Skip to main content

Matteus 8:1-4 – “Here, as U wil, kan U my rein maak.”

omarm1Ek onthou uit my jeug die impak wat Alexander Solzhenitsyn se One Day in the Life of Ivan DenisovichDie Dag van Ivan Denisowitsj – op my lewe gehad het (Haum: vertaal deur Leo van der Westhuijzen).   Met die beskrywing van dié een dag kom jy agter hoe hy dag vir dag die hoop behou, een dag op ‘n slag.

Ivan is in een van Stalin se strafkampe gesit in die koue Siberië omdat hy van drostery uit die weermag aangekla is, ‘n valse klag, maar daarvoor moes hy harde handarbeid verrig in die strafkamp.  ‘n Uitmergelende verhaal van ontbering, maar ook van die triomf van die gees.

Ek onthou hoe Ivan – meesal Sjoekof, sy ander naam, genoem in die boek – dié dag besonder honger was, en met middagete gehoop het dat hy twee bakkies pap sou kon bewerkstellig vir homself deur iets vir die ondervoorman van die gevangenes, Pavlo, te doen.  En ek onthou soos gister die angs wat hy ervaar as hy die eerste bakkie pap te vinnig eet, nie genoeg vertroetel in sy mond nie, en dan agterkom dat hy miskien die tweede bakkie pap gaan mis.  Die eerste bakkie pap voel dadelik vermors.

En ek onthou die vreugde as daardie tweede bakkie pap voor Ivan neergesit word, en Pavlo vir hom omgee, ‘n hart vir hom het, genoeg om vir hom ‘n ekstra bakkie pap te gee.  Ivan het besonder lank aan dié bakkie pap gesuig-eet, elke mondjievol vertroetel in sy mond, die helfte van sy brood in sy sak gebêre om die aand in die bed verder aan te suig-kou.

Só het Ivan dit gemaak regdeur die tyd in Siberië in een van die koudste bewoonde dele wat ons op hierdie aardbol het, deur dag vir dag te lewe, elke dag uit te kyk vir die bietjie omgee wat selfs in dié godverlate plek beskikbaar was, ook soms self ‘n bietjie omgee uit te deel, en wat sy hoop brandende gehou het.

Hier volg die hele erediens (Afrikaans) – (English)

Verwelkoming

  • Kermis – Marlein bemark
  • Oorvloedig vrygewig – kerkraad het 10% van tekort belowe: R4200 sover. BID oor jou dankoffer en kom vul dit volgende week in – afskeurstrokie op skerm.
  • Getuienis barometer – R5 775 uitstaande
  • Elspeth (slides vir elke bullet, twee vir laaste een):
    • Sy tree af oor drie jaar
    • en gee oor aan nuwe leierspan (wat sy nog oplei) einde Aug vanjaar. Sy verhuis dan Kaap toe en sal daar nog betrokke wees by CCC.
    • Dit gaan goed met haar kinders. Dino en Saskia in London en Andrew en Emma-Kate met Phoebe in Singapore.
    • Sy het besoek gebring aan Yolande Korkie laasweek. Lees gerus haar boek 558 Dae/ 558 Days in die hande kry. In Afr en Engels beskikbaar. Inspirerend!
    • Hulle het ook ‘n gebedsloop gehad op Tukkies kampus.

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Flam 5 – Daar is geen grens aan U guns en genade – sit (groep)

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Lied 400 – Juig, juig in Hom, ons Heiland aan die kruis, tot elke tong en taal Hom eer bewys – staan (orrel) – Koor vers 1 en 2, gemeente vers 3 en 4 – almal keerverse.

Flam 24 – As ek U hemel aanskou – die werke van U vingers – staan (groep)

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Toewyding

Lied 251 – Salig dié wat arm voor God is – hulle erf Gods koninkryk – sit (orrel) – koor vers 2

Doop

Andries en Dinelle Meiring – Ruan

Lied 289 – Jesus, Heer, op wie ons hoop, ons maak soos U ons beveel het – sit (orrel)

Inleiding

Kindertyd

Lofliedjie 19 – Ek is so bly, bly, bly Hy woon in my hart – staan (groep)

Aanbidding

Tyd van stilte. Dink na oor wat die Here vir jou gedoen het, vóór ons saam Hom daarvoor aanbid.

Lied 387:1 – O Heer, uit bloed en wonde, uit kruishout haat en hoon – sit (orrel)

Gebed

Skriflesing en prediking

Matteus 8:1-4 – OMARM: Jesus en die melaatse man: “Ek wil.  Word gesond!”

Een dag in die lewe van Ivan Denisovich

Ek onthou uit my jeug die impak wat Alexander Solzhenitsyn se One Day in the Life of Ivan DenisovichDie Dag van Ivan Denisowitsj – op my lewe gehad het (Haum: vertaal deur Leo van der Westhuijzen).   Met die beskrywing van dié een dag kom jy agter hoe hy dag vir dag die hoop behou, een dag op ‘n slag.

Ivan is in een van Stalin se strafkampe gesit in die koue Siberië omdat hy van drostery uit die weermag aangekla is, ‘n valse klag, maar daarvoor moes hy harde handarbeid verrig in die strafkamp.  ‘n Uitmergelende verhaal van ontbering, maar ook van die triomf van die gees.

Ek onthou hoe Ivan – meesal Sjoekof, sy ander naam, genoem in die boek – dié dag besonder honger was, en met middagete gehoop het dat hy twee bakkies pap sou kon bewerkstellig vir homself deur iets vir die ondervoorman van die gevangenes, Pavlo, te doen.  En ek onthou soos gister die angs wat hy ervaar as hy die eerste bakkie pap te vinnig eet, nie genoeg vertroetel in sy mond nie, en dan agterkom dat hy miskien die tweede bakkie pap gaan mis.  Die eerste bakkie pap voel dadelik vermors.

En ek onthou die vreugde as daardie tweede bakkie pap voor Ivan neergesit word, en Pavlo vir hom omgee, ‘n hart vir hom het, genoeg om vir hom ‘n ekstra bakkie pap te gee.  Ivan het besonder lank aan dié bakkie pap gesuig-eet, elke mondjievol vertroetel in sy mond, die helfte van sy brood in sy sak gebêre om die aand in die bed verder aan te suig-kou.

Só het Ivan dit gemaak regdeur die tyd in Siberië in een van die koudste bewoonde dele wat ons op hierdie aardbol het, deur dag vir dag te lewe, elke dag uit te kyk vir die bietjie omgee wat selfs in dié godverlate plek beskikbaar was, ook soms self ‘n bietjie omgee uit te deel, en wat sy hoop brandende gehou het.

‘n Dag in die lewe van Jesus

Wat Ivan se ondervoorman vir hom gedoen het, doen ons Voorman, ons Leier, die Here Jesus, natuurlik vir ons in oorvloed. Ons hoef nie eers te wonder daaroor nie.  Jesus het ‘n hart wat van omgee oorloop.

Die sien ons in elke dag in Jesus se lewe op aarde.  Elke dag in sy lewe was ‘n beskrywing van die omgee hart van Jesus.  Elkeen van die evangelies beskrywe vir ons ‘n Jesus wat ‘n hart het wat luister, ‘n hart wat omgee, ‘n hart wat liefhet.

Ons teks vir vandag is nie anders nie. Dit gee ‘n merkwaardige beskrywing van ‘n dag in die lewe van Jesus, van die omgee lewe wat Hy gelewe het.

So pas het Hy een van die beste toesprake klaar gemaak wat ooit gehou is, die Bergrede (Matt. 5-7) wat ons ook gesing het met ons verootmoediging.  Dit het in die geskiedenis van die kerk dieselfde impak gehad as wat die wet op Sinai vir die Jode gehad het.  Deurslaggewend, transformerend, ‘n beskrywing van wie God is en wie ons is, en hoe ons met Hom die pad van geregtigheid in hierdie wêreld kan loop.

‘n Groot menigte het Jesus gevolg van die berg af in vervoering oor wat Hy dié oggend vir hulle gesê het.  Aan die voet van die berg het ‘n melaatse man vir Hom gewag en voor Hom kom kniel.

Kom ons lees dit.

Matteus 8:1-4 (BDV)

1Nadat Jesus van die berg afgekom het, het ‘n groot skare Hom gevolg. 2’n Melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.”

3Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil. Word rein.” En sy melaatsheid is onmiddellik genees. 4Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het as bewys vir hulle.”

Hierna sal Jesus nog ‘n Romeine offisier se slaaf gesond wat verlam en in pyn by die huis gelê het.  Hy doen die middag ook aan by Petrus se skoonma wat in die bed was met koors en Hy genees haar ook.  Die aand het baie mense na hom gekom en Hy het hulle ook genees.  Die volgende dag is hulle oor die see van Galilea na die oorkant, die land van die Gadareners waar Hy verder mense genees het, onder andere twee mense wat tussen die grafte gebly het en in die mag van bose geeste was.

Dit is só anders as die meeste van ons!  Die meeste van ons moet ons dwing om vir ander om te gee.  Of ons kry dit reg, maar daar is tog sommige mense wat ons nekhare net laat rys … en dan loop ons verby, soos dié priester en die Leviet.

Jesus is egter die Een wat omgee, en wat deur ons steeds vir hierdie wêreld wil omgee.  Hierdie verhaal wil ons motiveer om ‘n hart soos Jesus te ontwikkel, ‘n hart wat ons ook sal laat omgee soos Jesus.

Die melaatse vra vir reinheid

Let op dat die man nie vir Jesus vra om hom gesond te maak nie (soos sommige vertalings dit vertaal, ook die NAV), maar om hom rein te maak.

Sy behoefte is nie in die eerste plek om gesond te word nie.  Hy kan met die siekte-kant van sy toestand op ‘n manier nog saamleef, al beperk dit sy manier van lewe.  Die melaatsheid wat ons ken, beteken dat jy bv. nie agterkom jy brand nie, want jou pynsensasie verdwyn.  Dit is waarom melaatses baie keer vingers en tone en ander ledemate verloor omdat hulle natuurlike beskermingsmaatreëls – om jou hand weg te ruk as dit brand op ‘n stoofplaat – nie reg werk nie.

Hierdie melaatse se probleem was dus nie die siekte as sodanig nie, maar die feit dat die melaatsheid – die Griekse woord kan eintlik na verskillende velsiektes verwys – dié wat daaraan gely het, kulties onrein gemaak. Dit het beteken dat hulle uit die tempel uitgesluit is, en dus nie vir God kon aanbid saam met ander nie.

Hulle is ook sosiaal verwerp en uitgesluit. Dit was daarom een van die mees gevreesde siektes van die antieke tyd. Jy kon nie meer die Here aanbid saam met ander nie.  Jy kon ook nie meer saam met jou mense in dieselfde huis gebly het nie.  Jy is uitgewerp tot op die rand van die samelewing, waar jy sonder die gemeenskap van ander mense, behalwe mense soos jy, moes sien en kom klaar.  Jy het een van die onsigbares, die onaansienklikes, die onaanraakbares, die “untouchables” geword.

Die melaatse se behoefte is dus in die heel eerste plek om rein te raak, om sy plek in die geloofsgemeenskap en in sy eie familiekring weer te gaan inneem.

Jesus raak die melaatse aan

Dit is waarom die eerste ding wat Jesus doen, is om sy hand uit te steek en aan die melaatste man te vat.  Kyk weer mooi na die teks: Jesus vat aan die melaatse man! Hy raak hom aan.

Vóórdat die man nog genees is, sluit Jesus hom dus met melaatsheid en al in in die gemeenskap met Hom in.  In die taal van die Seisoen van Menswaardigheid, Jesus omarm die melaatse man.

Dit is baie betekenisvol, want dit beteken dat Jesus dit ook van ons vra.  Vóórdat ons nog bid dat mense genees word, moet ons hulle intrek in die gemeenskap met ons. Ons moet genoeg omgee om mense te omarm en deel van ons te maak.

Dit is wat uitstaan van Jesus.  Hy het gevat aan mense.  Uiteraard nie op ‘n verkeerde manier nie, maar om hulle in te sluit, nader te trek, te omarm, welkom te laat voel.

Daarom het Jesus geëet saam met sondaars en uitgeworpenes uit die samelewing. Hy het hulle in sy sosiale kring ingenooi.  Daarom het Hy aan melaatse mense, onrein mense, gevat.

Ons nooi mos mense uit wat soos ons is – en ons vermy mense wat nie aanvaarbaar is in ons sosiale kring nie.  Om die waarheid te sê, ons wil baie keer liewer nie gesien word saam met mense wat nie soos ons lyk nie – siekes, gestremdes, anderskleuriges, andersdenkendes.

Dink maar net aan die xenofobia wat van tyd tot tyd uitbreek in dele van ons land.  En die storm die afgelope paar maande by die universiteite oor witheid en swartheid, oor bevoorregting en benadeling, oor taal en die krag daarvan wanneer dit insluit en ongelukkig ook wanneer dit uitsluit, ten minste in die persepsies wat mense daarvan het.

En dan praat ons nie eers oor die wydverspreide probleem van die vryheid van spraak nie, soos nou onlangs met Penny Sparrow en Gareth Cliff.  Ons sien dit selfs raak in die verskillende persepsies van kleur met die onlangse geval by Stellenbosch van die onskuldige pret met pers.

En ons praat ook nie eers van die vervolging wat steeds op soveel plekke in die wêreld plaasvind nie, Noord-Korea, Irak, Somalië.  Ons sukkel wêreldwyd ook met vryheid van geloof.  Ons sukkel met andersheid.  Ons vat nie aan anderse mense nie.

tukkiesDie omarming van studente van alle tale en kulture by Tukkies – wat by die NGK begin het, terloops, en ook deur ‘n hele paar ander Christelike groepe gedoen is, CCC inkluis – het my dié week geraak waar hulle saamgespan het en gebid en gesing het eerder as om mekaar die stryd aan te sê.  Hulle het daarmee gedemonstreer dat geweld nie die enigste manier is om verskille te hanteer nie, soos dit ongelukkig so hartseer by Kovsies en Mafikeng gebeur het.  Daar is ander maniere moontlik om gemoedere te laat bedaar en mekaar te omarm die toekoms tegemoet.

Omarming is een van die waardes wat ons in hierdie tyd van storm en drang kan help om lewensruimtes vir mekaar te skep, mekaar as mense raak te sien, en te help om ons volle potensiaal te ontwikkel. Ons moet mekaar help bou aan ‘n toekoms vir almal.

Ook die toekoms van dié wat skaars genoeg het om van te eet, bykans twintig miljoen mense in ons land leef op of onder die broodlyn, gedefinieer as R800 ‘n maand per persoon, as ek die syfers kan vertrou.  Voeding en opvoeding is die sleutel tot die verskil wat ons in die land gaan maak, die tipe omarming wat van ons toenemend gevra sal word.  En ons sal moet volhard daarmee al gebeur dit binne die storm van politiekery en blaamverskuiwing.

Jesus is anders.  Hy gee om.  Hy omarm.

Jesus het ‘n hart vir mense.  Jesus gee om vir mense.  Hy sluit in en Hy verwelkom, presies dit wat een van die sleutelwaardes van ons gemeente is.

Trouens, Jesus het toegelaat dat mense aan Hóm vat.  Hy het ook die omgekeerde gedoen as waarvan in ons teks gepraat word!

Hy het die siekes toegelaat om aan Hom te vat – die vrou met bloedvloeiing wat aan sy kleed gevat het en genees is (Lukas 8), die sondige vrou met die albaste fles met olie wat sy voete gesalf het (Lukas 7).

Jesus het selfs toegelaat dat Judas aan Hom vat, Hom met ‘n broederlike kus verraai, wat die proses in werking gestel het dat Hy onregverdiglik aan ‘n kruis gespyker word, dat hulle hom slaan met ‘n sweep, ‘n doringkroon op sy kop druk, spykers deur sy hande dryf, kaal vertoon word op ‘n kruis, sy sy met ‘n spies deurboor.

En ons weet dít is die genade wat Hy aan ons bewys het.  Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Daarom roep Jesus ons op om nie soseer op ons regte te staan nie, maar ruimte vir alle soorte mense te gee, sodat ons transformerend kan optree, dinge kan verander, eerder as om ander net op hulle plek te sit.

Omgee is een van ons sleutelwaardes, soos dit hier voor op die banier geskryf staan.  En Jesus wys vir ons met die verhaal van die melaatse hoe ons dit moet doen.  Ons moet ander mense aanraak, intrek, welkom laat voel, omgee, in die taal van die Seisoen van Menswaardigheid, mekaar omarm.

Jesus herstel hom in die geloofsgemeenskap

Natuurlik genees Jesus ook die melaatse, maar dit is amper bysaak.  Die hoofsaak is dat Hy hom intrek in die godsdienstige en sosiale ruimte in.  Dit is waarom Jesus, nadat Hy hom genees het, aanraai om die wetlike voorskrif na te kom, ‘n offergawe in die tempel, sodat die Joodse gemeenskap ook erkenning sal verleen aan sy genesing en sy gevolglike reinheid.

Jesus wil hê dat ons dieselfde doen. Dit is ons roeping as kerk: om mense in te nooi en in ons kring te verwelkom.

Ons het nodig om omarming in te oefen

Dit gebeur natuurlik nie outomaties nie.  Jan Johnson sê hieroor dat, omdat omgee nie vir ons natuurlik kom nie, omdat ons nie so maklik ander mense intrek en “embrace” nie, het ons nodig om ons doelbewus in te stel om mense te help, téén ons natuurlike grein in: “Since compassion doesn’t stream from most of us as naturally as it did from Jesus, we need regular spiritual practices to learn how to have compassion and show compassion.

Dit kom nie natuurlik nie.  Nie vir my nie, en waarskynlik ook nie vir jou nie.

Hoe kan ons dit dan inoefen?

Om ander te omarm, kom wanneer ons prakties daarop fokus, wanneer ons dit as ‘n geloofgewoonte doen, en dit gereeld beoefen. Dit is immers wanneer ons iets beoefen, as ons dit in oefen, dit gereeld doen, dat dit al hoe meer natuurlik kom, die “accidental obediences” waarvan Jan Johnson praat.

Dit is soos Gary Player oor sy golf sê: “The harder I practice, the luckier I get.” Bedoelende, hoe meer hy oefen, hoe beter speel hy.  Dit lyk later asof hy net gelukkig is deur die bal so naby die pen te slaan.  Maar, agter dié geluk lê die oefening, baie daarvan!

Dit is dieselfde met omarming.

Omarming beteken om iemand om die skouer te vat en saam met hom of haar die pad te stap.  Dit sluit soms in dat ‘n mens ‘n skouer gee om op te huil.  Dit beteken soms dat jy iemand beskerm van ander wat aanvallend optree.  Dit beteken soms dat jy iemand regop hou en sorg dat hy of sy nie die pad byster raak of ineenstort onder een of ander las nie.

Omarming beteken dat jy jou gawes en vermoëns tot ‘n ander mens se beskikking stel en van naby af, met jou hele menswees, iemand begelei op sy of haar pad.  Prakties.  Konkreet.

Raak prakties

Omarming is ’n lewe van diens, ʼn lewe waarin ander mense se belange vir jou net so swaar weeg soos jou eie, ʼn lewe waarin jy jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik om vir ander te sorg, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom.

Maar, belangrik, nie op ‘n afstand nie.  Omarming beteken om in te trek in, om te raak aan, om jou arm om iemand anders se skouer te sit en hulle saam met jou te neem.  Dit is wat die Engelse “embracing” immers beteken.

Hier is ‘n paar praktiese opsies:

  • Vra vir iemand: “Wat kan ek vandag vir jou doen?” Dit kan iemand in jou familie of in jou vriende- of werkkring wees. Dit kan iets klein of groot wees. Dit kan iets moeilik of maklik wees. Dit is hoe Jesus deur jou kan omgee en iemand kan omarm.
  • Wees op die uitkyk vir iemand wat die Here oor jou pad stuur wat omarming nodig het. Moenie dit ignoreer nie, en doen wat die Here op jou hart lê.
  • Dink aan wie die mense is wat ons gemeenskappe as “melaats” behandel? Wat sosiaal en/of godsdienstig uitgesluit word? En vra jouself af hoe ons met ’n hart soos Jesus teenoor hulle kan optree en hulle kan omarm.

Oefen omarming tot dit deel van jou “geestelike geheue” raak

Ons almal ken die konsep van ‘n “muscle memory”.  Jy oefen jou gholfswaai in totdat dit deel van jou lyf se fisiese geheue word.  Só het ons leer fietsry, en selfs al het jy jare nie gery nie, onthou jou liggaam hoe om dit te doen, as jy weer op ‘n fiets klim.

Op dieselfde wyse kry ons ‘n “spiritual memory”, as ons fokus op ‘n geloofsgewoonte. Jy oefen ‘n geloofsgewoonte in – gebed, omarming, Bybellees – totdat dit deel van jou geestelike geheue word.  Dán vergeet jy nooit weer nie!

Dieselfde met omarming.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Koor – Here Jesus (Pie Jesu)

Slotsang

Lied 524:1-2 – God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – staan (orrel)

Seën

Amen

Respons

Lied 524:3 – Ek hoor U roep; ek ken u stem; ek luister na u woord – staan (orrel)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.