Skip to main content

Fil 3:1-4:1 Geestelike volwassenheid

Dit is nie om dowe neute dat Paulus begin om die gemeente van Filippi te herinner daaraan om bly te wees in die Here nie. Dit is wanneer jy met blydskap in die Here lewe, dat die uitdagings van hierdie lewe in perspektief kom, en jy die vermoë ontwikkel om die uitdagings die hoof te bied.

Die lewe is nie maklik nie

Laat ons eerlik wees met mekaar.  Die lewe is nie maklik nie.  Selfs wanneer dinge goed gaan en jy voorspoed belewe, is daar dinge wat sleg gaan, en verkeerd gaan, en ontwrigting saai.  En as die ontwrigtende dinge nie met jou gebeur nie, dan gebeur dit met jou mense, of dit gebeur met jou naaste, of dit gebeur doodgewoon met ander mense in hierdie wêreld.

Verwelkoming

Oor die nagmaal: Ons het ‘n dokument op die webtuiste waar julle met julle kinders kan gesels oor die betekenis van die Nagmaal.  En dit is ouderdom vriendelik: vir een-tot-drie-jariges, vir drie-tot-ses-jariges en vir ses-tot-agt-jariges.  Soek net vir nagmaal en julle sal dit kry.

RUS

Toetrede

  • Lied 170  Koor 1x  Gemeente 2x (sit)

Votum en Seëngroet

Lofprysing

  • Psalm 23 v1 en v3 (staan)
  • Lied 214 (sit)
  • Lied 219 (sit)

Kindertyd

  • Die Nagmaal is baie spesiaal.  Dit is God se ete. Die Nagmaal help ons om Jesus se ete saam met sy vriende te onthou. Hy het voordat Hy gesterwe het aan die kruis saam met sy vriende die brood en wyn geeët.  Omdat dit in die nag was, noem ons dit die Nag-maal.  En ons gaan vandag vir God dankie sê dat Hy goed is vir ons.
  • Miskien is daar van julle wat nuuskierig is oor die Nagmaal.  Kom ons kyk na die tafel, die stoele, die glasies, die brood, en die beker. Ons het druiwesap en wyn en broodjies.  Vroegoggend het mense in die kerk die brood in blokkies gesny en die wyn en druiwesap in die glasies geskink.
  • Vir julle wat al ‘n bietjie ouer is, en in die skool is, julle sal al iets begin verstaan van die simboliek hiervan.  Hierdie brood verteenwoordig Jesus se liefde vir ons.  Sy liggaam is gebreek aan die kruis, sodat ons sondes vergewe kan word.  Die wyn verteenwoordig net so Jesus se liefde vir ons.  Sy bloed is gestort aan die kruis, sodat ons vir God kan ken, en vir ewig Sy kinders kan wees.  Dit is ook waarom ons julle nie uitsluit van die nagmaal nie, soos dit in die verlede was nie.  Want julle kan al verstaan en dit het net soveel betekenis as vir ons wat al groot is.

Gebed

HOOR

Skriflesing

  • Filippense 3:1-4:1

Woordverkondiging

Dit is nie om dowe neute dat Paulus begin om die gemeente van Filippi te herinner daaraan om bly te wees in die Here nie. Dit is wanneer jy met blydskap in die Here lewe, dat die uitdagings van hierdie lewe in perspektief kom, en jy die vermoë ontwikkel om die uitdagings die hoof te bied.

Die lewe is nie maklik nie

Laat ons eerlik wees met mekaar.  Die lewe is nie maklik nie.  Selfs wanneer dinge goed gaan en jy voorspoed belewe, is daar dinge wat sleg gaan, en verkeerd gaan, en ontwrigting saai.  En as die ontwrigtende dinge nie met jou gebeur nie, dan gebeur dit met jou mense, of dit gebeur met jou naaste, of dit gebeur doodgewoon met ander mense in hierdie wêreld.

Die kerk in Japan

Ek het die voorreg gehad om dié week saam met ‘n paar van ons sinodale moderatuurslede en ander leraars ‘n afvaardiging van die Reformed Church in Japan te ontmoet, ‘n kerk wat besonder noue bande met ons handhaaf. Tobie en Annelie de Wet het aan die einde van ‘n besondere bediening daar gekom, en hulle het spesiaal saam met hulle Suid-Afrika toe gekom om afskeid te neem.  En waardering is ook uitgespreek vir Stephan en Carina van der Walt wat vanaf Aliwal-Noord die roeping aangegryp het om saam met dié kerk in Japan te werk.

Die uitdaging van die Tsunami

En wat my getref het van die hoflike en intelligente leraars en leiers van Japan, is hoe hulle baie bewus is van die trauma waardeur mense gaan, en steeds hulle blydskap in die Here behou.  Hulle het vertel hoe hulle nou in ‘n tweede fase ingaan van hulpverlening aan die slagoffers van die Tsunami van 2010, die fokus op herinskakeling in die arbeidsmark, sodat mense weer hulle onafhanklikheid kan terugkry.  En die fokus op die geestelike verwerking van die trauma en vernietiging.

Een van die pastors het die afgelope twee jaar al meer as ‘n 100 huise help skoonmaak sodat mense weer daarin kan woon.

Hulle blydskap in die Here, hulle toewyding aan Hom, hulle fokus op wat moet nou volgende gebeur, het my getref.  140 klein gemeentes verspreid oor Japan wat ‘n verskil maak aan hulle omgewing, en die liefde van die Here uitdra, terwyl hulle steeds bly is in Hom.

Trauma troef nie ons vreugde in die Here nie

DIT IS HOE DIT WERK IN DIE GEESTELIKE LEWE!  Trauma troef nie ons vreugde in die Here nie.  Dit verskaf die konteks waarbinne ons die vreugde in die Here moet uitlewe!

Teenstand in die gemeente

Hier in Filippi het die gemeente twee uitdagings gehad.  Daar was steeds groot ontwrigting van die teenstanders van die evangelie, onder andere van die gemeenskap (Fil 1:28-30), maar nou ook toenemend vanweë mense binne die geloofsgemeenskap.

  • Aan die een kant was daar tradisionaliste wat klem gelê het op die Joodse tradisie.  Hulle was gelowiges wat steeds aan die Joodse tradisies vasgehou het, en die besnydenis as verpligtend geag het ook vir gelowiges uit die heidene, eerder as die verbintenis aan Christus alleen.  Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie.  Paulus wys hulle egter as dwaalleraars uit.  Hy noem hierdie dwaalleraars “honde”  soos dit letterlik in vers 2 staan – ironies genoeg presies die term waarmee Jode soms die heidene beskryf het.  En waarsku dat hulle die blydskap in die Here bedreig.
  • Aan die ander kant was daar ook vrysinniges, of libertyne.  Hulle was weer gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ’n seksuele konnotasie – vers 19).  Hulle skande is hulle trots.  Hulle maag is hulle god.  Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, waarin hulle self die sentrum van hulle lewens kon bepaal, eerder as dat hulle kennis van Christus dit sou bepaal.  En dit is net so ‘n groot bedreiging vir hulle blydskap in die Here.

Blydskap lê in volharding binne uitdagings

Blydskap lê immers nie in die afwesigheid van uitdagings nie, maar in die volharding binne die uitdagings.  Dit lê nie in die teruggryp na vorige maniere van lewe nie.  Dit lê ook nie in die toevlug tot jou eie plesier en die verwerping van enige vorm van riglyne nie.

Blydskap lê “in die verhouding met die Here” en in Hom alleen.

Ek onthou uit my Vlootopleidingsdae die verskeie ernstige uitdagings waardeur ek saam met my 16 ander offisiere moes worstel.  23 km se hardloop van Rooi Els na Gordonsbaai is nou nie my idee van plesier nie.  Maar die vreugde van die eindpunt en die genoegdoening van uithou en aanhou en klaarmaak is baie beter as die tou opgooi halfpad en die moontlikheid om dan van die kursus af gegooi te word en êrens langs ‘n vlootbasis te moet gaan wagstaan.

Volharding bring blydskap.

Om die gemeente aan te spoor – en let op dat hy sê, dit is nie vir hom moeilik om dieselfde dinge oor en oor te sê nie, hy sal dit sê en weer sê tot sy dood toe – wys hy hulle op ‘n twee goed.

1.  Om in blydskap te volhard, is die weg na geestelike volwassenheid.

Let op hoe Paulus in vers 12-16 dit uitspel.  Hy is baie bewus van die feit Christus Jesus ‘n beslissende verandering in sy lewe te weeg gebring het.  Jesus het hom gekonfronteer op die Damaskus pad en Paulus Syne gemaak.

Die groot ding in Paulus se lewe is nie dat hy tot bekering gekom het nie.  Die groot ding is nie dat hy ‘n keuse vir Jesus gemaak het nie.  Die groot ding is dat Jesus vir Hom gekies het.  Jesus het Paulus Syne gemaak, deel van Sy liggaam, deel van Sy koninkryk.  En dit verander alles.

Omdat Paulus oortuig is dat Jesus leef en dat Jesus hom gekies het, en vir Paulus ‘n roeping gegee het om na te volg, span Paulus hom in om sy doel te bereik.  Hy wil alles bereik wat Jesus vir Hom gegee het om te bereik.  En dit is om die evangelie in die hele wêreld te gaan vertel.

En lees mooi.  Paulus  verbeel hom nie dat hy alles al gedoen het nie.  Inteendeel.  Maar wat hy doen, is om hom nie vas te maak aan wat in die verlede lê nie, dit wat nie reg gewerk het nie, dit wat verkeerd gegaan het nie, dit wat ander mense van hom verwag nie.  Nee, hy span hom in vir dit wat nog nie gedoen is nie, dit wat voorlê, dit wat God van hom verwag.  Hy is op pad na die hemelse koninkryk en hy wil die hele wêreld saam met hom vat.  En as die tradisionaliste nou wil sê hokaai – jy moet eers die mense Jode maak – en die libertyne wil sê hokaai – rus ‘n bietjie, gee aandag aan jouself, moenie jou roeping so ernstig neem nie – dan sê Paulus, nee, ek het ‘n wedloop om te voltooi, ek sal nie ophou nie, ek sal aanhou en uithou en my werk klaarmaak, en dit saam met almal wat die Here vir Homself uitgekies het.

En Paulus put ongelooflik vreugde in hierdie pad met die Here.  Dit vul hom met onuitspreeklike blydskap. Dit is die manna vir sy siel.  Dit is die Oscar vir sy lewenswerk.  Dit is die elikser vir die lewe.

En dít is wat geestelike volwassenheid is – om jou vreugde in die Here te vind, en Hom te geniet, terwyl jy doen wat God van jou vra, en jy jou volledig inwerp in die voltooiing van jou lewensmissie.

2.  Om  Christus Jesus te kies, en om jou hele lewe rondom jou verhouding met Hom in te rig, is die enigste manier om die uitdagings van die lewe te hanteer.  Dit troef selfs die dood.

Ons het twee maniere om van die pad af te dwaal.

  • Ons kan kies om die veilige ruimte op te soek van die kultuur waaruit ons kom, en die uitdaging van die Christelike lewe, wat ons altyd oor grense neem, te ontwyk.  Ons kan onsself vind in ons afkoms, in ons gebruike, in ons volkskultuur.
  • Of ons kan kies om die vryheid van ons eie plesier te soek, en die uitdaging en die koste van getrouheid aan die Here, wat altyd ‘n kruis vir ons inhou, te vermy.

Maar kultuur sal jou altyd in ‘n groep laat tuiskom wat ander sal uitsluit.  En dít is nie hoe die evangelie van Jesus Christus werk nie.  Hy wil oor alle grense heen vir Hom ‘n volk bymekaar maak, wat geken word weens hulle verhouding met Homself.  En om deel van hierdie nuwe mensheid – soos hy met die Efesërs daaroor praat – te wees, moet jou volkseie tweede viool speel, nie die ghitaar slaan nie, nie belangriker wees as die nuwe eenheid wat tussen mense uit verskillende kulture geskep word nie.  Paulus sê, om die waarheid te sê, dit moet vir jou waardeloos raak, selfs verwerplik, omdat dit so maklik die kennis en verhouding met Jesus bedreig.

En om jou eie plesier te soek, lyk op die korttermyn aantreklik, maar dit maak die hemel vir jou toe.  Jy en jou plesier raak jou god, die ding wat jy aanbid, jou skande jou trots, jou maag jou god.  En die eintlike blydskap, om ‘n hemelse burger te wees, raak vir jou verlore.  Jy raak ‘n vyand van die kruis, en die kruis van Jesus is nie meer jou verlossing nie.

Daar is maar een manier om as Christen te lewe, en dit is om Paulus na te volg in wat hy in vers 10-11 sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Dit is die hart van die Christelike lewe.  Dit is ook die geheim van die Christelike lewe.  Om jou fokus in te stel daarop om in verhouding met Christus Jesus te lewe, en nie afgeskrik te word deur die lyding wat daarmee gepaard gaan nie, in die vertroue en verwagting dat Hy jou sal deurdra en sal laat oorwin.

Peterson vertaal die eerste deel van vers 10 in The Message só: “I gave up all that inferior stuff so I could know Christ personally.” Inderdaad!

Geestelike volwassenheid gebeur nie sonder jou medewerking nie

Ek sluit af.

Paulus motiveer ons met sy eie verhaal en sy vreugdevolle volharding, sy geestelike volwassenheid.

Maar, dit is nie net Paulus wat praat nie.  Dit is God self wat vandag met jou praat.  Soos Jesus eenmaal Paulus tot stilstand geruk het, en sy lewe verander het, só ruk Hy jou ook vandag tot stilstand.  Hy het jou Syne gemaak.  Hy wil jou lewe ook verander.

Maar, dit gebeur nie sonder jou medewerking nie.  Jy het nodig om vandag ‘n keuse te maak om Christus te kies bo die veiligheid van jou eie kultuur.  Jy het nodig om vandag ‘n keuse te maak om Christus te kies bo die vryheid van jou eie plesier.

En die nagmaal kan vir jou die punt van jou keuse word.  Soos wat jy die brood eet, verkondig jy aan almal van ons, jy wil Christus Jesus volg en Hom jou hele lewe laat bepaal.  Soos wat jy die wyn dring, sê jy vir God self, jy wil Hom volg en Hom jou hele lewe laat bepaal.

Dink daarom deeglik aan wat jy gaan doen, en laat dié keuse jou hele lewe voortaan bepaal.

Gebed

Nagmaal

  • Lied 303   Koor 1x  Gemeente 3x  (Afr / Eng / Afr)   (sit)

Gebed

LEEF

Dankoffer

  • Koor: “Aan die tafel van ons Heer” (VONKK 165)

Slotlied

  • Lied 266

Amen

  • Lied 266  “vir ewig en ewig, amen”
View all posts in this series

'Geestelike volwassenheid', Erediens, Filippense

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.