Skip to main content

Droogte – 2 Kronieke 7:11-16

Dit is heerlik om hierdie belofte van God te hoor: “As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Dit is een van die wonderlike beloftes van die Here in die Woord. Hy sal hoor, Hy sal vergewe, Hy sal genees. En waar die probleem droogte is, sal Hy reën gee. Waar dit verwoesting is deur sprinkane, sal Hy vrugbaarheid verseker. Waar dit allerhande pestilensies is wat ons tref, sal Hy genesend optree.

God belowe dat Hy sal voorsien.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely oor God se voorsienigheid: “dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”(artikel 13 – vgl Joh 5:17).

Dit is God se belofte aan ons. Dit is wat ons van God kan glo. Dit was ons van God moet glo. Dat Hy voorsien. Dat Hy sy beloftes hou. Dat Hy hoor, vergewe en genees.

Dit beteken, sê die NGB, dat: “niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).”

Dit is ‘n onuitspreeklike troos vir ons. ‘n Belofte waarop ons onsself kan verlaat, soos die NGB sê: “omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

As dít is hoe God in die Bybel geteken word, en ons geloofsbelydenisse dit vir ons onderstreep, hoekom het ons dan droogte? In die woorde van ons Pinkstertema: “Wanneer kom die reën?

En dit gaan nie net oor die droogte nie. Dit gaan ook oor daardie tender. Dit gaan ook oor daardie hofbevel. Dit gaan ook oor jou swaarkry weens ander se nalatigheid. Dit gaan ook oor dié dinge wat nie uitwerk soos jy dit graag wil hê nie. Al stort jy jou hart in jou gebede voor die Here uit. Waarom gryp die Here nie in nie?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Moedersdag

Stephen Lungu video: Trained to kill – bemarking met die oog op 3 Junie se eredienste

Inleiding

Wanneer kom die reën?

Dit is ‘n saak wat swaar lê op baie van ons se harte. Die stand van die damme in die Wes- en Oos-Kaap. Dit is regtig droog. Dis vreeslik om die droë beddings van die opgaardamme op foto’s te sien. En te sien hoe jou tuin agteruit gaan. En die “stop-start-stort” is regtig nie lekker nie!

Ons het nou al talle verootmoedigingsdienste gehou. Ons glo God sal voorsien, en ons het al stukkies reën gekry, ook die dag toe ons 14 Februarie saam hier in die kerk gebid het, maar die volledige vervulling van sy beloftes neem, lyk dit, baie lank! ‘n Mens raak moedeloos gewag!

Wanneer kom die reën?

Ons beleef tog soveel genade. Van julle het met my beloftes gedeel wat vir julle waar geword het. ‘n Kind wat keuring kry vir ‘n kursus, teen alle verwagting in. Suiwer genade! Ook God se voorsiening in die klein dingetjies. ‘n Veilige reis. ‘n Gerieflike parkeerplek. Niks is mos toevallig nie!

Wanneer kom die reën dan?

Dit gaan ook nie net oor die fisiese droogte in ons land nie. Daar is ook droogte in baie van ons se geestelike lewens. Die kerk loop leeg. Die toewyding verslap. In leer en lewe. Die gehegtheid aan die Here en sy mense raak al hoe minder.

En selfs by baie van dié wat die Here dien en in alles toegewyd leef, is daar droogte.

  • Sommige van ons is juis gehoorsaam aan ‘n opdrag, ‘n roeping wat die Here vir ons het; ons doen wat die Here van ons vra, maar dit werk nie uit soos ons verwag het nie. In plaas van sewe vol jare, beleef ons sewe maer jare. Al is ons steeds gehoorsaam.
  • Jy voel geroepe om ‘n tender in te dien, en jy is die goedkoopste met die mees omvattende diens, maar die telkaart is teen jou. Daar word openlik gediskrimineer teen jou.
  • Of jy is vasgevang in ‘n situasie waarin hofbevele nie uitgevoer word nie, selfs al is ‘n saak lankal in jou guns besleg, maar jy is afhanklik van die uitvoering daarvan.

Die tema van hierdie Pinkster is dus ook ‘n metafoor vir die vraag na die vervulling van God se beloftes – letterlik en geestelik. Wanneer kom die reën dan?

En om hierdie vraag te antwoord, moet ons gesels oor dinge soos: Is daar vir alle behoeftes beloftes? Hoe werk God se voorsiening? Is daar voorwaardes aan God beloftes gekoppel? Watter rol speel geloof? Geduld? Volharding? Wanneer kom die vervulling?

Kortom, wanneer kom die reën?

Die Here het vir my ‘n belofte gegee vir hierdie Pinkster wat ek aangegryp het en wat ek aan julle wil verkondig:

En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil 4:19)

Ek wil jou uitnooi om jou behoeftes met my te deel. Per e-pos. Per telefoon. Anoniem op ‘n stukkie papier in die kerkkantoor. Ook beloftes wat vir jou betekenis het. Ook vervullings wat ons ander kan bemoedig.

Ek gaan elke aand geleentheid gee vir gebed. Ook bid vir jou en jou behoeftes. Anoniem of voor in die liturgiese ruimte. En beskikbaar wees vir gesprek elke aand, elke dag. By die kerk. Of by ‘n plek wat jy verkies. Bel my net om ‘n afspraak te maak.

Toetrede

FLAM 22 Ek soek U, o God, my God

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 518 Voel jy soms of die Here te vér is

Toewyding

Vonkk 146:1-2 My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, o Heer

Aanbidding

Vonkk 53 Skuil by die Vader

Kindertyd

Ek wil met julle praat oor God se voorsienigheid. Dit is ‘n groot woord, nê? Wat dink julle is voorsienigheid? Dit is hoe God vir ons voorsien. Wat Hy vir ons gee.

Wat gee God alles vir ons? Alles wat ons het. Alles wat ons is. Alles wat ons nodig het.

Soms wil ons een ding hê, maar dan kry ons dit nie. Hoekom?

Ek wil vir julle ‘n ware verhaal vertel. Skrywer Kate Montaung vertel dat haar kinders vreeslik uitgesien het dat hulle gaan bootry die Saterdag. Het julle al op ‘n boot gery? Dit is lekker nê!

Die Saterdag reën dit egter só dat hulle besef hulle kan nie gaan nie. Hulle besluit toe om die beste van die slegte saak te maak. Kate besluit hulle gaan hulle kelderverdieping regpak. Nogal ‘n verskil nê!

Skielik is daar egter net water waar jy kyk. Die kelder begin vol loop met water. En hulle besef, daar moet geute verstop wees met blare. En hulle begin in die reën die blare uithaal om te keer dat die kelder heeltemal vol water word.

Terwyl hulle so natreën buite sê die sewejarige seun vir sy ma: “Dit is goed dat ons by die huis gebly het. Anders het ons hele kelder vol geloop met water.”

Toe kon Kate met hom gesels oor God se voorsienigheid. God gee nie altyd wat ons wil hê nie. Soms is dit omdat dit nie goed is vir ons nie. Soms is dit omdat Hy iets beters vir ons wil gee. Soms is dit sodat ons kelder nie vol water loop nie.

Dit is hoe God vir ons sorg. Die boot sou lekker gewees het. Maar as hulle kelder vol water geloop het, sou hulle gou-gou vergeet het van die boot. En dit sou so moeilik gewees het om alles weer reg te kry.

Ons kan God dus vertrou dat Hy vir ons presies gee wat ons nodig het.

Gebed

Lied 442 (4x Afr, Eng, Afr, Eng) Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my

Skriflesing

Van ons kleingroepe het dié week gelees uit 1 Konings 8:54-61. Ons lees in vers 56 die volgende uitspraak oor God se beloftes:

56”Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.” (OAV)

Die 1983 Vertaling vertaal: “Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie.” Want dit is inderdaad hoe ‘n mens God se “goeie woorde” kan vertaal. As sy “goeie beloftes”. Hebreeus het immers nie ‘n woord vir beloftes nie. Gewone woorde word in die betekenis van belofte gebruik.

Salomo verkondig – aan die einde van die inwyding van die tempel – in die uitspreek van die seën oor Israel hierdie ongelooflike waarheid. Dat God sy beloftes hou.Dit is die basis waarop hulle kan vertrou dat God ook elke gebed wat tot Hom in die toekoms gerig sal word, sal antwoord. Want, God hou sy beloftes.

Maar as dié proses in die tempel afgehandel is, lees ons in 2 Kronieke 7 die volgende:

2 Kronieke 7:11-16

11En toe Salomo die huis van die Here en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die Here en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het, 12verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ’n offerhuis verkies.

13As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. 15Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek. 16So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.

Prediking

God hoor, vergewe en genees

Dit is heerlik om hierdie belofte van God te hoor: “As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hooren hulle sonde vergeween hulle land genees.

Dit is een van die wonderlike beloftes van die Here in die Woord. Hy sal hoor, Hy sal vergewe, Hy sal genees. En waar die probleem droogte is, sal Hy reën gee. Waar dit verwoesting is deur sprinkane, sal Hy vrugbaarheid verseker. Waar dit allerhande pestilensies is wat ons tref, sal Hy genesend optree.

God belowe dat Hy sal voorsien.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely oor God se voorsienigheid: “dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”(artikel 13 – vgl Joh 5:17).

Dit is God se belofte aan ons. Dit is wat ons van God kan glo. Dit was ons van God moet glo. Dat Hy voorsien. Dat Hy sy beloftes hou. Dat Hy hoor, vergewe en genees.

Dit beteken, sê die NGB, dat: “niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).”

Dit is ‘n onuitspreeklike troos vir ons. ‘n Belofte waarop ons onsself kan verlaat, soos die NGB sê: “omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

Martin Manser som God se voorsienigheid kort en kragtig op:

The continuing and often unseen activity of God in sustaining his universe, providing for the needs of every creature, and preparing for the completion of his eternal purposes.[1]

Douglas Blount sê in sy artikel Providence[2]die volgende:

so all encompassing is God’s attention to events within creation that nothing—not even the casting of lots—happens by chance (cp. Prov. 16:33).

Hoekom beleef ons dan droogte?

As dít is hoe God in die Bybel geteken word, en ons geloofsbelydenisse dit vir ons onderstreep, hoekom het ons dan droogte? In die woorde van ons Pinkstertema: “Wanneer kom die reën?

En dit gaan nie net oor die droogte nie. Dit gaan ook oor daardie tender. Dit gaan ook oor daardie hofbevel. Dit gaan ook oor jou swaarkry weens ander se nalatigheid. Dit gaan ook oor dié dinge wat nie uitwerk soos jy dit graag wil hê nie. Al stort jy jou hart in jou gebede voor die Here uit. Waarom gryp die Here nie in nie?

Droogtes kom van mense af

Ek dink die eerste ding wat ons moet onthou, is dat ons nie die enigste persone is wat betrokke is in die lewe nie. Droogtes kom ook van mense af. Dit is eintlik vanselfsprekend, gegewe ons sondigheid.

Op ‘n menslike vlak maak mense foute, begaan hulle oortredings, sondig hulle, en dit het gevolge vir ander. Selfs in terme van die droogte. As die regerings op die verskillende vlakke hulle werk sou gedoen het, sou hulle voorsiening gemaak het vir die maer jare wat ons op die oomblik beleef. En sou die damme in ‘n beter situasie gewees het.

Alles kan nie blameer word op die weer nie. Die beplanning vir ons streke was beroerd. En ‘n mens hoop die leiers leer uit die gevolge van hulle nalatigheid.

Ons moet ook onthou dat dinge soos tenders en die nakoming van hofbevele afhanklik is daarvan dat mense volgens die reëls van die samelewing speel. En dit weet ons is glad nie so eenvoudig nie. Veral nie by mense wat die Here nie dien nie, en wat daarom hulleself nie hou aan die waardes wat die Here Jesus ons geleer het nie. Dit is selfs waar van mense wat oënskynlik die Here dien, maar ‘n streep daardeur trek met hulle gedrag en besluite.

Droogtes kom van die Bose af

Daar is in die tweede plek ook ‘n geestelike stryd aan die gang waarin die magte van die duisternis doelbewus dinge moeilik maak vir gelowiges. Trouens vir almal wat nie saamsing met die deuntjie van die samelewing nie. Politieke korrektheid is die vloek van ons tyd, waarin beginsels nie meer oorheers nie, maar die wil van die meerderheid.

Baie Christene in die Weste begin lei as gevolg van hulle getrouheid en gehoorsaamheid aan die Woord. Hulle lei ekonomies. Hulle lei sosiaal. En dan praat ons nie eers van die verdrukking in meer as 110 lande wêreldwyd waar soms die blote besit van die Bybel tot die doodstraf kan lei. Noord-Korea, China, Jemen, Somalië en so kan ek aangaan.

En dit is ‘n mag wat nie net in politieke, ekonomiese en kulturele leiers setel nie. Ons stryd is immers: “nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12).

Ons leer van die effek hiervan reeds in die OT. Daniël moes drie weke wag voor hy die antwoord van die Here gekry het om die boodskap wat God reeds gegee het, te kon verstaan (Daniël 10). Dit was weens die magte in die lug, die engele wat oorlog voer in die geestelike sfeer.

Paulus moes rekening hou met ’n doring in die vlees, “’n engel van die Satan’ om hom met die vuis te slaan, dat hy hom nie sou verhef nie.”(2 Kor 12:7).

Droogtes kom dus ook van die Bose af.

Droogtes kom van God af

Maar, hierdie verklarings is net ten dele. Die werk van mense, en die werk van die Bose, en die werk van watter ander agent ook al, is almal uiteindelik onderworpe aan die werk van God.

Ons moet daarom in die derde plek rekening hou met wat die Here self doen. Droogtes kom ook van God af.Dit is wat ons teks sê: “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie …

Dit is die Bybelse wêreldbeeld. Dat God tot in die fynste detail van hierdie lewe betrokke is. Dat Hy die gang van die lewe bepaal. Ons is nie uitgelewer aan ‘n veraf God nie, die God van die deïstenie. God is naby en volledig betrokke. Ons is ook nie uitgelewer aan blote toeval nie, die god van die fatalistenie. God is aan die stuur van sake om dit te bestuur volgens sy wil (vgl Douglas Blount se uitstekende bydrae hieroor – verwysing boontoe).

Die hele Bybel dra hierdie boodskap

En hierdie Bybelse wêreldbeeld is nie net een wat in die OT voorkom, soos só baie dwaalleraars verkondig nie. Die leerstuk van God se voorsienigheid kom ook regdeur die NT voor.

Jesus wy uitvoerig daaroor uit. Dat God kan voorsien in elke behoefte van dié wat werk vir God se koninkryk en sy geregtigheid (Matt 6). Dat al die hare van ons hoof getel is (Matt 10). Dat selfs in siekte God sy heerlikheid wil wys (Joh 9).

Trouens, die Hebreërskrywer herinner ons daaraan dat dit Jesus is wat regdeur die geskiedenis: “alle dinge dra deur die woord van sy krag.” (Hebr 1:3). Vandag nog!

Hierdie belydenis oor God wat in alles betrokke is, het die eerste gemeente gedra in hulle nood. Ons lees in die gebed wat hulle bid – toe die Joodse Raad hulle dreig om nie langer in die Naam van Jesus die evangelie te verkondig nie – dat dit deel is van God se werk. Dat die Joodse Raad se dreigemente in sy plan inpas: “om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.” (Hand 4:28).

En hierdie voorsienigheid van God word die basis vir hulle gebed dat hulle ten spyte van die dreigemente en die gevaar die vrymoedigheid sal hê om die evangelie te bly verkondig, soos hulle die opdrag van God gekry het. En die gebou skud en hulle word nóg ‘n keer met die Heilige Gees vervul.

Ook Paulus eggo hierdie voorsienigheid van God op talle plekke in sy briewe dat God: “alles werk volgens die raad van sy wil.”(Ef 1:11). Aan die een kant dien sy voorsienigheid tot sy heerlikheid en ons heiliging. Maar aan die ander kant is God selfs betrokke by dié mense wat dit nie die moeite werd geag het om Hom in erkentenis te hou nie: “God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie.” (Rom 1:28).

Daar is uiteindelik niks waarby God nie betrokke is nie. Die goeie en die slegte. Die reën en die droogte. Die oorvloed en die gebrek.

Droogtes kom dus ook van God af.

Twee versoekings: deïsme en fatalisme

‘n Ietsie meer oor die deïsme en fatalisme, die heersende wêreldbeelde van ons tyd.

Deïste dink dat die Here die heelal soos ‘n kolossale masjien vervaardig het en nou gaan alles deterministies voort volgens die natuurwette. Niemand kan daaraan iets verander nie. Dit is egter vals, omdat die Skrif vir ons sê dat God in alles betrokke is. Selfs die hare van jou kop is getel, sê Jesus.

Deïste dink dat die wêreld volgens die natuurwette verloop en dat niks dit kan omverwerp nie. Maar hulle maak nie die onafwendbare konneksie met Iemandwat daardie wette geskep het en steeds aktief is in hierdie wêreld nie. Die natuurwette is niks meer nie as beskrywings van hoe God in hierdie wêreld werk nie. Die natuurwette het geen inherente krag nie. Hulle werk nie vanself nie. Die natuurwette is deel van God se voorsienigheid.

Deel van ons bekering hierdie Pinkster is om van hierdie idee oor ‘n veraf God tot bekering te kom. Dat jy dink dat God ‘n veraf God is. Dat jy dink dat Hy nie by elke deel van jou lewe betrokke is nie. Want, dan sal jy Hom nie net erken as die God wat naby is nie, maar Hom herken in die gang van jou lewe.

Fataliste dink dieselfde as die deïste, hoewel met nog minder van ‘n konsep van God. Alles wat gebeur, moes gebeur het, en kon nie anders gebeur het nie. Ons het geen beheer oor die verloop van sake nie. Ons is dus ook nie persoonlik verantwoordelik daarvoor nie. Ons is uitgelewer aan ons eie begeertes en behoeftes. Ons kan dit nie keer nie. Ons kan nie anders optree as dit wat met ons menswees vir ons gegee is nie.

Dit is egter ook vals, omdat die Skrif vir ons sê dat ons keuses het en dat ons verantwoordelik is vir ons keuses. Dat God ons verantwoordelik kan en sal hou om in ooreenstemming met sy wil vir die lewe, en nie in ooreenstemming met ons begeertes en behoeftes op te tree nie.

Deïste beperk God se rol in die geskiedenis. Fataliste beperk menslike verantwoordelikheid vir hulle dade. Beide maniere van dink en doen, is onbybels en vals.

Jy moet dus ook van die fatalisme tot bekering kom. Die idee dat God jou nie verantwoordelik sal hou vir dié dinge wat teen sy wil is nie, is vals en misleidend. Jy is nie uitgelewer aan jou begeertes en behoeftes nie. Jy is verantwoordelik vir jou lewe voor God. En Hy het die finale sê oor alles wat jy dink en doen.

Kennis van God en die mens kom uit die Woord, nie uit jou subjektiewe ervaring nie

Dit beteken dat jy sal moet buig voor die wyse waarop die Bybel oor menswees praat. Ons kennis van God en ons kennis van die mens kom nie uit ons subjektiewe belewenis van die werklikheid nie, maar vanaf ‘n openbaring wat ons in die Woord, die Bybel wat aan ons oorgelewer is, vind.

Ons kennis van God en van hoe mense hulle saak met God kan regstel, kom van buite af, van Bo af, soos die Gees die Woord aan ons harte bring en dit daar laat vrug dra. Jy kan nie maar doen wat jy wil nie. Jy kan nie maar doen wat die samelewing goedkeur nie. Jy moet die Woord van God gehoorsaam en in elke detail daarvan, soos die Gees dit vir ons interpreteer en ons daarin begelei.

Gebed en bekering

Wat moet ons dan doen? Wat moet ons doen as ons verswelg word onder die skroeiende son van die droogte, of dit nou fisies is, en of dit nou geestelik is? Of dit nou vanweë mense is, is of vanweë die Bose, óf van vanweë God se eie besluit.

Daar is maar net een manier:

As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë …”

Dit is wat ons moet doen, persoonlik en gesamentlik. Om die Here – wat in die laaste instansie in beheer is van hierdie lewe – te nader; om jou voor sy aangesig te verootmoedig, om tot Hom te bid, om sy aangesig te soek terwyl jy jou bekeer van jou verkeerde weë.

Daar is dus twee goed wat ons doen. Gebed en bekering.

  • Die een het te make met ons gedagtes. Ons fokus dit op God self. Die Een wat nie veraf is soos die deïste dit interpreteer nie.
  • Die ander het te make met ons gedrag. Ons fokus dit op God se wil soos Hy dit in die Woord openbaar. Nie op ons eie behoeftes soos die fataliste dit interpreteer nie.

Dit is die sleutels wat die verhouding met God nie net vir ons oopsluit nie, maar lei tot vergifnis en genesing, tot die vervulling van God se beloftes, tot die oopsluit van die hemel en die gawe van reën.

God hou sy beloftes

Dan kan ons die belofte van God omarm, want ons kan rekening hou daarmee dat God aktief is in hierdie wêreld. Sy beloftes is vir dié wat Hom dien en aan Hom gehoorsaam is. Luister net na hierdie drie:

  • Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spr 3:6). Soek God se wil in alles, en Hy sal jou paaie gelykmaak!
  • Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”(Matt 6:33). Soek God se wil, en doen sy wil, en Hy sal vir jou gee wat jy nodig het!
  • En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Rom 8:28). Bly in die liefde van God, en alles sal ten goed meewerk!

Die Here se Woord is vol van beloftes wat Hy deur die eeue gegee het, en wat Hy op soveel wyses gewys het dat Hy dit kan vervul. Regdeur die geskiedenis. Dit is waarom die vervulling van sy beloftes in die Bybel so belangrik is. Sodat dit vir ons voorbeelde kan wees wat ons aanmoedig en bemoedig en uitnooi om hierdie God te vertrou.

God gee beloftes vir Noag, en Hy vervul dit. God gee beloftes vir Abraham en Hy vervul dit. God gee beloftes aan die volk in Egipte en Hy vervul dit. Aan Moses in die woestyn, aan Dawid in die land, aan Salomo met die tempel, aan die profete oor die toekoms, aan Jesus vir sy bediening, aan die kerk vir die koninkryk.

Trouens, daar is beloftes in die Bybel vir omtrent elke behoefte waaraan jy kan dink, selfs vir dinge waaraan jy nie gedink het nie. Herbert Lockyer het ‘n omvattende boek hieroor geskrywe en 7 487 beloftes van God aan mense getel en gekategoriseer (gebaseer op die navorsing van ‘n onderwyser Everet Storm van Kanada – All the Promises of the Bible).

Beloftes vir hierdie lewe en die lewe hierna. Vir huwelike en jou nageslag. Vir die omgewing en die samelewing. Vir jou geestelike behoeftes en jou liggaamlike en sosiale behoeftes.

En dan het ‘n mens nog nie eers die potensiële beloftes in die Psalms bygereken nie, want omtrent elkeen van die 2 461 verse van die 150 Psalms is ‘n moontlike belofte. En moenie die 915 verse in Spreuke vergeet nie. Talle daarvan is beloftes wat ons vir onsself kan toeëien.

Wag op God se beloftes

Ek nooi jou dus uit om op God se beloftes te wag hierdie Pinkster. Trouens, dit is swak gestel. God nooi ons uit om op Hom en sy beloftes te wag: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.” (Ps 130:5-6).

Dit is noodsaaklik om by hierdie perspektief te begin, want ons leef in ‘n omgewing waar mense selfvoorsienend is, só selfvoorsienend dat hulle oë toe is vir wat God wel vir hulle gee.

En gee vir jou hier alreeds vyf beloftes (saam met die vorige drie hierbo) – sommer gekies omdat dit vir my aanspreek – wat jy solank kan deurlees en déúr bid om onder die indruk te kom van wat God vir jou in gedagte het. En onthou daar is talle meer (aan die einde gee ek ook die volledige hantering van die onderwerp van God se voorsienigheid in ons belydenisskrifte):

1. GOD HOU SY BELOFTES: Om op God se beloftes te wag, omdat jy daarop vertrou, beteken in die eerste plek dat jy glo dat Hy sy beloftes hou, dat Hy kan en sal voorsien, dat Hy vóóraf al kan bepaal wat ‘n mens nodig het op ‘n spesifieke plek in jou lewe. Soos die Psalmis sê: “U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.” (Ps 5:4).

2. GOD IS MAKLIK BEREIKBAAR IN BENOUDHEID: Dit beteken om in die tweede plek rekening daarmee te hou dat God vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag is; dat Hy as hulp in benoudheidmaklik bereikbaaris. Soos die Psalmis ook sê: “Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge in die hart van die see wankel nie; sy golwe kan maar onstuimig wees en skuim, berge kan maar bewe in die bruisende watermassa. Sela” (Ps 46:2-4).

3. GOD SAL GOED VIR JOU WEES: In die derde plek kan ons vertrou op hierdie God dat Hy vir ons goed sal wees. Soos die Psalmis sê: “Ja, ‘n son en skild is die HERE God; genade en eer is wat die HERE skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.”(Ps 84:12; vgl Ps 34:9-10). God is nooit te vroeg nie, nooit te laat nie, altyd betyds.

4. GOD IS DIE GOD WAT VOORSIEN – JAHWE-JIRE: Ons het nodig om God as Jahwe-Jirete leer ken, die Here wat sien, die Here wat voorsien. “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.”(Klaagliedere 3:25-26) Trouens: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.”(Klaagliedere 3:22b-23a).

Die beskrywing van God as Jahwe-Jire beteken dat Hy “Jahwe sien” is, of “Jahwe sal voorsien”. Dit is die beskrywing wat van God gebruik is toe Hy ‘n ram voorsien het vir Abraham om te offer in die plek van Isak op die berg van die Here. Dit het ‘n naam van God geword waarmee Hy as Voorsienerbekend geword het. Dit het die geloof gevestig in Israel: “Op die berg van die Here word voorsien.” (Gen 22:14). Dws, waar ‘n groot offer nodig is, waar God van ons gehoorsaamheid vra, waar ons in gehoorsaamheid optree, daar is die Here Jahwe-Jire, die Here wat raaksien, die Here wat voorsien.

5. OMVATTENDE ONHEIL OORVAL NIE DIE REGVERDIGE NIE: God se belofte van sy bewaring en beskerming geld selfs in die uiterste omstandighede: “Omvattende onheil (aven) oorval nie die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk.” (Spr 12:21 – eie vertaling).

Die woord onheil (aven) wat hier gebruik word, word op verskillende maniere verstaan. Gewoonlik word dit in die effek op jouselfuitgelê – skade, moeilikheid – as ‘n gevolg van ander se goddeloosheid (wickedness) en die effek wat dit op jou het.

Ander, onder andere die Joodse geleerde Rashi, verstaan dit egter só dat ‘n regverdige nie opgevang sal word in goddeloosheid nie, in die effek wat jy op ander se lewesal hê, Dws die regverdige sal bewaar word van ‘n bose uitwerking op ander se lewe. ‘n Interpretasie wat ons ook die Ons Vader gebed anders sal laat lees, dat die Here ons sal bewaar daarvan om bose dinge te doen. Dat ons nie self in boosheid sal verval nie.

Gebed

Dankoffers

Ensemble: Vonkk 174:1-2

Slotsang

Vonkk 174:3-4 Strome van seën uit die hemel gee God aan ons deur sy Gees

Seën

Respons

Vonk 174:4 Refrein: Strome van seën, gee dit in oorvloed, o Heer, dat ons kan groei en kan vrugdra, daagliks kan leef tot u eer– staan

Orrelnaspel

Henk van Zonneveld van Nederland – onthou sy konsert in ons kerk 24 Mei!

Belydenisskrifte oor God se voorsienigheid

Nederlandse Geloofsbelydenis 13

DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheld en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.

Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.

Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh 3:8; Gen 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

Heidelbergse Kategismus Sondag 9

26 Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan (f) en ook as ‘n getroue Vader wil doen (g).

(a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.

Heidelbergse Kategismus Sondag 10

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.

My eie antwoord op God se voorsienigheid

In my boekie: Wie is God? Vraag 4 – Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het?

Antwoord

God het alles wat bestaan goed gemaak deur sy Woord. Hy laat niks aan toeval of geluk oor nie. Hy onderhou en regeer my deur sy ewige raad en voorsienigheid om volgens sy heilige wil te floreer. Niks gebeur in hierdie wêreld sonder sy beskikking nie. Ek kan in alle teëspoed geduldig en in alle voorspoed dankbaar wees.

Joh 1:1-5; Gen 1:1,31; Ps 33:4-9; Matt 6:25-26; Rom 8:28 (NGB 13-14; HK 26-28; Westminster Geloofsbelydenis 5.1)

[1]Manser, M.H., 2009. Dictionary of Bible Themes: The Accessible and Comprehensive Tool for Topical Studies, London: Martin Manser.

[2]Blount, D., 2003. ProvidenceC. Brand et al., eds. Holman Illustrated Bible Dictionary, pp.1340–1342.

 

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.