Skip to main content

Jesus se peuterjare – Matteus 2:13-23

Ek het met die kinders op Jesus se grootwordjare in Nasaret en die reis na Jerusalem gefokus, maar ek wil in die prediking op die tyd vooraf fokus, ‘n gedeelte van Jesus se lewe waaroor daar min gepreek word. Sy peuterjare, nul tot drie jaar.

Dit is terselfdertyd ‘n voorskou van hoe ons die evangelies gaan lees in die Bybelskool.

Ons sluit direk aan by die verhaal van die wyse manne – waaroor ek verlede week gepreek het – wat in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te gaan nie, maar met ‘n ander pad van Betlehem af terug te keer na die ooste. Dan skryf Matteus verder in hoofstuk 2.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (Download English Translation)

Verwelkoming

Kategese

Ons soek nog dringend 2 kategete vir Graad 8’s. Kontak vir Ursula Kilian. Ek het die nommer vir dié wat dit nodig het.

Huishulpe

Begin weer Dinsdagaand.

Somer Smul- & Kuieraand

Ons nooi almal na die Somer Smul- & Kuieraand:  Vrydag 18 Januarie vanaf 15:30 tot 20:00, by die kerk.  Die volgende sal te koop wees:

  • Pizzas;
  • Jaffels;
  • Boereworsrolle, sosaties en hamburgers;
  • Tjips / aartappelskyfies;
  • Gevriesde bobotie;
  • Vars vrugte;
  • Heerlike nageregte (poedings) en koeldranke.

Daar is bestelvorms (en penne en ‘n boks om die bestelvorms in te sit) in die voorportaal INDIEN jy vooraf wil bestel.  Vandag is die laaste dag om bestellings te plaas.  Alle bestellings moet teen 18:00 die Vrydagaand afgehaal word.

Ons wil graag bestellings hê sover moontlik vir die wegneem-poedings: malva, appel krummel, peppermint crisp en lemoen, want die bedoeling is om die poedings die volgende dag of so te eet (4 porsies per foeliebakkie).

Wat die basaarpoeding aan betref: bestellings nie nodig nie; mense kan net kom koop in bakkies wat mengelmoes gaan wees met vla ens. Ons sal in elk geval paar wegneempoedings hê vir dié wat wel wil koop en nie bestel het nie.

Nooi asb jou bure, kollegas en vriende uit om die aand saam te kom Smul & Kuier! Daar is flyers in die voorportaal. Neem asb daarvan en deel dit uit!

Die kinders gaan ook help.  Hulle kry elkeen ‘n paar flyers (tydens kategese) wat hulle ASSEBLIEF in die bure se posbusse moet gaan sit.

As daar lidmate is wat nog betrokke wil word met die voorbereiding van die kosse of wat die aand kan help, moet hulle asb hulle besonderhede by Marlein los.

Die Jaffel tafel soek spesifiek nog mense om te help met die voorbereiding van die vleis. Ook donasies vir maalvleis. Kontak vir Ursula Kilian. In die voorportaal is ‘n lys vir bestellings

Rethie en Henry

Hulle wil graag dankie sê vir al die ondersteuning wat hulle gekry het, en terugvoering gee oor hulle situasie.

Toetrede

Psalm 33:1 Sing juigend, sing ‘n nuwe loflied. Besing opnuut die Heer se Naam – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 450:1-2 Vader, Seun, Heil’ge Gees, hoe sal ons u heerlikheid kan verwoord, u lof besing met ‘n aardse stem? – staan

Lied 370:1-5 Eng’le uit die hoogste hemel sing ter ere van ‘n Kind – staan

Verootmoediging

1 Johannes 5:1-12

1Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. 2Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer. 3Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie, 4want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof. 5Wie anders kan dit wees wat die wêreld verower as die een wat bely dat Jesus die Seun van God is?

6Dit is Hy wat deur die water (Jesus se doop) en die bloed (Jesus se kruisdood) gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is. 7Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê: 8die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.

9As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas. 10Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun. 12Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie. (ASV)

Kindertyd

Terug skool toe

Wie van julle is drie jaar oud?

Staan op.

En vier, vyf, ses, sewe?

Hoe oud moet ‘n mens wees om skool toe te gaan?

Na watter skool toe gaan ‘n mens eerste?

Wanneer gaan ‘n mens groot skool toe?

Wie is almal vanjaar in graad een?

Kom ons gee vir die graad eens ‘n handeklap.

Kom ons vra dat julle ouers ook opstaan.

Kom ons gee vir hulle ook ‘n handeklap. Julle is die eerste opvoeders van hierdie kinders.

En oupas en oumas?

Kom ons gee vir hulle ook ‘n handeklap. Julle is die tweede opvoeders van hierdie kinders.

En dan vriende van hierdie kinders.

Kom ons gee vir julle ook ‘n handeklap. Dit neem ‘n hele dorp om kinders groot te maak.

En onderwysers? Ons bid vir julle. Julle het die meeste tyd met hierdie kinders. Laat julle invloed geld.

Weet julle dat Jesus ook ‘n kind was?

Jesus het ook skool toe gegaan soos julle.

Sy skool is die sinagoge genoem, amper soos ‘n kerkskool. Daar het Jesus geleer om te lees, en skryf en somme te maak. En veral om die Bybel te lees. Nes julle dit vandag hier by die kerk doen.

Daar was so 25 kinders in ‘n klas. As daar meer kinders was, het hulle ‘n assistent aangestel, sodat die kinders goeie onderrig kon kry.

Vandat Jesus vyf jaar oud was, het Hy elke dag – hulle week het op Sondag begin – tot Vrydag skool gegaan. Hulle het net Saterdae af gehad. Van vroeg oggend af het Jesus by die sinagoge geleer lees, en skryf en somme maak. Ses dae ‘n week.

Elke middag het sy pa of ma hom kom haal en dan het Jesus die middag saam met sy pa in sy werkswinkel of waar hy ook al huise gebou het, gehelp. Sy pa was ‘n bouer of timmerman. So het sy pa, Josef, vir Jesus voorberei om eendag self ‘n bouer te wees.

Dit beteken dat Jesus teen die ouderdom twaalf al die hele Bybel ‘n paar keer deurgelees en bestudeer het, sodat Hy op die ouderdom van twaalf belydenis van geloof kon aflê.

Joodse dogters het op daardie ouderdom die Bat Mitzvahen seuns die Bar Mitzvahafgelê. Hulle het daarna bekend gestaan as ‘n “dogter van die wet” of ‘n “seun van die wet”. Want hulle het die wet van God amper uit hulle kop geken. Hulle het geweet hoe God wil hê dat hulle moet lewe.

Dit is waarskynlik waarvoor Jesus-hulle vir die Paasfees Jerusalem toe gegaan het toe Hy twaalf jaar oud geword het.

So, Jesus is nie net die Een wat ons sonde vergewe nie. Hy is ook vir ons ‘n voorbeeld van hoe ons moet lewe, wat vir ons belangrik moet wees. En skool toe gaan was vir Hom belangrik.

Om te lees en skryf en somme maak, is só belangrik. Ons moet dit so goed as moontlik doen. Want, anders kan ons nie die Bybel lees nie. Sal ons nie kan vorder van een klas na ‘n ander totdat ons self pa’s en ma’s en oupas en oumas kan word en weer vir ons kinders kan leer nie.

Julle gaan nou almal na die Ark toe. Ook julle ouers. Alle kinders tot graad agt. En hulle ouers. Rethie gaan daar met julle oor die kategese gesels en die indelings doen.

Gebed

Skriflesing en prediking

Prentjie van The Flight to Egypt deur die Engelse skilder William Hole (1846-1917)

Matteus 2:13-23

Ek het met die kinders op Jesus se grootwordjare in Nasaret en die reis na Jerusalem gefokus, maar ek wil in die prediking op die tyd vooraf fokus, ‘n gedeelte van Jesus se lewe waaroor daar min gepreek word. Sy peuterjare, nul tot drie jaar.

Dit is terselfdertyd ‘n voorskou van hoe ons die evangelies gaan lees in die Bybelskool.

Ons sluit direk aan by die verhaal van die wyse manne – waaroor ek verlede week gepreek het – wat in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te gaan nie, maar met ‘n ander pad van Betlehem af terug te keer na die ooste. Dan skryf Matteus verder in hoofstuk 2.

MATTEUS 2:13-15

13Nadat hulle teruggekeer het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en neem die Kind en sy moeder saam en vlug Egipte toe, en bly daar totdat ek jou sê. Want Herodes gaan probeer om die Kind dood te maak.”

14Hy het toe opgestaan en die Kind en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek,

15en hy het daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” (Hos 11:1)

God praat met Josef deur ‘n droom

Ek is getref deur die droom wat Josef gehad het. Dit is al die tweede droom waarvan ons lees in Josef se lewe. Die eerste droom was toe ‘n engel van die Here hom gerus gestel het om Maria as sy vrou te neem (Matt 1:20).

‘n Engel van die Here verskyn hier weer ‘n keer in die droom aan Josef en gee hom opdrag om Jesus en Maria te neem en te vlug na Egipte. Daar moes Josef bly tot die Here vir hom sê. En die Here gee vir hom die verduideliking vir dié ontwrigtende vlug. God weet wat Herodes beplan. Hy gaan Jesus probeer doodmaak. En die Here gaan dit nie toelaat nie.

Wat my tref van die droom is die detailen duidelikheid, sowel as die tydsberekening. Josef weet presies wat hy moet doen, wanneer hy dit moet doen, hoekom hy dit moet doen, selfs vir hoe lank hy dit moet doen.

Hy moet vlug. Onmiddellik. In die nag. Want Herodes soek die Kind se bloed. En hy moet wag tot die Here sê hy kan terugkom.

Josef-hulle word vlugteling-immigrante

Dit beteken natuurlik steeds dat hulle ‘n tyd van groot ontberings sou tegemoet gaan. Josef-hulle word vlugteling-immigrante. Maar, Josef kan die Here vertrou weens die detail en noukeurigheid van die instruksies. Dit is immers net betyds.

Hy reis al die pad na Egipte. Amper 700 km. Te voet. Maria en Josef moes seker vir Jesus dra. Stukkies van die pad sou Hy seker geloop het. Hy was darem al ‘n peuter, sê maar twee jaar oud.

Dit was warm! Woestyngebied. Dit was ver. Jy kon nie veel meer as só 15 km ‘n dag reis met ‘n klein kind nie. Die reis het hulle seker amper twee maande geneem.

Wat ons goed moet hoor uit hierdie deel van die verhaal is dat dit beteken Jesus was ‘n vlugteling-immigrant vóór Hy in Nasaret gevestig is.

Josef-hulle verstaan ontworteling

Dit beteken ook dat Jesus en sy ouers, Maria en Josef, verstaan het wat dit beteken om ontwortel te wees. Dit moes vir sy ouers moeilik gewees het in die vreemde om werk te kry, ‘n huis te kry, kos op die tafel te sit. Vir ‘n kind te sorg.

Jesus weer sou die magteloosheid ervaar het dat jy as kind min kan doen om jou lot te bepaal. Jy is uitgelewer aan wat die grootmense besluit. Oor jou.

Maar, juis hierdie feit, is vir ons van groot betekenis. Daar is eintlik niks wat Jesus nie deurgemaak het nie. Niks wat ons kan deurmaak waarvan Hy nie persoonlike praktiese kennis het nie. Sodat ons met Hom kan identifiseer. Want, Hy het met ons geïdentifiseer. Hy het beleef wat ons beleef. Hy het as jong kind al beleef hoe dit voel om niks te hê nie. In ‘n vreemde land.

Daar is niks wat God kan uitvang nie

Daar is egter meer. Daar is ook niks waarvoor God nie planne het nie. Niks waarvoor Hy nie voorsiening gemaak het nie. Niks wat God kan uitvang, asof Hy nie alles weet nie.

Trouens, van dié reis na Egipte het God in die middel van die 8ste eeu vC al geweet toe Hy die eerste van die twaalf kleiner profete, Hosea, geïnspireer het om ‘n profesie te lewer: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” (Hos 11:1).

God tree dus beslissend op met die groeiende bedreiging van Herodes en laat Josef met die Kind en sy moeder na Egipte vertrek. Hy het voorspel wat sal gebeur. Agt eeue terug. Hy het die beplanning gereed gehad vir wat hier sal gebeur. Hy het geweet wat Herodes in sy hart beplan. En deur ‘n droom begelei die Here vir Josef-hulle met groot finesse en in duidelike detail op die pad wat Hy self bepaal het.

Staan ‘n oomblik stil by dié gedagte. En die betekenis daarvan vir jou eie lewe. Want, dit is die God wat ons dien. Dit is die God wat ons aanbid. Daar is niks wat God kan uitvang nie.

Wanneer jy God gehoorsaam, raak die pad al hoe duideliker

Daar is nog meer. Wanneer ‘n mens die leiding van die Here gehoorsaam, raak die pad wat Hy vir jou het, al hoe duideliker. Lei Hy jou al hoe meer. Raak die kleinste insig uit die interaksie van God en jou lewe, ‘n verdere stukkie lig op jou pad.

Geen wonder Psalm 1 sê:

6Ja, die HERE sorg vir die pad van regverdiges,  maar die pad van goddelose mense loop dood.”

Dit is wat hier met Josef gebeur. Van droom tot droom groei sy vermoë om God se wil te onderskei.

Dit is hoe die Here ook met jou wil werk. Soos jy gehoorsaam sy leiding volg, gee Hy al hoe meer leiding. Kom jy op die plekke waar Hy jou wil hê. Dit sluit die ontwrigting in van ontworteling, van Herodes se bose planne, van die vlug in die nag, van die raap en skraap in Egipte, tot daar uitkoms gekom het terug in Israel, in die plek wat God vir Josef-hulle uitgekies en voorberei het, Nasaret.

Die omgekeerde is ook waar. Wanneer ‘n mens die leiding van die Here nie gehoorsaam nie, lui raak om te leef in sy wil, óf lui raak in jou luister na sy wil, raak die stem van die Here stiller, of beter gestel, raak jou bewussyn van sy leiding minder, en raak jy onseker oor die pad wat jy moet volg. Kan jy eintlik net jou eie kop volg en raak jy onbetrokke en selfs weerstandig in jou verhouding met God.

MATTEUS 2:16-18

Matteus verskuif die fokus na die situasie in Israel met Herodes wat, getrou aan sy gewelddadige aard, heeltemal oorboord gaan in sy teenstand teen die Messias. En luister daarna uit die hoek van wat Josef-hulle vryspring. Hulle is ontwortel, maar sodat iets ergers nie met hulle gebeur nie. As hulle in Betlehem gebly het, was Jesus se storie oor voor dit nog behoorlik begin het:

16Toe Herodes uitvind dat hy deur die sterrekundiges om die bos gelei is, het hy baie kwaad geword, en hy het opdrag gegee dat in Betlehem en al sy streke al die seuns van twee jaar en minder om die lewe gebring word, volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.

17Toe is vervul wat deur Jeremia die profeet gesê is:

18“’n Stem is in Rama gehoor,

’n gehuil en groot geweeklaag.

Ragel huil oor haar kinders,

en wil nie getroos word nie,

omdat hulle nie meer daar is nie.” (Jer 31:15)

Herodes was ‘n wrede en magsbehepte karakter

Herodes die Grote was regtig ‘n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“varksog” en “seun” is ‘n woordspel in NT Grieks: huosen huios).

Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunsteling vrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.

Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.

Dié gebeure word ook as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia geteken, iets waaroor ek meer in die Bybelskool sal sê (Jer 31:15).

Herodes tree grusaam op, maar tevergeefs

Dié optrede van Herodes is dus grusaam, maar tevergeefs, want God het alreeds opgetree om dié teenstand van Herodes te fnuik en die Kind en sy ouers na ‘n veilige plek te laat uitwyk.

Ek wil nie dat ons te veel stil staan by die kindermoord nie, maar wil darem ‘n paar woorde daaroor sê. Die kindermoord is uiters ontstellend.

Dit illustreer dat hierdie wêreld in die mag van die Bose is. Die kinders dra die prys van die magtiges se selfsug en eie belang. En dit kan ‘n mens moedeloos maak. Selfs laat wonder oor God se genade. En laat wonder hoekom Hy net vir Jesus die moord spaar? Hoekom nie ook vir die ander kinders nie? Is dit nie onregverdig nie? ‘n Liefdevolle God wat nie ‘n kindermoord keer nie? Dit kan mos nie? Of hoe?

Daarop wil ek drie dinge sê waaroor jy kan nadink.

Dit is Herodes wat die kindermoord pleeg, nie God nie

Die eerste is dat dit Herodes is wat die kindermoord pleeg, nie God nie. Dit is vanselfsprekend, maar iets wat ‘n mens maklik vergeet in jou gedagtes oor sulke tragedies. Dit is Herodes se skuld dat die kinders sterf, nie God s’n nie. Ons kom ook duidelik God se afgryse oor die verhaal agter, in die verwysing na Jeremia wat lank terug al daaroor geween het. En die verhaal laat verder die besef grondvat by ons dat sulke boosheid uitgewis móét word. Die wêreld kan nie só werk nie. Die tragedie laat ook in ons die verwagting groei dat daar ‘n Verlosser sal kom wat hieraan ‘n einde sal bring. Iets wat wel deeglik in God se plan voorsien word.

God laat toe dat Jesus aan die kruis vermoor word

Die tweede is dat God toelaat dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hy besluit wel om Jesus die kindermoord te spaar, maar dit is omdat Hy ‘n ander plan met Jesus se lewe het. Hy laat immers toe dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hoekom? Want God wil die Bose as sodanig uitwis, deur die onskuldige moord van Jesus aan die kruis, sodat Hy ‘n nuwe bedeling kan skep, ‘n koninkryk waar sy wil vir almal sal geld. In dié koninkryk sal sulke kindermoorde nie meer moontlik wees nie.

God laat alles ten goede meewerk

Die derde is dat God alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28). En watter genade is die kruismoord nie in die lig van dié perspektief van Paulus nie! Deur die kruis kon God sy koninkryk vestig deur Jesus uit die dood op te wek en deur Hom alles nuut te maak. Jesus is nou verhef bó alle magte en kragte van hierdie wêreld en die toekomstige om alles terug te bring onder God se heerskappy. Sodat daar verlossing kan kom vir almal, ook vir die kinders wat in die kindermoord uitgewis is.

MATTEUS 2:19-21

Die fokus skuif weer terug na Egipte. Matteus skryf:

19Toe Herodes gesterf het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte

20en sê: “Staan op en neem die Kind en sy moeder saam en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind se lewe gesoek het, is dood.”

21Hy het toe opgestaan en die Kind en sy moeder saamgeneem en na die land Israel gegaan.

God lei Josef-hulle terug na hulle tuiste

God lei Josef-hulle uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, weereens deur ‘n droom. Josef was dus iemand wat drome nie ontvang het nie, maar dit kon uitlê, soos sy OT naamgenoot, Josef. Daarvolgens kon hy die wil van die Here onderskei.

Die ooreenkoms met Josef van die OT is betekenisvol! God het Josef in die OT ook deur drome in Israel en Egipte gelei om nie net ‘n ruimte vir homself in die vreemde te skep nie, maar vir die hele volk van Israel (Gen 38-50). Iets soortgelyks gebeur hier met Josef van die NT. Met die verskil dat dit eindig in Israel!

God is van alles bewus en het ‘n plan vir alles

Wat ons by die punt bring van die gedeelte. Dat God van alles bewus is en vir alles ‘n plan het.Hy weet wat aangaan in die wêreld van die politiek en die ekonomie. Hy weet ook wat aangaan in sy mense se lewens. Daar is niks wat Hom onverhoeds betrap nie.

God weet ook nie net alles nie. Hy gee om vir ons en stuur ons waar ons kan floreer in sy wil. Dit kan op die kort- en selfs mediumtermyn ontberings insluit, maar altyd as stasies op die reis na ons bestemming.

Soos Josef, seun van Jakob, dit vroeër in Egipte ervaar het, so ervaar Josef, seun van Jakob, dit in Egipte en later terug in Israel. Ja, jy het reg gehoor, Josef in die NT is ook die seun van ‘n Jakob, soos Josef dit was in die OT (Matt 1:16 – Josef word deur Lukas die seun van Eli genoem, wat moontlik Maria se pa was, waaroor ek meer sê in die Bybelskool [Luk 3:23]).

MATTEUS 2:22-23

Met hulle aankoms in Israel is daar wel ‘n ander koning, maar ongelukkig iemand van dieselfde stoffasie as Herodes. Dit appel val nie ver van die boom nie. Matteus skryf:

22Maar toe hy hoor dat Argelaos koning van Judea is in die plek van sy vader, Herodes, was hy bang om daarheen te gaan. En nadat hy in ’n droom gewaarsku is, het hy vertrek na die gebied van Galilea.

23En daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is dat Hy ’n Nasarener genoem sal word.

God lei hulle na ‘n veilige plek, Nasaret

God lei hulle uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret.  Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes die Grote onafhanklik van Juda deur Herodes Antipas (Matt 14:1-12), ’n ander seun van Herodes, geregeer. Een waarvan ons later meer sal verneem in die evangelies.

Nasaret is 128 km noord van Jerusalem. So dit was nog 10 dae se reis te voet. En daar het Jesus saam met sy pa-hulle gebly. Sy pa Josef ‘n bouer, ‘n timmerman wat met hout en klip gebou het, soms ook met metale.

Josef groei in sy insig in God se wil

Dit is uiters insiggewend om die groei by Josef waar te neem. Van droom tot droom.

Josef luister aanvanklik na die engel se boodskap in sy eerste droom om Maria as sy vrou te neem. Hy wou haar skei, in die geheim, omdat hy regverdig en barmhartig was. Hy wou die wet gehoorsaam, en hy wou haar nie verneder nie. En die Here sê. Nee, nie só nie. Trou met haar. Hier is iets aan die gang wat baie groter is as wat jy besef. Dit is my Kind wat jou kind gaan word.

Josef luister na die opdrag van die owerheid om na Betlehem te gaan. God was immers daarin ook besig. Ons moet nooit dink dat enigiets in die lewe buite God se wil en werke gebeur nie.

Josef luister na die engel in die tweede droom wat hom na Egipte toe laat uitwyk, en sal net hierna wéér luister met die derde droom as hy na Israel toe moet terugkeer en uiteindelik in ‘n vierde droom aangesê word om in Nasaret te gaan woon.

Dit is uiters interessant om die vier drome langs mekaar te sit en die groei wat daar kom by Josef raak te sien.

  1. In die eerste droom wil hy iets anders doen as wat die Here wil. Hy gehoorsaam die Here se wil.
  2. In die tweede droom is hy onbewus van wat aan die gang is, maar die Here red hom en sy gesin van die kindermoord.
  3. Vir die derde droom is hy besig om te wag vir instruksies, want die Here het gesê hy moet daarvoor wag.
  4. Met die vierde droom is hy ingestem op God se stem en kom self agter dat Judea nie ‘n veilige plek gaan wees vir hulle as gesin nie, en die Here bevestig dan in ‘n droom dat hulle eerder in Galilea, in Nasaret moet gaan bly. Op die koop toe ook nog ‘n vervulling van ‘n profesie.

Jesus, die Nasarener, is die vervulling van die boodskap van die OT

Soos ons nou al gewoond raak van Matteus se skakel tussen God se woorde in die verlede en die impak wat dit in die hede het, verbind hy hierdie skuif na Nasaret ook aan ‘n profesie:

23bSo is vervul wat deur die profete gesê is dat Hy ’n Nasarener genoem sal word.”

Trouens, Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete(meervoud) verbind wat dui op die hele boodskap van die OT (Matt 2:23). Hy verbind dit nie aan ‘n enkele teks nie. Sommer aan die geheelboodskap van die OT. Hy wil daarmee kommunikeer dat wat hier in Jesus gebeur die vervulling van die hele OT boodskap is.

Dit is daarom ook die hoogtepunt van ons teksgedeelte.  En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem.  Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag gevang het, sê Matteus, is die Nasarener.

Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken.

In Jesaja 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis:

1 ’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …”

En daarby word gevoeg:

2Die Gees van die Here sal op hom rus …”.

In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl ook Jes 53:2).

Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.

Geen plek is onbenullig in God se oë nie

Nasaret was immers ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners, volgens historiese bronne, genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Sepphoris, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea.  Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus.

Onder die radar, op ‘n plek waar niemand sou soek nie, vir die volgende amper dertig jaar … Wat ‘n voorsiening!

Hierdie uitspraak, dat Jesus ‘n Nasarener genoem sou word, is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus. Jesus, die Een van Nasaret, is die langverwagte Messias van Betlehem, die uitverkore herderleier van God.

Wié sou dit nou kon verwag?!

Moet dus nooit die plek waar jy jou bevind, of waarheen die Here jou lei, onderskat of lig skat nie. Die belangrike is dat jy gehoorsaam is en God se leiding volg. Geen plek is onbenullig in God se oë nie. Dit kan ook jou veilige oase wees in diens van die doel wat God vir jou lewe het.

Soos Lukas dit vir ons opsom, al laat hy die tyd in Egipte uit in sy vertelling:

LUKAS 2:40

40 En die Kind het gegroei en sterk geword en was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.”

Gebed

Dankoffers

Ek begin die 14de Januarie weer met Bybelskool bydraes. Die bydraes oor Wie is God? gaan voort. Die eerste een kom môre. Sluit aan by bybelskool.com om dit te ontvang. Ons sit die leeswerk voort by vraag 14. Ek gaan in my prediking steeds by dié temas aansluit. Die res van die jaar. Bemarking op Facebook en vandag in ‘n blaadjie in die voorportaal. Die eerste kleingroepmateriaal is ook op ngkerksomerstrand.co.za.

Ek begin ook met ‘n nuwe reeks oor Jesus. Prontuit die Waarheid. Ek gee ‘n boek uit met die Bybelteks volgens my opeenvolgende sinopsis. Daarin is ook ‘n inleiding oor die vier skrywers en die vier evangelies. Beskikbaar by die kerkkantoor. Jy betaal net vir die drukkoste. R100.

Belangrik, skryf daarvoor ook in by Bybelskool.com. Ek stuur dan een bydrae per week oor 5 van die perikope uit die evangelies. Woensdagaande 18:00-19:00 gesels ons saam daaroor. Eerste bydrae 14 Januarie oor die skrywers: Lukas, Markus, Matteus en Johannes. Eerste byeenkoms 16 Januarie daaroor. Tweede bydrae Donderdag en daarna weekliks op ‘n Donderdag. Die volgende week fokus ons op ‘n inleiding op die evangelies self. Die derde week ons die leeswerk in die evangelies. Die eerste 5 perikope. Die beplanning is om al vier evangelies die volgende twee jaar só deur te werk.

As jy Jesus se storie en boodskap beter wil verstaan, kan jy dit nie mis nie.

Slotlied

VONKK 68 Ere Aan God, Bring Hom Die Eer! – staan

Seën

Amen

Lied 314

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.