Skip to main content

Psalm 8 – As ek kyk … as God kyk

Die afgelope week het ons massiewe storms in die Wes-Kaap gehad wat ongelooflike verwoesting gesaai het.  Sommige wyt dit aan aardverwarming.  Ander sê dit het niks met aardverwarming te doene nie, maar is doodgewoon deel van groter siklusse van verskuiwende weerpatrone waarop die mens nie juis ‘n impak het nie.  Nog ander sê dit is maniere waarop God die sondige samelewing straf waarin ons leef.  Nog ander sien die wyses raak waarop mense nou uitreik na mekaar en hulp verleen en staan verstom met die medemenslikheid wat aan mekaar gewys word.

Ons het die afgelope week ook die ergste vernietiging ooit van woongebiede in die Knysna omgewing gehad deur veldbrande wat doodgewoon hand uit geruk het.  Die verhale van verwoesting het aan ons harte geruk.  ‘n Mens kan moeilik ‘n greep kry op die omvang van die leed wat mense tans daar ervaar.  Sommige wyt die verwoesting aan brandstigting. Ander aan ‘n vuur wat al lankal gesmeul het in die bos en geïgnoreer is.  Nog ander sê dit is maniere waarop God sy toorn laat wys oor die verval in die wêreld.  Nog ander sien ook die wyses raak waarop mense nou uitreik na mekaar en hulp verleen, van regoor die land, ook van PE, en omgee en ophelp.

Wat sien Dawid?

Kom ons luister na Dawid in Psalm 8.  Kom ons hoor wat hy sien as hy kyk na die aarde …

Download the English translation: Psalm 8 – English.docx ; Psalm 8 – English.pdf

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

RUS

Toetrede

Lied 454 Vader, ons eer U – sit

Votum en Seëngroet

Voorganger:  Here, ons Here, hoe wonderbaar is u naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Gemeente:  Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Lofsang

Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees – staan

Wet

2 Korintiërs 13:11

11Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!

Toewyding  

Lied 453 Aan die Vader dank en ere – sit

HOOR

Kindertyd

Gesels oor hoe God meer is as wat ons ooit sal verstaan.  Hy is groter as die kerk.  Hy is groter as PE.  Hy is groter as die aarde.  Hy is groter as alles wat gemaak is.

God is Vader, Seun en Heilige Gees.  Ek wil dit vir julle demonstreer met ‘n eier.

Hier is ‘n eier.  Sien julle dit is ‘n eenheid.  Soos ‘n eier ‘n eenheid is, is God ook ‘n eenheid.

Kom ons breek die eier.  Wat sien julle nou?  Die eier bestaan ook uit drie dele, te wete die dop, die eierwit en die eiergeel. Saam vorm dit ‘n eier.

So is dit met God ook. As jy byvoorbeeld net die Vader het, het jy vir God, ja, maar daar is nog meer aan God.  Dieselfde met Jesus en die Heilige Gees.  Al drie is God.  Al drie is belangrik om met God in ‘n verhouding te lewe.

Maar, God is nie net groot nie. Hy het ook alles gemaak.  En dit is ongelooflik mooi en wonderlik.

Het julle al op julle rug gelê en opkyk na die hemel?  Dit is wonderlik nê.  Het een van julle al met ‘n teleskoop gekyk na die maan of na een van die sterre?

Kom ons kyk ‘n video Eyes zoom to space HD.

Die video het jou ook gewys hoe wonderlik jy is.  God het jou op ‘n wonderlike manier gemaak.

Kom ons loof Hom daarvoor.

Flam 84 My God is so groot so sterk en so magtig – sit

Gebed

Skriflesing is deel van die preek

Wat sien jy as jy kyk na die aarde?

Die afgelope week het ons massiewe storms in die Wes-Kaap gehad wat ongelooflike verwoesting gesaai het.  Sommige wyt dit aan aardverwarming.  Ander sê dit het niks met aardverwarming te doene nie, maar is doodgewoon deel van groter siklusse van verskuiwende weerpatrone waarop die mens nie juis ‘n impak het nie.  Nog ander sê dit is maniere waarop God die sondige samelewing straf waarin ons leef.  Nog ander sien die wyses raak waarop mense nou uitreik na mekaar en hulp verleen en staan verstom met die medemenslikheid wat aan mekaar gewys word.

Ons het die afgelope week ook die ergste vernietiging ooit van woongebiede in die Knysna omgewing gehad deur veldbrande wat doodgewoon hand uit geruk het.  Die verhale van verwoesting het aan ons harte geruk.  ‘n Mens kan moeilik ‘n greep kry op die omvang van die leed wat mense tans daar ervaar.  Sommige wyt die verwoesting aan brandstigting.  Ander aan ‘n braaivleisvuur wat handuit geruk het.  Nog ander sê dit is maniere waarop God sy toorn laat wys oor die verval in die wêreld.  Nog ander sien ook die wyses raak waarop mense nou uitreik na mekaar en hulp verleen, van regoor die land, ook van PE, en omgee en ophelp.

Wat sien Dawid?

Kom ons luister na Dawid in Psalm 8.  Kom ons hoor wat hy sien as hy kyk na die aarde.

1Vir die musiekleier. Op die Ghitiet – ‘n musiekinstrument of -styl. ‘n Psalm­ – ‘n lofprysing. Van Dawid. 

2HERE, ons Heer,  hoe magtig is u Naam oor die hele aarde,

Die eerste ding wat Dawid sien as hy na die aarde kyk, is die Here self.  Nie net die magtige Jahwe wat alles gemaak het nie, maar die Adonai – dit is die tweede woord wat Hy vir God gebruik, wat vertaal is met Heer – die Baas van die hele aarde.  Ook nie net die Adonai nie, maar ons Adonai.  Hy is nie net die Here, die Eienaar, die Skepper van die hele aarde nie, maar die Baas, ons Baas, die een van die verbond, die een aan wie ons verbind is, die een wat in beheer is van die hele aarde, Jahwe Adonai.

GOD SE NAAM IS MAGTIG OOR DIE HELE AARDE

En wat sien Dawid van God raak?  Hy sien – vers 2 – dat sy Naam magtig is oor die hele aarde.  Hy het Homself geopenbaar van die een kant daarvan tot aan die ander kant.  Die aarde is vol van sy teenwoordigheid.  Soos Jesus jare later vir ons sou leer bid, bid Dawid saam: “Laat u Naam geheilig word.” U moet aanbid word, want U handewerk is sigbaar in elke detail van die hele aarde.

Dit laat Dawid besef hoe nietig ons is op die aarde as ons ons vergelyk met die grootsheid van die heelal en daarmee van die God wat dít alles gemaak het.

U wat u luister aan die hemelruim vestig. 

Dit bly verstommend om jouself bloot te stel aan die wonder van die natuur. Ons het iets daarvan gesien in die video wat vir ons iets van dié wonder visueel voorstel.  God se grootsheid is afgedruk op elke aspek van elke element wat die groot geheel van die heelal uitmaak.

Maar ons sien dit nie net in die wonder van die natuur nie.  Ons sien dit ook in die vertroue wat kinders het in God.  Dawid sê:

3Met die stemme van kinders en suigelinge het U ‘n vesting opgerig teen u teenstanders om vyande en wraakgieriges te stuit. 

Kinders verstaan intuïtief baie keer meer van God se grootheid as volwassenes wat in hulle dwaasheid teenstanders van God raak en sy teenwoordigheid in sy eie skepping ontken en verwerp, trouens teenstanders van Hom raak, sy vyande, en wraakgierig raak oor almal wat Hom wil dien en erken vir wie Hy is.

Kinders beperk nie vir God nie.  Hulle glo dat God enigiets kan doen.  Soos die vierjarige dogtertjie nou die dag gesê het toe sy in die winkel kom en die speelding sien wat sy vir haar eenjarige boetie wou gee: “Liewe Jesus het dit vir my hier gebêre.

God se teenstanders beperk Hom egter ten beste tot die private area van ‘n mens se spiritualiteit, en ten slegste tot die nulliteit van niebestaan.  Hoe vreeslik dat ‘n skepsel jou bestaan kan ontken as jy hom of haar gemaak het …

DIE WONDER VAN GOD SE HEELAL IS GROOTS

Maar, dié gedagte hou die Psalmis nie lank gevange nie.  Die wonder van God se heelal is te groots en invloedryk in die betekenis wat dit vir ons inhou:

4Wanneer ek na u hemelruim kyk,  die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het

Die omvangrykheid en kompleksiteit van die heelal is onmeetlik groot.  Dié besef is een van die gevolge van ons wetenskaplike vordering, veral in terme van die fisika en die astrofisika dat ons beter verstaan met hoeveel finesse die heelal tot stand gekom het.

Anders as wat Carl Sagan aanvanklik gedink het dat daar net twee faktore nodig is vir lewe om hier te kon ontstaan – ‘n groot genoeg son en ‘n aarde wat net die regte afstand van die son af is – weet ons vandag dat ons ook ‘n groot planeet soos Jupiter nodig het om die meeste van die asteroïede aan te trek sodat dit nie planeet aarde tref nie, anders sou die aarde lankal onbewoonbaar gewees het.

Vandag is daar met verdere navorsing meer as 200 faktore wat erken word wat in perfekte balans met mekaar moet wees om lewe enigsins moontlik te maak op aarde (vgl. video van Eric Metaxas van PragerU op Youtube).  Dat ons hier is en kan lewe, is ‘n wonderwerk van die absolute fyn instelling van die heelal.

Trouens, dit raak al hoe moeiliker om die bestaan van die heelal uit toevallige lukrake prosesse te verklaar, indien nie heeltemal onmoontlik nie.  Om maar net een besondere fyn instelling van die heelal te noem, sonder dat die waardes van die vier fundamentele kragte in die heelal presies is soos dit is, sou die heelal nooit bestaan het nie.  Dit is die waardes van:

  1. swaartekrag – dit is die aantrekkingskrag tussen objekte (eweredig aan die massa van twee objekte en omgekeer eweredig aan die afstand tussen hulle, wat altyd gelyk is aan G, die swaartekrag) wat altyd ‘n konstante 6 x 10-39 (beskryf in Newton se wette) regdeur die heelal is. As die waarde van swaartekrag nie presies was as wat dit is nie, sou ons nie op aarde kon beweeg nie, want ons sou óf moes vlieg óf moes seil;
  2. elektromagnetiese kragte – dit is die aantrekkingskrag tussen bv. elektrone en die kern in atome wat molekules bymekaar hou wat altyd konstant (0,00729927) is (Ke) is regdeur die heelal.  Verander daaraan net ‘n aks meer of minder en atome sal óf inplof óf uitplof;
  3. sterk kragte in die kern van atome – dit is die aantrekking bv. tussen protone en neutrone in die atoomkern wat nodig is dat atome in molekules nie uitmekaar spat nie, wat die waarde van 1 het regdeur die heelal. Verander daaraan ‘n aks en dieselfde gebeur; die kern van atome sal óf inplof óf uitplof;
  4. swak kragte in die kern van atome – dit is bv. die kragte wat die radioaktiewe verval van atome moontlik maak dat die son se kernreaksies kan plaasvind om lig aan ons te verskaf, wat die waarde van 10-6 het regdeur die heelal. Weereens verander daaraan ‘n aks en jy sal óf te veel energie óf te min hê.

Hierdie waardes is konstant regdeur die heelal.  En hulle is boonop verbind aan mekaar.  Verander enigeen net ‘n klein fraksie … dan kan die ander kragte ook nie meer hulle werk doen nie.  Verander dus enige enkele een van daardie waardes en die heelal sou nooit bestaan het nie, want dit sou óf op mekaar ingeplof het met die Groot Ontploffing (Big Bang) óf uit mekaar gespat het sodat geen sterre hoegenaamd kon vorm wat lewe moontlik sou maak nie.

Die idee dat alles wat bestaan spontaan, lukraak, en toevallig gebeur het, is doodgewoon ontoepaslik om sin van die wetenskaplike data wat ons het, te maak.  Die idee dat daar Iemand is wat dít alles gemaak het, is ‘n baie beter verklaring van die heelal as enige ander idee, sonder om daarmee te sê dat ons die bestaan van God bewys het. Dit bly ‘n geloofsdaad.  Maar, daar is nog nie ‘n beter verklaring gegee vir die bestaan van die heelal as dat Iemand dit gemaak het nie.  En ons glo dat dit ons God is.

En as jy moeilik hieraan sluk, as jou wêreldbeeld jou beperk om in te sien dat God inderdaad hierdie heelal op só ‘n fyn manier gemaak het, volg Alister McGrath se voorstel na om ‘n ander manier van kyk te beoefen: counterfactual (The mystery of the constants of nature).

Dit is ‘n verbeeldingsoefening van “wat as …” Dit is om jou voor te stel dat iets nie is soos dit is nie.  Soos: wat as … ‘n kangeroe nie ‘n stert gehad het nie?  Sou hy kon regop bly?  Sou hy nog kon spring?  Of, wat as … die aarde vier keer groter sou gewees het?  Sou ons kon loop of sou ons soos slange moes seil?  Of, wat as … die vier kragte van die heelal nie konstant was nie?  Sou ons enigsins hier gewees het?  Sou daar ipso facto iets gewees het eerder as niets?

Dit open vir jou ‘n ander manier om die waarde van die kennis wat jy het, te ondersoek.  Dit open vir jou maniere om die teologiese betekenis van wat jy waarneem, met nuwe oë te ondersoek, en om ‘n waardering te kry vir dié dinge wat ‘n mens as vanselfsprekend aanvaar en nie meer na waarde skat nie.

Maar, sê Dawid:

—  5wat is ‘n mens dan dat U hom in gedagte hou, ‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk?

Die kontras tussen die grootsheid van die heelal en die nietigheid van die mens kan kwalik groter wees.  Dit is wat ons met die storms en die brande die afgelope week waargeneem het.  Beide in die nietigheid voor die kragte van die natuur in die Kaap as in die nietigheid voor die swakhede van die mens in Knysna.

Hoekom sou God Hom bemoei met ons? Hoekom sou Hy ons in gedagte hou?  Hoekom sou Hy aan ons aandag skenk?  Die volmaakte mens wat Hom dien en sy wil gehoorsaam, dít kan ‘n mens nog op ‘n manier verstaan.  Maar, die sondige wederstrewige mens?  Regtig?

AS JY MET GOD SE OË KYK

Ja, sê Dawid, presies daardie mens, as Dawid met God se oë kyk na die mens:

6U het hom net minder as ‘n god gemaak; 

Dit is ongelooflik!  Vers 6-9 sê  dat God die mens net minder as ‘n “god” (Elohîm) gemaak het.  Nie maar ‘n goddelike wese soos dit vroeër vertaal is nie.  As ‘n god.  Ons is net minder as wat God self is.  Ons is meer as die hemelse wesens.  Ons is meer as enige ander deel van God se goeie skepping. Ons is net minder as Hyself!  God het nie enige ander hemelse wese se natuur aangeneem nie, net die menslike natuur in die Here Jesus Christus.  En ons menslike natuur is nou saam met Jesus aan die regterhand van God. Ons is reeds in die hemel!

Daar is dus ‘n kontras tussen Skepping en skepsel, tussen Skepper en die mens, maar dit moet ons nie in die nietigheid van die mens laat vasval nie, want God se bedoeling met menswees wat ‘n grootse doel.  Dít is soos God na ons kyk!

GOD BESKOU DIE MENS AS KONINKLIK

Soos Dawid skryf, as hy met God se oë kyk na die mens:

U het hom met majesteit en glansrykheid gekroon.  7U laat hom heers oor die werk van u hande;  U het alles onder sy voete geplaas:  8al die kleinvee en beeste,  ja, selfs die diere van die veld,  9die voëls van die hemel en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane. 

God het die mens konings gemaak, want dit is koningsterminologie wat hier gebruik word – “gekroon“, “laat hom heers“, “alles onder sy voete geplaas“.  “Alles wat God gemaak het, is onder die koninklike voete van die mens gestel” sê Jimmy Loader.

‘n Mens hoor hier dus onmiskenbaar die parallel met Genesis 1:26.  God het ons as Imago Dei, as sy beeld gemaak, as sy gelykenis.  Geen ander wese in die heelal het daardie hoë status nie, nie die engele nie, nie die serafs nie, nie enige lewende wese nie.  Ook nie die son, die maan en die sterre nie.

Dit is waar dat die kontras tussen die nietigheid van die mens in terme van die hemelruim en sy waardigheid voor God op die aarde beteken dat die grootheid in nietigheid bestaan, presies soos dit van Christus geskrywe word, dat Hy Homself ontledig het, die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het, nietig en klein geword het … en dat God Hom uitermate verhoog het, groot gemaak het, selfs groter as wat Hy was voor sy menswording (Fil. 2:5-11).

Maar, die een is so belangrik soos die ander.  Ons is nietig, maar waardig.  Ons is klein, maar groots in God se oë.  Ons is soms verwaand, maar God stap desnieteenstaande ‘n pad met ons, al moet Hy soms hard praat en ons tot stilstand ruk om ons aandag te kry.

GOD SE NAAM IS MAGTIG OOK IN ONS

Die Psalm sluit af soos dit begin het:

 10 HERE, ons Heer,  hoe magtig is u Naam oor die hele aarde! 

Hierdie keer is dié vers egter nie net ‘n verheerliking van God se teenwoordigheid op die hele aarde nie.  Dit is ‘n oproep aan elkeen van ons om die gebed van die Here Jesus met meer erns en dringendheid te bid.

Om te bid dat die mens inderdaad aan sy hoë roeping as God se skepsel – as ‘n god in God se oë – sal beantwoord: Here, “laat u Naam geheilig word”, “laat u koninkryk kom”, “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (die eerste drie bede van die Ons Vader).

  1. Met die eerste bede, “Laat u Naam geheilig word”, bid ons allereers dat ons God reg sal ken en dat ons God heilig, roem en prys in al u werke.
  2. Met die tweede bede, “Laat u koninkryk kom”, bid ons dat God ons so deur sy Woord en Gees sal regeer dat ons ons hoe langer hoe meer aan Hom onderwerp.
  3. Met die derde bede, “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”, bid ons dat God sal gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan sy wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees.

Ek sluit af.

Ontsag en oortuiging

Psalm 8 is op ‘n besondere plek in die Psalmbundel.  Rondom dié Psalm is ‘n hele aantal ander Psalms wat klaagpsalms is, wat uitroep na God midde in die geweld van die lewe.  In Psalm 3 en 4 sukkel Dawid onder die aanslag van sy vyande, selfs iemand so naby aan hom as sy eie seun, Absalom.  In Psalm 4 gaan hy ook gebuk onder misoeste, en in Psalm 6 onder siekte.  Psalm 5 en 7 verwoord sy versugting oor verraaiers en vervolgers.

Psalm 8 is dus ‘n lofpsalm midde in die leed van hierdie lewe.  Dit roep ons dus op om ons hele lewe in die lig van God se grootsheid te sien, ‘n grootsheid wat Hy demonstreer in die heelal, sowel as in die lig van jou afhanklikheid van Hom, ‘n waardigheid wat in sy oë bestaan.

Psalm 8 is dus ‘n Psalm van ontsag en oortuiging.  Die Psalmis buig voor God in die besef van ons kleinheid voor die grootheid van die heelal, soos ons op ‘n manier ook in die Kaap van storms ervaar het.  Die verwoesting wat ons beleef het, moet ons tot God laat roep dat Hy sy bewarende hand oor ons sal hou wanneer die weerpatrone die lewe vir ons moeilik maak, óf dit nou is vanweë óns hand daarin met aardverwarming, óf dit nou is ten spyte van ons bydraes, en net deel van die verydeling wat nog deel is van God se gevalle skepping is.

Die Psalmis is egter ook bewus van ons ongelooflike waarde vir God. Ons is nietig.  Ja.  Maar, ons is ook waardig.  Ons is klein.  Ja.  Maar, ons is ook groot. Ons is soms dwaas en bewerk ons eie onheil.  Maar God kyk na ons met deernis en verwagting.

Daarom kan ons as gelowiges ook bid en betrokke raak by die nood wat mense ervaar in die Suid-Kaap, terwyl ons ook onsself verootmoedig voor God en bid dat mense tot insig en bekering kom en Hom bó alles as Jahwe, as óns Adonai, sal erken.

Lina Spies verwoord dié Psalm as volg:

  1. O, Here God, u Naam is groot op aarde!

U hemelruim strek tot die verste einders:

Waar menseoë geen stippel meer gewaar,

daar straal en skyn nog steeds u majesteit.

 

  1. Na U, die God so hoog bo ons verhewe,

styg daar ‘n lied van dank, u Naam ter ere!

U lof uit kindermonde klink alom:

U haters swyg, U lasteraars verstom.

 

  1. Sien ek die maan, die sterre in hul bane,

weet ek, o Heer, hul dra u vingermerke:

hul skryf u Naam al glinst’rend in hul gang;

hoe klein voor U die mens, hoe sonder rang.

 

  1. Hoe is dit dan dat U tog na ons omsien,

die brose mens omstraal met u nabyheid?

U maak ons sterk, U kroon ons met u glans:

Ons hoort by U en word deur U omskans.

 

  1. U stel ons aan oor al u werke, Here,

oor als wat vry en selfs verborge lewe:

die voëls wat in die ruim hoog oor ons sweef,

die vis wat speel in dieptes van die see.

 

  1. O, Here God, u Naam is groot op aarde!

U hemelruim strek tot die verste einders:

Waar menseoë geen stippel meer gewaar,

daar straal en skyn nog steeds u majesteit!

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

VONKK 85 Here, ons Here, hoe groot is U! – staan

Seën

Respons

Lied 189 Halleluja! – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.