Vraag 14: Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie?
Materiaal vir stiltetyd, kleingroepe of families.
RUS
Gebruik Eksodus 34:6-7: “Ek is die Here. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou. Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie.” (NLV)
HOOR
1. Dink jy God is regverdig om almal aan die wet te hou as niemand dit volmaak kan onderhou nie? Hoekom dink jy so? Hoe laat dit jou voel?
2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.
Sodat almal hulle sonde kan leer ken en hulle behoefte aan ’n volkome verlossing, want God laat sonde nooit sommer verbygaan nie. Omdat almal God se wet van nature en deurlopend in gedagte, woord en daad verbreek, ontbreek dit almal aan die heerlikheid van God. Niemand is in staat om die wet na te kom sonder ’n Verlosser nie.
3.Sou jy van sonde bewus gewees het sonder die wet? En ander mense? Watter effek sou dit op jou lewe gehad het? En op die samelewing?
4. Lees die verhaal van die Israeliete in Numeri 14:1-25. Wat tref jou?
5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.
Die Here het die Israeliete by die beloofde land gebring. Maar hulle begin toe kla, want hulle was bang vir die reuse in die land. Hulle wou teruggaan Egipte toe. Net Kaleb en Josua was bereid om die Here te vertrou. Die Here wou die Israeliete uitwis, maar Moses het namens hulle om vergifnis gevra. Die Here het hulle vergeef, maar gesweer dat hulle in die woestyn sou sterf. God laat sonde nooit sommer verbygaan nie. God sou hulle kinders genadig wees. Die kinders sou 40 jaar later die land inneem. Ook Kaleb en Josua, omdat hulle na die Here geluister het.
LEEF
6. Ons is geneig om aan sonde te dink vanuit menslike oorwegings. Die verhaal van die Israeliete wys dat sonde in wese ‘n gebrek aan vertroue op en gehoorsaamheid aan God en sy wil vir die lewe is, soos die wet dit onder andere uitspel. Hoe kan jy eerder Kaleb en Josua se voorbeeld volg as die res van die Israeliete s’n?