Skip to main content

Matteus 10:40-42 – Vier voorbeelde van gasvryheid in die Bybel

Ek gaan vanaand die boodskap van Jesus in Matteus kortliks opsom – dit wat ek vanoggend gesê het oor die teks – en dan uitbrei oor vier verhale wat vir ons wys hóé gasvryheid in die praktyk werk.

Die eerste verhaal kom uit Genesis 18.  Die skrywer vertel hoe Abraham op die warmste van die dag by die ingang van sy tent sit.  Sy tent is opgeslaan by die hoë terpentynbome van Mamre, naby Hebron, wes van die Dooie See, in die sogenaamde Wes-Bank streek van vandag.  Dis die middel van die dag.  Die kraaie gaap.  Abraham sit op ’n koel plekkie waar so ietwat van ’n luggie hopelik trek.  Meer konkreet en gewoon kan ’n toneel nie beskryf word nie. Dan daag God op …

Die tweede en derde verhaal kom uit Konings, omdat die verhale van gasvryheid teenoor Elia en Elisa volgens geleerdes agter dié uitspraak van Jesus oor gasvryheid in Matteus lê.  Die arm weduwee van Sarfat (1 Konings 17) en die ryk vrou van Sunem (2 Konings 4 en 8).  Die een deel uit haar armoede, die ander uit haar rykdom … en albei ontvang die seën van die Here, oorvloediglik.

Die laaste verhaal is dié van Kleopas en sy vrou Maria op pad na Emmaus.  Soos Abraham, nooi hulle die Besoeker langs die pad in hulle huis in, en bedien ’n maaltyd.  Jesus self word daar die Gasheer en breek die brood.  Juis by die breek van die brood herken hulle die man wat die Bybel so duidelik aan hulle uitgelê het.  Dit is Jesus self.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Ons fokus vandag in Matteus 10:42-44 op gasvryheid. Jesus is besig in sy tweede belangrike toespraak in Matteus met die uitsendingsrede.  Jesus het die dissipels nou al voorberei vir die werklikheid van vervolging (10:16-25).  Hy het hulle bemoedig om nie bang te wees nie, want God sal sorg (10:26-31).  Hy het hulle aangemoedig om Hom as Christus te bely en nie te verloën nie (10:32-33), want die werklikheid is dat lojaliteit aan Hom skeiding sal bring (10:34-39).

Maar, Hy bemoedig hulle ook dat Hy sal sorg dat hulle gasvry ontvang word, en dat dié mense wat hulle gasvry ontvang, deur God self beloon sal word.  Gasvryheid is dus ‘n kanaal waardeur God se beloning ontvang word, en dit is ‘n manier waarop gasvry mense deel het aan die koms van die koninkryk.

Matteus 10:40-42 (DBV)

40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die beloning van ’n profeet ontvang; en wie ’n regverdige ontvang omdat hy ’n regverdige is, sal die beloning van ’n regverdige kry. 42En wie aan een van hierdie geringes ’n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy ’n dissipel is – Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie.”

Die boodskap van Matteus

Ek wil die boodskap van Jesus in Matteus kortliks opsom – dit wat ek vanoggend gesê het oor die teks – en dan uitbrei oor vier verhale wat vir ons wys hóé gasvryheid in die praktyk werk.

Jesus beklemtoon in Matteus 10:40-42 twee belangrike punte.

1.  Raak betrokke by mense in nood

Jesus moedig sy dissipels aan om met vrymoedigheid by mense wat nood het, betrokke te raak.  Want: “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”.  Wanneer ons die evangelie vir ander bring, word ons ’n kanaal waardeur mense God self ontmoet.  Oral waar jy die Here Jesus Christus vrymoedig bely, oral waar jy uitreik na iemand om iets vir hulle te beteken, dáár word jy ’n kanaal waardeur iemand God kan ontmoet.

2.  Ontvang ander gasvry

Daar is egter ook ’n ander kant hiervan.  Jesus wil nie net hê jy moet betrokke raak by ander in nood nie.  Jy moet ook dié wat na jou uitreik met die evangelie met gasvryheid ontvang.  Gasvryheid is immers ’n wederkerige ding.

Eugene Peterson vertaal dit so mooi: “We are intimately linked in this harvest work. Anyone who accepts what you do, accepts me, the One who sent you. Anyone who accepts what I do accepts my Father, who sent me. Accepting a messenger of God is as good as being God’s messenger. Accepting someone’s help is as good as giving someone help. This is a large work I’ve called you into, but don’t be overwhelmed by it. It’s best to start small. Give a cool cup of water to someone who is thirsty, for instance. The smallest act of giving or receiving makes you a true apprentice. You won’t lose out on a thing.”

Die Here moedig jou aan die eenkant aan om ’n kanaal te word sodat ander God kan ontmoet.  Die Here moedig jou egter ook aan die ander kant aan om diegene wat na jou toe kom met die evangelie gasvry te ontvang, want daardeur sal jy self God ontmoet.  Of jy hulp aanvaar, en of jy hulp gee, dit is ewe goed, en albei is noodsaaklik.  Gasvryheid is dus ’n leerskool waar jy leer hoe God werk – óf jy nou aan die ontvangkant of aan die uitdeelkant daarvan is.

Dit is immers wat in die gemeente gebeur waar ons mekaar bedien met die evangelie, in eredienste, in kleingroepe, in bedieninge.  Oral waar ons gasvry teenoor mekaar optree deur na mekaar te luister, deur mekaar lief te hê met bekers koue water, daar ontvang ons en ontmoet ons die Here Jesus Christus, en God sy Vader.

Jesus sê dus vir ons hier dat God in ons lewens aankom deur die mense wat God na ons stuur.  Ons keuse om mense te ontvang, of nie, bepaal dus of God in ons leefwêreld aankom, of nie.  Deur ander mense gasvry te ontvang, neem ons deel aan die koms van God se koninkryk, of nie.

En die omgekeerde is natuurlik ook waar.  In ons uitreik na ander kom God in hulle lewens aan, of nie.  Iets om deeglik oor na te dink.

  • As ek nie uitreik nie – kan dit beteken dat ander God se aanraking mis. 
  • As ek nie ander gasvry ontvang nie – kan dit beteken dat ek self God se teenwoordigheid mis.

Wat is gasvryheid?

Nou wat is gasvryheid?  Adele Calhoun beskryf gasvryheid as volg: “to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus”.  Inspirerend!

Gasvryheid het veral te make met vreemde en anderse mense, mense met wie jy nie normaalweg as vriende assosieer nie.  Trouens, die Griekse woord  vir gasvryheid is philoxenia – “liefde vir vreemdelinge”.  Gasvryheid beteken om uit jou gemaksone te beweeg, ’n grens na ander oor te steek, en vreemdelinge welkom en veilig te laat voel.

Dit beteken dat gasvryheid ’n ongelooflike belangrike manier is waarop ons as kinders van die Here met mekaar moet omgaan, en hoe ons in hierdie wêreld teenoor ander moet optree, nie net teenoor bekendes nie, maar ook teenoor vreemdelinge.  Gasvryheid is ’n leerskool in hoe God se teenwoordigheid werk.

  • Aan die eenkant word ons geroep om die evangelie uit te dra en ons te verlaat op die gasvryheid van dié wat na ons luister, soos vers 40 dit uitspel.  Want, só kom God in hierdie wêreld aan.
  • Aan die ander kant word ons geroep om diegene wat die moeite doen om die evangelie oor die grense van ons gemeenskap te dra, dat ons hulle met alles in ons sal ondersteun en dit vir hulle moontlik sal maak om dit te kan doen, soos vers 41–42 dit uitspel.  Só kom God in ons wêreld aan.

Paulus verwys ook hierna in Romeine 12:13 en sê: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”  Hy maak dit een van die sentrale vereistes vir ouderlinge: “’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig.” (1 Tim. 3:2; vgl. ook Titus 1:8).

Maar, dit is nie net iets vir ouderlinge nie.  Dit is iets vir alle gelowiges, soos Petrus dit uitspel in sy eerste brief: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.” (1 Pet. 4:9).

En die beloning is, volgens die skrywer van die Hebreërbrief: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (13:2).

Gasvryheid in die Bybel

Hoe werk gasvryheid?

Ek wil vier verhale vertel om dit te illustreer.  Luister daarna dat die Here met jou daardeur kan praat.

Abraham by die terpentynbome van Mamre

Die eerste verhaal kom uit Genesis 18.  Die skrywer vertel hoe Abraham op die warmste van die dag by die ingang van sy tent sit.  Sy tent is opgeslaan by die hoë terpentynbome van Mamre, naby Hebron, wes van die Dooie See, in die sogenaamde Wes-Bank streek van vandag.  Dis die middel van die dag.  Die kraaie gaap.  Abraham sit op ’n koel plekkie waar so ietwat van ’n luggie hopelik trek.  Meer konkreet en gewoon kan ’n toneel nie beskryf word nie.

Dan daag God op.

Abraham dog eers dis drie gewone menslike besoekers.  Daarom doen hy wat in die destydse wêreld van ’n mens verwag is.  Hy volg die gasvryheidsreëls van die Ou Nabye Oosterse wêreld.  Hy draf nader aan die besoekers, buig voor hulle, gee hulle water, was hulle voete, en bied vir hulle skaduwee aan waar hulle kon rus.  Asof dit nie genoeg is nie, het hy die hele huishouding in rep en roer om ’n feesmaal voor te berei – sestien kilogram meel vir roosterkoeke, ‘n jong kalf op die spit.  Terwyl hulle eet, en hy hulle bedien, vra die besoekers uit oor Abraham se vrou.

In die middel van die gesprek hou die skrywer skielik op om die meervoud – hulle – vir die besoekers te gebruik.  Op hierdie punt begin die skrywer die enkelvoud gebruik: “Toe sê die Here…” (Gen 18:13).

En ons besef, die drie besoekers is God self.  Was die drie besoekers mense of was hulle engele?  Abraham en Sara het gedink dis mense, maar soos Hebreërs 13 daarna verwys, besef ons dit is engele in die gedaante van mense.  Maar, die belangrike is, in hierdie drie mense, engele, het Abraham en Sara God self ontmoet.

Saam met die Here ontvang hulle ook die belofte.  Sara sou die volgende jaar ’n seun hê, en só sou die belofte van die Here in vervulling gaan dat Abraham ’n groot nasie word.

Dit is hoe gasvryheid werk.  In ons gasvrye ontvangs van mense om hulle te bedien, ontmoet ons die Here self.  En dit sluit ’n geweldige beloning in, meer as wat ons kan dink of droom.

Die weduwee van Sarfat

Die tweede en derde verhaal kom uit Konings, omdat die verhale van gasvryheid teenoor Elia en Elisa volgens geleerdes agter dié uitspraak van Jesus oor gasvryheid lê.

Eers die verhaal van die weduwee van Sarfat in Elia se tyd (1 Kon. 17).  Sarfat was ’n kusdorpie tussen Tirus en Sidon in Filistynse gebied, en later ’n belangrike pelgrims rusplek in die 4de eeu n.C. vir Christen reisigers.

Dink jou bietjie in die weduwee se situasie in.  Dit is droog in die hele gebied van Israel, ook waar sy in Filistynse gebied woon.  Elia het op bevel van die Here ’n droogte afgekondig.  Mens en dier is besig om te versmag. Dit is in boonop in elk geval nie maklik om ‘n weduwee te wees nie. Weduwees was die armste groep in die gemeenskap. Sonder ‘n broodwinner of manlike beskermer was dit moeilik vir hulle om te oorleef.

Dit is duidelik dat sy van die hand na die mond geleef het. Sy tel stukkies hout by die stadspoort op om die laaste maaltyd van brood vir haar en haar seun klaar te maak. Sy het aanvaar dat hulle hierna die dood in die gesig sou staar.

Interessant genoeg noem die weduwee die Here se Naam in haar antwoord: “So seker as die Here u God leef“. Dit is betekenisvolle woorde, want sy was waarskynlik ‘n nie-Joodse vrou. Sy kom immers nie uit die tradisionele kring van Israel se geloof nie. Sê sy, sy het genoeg vir slegs een maaltyd vir haar en haar seun: “Daarna moet ons maar doodgaan.” Sy is nie net ’n arm weduwee nie. Sy het aan die einde van haarself gekom. Sy sien waarskynlik selfs uit na die dood.

En tog vra Elia haar vir water en brood toe hy haar ontmoet.  Die water was al ’n moeilike versoek in ‘n tyd van droogte, maar om kos te vra van iemand wat niks het nie, dit was ‘n groot uitdaging.

Aanvanklik verwag Elia (en die Here!) van haar om alles wat sy het, die laaste bietjie, weg te gee. Die weduwee ontvang darem tegelykertyd die wonderlike belofte uit die profeet se mond. Sy hoef nie bekommerd te wees nie. Die Here gebied dat die meel nie sal opraak nie, en dat die olie nie sal minder word nie.

En sy besluit om die Here te vertrou.  Die beloftes van die Here oortuig haar om dit te doen. Nie haar god nie, maar die Here van hemel en aarde gaan ’n groot ding doen. Dit lei haar tot ’n daad van uiterste gehoorsaamheid in hierdie uitdagende omstandighede.

Só versorg God deur haar eie gasvryheid haarself, haar kind, en die profeet Elia. “Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.” (vers 15-16).

Sy ontvang eintlik meer as wat sy verwag het, omdat haar storie tot vandag toe vertel word. Die grootheid van die wonder is ook geleë in die geloof van ’n nie-Joodse vrou wat aan Israel ’n voorbeeld van geloof word.

’n Mens hoor dus dié storie weerklink in die woorde van Jesus in ons teks dat so iets nie ongesiens verbygaan nie: “Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die beloning van ’n profeet ontvang … En wie aan een van hierdie geringes ’n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy ’n dissipel is – Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie.” (Matt 10:41–42).  Vroeër het Jesus haar storie ook as deel van sy intreepreek in Nasaret gebruik (Luk. 4).

Ons sien hierin ook natuurlik die besondere karakter van God. Die verhaal van die weduwee van Sarfat vertel van ’n God wat met sy genade uitreik na die mees weerlose van mense. Dis sy karakter. Meer nog, Hy reik uit na mense wat op geen manier aan Hom verbind is nie. Dis hoe wyd God se genade strek.

Hierin moet ons God navolg. Dis dáár, die Sarfats van ons tyd,  waar Hy ook sy kerk wil sien profeteer. Dis dáar waar ons moet aankondig dat Hy sal sorg. Dit is dáár waar ons met die brood en water moet staan.

Die weduwee van Sunem

Die derde verhaal kom ook uit Konings.  Dit is die verhaal van die vrou van Sunem in die tyd van Elisa, wat ’n bovertrek vir Elisa gebou het waar hy kon oorbly in sy bediening, en beloon is met ’n seun (2 Kon. 4).  Sunem was noord–oos van Samaria, net suid van die See van Galilea, ’n deel waar Jesus ook soms gereis het en waar die verhaal van die Samaritaanse vrou afgespeel het.

Die verhaal eggo wat met die weduwee van  van Sarfat gebeur het, maar omdat die Sunemmitiese vrou ’n ryk vrou was, een wat die middele gehad het wat die weduwee van Sarfat maar net na kon smag, maak dit haar gasvryheid en die wyse waarop die Here haar beloon het, nog meer van toepassing in ons eie situasie.

Op ’n dag het Elisa in Sunem aangekom waar hy bedien het.  Die vrou het aangedring by hom dat hy by hulle kom eet.  Omdat hy baie keer daar verby gereis het, het dit gereeld gebeur, totdat sy vir haar man gesê het: “Ek weet dit is ’n heilige man van God”.  En gevra het: “Kom ons bou ’n klein bovertrekkie, sit vir hom ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp daar, sodat hy daar kan bly as hy by ons aandoen.” (2 Kon. 4).

Op hierdie gasvrye ongevraagde gebaar van die vrou gee die Here vir haar die vervulling van ’n onuitgesproke behoefte, om ’n seun te hê.  Interessant is hoe sy beleefd weier dat Elisa vir haar ’n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër, en dat Gehasi uiteindelik vir Elisa sê, maar sy het nie ’n kind nie.  Elisa beloof dan vir haar ’n kind, en dit is presies wat na ’n jaar gebeur.

En sy het die seën van die Here hierna op verskeie ander maniere ervaar (2 Kon. 4 en 8):

  • Toe haar seun aan sonsteek dood is, het Elisa die Here gevra en die seun het weer lewend geword.  Die verhaal word in aangrypende detail vertel.  Hoe sy haar dooie kind op Elisa se bed neergesit het in die bovertrek en haar man gerusgestel het wat toe nog dink hy is net siek.  Hoe sy ’n donkie opgesaal het om na Elisa by Karmelberg te reis oor die Jisreël vlakte.  Hoe sy die profeet gekeer het toe dié vir Gehasi met sy kierie wou stuur om op die kind neer te gaan sit, en aangedring het daarop dat Elisa persoonlik gaan. En hoe die kind uiteindelik van die Here af teruggebid is met Elisa wat gebid het, dan ‘n breek geneem het, om die huis geloop het, en dan weer gaan bid het.  Die seun het sewe keer genies en weer lewend geraak – fyn detail, kosbare Godsontmoeting!
  • Toe die droogte op ’n punt selfs vir hulle te veel raak, het die Here vir haar voorsien en in die buiteland aan die lewe gehou.  Haar man wat al oud was, was waarskynlik oorlede wat haar versorging in gedrang gebring het.
  • En selfs ná die sewe jaar droogte het sy met haar terugkeer haar grond en selfs die opbrengs van die land teruggekry, met Elisa se bemiddeling, toe sy gevaar geloop het om dit te verloor, waarskynlik omdat haar man nie meer gelewe het nie.

God se versorging oortref altyd die gasvryheid wat ons betoon.  Hy is die Groot Gasvrye Een wat ons tot die einde van ons lewe sal versorg. Ons kan Hom daarvoor vertrou en daarom uitreik in gasvryheid na mense rondom ons.

Op pad na Emmaus

Die vierde verhaal is uit die NT.  Twee mense – Kleopas en sy waarskynlik sy vrou Maria (vgl. Luk. 24:18 met Joh. 19:25) – loop op Paassondag met geboë hoofde, vertel Lukas in hoofstuk 24, van Jerusalem na hul tuiste in Emmaus, so 12 km noord–wes van Jerusalem af.  Hulle is uitgeput en hooploos na ’n intense Paasfees in Jerusalem.  Hulle het gehoop Jesus van Nasaret sou vrede na Jerusalem bring, die Romeine verdryf, en dit moontlik maak om God op die regte manier in Jerusalem te aanbid.

Op pad begin ’n vreemdeling saam met hulle stap.  Hulle verduidelik hierdie dinge aan Hom.  Net soos Abraham en Sara weet hulle nie hulle het met God te doen nie.  Die man, saam met hulle op die stofpad na Emmaus, was in werklikheid Jesus, die Seun van God.

Soos Abraham, nooi hulle die Besoeker in hulle huis in, en bedien ’n maaltyd.  Jesus self word die Gasheer en breek die brood.  Juis by die breek van die brood herken hulle die man wat die Bybel so duidelik aan hulle uitgelê het.  Dit is Jesus self.

Deur ’n vreemdeling te ontvang, het hulle God van aangesig tot aangesig ontmoet.

Gemeenskap met God

Wie geestelik wil groei, wie wil deel in Christus se seëninge, wie God se werk in die wêreld wil verstaan en daarmee wil saamwerk, moet gasvry wees.  Dit is moeilik, want:

  • Gasvryheid vra dat mens jou eie agenda moet opskort, en aandag gee aan die vreemdeling wat jou pad kruis.  Dink aan Abraham wat hoogmiddag bietjie rus, en dan skielik moet kosmaak. Dink aan die vrou van Sarfat wat haar laaste bietjie brood moet offer.  Dink aan die vrou van Sunem wat Elisa met oorvloed onthaal en ontvang.  Dink daaraan dat jy te alle tye bereid moet wees om mense in te nooi.  Jy hoor mos … só ontvang jy God self.
  • Gasvryheid vra dat mens oop moet wees vir verrassings, dat ’n mens ’n Goddelike nuuskierigheid aan die dag moet lê vir wat en wie Hy oor ons pad bring.  Elke moontlike mens wat jou pad kruis, elke situasie waarin jy beland, roep Godsvrae op.  Hoe is God hier teenwoordig?  Waarmee is God besig?  Hoe wil die Here hê moet ek op hierdie situasie reageer?
  • Gasvryheid vra dat jy met minder vaste oortuigings en meer openheid moet leef, minder moet voorskryf en meer respek moet hê vir die vreemdeling, minder dogma moet af forseer en meer leerbaarheid moet toepas, minder beheer van jou omgewing moet toepas en meer diensbaarheid moet betuig.

Die loon?  “Wie My gestuurdes ontvang, ontvang My,  En wie My ontvang, ontvang die Een wat My gestuur het.” Soos Peterson sê: “This is a large work I’ve called you into, but don’t be overwhelmed by it. It’s best to start small. Give a cool cup of water to someone who is thirsty, for instance. The smallest act of giving or receiving makes you a true apprentice. You won’t lose out on a thing.”

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.