Skip to main content

HEILIGHEID – Efesiërs 4:17-24

Wat is heiligheid?

AndersEendersWebsliderDie woord heiligheid laat ons op verskillende maniere reageer.  Sommige van ons dink terug aan ‘n baie preutse opvoeding waar ons niks op Sondae mag gedoen het nie – geen Sondagkoerant nie, geen werk op Sondae nie, geen studies op Sondae nie, geen swemmery op Sondae nie, geen brood of melk by die kafee op Sondae nie.  Hoekom nie?  Want Sondag was vir ons die Sabbat van die Here wat ons moes heilig. Ses dae moet jy werk, en die sewende dag rus.  Dié dag was heilig.  Daar was dinge wat dus afgekeur is en waarin ons beperk is.

Daar is ook ‘n aantal ander dinge wat ons moes doen op Sondae, bv. kerk toe gaan op Sondae, tyd spandeer aan mekaar as familie, mense besoek in die hospitaal, Bybellees en bid, gaan kuier by vriende.  Daar was dus ook dinge wat aangemoedig is.

Net – die dinge wat afgekeur is, en dié dinge wat aangemoedig is, was nie altyd vir almal ewe aanvaarbaar nie.  Die verbod op studie kon nog gaan, want dit was eintlik ‘n belangrike stukkie rus van die inspanning van die week, maar daardie slapery op ‘n Sondagmiddag!  Dit het net vir my geen sin gemaak het nie, of te wel, nie terwyl ek jonk was nie! Ek dink my ouers het dit geweldig geniet!  Behalwe, ek onthou nog baie goed die keer toe ek en my broer uitgesluip het en gholfballe rondgeslaan het, en toe natuurlik seil een deur ons kamerruit.  Groot konsternasie.  Groot pak slae.  Wonder nou nog waaroor my pa só kwaad was.

Heiligheid het in ons herinnering dus veral met dinge te doen wat vir ons taboe was, dinge wat ons nie moes doen nie, wat verbode was, beperk, afgekeur … en dan ook dinge wat ons moes doen, dinge wat toegelaat is, dinge wat aangemoedig is, dinge wat met ons toewyding aan die Here te make gehad het, wat afgesonder was vir spesiale gebruik.

Heiligheid het dus vir ons te make met afkeur en aanmoediging, met taboes en toelatings, met uitsluiting en insluiting.

Wat keur die Bybel af en wat moedig dit aan?

Hier volg die hele erediens

Voor die diens                    

  • Huishulpe sing
  • Huishulpe uitstalling – foto’s sirkuleer 10 min. voor die tyd, hulle sing 5 min. voor die tyd.

Verwelkoming

  • Getuienis barometer: R247 000 begroot; R111 000 ontvang – R136 000 nog nodig tot Febr.
  • Dit is môre 23 November die Internasionale dag van die Bybel na aanleiding van Habakuk 2:14 “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek.” Daar is ‘n leesplan en die idee is om 12:00 môremiddag almal saam ‘n gedeelte uit die Bybel te lees.  Gebruik #BibleCelebration en deel met ons die gedeelte wat jou tref. Ek gaan Psalm 140 lees, die gedeelte vir die dag by Bybelskool.com​.
  • Aanbod van Gryskragfonds vir voortgang vir pastorale pos – verwys na dagbestuur
  • Ons het 3 TV’s en ‘n DVD speler gekry – Theo sê dankie.
  • Vleis van Steytlerville:
    • Pryse heel lam R70 PER KILO (16kg) – R1120
    • Halwe lam R70 per kilo (8kg) – R560
    • Wors R75 kg
    • Hulle sal lewer op 10 Desember en wil graag die bestelling hê teen 1 Desember.

GOD NOOI ONS IN EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede                                 Cantatori – koor:

Gebed vir ons land (Finlandia)

Heer, ons bid U, kom en seën ons

Ich bete an die Macht der Liebe

Votum en Seëngroet

Aanbidding                            Kerslied: O kleine dorp, O Betlehem (staan)

Flam 171  Hosanna in die hoogte (staan)

                                                      Laat julle liggies skyn (sit)

Kindertyd

Doop                                          Elsje Nelson  (Sopraan)

Lofprysing                               Psalm 134  Kom prys die Here, prys sy Naam   (staan)

VONKK 277  U is die lig wat deur die donker skyn                                                                                                            Koor v2   (sit)

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing as reël van dankbaarheid: Efesiërs 4:17-24

Dit is interessant dat die gemeente van Efese – naby die moderne stad Selçuk – met 12 mense begin het (Hand. 19).  Ons lees dat Paulus ‘n klompie dissipels van Johannes op sy tweede sendingreis daar aangetref het, maar dat nie een van hulle van geweet het dat Jesus al gekom het nie.  Hulle het Hom nog verwag.  Paulus het vir hulle die heerlike waarheid van die koms, bediening, kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus vertel en hulle gedoop in sy Naam.

Met die uitstorting van die Heilige Gees het hulle só verander dat die gemeente gou begin groei het.  Paulus het hulle weer besoek op sy derde sendingreis en meer as twee jaar daar gewerk, soveel so, dat daar groot godsdienstige weerstand uitgebreek het.  Die afgods-ekonomie het begin seerkry, want die onheilige praktyke waaraan hulle deelgeneem het, het nie meer die aantrekkingskrag gehad wat dit tevore gehad het nie.

Wanneer Paulus gevange geneem word en na  Rome gestuur word om sy saak daar te gaan verdedig, skryf hy hierdie brief aan die Efesiërs uit die gevangenis.  Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

Die ou en die nuwe lewe

17In die Naam van die Here doen ek ’n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, 18hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. 19Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

20Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. 21Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. 22Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Prediking: Wees heilig

Wat is heiligheid?

Die woord heiligheid laat ons op verskillende maniere reageer.  Sommige van ons dink terug aan ‘n baie preutse opvoeding waar ons niks op Sondae mag gedoen het nie – geen Sondagkoerant nie, geen werk op Sondae nie, geen studies op Sondae nie, geen swemmery op Sondae nie, geen brood of melk by die kafee op Sondae nie.  Hoekom nie?  Want Sondag was vir ons die Sabbat van die Here wat ons moes heilig. Ses dae moet jy werk, en die sewende dag rus.  Dié dag was heilig.  Daar was dinge wat dus afgekeur is en waarin ons beperk is.

Daar is ook ‘n aantal ander dinge wat ons moes doen op Sondae, bv. kerk toe gaan op Sondae, tyd spandeer aan mekaar as familie, mense besoek in die hospitaal, Bybellees en bid, gaan kuier by vriende.  Daar was dus ook dinge wat aangemoedig is.

Net – die dinge wat afgekeur is, en dié dinge wat aangemoedig is, was nie altyd vir almal ewe aanvaarbaar nie.  Die verbod op studie kon nog gaan, want dit was eintlik ‘n belangrike stukkie rus van die inspanning van die week, maar daardie slapery op ‘n Sondagmiddag!  Dit het net vir my geen sin gemaak het nie, of te wel, nie terwyl ek jonk was nie! Ek dink my ouers het dit geweldig geniet!  Behalwe, ek onthou nog baie goed die keer toe ek en my broer uitgesluip het en gholfballe rondgeslaan het, en toe natuurlik seil een deur ons kamerruit.  Groot konsternasie.  Groot pak slae.  Wonder nou nog waaroor my pa só kwaad was.

Heiligheid het in ons herinnering dus veral met dinge te doen wat vir ons taboe was, dinge wat ons nie moes doen nie, wat verbode was, beperk, afgekeur … en dan ook dinge wat ons moes doen, dinge wat toegelaat is, dinge wat aangemoedig is, dinge wat met ons toewyding aan die Here te make gehad het, wat afgesonder was vir spesiale gebruik.

Heiligheid het dus vir ons te make met afkeur en aanmoediging, met taboes en toelatings, met uitsluiting en insluiting.

Wat keur die Bybel af en wat moedig dit aan?

Maar, tye het verander.  Ons insig in wat die Bybel regtig sê oor wat afgekeur word en wat aangemoedig word, het verander.  Ons verstaan vandag dat die Sondag nie die Sabbat is nie, dat ons ‘n verkeerde idee gehad het van wat ons mag en nie mag doen nie, alhoewel die idee van rus steeds geldig is.

Wat keur die Bybel dus regtig af en wat moedig dit regtig aan?  Hoe moet ons vandag heiligheid verstaan?  Hieroor sê Scot McKnight twee belangrike goed.

1.  Hy sê dat ons baie goed moet besef dat heiligheid nie net met afkeur te make het nie, maar veral met die aanmoediging tot, wat hy noem: “devotion to God”. D.w.s., soos jy ‘n gholfstok nie as ‘n hamer gebruik nie (al wil jy ook soms), só doen jy sekere dinge nie, omdat jy aan God toegewy is, en heilig wil lewe.

Dit gaan dus nie net oor misbruik nie, maar ook, en veral, oor gebruik.  ‘n Gholfstok is nie daar om jou aggressie op iets uit te haal nie, of selfs ‘n spyker in ‘n muur in te slaan nie, maar om die gholfbal met so min as moontlik moeite in die gat te kry.  Dit is natuurlik ook nie bedoel vir vensters nie!

2.  Maar dan sê Scot McKnight ook dat ons nie bang moet wees vir: “Do’s and Don’ts” nie. Die Bybel is immers vol van sulke lyste. Wat belangrik is, is dat ons die Don’ts moet vermy, omdat ons in die Do’s glo en hulle wil navolg.  Hy stel dit so: “Because we are doing devotion of God, we don’t want to do sin.”

Dit gaan dus weereens nie net oor wat jy moet vermy nie, maar veral waaraan jy jouself verbind.  Jou afkeur van sekere goed het te make met die dinge waartoe God jou aanmoedig, sodat die gestalte van die Here Jesus Christus in jou lewe na vore kan kom.

Want, dit is wat die Here besig is om in ons lewe met ons te doen.  Hy het ‘n prentjie van ons in Christus, en Hy is besig om ons daarvoor te heilig, daartoe aan te moedig, terwyl Hy daarom ook ons wys op dié dinge waarin Hyself ‘n afkeur het, wat ons ook moet aanmoedig om soos Hy daaroor te dink.

Maar, dit is nie soseer reëls wat met slaap of studie te doene het nie, maar met verhoudings – met God en met mekaar.  Dit is dinge wat ons verhouding met mekaar kan skade doen, sowel as ons verhouding met God.  Daarom noem ons hierdie lysies sonde-lysies, dinge wat ons sal verhinder om optimaal in ons verhouding met die Here te lewe.

God bepaal wat heilig is en wat nie

Hoekom?  Want dit is God wat bepaal was heilig is en wat nie.  Trouens, dis God wat ons heilig maak deur die Do’s and Don’ts wat Hy in die Skrif vir ons gee.  En ons kan dit doen, omdat Hy vir ons vry gemaak het om ons geloof in liefde tot dade, heilige dade, te laat oorgaan (waaroor Rethie verlede week gepreek het).  Hy het ons sy genade gegee, en sy liefde, sodat ons kan antwoord en heilig en onberispelik voor sy aangesig kan lewe (soos ons almal al gepreek het in die reeks).

Paulus se appèl hier op die gemeente van Efese om ‘n heilige lewe te lewe, is dus gebaseer op wat God reeds vir hulle gedoen het en hoe Hy ons lei tot ‘n heilige lewe.  God skenk vir ons sy heiligheid juis deur die dinge wat afgekeur en aangemoedig word, deur dié dinge wat ons as Do’s and Don’ts ken.

Maar let op.  Paulus sê nie vir die gemeente: kry julle lewens reg sodat julle deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges kan word nie.  Hy sê inteendeel: julle is deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges – tree dan op as mense van wie dit waar is.

Dit is ómdat ons die Here leer ken het, en ómdat ons in ‘n gemeenskap van gelowiges tereg gekom het, dat ons eintlik nie anders kan as om regtig te breek met die ou sondige mens in ons, en ons gees en gedagtes nuut kan word.

Ons roeping om as nuwe mense te lewe wat na die beeld van God geskep is, begin by ons insluiting in die liggaam van Christus, iets wat God in ons lewens bewerk het. Maar dit eindig natuurlik nie daar nie.  Almal wat ingesluit is, word geroep tot ‘n heilige lewe.  En ons moet saam onder die begeleiding van die Heilige Gees ons toewyding aan die Here ontsluit en ontwikkel.

Terloops, dit help my verstaan dat veroordeling van mense vir hulle onkunde of selfs losbandigheid (vers 19) nie help nie, want daardeur druk jy mense weg van presies die plek waar hulle kennis en genesing kan kry.

Wat wel net so belangrik is, is dat ons ‘n ernstige beroep op mense kan maak (wat onkundig  of losbandig lewe), as hulle deel van die geloofsgemeenskap word, dat hulle moet optree soos hulle Christus leer ken het, en moet breek met dít wat na regte agter hulle lê.

Is Heiligheid in stryd met Insluiting?

In dié verband is daar ‘n baie belangrike tendens wat ek egter raaksien.  Daar is teoloë vandag wat sê, Walter Brueggemann vir een, dat geregtigheid belangriker is as heiligheid.  Hy bedoel daarby dat die insluiting van mense belangriker is as die handhawing van ‘n spesifieke lewenstyl, dat die handhawing van randfigure se reg om menswaardigheid behandel te word, belangriker is as die evangeliese standaarde waaraan die geloofsgemeenskap gemeet kan word.  Hy druk dit só uit dat dit in die NT só is dat: “justice triumphs over holiness.

En insluiting en regstelling is natuurlik baie belangrik.  Ons sien in die evangelies hoe Jesus mense insluit, alle mense.  Hy sluit juis sondaars in en selfregverdiges uit.  Hy laat aan randfigure reg geskied: spesifiek vroue, kinders, melaatses, gebreklikes, uitgestotenes, Samaritane ensomeer.

Hy tree juis op teenoor skynheiliges, mense wat die uiterlike vorm van heiligheid het, maar die innerlike krag daarvan verloën, soos ons in die gebed van die tollenaar en die Fariseër raaksien.  Jesus aanvaar mense as mense en sluit hulle in sy genade in en maak hulle deur geloof deel van die geloofsgemeenskap.  Dit is onvervreembaar sy boodskap.

Maar, dit beteken nie dat Jesus nie steeds op heiligheid klem lê nie. Die insluiting van onheilige mense, mense wat op watter manier ook al uitgesluit is van die geloofsgemeenskap weens onreinheid, melaatsheid, en gebreklikheid, lei nie daartoe dat Hy daarmee sonde goedkeur nie.  Hy wil immers sondaars tot bekering roep.

So, die vrou wat in owerspel gevang is, word ingesluit in sy genade, maar ook opdrag gegee om nie verder te sondig nie.  Saggeus wat deur Jesus ingesluit word in sy genade, kom tot bekering, maar maak dan reg wat hy verbrou het.  En dié wat nie die prys van bekering en volgelingskap wil betaal nie, gaan met hartseer en berou weg – die ryk jongman, Judas Iskariot.

Ons as kinders van die Here het dus ‘n dure plig om dit maklik te maak vir mense om in ons geselskap en ons gemeenskap opgeneem te word.  Trouens, óns moet die grense na buite oorsteek, soos die verhaal van die Barmhartige Samaritaan gewys het.  Óns moet soos die Samaritaan wees, nie soos die priester en Leviet, wat aan die ander kant van die man wat onder rowers geval het, verbygestap het nie.  Ons moet met deernis en genade na buite optree.

Maar, dit beteken nie dat God nie wil hê dat ons heilig moet lewe nie.  Inteendeel.  Hy is teen skynheiligheid, maar nie teen heiligheid as sodanig nie.  Hy wil hê dat ons die innerlike krag van ‘n heilige lewe sal ontdek, sodat ons met oorgawe kan uitreik en met deernis kan optree na buite toe.

Wees heilig soos Ek heilig is

En dit beteken dat ons as geloofsgemeenskap ‘n onverdunde opdrag het om heilig te lewe.  Paulus is só helder daaroor in hierdie gedeelte: “Moenie langer soos heidene lewe nie!”  Die waardes wat in die gemeenskap van die wêreld geld, is nie die waardes van die geloofsgemeenskap nie.  Die lewenstyl wat in die gemeenskap van die wêreld geld, is nie die lewenstyl wat in die geloofsgemeenskap geld nie.

Sê Paulus hier, “Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.” Dit het te make met en is duidelik in die lewenstyl wat ons in die wêreld sien: “Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Daarteen staan die waarheid en die heiligheid waartoe Jesus ons roep.  Soos Paulus hier sê: “Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

En hoe moet dit gebeur?  “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

En dan gaan Paulus aan in die res van die hoofstuk en in hoofstuk 5 om uit te spel wat dié heiligheid inhou: om die waarheid te praat, om nie te sondig as jy kwaad word nie, om nie te steel nie – alles dinge wat die Tien Gebooie, wat God gegee het al in die tyd van Moses, vir ons geleer het.  Moenie vuil taal gebruik nie, moenie verbitterd wees nie, moenie “opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Hoekom? Want God is heilig.  En waar God nader aan ons kom, kan onheiligheid, losbandigheid, valsheid, bedrog ensomeer nie standhou nie. God is immers ‘n verterende vuur, soos Hebreërs 12 sê,  en dit spel suiwering en loutering.  Daar is die aanmoediging tot ‘n heilige lewe, maar net soseer ook die afkeuring van ‘n onheilige lewe.

Trouens, heiligheid gee ‘n ongelooflike innerlike krag om die aanslae van die lewe te kan hanteer.  Waar ‘n mens die Here navolg om opreg te wees, om niks met skinder of valsheid of kwaadpraat te doene te hê nie, gee dit jou ‘n innerlike krag wat uit jou straal, word jy wat God van jou maak.

Heiligheid gee jou ook ‘n onwrikbare vertroue om in jou hele lewe gehoorsaam aan die Here te word, om regtig te lewe as sy volgeling.  Stap vir stap bou die legkaart van ‘n heilige lewe deurdat jy dié dinge begin doen waartoe God jou aanmoedig, en terselfdertyd met dié dinge ophou wat God se afkeuring wegdra.

Wat sê dit vir ons as geloofsgemeenskap?

Wat sê dit vir ons as geloofsgemeenskap?

  1. Wel, in die eerste plek beteken dit dat ons sóós Jesus moet wees en mense, veral randfigure, moet insluit. Ons verwelkom almal.  Dit is die eerste waarde op ons banier.
  2. Maar, in die tweede plek, beteken dit ook dat ons sóós Hy in alles getrou sal wees aan wat God in sy Woord ons leer. Ons luister na God, ook ‘n waarde op ons banier, wat eintlik die eerste waarde in belangrikheid is.  Jesus het dit immers vir ons geïllustreer.  Hy het die wet en wil van God tot in die laaste oomblikke van sy lewe nagekom, en ons moet Hom daarin navolg, tot ons eie laaste asemteug, sodat ons ook soos Hy kan sê, “Dit is volbring.

En laat ons hieroor ook met mekaar eerlik wees. Ons is te geneig om ons eie Do’s and Don’ts te bepaal, dié dinge wat ons dink deur God aangemoedig en afgekeur word.  Ons het net een besondere openbaring, en dit is die Woord van God.  Daarom praat ons van Sola Scriptura, ons verlaat ons op die Skrif alleen as die helder en genoegsame Woord van God.  Só, selfs al stuit die dinge wat God in die Woord sê ons teen die bors, al is dit ook hoe ongemaklik, ons het nie die voorreg om daaraan te verander of daartoe by te voeg nie.

Ek dink dit is die hart van die dilemma van die kerk in die samelewing dat ons te veel ons eie waarheid formuleer, die kruis van die post-modernisme.  Ons val daarom baie keer in met wat die wêreld aanmoedig en afkeur, maar laat nie genoeg die Bybel toe om ons in te lig oor wat aangemoedig word, en wat afgekeur word nie.  Want, sien, dit is in die Skrif wat ons die laaste woord hoor oor wat heiligheid is en wat nie.

Waarskuwing

Ek sluit met die waarskuwing van Johannes, die geliefde apostel, in Openbaring. Hy skryf oor Jesus wat God se agenda (die boekrol in sy hand – Openb. 5) uitvoer en hoe dit verlossing vir gelowiges en oordeel vir ongelowiges beteken.  In die proses beskryf hy dat hoe nader ons aan die einde van die tyd kom, die eenvoudige ervaring sal wees: “Wie onreg pleeg, moet nog meer onreg pleeg; wie onrein is, moet nog meer onrein word; maar wie regverdig is, moet nog meer regverdig word, en wie heilig is, moet nog meer heilig word.” (Openb. 22:11).

Laat dít van ons waar wees dat ons al hoe heiliger sal word, al hoe meer regverdig, dat ons God sal navolg in waartoe Hy ons aanmoedig en sal vermy dié dige wat Hy afkeur.  Wees heilig, want God is heilig.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers                              Koor:  Lied 542 Jesus, ons loof U!  Jesus, ons prys U!

Slotsang                                   Lied 475   Allerhoogste Hemelvader…“U is heilig, maak ons                                                                                   heilig”      (staan)

Seën

Respons                                   Lied 475 v2 se laaste twee reëls: “U is heilig, maak ons                                                                                                 heilig deur die werking van u Gees.”

 

Orrelnaspel                           Psalm 134  Kom prys die Here, prys sy Naam!

View all posts in this series

anders eenders, Heiligheid

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.