Skip to main content

Psalm 146 – Ons lewe sal eindig met ‘n Halleluja!

Psalm 146 – Ons lewe sal eindig met ‘n Halleluja!

NGK Somerstrand 11 Desember 2022 | Kerk en Youtube 09:00

Verwelkoming

Kerkraadslede verkies op die vergadering van 21 Nov 2022

Ouderlinge

  • Elga Heidenreich
  • Ursula Killian
  • Neil Robinson
  • Marius Van  Eyk
  • Hannie Williams

Diakens

  • Riëtte Muller
  • Marlene Cilliers

Aankondigings

Toetrede

Flam 118 Bly volhard soos atlete (sit)

Christ our hope in life and death (O sing Hallelujah) – bedieningslied

Votum en seëngroet

Lofsang

Psalm 146 1, 5, 6 Prys die Here, loof en prys Hom  (staan)

Lied 362:1-2 Vol vreugde sing die eng’leskaar  (sit) – eers 1x deurspeel… dan gemeente v 1 en 2

Kindertyd

“Die Here sal altyd Koning wees. Sion, jou God sal Koning wees van al die geslagte. Julle moet die Here prys!” (Psalms 146:10 ABA)

God bly Koning van al die geslagte.

Wat is ‘n geslag?

Kyk hier na die foto van drie geslagte. My pa, ekself, en my seun Arno. Almal van ons het dieselfde name. En dan is Arno se nefie ook daar, want hy het ook dieselfde name.

Wie het oupa’s en ouma’s hier in die kerk?

Adrian en Audrey. Julle pa en ma is Clairwen en Ivo. En julle oupa? Oupa Hennie, nè!

Hoeveel geslagte dink julle was daar al vanaf Jesus se tyd tot nou toe?

Hoeveel dinge het nie in daardie tyd in die wêreld gebeur nie, nè? Baie ding het verander. Ons ry vandag met motors op die paaie. My oupa het nog met ‘n donkiekar gery op die plaas. En ons het elektrisiteit. So ons kan die ligte aansit. My oupa het nog met ‘n parafienlamp lig gemaak in die huis. En hulle het ook kerse gebruik. Vandag het ons selfs ligte wat ons in ons hand kan hou! Flitsligte! En kopligte!

Tog het God dieselfde gebly. Deur al die geslagte. Hy sorg nou nog vir ons. En Hy sal vir jou bly sorg ook wanneer jy groot is en jy ook kinders het. Elke geslag vertel vir die volgende geslag van die Here. Só het jou pa en ma vir jou vertel. En eendag kan jy ook vir jou kinders van die Here vertel.

Jou pa en ma gaan ná die tyd juis daaroor gesels in die Ark.

En wat julle gaan doen, is julle gaan koeke versier om te skenk aan kinders wat nie by hulle pa of ma bly nie. Hulle het iemand anders nodig om vir hulle van die Here te vertel. En ons gaan vir hulle iets lekkers gee sodat hulle weet daar is iemand wat vir hulle omgee. Soos die Here vir ons almal omgee.

Kom ons sê sommer dankie vir die Here dat ons ‘n pa en ma het wat vir ons van die Here kan vertel. En ons bid vir hulle wat nie ‘n pa of ma het nie.

Gebed

Skriflesing en prediking

Vyf lofpsalms, elkeen van hulle wat met Halleluja begin en eindig, sluit die Psalmboek af. Daarmee is hierdie Psalms eintlik ‘n miniatuur weergawe van ons verhaal as gelowiges in sy geheel (Derek Kidner). Ook ons lewe sal eindig in ‘n Halleluja, waar ons die onafgebroke vreugde van God se teenwoordigheid sal binnegaan.

Psalm 146 lei dié vyf lofpsalms in deur op die kongruente karakter van God te fokus. God is wie Hy sê Hy is. Hy is die Skepper en Onderhouer van alles wat leef en beef. Sy beloftes word almal vervul. Wat Hy sê, dit doen Hy. Daarop kan jy reken. Hy is betroubaar.

Ons word dus uitgenooi om in die woorde van die eerste verse die Here te loof en ons vertroue op Hom, en op Hom alleen, te bely.

1Halleluja!

Loof die Here, o my siel!

2Ek wil die Here loof solank ek leef;

ek wil my God besing solank ek bestaan.

Daar is soveel dinge waarvoor ons God kan loof. Vir wat Hy vir ons is. Vir wat Hy vir ons doen.

Dit beteken uiteraard dat ons nie op mense vertrou nie! Soos die Psalm ons oproep:

3Moenie op vooraanstaandes

vertrou nie,

op ‘n mens, by wie daar

geen verlossing is nie.

4Sy asem gaan uit,

hy keer terug na die grond;

op daardie dag is sy planne

daarmee heen.

As jy terugkyk op jou lewe weet jy eenvoudig dat dit waar is. Hoeveel mense het jou nie al teleurgestel nie. Selfs dié mense van wie jy dit regtig nie verwag het nie – die vooraanstaandes, of invloedrykes – het jou in die steek gelaat.

En selfs al het iemand dit nie doelbewus gedoen nie, weet ons mos, niemand lewe vir ewig nie. So, soms het iemand se dood eenvoudig ‘n streep getrek en die planne vir jou lewe gefnuik.

Dit het jou geleer dat jy nie op mense kan staatmaak nie. Soos die Psalmis sê, moenie op vooraanstaandes of invloedrykes vertrou nie. Daar is nie verlossing in mense nie. Die dag as hulle sterwe, is hulle planne daarmee heen. En dan staan jy alleen.

Daar is maar net Een van wie jy hulp kan verwag, en dit is die Here self.

Dink maar terug, sê die Psalmis, en jy sal saam met ons almal bely dat dit net dié mense is – wat God as hulp het – wat gelukkig is.

5Gelukkig is die mens

wat die God van Jakob as sy hulp het,

wie se hoop gevestig is

op die Here, sy God –

Die verwysing na die God van Jakob sê iets oor die volk van God waaraan ons behoort, maar roep ook die verhaal van die transformasie van ‘n bedrieër in herinnering. God het vir Jakob verander, so, jy sal weet, God het dit ook vir jou gedoen, soos jy waarskynlik kan getuig van verskillende kere wat God jou verander het, geduld met jou gehad het, jou in heiligmaking laat groei het.

Soos Paulus aan die einde van sy lewe vir Timoteus skryf oor die stryd wat hy in die hof gestry het:

16Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! 17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered.

Trouens, hy sê:

18Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen. (2 Tim 4:16-18).

Dit lyk inderdaad asof Paulus hierdie Psalm geken het!

Want, God is immers die Skepper – Hy het ons gemaak. Soos Psalm 146 sê:

6Hy wat hemel en aarde

gemaak het,

die see, en alles wat daarin is,

En God is Onderhouer – Hy werk die hele tyd aan ons binne- en buitekant.

En in tien stellings spel die Psalmis dan die betroubaarheid van hierdie God uit – die Skepper en Onderhouer.

En ek nooi jou uit, soos ek die eienskappe van God lees, om terug te dink aan jou eie ervaring daarvan. Want, as ons vir mekaar die stories van God se betroubaarheid sou vertel, is dít die tipe dinge wat ons vir mekaar sou sê, dié dinge waarvan ons ervaar het dat God vir ons ingestaan het toe niemand anders kon nie.

1. Hy wat trou bly tot in ewigheid,

Dink aan die verhaal van Job wat ons op die oomblik in die Bybelskool lees. Daar is min mense wat só uitgedaag is as hy. Hy het alles verloor, selfs sy gesondheid. En wat gebeur wanneer God met hom uit die stormwind praat? Die Here verander alles. Soveel só dat sy voorspoed ná die trauma van die verlies van sy goed hom dubbeld so ryk maak as vóór die rampe wat hom getref het.

God het getrou gebly tot Job die ewigheid ingegaan het om in God se arms finaal tot rus te kom.

2. 7wat die reg van verdruktes handhaaf –

Dink aan die verhaal van die Uittog uit Egipte. Die Here het afgekom om te sien hoekom sy mense so swaar kry en ‘n proses aan die gang gesit wat hulle regte binne Egipte gehandhaaf het. En Hy het hulle onder die hand van farao uitgehaal om vir hulle ‘n land van melk en heuning te gee.

3. aan hongeres brood gee

Dink aan die manna in die woestyn. Toe die trekkers wonder maar hoe gaan ons oorleef, gee die Here vir hulle manna uit die hemel – die kos van engele – en later ook kwartels om hulle honger mee te stil. En almal het genoeg gehad.

4. Die Here laat gevangenes vry;

Dink aan die talle kere wat God sy kinders uit tronke gered het; ‘n Josef in Egipte; ‘n Petrus in Jerusalem; ‘n Paulus en Silas in Filippi. Want, die Here het totale beheer oor alles wat met ons gebeur.

5. 8die Here maak blindes se oë oop;

Dink aan Jesus wat soveel keer dit gedoen het, fisies en geestelik.

6. die Here rig dié op wat terneergedruk is.

Toe Elia onder die besembos sit en wens hy gaan dood, het die Here ‘n engel gestuur, vir hom kos en water gegee, ‘n bietjie laat uitrus, en toe die krag gegee om sy taak te hervat en die wiel aan die rol te sit vir Elisa om by hom oor te neem.

7. Die Here het regverdiges lief;

Die Here se oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is (2 Kron 16:9). Hy het ‘n Daniël nie in die oond of in die leeukuil alleen gelos nie. Hy het die regverdiges lief. Soos Psalm 1 sê, Hy ken die pad van die regverdige. Hy staan in vir die regverdige en lei hom op die pad wat na die lewe lei.

8. 9die Here beskerm vreemdelinge;

Hoeveel keer lees ons nie van God se beskerming van sy mense in die vreemde nie. ‘n Abraham in Egipte. ‘n Isak in Egipte. ‘n Josef in Egipte. Selfs in die ballingskap het God sy mense vasgehou en uiteindelik laat terugkom na hulle eie land toe.

9. vaderloses en weduwees help Hy op,

Hoeveel verhale is daar nie in die OT en NT waar God Hom ontferm oor die vaderloses en weduwees. Die weduwee van Sarfat wie se brood en olie nooit opgeraak het nadat sy vir Elia ‘n broodjie gebak en ‘n slukkie water gegee het nie. Die weduwee van die profeet in Elisa se tyd wie se oliekan nie opgehou olie gee het voordat elke kan vol was en sy dit kon verkoop om haar gesin aan die lewe te hou nie.

10. maar die pad van goddeloses maak Hy krom.

En God se voorsiening is nie net vir die goeie dinge wat Hy gee nie. Dit is ook om ons van goddeloses te beskerm. Hy maak dié mense wat Hom nie wil dien nie, en die kinders van die Here vervolg, Hy maak hulle paaie krom. Psalm 73 sê hierby dat hulle paaie ook glad raak, sodat hulle nie koers kan hou nie. Hulle einde is in die ewige dood.

Daarom kan ons onsself tot rus bring vandag in die vaste wete dat God vir ons gesorg het in die verlede, en dat Hy dit ook in die toekoms sal doen.

Ons kan bely:

10Die Here sal vir ewig regeer,

jou God, Sion,

van geslag tot geslag.

Halleluja!

Want, ons lewe eindig met ‘n Halleluja!

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 161 Halleluja! Heer, U is ons lewe (staan)

Seën

Respons

Lied 329:1 Want so lief het God die wêreld gehad (staan)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.