Skip to main content

Net by God vind ek rus – Psalm 62

Tema: Net by God vind ek rus – Psalm 62
24 Januarie 2021 Somerstrand Youtube 09:00

Verwelkoming

Verjaarsdae

Ses lidmate verjaar vandag. Tania Barnardo, Senta Jacobs, Lienke Pretorius, Johan Schoeman, Charl van der Merwe, en Johan van Zyl. Baie geluk. Lienke Pretorius word hierdie week 9 jaar oud. Lua Posthumus word 11 jaar oud. Jani Hurter word  8 jaar oud. Baie geluk!

Youtube

As jy hou van ons eredienste op Youtube is jy welkom om in te teken met die rooi subscribe knoppie.

Toetrede

Vonkk 127 – By God is ek tevrede

Votum en seëngroet

Loflied

Lied 184 – Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere

Gebed

Skriflesing en prediking

Net by God vind ek rus

Psalm 62 raak ‘n sentrale tema van die menslike lewe aan, naamlik geborgenheid te midde van ‘n wêreld vol lyding. Te midde van die afwaartse spiraal van geweld, onreg en rusteloosheid, is God ‘n veilige staanplek. Net by God vind ek rus, sê Dawid:

62:1 Vir die musiekleier . Op Jedoetoen. ‘n Psalm. Van Dawid.

2 Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing. 3 Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal beslis nie wankel nie.

Die rus van Psalm 62 is nie die passiewe soort berusting in die almag en beskikking van ‘n veraf God of die noodlot nie. Dit is nie ‘n soort rus in dogmas oor God ten spyte van die ervarings van die lewe wat nie daarmee ooreenstem nie. Die psalm se rus in God is een wat mense in hulle worsteling ervaar, ten spyte van die gebrokenheid van die lewe.

Dit sien ons in die beskrywing van die tipe uitdagings wat hy ervaar in die lewe:

4 Hoe lank nog gaan julle ‘n man bly aanval, vermoor julle almal hom – asof hy ‘n muur is wat oorhel, ‘n tuinmuur wat omgestoot word? 5 Ja, hulle beplan om hom af te stoot van sy hoë plek, hulle hou van leuens. Met die mond seën hulle, maar in hulle binneste vloek hulle. Sela

Ons almal is soms slagoffers van mense wat ons wil benadeel, verwens, vervloek of net ignoreer. Mense met ‘n glimlag op die gesig en ‘n dolk in die hand – soms spreekwoordelik, soms werklik. Ons voel ook soos ‘n muur wat wil omval, ‘n klipmuur wat omgestoot word. Net nog ‘n klein stampie, en dit is verby.

Maar let op dat Dawid hieroor praat vanuit sy rus in God. Dit is sy rus in God wat hom die moed gee om vanuit die posisie van vertroue die probleme in sy lewe aan te spreek.

Psalm 62 beskryf dus nie die rus in God as ontrekking uit die lewe nie. Nee, die rus in God gee Hom die krag om op te tree. Maar, steeds sy rus in God midde in die storms te belewe. Hy bely dit só:

6 Vind rus by God alleen, my siel, want op Hom is my hoop gevestig. 7 Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie. 8 By God lê my verlossing, my eer. My sterk rots, my skuilplek, vind ek in God.

Hierdie vertroue in God gee aan hom nie net ’n rustige sekerheid midde-in aanvegtinge nie, maar dien ook as getuienis en bemoediging van die geloofsgemeenskap.  God is vir almal ’n veilige vesting.  Daarin kan ’n mens rus vind. Daarom kan hy alle gelowiges aanmoedig om op God te vertrou in hulle eie unieke situasies van aanvegting.

9 Vertrou te alle tye op Hom, o volk, stort julle hart voor Hom uit. God is vir ons ‘n skuilplek. Sela

Dit is in vertroue dat God kan optree dat Dawid ons uitnooi om ons hart voor Hom uit te stort. Om vanuit ons skuilplek in Hom die uitdagings van die lewe met Hom deur te gesels, sodat Hy kan optree en die paaie vir ons gelyk kan maak.

Maar, let op, Dawid spreek ook die breë gemeenskap aan. En hy waarsku alle mense om nie op hulleself staat te maak nie, en veral nie te dink dat hulle sonder God in sy wêreld kan lewe nie:

10 Net ‘n asemteug is die mens, onbetroubaar is mense; op ‘n skaal weeg hulle byna niks, saam is hulle ligter as ‘n asemteug. 11 Moet op afpersing nie staatmaak, op plunder julle ydele hoop nie vestig nie. Rykdom, as dit toeneem – moet julle hart nie daarop sit nie. 12 Een saak het God bevestig, twee, wat ek gehoor het: Krag is by God;

Voor God is mense magteloos. Hulle is verganklik en nietig. ‘n Asemteug. Hulle beweeg amper nie eers ‘n skaal as hulle daarop staan nie. Selfs as jy hulle almal saam voeg, is hulle nog ligter as ‘n asemteug. Mense is soos niks in vergelyking met God.

Daarom waarsku Dawid ons om nie op geweld of rykdom te vertrou nie.  Moenie jou hart op rykdom sit nie. Daar is maar net Een wat vertrou kan word, en dit is God.

Dawid sluit sy Psalm met ‘n gebed wat twee waarhede oor God formuleer:

13 by U, my Heer, is daar troue liefde, want U self beloon ‘n mens volgens sy dade.

Benewens God se mag (vers 12) staan sy troue liefde (ḥesed) en sy regverdigheid uit as dié prentjie van God wat rus en versekering bring.

Ons kan op God se liefde vertrou

God se lojale liefde is die grond van ons bestaan.  ‘n Mens kan staatmaak op die getrouheid van God se liefde.

Ons kan op God se regverdigheid staatmaak

God beloon ‘n mens volgens sy dade. Hierdie perspektief op God kan natuurlik verkeerd gehoor word. Maar, onthou, die Psalm sê nie dat ons iets verdien nie, maar dat God met ons handel volgens ons werk, volgens ons dade.

Dit gaan oor God se billikheid en regverdigheid. Dit dien tot versekering en bemoediging wanneer jy aan die kortste end trek in jou verhouding met ander mense.  God het die mag (en die lojaliteit) om in die laaste en finale instansie reg te laat geskied.  Daarop kan ons staatmaak (vgl. ook Ps. 28:4; Spr. 24:12; Jer. 17:10).

Hierdie gedagte het wyd in die NT ’n neerslag gevind God tree billik op teenoor alle mense volgens die somtotaal van hulle werke, die nalatenskap van hulle lewens.

Jesus verklaar dat God elkeen volgens sy dade vergeld

Jesus verklaar in Matteus 16:27 op voetspoor van hierdie teks:

“Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.”

In Matteus 7:22-23 brei Jesus hierop uit en waarsku dat dit ‘n fundamentele fout is om in jou verhouding met God staat te maak op woorde en wonders, want in die oordeelsdag tel net dat jy gedoen het wat God van ons vra (vgl Matt 13:41-42).

Jesus se duidelikste woord hieroor is in Matteus 25:31-46 waar hy werk met die metafoor van die skeiding van mense in skape en bokke, dié wat God se guns geniet (skape) en dié wat sy genade verwerp het (bokke).  Albei groepe word met dieselfde maatstaf gemeet, óf hulle die wil van God uitgevoer het óf nie.

En die wil van God is duidelik, dat hongeriges, dorstiges, vreemdelinge, armes, siekes en gevangenes versorg sal word.  Dié wat dít doen, sal die erfenis van God in besit neem.

Paulus  gebruik ook Psalm 62:13 in sy beredenering in Romeine 2:6-8 oor God se hantering van die ganse mensdom:

Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.”

Petrus gebruik ook hierdie Psalm as appèl aan die gelowiges om uit eerbied vir God in totale toewyding te leef:

“Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.” (1 Pet. 1:17).

Johannes gebruik ook hierdie Psalm om God se regverdige oordeel oor die afvalliges in die gemeente van Tiatira uit te spreek:

“Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.”(Openb 2:23).

Dit is ook die geval in sy visioen van die laaste oordeel oor die mensdom voor die groot wit troon van God:

“Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het.” (Openb 20:12-13)

Netso gebruik hy dié Psalm om Jesus se beloning van dié wat in Hom glo te motiveer:

“Jesus sê toe weer: ‘Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. ‘Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.” (Openb 22:12-14).

Dat ons dade dus belangrik is vir God, is duidelik.  Die gedagte is nie dat ons daardeur iets verdien nie.  Dit kan ons nooit nie.  Maar, dit is ook duidelik dat daar niks is wat geloof so duidelik kan toon, as dat ons doen wat God van ons vra nie – presies wat Jakobus so prakties uitspel in sy brief onder die opskrifte: Hoor en Doen (Jak 1:19-27) en Glo en Doen (Jak 2:14-26).

Kom na My toe, en Ek gee julle rus

Ja, die lewe is moeilik, vol inspanning, aanvegtings, versoekings, gejaagdheid en ellende. Kinders van God is nie daarvan gevrywaar nie.

Om in stilte op God te wag en rus in Hom te vind, persoonlik en gesamentlik, anker ons sodanig in God dat Hy die bron van ons krag, ons kalmte en ons volharding is. Dit deurbreek die siklus van onrus op onrus, sodat ons kan lewe.

Dit is die rus waartoe Jesus ons ook uitnooi:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.” (Matt 11:25)

Gebed

Dankoffers

Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.

Kerkkantoor

Die kerkkantoor is weer oop op Dinsdae en Donderdae 09:00-12:00.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Slotlied

Vonkk 156 – As vreugde my deel is, of smart my verteer

Seën

En die gemeente sê:

Lied 314

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.