik is sodat jy van tyd tot tyd kan terugblaai, kan agterkom wat die Here in jou lewe gedoen het. Dan begin jy ‘n prentjie kry van wat eintlik aangaan. Waarmee die Here eintlik besig is.

Petrus sluit af in vers 19 met woorde wat vir my besonder aktueel is:

“So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.”

Ons moet ons binneste aan God toevertrou. Ons moet bly goed doen, midde in die lyding ter wille van Christus. Want Hy is getrou. Hy is die Skepper. Hy sal voorsien.

Gebed

Slotlied

Lied 353:1-3 Die Heiland is gebore (staan)

Respons

Lied 189 Halleluja!

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.