Skip to main content

God se genade leer ons dat ons néé’s en já’s saak maak – Titus 2:11-15

Die genade van God het verskyn

Hierdie brief van Paulus aan Titus is deur die eeue ‘n gewilde keuse in gemeentes vir Kersdag. Die brief bevat nie enige verwysings na herders of wyse manne, ‘n jongvrou en ‘n baba in ‘n krip nie. Maar veral twee verse boei gelowiges se aandag op Kersdag

Paulus sê in hoofstuk 2 vers 11:

 “Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn.”

Hierdie “verskyning” verwys nie net na Jesus se geboorte nie, maar na sy eerste koms in sy geheel, en die impak wat dit in hierdie wêreld maak. Paulus sê dit is die genade (charis) van God wat verskyn het, en wat redding bring aan alle mense.

Paulus herhaal die gedagte in hoofstuk 3 en verwoord dit so in vers 4:

“Maar toe het die goedheid en die liefde vir mense van God, ons Verlosser, verskyn.”

Dit is wat hierdie verskyning inhou, die goedheid (chrēstotēs) en die liefde vir mense (philanthrōpia) van God, ons Verlosser. Sy goedhartigheid, sy vriendelikheid, en sy filantropie, want dit is die Griekse woord wat gebruik word vir sy “liefde vir die mense” wat verskyn het.

Dit is wat die geboorte in Betlehem ingehou het. Dit is wat die hele lewe en bediening van die Here Jesus ingehou het. Dat ons bewus geraak het, soos van ‘n helder lig, dat God goed is, dat Hy genadig is, dat Hy vriendelik is, dat Hy goedhartig is, dat Hy lief is vir mense, dat Hy die eerste filantroop is.

Maar wat ons maklik mis, is dat Paulus baie spesifiek uitspel dat hierdie genade en liefde van God redding bring, dat God in Jesus ons Verlosser geraak het. Die verskyning van God se genade, die verskyning van God se liefde, het met redding te make, met verlossing.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: (Download the English translation: Titus 2:11-15)

Toetrede

Vonkk 68:1-3 Ere Aan God, Bring Hom Die Eer! – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 365:1-3 Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied – staan

Lied 350:1-3 In die stad van koning Dawid, in die nederige stal – staan

Kindertyd

Lumo Project (http://www.freebibleimages.org/photos/shepherds-angels/)– Lukas 2:8-20

In die omgewing van Betlehem
was daar herders wat buite gebly het en in die nag waggehou het oor hulle kudde.
En ’n engel van die Here het skielik by hulle kom staan en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn,
en hulle was vreeslik bang.

En die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring goeie nuus vir julle van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,

dat vandag vir julle in die stad van Dawid die Redder gebore is, wat Christus die Here is.
En dit is vir julle die teken: julle sal ’n baba kry wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”

 

En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leër wat God prys en sê:

 

“Eer aan God in die hoogste hemel,

en vrede op aarde onder die mense

in wie Hy ’n welbehae het.”

En dit het gebeur dat toe die engele van hulle af weggegaan het na die hemel, die herders vir mekaar gesê het: “Kom ons gaan nou reguit na Betlehem en sien hierdie ding wat gebeur het wat die Here aan ons bekendgemaak het.”
En hulle het haastig gegaan,
En hulle het haastig gegaan, en hulle het Maria en Josef gevind,
en die baba wat in die krip lê.
Toe hulle dit sien, het hulle vertel van die woord wat vir hulle gesê is oor hierdie Kind.
En hulle het God geloof en geprys oor die Kind.
En almal wat dit gehoor het, was verbaas oor die dinge wat deur die herders aan hulle vertel is.

 

Maar Maria het al hierdie woorde bewaar en daaroor nagedink in haar hart.

Aanbidding

VONKK 283:1-3 Kom buig in die stal voor die hemelse Kind – sit

Gebed

Skriflesing en prediking

Ek lees vyf verse uit hoofstuk 1 en een vers uit hoofstuk 2 as agtergrond vir die teks vir vandag, Titus 2:11-15 (ek gebruik die Afrikaanse Standaard vertaling – ASV).

Paulus begin sy brief in hoofstuk 1 met:

Seëngroet

1Van Paulus, ’n slaaf van God en apostel van Jesus Christus ter wille van die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat lei tot toegewydheid aan God, 2in die hoop op die ewige lewe wat die betroubare God voor die begin van tye beloof het.

3Hy het op die geskikte tyd sy woord bekendgemaak deur die prediking wat aan my toevertrou is in opdrag van God, ons Verlosser.

4Aan Titus, my ware kind in ons gemeenskaplike geloof: Genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus, ons Verlosser!

Titus se werk op Kreta

5Ter wille hiervan het ek jou in Kreta agtergelaat sodat jy dit wat agterweë gebly het in orde kon kry, en in elke dorp ouderlinge aanstel soos ék jou opdrag gegee het.

Paulus brei uit oor watter tipe gelowiges dié ouderlinge moet wees, in hulle families, sowel as in die gemeenskap, veral vaardig om die evangelie in leer en lewe te kan verdedig.

Dan vervolg Paulus in hoofstuk 2:

Die gesonde leer

1Maar verkondig wat by die gesonde leer pas.

Hy brei uit oor wat dit beteken vir ouer mense, en jonges, vir mans, en vroue, ook vir slawe. Ou mans moet selfbeheersd, eerbaar, en verstandig wees, met die regte siening van geloof, en in liefde, en volharding leef. Ou vroue moet toegewyd wees, nie kwaadpraters nie, nie verslaaf aan baie wyn nie, mense wat onderrig wat goed is. Jong vroue moet lief wees vir hulle mans en kinders, verstandig – iets wat van die jong mans ook gevra word – rein, sorgsaam in hulle huishoudings, vriendelik, wat die gesag van hulle eie mans erken – iets wat ook van die slawe gevra word teenoor hulle eienaars.

En dan ons teksvers, wat die rede gee vir sy opdragte:

11Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn,

12en dit leer ons om nee te sê vir die goddeloosheid en wêreldse begeertes en om verstandig, reg en toegewyd in die huidige wêreld te leef,

13terwyl ons wag op die geluk waarop ons hoop, die verskyning van die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus,

14wat Homself ter wille van ons gegee het sodat Hy ons van alle wetteloosheid kan bevry en vir Homself ’n volk kan reinig as sy eiendom, en wat gretig is om goeie dade te doen.

15Verkondig hierdie dinge; bemoedig en wys tereg met volle gesag. Laat niemand op jou neersien nie.

Die genade van God het verskyn

Hierdie brief van Paulus aan Titus is deur die eeue ‘n gewilde keuse in gemeentes vir Kersdag. Die brief bevat nie enige verwysings na herders of wyse manne, ‘n jongvrou en ‘n baba in ‘n krip nie. Maar veral twee verse boei gelowiges se aandag op Kersdag

Paulus sê in hoofstuk 2 vers 11:

 “Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn.”

Hierdie “verskyning” verwys nie net na Jesus se geboorte nie, maar na sy eerste koms in sy geheel, en die impak wat dit in hierdie wêreld maak. Paulus sê dit is die genade (charis) van God wat verskyn het, en wat redding bring aan alle mense.

Paulus herhaal die gedagte in hoofstuk 3 en verwoord dit so in vers 4:

“Maar toe het die goedheid en die liefde vir mense van God, ons Verlosser, verskyn.”

Dit is wat hierdie verskyning inhou, die goedheid (chrēstotēs) en die liefde vir mense (philanthrōpia) van God, ons Verlosser. Sy goedhartigheid, sy vriendelikheid, en sy filantropie, want dit is die Griekse woord wat gebruik word vir sy “liefde vir die mense” wat verskyn het.

Dit is wat die geboorte in Betlehem ingehou het. Dit is wat die hele lewe en bediening van die Here Jesus ingehou het. Dat ons bewus geraak het, soos van ‘n helder lig, dat God goed is, dat Hy genadig is, dat Hy vriendelik is, dat Hy goedhartig is, dat Hy lief is vir mense, dat Hy die eerste filantroop is.

Maar wat ons maklik mis, is dat Paulus baie spesifiek uitspel dat hierdie genade en liefde van God redding bring, dat God in Jesus ons Verlosser geraak het. Die verskyning van God se genade, die verskyning van God se liefde, het met redding te make, met verlossing.

Die genade leer ons

Daarom koppel Paulus in hoofstuk 2 vers 11 die verskyning van God se genade aan vers 12 wat wys wat die genade in ons lewe wil regkry. Paulus sê God se genade:

“leer ons om nee te sê vir die goddeloosheid en wêreldse begeertes en om verstandig, reg en toegewyd in die huidige wêreld te leef.”

Die genade leer ons om néé te sê

Die eerste ding wat die genade ons leer, is om nee te sê. Om nee te sê vir die goddeloosheid (asebeia) en die wêreldse begeertes (kosmikas epithumias).

Wat is goddeloosheid? Dit is om in God se wêreld te leef asof Hy nie bestaan nie. Dit is om in God se wêreld te leef volgens jou eie reëls.

Dit is wat God deur sy genade in ons lewe wil regkry. Dat ons só bewus raak van sy genade, van sy goedheid, van sy liefde, dat ons Hom as God erken, en sy wil vir die lewe aanvaar, al verskil dit ook radikaal van die samelewing se reëls.

Wat is wêreldse begeertes? Dit is begeertes volgens die samelewing se standaarde waarin God se standaarde verander of verwerp word. Dit is begeertes waarteen die tweede tafel van die wet ons waarsku, dinge wat gesag uitdaag (5de gebod), dinge wat die lewe bedreig (6de gebod), dinge wat die huwelik bedreig (7de gebod), dinge wat ander se sekuriteit in gevaar stel (8ste gebod), dinge wat ander se reputasie bedreig (9de gebod), en dinge wat ander se goed in gevaar stel (10de gebod).

Soos Paulus in vers 14 sê, dit is wetteloosheid, waarin God se wet versaak word, en die samelewing se idee van wat goed en reg is, in die plek van God se wet as die standaard vir mense geleer word.

God se genade leer ons om nee te sê vir wêreldse begeertes, vir wêreldse standaarde, vir die goddeloosheid, waar God soos die olifant in die kamer word. Almal is wel deeglik van Hom bewus, maar maak asof Hy nie bestaan nie.

Maar, dit is nie al nie.

Die genade leer ons om já te sê

Die tweede ding wat die genade ons leer, is om ja te sê. Om ja te sê vir ‘n verstandige lewe, vir ‘n regte lewe, vir ‘n toegewyde lewe.

Wat is ‘n verstandige lewe? Dit is ‘n lewe van selfbeheersing, soos die Griekse woord (sōphronōs) ook in die res van die hoofstuk vertaal word (vers 2). Dit is om doelbewus jouself te weerhou van selfsug en die ander se belange eerste te stel. Om doelbewus nie jou eie belang te soek nie, maar dié van ander. Om niks te doen wat jou eie lewe of ander se lewe in gevaar kan stel nie.

Wat is ‘n regte lewe? Dit is ‘n lewe wat altyd begin om te vra wat God wil. Wat vir God reg is (dikaiōs). Wat sy goedkeuring sal wegdra. Nie wat die samelewing goedkeur nie. Wat God goedkeur. En ons het die voorreg om 66 boeke in die Bybel te hê wat vir ons uitspel wat vir God welgevallig is, wat sy goedkeuring wegdra, wat vir Hom reg is.

Wat is ‘n toegewyde lewe? Die Griekse woord (eusebōs) kan ook met vroom of godsdienstig vertaal word. Dit is om só in die huidige wêreld te leef dat almal kan agterkom dat God se wil voorrang het in jou lewe. Dit is om altyd seker te maak dat dit duidelik is in alles wat jy doen, dat jou lojaliteit aan God groter is as jou lojaliteit aan die gemeenskap se waardes.

Hoekom is dit só belangrik?

Daar is twee redes.

Jesus sal weer verskyn

Die eerste rede is dat ons nie net leef vanuit die vreugde van die eerste Kersdag nie. Ons leef ook vanuit die vreugde wat die laaste Kersdag ons gaan bring, die Wederkoms van die Here Jesus Christus.

Om néé te sê vir die goddeloosheid en wêreldse begeertes, en já te sê vir ‘n verstandige, regte en toegewyde lewe, is noodsaaklik om die Here Jesus met sy tweede koms te kan ontvang. Sonder heiligmaking sal geen mens God sien nie (Hebr 12:14).

Paulus sê in vers 13, ons sê néé, en ons sê já:

“Terwyl ons wag op die geluk waarop ons hoop, die verskyning van die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus.”

Let op hoe Paulus praat van die “gelukkige hoop” – the “blessed hope” – die verskyning van die heerlikheid van Jesus Christus, ons grote God en ons Verlosser. Soos die gelowiges in die OT uitgesien het na die eerste verskyning van die Messias, só sien ons uit na die tweede verskyning van die Messias, die dag waarin die hele wêreld sy heerlikheid sal sien, en waarin almal Hom as Here sal moet erken.

En dit is vanweë hierdie Jesus wat ons nie anders kan as om néé te sê vir die goddeloosheid en wêreldse begeertes nie, want dit was sy doel met sy eerste koms.

Jesus het Homself gegee om ons van wetteloosheid te reinig

Ons sê dus in die tweede plek néé vir die goddeloosheid en wêreldse begeertes en já vir ‘n verstandige, regte en toegewyde lewe, omdat Jesus Homself daarvoor gegee het. Soos Paulus in vers 14 sê:

“wat Homself ter wille van ons gegee het sodat Hy ons van alle wetteloosheid kan bevry en vir Homself ’n volk kan reinig as sy eiendom, en wat gretig is om goeie dade te doen.”

Jesus se doel met die verlossing wat Hy vir ons bring, is om ons van wetteloosheid te bevry en ons te reinig as sy eiendom, mense wat gretig is om goeie dade te doen.

Let op hoe hierdie doel presies saamhang met die dinge wat God se genade ons leer om te doen. Om néé te sê vir goddeloosheid en wêreldse begeertes, en já te sê vir ‘n verstandige, regte en toegewyde lewe.

Wetteloosheid (anomias) is dieselfde as goddeloosheid, om in God se wêreld te lewe asof Hy nie die reg het om uit te spel hoe dié lewe moet werk nie. Sonde is om God se wet te oortree, só sê Johannes in een van sy briewe (1 Joh 3:4).

Reiniging (katharizō) is die proses wat God gebruik om ons van wêreldse begeertes te verlos. ‘n Ander woord daarvoor is heiligmaking, om die sonde wat nog voortwoeker in ons liggaam, om dit dood te maak deur die werk van die Heilige Gees in ons (Rom 8).

Om gretig te wees om goeie dade te doen, kan net so verbind word aan ‘n verstandige en selfbeheersde lewe, ‘n lewe van toewyding aan God se wil, soos Hy dit in sy Woord vir ons uitspel.

Verkondig hierdie dinge

Dit is waarom Paulus vir Titus aanmoedig om hierdie dinge te verkondig. Soos hy in vers 15 sê:

“Verkondig hierdie dinge; bemoedig en wys tereg met volle gesag. Laat niemand op jou neersien nie.”

Dit is waarvoor Paulus Titus in Kreta agtergelaat het, sodat hy die gemeentes in Kreta kon bedien en die algemene wetteloosheid wat steeds in die gemeenskap geheers het se effek op die gemeente die hoof kon bied.

Titus moes ouderlinge aanstel wat onberispelik was, wat die huwelik geëer het, en hulle families geestelik gelei het. Hy moes hulle help om ‘n gesonde geloof en ‘n gesonde leer te handhaaf, om in die praktyk sorg te dra dat die gemeente groei in heiligmaking ten spyte van die impak van die gemeenskap op hulle. Want, daar was baie uitdagings, mense wat dié woorde weerlê het. Die ouderlinge moes dus in staat wees om nie net persoonlik aan die waarheid vas te hou nie, maar ook om met die gesonde leer die argumente van die teenstanders te kan weerlê.

Titus moes die oues en die jonges, die vroue en die mans, ook die slawe, bemoedig om hulle gedrag aan te pas by die genade wat die Here aan hulle bewys het. Om die genade toe te laat om hulle vir die verkeerde wêreldse goddelose dinge te laat néé sê, en vir die regte en goeie dinge já. Om gretig te wees om goeie dade te doen.

Ons leef tussen twee verskynings van Jesus

Hoekom?

Want, ons leef tussen die twee verskynings van die Here Jesus. En ons gedrag in hierdie wêreld maak saak. Ons néé’s en ons já’s maak saak. Trouens, dit is presies ons néé’s en ons já’s wat die boodskap is in hierdie wêreld.

Soos die genade van God vir ons leer waarvoor om néé te sê, en waarvoor já, só raak ons gedrag die stem van God in hierdie wêreld. Raak ons lewens ‘n brief van Christus wat deur hierdie wêreld gelees word, soos Paulus elders sê (2 Kor 3:3).

Ons hoef dus nie allerlei aanpassings te maak aan die boodskap van Christus, sodat dit vir hierdie wêreld aanvaarbaar kan word nie. Trouens, ons mag nie enige aanpassing maak daaraan nie. Anders bring ons en leef ons ‘n valse evangelie, ‘n evangelie waarin niemand verlos word van hulle goddeloosheid en wêreldse begeertes nie.

Al wat jy hoef te doen, is om seker te maak dat jyself toelaat dat die genade van God jou leer hoe om te lewe, en jouself gretig te gee vir goeie dade. Dan raak jou lewe deursigtig en sal die genade van God ook aan almal verskyn wat met jou in aanraking kom.

Dit sal ‘n effek hê op regeerders en gesagsinstansies, sê Paulus in hoofstuk 3, veral waar ons “gereed is vir enige goeie werk” (Tit 3:1). Waar ons vriendelik is en gasvry.

Hy sê aan die einde van die brief, hoofstuk 3 vers 8:

“Dit is ’n betroubare woord. Ek wil hê dat jy op hierdie dinge aandring, sodat dié wat in God glo hulle daarop kan toelê om hulle toe te wy aan goeie dade. Hierdie dinge is goed en nuttig vir die mense.”

En in vers 14:

“Ons mense moet ook leer om hulle toe te wy aan goeie dade om in dringende behoeftes te voorsien, sodat hulle nie nutteloos is nie.”

Hy sluit af met die tema van die brief, vers 15:

“Mag die genade met julle almal wees!”

Geseënde Kersfees vir jou.

Gebed

Dankoffer

By die deure vir barmhartigheid

Slotsang

Lied 358:1-3 Welkom, o stille nag van vrede, onder die suiderkruis – staan

Lied 348:1-3 Stille nag, heilige nag – staan

Seën

Respons

Lied 348:2 (laaste 2 reëls) Juig die Redder is daar! Juig die Redder is daar!­ – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.