Skip to main content

Vertrou dat God luister – Nehemia 1:1-2:8

Miskien het jy die video van komediant DJ Pryor met sy 19 maande ou seun gesien: https://www.youtube.com/watch?v=Yn8j4XRxSck.

DJ is natuurlik briljant deurdat hy sin maak van sy seun se brabbeltaal. En dit in ‘n betekenisvolle gesprek verander. Die seuntjie beïndruk ‘n mens ook met sy gebare en konneksie met sy pa en die kamera. Maar, dit bly brabbeltaal!

Dit het my laat dink oor gebed, en dat iets daarvan ook in ons gebede gebeur. Dat God sin maak van ons brabbeltaal, omdat ons in ‘n verhouding is met Hom. Dat Hy reageer op ons gebare vanuit die konneksie met ons.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Download English translation: Trust God to listen – Nehemiah 1

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Lied 158 (koor vers 1-2; gemeente vers 3) Bring my na u woning, Here – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 47:1-2 (koor) Juig, o volke, saam

Lied 220:1-3 (gemeente) Met ons harte sing ons, Here – staan

Verootmoediging

Vonkk 180:1-4 (plus Engels) Wees genadig, Heer, spreek my vry – sit

Voorbidding

Dankoffers

Vonkk 226 (koor) Neem, Heer, my hart en reinig my

Epiklese

Flam 87 (koor 1x Afr; gemeente 2x – Eng, Afr) Maak my nou stil, Heer – sit

Skriflesing en prediking

Vertrou dat God luister – Nehemia 1-2:8

Miskien het jy die video van komediant DJ Pryor met sy 19 maande ou seun gesien: https://www.youtube.com/watch?v=Yn8j4XRxSck.

DJ is natuurlik briljant deurdat hy sin maak van sy seun se brabbeltaal. En dit in ‘n betekenisvolle gesprek verander. Die seuntjie beïndruk ‘n mens ook met sy gebare en konneksie met sy pa en die kamera. Maar, dit bly brabbeltaal!

Dit het my laat dink oor gebed, en dat iets daarvan ook in ons gebede gebeur. Dat God sin maak van ons brabbeltaal, omdat ons in ‘n verhouding is met Hom. Dat Hy reageer op ons gebare vanuit die konneksie met ons.

Wat is gebed?

Hoe dink jy oor gebed?

In die algemeen dink mense gebed is om te vra. En dit is natuurlik deel van gebed. “Bid, en vir julle sal gegee word …” (Luk 11:9). Die Griekse woord aiteō, beteken letterlik “vra”, maar word gewoonlik vertaal met “bid”, omdat vra so duidelik met bid te make het. Soos Jesus vir die dissipels op pad na Getsemane belowe: “alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.” (Joh. 16:23).

Om tussenbeide te tree

Maar, om só te bid, beteken nie dat dit soos ‘n vraelysie is wat ‘n mens opstel nie. Gebed is ook om in te tree vir. Dié verstaan van gebed is opgesluit in die mees gebruikte woord vir gebed in Hebreeus, tĕfillā. Hierdie woord word gewoonlik met ‘n werkwoord verbind, pālal, wat beteken: om tussenbeide te tree, om op te som, om te oorweeg of om te takseer.

Die prentjie wat hierdie Hebreeuse woord vir gebed, tĕfillā, oproep, is ‘n gesprek tussen ‘n gelowige en God. Dit is om te praat oor die stand van sake, om soos ‘n Abraham van ouds met God te praat oor sy besluite, en te vra of dit nie miskien anders kan gebeur nie, soos ons dit in Genesis 18-19 lees.

Daarom is tĕfillā dan ook die Hebreeuse woord wat met voorbidding of intersessie vertaal word.

Ongelyke gesprek

Voorbidding werk selfs al is dit ‘n baie ongelyke gesprek. Dit sien ons ook in Abraham se verhaal. God se kennis van wat aangaan en Abraham s’n is nie dieselfde nie. God se evaluering daarvan is op ‘n ander vlak as Abraham. Hy het nie eers presies geweet wat in Sodom aangaan nie, al moes hy darem al die stories gehoor het. Hy het immers al vir Lot gaan red en só vir Sodom-hulle gehelp (Gen 14).

Maar, Abraham wil graag hê dat daar genade vir die regverdiges sal kom. Daarom doen hy die moeite om met God in gesprek te tree, al is dit ‘n ongelyke gesprek.

Daarom vra Abraham vir die Here of die Here die plek sal uitwis as daar 50 regverdiges is. En wonder bó wonder stem die Here in. Dan dink Abraham, maar as God positief antwoord, miskien sal Hy steeds só dink as daar net 45 regverdiges is. En só gaan Hy aan om uiteindelik die streep by 10 regverdiges te trek.

En daarmee nooi Abraham ons uit om in gesprek te gaan met God oor moontlikhede in ‘n situasie, en om selfs al is ons kennis gebrekkig, met die Here in gesprek te tree oor wat die Here in daardie situasie wil doen.

Voorbidding is om vir die Here te kan sê: luister na my, selfs al is dit stamelend, selfs al weet jy nie alles nie, selfs al kan jy in jou gebed agterkom dat jy uit jou diepte is. En om Hom te vertrou vir die beste uitkoms.

Die huis van my gebed

Maar, daar is nog meer. Gebed kom nie net van ons kant af nie. Gebed is ook God se saak. Gebed kom ook van God se kant af.

Trouens, in Jesaja 65:7 praat die Here van die tempel as “die huis van my gebed.” Nie “my huis van gebed” soos dit in die meeste vertalings vertaal is nie. Maar, “die huis van my gebed (tĕfillātî).”

Laat dit ‘n bietjie insink.

Jesaja gee vir ons ‘n heeltemal ander idee van gebed. Gebed is iets waaraan God self deelneem. Nie maar net soos by Abraham waar ‘n mens eintlik net sien dat God reageer op wat Abraham vra nie. Nee, waar God ook sy eie kaarte op die tafel sit en ons intrek in hoe Hy self dink.

Waar Hy ons brabbeltaal omskakel in ‘n sinvolle geheel, sodat dit die werk kan doen waarvoor Hy die gedagtes in ons geplaas het.

Dit is waarom die tempel die huis van sy eie gebed genoem word, ‘n gebed waaraan Hy ons nooi om deel te neem om te bepaal wat aangaan, om te deel met mekaar hoe sake staan, om te deel hoe dinge nou eintlik is, selfs al is ons kennis en ervaring, ons bewussyn en begrip gebrekkig.

Gebed is gesprek

Gebed is dus nie net ‘n lysie versoeke wat God toestaan of nie. Gebed is ‘n gesprek tussen God en mens waarin ‘n opname gedoen word van wat aangaan en daar dan saam besin word op die beste uitkoms.

Natuurlik is God die hoofagent in die gebed, maar Hy nooi ons uit om deel te word van sy gebed. Hy omvorm ons gebede met die onuitspreeklike versugtinge van die Gees sodat sy wil daardeur kan geskied:

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.” (Rom 8:26)

Dit is waarom gebed so belangrik is! Dit is waarom Jesus vir ons leer om te bid: “Ons Vader”, want ons tree met Hom as ons pa in gesprek. Ons praat met Hom oor die sake van sy Naam, van sy koninkryk, van sy wil. Ons praat met Hom oor die sake van voorsiening, vergifnis, versoekings en die Bose (Matt 6).

Ons deel met Hom wat ons waarneem, wat ons agterkom, wat ons dink en gesels dit deur met Hom totdat Hy ons oortuig van wat die beste sal wees vir sy Naam en sy koninkryk, hoe sy wil ook hier op aarde kan geskied soos in die hemel. En hoe Hy gaan voorsien in ons daaglikse brood, ons gaan help om vrede te maak in ons verhoudings en die pad met Hom te kan stap tussen die versoekings deur tot oorwinning oor die Bose.

Dit is hierdie vertroue wat die Here wil bou in jou vandag, dat jy Hom sal vertrou dat Hy luister, dat Hy in gesprek tree met jou oor al die sake wat jy vir Hom bring om deur te gesels.

Die aanleiding tot Nehemia se eerste gebed

Dit is in die tyd van die Persiese koning Artaxerxes.  Die volk was al amper ’n eeu terug uit ballingskap in hulle eie land (sedert 539 vC).  Die tempel is al herbou deur Serubbabel (516 vC).  Die beoogde volksmoord in die tyd van Xerxes (Ahasveros) is deur Ester en Mordegai afgeweer. Die volk se gehoorsaamheid aan die wet is herstel in die tyd van Esra (458 vC).

Nehemia vas en bid om ‘n helder visie

Nehemia kry die ontstellende nuus in 445 vC van Hanáni dat die Jode in Juda in groot ellende en smaad lewe, dat die mure van die stad Jerusalem vervalle is en die stadspoorte verbrand.

1:1 Die geskiedenis van Nehemía, die seun van Hagálja. En in die maand Kislew van die twintigste jaar toe ek in die vesting Susan was, 2 het Hanáni, een van my broers, gekom, hy en manne uit Juda; en ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem.

3 En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand.

Nehemia se eerste reaksie is om geskok te gaan sit en aan die huil te gaan daaroor – dae lank – en die ellendige situasie daarna met vas en gebed na die God van die hemel toe te neem:

Ag, Here, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou — 6 laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig. 7 Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie. 8 Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; 9 maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen—al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon. 10 Hulle is tog u knegte en u volk wat U verlos het deur u grote krag en deur u sterke hand. 11 Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man.

‘n Indringende Woord-gelade gebed

Dit is ’n indringende gebed – wat soos talle gebede in die Bybel, ook die een wat ons verlede week gelees het in Handelinge 4 – begin by God se posisie en status in die hemel. Hy is die “God van die hemel, die grote en gedugte God.”

Maar, dié God is nie net die God van die Skepping nie. Hy is ook die God van die geskiedenis, die Een wat die verbond in stand hou vir dié wat Hom liefhet en aan Hom gehoorsaam is.

En Nehemia maak staat daarop dat hierdie God sal ingryp in die loop van hulle lewe, terwyl Nehemia “dag en nag” die skuld van die volk voor God bely, ook dié van sy familie en homself.

Dit is immers waarom hulle in die eerste plek in ballingskap weggevoer is ‘n 170 jaar gelede. En hulle is nou al amper ‘n 100 jaar terug in die land, maar dinge is steeds nie reg nie. Die skuld van die verlede rus nog swaar op hulle.

‘n Daniël het al hierdie skuld voor die Here bely, en die Here het hulle in 539 vC laat terugkeer na die land (Dan 9). ‘n Esra het al hierdie skuld voor die Here bely, en die Here het ‘n beweging onder die volk aan die gang gesit terug na gehoorsaamheid aan die Woord so ‘n 15 jaar gelede (Esra 4).

Nou bely Nehemia daardie skuld verder voor die Here en gaan terug na die beloftes van die Here, dat as sy volk, oor wie sy Naam uitgeroep is: “hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:14)

Nehemia se gebed word gedra deur ’n vertroue en appèl aan die een kant op die verbondsbeloftes van die Here dat Hy die volk sal help. Hy het immers reeds aan Moses belowe om hulle terug te bring en vir hulle te sorg, as hulle tot inkeer kom en sy gebooie onderhou, woorde wat geskoei is op Moses se derde preek in Deuteronomium (30:1-4) en na die wet verwys met woorde uit Psalm 19 en 119.

Aan die ander kant word dit gedra deur die vertroue dat die Here vir Nehemia voorspoedig sal laat wees in die roeping wat hy intuïtief aanvoel die Here op sy hart lê. Dit sien ons in die gebed wat nie net die Here herinner aan sy Woord aan Moses nie, maar ook aan die feit dat Nehemia die Here wil dien, soos daar ‘n klomp ander gelowiges is wat “vreugde vind in die vrees van die Here”, soos dit ook vertaal kan word.

Die tyd van gebed het waarskynlik ongeveer 4 maande geduur, omdat hy reeds in die negende maand, Kislew, min of meer Desember 445 vC, die nuus gekry het en eers in die eerste maand, Nisan, so lees ons in hoofstuk 2, dit wil sê die volgende jaar volgens die Joodse kalender, Maart-April 444 vC, met die koning praat.

En dan uiteindelik, ná vier maande se gebed, vra Nehemia:

“laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man.”

Nehemia besluit om op te tree

Nehemia het by ‘n punt in sy gebed gekom dat Hy besef het dat hy nou moet optree. Vandag is die dag wat hy die koning moet nader. Daarom vra hy die Here dat die Here hom barmhartigheid voor “hierdie man” sal verleen.

Nehemia se posisie in die hofhouding het hom goed geleen tot presies dié tipe optrede, net soos dit van te vore die geval met Ester in dieselfde stad Susan was in die tyd van Artaxerxes se voorganger, Xerxes. Miskien het hulle nog van mekaar geweet, want Xerxes was die derde seun van haar man, Artaxerxes (Ahasveros, soos ons hom ken).

Nehemia was ook die koning se skinker, ’n posisie van verantwoordelikheid en invloed, wat die tafel dek vir wat gaan volg.

Ná die tyd van deeglike deur bid, toe hy besef die tyd van optrede het aangebreek, vra Nehemia ‘n laaste keer dat die Here hom voorspoedig sal laat wees met wat hy met die koning wil deur gesels.

Nehemia tree op in verbintenis met die Here

En ná die 4 maande se voorbereidende gebed en onderskeiding van die regte tyd vir optrede, kry Nehemia ’n opening:

2:1 En in die maand Nisan van die twintigste jaar van koning Artasásta toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie, 2 het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie.

Die reël was dat niemand negatiewe emosies in die teenwoordigheid van die koning mag vertoon nie, só Nehemia was met reg bang vir wat die koning kon doen:

En ek het baie bevrees geword 3 en aan die koning gesê: Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is?

Nehemia is goed voorbereid

Nehemia se reaksie is besonder raak verwoord.  Hy fokus op sy eie verbintenis aan Jerusalem – wat in puin lê en waarvan die poorte verbrand is – in term van sy voorvaders se grafte.  Respek vir die dooies het die Perse ná aan die hart gelê.  Die koning kon dus identifiseer met Nehemia se bedruktheid:

4 Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte?

En ek het tot die God van die hemel gebid 5 en aan die koning gesê:

Let op hoe Nehemia steeds in gebedsafhanklikheid optree met ’n skietgebed wat hy na die Here opstuur, die eerste keer dat ons van só iets in die Bybel lees:

As die koning dit goedvind en as u dienaar welgevallig is in u oë, stuur my dan na Juda, na die stad waar my vaders begrawe lê, dat ek dit kan opbou.

Sy antwoord op die koning se vraag is duidelik vooraf beplan, waarskynlik in die tyd van gebed en vas.  Nehemia vra dus dat die koning hom sanksioneer om die stad te gaan opbou.

Let op veral op dat hy nie van die mure praat nie en ook nie die naam van die stad noem nie, want dit is juis wat Artaxerxes ’n tyd gelede geweier het weens die teenstand van die nie-Israeliete in Jerusalem (Esra 4).  Die naam Jerusalem sou moontlik die koning kon herinner aan sy vorige optrede. Vernuftig!

6 Toe vra die koning my, terwyl die koningin langs hom sit: Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer sal jy terugkom?

Let op dat die koningin genoem word. Griekse geskiedskrywer Ctesias sê haar naam was Damaspia. Dit beteken waarskynlik dat dié geleentheid ’n meer private een was en moontlik selfs dat sy Nehemia goedgesind was.

Op die vraag van die koning smee Nehemia die yster terwyl dit warm is:

En ek het hom ’n bepaalde tyd aangegee 7 en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, kan hulle vir my briewe saamgee aan die goewerneurs wes van die Eufraat, dat hulle my laat deurtrek totdat ek in Juda kom; 8 en ’n brief aan Asaf, opsigter van die park van die koning, dat hy aan my hout lewer om die poorte van die vesting wat by die tempel behoort, met balke uit te lê, en vir die muur van die stad en vir die huis waar ek sal intrek.

Nehemia het dus goed gedink wat nodig sou wees. Hy was gereed om sy lysie van versoeke te rig aan die koning met die vra van briewe aan die politici en staatsmasjinerie in die Judese gebied, sowel as aan die opsigter van die staatsbos sodat hy hout kan hê vir die herbou projek. Want hy het dit vir vier maande met God deur gebid voor hy dit met die koning deur gesels het.

En ons lees van die verhoring van sy gebed:

En die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my.

Die Here het Nehemia laat slaag: “volgens die goeie hand van my God oor my.” En die koning stuur boonop ook begeleidende offisiere en ruiters saam met hom.

Vertrou dat God luister

Nehemia se gebed word gedra deur die vertroue dat God luister. Dit is die eenvoudige helder boodskap wat ons vandag moet hoor.

Nehemia maak staat daarop dat die Here luister. Hy haal die Woord aan in sy gebed, omdat Hy vertrou dat God luister. Dat hy staat kan maak op die beloftes van God in die Skrif.

Nehemia maak egter nie net staat daarop dat God die God van die hemel en aarde is – die Skeppergod – soos die Skrif dit beskryf nie. Hy maak nie net staat daarop dat God die God van die verlede is – die God van die geskiedenis – soos die Skrif dit beskryf nie.

Nee, Nehemia maak staat daarop dat God vandag kan optree en sy beloftes waar kan maak.

Dit is die boodskap wat ons moet hoor, waarop ons moet vertrou. Dat God luister. Dit is ten diepste wat gebed is, ‘n gesprek met God wat gebaseer is op die vertroue dat Hy luister. Dat Hy sin kan maak van ons gebede, al is dit ‘n gebrabbel.

Nehemia se ander gebede

Ek nooi jou uit om die boek Nehemia hoofstuk vir hoofstuk deur te lees en spesifiek op te let na die tien gebede van hom (en een van Esra) wat deur die boek versprei is:

  1. Nehemia vas en bid om ‘n helder visie (Neh 1:5-11)
  2. Nehemia nader die koning met ‘n skietgebed tot die Here (Neh 2:5)
  3. Nehemia reageer op teenstand met publieke gebed (Neh 4:4-5)
  4. Nehemia roep almal op tot gebed terwyl hy waaksaamheid opskerp (Neh 4:9)
  5. Nehemia bid dat sy werk bevestig sal word (Neh 5:19)
  6. Nehemia vra dat die Here sy hande sal sterk (Neh 6:9)
  7. Nehemia vra dat die Here die teenstand sal hanteer (Neh 6:14)

Esra lei die volk in gebed om aan God alleen verbind te wees (Neh 9-10)

  1. Nehemia bid dat sy liefdesdiens nie verlore sal gaan nie (Neh 13:14)
  2. Nehemia bid vir God se ontferming met die herstel van die Sabbat (Neh 13:22)
  3. Nehemia tree in vir die volk en sy leiers (Neh 13:29-31)

Gebruik dit as inspirasie om in jou eie omgewing die Here se aangesig te soek vir die roeping wat Hy op jou hart wil lê.

Gebed

Slotlied

Lied 286 Here God van liefde – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 311:1-2 (koor is  voorsangers) Dit wat ons hier ontvang het – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.