Skip to main content

Want in Jesus woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik – Kolossense 2:6-10

Familiediens NGK Somerstrand 12 Junie 2022 | Kerk en Youtube 09:00

Two natures – English translation

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Flam 5 (Afr/Eng) Daar is geen grens aan U guns en genade – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees – staan

Vonkk 95 Daar is niemand soos U, Here, God – sit

Kindertyd

Volgende week is Vadersdag. Gaan julle iets spesiaals doen?

Ek het hier ‘n familiefoto. Wie s’n is dit, dink julle?

Kom ek vertel julle van my familie.

God is ook ‘n familie: Vader, Seun en Heilige Gees

Ons is deel van sy familie! Ons is sy kinders!

Verootmoediging

Gebed

Skriflesing en prediking

Drie-eenheidsondag

Vandag is Drie-eenheidsondag in die kerklike jaar. Ek het ‘n jaar gelede op die Drie-eenheid as sodanig gefokus. Jy kan dit hier lees, luister of kyk. Ek wil vanjaar egter fokus op ‘n verwante onderwerp. Die twee nature van Jesus Christus. Dat Jesus Christus ware God is. En dat Hy ware mens is.[1] Want, dit is deel van die openbaring van die Drie-enige God in die Bybel.

Dit is ‘n belangrike belydenis. Dit vorm die basis van ons Christologie, dws wat ons oor Jesus Christus bely. Wat ons van Hom kan glo. Wat ons van Hom kan verwag.

Maar, nie net dit nie. Die belydenis van Jesus se twee nature vorm ook ons etiek, want ons teologie is uiteindelik ook die basis vir ons etiek. Wat ons leer is wat ons lewe.

As jy Jesus se Godheid sowel as sy mensheid ernstig neem, sal jy geneig wees om jou binnekant sowel as jou buitekant ernstig te neem. En nie val vir die gender ideologie wat bv die binnekant beklemtoon bó die buitekant van ‘n mens nie.

Wat sê die Bybel?

Soos altyd begin ons met die Bybel. Ons begin met wat Paulus skryf in Kolossense 2:6-10 wat die onderwerp vir ons kan inlei. Paulus is besig om die invloed van sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente aan te spreek. Okkultiese en astrologiese beginsels, sowel as Joodse en asketiese reëls. Hy wil hê dat gelowiges nie hulle krag sal soek in enigiets anders in die hemel of op aarde nie, net in Jesus Christus, die Here.

6Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. 8Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie. 9Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. 10En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul.

Die uitstaande kenmerk van die Christen gelowige is die feit dat ons Christus Jesus, die Here, aangeneem het. Hy het vir ons só ‘n realiteit geraak dat ons nie anders kon as om in Hom te glo nie. En omdat dit só is, sê Paulus dat ons moet “bly leef in Hom.” Aangesien julle Hom as Here aangeneem het – nog beter gestel: Hom as Here ontvang het, soos dit in die Grieks staan – is dit net logies dat julle verbonde aan Hom sal lewe. “Bly leef in Hom.” Daar is geen verlossing buite Christus Jesus om, die Here, moontlik nie. Daar is geen lewe buite ‘n verhouding met Hom moontlik nie.

Wie is hierdie Persoon wat in ons moet lewe? Paulus beskryf Hom met drie titels. Christus. Jesus. Here.

  • Hy is Jesus, die mens wat uit Maria gebore is, en vir meer as dertig jaar op aarde geleef het. Uiteindelik vir ons sondes gesterf en opgestaan het, en nou in die hemel as ons verteenwoordiger is. Hy is dus volledig mens.
  • Hy is die Here, die Kurios, die woord wat vir Jahwe in die OT gebruik is. Hy is dus ook volledig God.
  • Hy is die Christus, die Gesalfde, die Messias. Wat beteken daar is ‘n goddelike en ‘n menslike kant aan Hom, want daar is in al die verwysings na die Messias hierdie dubbelsinnigheid, dat Hy menslik is, maar ook Goddelik, soos Petrus so uitnemend in sy Pinksterdag preek met verwysing na Dawid dit stel (Hand 2:22-36).

Paulus gebruik dan die metafoor van ‘n boom. Ons is gewortel en opgebou in Hom, ons is versterk in die geloof, en ons is tot oorlopens toe vol vervul met dankbaarheid. Dit dui op die onsigbare en persoonlike dele van ons geestelike lewe (wortels en voeding), sowel as die sigbare en publieke dele daarvan (takke en vrugte). In alles – waarmee jy ook al besig is – en oral – waar jy alleen is, en waar jy in ander se geselskap is – moet dit duidelik wees dat jou lewe om die Here draai, dat Hy die eerste plek in jou lewe inneem, presies soos Hy die eerste plek in die heelal inneem (Kol 1:15-20).

Hoekom? Want, sê Paulus, vers 9-10:

“in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul.”

Jesus is ware God en ware mens

Let op die eenheid van die beskrywing van Christus Jesus. Die volheid van die Godheid woon in Christus Jesus. Hoe? Liggaamlik. Hy is God. Hy is mens.

Soos die kerk dit deur die eeue geformuleer het. Jesus is ware God en ware mens

Ons bely dus saam met die kerk van die eeue dat Jesus Christus ware God en ware mens is. Hy het ‘n dubbele natuur. Hy is die Seun van God, en Hy is die Seun van die mens. Tegelykertyd. Onskeibaar. Verenig in een Persoon.

Hy is daarom die Middelaar wat sy hand op God kan lê, en op ons, en ons met mekaar kan versoen.

En hoekom is dit só belangrik?

“Want julle is met hierdie volheid vervul.”

God bly deur Christus Jesus ook in jou. Want, Jesus het as God-mens die weg daarvoor geopen.

  • As Jesus nie God is nie, kan Hy nie God in ons wees nie. Sal Hy ons nie kan verander en heilig maak soos Hyself nie.
  • As Jesus nie mens is nie, kan Hy nie tuiskom in ons nie. Sal daar altyd ‘n afstand bly tussen ons.

Dit is waarom Christus Jesus, die Here, God EN mens is, verenig, met ‘n dubbele natuur, dat ons dieselfde werklikheid met Hom kan deel.

Neem eers net ‘n oomblik en laat hierdie waarheid by jou insink. Christus Jesus, die Here – die Een in wie God se volheid woon, liggaamlik – woon ook in jou en Hy vul jou met daar dieselfde volheid van God.

Hoe kan ons seker wees hiervan?

Wel oordeel self, uit die Skrif.

Oor sy mensheid

  • Jesus was ‘n afstammeling van Koning Dawid – Matteus 1:1.
  • Maria, ‘n vroumens, was sy ma – Matteus 1:18.
  • Jesus het liggaam gehad, van vleis en bene en bloed, soos enige mens – Johannes 1:14; Lukas 7:38; 1 Johannes 1:1.
  • Jesus het honger gevoel, soos enige mens – Markus 11:12.
  • Jesus het dors ervaar, soos enigeen van ons – Johannes 19:28.
  • Jesus het geëet en gedrink, soos enige mens – Lukas 7:34.
  • Jesus het moeg geword, soos enige mens – Johannes 4:6.
  • Jesus het versoekings ervaar, soos enigeen van ons – Hebreërs 4:14.
  • Jesus het stres ervaar, soos enige mens – Matteus 26:38.
  • Jesus het hartseer geraak, soos enige mens – Johannes 11:35.
  • Jesus het geslaap, soos enige mens – Markus 4:38.
  • Jesus het gesweet, soos enigeen van ons – Lukas 22:44.
  • Jesus het gebloei, soos enigeen van ons – Johannes 19:34.
  • Jesus het gesterf, soos dit ook ons lot is – 1 Korintiërs 15:3.

Om op te som, die skrywer van Hebreërs beskryf Jesus as “in alle opsigte” gelyk aan ons; dat Jesus “vlees en bloed” met ons gedeel het, sodat Hy deur die dood ons kan bevry van die mag van die Duiwel – Hebreërs 2:14-18.

Jesus is ‘n ware mens. 100% mens. In alle opsigte. Net soos ons.

Maar dit is nie al nie.

Oor sy Goddelikheid

  • Jesaja het geprofeteer dat die Messiaanse kind die “magtige God” sou wees: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.” – Jesaja 9:5.
  • Jesus het die gesag gehad om sondes te vergewe – soos God alleen kan – wat Hy gedemonstreer het in die verhaal van die genesing van die verlamde man – Markus 2:5–7.
  • Die dissipels het Jesus God genoem, onder andere Johannes en Thomas. Johannes skryf in Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” En sê in vers 14 dat hierdie Woord: “vlees geword en onder ons kom woon” het. Thomas bely ná Jesus se opstanding: “My Here, en my God!” (Joh 20:28).
  • Jesus het gesag oor die dood gehad en kon mense daaruit opwek – die weduwee van Nain se seun (Luk 7:11-17); Jaïrus se dogtertjie (Luk 8:40-56); Lasarus (Joh 11:43-44). Hyself het ook uit die dood opgestaan, want Hy het die dood oorwin.
  • Jesus is vervolg, omdat Hy God sy Vader genoem en Homself so gelyk aan God gestel het – Johannes 5:18.
  • Jesus het Homself bekend gestel as “Ek is“, soos God dit gedoen het aan Moses – Johannes 8:58 (vgl Eks 3:14).
  • Jesus het aanspraak gemaak op eenheid met die Vader: “Ek en die Vader is Een.” – Johannes 10:30.
  • Jesus het verklaar dat dié wat hom gesien het in wese ook vir God die Vader gesien het – Johannes 14:9.
  • Jesus het aanspraak gemaak daarop dat alles wat God die Vader het ook aan Hom behoort – Johannes 16:15.

Paulus skryf daarom oor Jesus: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (Fil 2:6-7 – 1983-vertaling)

Paulus skryf nog duideliker in Kolossense, die gedeelte wat ons vandag gelees het: “In Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kol 2:9 – 2020-vertaling)

Die skrywer van Hebreërs kon Jesus daarom: “die uitstraling van God se heerlikheid” en “die ewebeeld van sy wese” noem – Hebreërs 1:3. En Jesus tegelykertyd as “in alle opsigte” gelyk aan ons te beskryf wat “vlees en bloed” met ons gedeel het – Hebreërs 2:14.

Jesus is dus nie twee persone of twee identiteite of twee wesens in een liggaam nie. Jesus is nie ‘n hibride wese, ‘n basterwese, ’n halwe God en ‘n halwe mens nie. Jesus is een persoon met twee afsonderlike nature. Hy het ‘n honderd persent goddelike natuur en ‘n honderd persent menslike natuur. Teoloë verwys hierna as ‘n “hipostatiese eenheid”.

En nou het jy sommer ook genoeg skietgoed uit die Skrif om te kan saamgesels oor die twee nature van Christus Jesus.

Jy kan saam met die kerk van die eeue die dwaalleringe raaksien en afwys.

Dwalinge in die vroeë kerk

Ek gee hier meer inligting oor van die dwaalleringe van die eerste 5 eeue waarteen die hele ekumeniese kerk hulleself verset het. Ek gaan dit nie in detail behandel nie. Jy kan hieronder self lees wat ek skryf. Hier is net ‘n grafika wat die breë patrone gee.

Aan die linkerkant

Sommige het probleme gehad met Jesus Christus se Goddelikheid. Daarom het hulle die menslikheid van Jesus beklemtoon.

Die Cerinthianiste van die 1ste eeu het soos Cerinthus van Efese geleer dat Jesus ‘n doodgewone mens was, maar dat die Christus van Hom besit geneem het by sy doop in die Jordaan. Die Christus het Jesus egter weer verlaat net voor Jesus se kruisdood. Jesus het wel uit die dood opgestaan, maar die Christus het daarna ‘n aparte bestaan van Jesus gehad. Hierdie leerstelling veroorsaak egter dat jy nie Jesus Christus as Middelaar tussen jou en God kan bely nie.

Die Ebioniete van die 2de eeu het bv gesê dat God Jesus as ‘n doodgewone mens – gebore uit Josef en Maria – aangeneem het as sy seun. Die rede? Hulle was radikale monoteïste wat die Drie-Eenheid ontken het. Hulle het Jesus wel as Messias erken, omdat Hy die wet nagekom het. Maar Hy het vir hulle ‘n doodgewone mens gebly. Hulle het daarby geleer dat alle Christene steeds die wet moet nakom. En ‘n eie evangelie geskryf. Want, dit is wat altyd gebeur. As jy verskil van die Skrif moet jy jou eie boek skryf. Hulle het darem nog die Evangelie van Matteus aanvaar, maar Paulus en sy briewe heeltemal verwerp. Hy het darem net te skerp verskil van hulle interpretasie van die wet. Hierdie leerstelling veroorsaak dat jy altyd sal twyfel of Jesus sterk genoeg is om jou te verlos. En jy moet boonop eintlik eers ‘n Jood raak om God tevrede te stel.

Die Arianiste van die 3de eeu het ook Jesus se menslikheid beklemtoon. Hulle kon net nie aanvaar dat Jesus een wese is met die Vader. Jesus was vir hulle tydsgebonde. Deel van hierdie wêreld. Net ‘n mens. Geskep deur God, maar nie gelyk aan God nie. Hulle wou net aan God se Eenheid vasklou. Hulle kon nie vrede maak met die belydenis uit die Skrif dat God een Wese is, in drie Persone. Hulle kon nie vrede maak met die belydenis dat Jesus een substansie is met die Vader en die Gees nie. En daarom het hulle onsekerheid gebring oor die verlossing deur Jesus, want as as Hy nie regtig God was nie, hoe kon Hy die toorn van God oor die sonde dra?

Aan die regterkant

Ander het weer probleme gehad met Jesus se menslikheid. En het sy Goddelikheid oorbeklemtoon.

Daar was die Docetiste van die 2de eeu. Hulle het geleer dat Jesus se mensheid net ’n illusie was. Hy het net gelyk soos ‘n mens. Hy was eintlik God. Net God. God was vir hulle te heilig om betrokke te raak by die materiële wêreld. Hierdie leerstelling het tot die Gnostiek gelei wat sonde nie meer ernstig geneem het nie. Solank jy in jou gees die Here dien, kon jy met jou liggaam doen wat jy wil. En ons sien hierdie leerstelling nog steeds veral waar teoloë vrysinnig raak in die etiek en nie meer die Bybelse leringe oor seksualiteit handhaaf nie, maar dit verander en selfs verwerp. Want, dit is belangriker hoe jy in jou binnekant dink oor jouself as hoe jy aan die buitekant geskape is.

Die Appolinarianiste  van die 4de eeu het ‘n beter idee gehad. Hulle het geleer dat Jesus ‘n menslike liggaam gehad het en ‘n Goddelike gees. So, hulle het vasgehou aan ‘n dubbele natuur, maar hulle het in die proses Jesus se menslikheid minder gemaak. Hulle was so bewus van die sonde wat in ‘n mens se binnekant heers, dat hulle bang was dat dieselfde van Jesus sou waar wees as Hy ‘n gewone menslike gees sou gehad het. In die proses was hulle Jesus dus egter meer God as mens. Maar, hulle idees was in konflik met die talle Bybelse gegewens oor Jesus se menslike begeertes en emosies.

Die Euthychianiste van die 4-5de eeu het weer geleer dat Jesus Christus wel een persoon is, maar waarin die Goddelike oorheers. Die menslikheid het dus opgelos in Jesus se Goddelikheid soos ‘n druppel asyn in die water van die see. Weereens het dit nie goed gepas op die Bybelse gegewens nie.
Die Nestorianiste  van die 5de eeu het weer die ander rigting gegaan en geleer dat Jesus Christus twee persone is, eerder as dat Hy twee nature gehad het. Hy was dus ‘n Goddelik-geïnspireerde mens eerder as ‘n Goddelik-geskape mens. Daar was dus net ‘n soort assosiasie tussen God en mens in Jesus. Ook hierdie dwaalleer is afgewys deur die kerk.

Die ortodoksie deur die eeue

Gelukkig het die ekumeniese kerk telkens teruggekeer na die Skrif en doodgewoon gewerk met wat die Skrif self sê. En hulle het reg deur die eeue die volgende bely op grond van die Skrif:

  • Jesus Christus het twee nature. Hy is waarlik God. Hy is waarlik mens.
  • Jesus Christus is een wese met die Vader en die Gees. Drie Persone. Een Wese. Dieselfde Substansie.

Hoekom is dit so belangrik dat ons juis dít van Jesus Christus bely? Watter voordeel hou dit vir ons in? Want, dit is een ding om deur die Bybel te blaai en al die tekste op te noem wat Jesus se mensheid sowel as sy Goddelikheid beskryf. Maar, om die waarde daarvan vir ons uit te spel is dit nodig om dit in ‘n “teologie” bymekaar te bring.

Wel, kom ons sit nou die bril van ons belydenisskrifte op en kyk wat sê die Heidelbergse Kategismus. Ek gee aan die einde meer inligting oor wat die ander belydenisskrifte oor Jesus se twee nature sê.

Die Heidelbergse Kategismus

Sondag 5 van die Heidelbergse Kategismus is helder daaroor dat dit net Iemand kan wees wat beide God as mens is, wat ‘n Middelaar en Verlosser vir sondige mense kan wees. Vraag 15 beskryf hierdie Middelaar as: “Een wat ‘n ware en regverdige mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is.

Sondag 6 fokus dan op hierdie dubbele natuur van hierdie Middelaar. En dit is hier wat ons die waarde van die belydenis van Christus Jesus, die Here, se twee nature sien.

Vraag 16: Waarom moet hy ‘n ware en regverdige mens wees?

Antwoord – twee redes:

1. Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Esegiël 18 sê twee keer: “die siel wat sondig, dié moet sterwe.” (Eseg 18:4, 20; vgl ook Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Hebr 2:14-16). God is immers regverdig. Hy straf die net die sondaar vir sy sonde.

2. Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie. Psalm 49 sê: “Een familielid kan nooit ‘n ander vrykoop nie, hy kan nie aan God die losprys vir hom betaal nie, want die vrykoopprys vir hulle lewens is te hoog.” (Ps 49:8-9; vgl ook Hebr 2:26, 27; Ps 49:8; 1 Pet 3:18).

Dit geld enige mens. As jy enige sonde het, diskwalifiseer dit jou om vir ander se sonde te kan instaan. Jy kan dan nie eers vir jou eie sonde instaan nie. Hoe sal jy iemand anders se sonde kan dra?

Maar, dit is net een kant van die antwoord op die dilemma van die sonde en die skuld.

Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?

Antwoord – twee redes:

1. Om deur die krag van sy Godheid (Jes 9:5; 63:3) die las van die toorn van God (Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3) aan sy mensheid te kon dra (Jes 53:4, 11).

Dit is net die Seun van God wat ook die “Sterke God” is, soos Jesaja 9 dit sê, wat die gewig van God se woede oor die sonde in sy mensheid kan dra. Want, dit is ‘n onmeetbare las. Psalm 130:3 sê: “As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly?”

Jesus moes in sy mensheid die toorn van God dra, maar Hy kon dit net doen omdat Hy tegelykertyd God was. Hy moes 100% mens wees om ons plaasvervanger te wees, natuurlik sonder sonde. En Hy moet 100% God wees om die krag te hê om die woede van God oor die sonde te kan trotseer en ons skuld vir ewig uit te wis.

En dit is dan ook die tweede rede vir sy Godheid.

2. en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee. Jesaja sê: “Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op Hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.” (Jes 53:5, 11).

Jesus betaal nie net vir die verlede nie, maar ook vir ons toekoms. Hy wis die sonde en die skuld uit EN verseker vir ons ‘n ewige lewe by God. En dit kan net God bewerk. Geen mens is daartoe in staat nie.

Dit is dus waarom Jesus, maar dan ook nét Jesus, die Middelaar tussen ons en God kan wees. En jy kan self lees in vraag 18-19 oor hoe Jesus verder beskrywe word.

Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1) en ware (Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Hebr 2:14, 16, 17; 4:15) regverdige mens is (Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Hebr 4:15; 7:26; 1 Pet 1:19; 2:22, 3:18)?

Antwoord:

Ons Here Jesus Christus (1 Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Hebr 2:9), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (1 Kor 1:30).

En daar is net een plek waar ons van Hom leer.

Vraag 19: Waaruit weet jy dit?

Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (Gen 3:15). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (Gen 22:18; 12:3; 49:10) en profete (Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Hebr 1:1) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld (Hebr 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17).

Die antwoord word gegee uit aanhalings uit die hele Skrif. Uit Genesis en die Pentateug, uit die geskrifte, uit die profete, uit die wet, en uit die Evangelies en briewe van die NT.

Wie is hierdie Jesus dus? Ware God en ware mens. ‘n Unieke Wese. Een met die Vader en die Gees. Tog ook ‘n eie Persoon. En daarby Iemand met twee nature. Ware God. Ware Mens. Tegelykertyd.

Watter voordeel het Jesus se 100% menslike natuur vir ons?

As ‘n werklike mens het Jesus in volledige gehoorsaamheid aan God geleef. Hy het dit gedoen as ons verteenwoordiger en plaasvervanger. Deur sy lewe, dood en opstanding het hy verlossing gebring vir almal wat in Hom glo. Want Hy het in ons plek gesterf vir ons sonde. En Hy verteenwoordig ons nou in die hemel by God die Vader. Hy is ons voorspraak, ons advokaat, ons voorbidder. Hy is ook vir ons ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid, van hoe ‘n mens vir God leef hierdie kant van die graf. Verteenwoordiger, Vervanger, Voorspraak en Voorbeeld.

Watter voordeel het Jesus se 100% goddelike natuur vir ons?

God se toorn is van dieselfde kwaliteit as sy natuur. God is ewig. Sy toorn is dus vir ewig. God is oneindig. Sy toorn is dus oneindig. Dit is dus net die goddelike natuur wat die toorn van God self kan dra. Wat vergifnis kan bewerk wat vir ewig kan hou. Wat verlossing kan bewerk wat sonder einde is. Wat die dood kan oorwin en vir ons ‘n ewige geregtigheid voor God kan verwerf. Dit kan geen mens doen nie. Net ‘n mens wat tegelykertyd ook God is. Jesus kon God se toorn bevredig. Hy het God se woede gedra aan die kruis. Hy het God se gramskap bevredig. Vir altyd. Volledig. Ons verlos. Vir ewig.

Kom ons staan dan en doen belydenis van ons geloof. Ons gebruik die geloofsbelydenis van Nicea wat Jesus se twee nature op ‘n helder manier formuleer.

Geloofsbelydenis van Nicea

Hierdie Belydenisskrif word genoem na die plek Nicea (Turkye) waar die dwalings van Arius verwerp is by die Sinode van 325.

1) Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge.

2) En in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.

3) Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

4) Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.

5) Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan.

6) En Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader.

7) En Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

8) Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek.

9) Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.

10) Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.

11) Ons verwag die opstanding van die dooies.

12) En die lewe van die toekomstige bedeling.

Amen.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 453 Aan die Vader dank en ere – staan

Seën

Amen

Lied 450 refrein: “Eer die Vader, eer die Seun, eer die Gees as God en Heer. Eer ons God as Majesteit; loof Hom tot in ewigheid.” – staan

Ekstra stof uit die belydenisskrifte

Al drie ekumeniese geloofsbelydenisse bely die Drie-Eenheid sowel as die dubbele natuur van Jesus.

Die Geloofsbelydenis van Nicea

2) Ons glo in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.

3) Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

4) Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.

En bely van Jesus dat Hy op dieselfde vlak as die Vader en die Gees is:

8) Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek.

Die geloofsbelydenis van Athanasius

  1. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,
  2. sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

En dan oor die Seun:

  1. So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is.
  2. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;
  3. volkome God, volkome mens met ‘n redelike siel en menslike vlees,
  4. na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.
  5. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.
  6. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.
  7. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.
  8. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

Die Heidelbergse Kategismus

Ons het met hemelvaart alreeds gekyk na wat die Heidelbergse Kategismus oor Jesus se twee nature geskryf het in vraag en antwoord 48:

Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

(a) Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis

Hierdie belydenis bely die eenheid van Jesus as Persoon met sy twee nature besonder goed:

Artikel 19

DIE TWEE NATURE VAN CHRISTUS

Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb. 7:3) en hemel en aarde vervul, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel ‘n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by ‘n ware liggaam behoort.

Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheld gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.

Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus ‘n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ‘n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ‘n kort tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.

Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8, 12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11; 3:21; Luk. 24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50.

 

[1] Dieperdelwers kan die Rose Guide to Discipleship naslaan hieroor. Daar is ‘n gratis aflaaibare, maar verkorte weergawe oor Jesus se twee nature (https://www.hendricksonrose.com/stories/free-nature-jesus-bible-study)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.