Skip to main content

Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig

Bloemendal 13 Maart 2016

Pa- en Ma-Koedoe moes vir twee dae na ‘n ver plek vir noodsaaklike sake vertrek.  Hulle roep hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes moet bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier gaan nie, want daar skuil gevaar.  Koning Leeu is in die omgewing en ‘n hele klomp luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dis doodsake.  Die klein koedoetjies beloof hand en mond hulle sal gehoorsaam wees.

Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  Dit gee ‘n vreeslike soektog af.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie?” vra Oupa-koedoe, ‘n ringkop in die koedoe-familie.  Einde ten laaste, toe dit al amper donker was, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op ‘n klomp klein koedoe-ore af wat daar teen die rivier se wal lê.  Leeu-spore lê die hele wêreld vol. Die oortjies is al wat van die ongelukkige koedoes oorgebly het.

“Nee,” sê pa- en ma-koedoe, “dis beslis nie ons kinders se ore nie, want ons kinders hét nie ore nie!”

Daar was al baie hartseer en ongeluk in die wêreld omdat mense nie luister nie.  Hulle hoor, maar ook nie regtig nie.  Hulle luister na mekaar, maar sukkel om verby hulle vooroordele te kom.  En hulle sukkel veral om werklik die Here só te hoor dat hulle kan reageer op wat hulle hoor en die Here kan gehoorsaam.

Hoekom anders sukkel ons só om as kerk van die Here Christus die pad na eenheid te loop?  Hoekom anders sukkel ons só om as kerk van die Here Jesus Christus die etiese kwessies van ons tyd uit te sorteer?  Hoekom anders sukkel ons só om as kerk van die Here Jesus regtig na die Bybel te luister, en regtig te hoor wat die Here daarin sê?  En dieselfde geld die geweldige uitdagings wat ons op ons kampusse regoor die wêreld het.

Die Bybel is vol van hierdie worsteling. Van die begin af praat die Here met onse mense en probeer ons oortuig dat ons Hom moet gehoorsaam en die kwaad moet vermy.

Dit is die hart van God se opdrag aan Adam en Eva: moenie eet van die boom in die middel van die tuin, eet van alle ander bome, maar net nie van die boom in die middel nie.  En, nooi Hy hulle uit, wandel met My en vind julleself in die verhouding met My.

Maar, helaas, Eva vat van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad en word uit die tuin gejaag, van God se teenwoordigheid af weg, en die hele mensdom dra tot vandag toe nog die gevolge.

Nie dat Eva daaruit geleer het nie!  Sy maak ‘n ophef van haar eerste seun, Kain: “’n man is vir my gebore”! Maar toe die tweede seun gebore word, toe kry hy die naam Abel, nietigheid. En Kain maak vir Abel dood, omdat Abel na die Here luister, en Kain na homself.

Luister tog! Hoor tog!  Verstaan tog!  Lewe tog soos ek julle geleer het!  Dit is wat die Here van die begin af vir ons sê.  Want Hy weet, die dood is in die pot as ons ons eie kop volg.  Ons is só goed om ons eie kop te volg en ons eie planne te maak vir die lewe.  Ons is soos Kain, en ons maak dié wat wil luister baie keer stil, soos vir Abel …

Ek was nou onlangs in gesprekke met die leierskap van ons twee kerke betrokke, en het net weer gewonder oor die lang pad wat ons al met mekaar stap, en hoe stadig ons vorder na wat ons seker is dat die Here sê, dat ons een moet wees.  En ek is steeds diep betrokke in die etiese kwessies waarmee ons worstel in ons eie kerk, en wonder waar ons God se stem in die Bybel regtig só gaan hoor, dat ons die pad met Hom kan bly stap.

Ek het daarom baie gewonder waaroor moet ek praat vandag.  Ek wou eers gryp na een of ander bemoedigende teks uit die NT, ek het spesifiek gekyk na Fil. 4:4-9, waar ons uitgenooi word om ons hoop op God te sit.  En dit sou ‘n wonderlike teks wees om vir ons te gee.

Maar, toe het die Here Job op my hart gelê, en spesifiek Job 28, die hoofstuk oor die wysheid.  En ek wil vandag die woord van die Here bedien daaruit.

En ek gaan eintlik net twee goed sê in die lig van ons eenheidsgesprekke en in die lig van ons etiese gesprekvoering,  oor die aanvaarding van selfdegeslagverbintenisse van ons kerk, ‘n saak waaroor die kerk só diep verskeurd is, soos dit waarskynlik nog nooit in die geskiedenis was nie.  En dit sal ook ‘n boodskap hê vir die onrus in ons land, ook die onrus wat hier in die noordelike gebiede woed rondom onderwys.

Ek hoor die woord van die Here as volg in Job: “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.”

  1. In die eerste plek sê Hy vir ons om ontsag vir Hom te hê. As God bv. praat oor eenheid, of as Hy praat oor verhoudings, dan moet ons begin by die begin, om ontsag vir Hom en sy Woord te hê.
  2. In die tweede plek sê Hy vir ons om die kwaad te vermy. As God dus vir ons sê hoe ons moet lewe, en ook en veral wanneer Hy sê hoe ons nie moet lewe nie, dan moet ons luister.

Dít is wysheid, dít is insig. Ontsag vir God.  Vermyding van die kwaad.

Die boek Job sluit dus by hierdie worsteling om wysheid aan en sê die volgende in hoofstuk 28, en ek wil hê dat julle moet volg in julle Bybels soos ek daardeur preek.  Job sê:

28 “Daar is ’n plek waar silwer

uitgehaal word,

’n plek waar goud gesmelt word.

2Yster word uit die grond gehaal

en koper word uit erts gesmelt.

3Die mens maak ’n einde

aan die donker,

hy soek erts in die diepste plekke,

in die donkerste hoeke.

Job vertel vir ons van die wonderlike vooruitgang van sy tyd, van die tegnologiese wonder van mynbou en die wonderlike materiale wat hulle daar uit die aarde begin haal het.  En hy gaan voort en sê:

4Hy grawe ’n skag

waar niemand woon nie,

op plekke waar niemand kom nie,

ver van mense af hang hy

en swaai hy.

5Die aarde waaruit die voedsel kom,

word daar onder oopgebreek

met vuur.

6Uit die klip van die aarde kom

saffier,

ook korreltjies goud.

7Geen roofvoël ken daardie pad nie,

die oog van ’n valk

kan dit nie sien nie,

8roofdiere loop nie daar nie,

die leeu gaan nie daarlangs nie.,

9“Die mens bewerk die harde rots

met sy hande,

hy keer die dieptes

van die berge om,

10hy grawe gange deur die rots,

sy oog sien al die skatte,

11hy stop waterare toe

en bring verborge dinge aan die lig.

Die proses sluit dus nie net die sorgvuldige soektog na die metale diep onder die aarde in nie, maar ook die afsluiting van onderaardse riviere, die voorsiening van steierwerk en kabels waarmee die ondergrondse werk gedoen kan word, en die uiteindelike smelterye waar die verwerking van die metale gedoen word in.

En ‘n mens kan met reg verwonderd daaroor wees.  Dit bly ongelooflik wat mense kan doen – 4 km diep, is die diepste wat mense nog gegaan het, en dit is in dié land van ons.

Maar, sê Job verder:

12Maar die wysheid,

waar word dié gevind,

waar is die woonplek van die insig?

Job sê, dit help nie jy gaan só diep in aarde af in die hoop dat jy wysheid daar sal kry nie.  Jy sal silwer daar kry en goud, maar die wysheid?  Aikôna.

Want, selfs al is jy ook hoe slim:

13Die mens ken nie die waarde

daarvan nie,

en dit word nie in die land

van die lewendes gevind nie.

14Die diep waters sê:

‘Dit is nie in my nie,

die see sê: ‘By mý is dit nie!’

15Goud kan dit nie koop nie,

sy waarde kan nie in silwer

afgeweeg word nie.

16Daarvoor kan nie betaal word

met die goud van Ofir

Ofir was bekend vir sy goudmyne en waarskynlik in Suid-wes Arabië geleë (of dit kan ook in Afrika in Somalië gewees het).

of (daarvoor kan nie betaal word) met kosbare oniks en saffier nie;

17goud en glas kom nie daarby

in waarde nie,

vir voorwerpe van fyn goud

kan ’n mens dit nie ruil nie.

18Koraal en kristal

word nie eers gereken nie,

wysheid is baie meer werd

as pêrels.

19Topaas uit Kus kom nie daarby

in waarde nie,

selfs met suiwer goud kan jy nie

daarvoor betaal nie.

Die materiale wat Job hier noem, was belangrike aanduidings van ekonomiese voorspoed.  Dit is die edelmetale (goud en silwer), die duur edelgesteentes (oniks [wit/swart], saffier [blou] en topaas [groen]), ook duur natuurlike produkte (koraal [rooi], kristal, pêrels), en laastens duur vervaardigde produkte (fyn goud, suiwer goud en glas).

Die materiale verteenwoordig ook ‘n hele kaleidoskoop van kleure wat besondere luuksheid simboliseer – geel, wit, swart, blou, rooi, groen ensomeer.

Wysheid, sê Job, is nie doodgewoon ‘n optelsom wat gemaak word aan die hand van alles wat jy weet of kan doen nie.  Al kan jy ook hóé goed vooruitgang maak om jou kennis en vaardighede te vermeerder, sal jy nie noodwendig by wysheid uitkom nie.  Al lyk die edelstene wat jy uit die diepte van die aarde uithaal ook hoé goed, al is dit ook hoé mooi, al maak dit jou ook hoé ryk, dit sal nog nie vir jou wysheid gee nie.

Vra Job:

20Die wysheid,

waar kom dit vandaan?

Waar is die woonplek van die insig?

En antwoord Job:

21Dit is verborge vir al wat lewe,

weggesteek selfs vir die voëls

in die lug.

22Die onderwêreld en die dood sê:

‘Ons het maar net ’n gerug daaroor

gehoor.’

Waar is die wysheid dan?

23Net God weet hoe die pad daarheen loop,

net Hy ken die woonplek

van die wysheid,

Wysheid is regtig die kosbaarste besitting, belangriker as enigiets anders (vgl. Spr. 3:14-15; 8:10-11).  Maar, dit kan nie uitgedink word nie.  Dit kan nie gekoop word nie. Dit is iets wat net in ‘n verhouding met God gegee word.

Hoekom?

24want Hy sien die verste eindes

van die aarde,

Hy aanskou alles onder die hemel.

25Toe Hy die krag van die wind

bepaal het

en die waters uitgemeet het,

26toe Hy vir die reën reëls gemaak het

en ’n pad vir die weerlig

aangewys het,

27toe het Hy die wysheid gesien

en daarvan vertel,

toe het Hy dit vasgestel en deurvors.

Job gooi dus sy oog op die ruimtes van die natuur: regdeur die hemel en die aarde.  Die wysheid is egter nie daar te vind nie.  Wysheid is net in God te vinde.  Dit is net by God te vinde.  Dit sien ‘n mens alreeds in die wyse waarop Hy die skepping tot stand gebring het, met sorgvuldige reëls, mates, bepalings, en beginsels wat goed deurdink is.

Maar selfs in die beginsels van die natuur is die wysheid nie opgesluit nie.  Dit is net in God self te vinde.

Want wat sê dié God?

28En Hy het vir die mens gesê:

Om die Here te dien, dit is wysheid,

om die kwaad te vermy,

dit is insig.”

Dít is die hart van die boodskap van Job 28.  Om die wysheid te bekom, is net moontlik in ‘n verhouding met God.  Ek wil dit herhaal. Wysheid is net in ‘n verhouding met God te vinde.

Toe ek geworstel het met die Here oor my eie pad rondom die selfdegeslagverhoudings, het ek my verlede jaar vir twee maande gaan afsonder om deeglik saam met die Here na sy Bybelse boodskap te soek.

En vroeër dié jaar het ek weer vir twee dae in ‘n retraite myself gaan afsonder om die Here se aangesig te soek, ná die besluit van ons Algemene Sinode.  Hoekom?  Want wysheid is net by die Here te vinde, in die ontsag en die gehoorsaamheid aan wat Hy vir ons in die Woord openbaar.

  1. Wysheid begin by die ontsag en eerbied vir Hom (Spr. 1:7). Dit is die eerste beginsel van die wysheid.  Jy luister na God en sy Woord.

Hierdie ontsag sluit egter nie net die gesindheid van jou hart teenoor God in nie, jou diepste binnekant, jou verering en verwondering vir God in gebed nie, jou luister na die Woord nie.

  1. Dit sluit in die tweede plek ook telkens jou besluit in om tegelykertyd keuses te maak wat volgens God se wil is. Om te doen wat jy hoor, om God te gehoorsaam in wat Hy wys.  Om te gaan leef wat jy hoor.

Só kan jy doelbewus die kwaad vermy, letterlik “wegdraai” van die kwaad – en ek bedoel nou hiermee die kwaad wat altyd die gevolg is van ongehoorsaamheid.

Ek sluit af:

Die antwoord op die worsteling van ons wêreld oor allerlei – of dit nou iets persoonlik is in jou lewe (opvoeding, verhoudings, keuses, werk) en of dit iets in die kerk is, of iets wat van publieke belang is (dink aan ons universiteite se uitdagings en die ander uitdagings van ons land) – is dat die wysheid nie lê in blote kennis en vaardighede nie. Jy kan nie die onrus op ons kampusse en ons skole oplos net met beter kennis en vaardighede nie.  Daar is meer nodig, ‘n ontsag vir God en sy Woord en ‘n keuse om doelbewus die kwaad te vermy, om nie dié dinge te doen wat die situasie net verder sal vererger nie.

Wysheid is net by God en in die ontsag en eerbied vir Hom te vinde. Dit is net te vinde in ‘n doelbewuste keuse waar die kwaad en die oorneem van die kwaad vermy word, waar geweld en verwoesting vermy word, en geleenthede geskep word vir mense om menswaardig hulle potensiaal te ontwikkel.

En, ons het dit al reeds gesien op ons kampusse.  Waar ons saam hande vat en bid, waar ons saam soek na God se wil in sy Woord, dáár sál ons die wysheid vind en die pad vorentoe vind.

Hoe mooi was dit nie op ‘n paar kampusse in ons land waar dít juis was wat mense saamgesnoer het nie, toe hulle saam begin bid het.  En ons het ‘n wonderlike ervaring by NMMU dat een van ons lidmate, Amos Ngalimani, as mentor ‘n groot invloed uitgeoefen het op leiers wat die nie-geweldadige opsie van protes gekies het.

Maar dan is dit ook belangrik om te weet, dié wysheid betrek nie net jou hart en verstand in jou verhouding met en afhanklikheid van God nie. Nee, dit betrek jou hele lewe in gehoorsaamheid aan God – om te doen wat Hy vra.  Dit is luister, en leef.

Anders sal jou ore ook soos die klein koedoetjies bly lê op die oewer van die rivier van die lewe.

View all posts in this series

Job, wysheid

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.