Skip to main content

Vraag 14: Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie?

Materiaal vir stiltetyd, kleingroepe of families.

RUS

Gebruik Eksodus 34:6-7: “Ek is die Here. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou. Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie.” (NLV)

HOOR

1. Dink jy God is regverdig om almal aan die wet te hou as niemand dit volmaak kan onderhou nie? Hoekom dink jy so? Hoe laat dit jou voel?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Sodat almal hulle sonde kan leer ken en hulle behoefte aan ’n volkome verlossing, want God laat sonde nooit sommer verbygaan nie. Omdat almal God se wet van nature en deurlopend in gedagte, woord en daad verbreek, ontbreek dit almal aan die heerlikheid van God. Niemand is in staat om die wet na te kom sonder ’n Verlosser nie.

3.Sou jy van sonde bewus gewees het sonder die wet? En ander mense? Watter effek sou dit op jou lewe gehad het? En op die samelewing?

4. Lees die verhaal van die Israeliete in Numeri 14:1-25. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Die Here het die Israeliete by die beloofde land gebring. Maar hulle begin toe kla, want hulle was bang vir die reuse in die land. Hulle wou teruggaan Egipte toe. Net Kaleb en Josua was bereid om die Here te vertrou. Die Here wou die Israeliete uitwis, maar Moses het namens hulle om vergifnis gevra. Die Here het hulle vergeef, maar gesweer dat hulle in die woestyn sou sterf. God laat sonde nooit sommer verbygaan nie. God sou hulle kinders genadig wees. Die kinders sou 40 jaar later die land inneem. Ook Kaleb en Josua, omdat hulle na die Here geluister het.

LEEF

6. Ons is geneig om aan sonde te dink vanuit menslike oorwegings. Die verhaal van die Israeliete wys dat sonde in wese ‘n gebrek aan vertroue op en gehoorsaamheid aan God en sy wil vir die lewe is, soos die wet dit onder andere uitspel. Hoe kan jy eerder Kaleb en Josua se voorbeeld volg as die res van die Israeliete s’n?

VIR DIEPERDELWERS

Continue reading

Luisterblad Rut 1 – 15 tot 21 Julie 2018

KLEINGROEPE SAAM-LUISTER

Ingenooi deur God:

Dalk het julle weens die vakansie lanklaas ontmoet.  Laat elkeen kortliks vertel hoe dit met julle gaan.

Ingaan in God se tyd:

Maak julle oë toe en luister biddend terwyl iemand Matteus 5:3-9 rustig lees.

Luister na God se Woord: 

Lees Rut 1.  Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer:  wat staan vir jou uit, wat raak jou, wat ontwrig jou of daag jou uit?

Continue reading

Johannes 20:1-31 – “wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode”

Inleiding

Ons fokus volgende week op drie sleutelgebeure.

  1. Met die Tennebrae (donker) diens Donderdagaand 18:00 fokus ons op Jesus se kruisiging wat eindig met sy woorde: “Dit is volbring! Daarmee bring ons Jesus se laaste ses uur aan die kruis in herinnering.
  2. Met Goeie Vrydag om 09:00 fokus ons op Jesus wat: “gesterf het en begrawe is”. Ons hou ook saam nagmaal.
  3. Op Paassondag 09:00 fokus ons op die ontknoping van die kruisigingsverhaal: “wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode” in Johannes 20.

Almal is welkom!

Continue reading

Johannes 18:39-19:16 – “wat gely het onder Pontius Pilatus”

Inleiding

Mihaly Munkacsy – Le Christ devant Pilate (1881)

Ons fokus die volgende drie weke op die kruisigingsverhaal van Jesus tot en met Goeie Vrydag. Die verhaal word in Johannes 19 in vier bedrywe vertel. Hieruit is die derde en vierde artikel van die apostoliese geloofsbelydenis geformuleer: “wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.

Die eerste week is die eerste bedryf aan die orde: “wat gely het onder Pontius Pilatus”. Volgende week fokus ons op die tweede bedryf: “gekruisig is”. Die laaste week tot en met Goeie Vrydag fokus ons op die laaste twee bedrywe: “gesterf het en begrawe is”.

Paassondag fokus ons op die ontknoping van die kruisigingsverhaal in Johannes 20 waaruit die vyfde artikel van die apostoliese geloofsbelydenis geformuleer is: “wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode”.

Die aand vóór Goeie Vrydag gaan ons ook ‘n Tennebrae diens hou Donderdagaand 29 Maart 18:00. Ons fokus met video, woord en lied op Jesus se kruisiging met die titel: Dit is volbring!

Almal welkom!

Continue reading

Johannes 18:1-27 – Liefde roep ons terug

http://fullydevotedone.blogspot.co.za/2014/03/station-four-peter-denies-jesus.html

STILTETYD

Rus: Fokus jou gedagtes op Johannes se uitspraak oor Jesus: “So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: ‘Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.’” (Joh 18:9).

Hoor: Lees die verhaal van Petrus in Johannes 18:1-27 en leef jou daarin in. Merk al die karakters. Dink na oor elkeen se gedagtes, gevoelens en gedrag. Dink na oor wat Jesus vir elkeen sê. Dink na oor wat Jesus self voel en wat Hy doen. Hoe spreek dit jou aan? Watter boodskap het dit vir jou? Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies wat die Gees by jou laat opkom. Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat. Dink na oor wat God deur hierdie verhaal vir jou wil sê.

Leef: Neem tyd vandag om na te dink oor Jesus se belofte in vers 9. Wat sê dit vir jou van Jesus? Wat sê dit vir jou van jouself? Watter sekerheid gee dit jou? Onthou ook die verhaal van wat uiteindelik met Petrus gebeur. As jy wil, lees daarvan in Johannes 21:15-25. Wat sê dit vir jou van Jesus se liefde wat ons terugroep?

Loof die Here in gebed vir sy belofte. Bid om sekerheid as jy dit nie het nie.

Continue reading

Johannes 11:1-44 – Liefde gee lewe

STILTETYD

Jesus Raises Lazarus From The Dead van Ann Lukesh

Rus: Fokus jou gedagtes op Jesus se uitspraak oor Homself: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie.” (Joh 11:25).

Hoor:  Lees Johannes 11:1-44 en leef jou in die verhaal in. Merk al die karakters. Dink na oor elkeen se gedagtes, gevoelens en gedrag. Dink na oor wat Jesus vir elkeen sê. Dink na oor wat Jesus self voel en wat Hy doen. Hoe spreek dit jou aan?  Watter boodskap het dit vir jou?  Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies wat die Gees by jou laat opkom.  Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat. Dink na oor wat God deur hierdie verhaal vir jou wil sê.

Leef:  Neem tyd vandag om na te dink oor jou ewige bestemming.  Wat glo jy oor Jesus?  Wat glo jy oor die lewe na die dood? Het jy sekerheid dat Jesus ook vir jou die opstanding en die lewe is?

Loof die Here in gebed daarvoor. Bid om sekerheid as jy dit nie het nie. Hy vra van jou dieselfde vraag as wat Hy aan Martha gevra het: “Glo jy dit?” En Hy gee die ewige lewe vir jou as jy dit in geloof ontvang.

Continue reading