Skip to main content

Bid die Woord – Daniël 9

Verwelkoming

Welkom by ons erediens. Dit is die eerste Sondag in ons Pinksterweek. Ons is besig met ‘n reeks oor gebed. Jy kan dit volg by hierdie skakel: Waak en Bid.

Verjaarsdae

Marina de Jager, Ian Janse van Rensburg en Michelle Loots verjaar vandag. Baie geluk.

Voorbidding

Ons dink steeds aan Jenny Troskie en Thelma en Danie Theron. Ons bid vir beterskap.

Bybelgenootskap fondsinsameling

Onthou om Bybelgenootskap te ondersteun hierdie Pinkstertyd. Jy kan ‘n bedrag EFT – suggestie van R185, die prys van die 2020-vertaling – en net “Bybelgenootskap” as verwysing gee. Absa 100 873 1388.

Toetrede

Lied 278 – Hoor ons bid o Heer

Votum en Seëngroet

Loflied

Vonkk 40 – Kom en vul ons met vrede

Gebed

Is jy iemand wat jou beloftes hou?

Ek het geleer om my beloftes te hou deur ‘n keer wat ek nie my belofte gehou het nie. Ons het op laerskool ‘n afskeid gehad vir die standerd vyfs, vandag die graad sewes. Ek het ‘n meisie genooi vir die afskeid, maar toe raak ek verlief op ‘n ander meisie. En toe vra ek of sy sal omgee, ek wil liewer met my nuwe meisie na die afskeid toe gaan. Vreeslik, ek weet!

Dit het my na die tyd baie gepla. Toe moet ons aan die einde van matriek, graad 12, weer iemand nooi na die matriekafskeid. En ek het besluit, ek gaan regmaak wat ek vyf jaar vroeër verbrou het. En ek vra weer vir die meisie wat ek vroeër in die steek gelaat het.

En ons het ‘n wonderlike matriekafskeid gehad. En as ek nou terugdink aan my skooljare is dit een van die ervarings wat ek besef my geleer het om my beloftes te hou.

Want, dit is hoe God is. Hy hou sy beloftes.

Trouens, die hele Bybel is ‘n belofteboek, ‘n boek waarin die beloftes van die Here opgeteken is. Beloftes wat God nie verniet gemaak het nie. Beloftes waarop Hy nie teruggaan nie. Beloftes wat Hy nie net van plan is om te hou nie, maar inderdaad altyd hou.

Elkeen van hierdie beloftes in die Bybel is van betekenis vir ons.

Nou, daar is ‘n onderskeid in die tipe beloftes. Dit moet ons darem onthou.

Soms is beloftes direk van betekenis:

“As jy jou sondes bely, God is getrou en regverdig om jou die sondes te vergewe.” (1 Joh 1:9)

“Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” (1 Joh 5:12)

Wonderlike beloftes wat jy vir jouself kan, trouens, moet toeëien. Beloftes waarop jy kan staatmaak. Beloftes waarop jy kan vertrou. Beloftes wat jy kan vasgryp as jy twyfel. Beloftes wat jy ook vir ander kan deurgee om hulle tot geloof te bring, en vertroos as hulle sukkel met hulle geestelike lewe.

Soms is beloftes egter net indirek van betekenis:

“Trek na die land wat ek vir jou sal wys”, ‘n belofte aan Abraham (Gen 12:1).

Ek sê indirek, want jy is nie Abraham nie. Jy is ook nie op pad na Kanaän nie. So, die belofte is nie direk op jou van toepassing nie.

Maar, die manier waarop God met Abraham praat, en die tipe dinge wat Hy vir Abraham belowe, is tog van toepassing op jou.

Hoekom? Want, in Christus is jy ook ‘n kind van Abraham. Elke gelowige word in die Bybel ‘n kind van Abraham genoem (Gal 3:29). Want, hy is die vader van die gelowiges. Elkeen wat in Jesus glo, kan homself dus ‘n kind van Abraham noem.

Maar, daar is nog meer. Die Bybel sê, Abraham het eintlik getrek nie net na die fisiese land Kanaän nie, maar na die stad van God, die hemelse Jerusalem, waarheen almal van ons op pad is wat in Jesus glo (Hebr 11:8-10).

So, ons glo dat die Here Jesus vir ons die geskenk van die ewige lewe gee. En ons is daarheen op pad. Soos ‘n Abraham van tevore. So, as God vir Abraham belowe dat Hy vir hom sal sorg op pad, dan is dit ook op ons van toepassing. As God belowe vir Abraham dat die nasies in hom geseën sal wees, dan is ook op ons van toepassing. Vir elkeen wat ons van Jesus vertel, is ons tot ‘n seën.

En so kan ‘n mens aangaan.

Dit is oor een van hierdie indirekte beloftes wat ek wil praat. ‘n Belofte in die Bybel wat vir die Israeliete bedoel was. Ek wil vir jou wys hoe die belofte waar geword het. En dan vir jou help om uit die Bybel ‘n belofte vir jouself te kry, al is dit op ‘n indirekte manier.

Sodat jy op dieselfde wyse die Bybel kan gebruik. Om te leer om die beloftes te bid. Sodat God ook vir jou die beloftes in die Bybel kan laat waar word.

Ek wil vir julle die verhaal van Daniël vertel.

Daniël

Dit is ‘n verhaal wat julle goed ken, veral die deel in die leeukuil! Maar, ek wil vir julle vertel van wat met hom gebeur het toe hy al ‘n ou man was, in sy tagtiger jare.

Daniël is as jong tiener weggevoer na Babel saam met die ander elite van Jerusalem. Dit was in 605 vC (Dan 1:1; vgl Jer 25:1; 2 Kon 24:1 en 2 Kron 36:6).

Nou, belangrik om te weet, Daniël het waarskynlik van die profesieë van Jeremia gehoor terwyl hy nog in die land Israel was. Jeremia het immers voorspel dat hulle in ballingskap weggevoer sou word. En Daniël het presies dit ervaar.

Jeremia het ook nie opgehou om te profeteer nie. Hy het gereeld van sy profesieë na Babel gestuur. Want, sommige van die profesieë was direk gerig aan die Jode in Babel (bv Jer 24; 29).

Daniël het dus ook in Babel kennis geneem daarvan. Trouens, hy kon ‘n kopie van die boek van Jeremia lees saam met die res van die “boekrolle” van die OT wat teen daardie tyd al as kanoniek aanvaar is en vir hom in ballingskap beskikbaar was.

En dit is waar dit nou interessant raak.

Daniël is nou al ‘n ou man van so in sy tagtigs. In die eerste jaar van koning Darius – hy word ook Kores genoem – het Daniël in sy Bybelstudie uit Jeremia agter gekom dat daar ‘n besondere belofte in die Bybel was.

Ons lees in Daniël 9:

1 In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, 2 in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die Here tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees.

Daniël het op twee plekke in die boek Jeremia daaroor gelees. Die ballingskap sou sewentig jaar lank duur. Dit is wat ons self kan lees in Jeremia 25:11-12 en 29:10.

So, Daniël het somme gemaak. Hy is in 605 vC weggevoer. Dit is nou 539 vC, want dit weet ons uit geskiedenis bronne is die jaar wat Darius koning geword het.

So, 539 van 605 afgetrek, is so in die omgewing van 66 jaar lank. Baie naby aan die sewentig jaar waarvan Jeremia in sy profesieë gepraat het.

Daniël het deeglik gelees en toe besluit, maar hierdie saak moet hy met die Here deur gesels.

Ons lees:

3 Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in ‘n roukleed en met stof op die kop. (Dan 9:1-3)

Daniël gaan in ‘n ernstige gebed. Hy bely weereens die sondes van die volk. Ook sy eie. En hy vrag dat die Here hulle tog barmhartig sal wees. Hy vra die Here om vergifnis en vra dat die Here die stad Jerusalem sal herstel.

Dit is dan nou amper sewentig jaar. Dit is mos ‘n belofte van die Here, en hy bid dat die Here sy belofte in vervulling sal laat gaan

Ons lees in vers 19:

19 My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.”

En wat dink julle gebeur toe?

Dit is merkwaardig om net daarna die Here se antwoord in vers 20 te lees:

20 Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid … ja, terwyl ek nog praat in die gebed …

het die engel Gabriël hom aangeraak en die nuus gebring dat God die herstel van Jerusalem beveel het. Trouens, die Here gee vir Daniël baie meer as waarvoor hy gevra het. Hy gee vir hom ‘n visie op die Messias wat sal kom.

Nou, die boodskap aan ons is dit.

Daar is talle sulke verhale in die OT en NT. Verhale waar die beloftes van die Here in vervulling gebid is. Soms is dit sulke direkte beloftes wat vervul word. Soms is dit meer indirekte beloftes wat vervul word.

Die belangrike boodskap aan jou is egter dat hierdie verhaal jou uitnooi om die Here te vertrou om dieselfde ook vir ons te doen. Ook beloftes in sy Woord vir ons waar te  maak.

Hierdie verhaal wil jou leer om die Woord te bid. Om die beloftes van die Here te lees en dit jou gebed te maak, soos ‘n Daniël van ouds.

Ons lees in Jesaja 62 hoe dit werk:

6 Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ‘n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! 7 Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het! (Jes 62:6-7)

Dit is ‘n merkwaardige opdrag hierdie van Jesaja:

6Gun julleself geen rus nie … 7maar Gun Hom ook geen rus nie … totdat Hy haar gevestig het!”

Totdat God sy belofte nagekom het om Jerusalem – die geloofsgemeenskap – ‘n loflied op aarde te maak.

Ons bid natuurlik nie vir die fisiese Jerusalem nie, maar vir die geestelike Jerusalem, want Jerusalem staan vir die gemeenskap van gelowiges, die kerk.

En Jesaja nooi ons op ‘n indirekte manier uit om die beloftes wat God gee vir die geloofsgemeenskap, om dit te bid, totdat die Here die beloftes laat waar maak.

Daar is talle sulke verhale in die OT en NT. Waar die beloftes van die Here in vervulling gebid is. Wat ons uitnooi om die Here te vertrou om dieselfde ook vir ons te doen.

Al die beloftes in die Bybel is “ja” in Jesus Christus

Dieselfde geld gelowiges in die NT. Paulus skryf aan die Korintiërs:

20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja” en “amen”. (2 Kor 1:20)

Dit is die erfenis van elke kind van God.

Die hele Bybel is ‘n belofteboek. Dit is ‘n boek van beloftes waarop ons ons gebede kan skoei.

Soos jy sistematies deur die Bybel werk, kan jy vrymoedigheid neem om die beloftes te omkring en in jou gebede in te werk. Die verhaal van Daniël nooi jou uit om die Woord biddend te lees totdat ‘n gedagte uit die Woord jou aandag vasvang, en jy dit in ‘n gebed kan omskakel.

Soos Andrew Murray sê:

“Dit is op gebed dat die beloftes wag om vervul te word, die koninkryk vir sy koms, die eer van God vir die volle openbaring daarvan.”

Ek wil jou inspireer met ‘n verhaal waar iemand ‘n belofte van die Here geneem het, en die wonder van God se antwoord daarop ervaar het.

George Müller

Jy kan meer lees oor George Müller in sy boek, Answers to Prayers, wat gratis op sy webtuiste beskikbaar is. Dit is saamgestel uit werklike verhale uit sy lewe waar hy presies dit gedoen het. ‘n Belofte geneem het, en die Here vir die vervulling daarvan vertrou het.

‘n Mens lees basies van twee maniere waarop dit in sy lewe gewerk het. Die eerste is dat hy in sy normale stiltetyd ‘n teksgedeelte gelees het totdat ‘n spesifieke insig, belofte of opdrag hom aangespreek het, en hy daarvan ‘n spesifieke gebed gemaak het.

Die tweede is dat hy ‘n spesifieke behoefte voor die Here gebring het, vir ‘n belofte in die Skrif gesoek het en dit dan aangegryp het om ‘n spesifieke versoek aan die Here te rig. En soos George Müller sê, hy het nooit een onbeantwoorde gebed gehad nie.

Een verhaal as voorbeeld. George se vrou, Mary, se pa is in 1835 oorlede en hulle vyftien maande oue babaseun het siek geraak en gesterf. Mary was depressief en George het erge maagprobleme ontwikkel. Die ergste was dat hulle geen geld oor gehad het nie.

In hierdie tyd het hy en sy vrou ’n sagte hart ontwikkel vir al die weeskinders in Engeland, maar hoe begin jy ’n kinderhuis sonder geld?

Op 5 Desember 1835 het hy Psalm 81:11 gelees en is meer as ooit tevore getref deur die woorde:

“Maak jou mond wyd oop,  sodat Ek dit kan vul.” (Psalm 81:11)

Hy sê in sy dagboek:

“Ek het ‘n paar oomblikke oor hierdie woorde nagedink en is daarna gelei om dit toe te pas op die geval van die Weeshuis. Dit het my opgeval dat ek nog nooit vir die Here enigiets gevra het daarvoor nie, behalwe om Sy wil te ken, met respek vir wat Hy wil doen of nie. Ek val toe op my knieë en maak my mond wyd oop, en vra Hom vir baie. Ek het my onderwerp aan sy wil, sonder om ‘n tydsbeperking te gee vir wanneer hy my gebed moet beantwoord. Ek het gebid dat Hy my ‘n huis sal gee, óf as ‘n lening, óf dat iemand daartoe gelei kan word om die huur te betaal,  of dat ‘n huis permanent vir hierdie doel gegee sal word. Verder, het ek Hom gevra vir £ 1000; en ook vir geskikte individue om na die kinders om te sien.”

Hy het ook vir meubels en klere vir die kinders gevra.

  • Vyf dae later, op 10 Desember, het twee mense gevra om by die beoogde kinderhuis te kom werk, en hulle het al hulle meubels geskenk.
  • Agt dae later, op 13 Desember, het nog twee mense besluit om by die kinderhuis te kom werk, ook met meubels en al, en iemand het £ 10 gegee (in maandelikse paaiemente).
  • Twaalf dae later, op 17 Desember, het mense klere begin skenk, en ‘n ander persoon het £100 belowe vir die jaar.
  • ‘n Jaar en half later, op 15 Junie 1837, is die finale £ 5 gegee om die bedrag van £ 1000 vol te maak. Sonder dat hy ooit enigiemand vir enigiets gevra het. Hy het die saak net met die Here deurgepraat.

Dit was die patroon regdeur sy lewe. Hy het op God alleen vertrou en nooit in al sy jare vir iemand geld gevra nie. Die Here het gesorg dat hy in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders kon omgee.

Inderdaad:

“Maak jou mond wyd oop,  sodat Ek dit kan vul.”

’n Belofte uit dié Psalm wat menige lewe al aangeraak en verander het. Dis die prentjie van ’n klein voëltjie in ’n nessie wat wag vir die kos wat sy ma of pa bring.

Laat dié vers jou vandag inspireer om dieselfde, en méér, van God te verwag!

Prakties

Ek nooi jou uit om dié week goed te gaan nadink oor watter behoeftes die Here op jou hart gelê het, veral dié van die mense rondom jou. Lees dan die verhaal van Daniël of lees net die teks uit Psalm 81:11. En vra dan dat die Here, soos vroeër met Daniël, of soos met George Müller, dat Hy die behoeftes sal vervul, veral dié dinge wat die Here op jou hart gelê het, soos Psalm 81:11 dit belowe.

“Maak jou mond wyd oop,  sodat Ek dit kan vul.” (Psalm 81:11)

Gebed

Dankoffers

Snapscan of EFT

Slotlied

Vonkk 058 – Ons vind ons krag in die Here

Seënbede

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.