Skip to main content

Handelinge 9:26-31 – Die Heilige Gees skep veilige ruimtes deur gasvryheid

Jesus roep vir Saulus

Die impak van die Here Jesus se ontmoeting met Saulus op die pad na Damaskus kan nie onderskat word nie.  Dit was ’n sleutelmoment in die groeiende beweging van die evangelie oor grense heen.

Saulus ervaar egter hoe sy roeping gestuit en geblok word, en hy nêrens aanklank vind nie.  Hy is figuurlik in die woestyn, sonder ’n tuiste.  Niemand wou aanvanklik iets met hom te doene gehad het nie.  Saulus se wrede poging om die kerk uit te roei (Hand 8:3) het steeds te veel teen hom getel, al kon hy van ’n rare fisiese ontmoeting met die opgestane Here vertel (Hand 9:3).  Lukas skryf immers oor hom dat hy vroeër soos ’n besetene voortgegaan het om die volgelinge van die Here met die dood te dreig (Hand 9:1).

Barnabas ontferm hom oor Saulus

Daar was dus nêrens vir Saulus ’n oase-ervaring nie.  Totdat Barnabas, wat ons in sy primêre rol as bemoediger aan die werk sien, op die toneel verskyn.  Lukas vertel vir ons dat hy hom ontferm het oor Saulus, sonder om vir Saulus te beskaam, as niemand iets met hom te doen wil hê in Jerusalem kort na sy bekering nie.   Barnabas se aanvaarding van Saulus was dus die poort waardeur die bediening van Saulus ’n kans gekry het om te ontwikkel, wat uiteindelik die hele Christelike bediening sou transformeer.  Geen wonder dat die voormalige Josef die naam Barnabas, bemoediger, gekry het nie.

Barnabas stel Saulus dan ook voor aan die apostels met sy eerste besoek aan Jerusalem.  Dit is ook hy wat Saulus se storie aan hulle vertel en as segsman vir Saulus optree.  Hy tree dus as borg vir Saulus op.  Daarna eers kon Saulus vryuit met mense gesels.

Barnabas verskaf aan Saulus ’n veilige ruimte

Barnabas  verskaf dus aan Saulus ’n veilige ruimte, ’n oase.  Hy trek hierdie voormalige vyand in sy eie kring in.  Hy doen dit persoonlik – hy luister na sy storie totdat hy dit kan oorvertel aan die leiers.  Hy doen dit ook gemeentelik, veral in sy bekendstelling van Saulus aan die geledere van die apostels.

Let op hoe Lukas dit verwoord in vers 27: Barnabas dra sy verhaal oor deur eerstens twee dinge wat God gedoen het te beklemtoon:

  1. Saulus het Jesus gesien, en die Here het met hom gepraat. Beide aspekte was baie belangrik vir sy uiteindelike status en aanvaarding as apostel.
  2. Daarby lê hy tweedens klem op wat Saulus direk na sy bekering gedoen het: hy het openlik in Damaskus in die Naam van Jesus gepreek, presies die teenoorgestelde as waarvoor hy daarheen deur die hoëpriester gestuur is.
Saulus se bediening vat vlam

Barnabas tree dus namens die geloofsgemeenskap op en stel Saulus aan die apostels voor.  Dit stel die apostels in staat om Saulus en sy bediening te erken, en Saulus vry te stel om die werk te doen waarvoor die Here hom geroep het.  Gelukkig wys die apostels ook dat hulle in dié situasie leerbaar is, natuurlik veral omdat hulle Barnabas vertrou het, en hulle aanvaar dít wat Barnabas oor Saulus aan hulle vertel.

Later sou dit nog verdere vrug dra met die vergadering in Jerusalem waar die mense wat deur Barnabas en Saulus tot inkeer gelei is, ingesluit kon word, sonder om van hulle te verwag om Jode te word.

Hierdie persoonlike en gemeentelike insluiting deur Barnabas lei dus tot ’n publieke erkenning van sy bediening, hoewel Lukas ons ook vertel dat daar nou Grieksprekende Jode was wat hierdie verraaier vyandig gesind geword het en hom wou vermoor.  Dit noop die gelowiges om hom weg te stuur na Sesarea en daarvandaan na Tarsus toe, sy tuisdorp, ter wille van sy eie veiligheid.

Uit die verdere verloop van die verhaal weet ons dat dit nie ’n uitskuif en vergeet aksie was nie.  Saulus gaan in dié tyd deur ’n intense voorbereiding – presies wat dit behels het, word ons nooit vertel nie – en word uiteindelik deur dieselfde Barnabas na die aktiewe bediening in die eerste gemengde gemeente, Antiogië, genooi.  Hierdie daad van gasvryheid, wat die evangelie beliggaam, mond uit in die skep van ’n gemeentelike oase waar mense uit alle oorde verkwikking kon vind.

Barnabas sou dus steeds ’n veilige ruimte gee vir Saulus, totdat dit nie meer nodig was nie, en ’n ander ontluikende leier dit nodig gehad het, Johannes Markus.

Die gawe van onderskeiding

Wat  Barnabas natuurlik gehelp het om sy gasvryheid te beoefen, is die gawe van onderskeiding.  Barnabas het eerstens raakgesien dat die gemeente in Jerusalem net uit vrees vir Saulus reageer en hom nie daardeur laat meevoer nie.  Tweedens het Barnabas na Saulus se roepingsverhaal geluister.  Dit het Barnabas oortuig dat God ’n plan met Saulus het.  Daarom het hy besluit om vir Saulus borg te staan en te sorg dat die vrees van die gelowiges nie die potensiaal dwarsboom wat hy in die roeping van Saulus raakgesien het nie.  Hy het deur die vrees geluister … en kon reg optree.

Onderskeiding beteken dus om in die praktyk van die lewe nougeset aandag te gee aan wat gebeur, met mense en in prosesse, en in dit alles te probeer luister na waar jy God se stem hoor, totdat jy met jou hart en jou verstand God se wil herken en dit dan kan doen.  Dit is hoe Barnabas sy gawe van onderskeiding beoefen het, en ons weet uit die res van die verhaal in Handelinge dat Barnabas reg was oor Saulus, soos hy later ook reg oor Johannes Markus sou wees.

Gasvryheid is liefde vir die vreemdeling

Hierdie verhaal illustreer dus vir ons hoe die geestelike gewoonte van gasvryheid werk.  En soos die Bybel ons leer, is dit iets wat almal van ons se lewens moet stempel.  Soos Romeine 12:13 sê: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

Ons, die Christelike gemeenskap, moet vir mekaar help in ons nood.  Daar was in die Bybelse tyd praktiese redes vir hierdie oproep.  Vroeë Christene moes dikwels uitputtende reise onderneem. Hoewel daar wel herberge was, het baie van hulle nie ’n goeie reputasie gehad nie. Daarom was reisigers (soos ook Barnabas en Saulus op hulle sendingreise) afhanklik van die gasvryheid van gelowiges wat hulle huise vir hulle oopgestel het.

Maar, en dit is belangrik, hierdie gasvryheid is uiteindelik nie net gerig op ons eie gemeenskap nie.  Dit is ook bedoel vir ander mense, vir vreemdes, vir anderse mense.  Want dit is inderdaad wat die Griekse woord vir gasvryheid ook beteken – filoxenia: liefde vir die vreemdeling.  Gasvryheid beteken dus dat ons vir vreemdelinge soos oases moet wees, nie net vir medegelowiges nie.  Ons moet leer om hulle in te sluit, hulle te akkommodeer, en só die goeie nuus, die evangelie vir hulle te wees.

Daarom beteken gasvryheid in sy diepste betekenis om uit jou gemaksone te beweeg, en vreemdelinge welkom en veilig te laat voel.  Hoewel gasvryheid dus natuurlik ook te make het met ’n gesellige kuier tussen vriende of familie, gaan Bybelse gasvryheid veral oor die ontvangs van vreemdelinge.  En uiteraard deurbreek dit die klieks waarbinne ons baie keer leef, en laat dit ander mense tuis kom in ons sosiale kring, wat sy eie uitdagings bring.

Gasvryheid is liefde vir God en jou naaste

Hoekom is gasvryheid so belangrik?

Want in gasvryheid kom die liefde vir God en die liefde vir die naaste eintlik op ‘n integrale heel manier bymekaar.  Want dít is waaroor dit gaan in die koninkryk van God, om Hom lief te hê en ons naaste soos onsself.  Gasvryheid neem dus die liefde vir die naaste – nie net liefde vir die medegelowige nie – net so ernstig op as die liefde vir God.  Gasvryheid vra – soos die gasvrye Samaritaan, beter bekend as die barmhartige Samaritaan – vir wie kan ek ’n naaste wees (Luk 10)?

Adele Calhoun beskryf gasvryheid daarom as volg: to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus!  Dit is hoe gasvryheid werk – ons gee ‘n veilige ruimte vir ander, waar mense die liefde en teenwoordigheid van Jesus kan ervaar.

Geen wonder dat gasvryheid daarom in die NT ’n belangrike vereiste vir Christelike leierskap geword het. Deel van die uitstaande kenmerke van ouderlinge was dat hulle vaardig moes wees om gasvryheid te bewys (1 Tim 3:23 en Tit 1:8). Om die waarheid te sê, sonder gasvryheid kon jy nie ‘n leier in die ontluikende Christelike kerk wees nie.

Ons ontmoet God in gasvryheid

Maar daar is ook ‘n ander aspek van gasvryheid, wat vir my finaal oortuig hoe belangrik die bemeestering van hierdie geestelike gewoonte is.  Die Bybel sê van gasvryheid dat dit ook die plek is waar ons die Here en die werklikheid van sy teenwoordigheid die beste ontmoet.  In Hebreërs 13: 2 lees ons: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”

Hebreërs verwys hier waarskynlik terug na Genesis 18 waar Abraham drie besoekers gasvry ontvang en van dié “engele” die belofte ontvang dat ’n kind vir hom gebore sal word – en dit is uiteindelik God self wat daar by hom aangekom het, soos ons in die res van die verhaal van Genesis agterkom.

Is dit nie ook wat ons so tref van die verhaal van die Emmausgangers nie – Kleopas en sy metgesel (waarskynlik Maria – Joh 19:25) – hoe vreemdelinge vir ons die gordyn oopmaak om God raak te sien nie? U onthou hoe hulle geloop en wonder het oor alles wat in Jerusalem gebeur het, hoe ‘n vreemdeling by hulle aansluit, hulle die vreemdeling later by hulle huis op gasvrye wyse innooi, en toe met die breek van die brood hulle agterkom dat  dit al die tyd Jesus was, God was, wat hulle met sy teenwoordigheid kom verryk het (Luk 24). Dit is wat gebeur, sê die NT, as ons vreemdelinge innooi – ons ontmoet God op verrassende en nuwe wyses.

Oproep

Vra jouself vanoggend af waar jy ’n Barnabas kan wees vir iemand anders.  Wie in jou omgewing het ’n skuilplek, gasvryheid, ’n oase nodig, waar ’n nuwe lewenskoers gelanseer kan word?

En beplan dan hoe jy hierdie week die geestelike gewoonte van gasvryheid gaan beoefen.  Want dit is in die beoefening en bemeestering van die geestelike gewoonte wat die Here se werk in ons tot sy volle reg kom (Fil 2:12-13 – “lê julle toe daarop om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer” en wat Paulus dan verder prakties uitspel in terme van gasvryheid, dat hierdie toewyding insluit om Epafroditos: “met oop arms te ontvang as ‘n broer in die Here” – 2:29).

In die joernaal is ’n paar opsies om jou gedagtes te stimuleer:

  • Maak ’n lys van mense wat jou al ingesluit het, maar nie in jou normale sosiale kring is nie. Skryf by elkeen een behoefte aan insluiting neer wat jy dink hulle sou geniet  – ’n verjaarsdagsuitnodiging, inskakeling by ’n klub, aansluiting by ’n vereniging, inskakeling by ’n kleingroep, ’n ete uitnodiging.  Oorweeg biddend hoe jy een van hulle kan insluit en kan laat tuiskom saam met jou.
  • Dink na oor hoeveel ruimtes (margins) jy in jou week se program het om verras te word met ’n onbeplande ontmoeting. Beplan môre vir ’n uur of twee flexi-tyd waar jy gereed sal wees vir onderbrekings en wees dan gereed om ’n veilige ruimte vir iemand te wees wat die Here oor jou pad stuur.
  • Bid vir die mense wat jy in jou huis of by die werk gaan ontvang. Beplan jou gebede doelbewus om te fokus op die mense wat jy weet môre oor jou pad sal kom.  Bid vir hulle en vir die ontmoeting.  Ontvang hulle met die verwagting dat die Here die gebede sal verhoor.  Hanteer elkeen as ’n moontlike vermomde engel (Hebr 13:2)!
  • Dink na oor ’n lysie van onderwerpe wat gesprek kan stimuleer. Gesels met jou vriende daaroor en dinkskrum ’n hele aantal.  Gebruik dit wanneer jou pad met vreemde mense kruis en wees voorbereid om verstom te wees met wat die Here van sulke gesprekke kan maak.

Dink nou na en besluit op ‘n plan van aksie.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.