Skip to main content

Rigters 13 – Die Gees steek grense oor met Randfigure – 24 Mei 09 – Pinkster 1

Verwelkoming

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur. Dit is ook waar van die Drie-enige God self.  Hy is in ‘n intieme verhouding met Homself, Vader, Seun en Gees.  God vra dit dus nie net van ons nie.  Hy is in verhouding met Homself.

Ons mens-wees kom daarom tot sy reg wanneer ons in positiewe waarderende omgee-verhoudings met ander lewe.  Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Dit is ook waar van die uitbreiding van gemeentes en die vestiging van die evangelie en die koninkryk.  Geloof in Christus in ‘n spesifieke plek en deur spesifieke mense het reg deur die geskiedenis te make met die bereidheid van gelowiges om grense na ander oor te steek.

In dié mate wat die Woord gestalte kry in ‘n gemeenskap, in dié mate brei die invloed van Christus uit of krimp dit in.  Die effektiwiteit en weerstandigheid van die Christelike geloof is direk verbind aan gelowiges en gemeentes se vermoë tot: “acts of cultural translation by which the Christians of any community make their faith substantial within that community” (Walls The Cross-cultural process in Christian History, 13).

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.  Telkens as die invloed van Christus ingekrimp het, bv. in die eerste gemeente van Jerusalem na die eerste vervolging, het daar lewe van die randte gekom, gewoonlik waar ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. lees met die ontstaan van die gemeente in Antiochië, weens die getuienis van onbekende Joodse gelowiges van Ciprus en Griekeland. (Hand 11:19-20).

Ek wil jou dus uitdaag om ‘n reis dié week met ‘n paar mense in die gemeente te onderneem – ons noem die reis: Die Gees stuur ons oor Grense. Vir 5 dae gaan jy en ‘n paar van jou vriende fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan ek jou begelei om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.  En ons sluit met ‘n heerlike Pinksterete Vrydagaand af met ‘n feesviering volgende Sondag.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom – ons gaan op reis met mekaar om ‘n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Dit beteken dat jy nou moet dink aan mense wat jy graag wil uitnooi op jou reis dié week.

Toetrede

Lied 444 – Kom kyk!  Kom kyk! Kyk alles word nuut! – koor 1x, gemeente 2x – staan

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 435 – Heil’ge Gees, u bou ‘n tempel deur die Woord wat kragtig werk – staan

Lied 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – sit

Lied 456 – Loof, heel die skepping, loof die Heer – koor

Toewyding

Lied 450 – Vader, Seun, Heil’ge Gees, hoe sal ons u heerlikheid kan verwoord – sit

Kindertyd

Julle gaan Ark toe vir Pinkster – almal, geen kategese, geen toepassing, net GroeiGoggas!

Epiklese

Lied 442 – Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my – koor vers 1, gemeente vers 2 – sit

Skriflesing

Ons kan ons moeilik indink in die chaos wat in Israel geheers het in die 12de en 11de eeu v.C.  Die boek Rigters vertel vir ons ‘n hele paar keer dat “elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë” (17:6; 21:25).  Daar was min mense wat die moed gehad het om die regte goed te doen.

Selfs die Rigters wat in die naam van God optree, het ernstige karakterfoute gehad.

Kom ek skets vir jou twee van hulle:

  • Nommer een – hy is bang en kruip in die veld weg waar niemand hom kan bykom nie, hy is sarkasties as die Engel van die Here aan hom verskyn: “Ekskuus meneer …” sê hy as die engel vir hom sê die Here is by hom, en jy kom agter dat agter die beleefdheid ernstige wantroue sit. Of wat van hierdie antwoord: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my ‘n wonder …” waarmee jy duidelik sien hy dink net mooi niks gaan gebeur nie. En as die wonder gebeur, en hy moet optree, dan bly hy wantrouig, agteraf, gaan bv. in die nag en breek die Baäl altaar af, en skuil dan agter sy pa as die mense vir hom kwaad is. Die ergste is, dat as hy die oorwinning behaal raak hy arrogant en wreed, en op die koop toe geldgierig. As hulle hom wil koning maak, vra hy net geld! En sy seun is nog erger, dié maak 69 van sy broers dood (een het weggekom) omdat hy geen kompetisie vir sy koningskap wil hê nie. ‘n Vrou moes ‘n maalklip op sy kop gooi om Israel van hom ontslae te laat raak.
  • Wie is dit?
    • Gideon en sy seun Abimelek
  • Nommer twee – hy is ‘n onderhandelaar by uitnemendheid, selfs met God, ‘n aartsmanipuleerder, wat sy brood aan alle kante gebotter wil hê, en ‘n grusame versekeringspolis uitneem, die oorsaak dat sy dogter haar lewe verloor as gevolg van sy dwaasheid, omdat sy toe die een is wat eerste uit sy huis vir hom kom verwelkom na die oorwinning. Hy het miskien gedink een van sy honde sou hom tegemoetkom, dié dat hy belowe het dat die eerste een wat hom by die huis verwelkom, sal hy offer aan die Here. Praat van dwaas en deurmekaar!
  • Wie is dit?
    • Jefta

Maar dit is gelukkig nie al wat in die boek Rigters staan oor hulle en die ander rigters nie!

Oor al twee van hulle skryf die Bybel dat die Gees van die Here op hulle was, hulle gelei het, hulle omvou het met sy krag en hulle gebruik het om die volk van Israel te verlos van hulle vyande.

Wat onmiddellik vir ons moet sê: God kies baie keer randfigure uit om sy werk te doen.  Hy steek die grense oor na mense en Hy deins nie terug vir die karakterfoute van sy mense nie, maar doen sy werk ten spyte daarvan.

Ek dink ons dink te maklik dat God net uitnemende persone gebruik:

  • Moses wat met God gepraat het soos met ‘n vriend.
  • Josef wat behalwe vir so ‘n bietjie arrogansie in die begin, een van die wysste mense ooit was en die rede was dat die hele volk Israel in Egipte, sommer saam met die Egiptenaars, bewaar gebly het.
  • Dawid, wat wel sy gebreke gehad het, maar van die mees roerende gedigte en liedere geskep het, waarvan ons vandag nog sing, en ‘n ongelooflike dapper held was.
  • Paulus, wat met onverskrokkenheid die pad deur die Midde-Ooste en Europa plat gestap het en ‘n hele beskawing aan die evangelie blootgestel het.
  • Andrew Murray, Hudson Taylor, Billy Graham, Rick Warren, Bill Hybels – ag en so kan ons aangaan.

Maar, dit is net een kant van die verhaal.

Daar is ‘n ander lyn in die Skrif, mense wat baie gebreke gehad het, mense wat jy eintlik amper wil sê, ek wil jou nie ken nie, wat ook deur God gebruik is.

Want sien, God se Gees werk nie net met die gesondes nie.  Nee, Hy steek altyd grense oor.  En as Hy grense oorsteek, steek Hy die grense baie keer oor met mense wat allerhande gebreke het of wat onaansienlik is of aan die onderpunt van die sosiale leer is.

En dit is waar die verandering gebeur – tussen ons en God en tussen ons en mense.

En dit beteken, dat daar vir ons ook plek is – dat as ons maar net eenmaal sal luister, en die Gees vaardig raak oor ons, ons deur God gebruik kan word.

Ek wou dus vanoggend hier begin, by die randfigure, by Gideon, en Jefta en Simson voordat ons vannaand en verder na die meer prominente of dan uitnemende karakters in die Bybel gaan kyk en spesifiek die wyse waarop God met hulle grense oorgesteek het.

Kom ons lees die verhaal van Manoag, sy vrou, die eintlike kontakpunt met God, en die geboorte van hulle seun, Simson – Rigters 13.

Woordverkondiging

Die geskiedenis van Simson het ‘n besondere karakter.

Meer gebeurtenisse as by enige ander leier word hier van hfst. 13-16 vertel.

Die verhaal vorm ‘n pragtige eenheid wat tot ‘n klimaks oploop.

Ons fokus vandag op die begin daarvan.

Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.  Die Here gee hierdie keer Israel vir ‘n baie langer tyd as vantevore in die hand van hulle vyande oor – 40 jaar lank.  Die vyand kom nie hierdie keer uit die ooste, soos by Jefta nie, maar uit die weste.  Die Filistyne het wes van Kanaän, in die kusstrook by die Middellandse See, gewoon.

Dan word die verhaal van Manoag en sy vrou vertel, wat gebly het in Sora en uit die stam Dan was.  Sy naam word genoem, maar dié van sy vrou nie, hoewel dit gou blyk dat sy die eintlike kontakpunt met die Here gaan wees.

Dié vrou is kinderloos.  Die Engel van die Here verskyn dan aan haar, nie aan haar man nie, en belowe vir haar ‘n kind.  Sy, die kinderlose, sal swanger word en haar skande sal weggeneem word.

Interessant is dat sy in fyn detail opdrag kry hoe sy moet lewe en hoe die kind moet lewe – totaal toegewy aan die Here.

Sy vertel dié gebeure in detail vir haar man, wat onmiddellik bid dat die man van God weer sal verskyn aan hulle sodat hulle kan weet wat hulle moet doen met die kind.  Sy vrou het hom vertel, maar hy wil dit self hoor.  Sy versoek word verhoor, maar die Engel verskyn weer aanvanklik net aan die vrou.  En as die vrou hom gaan haal, en Manoag die Engel vra hoe die kind moet lewe, dan verwys hy Manoag net na alles wat hy reeds vir die vrou gesê, en beklemtoon haar rol, eerder as dié van die kind.

Wonderlik om te sien met hoeveel teenwoordigheid van gees en doodgewone praktiese wysheid die vrou optree as hulle agterkom dat dit eintlik die Here self was wat aan hulle verskyn het.  Op haar man se angstige voorspelling dat hulle nou sal doodgaan, omdat hulle die Here gesien het, sê sy net: die Here sou dan nie ons offer aanvaar het nie, die engel laat sien het, en boonop die wonderlike nuus van ‘n seun gegee het nie.

En uit hierdie relatiewe eenvoudige gesin, ‘n man wat versigtig glo, en ‘n vrou wat, hoewel ons nie haar naam verneem nie, ‘n ongelooflike vertroue openbaar (sy vra geen vrae nie, aanvaar net wat die Here sê, presies soos Maria veel later) en op die koop toe uiters prakties kan dink, kom die seun Simson wat vir20 jaar leier van sy volk sou wees.

Let op – God kies nie ‘n vooraanstaande gesin nie.  Hy kies randfigure, soos ‘n mens in die unieke alleenloper Terminator van ‘n man Simson gaan sien.  Hy kies wie Hy wil, mense na wie Hy die grense oorsteek, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel.

Let ook op – die vers aan die einde van die hoofstuk: “Simson het groot geword en die Here het hom geseën: die Gees van die Here het hom … begin lei.”  Daar staan letterlik: God het sy treë begin bepaal.

En regdeur kom hierdie leiding van God na vore.  Hoewel Simson se optrede altyd heel uitsonderlik bly: hy is ‘n alleenloper, sonder ‘n leër, word daar meer as met die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (kragtig op hom gekom – sê die oorspronklike).

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue.  Kyk, hoewel Simson sy lewe lank ‘n nasireër was, d.w.s. hy het nie wyn gedrink nie, en hy nie sy hare geskeer nie, behalwe die een keer aan die einde van die verhaal, weet ons dat hy nie juis ‘n sedelike reus was nie. Hy het die vermoë gehad om, heel naïewelik wil dit voorkom, in sy liefde vir vroue deurgaans vernietigende verhoudings aan te knoop.

Maar, en dit is só diepsinnig, die skrywer van Rigters verseker ons, dat op ‘n manier die Here juis met sy swakheid ‘n plan gehad het.  Hy verklaar selfs in 14:4 dat die Here hierdie insidente beskik het, omdat Hy ‘n geleentheid wou skep om die Filistyne te straf.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel.  Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kan vernietig.  En dit is waarvoor God hom geroep het.  Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan.

En op ‘n manier verrig hy sy grootste verlossingdaad toe hy op sy swakste is, oë uitgesteek, in die tempel van Dagon, en in sy laaste doodskreet die hele tempel op die Filistyne aftrek.  In sy dood raak hy eintlik ‘n Christusfiguur, Christus wat ook deur sy dood die oorwinning behaal het.

Waar laat dit ons?

God steek grense oor na randfigure.  Hy gebruik hulle in sy koninkryk, selfs mense wat ons vandag net sou afskryf.  Gideon, Jefta en Simson.

As dit die aard is van God, as dit is hoe Hy werk, kan ons nie eintlik anders werk nie.  Ons sal moet leer om sagter te oordeel oor mense.  Ons sal moet leer om self grense oor te steek na mense wat ons uit ons gemaksones neem, waar ons bereid is om selfs verander te word op pad na die koninkryk van God.

Dié week gaan ons gesels oor verskillende grense – en ek nooi jou uit om baie bewus te wees deur die dag watter mense oor jou pad kom, dat ons daaroor kan gesels en daar ‘n verandering kan kom.

Dit is die uitdaging.  Stap die pad saam met my.  So kan die wonder gebeur, dat God ons gemeente ook oor sy grense stuur en ‘n verskil maak in hierdie wêreld.

Daar is altyd ‘n wêreld

Wat jy nog nie ken nie

Daar is altyd ‘n taal

Wat ons nie verstaan

Een deel van jouself

Waarvan jy vergeet het

Daar is altyd ‘n pad

Wat jy nog kan gaan

Daar’s altyd ‘n lewe wat jy nog kan leef

Daar’s altyd ‘n grens om verby te beweeg

 

Stef Bos – Komatiepoort 2009

Gebed

Dankoffer

Lied 443 – Wind kan jy nie sien nie – niemand sien dit raak – koor

Slotlied

Lied 440 – Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid – staan

Seën

Amen

Lied 189 – Halleluja – staan

Aankondigings

Teepotte

Vannaand 18:30

Jesus steek grense oor deur gender – die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put

Stukkie ekstra

God werk in Rigters natuurlik nie net deur randfigure nie.

Ons lees darem ook in Rigters van Otniël wat ‘n besondere leier was, al weet ons min van hom.  Otniël was ‘n seun van Kenas, ‘n jonger broer van Kaleb.  Kaleb was een van die verkenners wat die aanvanklike poging ondersteun het om die beloofde land binne te trek .  Otniël is dus een van die oorlewendes uit die woestyntyd, saam met Kaleb.  En dit is betekenisvol.   God het hom die geleentheid gegee om die beloofde land binne te trek.

Maar ons weet egter genoeg van hom om die volgende vier goed van hom te kan sê:

  • Hy was dapper. 
    • Toe sy oom Kaleb iemand vra om die stad Kirjat-Sefer in te neem, het hy dit gedoen.
  • Hy het baie vernuf gehad.
    • Kaleb het sy dogter, Aksa, wie se naam beteken “ornament”, uitgeloof vir die oorwinnaar.  Otniël het dus ‘n baie goeie motivering gehad vir dié geveg.
  • Maar, Otniël het nie net ‘n oog gehad vir ‘n goeie vrou nie, wat sy lewe soos ‘n ornament kan versier nie, maar ook vir wat sy vir hom kon beteken.
    • Want toe sy by hom kom, oorreed hy haar om vir haar pa landbougrond te vra, en dié gee toe vir haar grond met standhoudende water.
  • Maar die belangrikste wat ons van hom lees, is dat die Gees van die Here op hom was. 
    • Daarom kon die Here hom gebruik om die volk te bevry toe daar ‘n bedreiging van die Mesopotamiërs kom.

Hy was dus die modelrigter, wat die skrywer van die boek as riglyn of maatstaf gebruik vir die ander rigters:
Die Gees van die Here was op Hom en hy het nie net die Mesopotamiërs oorwin nie, maar veertig jaar lank vrede geniet in die land.

 

View all posts in this series

Pinkster 2009, Rigters

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.