Skip to main content

Jesus soek die vrugte van bekering by jou – Lukas 13:1-9

NGK Somerstrand 20 Maart 2022 – Kerk en Youtube 09:00

Musiek vooraf

  1. Lied 215 Besing die lof van Jesus saam.
  2. Vonkk 277 U is die lig wat deur die donker skyn.

Verwelkoming

Aankondigings

Ons nuwe leraar Vian, sy vrou Natania en hulle tweeling, Josh en Joah, kom die naweek van 22-24 April in die Baai aan. Ons wil kos vir hulle voorsien daardie eerste twee weke tot Vian die naweek van 6-8 Mei bevestig word. Dit is sommer ‘n geleentheid om hulle te leer ken. As jy wil help, skakel met Chris dat hy jou op die rooster kan insluit. Die opgewondenheid begin oplaai! Dankie ook aan Elsje Nelson. Ons is besig om ‘n huurkontrak op te stel vir haar eiendom, 44 Bulbringstraat, Somerstrand.

Orreluitvoering Woensdag 23 Maart om 18:00 hier in ons kerk deur die Pretoriase orrelis, Andrea Mites. Toegang R40.

Die liedere se woorde is op die blaadjie.

Baie welkom aan Johann en Carolina Muller van Jeffreysbaai wat by ons ingeskakel het.

Toetrede

Flam 112a My hande hef ek op na U – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 215:1,3,5 Besing die lof van Jesus saam – staan

Lied 484:1,3 Almal wat dors het, kom geniet – staan

Verootmoediging

Daar is net een maatstaf vir ons liefde tot God en tot ons naaste, en dit is die wet van God. Soos Hy dit vir die eerste geslag wat uit Egipte geroep is na Kanaän in Eksodus 20 gegee het. Soos Hy dit herhaal het vir die tweede geslag net voor hulle die beloofde land ingetrek het in Deuteronomium 5. Soos Jesus dit in die Bergrede uitgelê het en opgesom het in sy antwoorde oor wat die grootste gebod in die wet is (Matt 22).

Kom ons luister weer daarna. Dit is die maatstaf waaraan ons liefde gemeet word:

1Toe het God al hierdie woorde gespreek:

2“Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het.

3Jy mag naas My nie ander gode hê nie.

4Jy mag nie vir jou ‘n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, 6maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom.

7Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie.

8Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is ‘n Sabbat ter ere van die Here jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou diere en jou vreemdeling wat by jou is nie. 11Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.

12Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee.

13Jy mag nie moord pleeg nie.

14Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15Jy mag nie steel nie.

16Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.

17Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie – enigiets wat aan jou naaste behoort nie.”

Gebed

Skriflesing en prediking

Jesus waarsku teen skynheiligheid

Jesus is in Lukas 13 besig om oor die eindtye te gesels met sy dissipels.

Aan die begin van hoofstuk 12 het Hy hulle gewaarsku teen die aansteeklike skynheiligheid van die Fariseërs. Dit werk soos suurdeeg – dws deeg wat alreeds gegis het – en nou in ander meel of deeg in gewerk word, of “ingesuur” word, soos elke suurdeeg bakker goed sal weet. En soos net 15 gram suurdeeg  – ‘n lepel vol “leaven” – amper ‘n hele kilogram meel kan deursuur, só is skynheiligheid onder mense ook. Dit steek nie net die skynheilige een aan nie. Dit beïnvloed ‘n hele skare mense.

Jesus het die dissipels egter getroos dat daar niks is wat enigiemand kan wegsteek wat nie uiteindelik bekend sal word nie. Die “boeke” van die werke, al die dinge wat mense gedoen het, sal uiteindelik geopenbaar word (Openb 20:11-15).

Jesus het sy dissipels egter ook teen hul eie skynheiligheid gewaarsku. Die oomblik as jy nie meer eerlik is oor wat jy dink of doen nie, deursuur dit jou hele lewe, raak jy skynheilig.

Die gevolg is dat dit moeilik raak om eerlik in ander areas van jou lewe te wees. Moet jy baie keer leuens begin vertel om jou geheime weg te steek. En maak jy nie net jou eie lewe suur nie, by wyse van spreke, maar almal se lewens rondom jou.

Vrees God eerder as mense

Dit is dus beter vir jou om dié kant van die graf eerlik te lewe as om aan die ander kant die skande van openbaarmaking te moet verduur as jou “boeke” ook oopgemaak word.

Die ding is, skynheiligheid kom net na vore as jy bang is wat mense gaan dink.

  • As jy bang is hoe hulle oor jou sal dink, as hulle alles sal weet van jou.
  • Of as jy bang is om ander te vermaan of tereg te wys oor hulle sonde, omdat jy bang is dat hulle jou dan as vyand sal hanteer.

Die vrees verdwyn egter as jy besef dat mense wel vyandig teenoor jou kan wees, selfs vir jou kan doodmaak, maar daarna niks meer aan jou kan doen nie. Die enigste Een wat jy moet vrees, het Jesus gesê, is dié Een wat die mag het om, nadat Hy doodgemaak het, jou in die hel (Gehenna) te kan gooi. In Openbaring word hierdie plek die “poel van vuur” genoem (Openb. 20:10, 14-15; 21:8). Dit is die “tweede dood”.

God sorg vir dié wat in die waarheid lewe

Om die dissipels te bemoedig in die waarheid het Jesus daarom baie tyd gespandeer om die dissipels te oortuig dat God vir hulle sal sorg as hulle eerlik, in die waarheid, sal lewe. Hy sal vir hulle beter sorg as vir die voëls van die hemel en die lelies van die veld, sê hoofstuk 12. Hulle moet net die koninkryk van God soek en al hierdie dinge sal vir hulle bygevoeg word.

Jesus het gekom om verdeeldheid te bring

Maar, Jesus het nie die boodskap van stryd en verdeeldheid daarmee probeer versag nie. As jy kies om die waarheid te lewe, as jy kies om God eerder te vrees as mense, as jy kies vir die waarheid, selfs al bring dit die eenheid in gedrang, sal jy konflik ervaar, sal jy verkwalik word vir die onafwendbare verdeeldheid wat sal kom.

Want, Jesus het gekom om ‘n vuur op die aarde aan te steek. Hy het nie gekom om vrede op aarde te bring nie. Eerder verdeeldheid. Want, sê Jesus:

“van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.” (Luk 12:52)

Trouens, dit is die tekens van die tye. Dat skynheiligheid aan die kaak gestel sal word. Dat dié wat die waarheid kies van dié wat die skynheiligheid kies, geskei sal word.

Jesus soek die vrugte van bekering

Die groot skare van duisende mense wat daar teenwoordig was, het geluister na wat Jesus gesê het. En gedink, maar dit gaan seker oor erger sondes as net skynheiligheid. Ons lees in Lukas 13:1:

1Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het.

Dit was ‘n ontstellende verhaal van die politieke geweld van Pilatus wat Galilese pelgrims doodgemaak het terwyl hulle die offerdiere vir die Pase geslag het. Van die mense in die skare wou dus Jesus se reaksie hoor. Maar, interessant genoeg, uit Jesus se antwoord, kom ‘n mens agter dat hulle nie wou weet of Pilatus meer skuldig was as die mense van Galilea wat vermoor is nie. Hulle wou weet of daardie vermoorde Galileërs meer skuldig was as ander Galileërs wat nie deur Pilatus uitgemoor is nie. Kan jy nou meer!

Jesus het na hulle geluister en wel die gewelddadigheid van Pilatus se optrede erken, dat mense onder hom gely het, maar sê dan:

2Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? 3Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom!

Jesus sê enersyds dat die feit van die geweld nie op enige groter skuld aan die gestorwenes se kant dui nie, maar andersyds ’n boodskap is dat só iets ook met jou kan gebeur.

Dat só iets moontlik is in hierdie gewelddadige wêreld, moet jou oortuig om tot bekering te kom voor só iets ook met jou gebeur.

Hy brei sy antwoord uit met ’n geval van ’n onvoorsiene ramp by die toring van Siloam:

4Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? 5Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

In die omgangstaal was só ‘n gebeure bekend as “an act of God”. Ons praat vandag nog só daaroor. Maar, sê Jesus, sulke ongeluksvoëls is nie meer skuldig as die ander mense van Jerusalem nie. Só iets kan met enigiemand gebeur, ook met hulle.

So, sê Jesus, bekeer jou voor só iets ernstigs met jou gebeur. Die lewe is onvoorspelbaar. Jy moet te alle tye gereed wees om dood te gaan. Jy moet jou sake op aarde in orde hou. En jy moet jou saak met die Here in orde hou.

Let op dat Jesus hier die onvoorspelbaarheid van die dood gebruik om mense tot bekering te roep. Heel anders as die valse profete van vandag wat net werk met die liefde van God sonder om ooit enigiemand tot bekering te roep nie.

En hoekom is dit só belangrik? Want, die dood bring nie net ‘n einde aan jou lewe nie, maar ook aan die tyd wat jou gegun word om jou saak met God reg te maak.

Jesus onderstreep toe die boodskap van bekering met die gelykenis van die vyeboom:

6Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. 7Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ 8Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. 9En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ”

Dis ‘n gelykenis wat net in Lukas voorkom, die gelykenis van die onvrugbare vyeboom. Daar is egter duidelike ooreenkomste met die ware verhaal van Jesus wat die laaste Maandag van sy aardse lewe ‘n onvrugbare vyeboom vervloek, ‘n beeld van die onbekeerlike Jode (Matt 21:18-19; Mrk 11:12-14).

Jesus is dus besig om met die gelykenis na die onbekeerlike Jode te verwys. En daarmee na elkeen van ons wie se lewe nie reg is met God nie.

Die vyeboom was in ‘n man se wingerd geplant en die eienaar het gekom om vrug te soek, maar niks gekry nie.

Die man het gekla by die tuinier dat hy al drie jaar lank kom en vrug soek aan die vyeboom, maar verniet. Trouens, vyebome het eers na drie jaar begin vrug dra, só die man verwys waarskynlik net na die drie jaar wat hy al gekom het om vrug te soek. Die boom was waarskynlik al ses jaar geplant.

Die punt is die boom het genoeg tyd gehad, maar sonder enige vrug. Die man het daarom besluit om die boom nou uit te kap, want die boom put eenvoudig die grond uit.

Die tuinier het egter geskerm vir die vyeboom en aangebied om ekstra moeite te doen in die volgende jaar, om die grond om die boom om te spit, en mis as bemesting in te werk. As dit dan vrug afwerp, is dit goed so. Anders kan die man sy boom uitkap oor ‘n jaar.

Jesus soek die vrugte van bekering by jou

Hierdie gelykenis onderstreep dus twee dinge vir ons.

Die eerste is dat Jesus die vrugte van bekering soek by sy mense.

Wat is die vrugte van bekering?

Dit is ‘n bekering van sonde. Dinge wat Paulus noem die praktyke van die vlees. Gaan lees weer die lysie van sondes in Galasiërs 5:19-21:

“onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge.”

En hoor die waarskuwing dat:

“diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.”

Dit is ‘n vervulling met die Gees van God. ‘n Vervulling met die vrug van die Gees:

“liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Dit is ‘n aflê van skynheiligheid, soos Lukas 12-13 dit uitspel; die eerlike erkenning van wie jy is en waar jy tekort kom voor God. En die skynheiligheid van vandag word veral gesien in die liefde vir eenheid eerder as die waarheid. So asof ‘n mens die Skrif só kan verdraai.

Wanneer Jesus vir sy dissipels bid en vir almal wat deur hulle getuienis tot bekering sal kom, dan bid Hy:

“Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid,” sê Jesus (Joh 17:17).

Daar is geen diversiteit in die waarheid nie. Daar is net Een waarheid, en dit is die waarheid wat Jesus self vir ons kom bring het. Hy het die boodskap van die OT kom bevestig en vir ons die essensie daarvan kom uitlê.

Daarom kan Paulus aan die gemeente in Efese skryf:

“Ons sal in liefde by die waarheid bly…” sê Paulus (Ef 4:16).

Want, wat God sê, wat Hy vir ons in die Skrif sê, is die enigste openbaring wat ons het van wat God wil. En wee jou as jy aan die Skrif verander of die boodskap daarvan verwerp.

Om almal toe te laat om te doen wat hulle wil, is skynheilig! Om ‘n diversiteit van waarhede goed te keur, is skynheilig. Want, ons moet goed hoor, dit is volgens God se standaarde wat ons almal geoordeel sal word, almal in die wêreld, nie aan ons eie standaarde nie. En elkeen wat ander toelaat om te doen wat hulle wil, is aandadig aan die veroordeling van daardie persoon waar dit God se waarheid in die Skrif oortree.

Dit is ‘n lewe in die waarheid. Hoe anders dan?!

“Ek is die weg, en die waarheid en die lewe!” sê Jesus (Joh 14:6)

Daar is nie ‘n ander waarheid as Jesus, die vleesgeworde Woord van God, soos ons Hom leer ken in die skrif geworde Woord van God, die Bybel.

God is geduldig en gee jou genoeg kans om tot bekering te kom

Die tweede is dat God geduldig is en genoeg kanse en insette gee dat mense tot inkeer kom, voordat sy oordeel in werking tree.

“‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ”

Laat dit nog hierdie jaar bly staan. Ek weet nie wat “’n jaar” vir jou beteken nie. Ek weet nie wat dit vir ons kerk beteken nie. Maar, die punt is dat die Here vrug soek by ons, die vrugte van bekering, die vrugte van ‘n terugkeer na sy pad vir ons lewe.

Ons weet dat “’n jaar” vir die Jode ongeveer 40 jaar geduur het. Die Jode van Jerusalem is ná Jesus se dood en opstanding 40 jaar gegun om tot inkeer te kom, met talle en talle getuies wat hulle tot inkeer probeer bring het. Totdat God die oordeel oor hulle met die verwoesting van Jerusalem in 70 nC gevel het.

Dit is ‘n voorbeeld vir alle mense, ook vir ons. God soek die vrug van bekering in ons lewe. ‘n Terugkeer na die waarheid van die Skrif. Hy gee ons genoeg tyd. En Hy maak genoeg insette in ons lewens. Moet niks in jou pad laat staan om na Hom te luister en die waarheid weer bó alles te stel nie.

Gebed

Slotsang

Vonkk 277:1-3 U is die lig wat deur die donker skyn – staan

Seën

Respons

Lied 189 Halleluja – staan

Youtube

Nuusbrief

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.