Skip to main content

Psalm 80 – Sien ons raak, Here!

NGK Somerstrand 18 Desember 2022 | Kerk en Youtube 09:00

Verwelkoming

Aankondigings

Psalm 80 – English

Toetrede

Lied 358:1-3 Welkom, o stille nag van vrede (sit)

Votum en seëngroet

Lofsang

Lied 353:1-3 Die Heiland is gebore (staan)

Lied 350:1-3 In die stad van Koning Dawid (sit)

Kindertyd

Kom ons speel daardie speletjie: “Ek sien met my kleine ogies…”

Het een van julle al verdwaal?

En nie geweet waar jou pa en ma is nie?

Hoe het dit gevoel?

My oupa het een keer weggeraak.

Gelukkig het die polisie hom raakgesien.

Hy was nog klein.

Hulle vra hom toe wat is sy naam.

Hy sê toe: “Robert, de Bobberd, the Big Belly man!”

Want, dit is hoe sy pa en ma hom genoem het.

Dit is darem lekker as iemand jou raaksien.

Weet julle, God sien elkeen van ons raak.

Daar is ‘n pragtige Psalm wat ek vir julle wil gee. Psalm 121. Wat ons gerusstel dat God ons altyd raaksien:

“Ek soek oral rondom my na iemand om my te help. Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?” Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak. Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op. Hy sal nie aan die slaap raak as Hy jou moet oppas nie. Hy pas al sy kinders op. Hy slaap nooit. Daarom sal Hy nie vergeet om jou te help nie. Die Here is jou oppasser. Hy sal altyd by jou wees. Niks of niemand kan jou kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk. God pas jou elke dag op teen allerhande moeilikhede en probleme. Hy sal jou lewe mooi oppas. Die Here sal jou oppas waar jy ook al is: by die huis, by die werk of miskien êrens op pad. Hy sal jou altyd help, of jy kom en of jy gaan, nou en in die toekoms.” (Die Boodskap)

Ek het hier ‘n sakkie. Hier is baie goedjies in. Kom ons kyk wat daarin is. Glitter. Kraletjies. Sterretjies. Hier is ook ‘n klein ogie!

Dié ogie gaan jou herinner dat God jou raaksien. Hy sal jou altyd help, vandag en elke dag.

Gebed

Skriflesing en prediking

Die laaste dae van die noordryk met sy hoofstad in Samaria was waarskynlik die aanleiding tot die hulpkreet van Psalm 80. Dit lei ons eerstens af uit die inhoud van die Psalm, veral die verwysing na die sogenaamde Ragel-stamme in vers 3. Josef en Benjamin was Ragel se twee seuns, en Efraim en Manasse weer op sy beurt Josef se seuns. In die tweede plek voeg die Griekse vertaling van die Psalm in die eerste vers die frase: “in verband met die Assiriërs,” by.

Die tyd van die Assiriërs was ontsaglik gewelddadig. Opeenvolgende Assiriese konings het die noordelike ryk bedreig. Tiglat-pileser III (744–727 vC) en Salmaneser V (726–722 vC) het veldtog op veldtog teen Israel onderneem. Die vier profete – Jesaja, Amos, Hosea, en Miga – het die volk dag en nag gewaarsku dat die Here hulle gaan straf oor hulle sonde. Maar, luister was min. So het die bedreiging al hoe groter en groter geword totdat die volk in 721 vC weggevoer is deur Sargon II (721–705 vC) in die eerste ballingskap na Babilon.

Die eerste ballingskap was geweldig destruktief. Die Jode is nie toegelaat om in hulle eie gemeenskappe te bly nie. Trouens, ander volke is ingebring in die noordelike ryk om tussen die Jode te kom bly. Die gedwonge integrasie het die Samaritane tot gevolg gehad wat hulle eie godsdiens ontwikkel het waarin hulle afgewyk het van die Bybelse boodskap.

Die suidryk het hierdie eerste ballingskap vrygespring, maar onder die volgende Assiriese koning, Sanherib (704–681 vC) het die druk suidwaarts verskuif en is Jerusalem ook bedreig. Koning Hiskia was onder geweldige druk. Sy mense was bang en mismoedig. Die Assiriërs was ‘n totale oormag. Hy het nog probeer om uit te reik na die mense wat oorgebly het in die noorde en hulle na ‘n Paasfees genooi, maar min van hulle het dié aanbod aanvaar.

Hierdie Psalm het vir hulle perspektief gegee en die woorde om te bid om herstel. Vir die noordryk, maar veral ook vir hulleself.

Kom ons lees Psalm 80.

1Vir die musiekleier. Op “Narsings”. ‘n Getuienis. Van Asaf. ‘n Psalm.

Die Psalm is duidelik bedoel vir die liturgie, geskryf deur of vir die musiekleier nasate van Asaf. Die aanwysing vir die musiekleier is om die wysie van die “Narsings” of “Lelies” te gebruik as ‘n “Getuienis” vir die volk.

Daar is baie verskil van mening oor presies wat die verwysing na blomme, dws “Narsings” of “Lelies”, bedoel, en selfs wat met “Getuienis” bedoel word, maar dit is miskien ‘n gesamentlike verwysing na ‘n melodie wat die broosheid, maar ook skoonheid van die lewe uitgedruk het in ‘n getuienis.

Die eerste Psalm op dié wysie – Psalm 45 – is juis ‘n lied van die skoonheid van die liefde, terwyl die ander drie Psalms wat hierna verwys – Psalm 60, 69 en 80 – al drie bedoel was vir ‘n konteks van swaarkry, en daarom die broosheid van die lewe verwoord het.

Die Psalm begin met ‘n direkte gebed tot God om hulp:

2Herder van Israel, luister tog!

U wat Josef soos kleinvee lei,

U wat oor die gerubs troon –

laat skyn tog u lig 3voor Efraim,

Benjamin en Manasse!

Laat u mag ontwaak

en kom tot ons redding.

Die gebed openbaar hoe diep die skok in Jerusalem gevoel is toe byna die hele Israel – tien stamme uit die twaalf – weggevoer is in ballingskap. Dit het die hele situasie vir die kleiner twee-stamme ryk in die suide verander. Hulle het nou nie meer hulle eie mense as bure gehad nie, maar ‘n nuwe vyandige Assiriese provinsie.

‘n Mens hoor dus niks in die Psalm van die ou wedywering van noord en suid nie, net ‘n kreet na die Here of Hy nie tog op een of ander manier kan ingryp en sy oordeel kan afwend nie.

Let op hoe God as die Herder van Israel aangespreek word. Hy is tog die Een wat Josef soos kleinvee lei. ‘n Bekende belofte vir alle Jode, want dit is die seën wat Jakob aan die einde van sy lewe oor Josef uitgespreek het:

“Maar sy boog het bestendig gebly, en sy voorarms was behendig, vanweë die hande van die Magtige van Jakob, vanweë die roem van die Herder, die Rots van Israel.” (Gen 49:24)

Daarby, U is tog die Een wat groot dinge kan doen. U troon immers oor die gerubs – majestueuse gevleuelde wesens wat aan God onderdanig is en sy wil uitvoer. Hulle is beskermers van God se heiligheid en uitvoerders van sy oordeel. God kan dus besluit hoe hy sy gerubs wil inspan!

Daarom: “Laat skyn tog u lig voor Efraim, Benjamin en Manasse!” Die nageslag van Ragel, die liefling van Jakob, het u nodig. “Laat u mag ontwaak…”

Maar, dan gebeur daar ‘n interessante wending in die gebed, want die Psalm raak ook ‘n gebed vir die suidryk:

“en kom tot ons redding.”

Hoekom? Want, dit is nie net die noordryk wat geraak word deur die aanslag van die Assiriërs nie. Dit is ook die suidryk. En die gevaar is groot. Die ongehoorsaamheid van die noordryk stel ook die suidryk in gevaar. Hulle loop die gevaar om op soortgelyke wyse onder die oordeel van God te kom.

Daarom bid die gemeente verder:

4O God, herstel ons;

laat skyn die lig van u aangesig,

sodat ons verlos kan word.

Drie keer word hierdie refrein in die Psalm gehoor: “O God, herstel ons…” (vers 4, 8, 20). En dit word spesifiek verbind aan die volgende twee frases wat op soortgelyke wyse drie keer herhaal word: “laat skyn die lig van u aangesig.” En: “Sodat ons verlos kan word.”

Die frase: “laat skyn die lig van u aangesig” kom uit die Aäronitiese seënbede van Numeri 6:24-26. Dit kan vertaal word as “Glimlag oor ons!”

Want, dan weet ons dat ons verlos sal word. As God se grimmigheid in ‘n glimlag kan verander, as sy oordeel in vriendelikheid kan omsit, dan is daar vir ons hoop.

Dan gaan die gemeente voort om hieroor te bid, want hulle erken daar is geweldig baie wat God ontstel en met volle reg in oordeel oor hulle laat ontvlam.

5Here, God, Heerser oor alle magte,

hoe lank gaan u woede nog smeul

teen die gebed van u volk?

6U het hulle brood van trane laat eet;

U het hulle trane in oormaat laat drink.

7U het ons ‘n bron van stryd

gemaak vir ons bure,

ons vyande dryf met ons die spot.

Maar, steeds, Here, laat u grimmigheid in ‘n glimlag verander:

8O God, Heerser oor alle magte,

herstel ons;

laat skyn die lig van u aangesig,

sodat ons verlos kan word.

Dan gebruik die gemeente die wonderlike metafoor van ‘n wingerdstok om God se verhouding met hulle te beskryf reeds sedert hulle ontstaan:

9U het in Egipte ‘n wingerdstok

uitgetrek;

U het nasies verdryf en hom geplant.

10U het voor hom skoongemaak;

hy het wortel geskiet

en die land vol gerank.

11Berge is deur sy skadu oordek,

die magtige seders deur sy takke.

12Hy het sy ranke uitgestoot

tot by die see,

en sy lote tot by die Rivier.

Daar is tog genoeg rede dat God oor sy volk kan glimlag!

Daarom die vraag:

13Waarom het u sy tuinmuur afgebreek,

sodat almal wat daar

verbygaan, sy vrugte pluk?

14Wildevarke uit die bos vreet hom kaal;

bosvarke uit die veld vreet hom op.

Die Here het tog self vir Israel ‘n plek reggemaak, hy kon floreer in sy gebied en sy lote uitstoot tot aan die Eufraat.  Maar nou is die mure om die land, by wyse van spreke, afgebreek en stroop al die verbygangers, wildevarke en gediertes uit die veld God se wingerd.  Dit kan tog nie, God moet mos optree!

Vandaar die innige gebed:

15O God, Heerser oor alle magte,

kom tog terug!

Kyk uit die hemel en sien dit raak!

Versorg hierdie wingerdstok,

16die steggie wat u regterhand

geplant het,

die spruit wat U vir Uself

grootgemaak het.

17Hy is met vuur verbrand, afgekap.

Die gemeente span dus die beeld van Israel as wingerdstok in om die Here tot aksie te beweeg, om tog uit die hemel af te kyk en Hom oor Israel, oor sy wingerdstok, te ontferm en weer onder sy sorg te neem.

Daarom bid hulle dat die Here Hom nie net oor die heelal sal bekommer nie, maar oor sy mense met wie Hy in ‘n intieme verhouding is, Hom oor hulle sal ontferm en weer onder sy sorg sal neem.

Daarteenoor, bid hulle dat God die vyande sal verslaan:

Laat hulle vergaan

weens die bedreiging

van u teenwoordigheid.

Hulle vra dus dat die volke wat Israel vernietig het eerder tot niet sal gaan.

Dan verander die metafoor en word Israel as ‘n seun beskrywe, ‘n geliefde seun. Met ‘n roerende gebed dat God Hom oor sy seun sal ontferm:

18Hou tog u hand oor die man

aan u regterkant,

oor die mensekind wat U

vir Uself grootgemaak het.

Met die belofte:

19Ons sal nie van U wyk nie.

En die verbintenis:

Maak ons lewend!

Net ú Naam sal ons aanroep.

Die Psalm sluit met die derde oproep op herstel:

20Here, God, Heerser oor alle magte,

herstel ons;

laat skyn die lig van u aangesig,

sodat ons verlos kan word.

Ons bid dat u gesindheid teenoor ons sal verander, sê hulle. Ons bid dat u weer oor ons sal glimlag.

Ons sal herstel, sodat u kan glimlag oor ons!

Ek wil twee perspektiewe uitlig hieruit:

1. Ons is in die Kerstyd waar ons nadink oor die Een wat met reg as die Glimlag van God beskryf kan word. Die Here Jesus Christus. Want, sê Paulus:

6God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Kor 4:6)

Ons kan op persoonlik vlak staatmaak daarop dat Christus ook oor ons glimlag. Hy verlig ons met die kennis van die heerlikheid van God. Hy verander ons lewens dat dit in ooreenstemming kom met die wil van God vir ons lewe.

2. Ons weet uit die geskiedenis dat die Here Hiskia se gebede verhoor het en dat Sanherib die aftog moes blaas. Trouens, die Here het self opgetree en 185 000 Assiriërs uitgewis. Gaan lees in Jesaja 36-37, 2 Konings 18-19 en 2 Kronieke 32 wat drie weergawes vir ons gee van hierdie wonderwerk van God.

God tree dus op waar hierdie Psalm gebid word in die aangesig van politieke en ekonomiese swaarkry. Ons lees bv van die eerste gemeente wat gedreig word om in te pas by die heersende teologie van die Jode wat vanuit die samelewing op hulle afgedwing word.

Lukas skryf vir ons:

4Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, 25wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het:

“ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere,

en bedink die volke nietige dinge?

26Die konings van die aarde

neem stelling in,

en die leiers span saam

teen die Here en teen sy Gesalfde.’

27“Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het 28om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. 29En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, 30deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” 31Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.

God kan dit vandag ook doen.

  • In die politiek van die dag waar eie belang nou op groot skaal die gevegte in die land bepaal. Trouens, ‘n mens sien dit regdeur die wêreld. Daar is ‘n ongekende polarisasie rondom belange en die potensiaal vir ‘n algehele ineenstorting van reg en orde is lewensgroot.
  • In die ekonomie waar die gebrek aan instandhouding en beplanning in ons land talle besighede laat ondergaan.
  • In die kerk waar die onus nou op lidmate geplaas word om te glo wat hulle dink reg is in etiese sake. Laat ‘n mens dink aan die Rigtertyd waar “elkeen gedoen het wat reg is in sy oë.” (Rigt 21:25).

Soos Psalm 72 ons uitgenooi het om te bid vir die koning, en spesifiek die Here te vertrou om verandering te bring wat tot vrede en voorspoed in ons land kan lei, só nooi Psalm 80 ons uit om met hernude ywer te bid dat God ons regtig sal raaksien en verandering bring.

Natuurlik vra dit van ons dat ons self skouer aan die wiel sit om te doen wat ons kan om die situasie in die land en kerk om te keer. Maar, uiteindelik lê dit by die Here. Hy is die Een wie se glimlag ons nodig het. Hy is die Een wat eenmaal verandering gebring het met die eerste Kersfees.

Ons kan hoop dat Hy dit weer sal doen hierdie Kersfees.

Gebed

Slotsang

Slotlied

Lied 345:1,2,4 Kom alle getroues (staan)

Seën

Respons

Lied 329:1 Want so lief het God die wêreld gehad

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.